Die boodskap van die tempelgordyn vir die Ou en Nuwe Testament

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-11-22
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 25
Preek Inhoud: 

Die Nederlandse Geloofsbelydenis is in ‘n onseker tyd geskryf.

Na baie eeue van relatiewe stabiliteit in die kerke, het daar in die 16de eeu groot veranderinge gekom.

Die Reformasie het op gang gekom, wat gepleit het vir veranderinge in die kerk, in die sin dat ‘n kerk wat deur die loop van die tyd siek geword het, moes terugkeer na die Skrif.

Die gesag in Rome het egter vasgeskop en het mense soos Martin Luther uitgemaak as rebelle, opstandiges.

Hulle het selfs die ban oor Luther uitgespreek omdat hy nie sy 95 stellings wou terugtrek nie.

Dit is vanjaar presies 500 jaar gelede wat die pouslike ban uitgevaardig is, in die jaar 1520.

Luther mog nie meer lid van die kerk wees nie.

Presies 500 jaar gelede het die kerk dus geskeur.

Voortaan moes gelowiges in Wes-Europa steeds ‘n keuse maak.

Kerkkeuse was nie meer vanselfsprekend nie.

En diegene wat terug wou keer na die Woord alleen – Sola Scriptura – hulle het Luther in sy Reformasie gevolg.

Een van hulle was Guido de Brès, wat die Nederlandse Geloofsbelydenis geskryf het.

 

In die Nederlandse Geloofsbelydenis proe mens iets van daardie onseker tye.

In die Gereformeerde kerke is dinge anders gedoen, en die mense het met vrae gekom.

Die meeste mense het nog in die Roomse kerk opgegroei.

En noudat hulle Protestant geword het, het hulle vrae gehad:

Hoekom is daar nie meer ‘n altaar voor in die kerk nie?

Hoekom is daar nie meer beelde nie?

Hoekom mag almal nou van die wyn aan die nagmaal drink, en nie net meer die priester nie?

 

Baie van hierdie vrae het te make gehad met tradisies wat in die Roomse kerk ontstaan het, tradisies wat op een of ander manier op die Bybel gebaseer was.

Neem byvoorbeeld die altaar.

Lees ons in die Ou Testament nie dikwels oor ‘n altaar en offers nie?

Die Ou Testament is mos nog steeds deel van die Bybel?

Hoekom het die Reformatore dan die altaar uit die kerk verwyder?

 

Baie van hierdie vrae het te make gehad met hoe mens die Bybel, spesifiek ook die Ou Testament, moes lees.

En om hierdie rede staan artikel 25 in die NGB, geskryf om die mense te help om die Ou Testament korrek te lees.

Ons lewe in die Nuwe Testament, maar hoe moet ons die Ou Testament gebruik?

Ons stem saam dat dit nog steeds in die Bybel hoort, maar hoe moet ons ons daaraan hou?

 

Hierdie vraag is vandag nog net so aktueel, en daarom is ‘n leerpreek hieroor nie oorbodig nie.

Ook ons vra onsself gereeld af in hoeverre tradisies in ons kerk teruggaan op die Bybel of nie.

En die grootste Christelike groepering in Suid-Afrika vandag, die ZCC, bring nog steeds offers, en hulle verdedig hierdie tradisie met ‘n beroep op die Ou Testament.

Baie Christene in Afrika huldig die standpunt dat daar nog steeds besny moet word, weer eens met ‘n beroep op die Ou Testament.

Dan is daar deesdae mense wat die Ou Testament gebruik om kerklike geskeidenheid tussen volke en kulture te propageer, selfs om te beweer dat sommige etniese volke nie deel van die kerk behoort te word nie, omdat hulle nie biologies van die Jode afstam nie.

Daar is Christelike groeperings wat hulle baie letterlik hou aan Ou Testamentiese voorskrifte soos die dra van gebedsrieme, en die aanbring van ‘n sogenaamde mezuzah op jou deurposte.

Daar is Christelike groeperings wat hulle baie letterlik hou aan die sabbatswette, soos die Sewende Dagsadventiste.

En so kan ek aangaan om nog verskillende voorbeelde te noem.

Die posisie van die Ou Testament en wat die Here daarin geopenbaar het, sorg vir baie vrae onder Christene.

In die eeu van die Reformasie was dit so, vandag is dit nog steeds so.

 

Tema: Die boodskap van die tempelgordyn vir die Ou en Nuwe Testament

 

Nou wat Guido de Brès in artikel 25 doen, is nie om sy persoonlike visie op die Ou Testament en die gebruik daarvan te gee nie.

In hierdie artikel vat hy kortliks die onderrig van die Nuwe Testament oor die Oue saam.

Die Nuwe Testament is, soos dit genoem word, die hermeneutiese sleutel tot die Ou Testament.

De Brès sluit hier aan by Augustinus uit die vroeë kerk, wat byvoorbeeld gesê het:

Die Ou Testament word in die Nuwe geopenbaar, en die Nuwe Testament lê in die Oue verborge.

Hulle is dus onafskeidelik verbonde.

En soos ons weet, in die Nuwe Testament draai alles om Christus.

En met hierdie besef gaan artikel 25 dan na die Ou Testament terug.

Sien byvoorbeeld die eerste sin: “Ons glo dat die seremoenies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het.”

Dit is dus duidelik: Met Christus het daar groot verandering gekom, groot verbetering.

Soseer dat seremonies en heenwysings uit die Ou Testament oorbodig geraak het.

Want heel die Ou Testament het ook oor Christus gegaan, sy koms voorafgebeeld.

Die seremonies en heenwysings moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.

Die NGB verwoord hier baie sterk: hulle moet afgeskaf word, dit is nie iets opsioneels nie.

 

Dit wil egter nie sê dat al die seremonies en voorskrifte van die Ou Testament voortaan alle waarde verloor het nie.

Daarop wys artikel 25 as daar staan: “Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.”

So daardie vir ons gevoel soms eentonige hoofstukke in boeke soos Exodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium met al die voorskrifte, is juis nog steeds vir ons waardevol, omdat ons daarin iets oor ons Here Jesus Christus leer.

 

Ons het vanaand ‘n paar gedeeltes uit die Bybel gelees oor die tempelgordyn, die sogenaamde voorhangsel.

In Exodus 26 het die HERE vir Moses voorskrifte gegee hoe dit moes lyk en waar dit moes hang.

Dit moes die twee ruimtes in die tabernakel van mekaar skei, die heilige en allerheiligste.

Dit was ‘n belangrike skeiding, want in die heilige het daar gereeld priesters ingekom, maar in die allerheiligste mog daar slegs een keer per jaar iemand inkom, en dit was die hoëpriester.

Die allerheiligste was ‘n hoogs eksklusiewe ruimte, en die voorhangsel moes ook daardie boodskap uitstraal.

Dit was ‘n groot gordyn, as mens die afmetings van die tabernakel in ag neem, was dit ongeveer 4,5 x 4,5m – ‘n baie groot gordyn.

En drie dinge val op wat betref hierdie gordyn.

Eerstens, dit het ‘n koninklike uitstraling gehad.

Dit moes van baie duur stowwe gemaak word.

Dit moes baie kunstig gemaak word.

Dit moes aan vier pilare opgehang word wat met goud oorgetrek is.

Die duurste materiale, gemaak met groot artistieke vaardigheid.

Die boodskap is duidelik: Hierdie gordyn verskaf toegang tot die Koning van die konings!

 

Dan, tweedens, het God voorgeskryf watter kleur dit moes wees.

Pers en purperrooi en bloedrooi stowwe.

Die kleurspektrum trek onteenseglik na die rooi kant toe.

Nie toevallig nie.

Alles in die tabernakel het simboliese taal gepraat, die simboliek van versoening.

Versoening tussen God en mense deur die vloei van bloed – bloed wat soos ons weet rooi is.

Bloed het gevloei op die brandofferaltaar, voor die tabernakel.

Bloed is in die heilige ingebring.

En een keer per jaar is ‘n skaaltjie bloed in die allerheiligste ingebring.

Hierdie baie rooi gordyn was amper soos ‘n rooi verkeersbord wat sê: Stop, moenie verder gaan nie!

 

En dit bring ons by die derde wat opval:

Op hierdie gordyn moes gerubs afgebeeld word.

Wat was gerubs?

Dit was spesiale soort engele, wat God se troon bewaak het.

Ons lees meer in die Bybel oor hulle.

Dink aan die gerubs wat met hulle swaarde na die sondeval die paradys moes bewaak.

Gerubs was soldate.

Soldate, wat as ‘t ware saamgestel is uit die sterkste eienskappe van verskillende diere:

vlerke soos ‘n arend, ‘n kop soos ‘n leeu, ensovoorts.

Net vir die duidelikheid, gerubs was nie babatjies met vlerkies, soos mens soms op skilderye sien nie.

Hulle was vreesaanjaende figure, soldate.

Hulle afbeeldings was dus ook op die voorhangsel, met weer eens die boodskap: Stop!

Moenie verder gaan nie!

Hulle het God se troonsaal bewaak.

 

En dit was dus die hoofdoel van die voorhangesl, soos daar in Exodus 26:33 staan: “die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.”

En dit was nie net ‘n praktiese gordyn, soos ons soms ‘n gordyn gebruik om ‘n vertrek in twee ruimtes op te deel nie.

Sy kleure was ook nie net persoonlike smaak nie, soos sommiges van ons rooi gordyne verkies, ander dalk blou gordyne, ander dalk geel gordyne.

Nee, alles omtrent hierdie voorhangsel was boordevol simboliek, en die Here het spesifieke instruksies daaromtrent aan Moses gegee.

Hierdie gordyn was ‘n integrale onderdeel van die bediening van die versoening in die Ou Testament.

Dit het toegang verskaf, maar onder strikte voorwaardes.

En God het spesifieke instruksies gegee, dat die gordyn daar moes wees en hoe dit moes lyk.

Sou iemand, neem as voorbeeld Salomo toe hy die tempel gebou het, sou iemand van hierdie instruksies afwyk en liewer sy eie styl en mode kies by die maak van hierdie gordyn, dan was dit nie ‘n onskuldige, ‘n middelmatige saak nie.

Want dit was hoe die Here gedien wou word, en nie anders nie.

En die voorkoms van die voorhangsel was nie net arbitrêr deur Hom gekies nie, dit het alles te make gehad met die boodskap wat Hy aan sy volk wou oordra.

‘n Boodskap dat die volk nie sommer voor God mog verskyn nie.

‘n Boodskap dat daar bloed moes vloei vir die sondes wat begaan is.

‘n Boodskap van versoening deur voldoening!

 

As ons vir ‘n oomblik kyk na hoe Salomo later die voorhangsel gemaak het, toe hy die tempel gebou het, sien ons dat hy God se instruksies in die Tora geken en eerbiedig het.

Al was sy voorhangsel nie identies aan die een van die tabernakel nie.

Uit Bybelgedeeltes soos 1 Konings 6:31 en 2 Kronieke 4:22 lyk dit of Salomo nie ‘n gordyn gebruik het nie, maar twee goue deure.

Vir die res, soos byvoorbeeld die gerubs, dit het hy wel daarop laat afbeeld.

Later, met die bou van die tweede tempel, is daar weer teruggekeer na ‘n gordyn.

Toe Jesus op aarde was, het die tweede tempel nog gestaan, en dit was ‘n gordyn wat by sy kruisiging van bo tot onder geskeur het.

 

Nou as God so ernstig was oor sy instruksies wat betref hierdie gordyn, kom die vraag outomaties op ons af:

Hoekom doen ons niks meer daarmee nie?

Dit staan mos in die Bybel!

Dit staan 6 hoofstukke na die 10 gebooie, wat ons tog ook baie ernstig opvat?

Wie bepaal dat ons Exodus 20 nog steeds vandag moet nakom, maar nie meer Exodus 26 nie?

Gemeente, dit is nou presies waaroor artikel 25 NGB handel.

En die voorskrifte omtrent die voorhangsel is dan ‘n pragtige voorbeeld van wat daar in hierdie artikel staan:

Dit is ‘n seremonie wat in Christus sy vervulling gevind het.

Dit was ‘n voorafskaduwing van die werk van Christus.

Die waarheid en inhoud bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan.

 

Wat was die waarheid en inhoud van die voorhangsel?

Ons het nounet daaraan aandag geskenk.

Dit was rooi, dit het die volk herinner aan versoening deur voldoening.

Slegs met bloed – dit wil sê betaling vir die sonde – mog die hoëpriester voor God verskyn.

Die voorhangsel was van die duurste materiale – want onthou, laat ons nie vergeet nie dat dit toegang verskaf tot die troonsaal van die Koning van die konings.

En die gerubs op die gordyn herinner ook daaraan: Stop, nie sommer enigiemand mag voor Hom verskyn nie.

 

Dit was die betekenis van hierdie gordyn.

Maar toe Christus gekom het, het sy werk op aarde hierdie gordyn nie onaangeroerd geraak nie.

Ons kan dink aan die bekende vers uit Mattheüs 27: “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo to onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur” (vers 51).

Destyds het God self neergedaal op die berg Horeb, om vir Moses instruksies te gee oor die bou van die tabernakel.

God het self die opdrag aan hom gegee om hierdie gordyn te laat vervaardig, en presies hoe dit moes lyk.

Maar nou, meer as duisend jaar later, bemoei God Homself weer met die voorhangsel.

Hy laat dit skeur, van bo to onder, en dit op die einste moment as sy Seun aan die kruis hang, nadat sy bloed gevloei het.

Waar die instruksies hoe die voorhangsel moes lyk, vol simboliese betekenis was, dieselfde geld nou ook vir die moment dat God dit self afskaf.

Dit skeur die oomblik toe Jesus as hoëpriester sy eie bloed aangebied het.

Dit skeur om voortaan vrye toegang te verskaf tot die troonsaal van die Koning van die konings, vrye toegang vir ieder en elk wat in naam van Christus se bloed daar verskyn.

Die skrywer van die Hebreërbrief het presies verstaan wat hier gebeur het.

Met hierdie voorhangsel, skryf hy, het die Heilige Gees dit duidelik gemaak dat die weg na die heiligdom nog nie geopen was, solank as die eerste tabernakel nog standgehou het nie.

Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

En dan vervolg die skrywer deur te verduidelik dat Christus nie, soos die ander hoëpriesters, deur die voorhangsel heen in die allerheiligste hier op aarde ingegaan het nie.

Maar Christus het, nadat sy bloed aan die kruis gevloei het, fisies voor God in sy hemelse troonsaal verskyn, waar Hy as Middelaar sy bloed aangebied het.

Die aardse troonsaal, die allerheiligste, was eintlik net ‘n afbeelding wat die volk aan die hemelse troonsaal moes herinner.

Christus het nie die allerheiligste op aarde ingegaan met sy bloed nie, Hy het direk gegaan na die hemelse troonsaal.

En so het Hy die toegang tot die hemelse troonsaal, die direkte toegang tot God, oopgemaak vir elkeen wat in sy Naam voor God verskyn.

En daarom was die aardse afbeelding van God se troon, die tempel, voortaan oorbodig, en daarom dat God gesorg het dat ook die voorhangsel van bo tot onder skeur.

Dit was nie meer nodig nie.

‘n Rooi gordyn wat simbolies gesê het: Stop! dit was nie meer nodig nie.

In Christus se Naam, met beroep op sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het, het nie net die hoëpriester een keer per jaar nie, maar elkeen van ons elke dag nou toegang tot die hemelse troonsaal.

Hoe ryk is ons nie in Christus nie!

En elke keer as ons in die Bybel, soos hier in die Ou Testament, lees oor die voorhangsel, dan herinner dit ons aan ons Heiland.

As ons weer hierdie voorskrifte lees, maak dit ons des te meer dankbaar vir Christus.

Hierdie seremoniële voorskrifte is in Hom vervul.

Danksy Hom lyk die erediens in die nuwe bedeling anders. Met dankbaarheid vier ons nou sy maaltyd, die nagmaal, wat Hy ingestel het.

Daar is nie meer ‘n hoëpriester wat namens ons met dierebloed deur die voorhangsel heen een keer per jaar voor God se aangesig verskyn nie.

Ons het nou ‘n beter hoëpriester, een wat ewig leef, een wat permanent in die allerheiligste is, ja selfs in God se hemelse troonsaal, wat aan sy regterhand sit.

Enige oomblik van die dag, selfs in die nag, enige tyd kan ons nou regstreeks nader tot die Koning van die konings, solank as ons bid in die Naam van hierdie hoëpriester.

Dit is die boodskap van die tempelgordyn en sy afskaffing vir die Nuwe Testament.

 

Ek kom tot ‘n afronding, gemeente.

So mag ons die hele Bybel, ook die Ou Testament, lees vanuit Christus.

Hy is die vervulling daarvan.

Deur Hom en sy versoeningswerk verstaan ons elke vers van die Ou Testament, en het elke vers van die Ou Testament vir ons waarde, al kom ons dit nie meer letterlik na nie.

 

Broers en susters, u sit hier in ‘n gereformeerde kerk.

‘n Altaar vorm nie die argitektoniese middelpunt van hierdie gebou nie, maar die preekstoel, van waar af die evangelie van Christus verkondig word.

Daar is nie meer ‘n priester doen nie meer vir u sondes versoening namens u by God nie, maar daar is ampsdraers, ouderlinge en diakens, wat toesien op die bediening van die versoening in woord en daad.

Die boodskap van die evangelie is dat jy direkte toegang het tot die hemelse troonsaal, nie net vandag nie, nie net hier in die kerk nie.

Maar elke dag van die week, op watter plek jy jou ook mag bevind.

As jy in gebed tot God se troon nader, in die kosbare naam van jou Middelaar, Jesus Christus, dan vind daar versoening en skuldvergewing plaas.

Maak vrylik gebruik daarvan, julle jongmense wat vandag vir die eerste keer nagmaal gevier het.

Maak vrylik gebruik daarvan, bejaardes wat dalk binnekort gaan ontslaap.

Maak oorvloedig gebruik van sy Naam, elkeen wat vanaand hier in die kerk sit.

Daar is nie meer ‘n rooi gordyn met gerubs wat jou keer nie!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:1,5

Gebed

Wet

Ps 118:11

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Nagmaalsviering

Skriflesing: Exodus 26:30-33 & 36:35-38 & Hebreërs 9

Ps 110:1,5

Lofverheffing & Gebed

Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 25

Preek

Sb 23:1-4

Formulier ter bevestiging van ouderlinge

Ps 134:4

Kollekte

Sb 45:8,9,10,12

Seën