God het Maria liefdevol geroep vir haar diens vir die nederige binnekoms van die Seun van God in hierdie wereld. Beweeg God se Woord ons vanoggend soos vir haar destyds tot gelowige en dankbare diens aan God?

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2020-12-25
Teks: 
Lukas 1:26-38
Verwysing: 
Kersfees 2020
Preek Inhoud: 

God het Maria liefdevol geroep vir haar diens vir die nederige binnekoms van die Seun van God in hierdie wereld. Beweeg God se Woord ons vanoggend soos vir haar destyds tot gelowige en dankbare diens aan God?

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

In ons teks het ons ‘n aankondiging van ons Here Jesus Christus se geboorte, spesifiek aan Maria. God roep in ons teks Maria liefdevol vir haar taak. Hy het aan niemand vantevore aangekondig dat Jesus, sy Seun op die punt is om in die wereld in te kom nie. So belig Hy ook vir ons die nederige wyse waarop die Seun van God in die wereld gekom het.

In die voorafgaande verse van hoofstuk 1, verse 5-25 was Johannes die Doper se geboorte aangekondig. Hy sou voor Jesus uitgaan en sy openbare verskyning voorberei. Daarvoor is hy geroep.

Die twee geboorte aankondigings in Lukas 1 van eers Johannes die Doper en dan Jesus, volg op mekaar maar loop ook paralel met mekaar.

En daar is ‘n groot verskil tussen die twee aankondigings. Dit gaan in die aankondiging van Jesus in ons teks, spesifiek om Maria se roeping.

Die groot verband tussen die twee aankondigings is die verwysing na die engel Gabriel, wat ook aan Sagaria verskyn het om Johannes se geboorte aan te kondig. Lukas het Gabriel se naam saam met die verwysing na die maande van swangerskap van Elisabet, uit die staanspoor gebruik om ons teks aan die vorige gedeelte te koppel en klem daarop te lê dat die verhaal wat volg vervulling is van die Here se handelinge met die belofte wat God aan Daniel 8:16 gegee het: En ek het ‘n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan! Ons begryp God se heilsplan vir sy volk word oopgerol. God vervul sy beloftes aan sy volk. Ons teks lei ons om te sien dat hierdie heilige Seun van God gebore sou word uit die geslag van Dawid.

1.    Luister na die engel Gabriel se goddelike berig aan Maria

Johannes se koms was nie die grootste gebeurtenis nie. Die doper sou voor die Here self uitgaan.1:17. Vers 26 skep met die verwysing dat Gabriel deur God opnuut gestuur word die verwagting dat wat volg groter en meer is as wat reeds vertel is. Dit kom verder tot uitdrukking dat Lukas nou nie begin met die verskyning aan Maria nie, maar met die uitstuur deur God van Gabriel. So word ons laat sien die verhewenheid vanwaar Gabriel neerdaal. Hy kom uit die hemel waar hy voor God gestaan het, 1:19. Omdat die plek vanwaar Gabriel kom alle aandag kry, lyk die doel van sy koms moontlik nie so belangrik nie. Hy besoek ook nie die tempel en die heilige nie maar ‘n veraf plek. Die eerste keer met aankondiging van Johannes se geboorte het hy na die hart van die volk se bestaan gegaan: die tempel met die voorhof vol biddende en wagtende mense. Maar op hierdie sending stuur God hom na die onbenulligste plekkie. Om dit te beklemtoon skryf Lukas so in die algemeen. Hy gaan na ‘n stad, ‘n meisie, ‘n man. Onbekende Nasaret, gewone Josef en Maria. Maar Josef uit die geslag van Dawid, en ook Maria omdat sy aan Josef verloof was.

Dit is die aanknopingspunt. Dit is dat die man waaraan Maria verloof is, uit die huis van Dawid is. Alleen Josef word hier uit die huis van Dawid gereken, deur geboorte. Deur verlowing word Maria egter ook tot die huis van Dawid gereken. Verlowing gee aan hierdie meisie die posisie van die getroude vrou. Alleen deur ‘n skeibrief soos met ‘n huwelik kon ‘n verlowing verbreek word.

Dit is die sleutel om die heilsplan van God te begryp: die meisie Maria trou in in die huis van Dawid, ook al leef sy nog nie met haar man Josef, saam nie. Maar Lukas se lesers moet goed verstaan, hierdie man en vrou is onbekend. Die huis van Dawid laat ons dink aan die uitverkore koning wie se regering van geslag tot geslag, dus oorerflik is. Maar daar het niks oorgebly van Dawid se waardigheid, mag en eer nie. Nee, koning Herodes was koning oor Judea, 1:5, terwyl ‘n 1:26 vrou uit die huis van Dawid sonder aansien leef in ‘n onbekende plek in Galilea. Wat laat dit ons sien: dat God se gerig oor Israel en oor die huis van Dawid uitgevoer is, en dat die huis van Dawid niks meer is nie. Van die huis van Dawid kan ook niks meer verwag word nie. Maria was in werklikheid reeds sy vrou deur huwelkskontrak met Josef maar Lukas wys dat sy nog nie  in huwelikse saamleef met haar man was nie nie – en gebruik hy vir haar die begrip meisie.

Waar die engel Gabriel in die tempel aan die priester Sagaria verskyn het met die aankondiging van Johannes die Doper, het hy vers 28 na Maria in die eenvoudige plek Nasaret gekom, ‘n stad in Galilea, wat bekend gestaan het as die streek van die heidene, as gevolg van die heidense invloed daar. Jesaja 9:1-7 sou in vervulling gaan, daar waar die grootste duisternis was, sal helder lig kom.

Dit is in die Skrif nie gebruiklik dat engele wanneer hulle aan ‘n persoon verskyn het, hom of haar gegroet het. Hulle het verskyn aan die persoon na wie hulle gestuur is, en wanneer die persoon skrik of verbaas is, word hy gerusgestel, soos met Sagaria.

Gabriel het vir Maria gegroet: wees gegroet begenadigde!  en nie vir haar reaksie gewag nie, maar haar gerusgestel: die Here is met jou! Eers in vers 30 na haar ontsteltenis oor die engel se woord kom die gerusstellende woorde van Gabriel: moenie vrees nie.

Hier is dus besondere aandag vir hierdie vrou. Die engel het haar by voorbaat geëer vir wat hy gaan sê. Want dit is nie ‘n terloopse ontmoeting nie. God se plan van heil vir sy volk word oopgerol, Maria word geroep want uit haar sal die Seun van God gebore word. Maar die engele het net so belang. Eeue lank het hulle begeer om in die plan van God, in die evangelie van Chgristus te sien, en wat nou aangekondig word. 1Pet 1:10-12:  Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien. 

In die hemel het God nou sy plan ontvou. Engel Gabriel mag nou gaan sê op aarde. In sy groet klink die lof en verwondering van die engele oor wat nou bekend gaan word. Gee boodskap nie sonder meer nie, hy bring die boodskap van vervulling van God se heil deur Maria, ons kan sê sy word gelukgewens, sy is ‘n begenadigde van God. Dit is nie ‘n gewone groet nie omdat dit spesifiek aan die begenadigde is.

Maria is die vrou aan wie besondere genade deur God bewys is. Ons mag nie dink aan uitstraling van genade uit Maria asof sy vol genade is nie. Maria is voorwerp van God se vrye guns teen die agtergrond van die uitvoering van sy reddende genade aan die in sonde verlore volk van hom, sy is nie die een wat genade uitdeel nie. Sy gaan ‘n gawe, ‘n geskenk van God ontvang. Maar die aksent lê hier op die genade wat gegee word met en uit die gee van ‘n geskenk. Maria kry ‘n unieke plek danksy God se vergewing van sy volk op hulle sonde.

Haar nederige staat, ook noudat sy in Dawid se huis ingetrou is, wys op die sonde van Israel en besonder Dawid se geslag, waardeur die Here sy volk en die geslag van Dawid moet verneder. 

Wanneer nou aan Maria die engel met goeie nuus verskyn is dit genade wat verleen word aan die geslag van Dawid en die volk van die Here. Maria word deur God ‘n besondere en unieke plek binne sy volk gegee.

Die Here is met jou, vers 28, kan in die Ou Testament op sigself ‘n groet wees, maar hier wys dit sonder twyfel op God se seënende aanwesigheid. Dit wys op die groot wending in die geskiedenis wat nou aanbreek.

Geseend is jy onder die vroue… Jael het in die boek Rigters hoofstuk 5 iets verrig, Sisera doodgemaak, seën verdien, maar Maria het niks gedoen nie, Jael is geprys oor wat sy gedoen het, maar Maria word hier deur Gabriel geprys oor wat sy gaan ontvang. Sy is geseend onder die vroue, sy ontvang hier ‘n tipies vroulike seën. …die dra en geboorte skenk van ‘n kind…: maar let op: die kind wat sy ontvang en gaan baar is meer as alle ander kinders. Sy is deur God begenadig-die Here is met u - en geseend is u onder die vroue, dit is ‘n unieke moedertaak wat haar opgedra word. Die Here is op ‘n besondere manier besig met haar. So is sy in die besonder voorwerp van God se vergewing en op ‘n besonder wyse in genade aangeneem. Hierdie woorde dui op die res van die berig wat sy hierna sal ontvang.

Ons het geluister na die engel Gabriel se goddelike berig aan Maria

2.   Ons luister nou na Maria se gelowige diensbaarheid aan God

Maria was ontsteld (ons kan ook sê bekommerd) toe sy die engel sien – oor die engel se woorde.
Sagaria was ontsteld toe hy die engel gesien het.
Maar Maria was ontsteld oor wat sy gehoor het. Die sien van Gabriel sou vir Maria groots en verbysterend wees soos vir Sagaria. Maar die groet waarmee hy haar gegroet het vers 28 was nog meer verbysterend en grootser as die verskyning van Gabriel en daarom het sy nagedink oor wat die groet kan beteken. Maar so het Gabriel dit ook bedoel toe hy direk by sy binnekoms die aandag van sy aanwesigheid aflei na die heerlikheid van God se roeping van Maria deur haar te groet as die belangrike persoon.

Maria het egter geen vraag gevra nie.

Maar Gabriel het haar ontsteltenis gesien en het vervolg met die meedeel van sy eintlike boodskap.

Hy antwoord op haar vrees, sy woord is nie misleidend of gevaarlik nie. Sy het genade by God gevind. Sy kan dus leef by die genade van God se plan met haar.

Gabriel tree dan na sy groet terug en wys op sy sender.

Luk 1:31-33:  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,  en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. 

Die PLAN van GOD word hier aan Maria meegedeel.

Die swangerskap speel hier ‘n belangrike rol. Dit is afsonderlik in die belofte van vers 31 gestel. Dink ook aan Jes. 7:14: Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem. 

Beide swangerskap en geboorte word uit genade van God ontvang. Maria kon dit begryp teen die agtergrond van Jes. 7:14.

Die Naam Jesus, vers 31 is nie deur Gabriel nader verklaar nie. Die klem het gelê op die Kind se opdrag. Deurdat God die Naam aangewys het is dit duidelik dat die Kind vir Hom ‘n taak sou vervul.

Ons kry in verse 32-33 ‘n beeld van die grootheid van die seun. Jesus is in die oortreffendste en omvattendste sin groot. Hy sal op aarde nie vanwee ander nie maar vanwee Homself in ere wees. Hulle sal Hom seun van die hoogste God noem. Klem lê nie alleen hier daarop dat Hy Seun van God is, maar veral op die erkenning van hierdie seunskap deur die mense. Die uitdrukking Seun van die Allerhoogste moet gesien word as ‘n aanduiding van die werklike seunskap van Jesus van God.

Die Here sal Hom die troon van sy Vader Dawid gee, die beloftes van 2 Sam 7 word vervul. Onss lees 2Sa 7:16  En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid. 

Maria as lid van Dawid se familie deur verlowing kry verdere betekenis: ‘n Kind uit Maria word tot familie van Dawid gereken. Maria en Josef het geen regeermag in Nasaret, maar hulle kind, Jesus sal heers oor die huis van Jakob. Vanaf die aankondiging van die geboorte word die regering van Jesus voortgaande altyd verbind met aanduiding van die volk. Dit gaan nie om bevryding van streek Judea of Galilea, maar om verlossing en weiding van die nageslag van die draer van die belofte: Jakob of Israel, dus die volk. Beklemtoon van die nimmereindigende karakter van die koningskap is duidelik dat in Jesus die beloftes vervul word soos dit deur die boek van Daniel Lê. Toe Dawid se huis nie meer regeer nie, en ander koninkryke oor Israel gaan heers, het die Here die beloftes aan Dawid gemaak, en bevestig in sy konfrontasie met die opgekome koninkryke uit die volke. Daniel kon sien dat al hierdie ryke uiteindelik sal verdwyn voor die komende koninkryk van die allerhoogste. Sy koninkryk sal vir ewig duur.

Hierop het Maria vir die eerste keer aan die engel ‘n vraag gevra, vers 34: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? 

Sy het nie die roeping van haar deur God bevra, of sy heilsplan in twyfel getrek nie, hierdie wereldomspannende gebeure bevra nie, maar alleen hoe dit kan wees omdat sy geen omgang met ‘n man gehad het nie. Ons kan aflei dat vir haar die toekomsbelofte van die engel duidelik was. Maar dit het vir haar gegaan om haar eie plek in dit alles.

Gabriel het haar geantwoord en haar meegedeel vers 35:

Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. 

Dit beteken die Heilige Gees het beslag gelê op Maria. Positief en onafwendbaar. Ander voorbeeld is Hand 1:8 die Heilige Gees wat oor die apostels sal kom….”maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Wanneer die Heilige Gees apostels in beslag neem sal hulle krag ontvang. Oor Maria se vraag… die vraag hoe sy swanger kan word sonder omgang met ‘n man, wel dit sal moontlik wees wanneer die Heilige Gees oor haar kom, beslag op haar lê.

Gemeente moenie die valse en nuuskierige weg gaan om te dink oor verwekking deur die Heilige Gees van Jesus in Maria nie. Dink liewer aan vervulling deur die Heilige Gees soos oor die apostels gespreek is. En hoe sy in haar lofsang uiting gee. Dit is eenvoudig: deurdat die Heilige Gees op haar beslag lê sal dit ook moontlik wees dat sy ‘n kind verwag sonder omgang met ‘n man. Ons word geen verdere inligting gegee nie, sodat ons moet swyg oor die wyse waarop in Maria se skoot die begin van die kindjie gewerk is. Die Apostoliese Geloofbelydenis het in lyn met die evangelie nie verwekking deur die Heilige Gees bely nie maar ontvangenis uit die Heilige Gees.

Die engel wys hiermee op die krag van die hoogste God wat Maria sal oorskadu. Dit het ‘n positiewe en versorgende klank – dit wys op die beskerming van ‘n persoon teen die brandende son en die aanbied van lafenis. Dit wys hier op God se troue sorg en leiding van Maria. Nie die krag van ‘n man sal haar ondersteun op die pad na die geboorte toe nie, maar die mag van die hoogste God sal haar beskerm en spaar in die tyd wat voor haar lê. Ons kan in verband met die skaduwee van God ook dink aan die neerdaal van die heerlikheid van God op die tabernakel, soos in Eks 40:35. Ook op berg van verheerliking verskyn die wolk met sy bedekkende skaduwee, Luk 9:34: Maar toe hy dit sê, kom daar ‘n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan. Hierdie belofte van beskermende goddelike aanwesigheid sou Maria in haar geloof ondersteun, in die swangerskap en daarna.

Die besondere werk van die Heilige Gees sal oor Maria kom en Hy sal wees oor die Heilige wat gebore word. Daarom sal Hy God se seun genoem word. Die geborene as die Seun van God is dus van die besondere werk van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees sal beslag op Maria lê en die krag van die hoogste God sal haar skadu bied, sodat daar so ‘n heilige geboorte kom. Die hele weg na die geboorte is dus onder die besondere sorg van God.

Dit staan vas: Jesus word nie geheilig, aan God gewy soos sommige rigters of profete maar Hy is heilig omdat Hy deur God self uit Maria voortgebring is. Hy word nie afgesonder vir ‘n bepaalde taak, soos mense vir priesterdiens geheilig word nie, maar hy word gebore as heilige. Hy behoort na eie aard en wese aan God. Nie kragtens nuwe skepping en heiliging nie. Maar kragtens oorsprong.

Die wyse van voortbring is verborge. Die krag van hierdie voortbring is uit God. Daarom sal Jesus wat deur Maria as verloofde uit die huis van Dawid stam seun van God genoem word. Die bedoeling hier is geboorte van Jesus uit God sonder menslike verwekking. En die belofte is hier dat hierdie heiligheid en seunskap erkenning sal vind onder die mense, so sal hulle hom noem die Seun van God. Erkenning is te danke aan die feit dat Hy as mens gebore gelyktydig seun van God is. So word God se heilsplan vervul. Die Seun van God sal in die gestalte van ‘n mens die volk se sondes wegdra. Dit sal dus blyk uit sy optrede en sal daartoe lei dat mense die goddelike herkoms van Maria se kind erken. Byvoorbeeld soos Petrus se belydenis: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

Maria se vraag, vers 34 was nie net opheldering nie maar ook uiting van verbasing. Gabriel het reageer deur haar vers 36 te wys op opmerklike en onverwagte gebeure in Elisabet se lewe. OOK SY wys dat ook in haar lewe iets skynbaar onmoontliks totstand kom. Sy was getroud maar gevorderd in leeftyd. Blykbaar onvrugbaar. Daar was vir haar geen moontlikheid meer om ‘n kind te kan dra nie. Maar nou was sy swanger met Johannes die Doper, soos God aan Sagaria laat voorsê het. Dus kan Maria weet: 37. Geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Die engel Gabriel het sy woorde met ‘n aanhaling uit die Ou Testament onderstreep, Gen. 18:14. Het die Here nie teenoor die lag uit ongeloof van Sara gesê dat dit nie vir Hom te wonderlik is om uit ‘n bejaarde en onvrugbare vrou ‘n seun te laat voortkom nie? Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê. 

Soos God gewerk het aan die wortel van Israel se geskiedenis met die geboorte van Isak, so gaan hy ook nou doen. Dat God alles kan is nie maar ‘n algemene waarheid nie, maar historiese werklikheid van sy heilsplan van die begin af. So basies soos die geboorte van Isak, so basies God se plan met Elisabet en Maria. Maar nou tot verlossing van Abram se nageslag, die huis van Jakob.

God het deur die eeue so gewerk, dat waar daar geen verwagting meer was nie, en die aanvaarde misluk het, het Hy uit die onmoontlike redding gegee.

God het dus vir Maria laat hoor. By monde van die engel van die versekering van die Heilige Gees. By ophaal van die beloftes van die evangelie van sy verlossingsgang met sy volk. Met belofte aan haar van sy vergewing van sy volk en haar besondere plek in hierdie werk van Hom.

En Maria se antwoord hierop was om haar bereid te verklaar. 38. Kyk hier is ek. Nederige dienares van die Here. Nie moeder van die Here, maar slavin van die Here. Daarmee het sy bely dat haar werk is opgeneem in die plan van God vir vele. Daarin het sy ‘n dienende funksie. Terwyl Sara lag vir die woord wat van God kom, vra Maria dat met haar sal gebeur volgens God se Woord. Hierdie gelowige bereidheid is ‘n eerste teken van die werk van die Heilige Gees. Die kneg van die Here word gebore uit die dienares van die Here. Haar geloof en bereidheid kan onmoontlik toegeskryf word aan haar eie kwaliteite. Die belofte word werklikheid: die Heilige Gees sal beslag op jou lê.

Sonder verdere woorde het die engel Gabriel haar verlaat. Sy doel is bereik. Hy het sy boodskap van Godswee deurgegee en haar so voorberei vir haar taak. Sy het geluister. Maria is bereid vir haar taak. Sy sal dit in die geloof uitvoer.

God het Maria liefdevol geroep vir haar diens vir die nederige binnekoms van die Seun van God in hierdie wereld. Sy het vers 38 gelowig geantwoord: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.

Gemeente, laat God se Woord ons vanoggend soos vir Maria destyds tot diens aan God beweeg. Vir sy eer.

Ons word deur God se boodskap geroep en voorberei en wel vir ons elkeen se taak. Ons is niks meer as diensknegte en dienaresse in God se diens. Ons het ook ‘n unieke plek in God se kerk en in sy werk met die wereld. Dit het niks te maak met wie onsself is nie. Maar God kom ook na ons op ‘n liefdevolle wyse om ons te roep om aan sy beloftes te hou. Hy kom na ons met die versekering van Christus se heilswerk en die Heilige Gees wat ons voorgaan om die eindes van die aarde te bereik en ons harte te laat reik na Christus wat weer kom. God is daadkragtig op pad na die einde. Laat ons hart en siel bereid wees om Hom te volg en te eer.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.

Sing: Psalm 24:2,4

Lees van die Wet

Sing: Psalm 19:4,5

Gebed om die Here se seën op die diens

Skriflesing: Daniël 8:15-26

Sing: Skrifberyming 1:1,2,3,6

Teks: Lukas 1:26-38

Amenlied: SB 12:1,4

Dankgebed

Kollekte

Slotsang: Psalm 145:1,3,5

Uitspreek van die seën
Die Here sal u seën en u behoed
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.
Amen