Jesus gee vir sy volgelinge sy grootste geskenk ooit.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-02-14
Teks: 
Johannes 7:37-39
Verwysing: 
2106A
Preek Inhoud: 

Doel: Moedig christene aan om meer van die Gees van God te verwag.

Inleiding

Wat verwag jy / u van die Gees van Christus in jou lewe?
Dink jy, as jy na jouself kyk, ‘dis maar wie ek is’ en ‘ek gaan nie verander nie’? Of verwag jy meer?
As jy na die gemeente kyk, wat verwag jy dan?
‘Ag, die moeilike persoon, hy / sy sal nooit verander nie.’
Dalk denk ’n ouderling: ‘Ons moet werk met wat ons in die gemeente het: die geld op die begroting, die getal lidmate, dis wat dit is.’
Hoe dink jy oor evangelisasie? Dink jy: ‘die mense hier in die Moot het al klaar hulle keuses gemaak. Ons kan niks daaraan verander nie. Wat kan ons doen?’

Waarvoor bid jy?
Is jou gebede ’n spieël van die huidige situasie, met ’n klein bietjie meer?
Of is dit kingdom-sized, verwag jy baie meer omdat jy Christus ken?
Het jy begin om vir iets te bid met groot verwagting?

’n 20 jarige dogter gaan swot in ’n ander stad. Haar pa en ma gee vir haar ’n present voordat hulle die huis verlaat. Dis ’n klein boksie. Die dogter maak dit oop. ‘Hey, dis oulik, dis seker ’n ring, of ’n mooi horlosie’, dink sy. Dit sal haar help om doer ver haar ouers te onthou.
Maar sy maak die boksie oop, en daar is ’n sleutel in.
‘Kyk maar deur die venster!’ sê haar pa. En daar sien sy ’n motor!
Nou kan sy rondbeweeg en die naweke gemakliker huis toe kom. 
Hierdie geskink is baie meer as wat sy kon droom!

Die geskenk van die Heilige Gees lyk soos dit. 
Jesus gee vir die dissipels die aankondiging: daar gaan strome en strome en nog strome uit hulle vloei – en hy het van sy Gees gepraat. Hy is ’n geskenk wat aanhou gee, wat oorvloedig is, en wat hulle persoonlik sal verander.

Jesus gee vir sy volgelinge sy grootste geskenk ooit.
1 - Hy is die lewensbron
2 - Sy Gees is so oorvloedig dat dit oorstroom.

1   Hy is die lewensbron

Om ’n geskenk vir jou eie kind te gee, of vir ’n goeie vriend of vriendin is mooi. Maar om dit vir jou teenstander te gee, vir iemand wat beplan om jou dood te maak, is bewys van genade.

Dit is nodig om die hele hoofstuk te lees, sodat ons die situasie verstaan. Twee dinge staan uit: die aanvalle op Jesus en die fees van loofhutte.

1.1    ’n Lewensgevaarlike fees

Die Joodse leiers het reeds besluit: Jesus mislei die mense. Dit is ernstige teenstand: hy is ’n valse profeet!  Hy verdien die doodstraf.

Hulle het klaar besluit, maar die menigte beweeg tussen twyfel en geloof. ‘Julle wil my doodmaak’ sê Jesus – en die mense dink hy is paranoïde! Maar Jesus weet wat gaan kom. Hulle is nie bewus van wat werklik aangaan nie.

As jy die hele hoofstuk lees, voel jy die spanning bou op. Johannes het dit mooi beskryf. Jesus het dit self opgeroep, deur tog na die fees in Jerusalem te gaan.

’n Ander mens wat soveel teenstand ontmoet, sou in frustrasie sy rug op hierdie mense  gedraai het: ‘Wat? Weier hulle om te luister? Verwerp hulle my? Ek’s weg hier!’ Veral wanneer hulle jou met die dood dreig.

Maar Jesus staan onbevreesd en roep sodat almal dit kan hoor:

As iemand dors is, kom na my toe, en drink!

Sy woorde kry meer gewig en die uitnodiging wat hy gee, word ’n dringende oproep tot bekering, en roep almal om ’n keuse te maak om hom te glo en die lewe te ontvang.

1.2    Loofhuttefees

Ek dink die meeste van ons ken nie al die feeste wat Israel gevier het. Maar ek wil julle aanmoedig om daaroor in die Bybel te gaan lees. Elke fees wys iets van Christus, en spoor ons aan tot feesvier wanneer ons Jesus beter leer ken. Behalwe ons verjaarsdae, kersfees en paasfees is daar nog feeste om te vier!

Die loofhuttefees was ’n sigbare simboliese herhaling van die tyd in die woestyn. Elke Israeliet het op sy plat dak met takke en blare ’n hut gebou. Die hele week het hulle feesgevier en in die hut geslaap (dit was voor die tyd dat diefwering noodsaaklik was...). So het God hulle herinner aan die tyd in die woestyn, ’n tyd waarin God vir sy volk gesorg het.

Elke dag van die 7-daagse fees het hulle water van die bron van Siloam gaan kry en dit oor die altaar uitgegiet. Dit was ’n uitbeelding van die water wat uit die rots gestroom het, en dis hoe God hulle in die woestyn aan die lewe gehou het. Tydens die 7e dag van die fees het hulle weer water gehaal, en 7x om die altaar gestap. Dit was die ‘grootste dag’ van die fees, en dis die dag waarop Jesus uitgeroep het:

As iemand dors is, kom na my toe, en drink!

Nou kan jy verstaan hoe passend en relevant dit was, dat Jesus dit juis op daardie dag gesê het!
Almal se aandag in Israel was gevestig op die simboliek van die water. God het hulle herinner aan Israel se nood: sonder water het hulle in die droë woestyn dood neergeval. En in die tweede plek het God juis in daardie noodsituasie sy goedheid oor hulle uitgegiet: God het vir hulle water gegee uit die rots.

Die water in die woestyn was dus ’n geweldig sterk simbool om vir Israel te te wys: ‘julle het God nodig!’ Hierdie dag, die afsluiting van die fees, het die oorweldigende simboliek van die water in ’n droë woestyn vir hulle oë uitgebeeld.

Maar daar is ’n dieper laag in hierdie fees se simboliek.
Die tyd in die woestyn was nou nie ’n deel van Israel se geskiedenis waarmee hulle kon spog nie. Dit was juis in die woestyn dat hulle voortdurend gekla het, verwyte gemaak het, en geweier het om God te vertrou.

Wie vandag Johannes 7 lees, kan raaksien hoe die houding tydens die woestynreis ooreengekom het die houding van die Jode teenoor Jesus: hulle Jode het met Jesus gestry, hom verwerp, geweier om na hom te luister, en hom as ’n valse profeet gesien wat doodgemaak moes word.

Jesus sluit by die fees aan en wys vir hulle nou die regte betekenis: ‘Ek is die water van die lewe! Almal wat dors is, kom na my toe!’

Deur juis hierdie woorde op daardie moment, tydens die hoogtepunt van die loofhuttefees, te spreek, sê Jesus: ‘die Vader, wat vir julle in die woestyn water gegee het, het my gestuur. Ek is self die water.’
Die water wat tydens die fees uitgegiet word is ’n beeld van wat God sou gee: sy eie Seun, vir die sonde van die wêreld.

Die beeld van die water is ’n venster op die diepste nood van Israel: hulle ongehoorsaamheid in die woestyn het hul sondige hart blootgelê: hulle wou nie afhanklik wees nie, was nie bereid om hulle nood te erken nie, en was nie gewillig om na God te luister nie.
Hierdie houding van die hart is die rede hoekom Jesus gekom het.

  • Wie na hom luister, moet erken dat hulle dors is, ver van God af, en dat hy/sy hom nodig het. 
  • En Jesus sê teselfdertyd: ‘Ek het gekom om jou dors weg te neem. Ek is die lewende water wat jou sondes wegneem en jou met God versoen.’

Jesus is soos ’n mediese spesialis wat die siekte diagnoseer en self die genesing gee!

1.3    Water vir ons

Hierdie woorde klink mooi in die kerk en gee vir ons troos. Maar voel Jesus se betekenis buite die kerk nie dikwels soos ’n kers wat iemand op ’n somerse middag aansteek nie? Min mense sien hom raak en dit lyk nie asof hy nodig is nie.
Alles daarbuite gaan sonder hom aan. Jou werk, die ekonomiese prosesse, die politiek, internasionale verhoudings – die hoofrolspelers op daardie gebiede erken nie Christus as koning nie. Daarom lyk dit asof dit alles onafhanklik van Jesus kan bestaan en aangaan.

Dalk het jy die ervaring dat as jy probeer om met mense oor Jesus te praat, jy nie by hulle deurdring nie. Het jy daarom al gou tou opgegooi en probeer jy nie meer nie? Dink jy hierdie gemeente maak ’n verskil in Rietfontein en het ’n boodskap vir die Moot?
Hoe meer geld en keuses mense het, hoe minder hulle Jesus nodig het, lyk dit. Dit sal die meeste van ons ook nie verbaas as die kerk in armer gebiede soos F4 groei, maar nie in ryker voorstede nie.
Maar Jesus se woorde klink steeds. Ook in Villieria en Wonderboom-Suid moet dit by die mense uitkom. En in Sandton, in Braamfontein, by die parlement, in die hoofkantore van besighede, en by die SABC.

As Jesus net ’n joodse profeet was gewees, was sy woorde nou deel van die stof van die geskiedenis. Dan was sy betekenis beperk gewees tot ’n klein stukkie Joodse geskiedenis.
Maar Jesus beweer en bewys dat hy die Seun van God is, en dat hy die diepste dors van elke mens wegneem. Hy is self die water van die lewe. Hy neem die sonde weg wat ons van God skei. En hy stort sy Gees uit in die hart van die sondaar, sodat daar groot veranderings kom.

Hoe kan mense agterkom hulle is dors, wanneer hulle kultuur en bankstate en luukse vir hulle die boodskap gee: ‘jy het dit gemaak, jy kan self regkom, vertrou op jouself!’? 
In die eerste plek kan jy rondom jou die skeure raaksien in die geboue van mag en sukses wat mense vir hulself gebou het. Leiers sukkel om almal gelukkig te hou en die land te bestuur. Die mense waarna almal met bewondering opkyk, die mees suksesvolle akteurs, kan goed ’n rol speel maar sukkel om hul eie lewe goed te hanteer. Van hulle gebruik heroïen of kokaïen en meerdere van hulle is daaraan dood. Mense wat alles het, ervaar ’n leegte, ’n ontgoogeling: is dit alles? 
Politieke mag lyk heelwat, maar dit kan sommer verdamp: verkiesings het ’n einde gemaak aan Trump se tumultueuse presidentskap, en die regering van Myanmar is hierdie maand onttroon deur dieselfde weermag waarop hulle vertrou het.
Die lewensvrae ‘is dit alles?’ en ‘hoekom leef ek eintlik?’ ‘watter verskil maak dit dat ek my inspan om ’n betere lewe vir myself te kry, of die wêreld te verbeter?’ is vrae wat mense ’n ruk kan onderdruk, maar wat altyd weer opduik.

Hoekom? Omdat God die mens geskape het vir ’n verhouding met homself. En daar is ’n leegte, ’n dors, as jy God ignoreer en weier om hom te vereer omdat jy vir jouself leef.
Maar almal wat daardie dors erken, begin die genade van God raaksien. God maak mense ontevrede en rusteloos deur teenslae en rampe, en deur die knaende vraag na die sin van die lewe. En hy het Jesus gestuur om die verhouding met hom te herstel.

Daarom is dit ’n verkeerde reaksie om weg te kruip agter die veilige mure van die kerk omdat die wêreld nie belangstel in die evangelie nie. 
Dan swaai jy die wit vlag en ontken jy dat die wêreld Jesus nodig het.
Dan ontneem jy hulle die enigste boodskap wat die wêreld kan oorwin en terugbring by God. 
En jy ontneem aan Christus die eer. Hy is koning en dit is ons taak om sy koningskap bekend te maak!

Die gemeente van Jesus mag nie stil bly nie. Die evangelie verloor sy glans en sy krag as jy dit toesluit in die kerk.
Ons mag nie neerkyk op die wêreld en ons voorstad vanuit ons ivoor toring met die verskoning dat mense tog nie belangstel nie.

Dit uitnodiging om te drink, om Jesus te ontvang, is vir almal en mag nie hier weggesteek word nie.
Dit word nog duideliker wanneer ons die volgende vers lees:

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

2    Sy Gees is so oorvloedig dat dit oorstroom.

Wat sou dit kon wees: ‘strome van lewende water wat uit jou binneste vloei’?
Dit is nogals spesiaal. Dit raak ons geloofsbelewing en die identiteit van die gemeente.
Ons is almal dankbaar dat Jesus die lewende water is, en ons wil graag die lewe wat hy gee, ontvang.
Vanaf die begin van die geskiedenis van die VGK was daar by lidmate die begeerte na goeie bybelse prediking. Ook in die sending sien jy daardie begeerte: mense wil ’n betroubare kerk hê, wat ook hulle kinders goed onderrig.

Ja, maar dan? Wat maak jy daarmee as jy dit heeltyd ontvang?
Is jy tevrede met wat jy het?

Dit mag nie so wees nie. Luister maar: 

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Dit is die aard van die lewende water dat dit aanhou stroom. God gee dit nie om dit te versamel en te stilstaan nie. Daar is ’n oorvloedigheid en ’n lewegewende krag wat nie in een mens of in ’n gemeente toegesluit kan en mag word nie.

Almal wat die lewende water, Christus, ontvang, word ook self ’n oorvloeiende bron van daardie water.

Johannes verduidelik dit vir ons, sodat daar geen misverstande sal wees nie:

“En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”

2.1    Nabye toekoms

Jesus praat hier van die nabye toekoms. Hy sal sy Gees uitstort op die gelowiges. Nie net bietjie bietjie nie, maar ’n stortvloed. Dink maar aan die stortvloed van water wat deur die Kruger wildtuin gestroom het na die tropiese storm. En hierdie stroom van lewende water is onstuitbaar!
Johannes het dit saam met die ander apostels ervaar, en skryf nou agteraf hoe hy dit verstaan het.
In die Ou Testament lees jy dat die Gees individuë aangegryp het soos David, Samuel, en ander profete.
Maar nou word die Gees so oorvloedig uitgestort en werk hy so kragtig dat Johannes selfs kan sê oor die tyd voor die uitstorting: ‘die Heilige Gees was nog nie daar nie.’
Nou kom daar ’n geweldige stroom in beweging. Die Gees van Jesus vervul elke gelowige en kom bly in die gemeente van Christus.

2.2    Die stroom loop oor

“soos die Skrif sê”: dit was dus aangekondig.
Die werking, die krag van die Heilige Gees is iets wat amper nie in die beperkte klere van die Ou Testament pas nie. Dit bars uit sy nate! 
Daar is heelwat ‘previews’ van die nuwe wêreld wat gaan kom in die profete. Hier en daar word die nuwe werk van die Gees beskryf: Jer31 en Eseg 36. 
Maar die heel duidelikste is wel Eseg 47, waar jy dieselfde beeld vind van stromende water wat oorvloei.

In Eseg47 stroom water uit die tempel. Dit is die nuwe tempel wat God sal bou na die terugkeer uit die ballingskap. Daardie oorvloed wys  hoe ryk en oorvloedig die werk van Christus sou wees.
Dit vul die tempel, en die tempel is te klein! Dit hou aan stroom en stroom.
Soos wanneer jy die bad met water laat volloop en jy vergeet om die kraan toe te maak: die bad raak vol, en dit stroom oor die rand, die badkamervloer staan onder water, en dit begin onder die deur syfer en kom in die gang.
In die profesie is die water eers enkel diep, dan kom dit tot aan die knieë, dan tot die heupe, en nog verder het dit ’n rivier geword wat mens nie meer kan oorsteek nie. Soveel water!

In Johannes 7 tref jy dieselfde woord aan: dis nie maar net stroompies nie, maar dit is ’n rivier!
En dit is die oorvloed en die krag van die Heilige Gees in die hart van elke gelowige.
In Eseg 47 kan jy lees wat die effek is van daardie rivier: dit is lewegewend. Daar groei bome langs die water. Dit is nie ’n paar armetierige doringboompies soos jy in die bosveld aantref nie. Hierdie bome dra vrugte, en het dus baie water nodig.
Die rivier het dus soveel water dat daar aan beide kante bome langs die rivier groei.
En nog iets: die stroom is so sterk, dat dit die see wat sout is, gesond maak. Nóg ’n bewys van die lewegewende krag van die Gees!

Dieselfde beeld van bome wat vrug dra, kom terug in Opb 22. In die nuwe Jerusalem is daar bome langs die rivier, wat elke maand vrug dra vir die genesing van die volke. Dit is die oorvloed van lewe wat die wêreld sal verander wanneer die hemel op aarde kom.
Daardie lewe ontvang ons nou reeds. Almal wat deur ’n lewende geloof in Christus ingeplant is, ontvang Gees van Christus in sy volheid. Nou is daar lewe, krag, en vernuwing.

2.3    Die oorweldigende aanwesigheid van die Gees

Ons glo almal seker in die krag van die evangelie van Jesus waardeur mense gered word. Maar glo ons dit ook regtig wanneer ons ’n moeilike persoon by die werk moet hanteer, of twyfel dat jou man of vrou of jyself kan verander?

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Glo jy dit?
Die krag van die Gees van Christus is so oorweldigend groot dat ons dit nie kan keer nie. Ons kan dit nie opsluit in ons hart of ons gemeente nie. Dit is so kragtig, soos die brandkrane van die brandweer wat soveel waterdruk het dat dit jou omver gooi as jy in die pad is.

As Jesus in die hemel verheerlik is, kry hy die bevoegheid om die Heilige Gees uit te stort. Dit is nou sy Heilige Gees ook: die Gees van Christus.

Wat is die effek wanneer hy sy Gees in ons harte uitstort?
Twee dinge: 

  • dat sy disspels vrug dra
  • én dat die lewe en die Gees wat ons ontvang, oorvloei en uitstroom, die wêreld in.

Jesus stuur sy Gees na die kerk, en deur die Gees stuur hy sy kerk na die wêreld, om van sy genade en krag te getuig.

Daar mag dus nooit ’n houding van gearriveerdheid in die kerk heers nie.
Die stroom van die Gees gaan uit. As ons ongehoorsaam is, sal God ander kanale gebruik.
Vra dat God jou meer en meer met sy Gees vervul.
Moenie redeneer of spekuleer oor die effek, oor die belangstelling van mense nie. Laat die water vloei.
Laat jouself vervul en verlang daarna dat ook ander daarin mag deel.
Bid dat die Gees oorvloedig in ons almal werk sodat die strome van lewende water ook die mense rondom ons bereik en verander.

Amen

Liturgie: 

Sing: Ps 68, 2

Gebed

Wet en Genadeverkondiging

Sing: Ps 65,2-3

Skriflesings:
Johannes 7:1-43;
Esegiël 47:1-12;

Sing: Ps 65,4.7

Teks + Preek: Johannes 7:37-39

Sing: Skrifberyming 13;

Geloofsbelydenis

Gebed

Kollekte

Sing: Skrifberyming 24,2.3.6