God se geregtigheid in sy afgemete, doelgerigte toorn, werk verdelging van sy volk Israel maar ook heilsame uitkoms vir die klein oorblyfsel.

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-10-25
Teks: 
Jesaja 9:5 - 10:5
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

God het hom verbind aan Israel, ‘n volk wat gelaai was met ongeregtigheid. Hierdie Israel is dus Israel van God. God is die Heilige van Israel. Daarom is hulle sonde en ongeregtigheid so ernstig. Daarom is God se genade vir hulle so heerlik. Hulle staan vanwee hulle afvalligheid van God, in sy gerig. In ons teks toorn God oor hulle en straf hulle met verskillende strawwe wat Hy teen hulle aanstuur, en uiteindelik met die Assiriers as sy instrument hulle vernietig, sodat net ‘n klein oorblyfsel van Jakob ontvlug en terugkom na die Heilige en sterke God van Israel om op Hom te steun, 10:19-22.

Gemeente, deurdat God die beloofde Kind gestuur het na ons toe, weet ons Hy het ons bestem om die saligheid te verkry deur ons Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, saam met Hom lewe. 1 Tess 5:9,10. Ons is wakker, ons is van die dag, ons het die borswapen van geloof en liefde aan, ons het die helm op van die hoop op die saligheid. Omdat Hy vir ons onder die toorn van God oor ons gestaan het sodat ons in Hom veilig is en met Hom kan lewe, hoef ons nie meer onversoend voor God met ons skuld te staan nie. Maar daarom kan ons ook nie buite en sonder Christus lewe nie. Want dan staan ons voor die uitgestrekte hand van God wat toorn oor ons omdat ons nie in sy geliefde Seun glo nie.

Ons waak om nie die beeld van Christus en sy werk vir en in ons te verklein nie, maar ons stry om Christus in sy grootheid te eer, en in otmoed en skuldbesef in Hom te bly en nie sy toorn opwek oor ons sonde en ongeloof nie. Die dreiging van God se toorn is uiting van sy liefde, om sy uitverkorenes na Christus te trek, sodat Hy in heiligheid en in geregtigheid gedien word. Die liefde en toorn van God, en die samehang van sy liefde en toorn in sy verbond met ons, is onlosmaaklik in die persoon en werk van Jesus Christus. Deur Christus se ewige versoening van ons skuld, ontkom ons aan die werklikheid van God se regverdige straf oor ons.

Tema: God se geregtigheid in sy afgemete, doelgerigte toorn, werk verdelging van sy volk Israel maar ook heilsame uitkoms vir die klein oorblyfsel

Jesaja het geprofeteer: Die Here stuur ‘n woord in Jakob, dit val in Israel, vers 7.

In al die burgerlike sekerheid van die tyd, stuur die Here sy Woord soos ‘n mokerhou na sy volk, teen sy volk aan, en sy Woord land reg, Hy slaan sy volk wat hulle teenoor Hom verhef het, neer. Met die dreiging van sy toorn, en die uitvoering daarvan skud Hy sy volk. Maar .…….hulle kom werklikwaar orent. Elk keer slaan die Here in ons teks ‘n trefferhou op die sonde en skuld van die volk en elke keer staan hulle soos ‘n platgeslaande opponent weer op, soos ‘n bokser wat weier om bes te gee en die handdoek in te gooi. Bewerig ja, maar opstaan sal hulle. Keer hulle hulle nou na God? Nee. Wat het geword van hulle skuldbesef? Waar is hulle berou en bekering? Hulle lewensgevoel is die van mense wat selfgenoegsaam is, die bravade on God teen te staan, wat vir hulleself ‘n lewe maak, wat hulle eie toekoms in hulle hande het. Wat weet om aan te gaan. Maar waar is hulle Godsvertroue, hulle liefde en ootmoedige afhanklikheid van God vir hulle lewe?

God staan in sy gekrenkte liefde gereed om sy volk te straf sodat hulle sy liefde vir hulle begryp en hulle weer na Hom wend en aan sy genade as die enigste sekerheid wat daar is, vasklem. Wraak en vergelding staan in diens van sy heil vir hulle. Hy laat Hom as die Heilige van Israel ken deur sy geregtigheid. Hy bly Hom handhaaf as die Heilige wat op sy geregtigheid troon. Reeds in Jes 5:8-24 lees ons van die sesvoudige wee van God teen die onbegryplike ongehoorsaamheid en ontrou van sy volk. 5:13-16:  Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.  Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.  Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.  Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.

Die hoogmoed van die mense staan teenoor die heiligheid van God. Die begrip heilig word gebruik by die liefde en die toorn van God, en by die verlossing van sy volk, maar ook by die vergelding en vernietiging van die onberoulike. Die heilige God verdra nie die sonde nie, daarom sal Hy dit nie ongestraf laat nie. Hy wil ook sy volk heilig, geheel en al in sy diens neem…dit is sy verlossende liefde. God se toorn is die reaksie op die veragting van sy liefde deur sy volk, maar terselftertyd is dit sy ywer om ‘n oorblyfsel te red en na Hom oor te haal.
Die tyd van hierdie woord van die Here wat hulle hoogmoedige harte tref, was toe Sirië met sy hoofstad Damaskus nog bestaan het en daar redelike voorspoed was in die tien stamme van Israel met hulle hoofstad Samaria. Die Here stuur sy Woord in ons teks met Jesaja soos ‘n donderslag teen hoogmoedige Efraim. Almal sal dit gewaarword.

Daarom: Ons vind dit by herhaling en uitbreiding vier keer God se toorn is nie afgewend nie, God se hand is nog (steeds) uitgestrek 9:11, 16, 20, 10:4.

Wanneer God se Woord teen jou aankom is nie wat jy van jouself dink  beslissend nie, maar wat Hy blootlê met sy Woord, want Hy maak jou hart oop, hoe oordeel Hy oor jou? En wat is jou houding teenoor God? 

Het jy jou van hom afgekeer en daardeur het jy ‘n verwronge verhouding met Hom? Wandel jy op ‘n “afdwaalweg”? Dan het jy ook geen goeie sig op wat die Here met jou doen en op sy oordele nie. En dan het jy geen goeie sig op jou sonde nie. En dan lei jy, dwaas, ook ander op jou dwaalweg.

Wortel van die sonde in ons teks is die hoogmoed van die mens, 9:8,9. In sy handel en wandel, in sy lewe en arbeid. Dit is die mens wat homself in die plek van God aanstel en sy naaste nie ruimte gee en steun en liefhê om te leef voor God nie, maar homself verhef. 

Eiegeregtigheid en selfregverdiging is sonde. Dit openbaar dat jou trotse hart jou weerhou om jouself in die lig van God se Woord te sien vir wie jy is. Iemand sê: Ek weet dat ek foute maak. Dit pla my.  Ek voel sleg oor wat ek gedoen het. Dit is natuurlik instemming en meegevoel soek. Maar dit kan nie die oortreding goed maak nie. Droefheid oor die sonde volgens God se wil erken dat alle berou en regmaak van sonde alleen aan Hom te danke is. Deur God word die sonde vergewe en die skuld versoen. Voor God en in en deur Hom leef ons. 2 Kor 7:10: Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Rom 6:11 en 12: So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 

God se liefde vir ons en sy toorn oor ons sonde word in die Messias Kind aan ons geopenbaar, daarom word die goddelose se verwerping van sy liefde in Christus, met die ewige toorn van God gestraf. Die toorn van God bly op daardie mens wat Christus verwerp. Joh 3:36.

Die volk wou nie aandag gee op wat die Here besig was om vir hulle te ywer nie, op sy oordele nie, hulle was blind daarvoor. Hulle het gereken hulle verlies aan huis en haard kan deur hulleself deur vasbyt, en deursettingsvermoë in wins omgesit word en so het hulle hulle net meer verhard. Hulle staan self borg vir hulle voortbestaan en vooruitgang.

Hulle is trots en groot van hart, vers 8. Groot van hart is hier hoogmoedigheid, opgeblasenheid. Jouself teenoor God handhaaf. So dink jy: Ek is teen alles opgewasse. Wat ookal gebeur, niks kan my onderkry nie. Ek staan maar weer op en begin van voor af. Ek ken van aanhou, nie gaan lê nie. Ek kan selfs beter doen. So was dit in Israel.

Koning Resin, van Damaskus, van Sirië se regering is in 732 deur Tiglat Pileser van Assirië beëindig. Resin het vir Israel gehelp, nou word hy oorval. Die Arameers het Israel van voor en die Filistyne het hulle van agter oorval. Hulle eet Israel op. ‘n Golf van verwoesting het oor Samaria gegaan. Die huise in die dorpe het in puin gelê. Die stene was van ongebakte uitgedroogde klei, gemeng met strooi. So ‘n huis stort maklik inmekaar in tyd van oorlog en die stene verweer en gaan tot niet in ‘n hoop rommel, blootgestel aan wind en weer. Die dakbalke was van wildevyeboom, ‘n swaar gewig wat die kleimure laat meegee het, en die dak laat val het. So word dit die einde van die huis.

Maar die inwoners laat hulle nie onderkry nie. Tel maar julle koppe op, mense. Mens gaan lê nie sommer nie. Selfs die vyand en die aanhoudende teenslae van oorlogstyd kan ons nie onder kry nie. Ons bou alles maar weer op. En ons maak dit sommer beter. Met duursame sederhout en met mure van klip. Dit is tog mooi om nie op ‘n hoop rommel te gaan sit en vergaan nie. Maar moue op te rol en jou gesonde verstand te gebruik en jou in te span om maar weer van voor af te begin. Is dit nie tipies van ‘n nasie wat ruggraat het? Maar gemeente is dit nie ook tipies van ‘n lewenshouding waar ek myself, asof die hemel geslote is, onafhanklik van God handhaaf om bo uit te kom om te bewys dat niks my onderkry en dat ek altyd in staat is om aan die einde sukses te behaal. Terwyl dit God is wat alles in sy hand hou en bestuur ter wille van sy geliefde Seun, Jesus Christus. Wat ook my klein lewe lei. Gemeente verwag ons werklikwaar alles van God?

Maar nou - Agter die vyande staan die Here met opgehefde arm, sy hand uitgestrek. Die vyande het nie die inisiatief geneem nie. Die Here het die vyande gestuur, die Arameërs en die Filistyne, en Hy gee hulle die oorhand oor sy volk. Hy het hulle aangehits, aangepor om Israel op te eet, te verslind. Verse 10,11. Sien - die magtige golwe van die Here self het oor hulle gekom. Hy het die land geteister met hierdie vyande as sy instrumente, 10:5-27. Dit was niks anders as sy toorn oor hulle sonde. Maar sy volk se onbuigsaamheid in hulle neerdrukkende omstandighede was trotse selfhandhawing teenoor God. Weiering om hulle voor Hom te verootmoedig. 

Dit was geen onskuldige onwetenheid. Hulle het tog die Here van die leerskare, van sy Woord geken. Hy het Homself aan sy volk openbaar. Jesaja kom om die Woord wat die Here stuur te bring, dit val, dit staan vas in Israel. Dit het gekom tot die hele volk.7,8. Dit het God se toorn, sy straffende hand aankondig. Maar in hulle hoogmoed wou hulle dit nie aanhoor nie. Hulle was siende blind, horend doof.

Daarom: 11. Steeds is dit die Here se toorn, steeds is sy hand uitgestrek. Dit is verskrikking vir die goddelose. As hulle gestraf word, deur hulle huise wat inmekaar val, en die aanvalle en verwoesting van die vyand gaan oor hulle, kyk, daar kom nog meer. Mense is geneig om te dink as hulle lyding ondergaan het, dan is dit straf van God op hulle sonde, dan het hulle betaal, dan is dit nou genoeg, dan is hulle saak geskik met God, hulle hoef niks meer te vrees nie. Hulle kan nou maar weer ongehinderd voortgaan op hulle ingeslaande lewenspad.

Maar hoekom is die Here se hand steeds uitgestrek? ……Hulle moenie dink hulle het daardie hand ontsnap nie. Rekenskap word deur God gevra vir elke sonde, elke ongehoorsaamheid, weens hulle ongeloof. Daarom hulle onvermoë om aan Hom reg te doen. 

Hulle moet weet: God is werklik vertoornd op sy volk. Teen valse sekerheid van heil, en valse gerustheid van die verbondsvolk. Hulle dink hulle is onkwesbaar omdat hulle uitverkore is. Maar hulle hardnekkige afkeer van God, dit loop ‘n lyn deur hulle hele geskiedenis.

Hy roep dat hulle hulle bekeer tot Hom wat hulle slaan, en dat hulle soek na die Here van die leerskare, 12.

Dit gaan oor ‘n bepaalde lewensrigting wat mense inslaan. Is hulle vertoorn teen God oor God se toorn, of is daar by hulle berou oor hulle afvalligheid van Hom? Sy toorn kom in dreiginge. Hy stuur sy profete om die volk te leer dat hulle op God kan reken. Die Here verander nie van koers nie. Hy laat Hom nie deur die verkeerde koers van sy volk verlei om oorhaastige stappe te neem nie, of sy oë te sluit nie. Hy hou altyddeur sy doel voor oog.

God vertraag die uitvoer van sy straf aan sy volk, inhou daarvan in sy lankmoedigheid. Maar as die volk nie wil luister nie, gaan Hy verder. Hy maan en vermaan deur slae. Want 9:12: nogtans het die volk hulle nie bekeer tot Hom wat hulle geslaan het nie. Alhoewel Hy hulle geslaan het, het hulle hulle nie tot Hom gewend nie. In sy toorn het Hy sy strawwende hand steeds teen hulle uitgestrek. Hy wys hulle hier aan hoe verdorwe hulle is. Hy moet nog ‘n wond toedien. Dit is verskriklik as die mense nie op God se ernstige vermaning reageer nie. Daar is geen dankbaarheid en vergenoegdheid voor God nie….En daar is geen soeke na die Here van die leerskare om Hom te behaag nie. 

Gemeente, agter die verskriklike gebeure in die wereld staan God se toorn. Maar daarteen is weerstand. Israel sien nie God wat toorn oor hulle nie, maar hulle sien hulle vyande. Hulle vrees God nie, maar hulle skrik vir hulle vyande. Maar die heilige God is nie onbeweeglik nie. Hy toorn oor Israel omdat Hy sy volk liefhet en tot inkeer wil bring. En Hy sal ook weer die roede van trotse Assirie verbreek, want hulle is maar net ‘n instrument in sy hand.

Daarom sny die Here die kop en die stert af, 13, die oudstes en die valse profete, die leiers en die volk. Palmtak en biesie. Op een dag. Met een slag. Die leiers het die mense verlei, die volgelinge is op ‘n dwaalweg gebring. 

Die Here ontneem die volk van hulle politieke en godsdienstige leiers.13,14,15. Dit kan sien op ‘n staatsgreep, waar die koning en sy gevolg van politieke en geestelike leiers omvergewerp word. Dit kan wys op die koning en die laagste dienaar, of dit kan wys op die oudste, die kop; en die profeet, die stert. God se toorn is oor almal, alle stande en range in die samelewing, alle ampte en gawes in die kerk. 

Dit lyk na ‘n opstand van mense, maar God voltrek sy oordeel deur hierdie opstandige mense, oor die volk en sy leiers. Want die leiers was verleiers van die volk wat hulle verantwoordelik voor was, wat hulle moes lei. 15. Die onbegryplike is dat die volk bied nie weerstand nie. Hulle laat hulle op ‘n dwaalweg weg van God af lei. Die opstand en suiwering het niks goeds gebring nie. Die dwaalweg was maar vir hulle goed. Hulle was mense wat God vergeet het, vervreemd van Hom geraak het, verdorwe geraak het.16. Dit is die ergste vorm van dwaasheid of domheid om jou van God te laat weglei, van God vervreemd te raak. Dat jou lewe al minder om Hom draai en al meer om die begeertes van jou eie sondige hart. Dit is nie tekenend van lae intelligensie nie, maar van ‘n verkeerde lewensrigting. Weg van God af. Met ander woorde waardeur laat jy jou lei? Deur God, of deur iemand of iets anders? Het jou gedagtes, die begeertes van jou hart nog ‘n gerigtheid, raakvlak met die Woord van God of is dit totaal van Hom vervreem?

Verleiers in die vermomming van leiers trek die hele samelewing agter hulle aan en die mense laat hulle trek. Daarom sal die Here ook nie intree vir die weerloses en noodlydendes in die samelewing nie, almal is roekeloos en kwaaddoeners, elke mond vol van goddeloosheid. 

Israel het hulle in die dwaasheid verlustig, ten spyte van God se toorn oor hulle. Selfs die weduwees en wese, die swakkes en hulpeloses in die samelewing, wat jy kan verwag op God vertrou, omdat hulle geen hulp het behalwe vir God, het in hulle dwaasheid God geminag. Hy is daarom nie bly oor die jeug nie en Hy ontferm Hom ook nie oor die weduwees en die wese nie.16. Want hulle het hulle laat meesleep deur die verleiers van die volk.

Daarom – die Here staan voor julle in sy toorn, steeds is sy hand uitgestrek. God se toorn laat die volk wat nie na Hom wil soek nie, na Hom wil terugkeer nie, vir hulle lewe Hom nie vertrou nie, Hy laat hulle aanhoudend wegbeur, sodat God sy volk aan hulle eie goddeloosheid oorgee. 16. Alles loop skeef met die volk. Goddeloosheid en verdorwenheid kry vrye teuels. Die samelewing word in sy wortels geskud. Van ‘n ordelike sameleweing bly niks oor nie.  As alles maar kan, as alles maar verdra word, bly daar niks goeds oor nie.
God se toorn is in dit alles aan die werk. Dat dit so in die samelewing gaan, is aan God se toorn toe te skryf. Sy hand is nog uitgestrek.

Waarom sy toornige hand? Sy hand is in toorn uitgestrek want die goddeloosheid brand soos vuur. 17. Dit is asof hierdie vuur eenvoudig alles in sy pad verteer. Dorings en distels, en die digte takke van die bos. ‘n Reuse rookpilaar styg in die lug op. Profeet Jesaja val die goddeloses aan, wat gewoond was om hullself te verontskuldig deur die blaam op God te lê. Hulle wil nie erken dat God regverdig is nie, die goddeloosheid van die mense is die hout en brandstof, wat deur die toorn van God verbrand word. Dit brand verskrilik want hulle sondes is verskriklik.

Die grimmigheid van die Here van die leerskare is teen hulle gekeer. Dit is asof die hele land in vlamme staan. 18. Die goddeloosheid brand soos vuur en die volk het geword soos ‘n prooi van die vuur. ‘n Ongenaakbare samelewing. Waar elkeen hom ten koste van die ander moet handhaaf. Waar die een die ander geen leefruimte gun nie. Met ‘n onversadigbare lus om alle teenstand uit die pad te vee vir gulsige eiebelang. Verslind die ander voordat hy jou kan verslind. Nooit is dit genoeg. Byt na regs, het honger, vreet na links en word nie versadig nie, eet elkeen die vlees van sy eie arm.19. Want as jy die ander verslind, is jy in feite besig om jouself te verslind. Die samelewing raak onleefbaar, onherbergsaam. Toekomsfiksie? Nee God se toorn oor sy volk. En die deurwerking van van hulle eie ongeloof.

Wat in die plaaslike gemeenskap gebeur, gebeur ook op grootskaal in die volkslewe. Efraim en Manasse, is gedurig besig om die een die ander onder te kry en by geleentheid pak hulle saam hulle broedervolk, Juda. 20. Maar ook hierin word die toorn van God aan ons gewys, sy hand is steeds uitgestrek, Hy sal nog verder ingryp.

Voordat God se toorn in al sy felheid openbaar word, die roede uit Assirië wat die Here in sy hand hou, word ‘n wee uitgespreek, lees 10:1,2: Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe, om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.  Hoe verskriklik het die afvalligheid van die volk en sy leiers van God geword dat hulle selfs die onreg gewettig het...
 ……. Die saak wat die profeet nou in hulle midde lê, is aangrypend. Die afrekening kom en wat sal hulle kan doen wanneer uit die verte (dit wil sê uit Assirie) hewige verwoesting kom?
10:3.

Die Assiriers, wat met dood en verderf die land sal oorstroom. Hulle sal so vinnig op Israel afkom, dat dit nie moontlik sal wees om te vlug na veiligheid nie. Wat vir die leiers en die volk wag is gevangenskap en dood, 4. 

Dit kom van hulle eiesinnigheid en eiegeregtigheid, 9:7-11, en van die onreg wat hulle gewettig het, 12-16, en van die samelewing wat in chaos uitmekaarval, 17-20. Waar dit in hoofstuk 9 oor die politieke en godsdienstige leiers gegaan het wat die volk verlei het, gaan dit in 10:1,2 oor die verdenking van die regspraak. Onreg word koning. Hulle regters maak uitsprake en heillose praktyke word tot wet verhef. Dit word voorgeskryf om die volk te belas en te vermoei.

So stoot hulle die armes en hulpbehoewendes van die gereg af weg. Beroof hulle van die reg. Die weduwees word nie in hulle nood gehelp nie. Die wese word misbruik asof hulle buit is wat geplunder word. 

In so ‘n samelewing word God se reg misken. Sy geregtigheid word vertrap. En die noodlydende het niemand om na toe te gaan om reg te laat geskied nie. Die rykes misbruik die armes. Want die regters beskerm nie meer die reg nie. Wette word gemaak om die hulpelose te vertrap.

Maar so kom die regters en die verleiers teen die Here te staan. Hy hou sy uitgestrekte arm op. Hulle sal nie so voortgaan nie. Hy duld nie dat die reg en geregtigheid deur magshonger en geldhonger vergrypers verag word nie. Selfs as die armes self op dwaalwee gaan en self die toorn van God oor hulle oproep, 9:16, gee dit nie die magtiges die reg om die regsposisie van die swakkes aan te tas nie.

10:2: Wat sal julle doen op die dag van besoeking, en verwoesting wat van ver kom? Wanneer die Assiriers die land oorstroom? Na wie sal julle vlug om hulp. Waar bêre julle dan julle onregmatig verkrygde rykdom weg? 

Hulle kan net buig soos geboeides en val soos dooies. En 10:4: ondanks alles sal Hy sy toorn nie afgewend nie, sy hand is nog uitgestrek.

God neem geen genoë met alles wat sy instellings van die samelewing aantas. Daar is nie plek vir lewe en werk onafhanklik van Hom nie, daar is geen plek vir eiewilligheid en eiegeregtigheid nie, daar is geen plek vir uitinge van onreg, leuens, bedrog, hoogmoed, onderdrukking. 

Sy toorn is oor die aantasting van sy geregtigheid. Hy duld dit nie en sal dit regstel. Die onreg sal nie koning bly nie. Van die mens is niks te verwag nie. Van die mens sal geen vrede heerskappy kom nie.

Maar dank God: ‘n Kind sal gebore word, 9:5, wat die toorn van God oor sy volk se ongeloof en onreg, sal dra, en die satan oorwin sodat almal wat na Hom toe vlug, sal lewe. Terwyl elkeen wat nie op Hom vertrou en homself nie prysgee nie maar in sonde volhard sy toorn in volle mate sal ondervind sonder enige uitsig. God werk in ons teks daarna toe. Sy hand is uitgestrek. Niemand sal by God, en by sy toorn verbykom nie. Niemand sal dit vryspring nie. Sy toorn is so definitief in Christus aan ons getoon, sodat ons mag lewe met Christus wat vir ons betaal het en wat opgestaan het uit die dood.

Met Samaria en die noordelike stamme waaroor 9:7-10:4 gegaan het, het dit al slegter gegaan. Die volk het hulle nie tot God bekeer en Hom gesoek nie. Verskillende dele van die noordelike stamme is by Assur ingelyf, en wanneer Samaria later saam met Egipte in opstand teen Assur kom, word die tien stamme as koninkryk vir goed uitgewis. Samaria is verwoes, 10 en 11, en die inwoners in ballingskap weggevoer.

Die Assiriers is die roede van sy toorn, 10:5, die byl waarmee Hy kap, die saag waarmee Hy saag, 10:15.

Maar dit is die Here van die leerskare wat werk. God stuur hulle.

En dan breek die son weer deur die duister vir die godvresende oorblyfsel. 10:20 – 21: En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe. 

God se toorn en sy liefde vir sy verbondsvolk, in sy gekrenkte liefde, voer Hy sy oordeel oor die volk se onbekeerlike goddeloosheid, maar ook tot behoud van die oorblyfsel van sy volk. So behou Hy ook vir ons, gemeente. Hoe groot is sy gawe in sy Seun Jesus Christus, aan ons, sodat ook ons kan lewe?

Van hoogmoed waar jy op jouself steun, gaan dit deur die toornige God tot jou diepe val, sodat alleen God se opgehefde hand, die hand is wat jou uit die put van sonde en dood trek, sodat jy op Hom, die sterke God leer steun vir lewe en dood.

Amen.

Liturgie: 

Groet
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen.

Psalm 43:2,3,4

Lees van die Wet

Psalm 43:5

Gebed

Skriflesing
1 Thess. 5:1-11

Psalm 68:1,2

Teks 
Jesaja 9:5-10:4

Preek

Amenlied: Psalm 72:1,2,10

Dankgebed

Opneem van kollekte

Slotsang: Psalm 149:1,2,3,4

Seën: 
Die Here sal u seën en u behoed, 
die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees, 
die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee. 

SING AMEN