Wie Jesus volg, moet in beweging kom!

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-04-12
Teks: 
Johannes 20: 19-23
Verwysing: 
Aanlyndiens vir Joburg, Pta, Mar, Belville
Preek Inhoud: 

Inleiding:

Wat is die bedoeling van Jesus se opstanding?
Wat moet gebeur ná die dag van Jesus se opstanding?
Wat het verander? Maak dit ’n verskil?
Dis iets waaroor ons almal vandag en môre kan nadink: ja, watter verskil maak die opstanding van Jesus eintlik?

Ek dink nie net aan die kerk nie.
In die wêreld word ook daardie vrae gevra. Partykeer aanvallend. Maar ook met belangstelling, deur mense wat die leegheid van hul eie antwoorde ontdek het.
Mense sê die groot verhale en sisteme is verby. Mense soek ’n persoonlike verhaal, dit moet outentiek wees. Hulle kan niks met ou waarhede wat jy maar net so aanvaar.
Mense kan indringende vrae vra: ‘So what?’

Dit kan moeilik vir ons wees om ’n antwoord te gee.
Ons is so vertroud met die evangelie dat ons partykeer nie kan verstaan dat mense anders dink nie.
Maar hierdie vrae kan ons ook laat besef dat ons toegelaat het dat daar stof oor die ou waarhede geval het. Ons moet dit wegblaas en opnuut verras wees met die evangelie!
Probeer ’n slag om jou in die skoene van jou ongelowige buurman te plaas. Kyk na die evangelie met die oë van iemand wat teleurgesteld geraak het in die kerk. 

Die Woord van God is heeltemal voldoende om die vrae van elke periode in die geskiedenis te beantwoord. Die Gees van Christus is magtig en kan harte heelmaak en vaste sienings laat verbrokkel.
Luister, worstel met daardie vrae. Bid en probeer om saam met die mense antwoorde te vind.

Op die dag van die opstanding is dit duidelik dat alles verander het en gaan verander.  
Die plan het nie verander nie, maar dit dring nou eers tot die dissipels deur. Hulle word uit hul klein vertroude omgewing (Galilea) uitgestuur in die wêreld: Jerusalem, Samaria, die heidenlande rondom. Die vissers wat al genoeg moeite gehad het om hulle nette in die meer van Tiberias uit te gooi, kry nou ’n visvywer so groot soos die wêreld!

Jesus het opgestaan. 
Ons bevraagteken dit nie. Maar verander dit regtig ons lewe?
Jesus het opgestaan. So what? Is dit sigbaar in jou lewe? En kan jy iets vertel vir ’n ander: watter verskil het die opstanding van Jesus gebring?

(Raak ontslae van die angs. Jesus stuur ons uit in die wêreld.)

Tema:    Wie Jesus volg, moet in beweging kom!
1 -    Hy stuur sy gemeente uit om sy missie voort te sit
2 -    Hy gee sy kragtige Gees en ’n pragtige boodskap

1    Hy stuur sy gemeente uit om sy missie voort te sit

1.1    Oortuig, oortuig, oortuig

Die hele dag is Jesus besig om sy dissipels van sy opstanding te oortuig.
Ongeloof en angs sluit hulle hart en verstand toe.
Lukas 24: die dissipels het die vroue wat Jesus ontmoet het, nie geglo nie. Ag, onsinnige praatjies…
Petrus sien, maar gaan weer huis toe.

1.2    Emmaus

Tussen v 18 en 19 gebeur daar nog iets belangriks.
Dit is einde middag wanneer twee manne (of ’n man en ’n vrou) teruggaan huistoe, in Emmaus. Ook hulle glo nog nie. Hulle vertel die hele storie vir die vreemdeling, en besef nie dat hulle vir Jesus oor sy eie dood vertel nie!
Onverstandig en traag noem Jesus hulle.
Sodra hulle Jesus herken, hardloop hulle terug Jerusalem toe! (weer 12 km se stap, gemaklik so 3-4 ure!)
Wie Jesus volg, het nie tyd om stil te sit nie…

Terwyl hulle nog hul verhaal vertel, staan Jesus in hul midde.
Vrede! Sê hy vir die bang dissipels, wat angstig hulle deure toegesluit het.
Eindelik het hulle hom herken. Sy hande, sy sy: die gate wys dat dit regtig hulle Heer is. En sy stem en bewegings is die bewys dat hy regtig leef. Hy is nie meer dood nie!
Hulle is bly. Jesus is terug. Hy leef!
Jesus neem hul angs weg.
Maar die vrede beteken nie dat hulle rustig by die huis kan bly nie.
Jesus stuur hulle dadelik op pad:
“Soos die Vader my gestuur het, stuur ek ook julle.”

Wie die oorlog in Irak nog kan onthou, sal seker nog die moment onthou dat president Bush op ’n aircraft carrier gestaan het met ’n groot banner agter hom: ‘Mission Accomplished’. Dit was inspirerend, maar ongelukkig was dit voorbarig: die oorlog het nog jare aangegaan en die VSA sukkel om hulle weermag aan Irak en Afghanistan te onttrek.

Jesus sê duidelik vir sy dissipels: ‘misison continues’: die missie gaan voort. Julle gaan dit vir my voortsit.

1.3    Jesus se missie

Wat was Jesus se missie dan?
Ja, Hy het gekom “om sy volk te red van hulle sondes.” (naam Jesus: Mt1,21)
Dit het hy tog aan die kruis gedoen: hy het gely, en gesterwe vir sy volk. Dit is nou tog volbring?

Nee, hoe besonders en uniek sy lyding ook is, dit was nog nie die hele plan nie. Daar is meer.

Jesaja gee vir ons die profesieë oor die kneg vd Here. Jes 42 is een van daardie profesieë. Dit is ’n venster op Jesus se lewe en missie.

Jes 42,1: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.”

V1: Jesus is gesalf met die Heilige Gees. Die kneg van die Here het ’n enorme taak gehad. Daarom kry die bystand van die Gees in sy hele lewe. 
Die Heilige Gees was die uitvoerder van die heilige ontvangenis uit die maagd Maria. Hy het Jesus in sy jeug laat groei in genade en wysheid. 
Hy was vervul met die Heilige Gees by sy doop. Daar het die Vader sy goedkeuring oor hom uitgespreek. Die liefde van God én sy unieke missie is daar bevestig. 
So het die Gees hom aangemoedig en bekwaam gemaak vir sy missie.
Dadelik daarna het die Heilige Gees hom die woestyn in gedryf om versoek te word en hom daar bygestaan in die versoekings, sodat hy dit kon oorwin. Die duiwel moes loop en engele het gekom om hom te dien.
In die res van sy lewe was hy besig met daardie missie: om die mag van die duiwel te verbreek en die koninkryk met krag te bring. Die salwing met die Heilige Gees en God se goedkeuring was baie duidelik uit die groot wonders wat hy gedoen het: genesings en duiweluitdrywings (Hd10,38).
Op geen stadium van sy lewe was Jesus sonder die Heilige Gees nie. Ook in sy lyding en sterwe was die Gees van God sy helper. Hy is deur die Gees lewend gemaak (1Pt3,18) hy “het Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.” (sien Hebr9,14).
Deur die Heilige Gees was hy in staat om die diepe lyding en die godverlatenheid te dra en as oorwinnaar daaruit te kom.

So het hy die koning geword wat orals op aarde die reg van God bring. (Jes 42, 1.3)
Hy is die tweede Moses wat die wet van God bring, en die nasies sal hulle daarin verheug. Hy het die wet vir ons vervul en dit is nou aantreklik en pragtig vir ons om God in vryheid te dien. So het die wet heeltemal vir ons verander, en ons houding teenoor die wet het volledig verander.

En dan lees ons in Jes 42 wat die Vader vir die kneg, sy Seun sê:
Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies
Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.”

En die resultaat is, dat daar ’n nuwe lied gesing word. God se volk sal en moet nie net die Psalms sing nie, maar nuwe liedere sal oor Christus gemaak word en met vreugde gesing word deur al die nasies. (Jes42,10-12)
(10)  Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied,
sing sy lof oor die hele aarde, almal wat op die see vaar,
alles wat in die see is, al die eilande en dié wat daarop woon.
(11)  Laat die woestyn en sy stede die lof van die Here uitroep,
die dorpe in die omgewing van Kedar, laat die inwoners van Sela jubel,
laat hulle van die toppe van die berge af juig.
(12)  Laat hulle aan die Here eer bewys en op die eilande sy lof verkondig.

Nou, dit is nou tog wel duidelik dat die doelwit van hierdie missie nog nie bereik op die dag van Jesus se opstanding nie.
Ook vandag is daar nog plekke en volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Ons wêreld tel 195 lande. Maar daar is honderde verskillende volke en stamme en taalgroepe!
Die kuslande, die nasies = die heidene wag steeds vir daardie lig en vir die wet van Christus. Dit het nog nie almal bereik nie.

Jesus was nie net die koning van die Jode nie. Hy was die lig vir die nasies.
(sien ook Rom 15,8-9)
En daarom stuur Jesus sy kerk uit: 
“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Nou, dis duidelik, tog? Sy missie het ons missie geword.

Hoekom het ek dit so uitvoerig uiteengesit? Sodat ons almal oortuig raak van die missie van Jesus, wat ons missie geword het.

Leer uit die Bybel wat die missie van Jesus was. Hoe dit in die OT reeds uitgespel word. Wanneer ons almal dit geleer het, sal ons die woord ‘gevestigde kerk’ nie meer gebruik nie!
Ons is ’n gestuurde kerk, ’n kerk oppad, met ’n missie.

2    Hy gee sy kragtige Gees en ’n pragtige boodskap

2.1    Opstanding maak ’n verskil: op pad

Ons het nou al ’n eerste antwoord gekry op die vraag ‘so what?’ – watter verskil maak die opstanding?
Jesus het die eerste deel van die missie volbring. En hy stuur nou sy kerk die wêreld in. Jesus het uit die graf opgestaan. Die apostele het die missie verstaan en aanvaar. Hulle het van die leë graf nie ’n bedevaartsplek gemaak waar christene bymekaar kom en aan die verlede dink nie. Nee, Jesus se kerk is ’n kerk op pad.

2.2    Opstanding maak ’n verskil: hy oorwin ons angs

Ons is dikwels so angstig. Wanneer ons dink aan evangelisasie, begin ons dikwels probleme sien. Ons benoem ’n kommissie om die ding te bestudeer, en om ons toe te rus.
Dis mooi, maar gaan ons dan ook iets doen met die toerusting?

Ek dink dat angs en ’n gevoel van onmag vir ons verlammende rol speel.
Jesus verander ons. Hy het sy dissipels, sy kerk twee belangrike dinge gegee. Dis beide die gevolg van sy opstanding:
Hy gee vir ons die krag van sy Gees.
Hy gee die blye boodskap van vergewing

2.3    Illustrasie

Jy werk by ’n groot maatskappy. Jy het ’n paar jare daar gewerk en doen aansoek vir ’n ander pos. Die bestuur / direkteur praat met jou en sê: Nee, jy kry nie daardie posisie nie. Ons maak jou ’n bestuurder. 
Maar…. Ek het geen ervaring nie. Ek kan dit nie hanteer nie!
Jy is bang om foute te maak en hulle teleur te stel.
Die direkteur sê: ‘Ons is oortuig dat jy dit kan hanteer. En ons sal jou goeie ondersteuning gee en aan jou ’n manager toewys wat jou kan adviseer en help.’
Nou lyk dit skielik heeltemal anders!

So gee Jesus vir ons die Heilige Gees om ons angste te oorwin, om ons selfgesentreerdheid weg te neem, en om in ons liefde te ontsteek.

2.4    Die Gees van Christus

Onthou: die Vader het vir sy Seun die Heilige Gees gegee. Dis hoekom Jesus sy missie op aarde kon uitvoer, tot in die dieptes van die hel.

Hy skakel hulle én sy hele kerk in die missie in. 
Die dissipels het nog 50 dae gewag tot die Heilige Gees uitgestort is. Intussen het Jesus hulle onderrig oor die koninkryk, oor sy missie op aarde, wat hy nou vir hulle gegee het.
Maar toe. 
Die Gees het die 11 bang dissipels verander in getuies van Jesus wat ‘on fire’ was.
Sedert die Pinksterdag was hulle vir die duiwelse magte nie meer bang nie.

Hy het sy Gees op die hele kerk uitgestort. Ons praat van die amp van alle gelowiges. Ons deel in die missie van Jesus, wat nou die missie van sy kerk is.
En hy het sy Gees ook vir ons gegee!
Hy bring groot veranderings:
Hy verander ons hart en maak dit gewillig. Hy skryf sy wet in ons hart.
Hy verlig ons verstand, sodat ons die missie verstaan en weet en glo dat Jesus alles verdien het. Die uitkoms staan reeds vas. 
As jou verstaan van die werk van die Gees vaag is, werk daaraan om dit in fokus te kry (soos ’n fotokamera), sodat jy op hom kan vertrou.

En sy Gees gee vir ons die krag om die missie te kan uitvoer. 
Predikante en sendelinge wat vol is van die Gees, ervaar die krag en vrymoedigheid wat hy gee.
En alle christene gee hy krag om moedig, sonder vrees die wêreld in te gaan en Jesus bekend te maak.
As jy besef dat die vyand magtig is, en as jy bang is vir die vrae of negatiewe reaksies van mense, bid tot Christus dat hy jou vervul met sy Gees en jou moedig en onverskrokke maak.

2.5    ’n Pragtige boodskap: ontvang vergewing en deel dit uit.

Ook die boodskap wat ons het, is ’n geweldige bemoediging.
"As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
Dis regtig goeie nuus!

Die apostele het hierdie boodskap gedurigdeur gepreek. Hulle het Israel en die heidene op hulle sondes gewys en teselfdertyd verkondig dat God vergewing gee aan almal wat in Jesus glo. Jy lees dit steeds weer in die boek Handelinge. Selfs Israel, wat Jesus gekruisig het, mag die genade van God ontvang:
"Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, [Petrus in Handelinge 3]

Paulus verkondig dit aan die Jode en heidene:
"Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,
en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.

So dikwels is ons bang dat ons in diskussies betrokke raak en nie al die antwoorde het nie. Of ons gaan argumenteer oor die kerk en vergelyk dit met ander kerke. Dan is die fokus verkeerd. Die taak van die kerk is, om eenvoudigweg hierdie boodskap van redding bekend te maak: daar is vergewing vir almal wat hom bekeer en in Jesus glo.
Dis eintlik so eenvoudig.
En die Gees sal die bekering werk in almal wat God uitgekies het. Ons hoef nie daaroor bekommerd te wees nie. Ons taak is om die evangelie bekend te maak.

Ons moenie heeltyd onsself vergelyk met ander kerke nie. Maar ons moet wel bewus daarvan wees dat daar ’n ander evangelie is, wat baie mense beïnvloed. Elke periode in die geskiedenis het weer verskillende teen-evangelies. In die tyd van Paulus was het Jode vir heidene gesê: die besnydenis is ook nodig om gered te word. So is die wet van Moses tog weer opgelê en die evangelie van genade verwerp.
In ons tyd is die voorspoedevangelie geweldig gewild. God wil nie dat jy sukkel nie, elke gelowige mag genesing en rykdom ‘claim’ in Jesus se naam. Sê dit in geloof, en dit sal gebeur!
Vanaf die begin is dit duidelik dat dit ’n valse evangelie is. Jesus het sy disspels bevel gegee om die genade uit geloof alleen te preek. En dit was ook van die begin af duidelik dat almal wat Christus volg, allerhande teenspoed in hierdie wêreld sal ontmoet. Die volle vreugde en rykdom kom eers in die hemel.

Jesus sê nog iets spesiaals oor die verkondiging van genade deur geloof.
"As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
Hy stuur die apostele uit met ’n volmag, met gesag. Hulle moet verkondig dat die vergewing ’n feit is, God gee dit wanneer hulle dit vir die mense verkondig.
Jy kan dit vergelyk met ’n proklamasie van die president. As hy amnestie afkondig vir mense wat skuldig was, en laat bekendmaak dat daardie mense nou vry is, dan is hulle op daardie moment vry.

Hierdie gesag is van die apostele oorgedra op die kerk. Dit is nou die verantwoordelikheid van die predikant en die ouderlinge. Dit gebeur in die verkondiging van die evangelie: vir almal wat hulle verootmoedig, hulle afkeer van die sonde, en in Jesus glo verklaar ons hier, deur die prediking, dat hulle sondes vergeef is. En saam, in die kerkraad, is die oudstes verantwoordelik vir die uitoefening van die tug. Die lidmate word daarby ingeskakel, en die ouderlinge saam spreek uit, wanneer ’n lidmaat in sonde volhard, dat hy/sy buite die koninkryk van God staan. En wanneer die lidmaat hom bekeer, word hy/sy met vreugde weer in volle regte as lidmaat aanvaar. So word die vergewing binne en buite die gemeente aangekondig en uitgedeel.

Ons mag saam ons verheug in die tyd van verkwikking wat aangebreek het na die opstanding van Christus.
Ons hoef nie vaag te bly oor die opstanding nie. Dit maak ’n groot verskil in ons eie lewe en in die wêreld. Ons mag saam die missie van Jesus voortsit, met die bystand van sy Gees, totdat hy terugkom.

Amen

Liturgie: 

Doel:
-    Kerke aanspoor om die evangelie te versprei

Bybelgedeelte:
19 EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! 
20 En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. 
21 Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. 
22 En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. 
23 As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”