Die lam in die hemel bepaal wat op aarde gebeur

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-05-21
Teks: 
Openbaring 6
Verwysing: 
Hemelvaart
Preek Inhoud: 

Doel:
-    Insigte gee om te help om die boek Openbaring reg te lees 
-    Christene bemoedig in die eindtyd.
-    Almal aanspoor om na die Lam te vlug.

Inleiding

Jy ry op die vliegtuig. Sou jy nie graag in die bestuurskajuit wil inloer nie? Al daardie instrumente. Jy kan sien hoe die vlieëniers die vliegtuig bestuur. En jy kan vorentoe kyk deur die vensters en sien wat hulle sien! Jou uitsig uit die ronde venstertjie is maar so klein.

Sou jy nie ook wil inloer in die hemel nie?
Ons glo Jesus is daar. Die troon van God. Derduisende engele. En God regeer vanuit die hemel oor alles wat op aarde gebeur. Wat sou dit ’n geweldige ervaring wees om te kan kyk wat daar gebeur!

Dalk kan ons dan verstaan wat hier op aarde aangaan.

Vandag vier ons die hemelvaart van Jesus.
Watter verskil maak dit?
Hoe verstaan ons alles wat op aarde gebeur in verhouding met Jesus se hemelvaart?
Kan ons bly wees in Christus? 

En hoe vier ons sy hemelvaart in ’n wêreld wat sug en ly?
Ons kom skielik agter dat die dinge wat in ons wêreld gebeur, ons lewens ook negatief beinvloed. Werk, kos, vrede, veiligheid: dit het skielik verminder en vir party van ons opgedroog.
Die perspektief van Christus in die hemel is belangrik vir ons, en vir alle christene in die hele wêreld.

Ek het dit altyd maar moeilik gevind om oor hierdie hoofstuk en die res van die boek Openbaring te verstaan. Daar is 7 seëls, 7 trompette, 7 skale: wat gaan aan? Wat gebeur wanneer?

Dis moeilik om hieroor te preek.
Prediking beteken die goeie nuus van Christus vir vandag se wêreld bekend te maak, tot opbou van God se gemeente. 

Ek het gebid en gelees en wil vandag die evangelie verkondig uit Openbaring 6.
Kom ons probeer en luister na God.

Tema:    Die lam in die hemel bepaal wat op aarde gebeur
1. Hoe lees ons Openbaring?
2. Daar is geen hoop in hierdie wêreld nie.
3. Die Lam in die hemel regeer.

1    Hoe lees ons Openbaring?

1.1    Mense identifiseer die vier ruiters

Hierdie 4 ruiters (‘The four horsemen of the Apocalypse’) het spreekwoordelik geword. Hulle spreek tot die verbeelding. Hulle is vreesaanjaend!
Ons herken hulle in gebeurtenisse, vandag of in die geskiedenis.
In 1498 het Albrecht Dürer, ’n Duitse kunstenaar, ’n pragtige houtsnee gemaak van die 4 ruiters van Openbaring 6 (en van baie ander taferele in Openbaring). Hierdie een het baie bekend geword.

(net vir interessantheid: ’n houtsnee is soos ’n negatief wat met ink op papier afgedruk word. Dürer het ’n groot gawe gehad om die afbeelding so noukeurig uit te sny! Hy het dit boonop reggekry om die vier gekleurde perde sonder die gebruik van kleur op ’n sprekende manier te laat uitkom.)

Omdat die jaar 1500 om die draai was, was daar ’n gespanne verwagting: die wederkoms is aanstaande! Dieselfde het rondom die jaar 2000 gebeur.
Steeds weer in die geskiedenis word mense getref deur wat in die wêreld gebeur en herken dit dan in die boek Openbaring.

1.2    Motiewe

Daar is natuurlik ’n goeie motief: die Bybel beskryf mos die tyd vóór die wederkoms, en dan sien mense die gebeure in die geskiedenis en hul eie tyd as ’n bevestiging van die Bybelse profesie: ‘Kyk! God het dit aangekondig. Sien jy dit raak? Die Bybel is waar!’
Dikwels is ook die bedoeling om mense voor te berei: ‘Bekeer jou, die wederkoms is baie naby!’
So gebeur dit vandag ook: daar is mense wat beweer (in youtube videos) dat Covid-19 beteken dat ons by die 3e seël van Openbaring 6 trek (of selfs by die 6e een!).

Dit laat ons met die vraag: wat is die waarheid? 
En watter effek het dit op jou: word jy wanhopig, of gryp jy moed?

1.3    Dis nie ’n koerant nie

Hoe moet ons die boek Openbaring lees?
Wat ek gevind het toe ek begin lees het: ons maak die fout dat ons die boek Openbaring lees soos ’n koerant: hier gebeur iets, dit is die antichris! Oorlog in die Midde-Ooste: dis Armageddon!
Mense begin speel met die name van historiese figure wat baie mense doodgemaak het, en vind uit: kyk, die letters van sy naam is saam 666!

Veral die premillennial wegrapingsteologie het baie invloed gekry onder christene. Dit is die geloof dat die gelowiges opgeneem sal word voordat die groot verdrukking kom, wat 7 jare sal duur. Dit is die basis van die Left Behind serie (die hoofpersone was nie oortuigde christene, en het dus agtergebly, en nou moet hulle deur die groot verdrukking gaan).
Dit is baie spannend, maar ongelukkig ’n verkeerde uitleg. Wanneer Jesus terugkom, sal elke oog hom sien en sal alles ophou, en dán word die gelowiges opgeneem.
Niemand ken die dag en die uur van Jesus se wederkoms nie, dus kan ons ook nie uit die voortgang van die tekens aflees waar ons trek nie - soos ons op ’n horlosie kyk: is dit 5 voor 12, of nog maar net 8 uur?

Jy moet jouself daarvan weerhou om groot gebeurtenisse in jou tyd aan te wys in Openbaring. Dit lei tot verkeerde voorspellings, en wanneer dit nie uitkom nie, verloor die kerk sy geloofwaardigheid.

1.4    Veranderende perspektief

Mens moet dus rustig lees en besef dat Openbaring ’n apokaliptiese boek is met baie beelde uit die Ou Testament. Moet dit nie lees soos ’n skrip vir ’n rolprent nie (eers gebeur dit, dan gebeur dit, … ets). 
Vergelyk dit eerder met ’n staptoer in die berge: jy sien steeds dieselfde kranse van ’n ander hoek, omdat jy hoër klim en draaie maak. Die hoek van waaruit jy dinge sien, verander tydens jou staptoer.
So het ek geleer om na die seëls, trompette en skale te kyk: die een golf na die ander kom oor die wêreld, steeds weer kyk ons onder ’n verskillende hoek.

Wat leer ons hieruit? Wat is die boodskap?

2    Geen hoop in hierdie wêreld nie

2.1    Die vier ruiters

Elke ruiter kry toestemming van God om verderf op die aarde te bring: oorlog, stryd, voedselskaarste, dood.  ‘aan hom was ’n kroon gegee’ of ’n swaard, of die mag om voedselskaarste te veroorsaak, en mag om ’n vierde deel van die mensheid dood te maak.

Die eerste ruiter, op ’n wit perd, met ’n boog
Die christene in die 7 gemeentes (vir wie die boek geskryf is) het hierin die Partiërs herken: hulle het uit die Ooste aangestorm gekom op hul perde, en hulle was gevaarlike boogskutters.

Die kroon wys op politieke mag, wat gebruik word om skade, dood te veroorsaak. Dink aan presidente wat hulself verryk. Net ’n voorbeeld: Mobutu Sese Seko se geld in sy Switserse bankrekening was net soveel as die staatsskuld van Zaire! 
Presidente en ander maghebbers gebruik hul veiligheidsdienste om teenstanders uit te skakel, en stuur hul weermag om die burgers van die land dood te maak in ’n burgeroorlog.

Die tweede ruiter, op ’n vuurrooie perd
Rooi is die kleur van vuur en bloed.
Hy neem die vrede weg, mense veg met mekaar en vermoor mekaar. Orals in die wêreld is daar misdaad, moorde. Mense slag mekaar af.

Die derde ruiter, op ’n swart perd
Hy veroorsaak skaarste aan daaglikse kos. Dan gaan die pryse geweldig op en mense het nie meer genoeg inkomste nie: ’n penning (’n  dag se inkomste) is net voldoende vir een dag se koring vir een persoon; of as hy genoeë neem met ’n minder goeie kos, gars, dan kan sy gesin (drie mense) daarvan eet. Maar dis al! Daar is nie eers geld vir klere en huisvesting nie!

Maar die luukse artikels. olie en wyn, is steeds beskikbaar vir die rykes. Hulle kan olie en wyn, kaviaar en brandewyn bekostig.

Die vierde ruiter, op ’n vaal perd
Die dood en die doderyk volg in sy voetspore.
In die loop van die tye sal ’n kwart van die wêreld se bevolking deur hierdie rampe doodgaan.

Die vier rampe was reeds in Esegiël 14 genoem as oordele: swaard, hongersnood, wilde diere en pes.

Wat ’n rampspoed, lyding, dood en verderf!
Die samelewing, die natuur, mense se lewens: sosiaal, ekologies, biologies: die hele wêreld is geaffekteer. Lewe, land en liggaam ly hieronder.

2.2    Samehang

Die vier ruiters word geroep en kry toestemming om skade te doen.
Ons lees nog nie dat hulle op hul perde weghardloop nie, en ook nie dat eers die een en dan die ander een kom nie.
Hulle werk eintlik saam: alvier bring dood en verderf op aarde. Dit kenmerk die tyd vóór Jesus se wederkoms.

2.3    Meer intensief

Al hierdie dinge, oorlog, stryd, gebrek aan vrede, skaarste, hongersnood, was reeds in die wêreld aanwesig sedert Adam en Eva se val in sonde. Kort daarna word die eerste moord gepleeg, en dit hou nie meer op nie.
Maar nou, in die laaste hoofstuk van die geskiedenis, na Jesus se hemelvaart, word ons net meer intensief met die gevolge van die sonde gekonfronteer. Alles raak volgroei: die kwaad hou aan groei, en die sonde bring die dood voort. Oorloë en rampe is deel van hierdie eeu, hierdie gevalle wêreld.

Sien jy dit raak?
Die wêreld sal sug en ly onder hierdie rampe totdat Jesus terugkom. Jy hoef nie op jou horlosie te kyk om te bepaal ‘waar is ons in hierdie opeenvolging van rampe?' nie.
In die 14e eeu het in die spasie van 5 jare 75-200 miljoen mense aan die pes gesterf. 60% van Europa is uitgewis. In 1918 het die Spaanse griep 100 miljoen menselewens gekos, juis na die 'groot oorlog' wat ook miljoene lewens uitgewis het.
Stalin het sy eie bevolking uitgemoor met hongersnood. In Afrikalande soos Eritrea is geld wat bedoel was om kos te koop, deur die regering gebruik om wapens te koop om dieselfde mense te vermoor!
Dit gaan aan en aan.

Sal dit ooit ophou? Is daar hoop vir hierdie wêreld? 

2.4    Geen hoop vanuit die wêreld nie

Die hoop kom nie vanuit hierdie wêreld nie!
Hierdie wêreld bied nie die oplossing nie. Niemand op aarde kan die verderf keer nie.
Ons sekerheid is nie in aardse dinge nie.
Kos, inkomste, vrede: dit kan sommer verdwyn. Ons kon dit nog in die verbye 50 jaar ignoreer. Oorlog en skaarste van kos was vir die middeklas-bewoners van die voorstede in SA ver weg. Dieselfde was die geval vir die middeklasse in die VSA en baie ander lande.
En nou skielik sien jy dat dinge geweldig vinnig kan verander en dat daar groot gevolge is vir werksgeleentheid en voedselvoorsiening. Daarmee saam is die vrede in gevaar: mense wat nie kost het nie, kom in opstand.

Moenie jou hoop op hierdie wêreld bou nie. 
Die redding kom uit die hemel, van Christus  af.

3    Die lam in die hemel

3.1    Johannes mag inloer

Ons wil graag agter die skerms kyk.
Jy ry op die vliegtuig, en jy wil graag in die bestuurskajuit kyk, waar die piloot die vliegtuig bestuur.
Johannes het.
Hoofstuk 4: ’n deur het oopgestaan, en ’n stem wat klink soos ’n trompet het geroep: “Kom hier, ek sal jou wys wat hierna moet gebeur.”
Die Gees het hom soontoe geneem en hy het gesien. Een groot visioen van die werklikheid van die hemel. Verstommend.

Jy moet dus nie in hoofstuk 6 begin nie. En ook nie daar eindig nie.
Begin in hoofstukke 4 en 5. Ons zoom uit en sien die groot prentjie.

Johannes het vir ons neergeskryf wat hy gesien het.
Eerstens vir die gelowiges in die 7 gemeentes (Openbaring 2 en 3).
Hulle het onder swaar vervolgings gely en hul geloof is op beproef.
En hierdie boek is in die Bybel opgeneem vir die gelowiges van alle eeue.

3.2    Wat is die groter prentjie?

Ons staan nou nie self in die hemel en kyk nie, maar dis asof ons deur ’n verkyker tog mag inloer.
Kyk: die troon van God! Jy sien hom in al sy heerlikheid, en die 4 diere en die 24 oudstes aanbid hom.
Kyk: die Lam! Jesus is daar en hy bepaal wat hier op aarde gebeur.

Die boek is geskryf aan 7 gemeentes in Turkye.
Die groot prentjie is dus die eindtyd, wat begin het toe Jesus die hemel binnegegaan het.
Jy sien hom daar as die lam: geslag vir die sondes van die wêreld.
Die Lam is die enigste wat waardig is om die boekrol te ontvang en oop te maak. Dit is toegesluit met sewe seëls. In daardie tyd het hulle nie boeke gehad soos ons s’n nie, maar dit was ’n lang stuk perkament of papyrus wat hulle opgerol het. Aan die buitekant is dit dan verseël om te kan nagaan of iemand dit oopgemaak het. Ook kon konings kon bv 
’n Seël was ook gebruik om te sertifiseer dat dit regtig van bv ’n koning sy seëlring in die was druk en almal kon sien dat hy regtig hierdie besluite gemaak het. Dit was dus ’n bewys dat die boekrol outentiek was: van die koning afkomstig.

3.3    Aardse gebeurtenisse afkomstig uit die hemel

Die Lam in die hemel maak 7 seëls oop en daar gebeur dinge op aarde.
Onthou dit!
Wat op aarde gebeur, het sy oorsprong in die hemel. Dis waar dinge besluit word. Die regie van die wêreldgebeure is in hande van die Lam van God, ons Heer.

Hoofstukke 4 en 5 help om die rampe te verstaan. Jesus oorwin elke vyand!
Die Lam is die sleutel tot die geskiedenis. Hy maak dat dinge gebeur. Wat gebeur op aarde, is gestuur of bestuur, getrigger vanuit die hemel.
En hy verskyn reeds in hoofstuk 1 aan Johannes in sy heerlikheid.

3.4    Boekrol

7 seëls word verbreek om die boekrol oop te maak en te lees.
Hoofstukke 6, 7 en 8 vertel vir ons wat gebeur telkens wanneer Jesus, die Lam, een van die seël verbreek. Nie net hoofstukke 6 nie, maar ook hoofstukke 7 en 8, en dit sluit Jesus se wederkoms, die dag van oordeel in.

Hoofstukke 4 en 5 vertel vir ons hoe het Jesus daar uitgekom het: hy is sigbaar as die Lam, wat geslag is vir die sondes van die wêreld. Hy het nou alle eer ontvang.
Nou word alles vanuit die hemel geregeer en die inisiatiewe wat die geskiedenis dryf, kom daarvandaan!

Troos:
- Die Lam is in beheer: hy maak die boekrol oop.
- Die einde is seker. Jesus voer God se plan uit.

Dit is vir ons neergeskryf sodat ons perspektief kry op die gebeurtenisse hier op aarde. Ons het dit nodig!

3.5    Die vyfde seël

Die perspektief word nóg duideliker in die vervolg van hs 6, wanneer hy die 5e seël breek. 
Nou sien ons ’n groot kontras.
Die kamera beweeg weg van die viertal ruiters en swaai na ’n ander plek in die hemel: die altaar.
Dit gee ’n heel ander voorstelling van wat aan die gang is in die laaste deel van die geskiedenis.
Johannes sien onder die altaar in die hemel die siele van gelowiges wat vervolg en gedood is omdat hulle Christus nagevolg het. Van onder die altaar roep hulle nie om persoonlike wraak nie maar om geregtigheid.

Onthou, die boek Openbaring is geskryf aan die 7 gemeentes 
Hulle het onder vervolgings deurgeloop: van Jode en die Romeine.
Die gelowiges op aarde word en verdruk word: deur Jode en deur Romeinse ryk. Die vervolging in die 1e eeu was groot: Nero, …
Juis vir hierdie gelowiges is die gebeure van hs 6 en die hele boek ’n groot bemoediging!

Hierdie gebeure in die hemel lees jy nie in die koerante nie. 
Maar van die dinge wat hier genoem word, kan jy oor lees en hoor. Ook in ons eeu word christene vervolg; dit is glo 50.000 per jaar!
Dit laat ons besef hoe min ons weet en hoe eensydig ons nuus eintlik is.

3.6    Die lyding van gelowiges

Hierdie perspektief is so belangrik!
Die kerk van Christus ly regdeur die geskiedenis. Die geveg tussen die koninkryk van die duisternis en die koninkryk vd lig hou aan tot die wederkoms van Christus.

Die vervolging van christene hou aan: die siele is daar en roep en daar sal nog aan hulle getal toegevoeg word.

Hulle ly, en Jesus het dit ook vir sy dissipels belowe. Daar sal nog christene ly en sterf vir Christus. Dit gaan ook aan tot die einde.

Maar kyk nou: hulle kry wit klere. Hulle is geregverdig deur Christus. Skoongewas, gered. Dit is die hoop van God se kinders.

3.7    Die sesde seël

Hoe belangrik dit is, word dadelik duidelik. 
Met die sesde seël kyk ons vorentoe na die dag van Jesus se wederkoms. Die tekens, die son wat swart word en die maan wat in bloed verander, was die tekens van die oordeelsdag. Geweldige aardbewings, die sterre val, die hemele rol op.
Dit is regtig die einde van die wêreld soos ons dit ken.

Kyk hoe mense reageer: veral die magtiges en rykes word genoem, maar die slawe ontsnap ook nie: almal moet rekenskap aflê en wil hulle wegsteek om aan die oordeel te ontkom.

Dit is die lot van almal wat nie in Christus glo nie.
Hulle sal die toorn van die Lam ondergaan, en hulle kan dit nie hanteer nie.

3.8    Oproep

Daarom is dit ’n oproep aan almal wat nie in Christus glo nie: daar is nog tyd om jou te bekeer. 
Laat ons nie probeer om elke gebeure in ons tyd te probeer terugvind in ’n spesifieke gebeure in die boek Openbaring nie. Mense sal agteloos wanneer ons moet erken ons was verkeerd in ons voorspellings.
Maar laat ons duidelik spreek oor Christus, die lam wat in die hemel sit en regeer. 
Die einde van Psalm 2 vertel vir ons dat dit ’n ernstige en lewensbelangrike keuse is: voor of teen Christus:

Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.
Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!
(Psalm 2,10-12)

Daar moet ’n klemmende oproep uitgaan, dat mense hulle moet bekeer.
Die oproep is ook vir lidmate van die kerk. Indien daar van ons is wat Jesus ken en tóg in sonde leef en hulle daarin verhard, bekeer jou voordat Jesus terugkom!

Maar vir almal wat die Lam volg, en selfs hul lewe vir hom gee, is daar hoop en redding.
Daar wag wit klere: die geregtigheid van Christus.
Daar is geen angs nie, maar net die blye ontmoeting met Christus.

Amen

Liturgie: 

Psalm 68:1,2

Skriflesing: Openbaring 4-6

Skrifberyming 12:1,3,4

Preek: Openbaring 6

Skrifberyming 37:2,3

Psalm 68:9