Die profete-amp leer aan God se volk dat hulle godsdiens ‘openbaring’ is, en nie ‘manipulasie’ nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2021-02-07
Teks: 
Deuteronomium 18:18
Verwysing: 
Profete-Projek1
Preek Inhoud: 

Broers en susters,

Lees asseblief saam met my vraag en antwoord 31 van die Heidelbergse Kategismus [lees]. Christus (= Messias = Gesalfde) is ons hoogste Profeet en Leraar, ons enigste Hoëpriester, en ons ewige Koning. Hier het ons, wat algemeen bekend staan as, Christus se drievoudige amp: Profeet, Priester en Koning. So eer ons Hom as die Christus! Maar, broers en susters, hierdie drie ampte van ons Here val nie sommer so uit die lug en reguit in die krib in Betlehem in nie – nee, ons kan die lyne van aldrie hierdie ampte regdeur die Ou Testament met die vinger navolg: ons vind daar die profetelyn, die priesterlyn, en die koningslyn (en dis baie belangrik vir ons lees van die Skrif!). En interessant, aldrie hierdie lyne vind ons ook in die omgewing van ons teks – die gedeelte wat ons saam gelees het.

Deuteronomium 17 vanaf vers 14 vertel vir ons van die koningslyn: “As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ‘n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is...” En dit is presies wat gebeur in 1 Samuel 8:5, wanneer die oudstes van Israel vir Samuel sê: “Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.” Hier vind ons die amptelike begin van die (menslike) koningslyn in Israel (ons vind wel voorlopers van die koninskap in Moses en Josua en die rigters, maar die amptelike koningslyn begin hier). En dan weet ons hoe dit verloop: ons kry eers koning Saul, daarna Dawid, daarna Salomo. Daarna, vanweë Salomo se sonde en afval, word die 12 stamme van Israel opgeskeur in twee dele: die tienstammeryk en die tweestammeryk. In die tienstammeryk kry ons vervolgens oor ‘n periode van ongeveer 200 jaar 19 konings, almal goddeloos, totdat die tien stamme in die jaar 722 vC deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer word (belangrike datum om te onthou!). En in die tweestammeryk kry ons 20 konings (sommige goddeloos, sommige vroom – maar álmal uit die geslag van Dawid), totdat die twee stamme in die jaar 586 vC deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer word (nog ‘n belangrike datum). En ná die Babiloniese ballingskap verteenwoordig Serubbabel die voortgang van die koningslyn van Dawid (op ‘n baie beskeie manier, maar tog...). Dis so ietsie van die koningslyn – en ons lees daarvan veral in die boeke Samuel, Konings en Kronieke.

En dan, in Deuteronomium 18:1-8 vind ons die priesterlyn. Hierdie priesterlyn begin natuurlik al vroeër as Deuteronomium 18 (onthou wanneer Deuteronomium afspeel!) – dit begin alreeds by Horeb, waar die Here sy verbond met Israel gesluit het. Daar word Aaron aangewys as die eerste hoëpriester (Ex. 28:1-2), en die ander afstammelinge van Levi word aangewys as die priesters en die leviete. En van daardie tyd af speel die priesters – en met name die hoëpriesters – dwarsdeur die Ou Testament ‘n belangrike rol in die godsdiens van Israel, veral by die heiligdom (eers die tabernakel, en later die tempel). Dink, byvoorbeeld, aan die rol van Eli (in die tyd van Samuel), Sadok (hoëpriester in die tyd van Dawid en Salomo), Josua (direk ná die ballingskap), en uiteraard Kajafas (in die tyd van ons Here Jesus). Dus, dit is die priesterlyn.

 

En dan is daar die profetelyn...

Nou, wat ek in die komende jaar wil doen, is om ‘n Profete-projek aan te pak – ‘n poging om die profete beter te leer ken. Immers, as ons Here Jesus ons hoogste Profeet en Leraar is, soos wat ons bely in v/a 31 van die Kategismus, dan is dit uiteraard belangrik dat ons Hom as die hoogste Profeet ken, maar dan lyk dit vir my net so belangrik dat ons die profetelyn ken waaruit Hy opgekom het én waarvan Hy die vervulling is. En daardie profetelyn begin hier in ons Skrifgedeelte, Deuteronomium 18:9-22. Hier lê die oorsprong van die Bybelse profete-amp. En in die komende jaar gaan ons hierdie profete-amp en die boodskap van die profete probeer uitdelf en ontgin. En ons doen dit sodat ons – onthou v/a 31 – na ons hoogste Profeet en Leraar kan leer luister, maar ook – v/a 32: waarom word jy ‘n Christen genoem? – sodat ons kan leer hoe ons óns profete-amp vandag behoort uit te voer. Dus, wat in die komende tyd gaan volg – as die Here aan ons lewe en gesondheid gee – is ‘n redelike lywige ‘Profete-projek’. Uiteraard in die eerste plek in die prediking, maar ek hoop om van tyd tot tyd ook ekstra inligting en leesmateriaal in die Mededelingsblad te publiseer, sodat u self ook met hierdie deel van die Skrif kan gaan werk. Dus, ons begin vandag by die begin – Deuteronomium 18:9-22. En die tema vir die preek is:

Tema: die profete-amp leer aan God se volk dat hulle godsdiens ‘openbaring’ is, en nie ‘manipulasie’ nie!

 

In Deuteronomium 18:9-14 vind ons ‘n gedeelte wat gaan oor sekere heidense praktyke – praktyke wat die Here nie onder sy volk wou sien nie; dit was vir Hom ‘n gruwel. Helaas... (en ek sê dit sommer aan die begin alreeds) dikwels moes die Here sien dat sy volk wel in hierdie gruwels verval het – en ek sal probeer om dit juis vanuit die profete aan te toon. Kom ons kyk kortliks na elkeen van die praktyke wat hier genoem word. Eers is daar die praktyk om kinders (seun of dogter) deur die vuur te laat deurgaan (Deut. 18:10). Dit verwys hoogswaarskynlik na die praktyk onder die heidene om kinders deur verbranding aan die god Molog te offer – met die doel om die gode gunstig te stem, om die gode te kry om te doen wat jy hulle graag wil laat doen. En hoe verskriklik dit ook al mag klink, maar dit het ook onder Israel voorgekom. Jeremia 7:31: “En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand – iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.” En Esegiël 16:20-21: “Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie, dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het?” Ook onder Israel het hierdie gruwels voorgekom...

Die volgende drie terme in Deuteronomium 18:10 (waarsêery, goëlery en verklaring van voortekens) dui almal op verskillende vorms van toekomsvoorspelling. Onder die heidense nasies van daardie tyd het toekomsvoorspelling gebeur deur van verskillende voorwerpe gebruik te maak: deur byvoorbeeld die posisie van die binnegoed/derms van ‘n dier te ondersoek, of deur na die refleksie op water of ander vloeistowwe te kyk, of deur na die sterre te kyk, of deur die optrede van diere dop te hou kon jy sogenaamd weet wat die toekoms sou bring. Ons sien iets hiervan in Esegiël 21:21: “... die koning van Babel gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak: hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.” Maar dit is nie slegs die koning van Babel wat hom hiermee besig gehou het nie. Lees maar Esegiël 13:6 en 7: “Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: die HERE het gespreek – terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord.” Ook onder Israel het hierdie gruwels voorgekom...

Die volgende twee terme in Deuteronomium 18:10 (towery en besweringe) verwys na verskillende vorms van magie of van die okkulte, waarin die een persoon voordeel oor ‘n ander persoon probeer kry deur sekere rituele uit te voer. Jy probeer om ‘n ander persoon (jou vyand) onder ‘n beswering te plaas en sodoende in jou mag te kry, of jy probeer jouself teen die beswering van ‘n ander beskerm. Daarvan sê die Here in Miga 5:11: “Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie.” En Maleagi 3:5 (dus, selfs ná die ballingskap): “En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ‘n haastige getuie wees teen die towenaars...” Nogmaals, ook onder Israel het hierdie gruwels voorgekom...

En dan is daar die laaste drie begrippe (Deut. 18:11: wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg) – al drie hierdie begrippe het te make met die raadpleeg van die geesteswêreld. Hier gaan dit oor mense wat voorgegee het dat hulle in kontak staan met die wêreld van die dooies en met hulle kan kommunikeer. Luister na Jesaja 8:19: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewende die dooies gevra word?” Weereens, ook onder Israel het hierdie gruwels voorgekom...

 

Ja, gemeente, ook onder Israel het hierdie gruwels voorgekom...

En dan lees ons in Deuteronomium 18:12: “en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.” Die heidennasies word uit die land verdryf vanweë hierdie gruwels. Sou ons dan enigsins verbaas wees oor die ballingskap van die tienstammeryk in 722 vC? Of oor die ballingskap van die tweestammeryk in 586 vC? Israel het die einste gruwels bedryf wat die Here verbied het – nie een keer nie, nie twee keer nie, maar herhaaldelik. En uiteindelik was die maat van die Here se geduld vol. En met Israel gebeur dan presies wat met die heidennasies gebeur het: hulle word uit die land verdryf (die ballingskap). Laat ons ons daaroor nie verbaas nie.

--------------------

Maar, broers en susters, dan stel die Here in vers 15 teenoor hierdie gruwels: ‘n Profeet. In die Hebreeus, net soos in ons vertaling, is dit die heel eerste woord in vers 15: Profeet (in Hebreeus: navi). Die Here wil duidelik hier ‘n kontras skets: teenoor al hierdie gruwels van die heidennasies (verse 9-14) gee Ek ‘n profeet (vers 15 e.v.). En nou moet ons oppas om dadelik te dink aan ons groot Profeet, Jesus Christus. Dis ongelukkig wat ons vertaling doen deur in vers 15 en vers 18 ‘Hom’ en ‘Hy’ met hoofletters te skryf. En dit is effens misleidend, want dit maak dikwels dat ons oor honderde jare van profete en profesie onmiddellik spring na Jesus Christus; dit maak dat ons die profete-lyn ignoreer. En wat is die probleem hiermee? Wel, om mee te begin: dat ons nie meer die profete ken nie! Wie van ons lees nog Esegiël of Sefanja of Obadja? Ons Bybels lyk soms nie veel beter as die Gideons se bybeltjie nie: Psalms – evangelies – briewe van Paulus. Meer as dit lees ons nie regtig nie.

En natuurlik weet ons dat Christus die uiteindelike vervulling van die profete-amp en van alle profesie is – ons weet dit! Maar hier in ons teks gaan dit oor die heilsfeit, oor God se onbeskryflike genade om aan sy volk profete te gee: teenoor die gruwels van die nasies, stel God die profete-amp in. Ja, maar hoekom dan enkelvoud: ‘n Profeet? Dui dit nie op Christus nie? Wel, kyk bietjie na Deuteronomium 17:14 – daar word ook net van ‘’n koning’ in die enkelvoud gepraat, maar almal van ons verstaan dat dit na die koningskap as instelling verwys; wanneer die volk ‘’n koning’ wil hê, dan beteken dit dat hulle ‘n monargie soek. Nou, dieselfde geld hier: die Here gaan ‘n profeet gee, maar daarmee stel Hy ook die profete-amp in, profesie word ‘n instelling – as teenvoeter vir die gruwels van die heidene. En hoe is die profete-amp ‘n teenvoeter vir die gruwels van die heidene? Wel, luister wat die Here self in vers 18 sê: “en Ek sal my woorde in sy mond lê, en hy sal aan hulle sê alles wat Ek hom beveel.” Dít is die uitstaande kenmerk van die profete, wat dit ook onderskei van die gruwels van die heidene: die woorde wat die profete spreek, kom van die Here af. Dít wat hulle verkondig, kom van bo af, dit is openbaring!

Pragtig sien ons dit telkens in die profete na vore kom. Hosea 1:1: “Die woord van die HERE wat gekom het tot Hosea...” Miga 1:1: “Die woord van die HERE wat tot Miga, die Morastiet, gekom het...” Sagaria 1:1: “In die agste maand, in die tweede jaar van Darius, het die woord van die HERE gekom tot Sagaria, die seun van Beregja, die seun van Iddo, die profeet...” En so kan ons nog talle voorbeelde noem. Dus, die woord van die Here kom tot hierdie manne, en hulle profeteer nie voordat die Here nie tot hulle gespreek het nie. Geen profete sonder openbaring nie – dit was, byvoorbeeld, die situasie toe Samuel nog ‘n jong seun was, wanneer ons in 1 Samuel 3:1 lees: “... en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie.” Die woord van die Here was skaars – en net so skaars was die profete. Maar, broers en susters, wanneer die Here se woord wel tot hulle gekom het, kon hulle nie anders as om te spreek nie: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” – só sê Amos in hoofstuk 3:8 van sy profesie. En Jeremia voel dieselfde gewig wanneer die Here in hoofstuk 1:17 vir hom sê: “Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou beveel...” ‘Só spreek die Here...’ – dít is die mantra, die slagspreuk, die visitekaartjie waarmee die profete na hulle gehoor toe gaan. So spreek die HERE! En daarom, vers 19 van ons Skrifgedeelte: wee jou as jy nie luister na daardie woord nie. En die keersy daarvan in vers 20: maak dood enige iemand wat ‘n woord in my Naam spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie. Want profesie is openbaring: die HERE, Jahwe, spreek van bo! Wee jou as jy nie luister nie; en wee jou as jy uit jou beurt uit praat!

 

En dít, broers en susters, is dan ook die kontras wat ons in ons Skrifgedeelte moet raaksien. Hierin lê vir ons die relevansie van ons teks. Wat die Here in hierdie Skrifgedeelte teenoor mekaar plaas, is nie maar net verskillende maniere om ‘n boodskap vanaf die gode te kry nie – die een net so geldig soos die ander een. Nee, wat hier teenoor mekaar geplaas word, is die godsdienste van onder teenoor die enigste godsdiens van bo; dit is godsdiens waarin die mens sentraal staan, teenoor openbaring van God.

Want wat gebeur in mensgesentreerde godsdiens, broers en susters? Wat gebeur wanneer enige van hierdie middele gebruik word wat die Here sy volk verbied het? In al hierdie middele gaan dit ten diepste oor manipulasie. Om jou seun of jou dogter deur die vuur te laat gaan, is manipulasie van die gode – jy gaan tot die uiterste (die walglike uiterste) om jou kind te verbrand, net om die gode te laat doen wat jy wil hê hulle moet doen. Waarsêery, goëlery en verklaring van voortekens is manipulasie van die gode om die toekoms goed vir jou te laat uitwerk. Jy wil beheer hê oor die toekoms, oor jou toekoms. Towery en besweringe is manipulasie van die gode om jou in ‘n sterker posisie te stel teenoor jou naaste – jy manipuleer die gode om jou vyand kwaad aan te doen, of om die kwaad wat jou vyand jou wil aandoen, af te weer. En om die gees van ‘n afgestorwene te vra of ‘n gees wat waarsê, of om die dooies te raadpleeg – dit is manipulasie van die gode om die gebeure van jou lewe na jou hand te sit. Al hierdie vorms het een ding in gemeen: dit is religie, dit is mensgemaakte godsdiens, wat van onder-af kom.

 

Maar dan sê die Here: As jy My wil dien, dan gaan jy dit moet doen met openbaring; dan gaan jy tevrede daarmee moet wees dat Ek van bo-af – vanuit die hoë hemel – my woorde tot jou spreek. En vergeet dan daarvan om My te wil manipuleer met jou speel-speel godsdiens; vergeet daarvan om jou lewe te wil reël deur My te manipuleer. Ek openbaar wie Ek is: die groot Koning, die Skepper van alle dinge, die God van die vaders en van die belofte, die Redder van Israel. En Ek openbaar wie jy is: klein mensie, sondig, gebroke, rebel, vernietiger van alles wat mooi is. Ek openbaar dit vanuit die hemel! En dít was wat die profete deur die eeue in Israel gedoen het – hulle het God se Woord geopenbaar, sy Woord oor die verlede, die hede en die toekoms. Israel se geloof was nie religie waardeur die gode gemanipuleer kon word nie; Israel se geloof was openbaring – soos wat ons aan die einde van die diens uit Psalm 147 gaan sing: “oor Israel het die wonderstraal van waarheidskennis opgegaan; so het Hy aan geen volk gedaan.”

En dít is die sentrale les wat die instelling van die profete ons leer, gemeente. Reg by die aanvang van die profete-lyn wys die Here vir ons: Godsdiens is nie ‘n middel in my hande waardeur die lewe máákbaar word nie! Godsdiens is nie ek en my ritueeltjies waardeur ek kan verseker dat my lewe glad verloop, dat geen onheil of siekte my tref nie, dat niemand my kwaad sal aandoen nie, en dat my en my gesin se toekoms sonder al te groot teëspoed verloop. Die lewe is nie maakbaar deur my rituele en godsdienstige gebruike nie. My godsdiens is nie die versekeringspolis wat my lewe veilig stel nie. Dis manipulasie, dis mensgemaak, dis heidens.

Nee, broers en susters, in die ware godsdiens lewe ons van God se openbaring! Ag, en dit voel so onseker, so kwesbaar, so swak, nie waar nie? Moet ons nou dáárop bou? Moet ek bou op iets wat vir my geen versekering gee dat môre goed sal gaan, en dat ek oormôre nog sal leef, en dat my kinders oor tien jaar nog ‘n plek en ‘n werk in hierdie land sal hê nie? Moet ek tevrede wees met ‘n onsigbare God wat sy profete stuur om my te herinner aan sy dade van die verlede, aan sy gebooie vir vandag, en wat oor die toekoms dikwels in vae beelde praat?

 

Dít, broers en susters, is geloof! En geloof is om jouself oor te gee aan die God wat Homself vanuit die hemel openbaar – niks wat ons van Hom of onsself of van die wêreld weet, het ons self uitgedink nie; alles wat ons van Hom en van onsself en van die wêreld weet, is deur Hom aan ons bekend gemaak, geopenbaar. Kies daarom. Wil jy jou eie, self-gevormde, self-gemanipuleerde godsdiens hê, waarin jou ritueeltjies vir jou ‘n gevoel van sekerheid gee? Waarin jy, die klei, vir die pottebakker sê hoe jy gevorm wil word? Of wil jy jouself oorgee in die hande van Hom wat Homself vanuit die hemel openbaar as die enigste, ware God? Jeremia, in hoofstuk 10 van sy profesie, stel die kontras helder en duidelik – lees saam Jeremia 10:1-16. Die keuse kan nie duideliker gestel word nie: kies jy ‘n godsdiens van onder, ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommertuin, ‘n god wat jy moet ronddra omdat hy nie self kan loop nie óf waag jy dit (en ek sê dit met groot eerbied, want geloof is oorgawe) met die lewende God, die ewige Koning?

 

Ons lewe in ‘n maakbare maatskappy, broers en susters. Vir alles is daar ‘n oplossing, vir amper alle siektes ‘n pilletjie, vir elke probleem kan betaal word, elke gebeurlikheid kan verseker word. Totdat die dood ons tref, totdat ‘n pandemie ons wêreld deurmekaar gooi, totdat iets oor ons kom waarvoor daar geen oplossing is nie. Die instelling van die profete leer ons om die groot verskil te sien tussen die religies van die heidennasies en die godsdiens van Israel – manipulasie versus openbaring.

Kom ons verbind ons opnuut tot hierdie laaste – tot God se openbaring. En nie lank ná Deuteronomium 18 nie, leer Moses ons in hoofstuk 30 dat jy vir hierdie openbaring nie in die hemel hoef op te klim nie; daarvoor hoef jy ook nie in die doderyk neer te daal of na die oorkant van die see te vaar nie. Nee, sê Moses, baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart (Deut. 30:12-14). Dít – sê Paulus in Romeine 10 wanneer hy hierdie einste woorde uit Deuteronomium 30 aangehaal het – dít is die woord van die geloof wat ons verkondig (Rom. 10:6-8). Geloof in God se woord, sy openbaring. Gemeente, dit voel soos ‘n waagstuk, ‘n sprong in die duister. En in ‘n sekere opsig ís dit wat die geloof is: oorgawe, totale oorgawe. En dit maak ons onseker, nie waar nie? Maar die profete wys vir ons dat, hoewel die ware godsdiens openbaring is, dit betroubare openbaring is. Soos wat jy, hoofstuk vir hoofstuk, jou pad deur die profete heen werk, kan jy sien: dít is vervul, daardie is vervul, hierdie het waar geword, daardie het gebeur. God is betroubaar. Immers, die grootste van al sy beloftes het waar geword: die Woord het vlees geword en het onder ons kom woon (Joh. 1). Hy is ons hoogste Profeet en Leraar.

Gemeente, kom ons verbind ons tot só ‘n godsdiens: nie een wat lewe van ritueeltjies en manipulasie nie, maar wat lewe van God se openbaring deur sy profete. Dit is geloof, dit is oorgawe. En uiteindelik is dít ... egte sekerheid!

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het, wat trou bly tot in ewigheid, en wat nooit sal laat vaar die werke van sy hande nie.

Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 74:2, 9 en 16

  • Sing Ps. 105:23
  • Wetslesing
  • Sing Ps. 105:24

Gebed

Lees: Deuteronomium 17:14-18:22

Teks: Deuteronomium 18:18

Sing Ps. 45:2

Preek

Amenlied Skr. 18:1, 3 en 4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 147:1 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen