Moses, unieke profeet, eenvoudige dienskneg...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-02-07
Teks: 
Hebreërs 3:1-6
Verwysing: 
Profete-Projek2
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Indien u gedink het dat ons, ná die inleiding tot die Profete Projek twee weke gelede, sommer dadelik met Jesaja of Jeremia of Esegiël gaan wegspring, dan moet ek nog ‘n rukkie lank u geduld vra. Want as ons werklik dít wat ons as die profete ken – Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, en vervolgens die twaalf klein profete – as ons werklik hierdie profete wil verstaan, dan moet ons vroeër in die geskiedenis begin. Die somtotaal van die profete is nie net daardie profete wat hulle profesie op skrif gestel en ‘n ‘Bybelboek’ vir ons nagelaat het nie. Dis hoe ons dikwels dink, nie waar nie? Die Bybelse profete is Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël en die twaalf klein profete. Maar onthou, naas hierdie sogenaamde ‘Skrifprofete’ – dus, profete wat hulle profesie op skrif gestel het, en waarvan ons vandag nog ‘n Bybelboek het wat na hulle genoem is – naas hierdie ‘Skrifprofete’, was daar ook talle ‘nie-Skrifprofete’ (profete wat in die Naam van die Here opgetree het, maar wat nie ‘n boek nagelaat het wat hulle naam dra nie). Ek gaan ‘n paar noem, maar probeer op jou eie of in julle gesin ‘n lysie maak van al die nie-Skrifprofete (daar is meer as wat jy dink). Ek gee drie voorbeelde: dink aan die belangrike rol van die profeet Natan, wat in die tyd van koning Dawid opgetree het; op verskeie sentrale momente in Dawid se lewe, tree hierdie profeet na vore. Of wat van die siener Gad, wat namens die Here optree nadat Dawid die volk laat tel het (2 Sam. 24:10 e.v.)? Of die profeet Ahia wat Jerobeam tot koning gesalf het (1 Kon. 11:29 e.v.), en wat daarna aan Jerobeam se vrou geprofeteer het dat haar seun sou sterwe (1 Kon. 14:1 e.v.)? Dus, die Bybelse profete begin nie eers wanneer ons na Jesaja 1 toe blaai nie...

 

Maar daar is nog iets belangrikers...

Indien ons wel dadelik na Jesaja 1 sou blaai, dan vergeet ons dat die Skrifprofete nie op hulle eie staan nie, en ook nie op hulle eie verstaan kan word nie. Nee, hulle staan op ‘n grondslag wat lank voor hulle alreeds gelê is. Die openbaring wat húlle van die Here ontvang, bou op sy openbaring van eeue daarvoor. En daarom kan ons nie net in een slag spring na Jesaja 1 nie. Ons gaan dit stapsgewys moet doen. En ek wil dit doen aan die hand van drie persone, waarna ons in die volgende weke gaan kyk: Moses, Samuel en Elia. Met hierdie drie persone hoop ek dat ons die ontwikkeling kan sien vanaf Deuteronomium 18 tot by die sogenaamde Skrifprofete. Vandag begin ons dus met Moses...

Nou, die keuse van Moses as profeet is ‘n logiese uitvloeisel uit ons teks van twee weke gelede – Deuteronomium 18:18: “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is...” Moses word hier aan ons voorgehou as ‘n soort voorbeeld / model vir die profete wat sou kom. Moses staan aan die wieg van die Bybelse profete-amp. En tog is Moses meer as net ‘n model. Moses neem ‘n unieke posisie onder die profete in. Ons sien dit in die gedeelte wat ons saam gelees het in Numeri 12. Mirjam en Aäron kom in opstand teen Moses. Hulle gebruik Moses se huwelik met die Kusitiese vrou as ‘n rookskerm vir hulle eintlike grief: hoekom gaan die Here anders met Moses om as met ons? En dan antwoord die Here self: aan die gewone profete (en dit sluit Mirjam en Aäron in) openbaar ek My deur gesigte en drome; met Moses, egter, praat ek van mond tot mond, hy mag my verskyning sien (Num. 12:6-8; sien ook Ex. 33:11). Hierdie unieke posisie word aan die einde van Moses se lewe bevestig, wanneer ons in die laaste verse van die boek Deuteronomium (34:10-12) lees: “En soos Moses, vir wie die Here van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie...” Dus, Moses was as’t ware die bron, die oorsprong, waaruit die res van die profete-amp gevloei het, maar ná hom was daar geen profeet meer soos hy nie. En dit maak ons nuuskierig om Moses as profeet beter te leer ken.

Tema: Moses, unieke profeet, eenvoudige dienskneg...

 

Ons gaan nog ‘n keer terug na Numeri 12. In verse 6-8, só het ons alreeds gesien, tref die Here ‘n vergelyking tussen Moses en die ander profete. In vers 6 sê die Here dat Hy Homself deur gesigte en drome aan die profete openbaar. In vers 7 sê Hy vervolgens: “So is dit nie met my kneg Moses nie...” En dan voeg die Here nog hierdie woorde by, amper as ‘n soort verklaring vir die feit dat Hy anders met Moses omgaan as met die ander profete; Hy sê: “... in my hele huis is hy getrou.” Nou, dit is hierdie woorde wat die verbinding vorm met ons teks vir vandag, Hebreërs 3. Want in Hebreërs 3:5 vind ons hierdie einste woorde weer terug: “En Moses was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar...” Hieroor moet ons bietjie nadink...

Kom ons begin met ‘hele huis’ – wat word hiermee bedoel? ‘n Mens se eerste gedagte gaan uit na die tabernakel, die tent, die woonplek wat die Here vir Homself laat maak het. Indien dit die geval was, dan sou ‘huis’ hier ‘n letterlike betekenis hê – die huis van die Here, die tabernakel. Maar tog dink ek nie dat dít is wat hier bedoel word nie: die woordjie ‘hele’ is vir ons ‘n aanduiding dat dit nie net die tabernakel kan wees nie, want Moses het nie toegang gehad tot die ‘hele’ tabernakel nie; in die allerheiligste mag slegs die hoëpriester gekom het. En verder is die woordjie ‘hele’ ook ‘n aanduiding dat ons breër moet dink as net die tabernakel. Want Moses was uiteindelik nie net verantwoordelik vir die tabernakel nie, hy was verantwoordelik vir die hele volk. ‘Hele huis’ het dus ‘n meer figuurlike betekenis – dit verwys hier na die hele volk Israel. Net soos wat Abraham se kneg, Eliëser, verantwoordelik was vir die hele huishouding van Abraham (Gen. 15:2), en Josef op ‘n soortgelyke wyse verantwoordelik was vir die hele huishouding van Potifar (Gen. 39:4-6), só is Moses verantwoordelik vir die hele huishouding van God – sy volk Israel.

‘n Geweldige groot verantwoordelikheid – een man aan die stuur van ‘n miljoene-volk! En hoe het Moses hom nie van sy taak gekwyt nie – hy was een van die grootste persoonlikhede, een van die grootste leiers van alle tye! ‘n Man wat sy volk tot ‘n nasie saamgesnoer het, indrukwekkende wonders en tekens in Egipte en in die woestyn verrig het, hulle uit die onderdrukking van die Egiptenaars bevry het, aan hulle vervolgens ‘n grondwet gegee het as basis van hulle volksbestaan, aan hulle ‘n godsdiens gegee het, en hulle tot op die grens van hulle eie land gebring het. In terme van groot manne in die geskiedenis, is daar min so groot soos Moses! “Moses on Management” is die titel van ‘n boek wat geheel in hierdie lyn dink, met die subtitel: ‘50 leierskapslesse van die beste bestuurder van alle tye’.

 

En tog, gemeente, gee die Bybel vir ons ‘n ander beeld van Moses. Om mee te begin, lees ons in Numeri 12:3 dat Moses baie sagmoedig was (‘beskeie’ sê die 2020-vertaling), meer as al die mense op die aardbodem. Nou nie ‘n eienskap wat die groot leiers van hierdie wêreld kenmerk nie. Maar belangriker nog as sy uitstaande karakter-eienskappe sê die Hebreërskrywer vir ons dat Moses getrou was as ‘n dienaar (Heb. 3:5). Hier word dus nie van Moses se leierskap gepraat nie, maar van sy diensbaarheid. En, word nog bygevoeg, Moses het ook getrou gedien! En hoe presies was Moses getrou? Wel, dit voeg die Hebreërskrywer ook nog by in vers 5: “om te getuig van wat nog gespreek sou word.” Dit is so belangrik, hierdie laaste woorde! Moses het in nederigheid en getrouheid verantwoordelikheid uitgeoefen oor die hele volk van die Here – hoe? Deurdat hy getuig het van dít wat die Here tot hom gespreek het en nog sou spreek.

En te min sien ons dit raak! Ons sien Moses dikwels as leier, hoof van ‘n volk – vooraan met sy staf, terwyl hy Israel uit Egipte uitlei. Maar nee, Moses het in die eerste plek getuig – getuig van wat die Here vir hom gesê het. Moses was heel eerste ‘n profeet. Dit het my baie diep getref toe ek hierdie realiteit raakgelees het in die profesie van Hosea, hoofstuk 12:14, waar daar staan: “deur ‘n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur ‘n profeet is hulle opgepas.” Nie deur ‘n leier nie, nie deur ‘n staatsman nie, nie deur ‘n ‘manager’ nie – maar deur ‘n profeet! En wat dan van die wetgewer wat later op Horeb met die twee kliptafels in sy hand staan? Hy is eweneens ‘n profeet! Van begin tot einde was Moses ‘n profeet – hy het niks anders gedoen nie as om die woord van die Here aan die volk oor te dra en uit te leef.

 

Toe hy voor Farao gestaan het, het hy nie sy eie woorde gespreek nie; hy het eenvoudig oorgedra wat die Here vir hom voorgesê het. In al die wonders en tekens wat hy gedoen het, het hy eenvoudig uitgevoer wat die Here in sy mag gegee het. Aan die volk het hy maar net vertel wat die Here vir hom gesê het. Die Pasga, die ongesuurde brode, die bloed aan die kosyne, die bitter kruie – dis God se instelling wat Moses oorgedra het. Toe hy sy hand oor die see uitgesteek het sodat dit in twee gekloof is, was dit nie sy idee nie, nee, dit was in opdrag van die Here. Die kliptafels met die tien gebooie was nie sy handewerk nie, dit was die Hére wat dit met sy eie vinger neergeskryf het. Die tabernakel, die kandelaar, die waskom, die altaar, die tafel met die toonbrode, die klere vir die hoëpriesters – dit alles was nie Moses se kreatiwiteit nie. Nee, hy moes dit maak presies volgens die model (die bloudruk) wat die Here op die berg vir hom gewys het. Al die offers – die brandoffers, die slagoffers, die skuldoffers, die dankoffers, die spysoffers, die drankoffers – die hele offerdiens was in opdrag van God self. Al die wette oor die feeste, oor reinheid, oor melaatsheid, oor die huwelik en kuisheid, oor strawwe vir verskillende misdade, oor die priesters, oor die sabbatsjaar, oor die jubeljaar – dit alles begin met: “Verder het die Here met Moses gespreek en gesê...” Die hele boek Deuteronomium (wat niks anders is nie as ‘n herhaling van die wet: deuteros = tweede, nomos = wet) begin met: “Moses het met die kinders van Israel gespreek net soos die HERE ... aan hom bevel gegee het.” En selfs die sogenaamde “Lied van Moses” in Deuteronomium 32, waarvan ons aan die einde van die diens gaan sing, kom van die Here af, wanneer die Here in Deuteronomium 31:19 vir Moses sê: “Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel...” Moses se lied... ja dalk, maar deur die Here gedikteer. Moses se hele loopbaan, vanaf sy roeping in Exodus 3 tot by sy dood in Deuteronomium 34, is niks anders nie as: spreek wat die Here gee om te spreek, doen wat die Here gee om te doen. Dís wat ‘n profeet doen!

Behalwe daardie een keer... by die waters van Meriba – toe die Here Moses beveel het om die rots aan te spreek, en Moses eerder die rots met sy staf geslaan het. Ag, wat maak dit tog saak? Die wonder was mos nog steeds wonderlik? Nee, nee! Daardie een keer het Moses sy profetiese amp versaak; daardie een keer het hy nie na sy Sender geluister nie; daardie een keer was dit nie “so spreek die Here” nie, maar eerder “so maak Moses”. En dit het hom die toegang gekos tot die Beloofde Land. Maar behalwe vir daardie een keer was Moses ‘n getroue dienaar oor die huis van Israel deur in woorde en dade te getuig net wat die Here gespreek het. Niks meer nie, niks minder nie. “Deur ‘n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur ‘n profeet is hulle opgepas” – deur profesie is Israel uit Egipte gebore, deur profesie is sy in die woestyn versorg. En vir eeue daarna was die profetiese woord haar behoud. Israel se totale bestaan as volk van die Here was volledig gegrond op die profetiese woord, op die Woord van die Here. Dít was die basis onder Israel se volksbestaan; dít was die grond van haar bestaan.

--------------

Maar Moses se getroue profetiese diens, die basis van Israel se bestaan, is nog maar net punt 1 van die Hebreërskrywer se preek. Dit is interessant om hier te sien dat die Hebreërskrywer nie net daardie paar woorde uit Numeri 12:7 oorneem nie, maar eintlik die hele struktuur van daardie gedeelte navolg. In Numeri 12 het ons naamlik ‘n vergelyking gesien tussen die gewone profete met wie die Here deur gesigte en drome gepraat het, én Moses met wie God van mond tot mond gepraat het. Nou, die Hebreërskrywer doen presies dieselfde: hy tref ook ‘n vergelyking, nou nie meer tussen die gewone profete én Moses nie, maar tussen Moses (en al die ander profete saam met hom) én Jesus Christus.  

Moses was getrou as dienskneg in sy huis, maar Christus was getrou as Seun in sy huis. Dus, ons het hier te make met twee huise. In die een (die Ou Testamentiese huis) het Moses as dienskneg gearbei; in die ander (die Nuwe Testamentiese huis) het Christus as Seun sy werk verrig. In die een, só het ons reeds gesien, was die profetiese woord die basis (Moses, wat eenvoudig gesê en gedoen het wat hy van die Here ontvang het). En wat is die basis in die ander huis, daar waar Christus as Seun werk? Uiteindelik niks anders nie, broers en susters. Ook in die Nuwe Testamentiese huis is die profetiese woord die basis – maar (en dít is die punt!) nou nie meer net die profetiese woord van die dienskneg (Moses) en van al die ander diensknegte (die profete) wat ná gekom het nie; nee, nou het die Seun, die Woord wat vlees geword het, self tot ons kom spreek. Dis presies waarmee die Hebreërskrywer sy brief begin het: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” En daardie Seun ontvang nie maar net ‘n woord van God af nie (hetsy deur gesigte of drome, hetsy direk); Hy ontvang nie maar net ‘n woord nie, Hy is die Woord. En daarom kan Hy nog soveel beter as Moses aan sy huis bou! En daarom is Hy ook soveel meer heerlikheid waardig as Moses!

 

Nou goed, as Israel die huis was waarin Moses as dienskneg gearbei het, wat is dan die huis waarin Christus as Seun gearbei het? Wel, weereens stel die Hebreërskrywer ons nie teleur nie. Kyk maar na vers 6: “En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.” Ons, broers en susters, ons is die Nuwe Testamentiese huis! Ons, die gelowiges, is die huis waaraan Christus, die Seun van God, die vleesgeworde Woord, sy lewe gewy het. As die Ou Testamentiese huis (Israel) op die profetiese woord gegrond was, dan is die Nuwe Testamentiese kerk dit nog soveel te meer. Ons hele bestaan as Nuwe Testamentiese huis – as kerk! – is afhanklik van die Woord. Dis presies hoe Paulus dit beskryf in sy brief aan die Efesiërs (2:19-22): “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar mede-burgers van die heiliges en huisgenote van God (daar sien ons dit al: ons is die huis, ons is huisgenote van God!), gebou op die fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”

 

Hierdie gemeente, broers en susters, is ‘n woning, ‘n huis. En hierdie huis is gebou op die profete, net soos Israel eertyds op Moses se profetiese woord gebou is. En ons hoogste Profeet, Jesus Christus, is die hoeksteen. Dit is die basis van ons bestaan. Dit is die enigste grondslag waarop hierdie gebou kan verrys tot ‘n heilige tempel, tot ‘n woning van God in die Heilige Gees. En dit gee my en elke prediker wat op hierdie kansel staan ‘n geweldige verantwoordelikheid. Dit gee die ampsdraers – ouderlinge en diakens – ‘n groot taak. Hier is ons nie leiers of ‘managers’ nie; ons soek nie ‘managers’ nie. Ons soek dienaars, mense wat niks anders wil doen nie as om die profetiese woord te spreek, om die vleesgeworde Woord elke keer maar weer as hoeksteen onder hierdie huis te bevestig. En dit plaas verder ook op elkeen van ons ‘n groot verantwoordelikheid. Ons kerkwees, ons bestaansreg hou op... die oomblik wanneer die profetiese woord nie meer ons basis is nie – hoe lekker ons ook al kuier, hoe gesellig ons basaars ook al is, hoe gasvry ons gemeente ook al mag wees. En juis in hierdie tyd, waarin die sosiale sy van ons kerkwees ernstig beperk word, raak dit nog soveel belangriker dat ons weet en verstaan hoekom ons kerk is.

Dus, elkeen van ons se verantwoordelikheid is om te toets – nie krities nie, nie afstandelik nie, maar liefdevol – om te toets of ons basis nog reg is. En daarvoor lees ons ons Bybels, daarvoor bestudeer ons gesamentlik die Woord, daarvoor praat ons met mekaar op alle moontlike maniere. Om seker te maak dat hier slegs een leuse geld: so spreek die Here. Die kerk is nie ‘n besigheid of ‘n klub nie. Die kerk is die huis waaraan Jesus Christus sy lewe gewy het – kom ons maak seker dat sy Naam dan ook oral op ons kerklike lewe geskrywe staan. En dat ons hierdie hoop tot die einde toe onwrikebaar vashou.

 

Broers en susters, Moses het aan die wieg gestaan van die Bybelse profete-amp. Hy het Israel uit Egipte uitgelei, haar deur die woestyn gelei – nie as bestuurder of leier nie, maar as profeet. Dit bring ons by die wese van die Skrif-profete. En dit bring ons by die wese van ons eie kerkwees. Mag Christus deur sy Gees ons in hierdie waarheid lei. Volgende keer gaan ons verder met Samuel.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het, wat trou bly tot in ewigheid, en wat nooit sal laat vaar die werke van sy hande nie.

Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 23:1-3 (eerste beryming)

Gebed

Lees: Numeri 12:1-8

Teks: Hebreërs 3:1-6

Sing Ps. 77:6, 7 en 10

Preek

Amenlied Ps. 89:6 en 7

Gebed

  • Eindig gebed met Onse Vader (Skr. 28b)
  • Direk na Onse Vader, sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Skr. 37

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen