Daar is maar een evangelie van Christus. Om dit los te maak en ondergeskik te stel aan mense en hulle vereistes, word deur God verbied

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-11-01
Teks: 
Galásiërs
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Oor die ware leer van die evangelie was daar deur die eeue by die kerke vanuit die reformasie eenstemmigheid. 

Maar om een te wees met ander gereformeerdes is in die lewe van elke dag nie so maklik nie. Dit wat ons saam bely, sukkel ons om normerend deur te trek na die praktiese uitleef van ons eenheid in Christus. En dan is dit dikwels vanuit ons eie vrese, voorveronderstellings, aannames, swakhede en gebrek aan christelike moed om saaklik ‘n probleem te benader, en oplossings te soek en te vind. En hoe aantreklik is dit om fyntjies toneel te speel, te veins, inkonsekwent te wees omdat dit van ons verwag word om aanvaarbaar op te tree in eie kring, dit wat Christus van ons verwag, na te kom. Hoe onbetroubaar die mens se hart.

Hoeveel jare worstel die VGKSA en GKSA op kerkverbandelike vlak om te kom tot kerkeenheid. Die moeites het soms te make met die weg wat elke kerkverband afsonderlik in die geskiedenis gegaan het en hoe elkeen beïnvloed was en op sake ingespeel het, met kulturele faktore, met die situasie in ons land. Soms was dit die opstelling vir of teen ander kerkverbande deur die een of die ander wat reaksie opgeroep het.

Indien in ‘n susterkerk verhouding vanuit ‘n kerkverband opklink dat daar nog by die ou belydenis gestaan word, maar ons moet die praktyk van die moderne samelewing en die modern lewensgevoel se verklaarsleutels gebruik in die uitleg van die Skrif, is die een ware leer van die evangelie onder druk en ook op die spel. Dink maar aan die weg van die vrygemaakte kerke in Nederland.

Soms is dit ‘n problem binne dieselfde ‘n kerkverband: in 1857 het die Ned. Geref. Kerk, ten spyte van eeheid in geloof, besluit dat “weens die swakheid van sommige” die nagmaal deur die blanke broeders afsonderlik van die swart broeders waar nodig gevier kon word. Hierdie soort vrees was die oorsaak vir die uitmekaargaan in afsonderlike kerkverbande gegrond op ras.

Maar ook in kleiner kring - dit mag selfs ‘n versoeking wees in ‘n gemeente om ‘n broer of suster ter wille te wil wees, hulle guns te wen, en dan trek ons liewer nie die konsekwensies van die een Evangelie van Christus nie.

Ons weet mense speel graag leer en lewe teen mekaar af. Maar dit is nie moontlik om die een Evangelie van die Heer te gehoorsaam maar dan nie jou lewe in die Heer se diens te laat begelei deur die leer van die evangelie nie.

Ons kan moeg daarvoor raak om ons optrede wat begelei moet word deur die inhoud van ons geloof, altyddeur nougeset en presies te verantwoord en te volhard. Ons soek graag ‘n maklike en veilige uitweg om mense nie te konfronteer nie. Dit is nie dat ons die ware leer enigsens wil prysgee nie. Maar daar is geleenthede waar ons deur ons optrede ons integriteit, en ons betroubaarheid en getrouheid as gelowiges op die spel plaas. En hoewel ons geen oomblik die leer wil vervals nie, kies ons soms onbewustelik ‘n ander evangelie, wanneer ons maar wegkyk van Christus, die Hoof van die kerk, en ter wille van ons selfhandhawing voor en vir mense, besluite maak wat afwyk van die ware leer en die konsekwensies daarvan.

Tema: Daar is maar een evangelie van Christus. Om dit los te maak en ondergeskik te stel aan mense en hulle vereistes, word deur God verbied

1.    Die oorreding van die gelowiges in die sendinggemeente van Galasië om die besnydenis te ondergaan, staan teenoor die een evangelie van Christus
2.    Bevestiging van die een evangelie van Christus deur die moederkerk van Jerusalem te midde van ‘n krisis op die sendingveld
3.    ‘n Sendeling se helpende hand aan ‘n bevreesde apostel in Antiogië om die een evangelie van Christus nie aan te pas nie
4.    ‘n Sendeling se uitleg en implikasies van die een evangelie van Christus teenoor die herlewing van die dooie wet

1.    Die oorreding van die gelowiges in die sendinggemeente van Galasië om die besnydenis te ondergaan, staan teenoor die een evangelie van Christus

Paulus, die sending-apostel vermaan die Galasiërs 1:6-12: Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,   terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie. Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus. 

Die christene uit die heidene, ook in die gemeentes in Galasië, het al hoe meer onder druk van sommige Joodse christene gekom, wat besny was en wat deur Paulus as vals en ingesmokkelde broeders beskryf word. Hulle het Paulus op die sendingterrein bespied en teengestaan. Dit was om hom van die vryheid in Jesus Christus en die verkondiging van die waarheid van die evangelie af te trek en te bind aan sy joodse volkskap. Gee hy toe sou dit hom in sy verbreiding van die evangelie onder die heidene verhinder.

Daarmee het die vraag na vore gekom: kan die een evangelie van die genade in Jesus Christus gerek word om die sosiale aspekte van groep en volk en die vereistes wat daar vanuit die Joodse volk aan die christene uit die heidene gestel word, in te sluit? Die groot vraag was, moet christene uit die heidene besny word of nie? Die besnydenis het ‘n groot rol in kerk en sending gespeel in die tyd van die apostels se bediening van die vroeë kerk. Die gelowiges wat saamgekom het as gemeente van Christus, het meesal bestaan uit christene uit die Jode en christene uit die heidense volke. Vanuit Joodse volkskringe is die besnydenis van christene uit die heidene gepropageer. Met watter motief? Sodat die joodse Christene en die christene uit die heidene, aanvaarbaar kan wees vir die ongelowige Jode, want deur besnydenis kan ook die Christene uit die heidene dan beskou word as bekeerdes tot die Joodse volk. Dan sou dit nie ‘n probleem wees dat Joodse christene kontak het met christene uit die heidene nie. Die Joodse christene was toe nog op so ‘n wyse welkom in die sinagoge.

Joodse christenbroers nooi nou heidense christenbroers om tot besnydenis te kom, natuurlik om op die manier self nie in verleentheid te kom teenoor hulle nie christelike Joodse volksgenote nie. Die suggestie wat dan egter inslag vind is dat geloof in Christus nie voldoende is om volledig aanvaar te word deur nie-christelike joodse geloofsgenote, die besnydenis is ook nog nodig. 

Die geloof in Jesus Christus as die enigste wyse vir jood en griek om geregverdig te word, is deur die aandrang op besnydenis van die heiden christene betwyfel.

Die Galasiërs se geloof in Jesus Christus hulle enigste Hoof, word hierdeur ernstig bedreig. Paulus is ontroer, hy is besorg dat indien hierdie christenbroers uit die Jode hiermee voortgaan, en die gemeentelede uit die heidene in die gemeentes in Galasië hulle hierdeur laat oortuig, die evangelie bedreig word, dat dit direk aanleiding gee tot ‘n ander evangelie. Daarom verdedig hy hulle en vermaan hy hulle ook streng in sy brief. Hulle reg is in Christus, en deur geloof in Christus behoort hulle aan die God van Israel.

Die vraag is dus: was hulle kerstening voldoende? of moet hulle ook toetree tot die volk van die Jode? Hulle was geroep en vergader deur die genade van Christus. Maar nou het mense hulle in die war gebring. Daar is egter geen ander evangelie nie. Die weg wat hulle sou gaan was bepalend vir die toekoms van die evangelie van Christus in Europa.

Die probleem hier was dat onbesnede broers, dit wil sê heidene, toegetree het tot die volk van Abraham, en wel deur geloof in Jesus Christus. Maar die besnede broers wat uit die Joodse volk was, het nou, om die guns van die besnede nie-christelike Jode te behou, gehoop op ‘n kompromis, dat die onbesnede broers hulle sal laat besny. Dit gaan veral om sosiale aanvaarding deur die Joodse volk, en nie daarom dat die christene moet terugkeer na totale wetsonderhouding nie. 

Jy sou die gevolgtrekking kan maak dat die leer nie aangeraak is nie maar dat die praktiese aanpassing by ‘n bepaalde situasie gemaak word. So ‘n kompromis is egter geen onskuldige saak nie maar ‘n breuk met Christus. Die evangelie word aangeveg. Oorgang na die besnydenis om so toegelaat te word tot die Joodse volk, verlaat die leer van die evangelie, dit is die afwatering van die genade in Jesus Christus, vir vereistes van ‘n groep of volk en dus so vir ‘n ander evangelie.

Nie-joodse christene het nog geen eie identiteit, geskiedenis en tradisie gehad nie. Hulle was nuwelinge in vergelyking met die ou en ryk volk van Abraham. Die sinagoge en joodse volkslewe het aantrekkingskrag gehad. Dit kon voordele vir jong christene hê om die joodse identiteit aan te neem.

Met sy eerste besoek aan die gemeentes van Galasië het Paulus die evangelie gebring. Hulle het hulle van die afgode bekeer tot God en sy seun Christus. Hulle het Paulus beskou as ‘n boodskapper van God en van Jesus Christus, en veel liefde aan hom betoon. God het sy Gees tog aan hulle gegee, 3:3. Paulus waarsku daarom teen heidenchristene wat hulle al besny het en nou hulle mede heidenchristene ook daartoe uitnooi. Hy het hulle daarop gewys, dat indien hulle hulle laat besny, dan is hulle verplig om die hele wet te onderhou. 5:3. 

2.    Bevestiging van die een evangelie van Christus in Jerusalem te midde van krisis op die sendingveld

Wanneer die Galasiërs die gevaar loop om veroordeel te word deur joodse christene onrussaaiers, wat die evangelie degradeer, is dit goed dat hulle weet dat in die moederstad van die christelike jode (naamlik Jerusalem) die evangelie van Paulus kort gelede erken en bevestig is.

Paulus skryf in sy brief, spesifiek in ons teks aan die gemeente dat die een evangelie van Christus wat hy aan hulle verkondig het, deur hom in Jerusalem voorgelê is. Dit met die regterhand van gemeenskap bevestig en hy is niks verder opgelê om te verkondig nie. (verse 1-10). Paulus en Barnabas was die voorlopers van die prediking aan die heidene. Saam gaan doen hulle verantwoording aan die apostels in Jerusalem. ‘n Sekere Titus, ‘n medewerker reis ook saam. Hulle het opgegaan na die aansienlikes of die pilare soos hulle genoem is, die apostels en ouderlinge in Jerusalem. Die saak van Paulus se leer van die een evangelie van Christus aan die heidene was op die agenda en dit moes bekragtig word.

Paulus is nie deur ‘n gemeente afgevaardig nie. Maar hy het gegaan op grond van ‘n openbaring van God. 2:2. Paulus gee ‘n uiteensetting en lig sy boodskap en werkwyse toe. Hy verantwoord hom persoonlik om misverstand en agterdog te voorkom. Paulus se werk onder die heidene het voortdurend opspraak gewek by die ongelowige jode in die verstrooiing, dit is in die stede waar hy gekom het. Paulus wys op die resultaat van sy arbeid. Het ek vergeefs so ver geloop met die evangelie?

7-9 Die aansienlikes of pilare erken hier dat God inderdaad deur Paulus kragtig werk onder die volke. Hulle het Paulus dan ook niks meer opgelê nie. Verder het Paulus en Barnabas van Jakobus, en Cefas (dit is Simon Petrus) en Johannes seun van Sebedeus, wat gereken is as pilare van die kerk in Jerusalem, die regterhand van gemeenskap ontvang.

Hierdie aansienlikes bevestig dat God deur Paulus werk, en dat hulle met mekaar saamwerk. In 3-5 laat Paulus in sy verslag oor sy besoek aan Jerusalem sien hoe die eenstemmigheid in Jerusalem in kontras met die binnegesluipte vals broers van die sendingveld buite Jerusalem was. Maar Paulus-hulle het hulle nie aan die mense en hulle vereistes onderwerp nie sodat die evangelie by die Galasiërs kon gedy en uitbrei. Hierin vind Paulus die ondersteuning en bevestiging van die aansienlikes in Jerusalem.

Paulus beskryf hierdie oorleg van hom met die aansienlikes in Jerusalem in sy brief aan die Galasiërs omdat sy lesers gekonfronteer was deur hierdie mense wat verwarring veroorsaak het deur die gelowiges uit die heidene tot besnydenis uit te nooi. Hulle kom so in versoeking om hulle vryheid in Christus prys te gee. Daarom Paulus baie duidelik op wat nie in Jerusalem gebeur het nie. Titus is nie gedwing in Jerusalem om hom te besny nie. Die besnydenis word nie prinsipieel verwag van die christene uit die heidene nie. 

Op hierdie Jerusalemse oorleg kom uit: God het dit so bepaal, en aan Petrus die evangelie vir diens aan die besnedenes, Paulus vir diens aan die onbesnedenes toevertrou. Maar daar is nie twee evangelies nie, alleen twee werksterreine, of twee fokus-take. God het guns bewys aan die voormalige vervolger Saulus. Die leiers in Jerusalem het die guns wat God aan Paulus bewys het, erken.9. Want dit is die evangelie van Jesus Christus wat Paulus verkondig. Paulus en Barnabas hoef geen beperkings aan te bring vir die werk onder die heidene nie. Alleen maar die band van ondersteuning in liefde deur Christus, dit is prakties die kollektes vir die armes in Jerusalem, bind hulle aan mekaar en nie die band van die besnydenis nie, 10. 

3.    ‘n Sendeling se helpende hand aan ‘n bevreesde apostel in Antiogië om die een evangelie van Christus nie aan te pas nie

Die sendeling Paulus skryf nou in sy brief aan die Galasiërs verder aangaande ‘n gebeurtenis toe die apostel Petrus in Antiogie aangekom het en ‘n skielike gedragsverandering by hom plaasgevind het. Hy gebruik hierdie voorbeeld van toneelspeel of veins vir die gelowiges in Galasië, sodat hulle kan sien hoedat ‘n praktiese kompromis inderdaad die Evangelie van Christus bedreig. 

Na die visioen wat Petrus gehad het van rein en onrein diere, Hand 10, het hy geleer om die christene uit die heidene van harte te aanvaar as broers en susters. Hy was ook bereid om saam met hulle te eet, onbesnede broers maar rein in Christus. Joodse christene in Jerusalem het Petrus destyds kwalik geneem dat hy die heidense Romein Cornelius se huis binne gegaan het. Die Gees het hom opgedra dat hy na die huis van Cornelius moes gaan sonder om beswaar te maak. God het hom eerste oor die drumpel van ‘n huis van ‘n heiden gelei. Die voedselwette was dus nie langer ‘n skeiding nie. Christus was baie meer as Moses. 

….Maar in Antiogië veroorsaak Petrus ‘n krisis. Hy het daar nog gereeld aan tafel met die christene uit die heidene gesit, toe sommige van Jakobus kom, en ….dadelik het hy hom van die christene uit die heidene teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir hulle. As of hy nou iets gedoen het wat nie goed was nie. Watter slegte voorbeeld vir Barnabas en die ander joodse christene. Hulle het sy voorbeeld gevolg. Die arme christene uit die heidene bly alleen agter aan tafel.

Wat het Petrus en die ander hiertoe beweeg? Vrees vir die wat uit die besnydenis was. Hulle was geïntimideerd deur die besnede Christene wat van Jakobus gekom het. Petrus het ‘n verpligting teenoor hulle gevoel. Paulus staan hierin kragtig op teen Petrus en die ander. Omdat die besnedene en die onbesnedene geregverdig word deur geloof in Christus, kan die heidene nie gedwing word om as Jode te lewe nie. Die christen se identiteit is eerstens Christus. Paulus staan selfs op Petrus ervaring met sy bediening van die heiden Cornelius, en wat bevestig was deur die apostelkonvent, Hand. 15, en wat ook bevestig is deur die leiers van die gemeente in Jerusalem, tydens sy besoek aan hulle.

Paulus sê nie dat Petrus die evangelie van genade wil loslaat nie. Hy verwyt hom nie afval van die geloof in Christus nie. Maar Paulus wys op die konsekwensies van aan die inhoud van die geloof verbind te wees en uit die geloof in Christus te lewe.

Petrus se teologie, sy leer, die inhoud van sy geloof het nie verander nie, maar hy het moed verloor om hom te verantwoord teenoor die besnede Joodse christene wat besnydenis eis van christene uit die heidene en teenoor nie- Christelike Jode wat christene uit die heidene as bekeerlinge tot die jode wil sien. Paulus wil Petrus oorhaal en aanmoedig, deur appel op die gemeenskaplike geloof in Jesus Christus. Die vrees was geaktiveer deur mense van Jakobus, maar sekerlik gaan dit oor die verwagtings van besnedenes in die algemeen van Christene uit die heidene. Dit gaan om die voorwaarde vir deelwees van die Joodse volk as sodanig in onderskeid van die onbesnede. 

Joodse christene wou die band met hulle volksgenote liewer nie prysgee nie. Vir hulle sou dit goed wees om kontak met onbesnedenes te beperk tot dit wat moontlik is binne die wet van Moses. Hulle wil dus nie saam sit met Christene uit die heidene aan een tafel nie. Paulus die voormalige vervolger van Christene uit die Jode, het Petrus uitgedaag om moedig te wees en die konsekwensies van die geloof in Christus te trek en reik hom ‘n reddende hand.

Die vraag by hierdie besnedenes is nie wat is die weg tot behoud in Christus, maar prakties: wat is ‘n veilige weg vir ‘n Christen jood? Dit is gevaarlik vir joodse christene om te eet met onbesnede broers. Dit is baie veiliger om jou af te sonder en die onbesnede broers so indirek te nooi, om hulle tog maar te besny. Deur druk op hulle te plaas kan die gewenste uitwerking verkry word.

Hier in Galasiërs 2 word na Petrus verwys in terme van die aangaan van ‘n praktiese kompromie asof dit buite die evangelie sou kon omgaan. Aanleiding vir sy gedragsverandering was die joodse aggressie. Petrus soek ‘n tydelike kompromis ter wille van die besoekende broederskap uit Jerusalem. Wanneer Paulus aan die Galasiërs skryf dat Petrus en Barnabas apart gaan eet het, wys hy op die persoonlike teregwysing wat hy aan Petrus gegee het. Waarom? Omdat Petrus beter geweet het. Petrus het nie ‘n ander geloofsoortuiging gehad nie, maar vrees vir die besnedenes. Hier nie vrees vir joodse christene in die eerste plek nie, maar vrees vir die jode, die nie-christelike volksgenote. Hy wil nie dat hy en ander gesien word as afvallige jode nie. Enersyds erken hy die onbesnede christene voluit, as deur God aanvaarde gelowiges, andersyds wil hy self nie gedwing word om die band met die besnede volk van die jode los te laat nie en uitgewerp te word uit die sinagoge.

Hy gee voor asof hy egte jood was, maar intussen is hy ten diepste geestelik een met onbesnede christene en erken hy hulle aanvaarding deur God. Maar nou lyk dit of hy Jood bly maar simpatie het met die heidene in Christus. Dit gaan hier nie om verskil in leer nie, maar sy evangelieveragtende houding, en optrede.

4.    ‘n Sendeling se uitleg en implikasies van die een evangelie van Christus teenoor die herlewing van die dooie wet

Die apostel Paulus was seker en is verseker met sy besoek aan die ampsdraers in Jerusalem dat hy nie tevergeefs geloop het vir die verkondiging van die evangelie nie, 2. Maar, vers 14, Petrus-hulle het nie meer in pas met die waarheid van die evangelie nie geloop nie. Sy gedrag is vreemd aan die evangelie van Christus. 14b – 21 gee Paulus ‘n weergawe van sy openbare teregwysing van Petrus. Jy wat ‘n Jood is, waarom neem jy die Joodse gebruike nie in ag nie, maar die van die volke. Petrus bring die christene uit die volke in ‘n moeilike situasie.

Paulus vra hoe kan Petrus dit verantwoord? Nou dwing hy heiden christene om te lewe as jode. Hy stel hom langs Petrus. Beide was jode van geboorte. Petrus het leer insien dat geen mens hom kan red met die wet.15,16. Daaruit is geen vlees geregverdig. Maar 17, tensy by die lewe volgens die wet, die geloof in Jesus Christus bely word. Dan is nie die lewe volgens die wet beslissend nie, maar die geloof in Jesus Christus. Die Jood hoef nie sy joodwees af te sweer nie, maar hy moet insien dat niks baat sonder geloof in Jesus Christus. 16  Christen wees is belangriker as lewe as jood, ook vir die Jood Petrus.

Sien die effek van die christelike geloof in die oë van die Jode. 17. Ongelowige Jode gaan die christene uit die jode beskou as afvalliges van die jodendom, as heidene en tollenaars, sondaars wat die wet minag.  Omdat die christen jode hulle toekoms by God verwag van hulle geloof in Christus, word hulle houding verdag in joodse oë. Dit lyk of Christus die afbreek van die Joodse volk bevorder. In die oë van volksgenote word die apostels gesien as sondaars wat heul met die heidene. Daarom die vraag: is Christus deur hierdie negatiewe visie op die joodse apostels nou in diens van die sonde en die afbreek van die Joodse geloof? Dit gaan direk oor die afwykende gedrag van Petrus en die ander. Uit vrees vir die Jode wat hulle as afwykende sondaars gesien het, wou hulle die evangelie van alle blaam suiwer deur weer juis meer nadruklik as jode te lewe en elke skyn van kwaad te vermy. Paulus ontken egter dat Christus verag word deur christelike jode wat nie volledig as jood lewe en saam met die heidenchristene eet.

Vers 18 is egter ‘n vermaning aan Petrus wat nie meer saam met die onbesnede christene uit die heidene wil eet nie: wanneer ek weer wil opbou wat ek afgebreek het, betoon ek myself ‘n oortreder. Wie terugkom op sy dade diskwalifiseer wat hy voorheen reg gedoen het. So maak Petrus asof geloof in Jesus minderwaardig is wanneer hy dit nou weer ondergeskik maak aan die joodse lewe.  Die christene uit die heidene sal aflei dat Petrus sy vorige prediking terugneem en nie langer bely dat dat mens alleen deur Jesus Christus regverdig is, vir God. Hoe kan Petrus nou volgens voedselwette wil lewe en dit plek gee in die belewing van die gemeenskap van heiliges, want vers 19, deur die wet is ek vir die wet dood, ek kan nou vir God lewe. Paulus stel dit op so wyse dat Petrus sal kan uitroep: maar dit is my geloof. En dan terug te gaan na die tafel met die heidene en met hulle verder te eet. 

Paulus leef nog, maar tog is hy dood. Hy is met Christus gekruisig. Nie hyself lewe nie maar Jesus Christus, hy is in Jesus Christus. Jesus is wetlik veroordeel en gedood. Hy het Paulus liefgehad en hom vir Paulus oorgegee.

Vir elkeen wat gedood is geld die wet nie meer. Wet is vir die lewendes. Daarom is Jesus Christus na sy sterwe op Golgota nie langer onder die wet waaronder Hy op die agste dag besny is. Sy dienstyd is verby. So is Paulus ook wetlik met Jesus deur die dood heen onthef van die pligte van die wet. Jesus leef nou voor God in die hemel. Ek is met Christus gekruisig, ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. My lewe op aarde is gewy aan die seun van God wat my liefgehad en hom ter wille van My oorgegee het. So is ook Paulus, omdat hy met Jesus is, deur die geloof, buite die wet, maar binne die liefde van die Vader. Die orige aardse lewe van Paulus staan nou buite die wet, maar dit is gevul met die werklikheid van die lewende Christus.

Paulus minag nie die genade van God nie. 21.  Hy bly in die lig van die guns van Abraham se God. Hy sien die geregtigheid van God in die sterwe van Christus. Anders sou Christus vergeefs gesterwe het.

Die keuse is: vir Christus as meer as die wet, of vir die wet as meer as Christus.

Moet ‘n tot Christus gekeerde heiden werklik die indruk kry dat mens met die God van Christus eers op die regte voet is as jy jou besny en die voedselwette hou?

Christus alleen, bely die gereformeerde kerke. Gemeente. ons soek oplossings vir ons christelike lewe met mekaar en met ander in die leer van die een Evangelie van Christus. Nie in praktiese kompromië nie. Want Christus ons Hoof, regeer sy kerk met sy Woord en Gees.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het

Groete
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen

Sing: Psalm 11:3,5

Lees van die wet

Sing: Psalm 57:1,5

Gebed

Skriflesing: 
Handelinge 10:1-6, 18-22, 25-36, 42-43
Handelinge 15:27-31

Sing: Psalm 73:11,12

Teks:
Galásiërs 2

Preek

Amenlied: Psalm 144:1,2,4

Dankgebed

Kollekte

Sing: Psalm 145:10,11,12

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed, 
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees, 
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee.

SING AMEN