Die skepping smag na vryheid.

Predikant: 
Ds. P Houtman
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-01-05
Teks: 
Romeine 8:19
Preek Inhoud: 

Wat gaan deesdae aan met die skepping? Ons weet vandag meer as vroeër. In die verlede, het ons die woord skepping hoofsaaklik geassosieer met die natuur. Die natuur is die plek waar ons kan ontspan of waar ons kan vakansie hou. Ons dink aan bosse en natuurgebiede. En ons dink aan voëls en blomme.

Die skepping is eerstens die natuur. En die natuur word bedreig. Ons probeer om nuwe natuurgebiede te skep en ons gee vroeëre landbou gebiede terug aan die natuur. Daar is al hoe minder ongerepte woude in Asië, Afrika en die Amasone.

Maar 'skepping' is breër as net die natuur. Dit omvat die hele geskape wêreld. Ook ons stedelike gebiede. Die hele skepping word bedreig. Ons dink aan die probleem van aard-verwarming. En ons weet dat dit nie net ons skuld is nie. Maar tog ook ons skuld as ons dink aan omgewingsbesoedeling; CO2 en wanbestuur. Baie owerhede aanvaar dat ons maatreëls moet tref om aard-verwarming te bekamp. Ons is bekend met die “ramp” scenario’s wat aan ons voorgehou word. Van groot gebiede in Afrika wat onbewoonbaar word deur droogte. Sodat die sogenaamde klimaat vlugtelinge stroom op gang kom. Ons dink aan voorspellings van steeds stygende seevlakke en van toenemende oorstromings.

Ons raak bekommerd oor die toekoms. En ons raak moontlik selfs bevrees.

Die natuurwetenskappe aanvaar dikwels dat klimaatverandering ook ‘n natuurlike verskynsel is. Dit sê eenvoudig: selfs die dood is deel van die skepping. In die natuur moet leeus noodwendig vleis, bv sebras eet. En na 'n baie lang periode sal die son uitbrand en word die lewe op aarde in elk geval onmoontlik.

Terug na die teks. Is dit wat Paulus bedoel met die skepping “wat wag met reikhalsende verlange na die openbaarmaking van die kinders van God”? Bedoel Paulus hiermee die verganklikheid en die betekenisloosheid waaraan die skepping onderworpe is?

In 'n sekere mate is dit so. Ons dink onwillekeurig daaraan. Daar is geen ware vordering met die ontwikkeling van die skepping nie. Ons was aanvanklik redelik optimisties oor die vooruitsigte. Want vir ons gevoel het dit al hoe meer begin lyk asof ons die skepping kan beheer. Ons het al hoe meer welvaart geskep vir al hoe meer mense. Maar nou is die vooruitsigte al hoe minder rooskleurig.

Tog bedoel Paulus iets anders. Wanneer Paulus praat oor die skepping dan betrek hy ook die Skepper daarby. Want God hou die skepping steeds in sy hand. Hy is in beheer van alle gebeure wat op aarde plaasvind.

Paulus sluit uiteindelik af met die term: “Ons weet”. En dit beteken dat die apostel daarmee ‘n geloofsbelydenis uitspreek. “'Ons weet” omdat God sy program aan ons openbaar. Omdat ons sy Seun ken. Hy het sy hart vir ons oopgemaak. En daarom ken ons die diepere betekenis van die wêreldgebeure slegs deur die bril van die geloof.

Hoe maak ons sin van die skepping - die wêreld waarin ons leef? Hoe moet ons die wêreld gebeure interpreteer? En waartoe roep God ons op?

Die skepping smag na vryheid. 
1    haar pyn
2    haar vooruitsig
3    haar verlange 

1. Die skepping is onderhewig aan pyn

Paulus gee ‘n samevatting van die moeite waaraan die skepping onderworpe is. In ons vertaling staan dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is. En dit is letterlik so.

Sinloosheid en  verganklikheid van die skepping: dit is nie iets waaroor ons traak-my-nie-agtig ons skouers kan optrek nie: dit is inherent deel van die skepping. Dit is erger as 'n grys sluier, as die son op bewolkte dae nie deur die wolke wil breek nie. Daar is regtig iets verkeerd. Die skepping verduur pyn.

’Skepping’ is nie slegs 'n neutrale term nie, iets soos 'aarde' of 'kosmos' nie. Want hier spreek  die apostel van Jesus, die Seun van God. Hy ken God. Hy het so te sê teologie gestudeer, en Hy ken die Ou Testament, ook Genesis 1, die skeppingsverhaal.

Groot dele van die skeppingsverhaal kan ons met een woord of tema opsom: vrugbaarheid! Onmiddellik toe God droë land geskep het (die skeiding van die see en droë land), op dieselfde dag (die derde dag), het God bome, plante en blomme geskep. Want God het gesê  “Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee...” Orals moet groen plante uitspruit op die aarde. Saad vormende plante en allerhande bome wat vrugte dra, met saad daarin. En so gebeur dit.

Daarna word God se skeppingswoorde herhaal. Op die 5e dag het God gespreek: Die water moet krioel van lewende wesens. En op dieselfde dag is ook die voëls geskape. God het hulle geseën met die woorde: Wees vrugbaar en vermenigvuldig en vul die waters. Ook die voëls moet talryk word. Op die sesde dag is allerhande lewe op aarde geskape, alle diere. Alle soorte. Ook alles wat kruip op die aarde. Ja, ook die mens is geskape, man en vrou: Hulle kry ook die opdrag: Wees vrugbaar en vul die aarde.

Op uitbundig wyse vermenigvuldig lewe op aarde. Dit kom later in die Bybel terug as ‘n seën. Die seën van vrugbaarheid en groei tot groot getalle. Selfs in die boek Openbaring word vermeld: 'n Geweldige skare wat nie getel kan word nie en voortspruit uit die verskillende nasies, uit elke stam en taal. En in Nuwe Jerusalem vind ons weer 'n boom van die lewe wat twaalf maande per jaar sy vrugte gee, elke maand sy eie vrug.

Baie van God se seëninge het oor tyd deur God se genade, ook gerealiseer. Van die begin af tot nou toe. 'n Groot wêreld bevolking het ontstaan. Die kerk van Christus is nou alreeds ontelbaar. En ons dank God nog steeds daagliks vir voedsel en drank. En God gee dit steeds daagliks.

Dit is daarom des te pynliker as daar iets verkeerd loop. Moeders wat geboorte skenk ervaar pyn tydens die geboorte proses. En sommige ouers moet die pyn ervaar as daar iets met die kind verkeerd is (of as ouers dit pas later ontdek). Soos God in Genesis 3 sê: "Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar". Dis ook pynlik as ‘n swanger vrou 'n miskraam kry. Dis pynlik as ouers kinders ontvang wat nie gesond is nie, fisies of geestelik. En uiteindelik – hoeveel blydskap daar ook al by die geboorte was, die lewe  eindig altyd met 'n begrafnis. Ons is stof, en ons keer terug tot stof. Ons moet baie onsensitief wees as ons dink dat dit normaal is. Nee, ons ervaar pyn.

U sien dit ook in die dierewêreld. Nie elke dood van 'n dier is ewe dramaties nie.  Tog is iemand hartseer as hy sy getroue hond aan die dood moet afstaan. En boere kry swaar as hul diere siek word. As ons die slagpale sou besoek, sou ons waarskynlik minder lus wees om weer vleis te eet. Al kan 'n mens soms nie anders as om 'n dier te dood as dit 'n gevaar vir kinders word, of as 'n olifant herhaaldelik ‘n boer se akkers vertrap nie. Ja, die stryd is ernstig.

Boere se oeste misluk. En ons sien woestyne ontstaan. Mense ly honger. Jaar in en jaar uit. Die Here sê vir Adam: Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet Verder: In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Ons sien vandag vulkaanuitbarstings wat groot gebiede verwoes En omgewings rampe maak hele gebiede onbewoonbaar.

Nie alle lyding in die wêreld en alles wat verkeerd loop, kom vanuit die aarde self voort nie. Daar is ook menslike oorsake. Ons ervaar dat korrupte en goddelose heersers rampe veroorsaak. Dit lei tot honger of 'n verregaande gebrek aan gesondheidsorg. 

Mense is roekeloos en sorgeloos. Die lewe is vol risiko's. Soms lok avontuur en sport ons uit om dit op te soek. Mense oorspeel soms hul hand; hulle het te positiewe visies oor menslike kundigheid en vermoëns. As ons op die verlede let, dan blameer ons moontlik die optrede van ons voorouers vir die misbruik van die aardse hulpbronne. Maar ons moet wel in gedagte hou dat die ontginning van olie en die grootskaalse meganisering van landbou en die mega-groot stalle vir die melkvee, destyds met die beste bedoelings ontwikkel is om vir almal ‘n hoër vlak van lewensstyl moontlik te maak waarvan ons nou nog steeds voordeel trek.

Maar daarby ervaar ons nog steeds vrugteloosheid. Ongeag hoe goed ons ons bes doen. Met die beste bedoelings en die mees verantwoordelike planne en die beste voorsorgmaatreëls kan ons planne faal. Die boek Prediker vra  ons aandag daarvoor onder die term: nietigheid. Baie menslike aktiwiteite is tevergeefs. Dit bring jou niks verder nie. Ons moet realisties wees, en dit maak seer. Ons pogings is soms vrugteloos.

Die oorsaak hiervan lê nie by die skepping self nie. Dit was ook nie van die begin af so nie. Paulus sê (Rom 8v20): Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het. Dit het te make met die skuld van die mens, en ja dit het daarmee te doen. Maar Paulus praat hier in bedekte terme. Wie is hierdie die "hom"  Is dit die mens? Of miskien God? Die skepping is onderworpe aan ‘n mag. Of dit nou God, die Koning, is of die mens as onderkoning. Die mens het in die begin in die paradys verkeerde besluite geneem. En God bepaal die noodwendige gevolge daarvan. Daarom het Hy sy straf uitgespreek. En die skepping ly daaronder.

Dit is die harde realiteit. Ons as mense ervaar ons eie pyn eerste. Maar ons is by die skepping betrokke. Ons ly as dinge verkeerd gaan. Ons word soms moedeloos. Is daar hoop vir die skepping?

2. Is daar hoop vir die skepping?

Ja! Daar is hoop. In die natuur word hoop treffend voorgestel deur die lente. As die natuur ontwaak.

Wat sal daar gebeur? Dat openbaar word wie God se kinders is. In die Rom8v19 staan: Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaar-making van die kinders van God. Hoe moet ons dit verstaan? Die fokus lê nie op wie God se kinders is nie maar daarop dat daardie kinders geopenbaar sal word.

As God Homself openbaar, of as Hy sy Seun openbaar, dan wys Hy wie Hy is en hoe Hy is.  Dan hoor ons dit en ons sien dit. Soos die dissipels en duisende ander mense Jesus gesien het.

Wanneer die kinders van God geopenbaar word, dan gaan dit oor ons! As ons geopenbaar word, dan word duidelik sigbaar, wie ons is en hoe ons is. Gewone mense van vlees en bloed, wat kinders van God geword het! Verlos van sonde en dood deur die Seun van God!

Dit is iets wat ons nie nou duidelik kan sien nie. Ons lyk nou net soos ander mense. Ja, ons kan vandag reeds sien dat Christene anders optree as ongelowiges. Maar ons kamp vandag steeds met dieselfde probleme, ons doen dieselfde werk, kry dieselfde siektes en gestremdhede, en ons maak ook net soveel foute, insluitend ernstige foute; slegte foute.

Ons word verander na die beeld van die Here Jesus sê die Bybel, net soos Christus na Sy opstanding was. Ons kry uiteindelik 'n nuwe liggaam. ‘n Geestelike liggaam. Gesond, sterk en mooi; 'n liggaam wat nie meer oud word nie, maar altyd lewe! 'n Liggaam wat volkome aan God toegewy is, totaal op Hom gefokus. Tot in die dieptes van ons innerlike wese.

Ons kan ons dit moeilik voorstel. Maar dit sal gebeur! Dit is ons toekoms. Maar nie net ons toekoms nie; maar ook die toekoms van die hele skepping!

In vers 21 word dit breedvoerig vermeld: ..in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Laat ons dit rustig op ons inwerk – al is die sin bietjie lank, en ingewikkeld.

Ons - die kinders van God - word vrygemaak! Vrygemaak van sonde. Ons sal nooit meer dinge doen waarmee ons niks bereik nie. Of wat slegs die verkeerde bewerk en wat slegs ellende veroorsaak nie. Ons hoef nooit weer terug te val in slegte dinge nie, 'n geliefde te verloor, te huil en bang te wees nie. En ons kry ‘n heerlike voorkoms.

En daarin sal die hele skepping deel. Sonder gemors en besoedeling van mense. Die skepping sal nooit meer verwaarloos word nie en jag verdwyn; geen dodelik geweerskote meer nie. Geen vrugbare gebiede wat in ‘n woestyn verander nie. Nooit weer oorstromings nie.

Dis is asof ‘n ewigdurende somer aanbreek. Die son skyn altyd. Maar nog veel meer as dit, God self verlig ons. En ons skitter. Die skepping kry haar oorspronklike goeie onder-konings en koninginne terug. En die skepping sal verheug wees oor ons. En altyd gelukkig wees met wat ons doen.

Wat sal met die wêreld gebeur? Paulus beskryf dit met ‘n verborge spreuk: "Ons weet ..." En wanneer die apostels in hulle briewe melding maak van die term “Ons weet”, dan bedoel hulle daardie besondere en wonderlike kennis van Christene. Hulle deel in die daardie kennis omdat hulle Christus ken.

Ons weet dat die hele skepping tans nog gebuk gaan onder barensweë, en onder lyding en swaarkry sug. En hierdie kennis is meer as wat alle mense weet of sou kon bedink.

Ons is almal besorg oor wat in die wêreld gebeur. Moontlik fantaseer ons selfs oor hoe die wêreld kan verbeter as politici die regte besluite en maatreëls tref om in vrede met mekaar saam te leef. Soos in ‘n ideale Verenigde Nasies. Maar dit gebeur nie.

Maar "ons weet" van die beeldspraak van barensweë. Kom ons let noukeurig daarop , brs. en srs.,  ja, die skepping ly pyn, maar daar sal iets goeds uit voortkom. Iets moois en iets nuuts sal daaruit gebore word, Maar as ons die lyding van die skepping raaksien, dan weet ons dat verlossing kom!

Dis nie sigbaar nie. Dit is nie 'n voorspelling nie. Soos wanneer ons sien dat hulpbronne en minerale opraak: As ons weet hoeveel ons jaarliks gebruik en wat die beskikbare voorraad is. Of as metings toon dat die klimaat verander, en hoe dit in die verlede verander het.

Dat "ons weet" is ‘n verborge kennis. “Ons weet” is om te glo dat verlossing sal kom. Jy hoor as ‘t ware die moeder kreun maar jy sien nog nie die kind nie. Ons weet dat ‘n nuwe, jong, stralende skepping sal ontstaan.

Dis nie iets wat ons kan bewerkstellig nie. Ons kan dit nie beheer nie. Selfs ons rentmeester-skap, ons noukeurige hantering van die skepping is nie genoeg daarvoor nie. Dit sal nie die skepping kan bevry nie. Dit is slegs God se werk, die werk wat Hy reeds doen; die herstel-werk van Christus, deur sy Heilige Gees.

3. Die skepping smag na verlossing

Die skepping smag na verlossing. Sy sien reikhalsend daarna uit. Die skepping sug soos in barensnood.  Sy ly en sien uit na die geboorte van die kind. 

Is dit wel moontlik? Verlange is tog iets wat suiwer menslik is? Is dit slegs spreek¬woordelik, of is dit 'n wonderlike visioen wat die apostel van die Here aan ons voorhou.? Net soos die gordyne by die begin van ‘n toneelstuk ‘n kort rukkie oopgaan. Of soos ‘n video jou verbaas laat oor ‘n sekere gebeure.

Maar ons kan dit in die skepping self sien. Ons hoor dit rondom ons ons soos in Psalm 42v2: "Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!  In hierdie geliefde Psalm kan ons dit aanvoel. Ons sien dit as ons na verweerde stene kyk van 'n ou gebou. Ons sien dit aan stadspleine waar jou gehoor beskadig word deur die geraas van luidsprekers, en wat agterna besaai is met etensreste en leë bierbottels, en moontlik selfs 'n bloedspoor. Daardie stadsplein sug van diep verlange na ‘n beter toekoms.

Maar wat beteken dit vir ons? Hierdie gedeelte handel oor die Gees wat ons ontvang het. As 'n voorskot op daardie toekoms. Die Gees wat sê: Julle is kinders van God! Wat ons laat roep, elkeen in ons eie taal: Vader!

Ons sug in onsself en ons wag op die openbaring dat ons kinders van God is. En ons bid: Vader, laat ons asseblief gou nog meer as u kinders geopenbaar word. Gee dat die Gees van Jesus daardeur sigbaar word. Dat ons geestelik word, van binne en buite. In ons gedrag, en uiteindelik in ons liggaam. 

Ons kan nie meer doen nie, brs. en sr, as om te sug met  verlange; en te bid dat dit gou mag kom.
Wat moet ons doen met betrekking tot die skepping? Orals rondom ons hoor ons teregwysings: bestuur die aarde soos goeie rentmeesters. Hanteer die natuur op ‘n versigtige manier. Bespaar energie en gebruik minder water.

Dit is goed om dit te doen, maar dit is nie voldoende nie. Want dit kom nie uit by die kern van die probleem nie. Die werklike oplossing strek veel dieper: Ons moet optree soos kinders van God. Oor ‘n breë linie. Ons moet God liefhê en ons hou aan al God se gebooie. So leef ons na die nuwe skepping toe. En so wys ons ons verlange.

Die kernpunt is om God te aanbid. Om biddend te leef. En die Gees is aan ons gegee om ons hiermee te help.

Dan is ons ware rentmeesters. Weer opregte onderkonings en onderkoninginne. Dit is wat die skepping van ons verwag. Gee dit vir ons Here! Dan kom dit ook reg met ons, met ons strande en stede en pleine en met die natuur!

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet.

Aanvangslied: Psalm 104:17,19,20

Gebed

Skriflesing: Romeine 8:14-27;

Sing: Psalm 42v1

Lees teks: Romeine 8:19

Preek.

Sing: Psalm 65:1,6,7

Geloofsbelydenis;

Sing: Psalm 96v7-8

Gebed

Kollekte;

Slotlied: Psalm 98:4

Seën