Laat Christus jou sorge vervang met sy vrede.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
JHB, PTA, Maranata, Belville
Datum: 
2020-04-05
Teks: 
Filippense 4:6-7
Preek Inhoud: 

Tema:    Laat Christus jou sorge vervang met sy vrede.
1 - Los jou besorgdheid
2 - Bid en smeek tot God
3 - Ontvang sy vrede

Inleiding:
Vir kinders
Ons gaan praat oor moeilike dinge. Sorge: ken jy dit?
Dalk nie.
Angs? Almal is wel ooit bang gewees, tog?
Jy is bang vir die duisternis. ‘Mamma, kan jy die lig aanlos? Dit is so donker. Ek is bang!’
Jy hou ’n spreekbeurt by die skool. Jy is gespanne. Hoe sal dit gaan?
As jy jou angs net so in ’n boksie kon sit en vir jou pa of ma of jou juffrou gee, sou dit nie wonderlik wees nie? Dan sou dit jou nie meer pla nie.
Wonderlik!
Vandag gaan die preek hieroor: jy mag jou angs, jou besorgdheid inruil by Jesus. Hy gee vir jou blydskap en vrede in plek van jou angs.
Is dit nie wonderlik nie?

Vir grootmense
Almal wat ouer is, sal dalk dink: ja, dit sou nou gaaf wees. Kon ek maar my angs en sorge in ’n boks sit en sommer daarvan ontslae raak. Maar dit werk nie so nie!

Wat dink jy as iemand sê ‘moenie worry nie!’ ?
‘Moenie worry nie. Dit sal verby gaan. Ons het alles onder beheer. Hierdie virusdreiging gaan in April verby wees. Daar was nog nooit iemand so goed voorbereid soos ek nie.’’
So het die Amerikaanse president aan die begin van die pandemie mense verseker. Maar niemand was gerusgestel nie. Sy woorde kon nie die realiteit verander nie. Daar is nou meer as ’n kwart miljoen mense in Amerika met die virus besmet.

Dit klink mooi. Mense wil graag gerusgestel word.
Maar dit is roekeloos om die gevaar te onderskat en valse gerusdheid te kweek. Dit kos menselewens. En die persoon verloor sy geloofwaardigheid.

Teenoor hierdie roemsugtige taal is ons president en regering betroubaar en wys.
Mense wat die krisis ernstig neem, word geprys vir hul leierskap. Hulle draai nie doekies om nie. Hulle beskryf die harde werklikheid en roep mense op om voorbereid te wees op die ergste.
Ons is dankbaar vir ’n president en ’n regering wat duidelike leiding gegee het in hierdie krisis. Dalk het hulle daarmee duisende slagoffers voorkom.

Maar ook hulle kan niks waarborg nie.
En hulle staan ook magteloos by die slagoffers wat aan in die waakeenheid aan ’n masjien lê en nie self kan asemhaal nie. Hulle kan daardie mense nie red nie.
Ook verstandige leiers kan nie vir ons sê: ‘Verbly julle. Wees oor niks besorg nie.’ Hulle het nie alles onder beheer nie.
Wie kan dit sê op ’n geloofwaardige manier?

Ek sal maar eerlik sê: as dit nie in die Bybel gestaan het nie, sou ek nie waag om dit só, kategories, te stel nie.
Dit is ’n bevel en ’n belofte van God:
4. Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
5. Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
6. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Hierdie gedeelte wat ons vandag lees, begin en eindig met drie woorde wat ’n beslissende verskil maak.

Kom ons lees die begin en die einde weer:

Verbly julle altyd in die Here. (v. 4)
En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (v. 7)

Wie aan hom verbonde is, wie deur geloof in hom ingeplant is, en op hom vertrou, ontvang hierdie blydskap en vrede.
Die persoon wat dit sê, Jesus Christus, 
In Hom kan jy en ek ons sorge verruil vir blydskap en vrede.

Tema:    Laat Christus jou sorge vervang met sy vrede.

1    Los jou besorgdheid

Hoekom sorge?

Daar is rede vir besorgdheid!
Ons leef in ’n wêreld wat kraak en kerm vanweë die sonde van die mensheid. Daar is baie dinge wat rede gee vir angs, spanning, of selfs paniek.
Siekte en dood is ’n werklikheid.
Jy is bang om met die virus besmet te word en te sterf.
Jou geliefde lê in die ICU en jy is magteloos om haar te help, of jy kan hom nie eers besoek nie.
Jy kan jou werk verloor vanweë die lockdown. Jy is besorg of jy weer nuwe werk gaan vind.

Al hierdie dinge het begin vanweë die sonde van die eerste mense.
En dan is ons boonop sondaars. Ons soek ons eie geluk en ons wil in beheer wees.
En so maak ons dit dikwels erger: ons worry oor dinge nog voordat hulle gebeur het.
Wat maak ek as ek my werk verloor? Sal ek weer werk vind? Wat maak ek as ek dit nie kry nie?
En wat as my pensioen verdamp?
Wat kan nie gebeur …. nie?

Besorgdheid is angs oor omstandighede en gebeurtenisse waaroor jy beheer wil hê. En dit werk verlammend.

Paulus het rede gehad om besorg te wees!

Paulus was in Rome in die tronk toe hy hierdie brief skryf. (omtrent 59 A.D.) 
Die keiser sou uitspraak doen oor die aanklagte teen hom. Wat sal gebeur? Sal die keiser hom vryspreek? Die aanklag was juis dat hy die keiser nie gehoorsaam nie? Paulus kan die doodstraf ontvang.
En ’n paar jaar later is hy ook inderdaad doodgemaak (in 64 of 67 A.D.).

In hierdie haglike omstandighede skryf hy vir die gemeente: ‘Verbly julle in Christus.
Moenie besorg wees nie, maar bid, smeek.’
Dit is ’n verrassende bevel!
Hy kan so praat want hy ken vir Jesus, die Heer.

Blydskap

As jy ’n gelowige is, is jy in Christus.
Christus het aan die kruis gesterf - in jou plek.
Christus is deur die Vader opgewek uit die dood.
Wat Christus gedoen het, verander alles vir almal wat in Hom glo.
Wie in Christus is, deel in sy sterwe en opstanding. Hy plaas jou oor uit die duisternis in die koninkryk van God.
Hy vervul jou met ’n diep, verrassende blydskap.

Daarom is dit vir ons belangrik om ’n keuse te maak waarmee ons tydens hierdie lockdown die meeste mee besig wil wees: met al die nuus en die sorge rondom die virus? 
Gaan jy tog jou weer op jouself fokus: op jou behoeftes, jou sukses, jou toekoms in hierdie wêreld? Dit is sonde. Dan hardloop jy terug na die koninkryk van die duisternis. Daar regeer die angs en die dood.
Of gaan jy jou aandag verskuif na die opstanding van Jesus en sy koningskap? Waaraan gaan ons die meeste dink, waaroor gaan ons die meeste gesels?

Volgende week vier ons paasfees. Die opstanding beteken dat Jesus die wêreld en die dood wat hier heers, oorwin het.
Paulus herinner ons aan Jesus se verheerlikte liggaam aan die einde van hs 3:

Hulle (die vyande van die kruis van Christus) “bedink aardse dinge. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (3,19-21)

Met so ’n toekoms het ons ’n onverwoesbare rede vir vreugde. 
Daarom roep hy ons op: ‘Los die besorgdheid, verbly jou in my!’
Wees bly!

2    Bid en smeek tot God

Draai om!

Besorgdheid van jou aandag en emosies vas in die omstandighede, die teenslag, die dood en sy gevolge. En jy raak angstig. Dit is soos ’n draaikolk wat jou intrek en jou verswelg. Dit beroof jou van jou vreugde en jou hoop.

Die ellende van ons wêreld is ’n werklikheid. Ons moet dit nie ontken nie.
Ja, ons leef steeds in hierdie wêreld wat deur sonde aangetas is. Die dood regeer en gooi sy skadus vorentoe.
Maar terwyl almal angstig is oor die dreiging, kan jy rustig bly.
Die nuwe lewe is reeds in jou. Jesus gee vir jou hoop!

Vergelyk dit met ’n groot oorstroming. Die water was orals. Nou het die watervlak begin en val. Alles is steeds nat, maar jy weet: dit is spoedig verby. Dit sal weer droog word, en nuut. Die lewe gaan aan!
So het Jesus deur sy opstanding die deur na ’n nuwe wêreld oopgemaak.

Om aan Jesus en sy opstanding te dink beteken nie net dat ons ons rug draai op besorgdheid nie. Hy rig ons gedagtes en aandag op homself. Hy sê: bid!
Bring al jou nood voor my Vader. Bestorm sy troon. Smeek hom om alles wat jy nodig het!

Dit word dus sigbaar waarop ons aandag gerig is: spandeer ek meer tyd aan praat en lees en dink oor die krisis, of aan gebed?

Indien jy is soos ek, moet jy nog baie leer oor gebed. Ek het dit nodig. 
Wanneer ek besorgd is, praat ek net met myself.
Maar in gebed praat ek met God oor my bekommernisse.

Ons moet dit leer om God te smeek in ons gebede. Hoe dikwels dink ons ‘nou ek het dit nou al twee of drie keer genoem. God weet dit nou wel.’
Dan benader ons God soos ons ouers of ons vriende. Hulle kan vir ons sê: ‘jy het dit nou so dikwels genoem, nou is dit genoeg. Hou op asseblief.’

Maar Jesus sê: bring jou begeertes, jou nood, jou wense met smeking by God.
As ons Jesus ken, sal ons vrymoedig word in ons gebede. God wil graag die wense van sy kinders hoor!
Hy het jou lief. Jy het ’n plek gekry in sy gesin, in sy koninkryk. Sy oor is altyd op jou gerig.
Jou lewe maak vir hom saak. Ons dink dikwels dat ons God nie moet pla met die klein dinge van ons lewe. Veral wanneer ons dink dat ons dit self kan hanteer. Maar ook wanneer ons sorge en bekommernisse het, kan ons dink dat God is soos ’n direkteur wat nie tyd het vir sy klein seuntjie nie; hy het ’n besigheid om na te kyk.
Onthou: jy eer hom juis wanneer jy baie van God verwag. 
Wanneer jy dinge self wil beheer, gaan jy spog met die resultate.
Maar wanneer jy God smeek en hom dan sien werk, gaan jy hom die eer gee.

Daarby moet jy met danksegging bid.

Danksegging

Laat jou begeertes ... met danksegging bekend word by God.

Wow. Ons vergeet dit so gou in ’n krisis! Dankbaarheid skuif na die agtergrond wanneer ons ons aandag rig op wat gebeur en op die dreiging wat voorlê.

Met hierdie bevel vestig God weereens ons aandag op Christus.
Dankbaarheid is vir ons, sondaars, moeilik of selfs onmoontlik, wanneer ons groot teenslag ervaar, wanneer ons besorgd is oor die toekoms, en wanneer ons met die dood gekonfronteer word.

Wie na Christus kyk, vind elke dag rede vir danksegging.
Wat het hy alles vir jou gedoen?
Sy gehoorsaamheid in jou plek bedek al jou ongehoorsaamheid.
Sy vloek kanselleer die vloek wat oor jou hang.
Sy verlatenheid waarborg vir jou God se liefde en aanvaarding.
Sy opstanding gee vir jou die lewe, in ’n nuwe onsterflike liggaam.
Enigiets wat jy ontvang, sigbare en onsigbare geestelike gawes, is vanweë hom.
Maak oop jou oë voordat jy bid en terwyl jy bid: kyk na Christus. Verheug jou in hom en bid uit dankbaarheid.

3    Ontvang sy vrede

En dan? Wat kan jy verwag?
Vir almal wat hulle besorgdheid en angs vir Jesus gee, en wat smeek en God dank in hulle gebede, is daar ’n pragtige belofte.

Sal jy presies kry wat jy gevra het?
Daar is voorbeelde in die Bybel van mense wat genees is toe hulle vir Jesus gevra het.
God kan groot verandering bring!
Hy kan keer dat die virus jou bereik. En dat dit aan die bevolking van Suid-Afrika grootliks verbygaan.
Ons het nie ’n belofte dat dit sal gebeur nie. Ons mag dit vra, maar ons weet nie of God dit sal laat gebeur nie.
Maar dit weerhou ons nie om te vra nie.

Ons kry wel ’n ander belofte:
“En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle denke bewaar in Christus Jesus.

Jou hart: dis die plek van jou diepste begeertes en gevoelens.
Jou denke: jou beoordelingsvermoë, jou besluitneming, jou gedagtes wat jy partykeer nie kan laat stilhou nie.

Die duiwel val ons aan. Hy probeer ons in verwarring bring. Hy wil ons aandag van Christus af weglei, na die moeite en die sorge, sodat ons angstig word en sal sondig.

Maar sy vrede bring jou gedagtes tot rus.
God se vrede is soos ’n bewaker wat die wag hou by jou gedagtes en jou redenerings.

Omstandighede, siekte en dood kan steeds jou lewe aanraak.
Maar wie die vrede van God ontvang, is soos ’n sterk boom wat in die storm vasstaan. Die wind is sterk, en die boom swaai in die wind, maar dit bly staan. 
Jy sal daardie vrede ervaar wanneer jy hierdie bevel opvolg.
Die vrede maak dat jy nie omgeblaas word nie, dat jy nie val nie. Want jy is gewortel in Christus.

Amen

Liturgie: 

Seëngroet

Ps 36, 2.3    
Gebed
Skriflesing: Filipense 3,17 - 4,9
Ps 31,17-19
Preekteks: Filipense 4,4-7
SB 17,1.2.5.6
Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
SB 49,3-7
Seën