Die kerk is Christus se werk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2021-02-21
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 27
Preek Inhoud: 

Koekoekweg, Bergtuin.

Dit is die adres van ons kerk.

Hier kom ons vandag as gemeente bymekaar.

En diegene wat oor internet inskakel, skakel nie net in op enige diens wat oor die internet uitgesaai word nie, maar op die diens wat vanuit hierdie kerkgebou uitgesaai word.

Vanaand gaan ons kyk na wat dit beteken om kerk te wees.

Kerk van Christus te wees.

Artikel 27 van die NGB vat dit saam wat die Skrif ons oor die kerk openbaar.

 

Tema: Die kerk is Christus se werk

1 Slegs Hy kan dit vergader

2 Slegs Hy kan dit bewaar

3 Slegs Hy kan dit uitbrei

 

1 Slegs Hy kan dit vergader

Artikel 27 begin bewus soos volg:

Ons glo en bely.

Die kerk is ‘n geloofsaak.

In gehoorsaamheid aan Christus kom gelowiges bymekaar om ‘n kerk te vorm.

Daar is, daar behoort geen ander rede te wees waarom ‘n kerk bestaan as omdat Christus dit beveel nie.

En daar behoort geen ander rede te wees hoekom jy lid van die kerk is, as omdat Christus dit van jou vereis nie.

Deur die eeue was mense al lid van die kerk om allerlei ander redes.

Mense het by ‘n staatskerk aangesluit, of by die staatskerk gebly, omdat dit vir hulle ‘n goeie regeringspos gewaarborg het.

Mense het by die kerk gebly omdat hulle familie nou eenmaal ook lid van daardie kerk is.

Mense het lid geword van die kerk, of het lid van die kerk gebly, omdat dit finansiële voordele inhou.

En so kan daar nog meer voorbeelde genoem word.

 

As ons sê dat die kerk ‘n geloofsaak is, dan het dit dus met Christus se bevel te make.

Soos die NGB dit verwoord: Die kerk is ‘n vergadering van almal wat waarlik in Christus glo.

Van almal wat hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag.

Van almal wat in sy bloed gewas en geheilig en verseël is deur die Heilige Gees.

 

Vervolgens skenk artikel 27 aandag aan wanneer die kerk ontstaan het, en hoe lank dit nog sal bestaan.

Dit volg logies uit die voorgaande.

As die kerk die vergadering is van gelowiges, dan moet sy ontstaan alreeds lê aan die begin van die wêreld.

Want Adam en Eva, en hulle kinders Abel en Set was gelowiges.

Vervolgens, as dit so is dat Christus ‘n ewige Koning is wat nooit sonder onderdane kan wees nie, beteken dit dat die kerk ook tot aan die einde van die tyd sal bestaan.

 

Dit wil nie sê dat die kerk altyd voorspoedig sal wees nie.

Daar was tye waarin groot hoeveelhede van ‘n land se bevolking omtrent aan ‘n kerk behoort het.

Dink aan die Rooms Katolieke Kerk in die Middeleeue in Europa.

Dit was tye wat die kerk ‘n staatskerk geword het.

As mens die kerk sou vergelyk met ‘n rivier, dan was die kerk in hierdie tye ‘n baie breë rivier, maar terselfdertyd baie vlak.

Nie baie diepgang nie.

Maar daar was en is ook tye waarin die kerk, soos die NGB skryf, baie klein kan wees en in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het.

As voorbeeld word genoem die gevaarlike tyd onder koning Agab.

Desnieteenstaande, soos die HERE dit self vir Elia gesê het, het Hy vir Homself sewe duisend mense bewaar wat nie voor Baäl gekniel het nie.

In die dae van Noag was die gelowiges nog minder (1 Petr 3:20).

Die kerk het byna tot niet gegaan omring deur al die goddeloosheid, hoogmoed en arrogansie van die mensheid voor die sondvloed.

Tog het Christus sy kudde nie in die steek gelaat nie, al was hulle hoe klein.

En in die toekoms sal Hy dit ook nooit doen nie, soos Hy aan Petrus belowe het:

“die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt 16:18).

 

Nog ‘n konsekwensie van die feit dat die kerk aan Christus alleen behoort, is dat dit nie aan ‘n sekere plek of persone gebonde is nie.

Die NGB verwys met hierdie opmerking natuurlik na Rome en die pous.

Die kerk is nie aan hulle gebonde nie.

Vroeër nie, vandag nog steeds nie.

Vandag is die kerk ook nie gebonde aan enkele persone, wat dalk internasionaal bekend staan as baie charismatiese en meeslepende kerkleiers nie.

Nee, die kerk is versprei en verstrooi oor die hele wêreld.

Orals, al is dit onder ‘n sinkdak êrens in die boendoes van Afrika, orals waar sy Woord gepredik word, daar is Christus in hulle midde.

Daar werk die Heilige Gees.

En ook, sluit artikel 27 mee af, daar werk die Heilige Gees eenheid deur die krag van die geloof.

Neem ons gemeente byvoorbeeld.

Ons bestaan uit ‘n wye verskeidenheid van mense.

Verskillende karakters, verskillende belangstellings, oud en jonk, noem maar op.

Maar die krag van die geloof maak dit moontlik dat ons tog as ‘n harmonieuse gemeente kan funksioneer.

Dieselfde geld vir die kerkverband.

Dink net aan al die verskeidenheid in een kerkverband.

In die wêreld sou so ‘n eenheid nooit ontstaan het nie.

Die krag van die geloof maak dit egter wel moontlik.

‘n Pragtige voorbeeld van die krag van die geloof vind ons alreeds by die eerste gemeente in Jerusalem, Handelinge 4:32-35:

“En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad ... Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.”

Die krag van die geloof smee gelowiges saam tot ‘n hegte eenheid.

Ons het laasjaar die tema diakonale gemeente behandel.

Juis in die tye van ernstige inperkings as gevolg van Covid-19 het die krag van die geloof ook duidelik geword.

Die diakens het meer fondse nodig gehad, en daardie fondse het ook binnegekom, sodat ook oor ons gemeente gesê kon word:

“niemand onder hulle was behoeftig nie ...”

Laat ons ook in hierdie jaar, 2021, met dieselfde gesindheid voortgaan.

Dit is die gesindheid wat voortvloei uit ‘n gelowige lewe.

En ‘n gelowige lewe is gerig op Christus, op die navolging van sy gesindheid.

So vergader Christus sy kerk.

Slegs Hy kan dit doen.

 

(Tema: Die kerk is Christus se werk

1 Slegs Hy kan dit vergader)

 

2 Slegs Hy kan dit bewaar

Ons het vanaand ‘n gedeelte uit Joël se profesie gelees.

Sy profesie bevat ‘n waarskuwing vir ons vandag, maar ook ‘n boodskap van hoop.

Net soos vandag, het daar in Joël se tyd ‘n pandemie gewoed.

‘n Groot natuurramp.

En net soos vandag, het mense toe te midde van die teenspoed gevra: Waar is God?

God se openbaring aan Joël gee hierop antwoord.

 

Dit was naamlik so dat heel onverwags donker wolke aan die horison verskyn het.

Spoedig het dit geblyk dat dit nie reënwolke was nie, maar wolke van sprinkane.

Die strate in Jersualem het selfs donker geword, soos die son agter die wolk inbeweeg het.

Toe die storm losbars, was niemand meer veilig nie.

Nie net die bedelaar op straat nie, ook die mense in hulle huise, selfs die koninklikes in hulle paleise nie.

Orals het die sprinkane binnegekom.

En dan praat mens nie net van dat dit verskriklik lastig is, as die sprinkane orals inkruip nie.

Afgelope vakansie toe ons deur die Karoo gery het, het ons op ‘n kampeerplek oornag waar daar ook ‘n menigte sprinkane was, wat uitgebroei het na die mooi reëns.

Orals was net sprinkane.

As jy op jou kampstoel gaan sit het, het jy op tien sprinkane gaan sit.

Toe ons die volgende dag by die huis kom, het daar nog ‘n klomp sprinkane uit die sleepwa te voorskyn gekom.

Lastig.

Maar die sprinkaanplaag in Joël se dae was nie net uitermate lastig nie, dit was ook ‘n natuurramp in die sin dat die sprinkane letterlik alles opgevreet het.

Al die gewasse op die lande het in ‘n oogwink verdwyn.

Al die bome is kaalgevreet.

Die sprinkane het land en stad soos ‘n woestyn agtergelaat.

Hierdie plaag het dus ook ‘n hongersnood beteken.

Baie mense het gesterf.

Soveel dat al die lyke nie eers begrawe kon word nie.

Met as gevolg dat daar epidemies in die stad uitgebreek het.

Joël vergelyk die sprinkane met ‘n vyandige weermag.

Soldate wat oor die mure van die stad kom, wat deur die vensters in die huise inklim.

In hulle nood skreeu die mense tot God.

Dis al wat hulle nog kan doen.

O God, hoe kan U soiets toelaat?

 

In hierdie omstandighede openbaar die HERE dan aan Joël sy profesie.

En die hoofvraag waaroor hierdie profesie handel is:

Waar kom hierdie sprinkane vandaan?

Wie se skuld is dit?

Daardie vraag kry ook ‘n duidelike antwoord, Joël 2:11: “die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit”.

Die sprinkane word hier God se leërmag genoem!

Hierdie natuurramp kom dus van God af!

Dit was ‘n harde boodskap vir Joël om aan die volk oor te dra.

En daarmee saam het die oproep geklink: “bekeer julle tot My met julle hele hart ... en skeur julle hart en nie julle klere nie.” (Joël 2:12-13)

Vir die volk van die HERE was dit ‘n harde boodskap.

God was nie outomaties altyd aan hulle kant nie.

As hulle hart nie onverdeeld by die HERE was nie, het daar konsekwensies gekom.

Strawwe wat beslis nie lig en onbeduidend was nie.

Maar te midde van hierdie inkswart natuurramp, het die HERE hulle nie verlaat nie.

Dit klink teenstrydig, maar te midde van die straf hoor ons:

“want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil, wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seën sal agterlaat ...” (Joël 2:13-14)

 

Nou uit hierdie gebeure kan ons ‘n paar dinge leer, as kerk vandag.

Omdat ons ‘n kerk is, beteken dit nie dat God outomaties aan ons kant is nie.

Ons hart moet wel by die HERE en sy diens wees.

Ons kerk-wees moet nie net uiterlike tradisie wees nie.

Ons kerk-wees moet nie net op Sondag wees, terwyl ons daaglikse lewe die trends van die wêreld volg nie.

Dit was naamlik in Jerusalem die geval.

Nou is dit nie so dat die HERE sy kerk dan direk afskryf nie.

Dit leer ons ook uit hierdie geskiedenis.

Juis ook deur strawwe probeer Hy hulle terug te trek na Hom toe.

Hy bly aan sy kerk toegewyd.

Hy kan selfs berou kry oor die strawwe waarmee Hy hulle gestraf het, sodra hy die begin van tekens van berou sien.

So leer ons juis in tye van pandemies en natuurrampe dat God sy kerk weer nader na Hom toe trek.

Nie dat sy geduld vir ewig duur, as sy kinders hulle steeds nie bekeer nie.

Dit leer ons uit die geskiedenis van die ballingskap.

Die grootste deel van die toenmalige 12 stamme het uit die verbond uitgeval.

Dit was hulle eie skuld, nadat God hulle telkemale probeer terugtrek het.

Selfs in die Nuwe Testament, toe Paulus op sy sendingsreise gegaan het, het hy orals eerste die sinagoge besoek, om die Jode in die Diaspora met die Evangelie te bereik.

Nog steeds het God kanse gebied.

God se geduld met die afvallige kerk, die valse kerk, is groot.

Veel groter as wat ons dikwels het.

Nie dat Hy kompromisse sluit met wat verkeerd is nie.

Maar solank die geskiedenis nog voortduur, bied hy geleenthede, kanse om te ontsnap.

Soos daar in vers 32 staan:

“En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.”

Ook dit klink teenstrydig, want Jerusalem word nou juis deur ‘n sprinkaanplaag getref.

Tog bly die berg Sion, Jerusalem, die plek waar die HERE gekies het om te woon.

Na die ballingskap moes die gelowiges weer daarheen terugkeer.

Deur die ballingskap het God sy kerk bewaar.

Dit was die kerk van die Ou Testament.

Vanuit Jerusalem sal redding beskikbaar bly, vir elkeen wat die Naam van die HERE aanroep.

Vir elke inwoner wat terugkeer na sy Verbondsgod.

Maar ook wyer as dit.

Die woord “elkeen” in vers 32 kan ons universeel verstaan.

Dit in lyn met wat die profesie in vers 28 sê: “daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees”.

Dit is waarna ons nou in die derde plek gaan kyk:

 

(Tema: Die kerk is Christus se werk

1 Slegs Hy kan dit vergader

2 Slegs Hy kan dit bewaar)

 

3 Slegs Hy kan dit uitbrei

Uit Handelinge 2 word duidelik dat hierdie woorde van Joël ‘n profesie oor Pinksterdag was, die uitstorting van die Heilige Gees.

Die begin van die Nuwe Testamentiese bedeling, waartydens Christus vir Hom ‘n volk gaan vergader uit elke volk en stam en taal en nasie.

Dit is trouens die betekenis van die woord katoliek.

Dat Christus se volk bestaan uit mense wêreldwyd uit elke volk en stam en taal en nasie.

En die berg Sion, die plek waar die HERE gekies het om te wees, dit word in die Nuwe Testament die kerk.

Die kerk, dis waar Christus in ons midde is.

Dis waar Hy op aarde met sy Gees en Woord teenwoordig is.

En sedertdien het die geskiedenis van die Nuwe Testament so verloop dat die kerk inderdaad, soos die NGB dit noem, oor die hele wêreld versprei het, en tans verstrooi is tot in alle uithoeke van die aarde.

Die woord ‘verstrooi’ word hier in positiewe sin gebruik.

Die NGB gaan nie uit van ‘n sentrale gesag van die kerk, byvoorbeeld in Rome nie.

Christus is die enigste Opperherder.

En Hy regeer direk oor elke plaaslike kerk, daar waar mense rondom sy Woord bymekaar kom.

Die kerk is daarom onoorsigtelik, soos ons dit in die teologie noem.

Onoorsigtelik vir ons altans, nie vir Christus nie.

Hy het goeie sig op heel sy kerk.

Maar net soos ons nie die hele wye wêreld in een oogopslag kan sien nie, so is heel die kerk vir ons ook onoorsigtelik.

Dit wil nie sê die kerk is onsigbaar nie.

Soos ons in die Gereformeerde teologie bely: Die kerk het ‘n adres.

Die eerste gemeente in Jerusalem het byeen gekom in die Pilaargang van Salomo – Handelinge en 3:11 en 5:12.

Dis waar die Here Jesus ook al onderrig gegee het – Johannes 10:23.

En ook daar waar Paulus op sy sendingsreise nuwe gemeentes geplant het, het hulle op ‘n sigbare adres bymekaar gekom.

In Efese het hulle bymekaar begin kom in die skool van ‘n sekere Tirannus (Hand. 19:9).

Ja elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, wat hulle tot Christus bekeer, bly nie net ‘n gelowige op homself nie, maar soek die adres op waar Christus sy gemeente vergader.

So is die adres van ons gemeente hier in Koekoekweg, Bergtuin.

En al is ons tans tydelik verhinder om voltallig in die kerkgebou bymekaar te kom, gaan die Woord nog steeds uit en kom ons – al is dit vir sommiges digitaal – bymekaar rondom die Woord.

 

Ek het die preek begin deur te noem dat die kerk ‘n geloofsaak is.

Dit beteken egter nie dat die kerk swewerig is, en mens nie duidelike dinge oor die kerk kan weet en bely nie.

Artikel 27 maak duidelik dat die Skrif ons baie oor die kerk openbaar.

Ons mag vandag nog steeds kerk wees soos Christus dit bedoel het.

Nie dat ons outomaties die enigste adres van Christus se kerk sal bly nie.

Sy kerkvergaderende werk is dinamies.

Daar is adresse waar Hy in die verlede die kandelaar weggeneem het (Openb 2:5).

En dit gebeur vandag nog steeds.

Daar is nuwe adresse waar Hy sy kandelaar plant.

Kandelaar was die staander met sewe arms en lampe wat in die tempel gebrand het.

Die vlamme staan simbool vir die Heilige Gees, wat deur die verkondiging van die Woord in die midde van ‘n gemeente werk.

Waar ‘n gemeente die Woord in leer en lewe egter verlaat, daar neem Christus op den duur die kandelaar weg.

Tog sal sy kandelaar steeds op aarde bly brand, die Heilige Gees wat deur sy Woord bekering en geloof en volharding werk, tot op die jongste dag.

So brei Christus sy kerk uit.

Slegs Hy kan dit doen.

Mag ons, jy en ek, en ons kinders en kindskinders, en nog ‘n ontelbare skare uit elke volk en taal en stam en nasie, mag ons steeds in sy lig, in die lig van sy kandelaar, lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 87:1,2,3

Gebed

Skriflesing: Joël 2

Ps 87:4,5

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 27

Preek

Sb 38:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:4,5

Kollekte

Sb 43:1,2,3,4,6

Seën