Christus se gemeente het reg op Geesvervulde ampsdraers

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-10-25
Teks: 
1 Timotheüs 3:1-7
Preek Inhoud: 

Vandag mag ons weer ampsdraers verkies.

Daar is vier ouderlinge wat einde van die jaar uittree.

Die kerkraad het ‘n dubbeltal afgekondig, 8 name, waaruit daar gekies kan word vandag.

Die teks vir vandag handel oor die vereistes wat daar aan ‘n ouderling gestel word.

Nou is dit nie so dat u in vandag se verkiesing moet kyk, watter van die 8 broeders aan hierdie vereistes voldoen, en dan vir hulle te stem nie.

Asof nie al 8 name aan die vereistes voldoen nie.

As die kerkraad ‘n dubbeltal stel, is die kerkraad oortuig dat elkeen van die 8 broeders aan die vereistes voldoen wat die Skrif stel.

Anders sou ‘n broeder nie op tal gekom het nie.

Die verkiesing uit ‘n dubbeltal is egter ‘n ekstra wig-en-teenwig, soos die uitdrukking lui, om te verseker dat daardie ampsdraers wat bevestig gaan word, die breë ondersteuning van die gemeente dra.

Al het die kerkraad tot die slotsom gekom dat al 8 name aan die vereistes voldoen, tog is dit nie oorbodig om weer in diepte te kyk na die vereistes wat die Skrif in ons teks stel nie.

Dit is belangrik dat elkeen in die gemeente goed daarvan op die hoogte is.

In uitsonderlike gevalle kan dit gebeur, dat die kerkraad nie alles oor ‘n broeder weet nie.

Stel dat ‘n gemeentelid vir ‘n feit weet dat ‘n broeder wat op tal is, ‘n drinker is, of ‘n vegter, of ‘n vuilgewinsoeker, soos daar in vers 3 staan, dan het die gemeentelid die reg om, mog die betrokke broeder verkies word, by die kerkraad ‘n wettige beswaar in te dien.

Dit kerkraad is verplig om dit dan te ondersoek, en dit mag daartoe lei dat die broeder dan tog nie in die amp bevestig word nie.

 

Dan is daar nog ‘n rede hoekom dit nie oorbodig is om vandag se teks te bestudeer nie.

Dit dien naamlik as ‘n aanmoediging in ons gemeente, eerstens vir die seuns en jongmanne, om hierdie eienskappe, hierdie karaktertrekke, hierdie vrugte van die Gees se werk – hoe mens dit ook mag noem – in hulle lewens te ontwikkel.

Vers 1 praat oor die verlange na ‘n opsienersamp.

Dit is iets moois om na te verlang.

Dit is iets om na te strewe, jouself van jongsaf op voor te berei.

Om hierdie karaktertrekke te hê, is ‘n geweldige aanwins vir jou lewe in sy geheel, en ook vir jou omgewing.

En tweedens, dat ouers, en ook onderwysers en kategete, bewus hierdie karaktertrekke probeer voed in hulle opvoeding.

En meer in die algemeen, vir die meisies is dit ook nuttig, as jy op soek is na die man van jou drome, die man wat altyd lief en trou vir jou sal bly, soek ‘n jongman wat hierdie karaktereienskappe het, dan maak jy nie ‘n fout nie.

 

Tema: Christus se gemeente het reg op Geesvervulde ampsdraers

 

Hierdie vereistes vir ampsdraers staan in ‘n brief wat die apostel Paulus vir Timothëus geskryf het.

Paulus het Timotheüs in die gemeente te Efese laat arbei.

Hy gee vir hierdie jong prediker instruksies, wie om as oudstes aan te stel.

Hierdie opdrag is vergelykbaar met die opdrag aan ‘n ander jong prediker, Titus, wat op die eiland Kreta gewerk het.

Ook hy moes geskikte mense vir die amp vind.

Dit is naamlik onderdeel van hoe Christus sy kerk op aarde regeer, dat Hy ampsdraers aan sy gemeentes skenk.

Hulle aanstelling is nie net ‘n menslike saak nie, dit is ‘n geskenk van Christus.

Paulus moes in elke gemeente oudstes aanstel – Handelinge 14:23.

Ons lees verder in Handelinge 20 hoe Paulus die oudstes in Efese aanspoor om te sorg vir die hele kudde waaroor die Heilige Gees hulle aangestel het.

Dieselfde geld ook vir Timotheüs.

As hy ouderlinge bevestig, is dit nie sy persoonlike inisiatief nie, maar dis die Heilige Gees wat hulle aanstel.

 

Die vereistes wat ons hier in ons teks lees, is daarom ook nie vereistes wat Paulus uit sy duim gesuig het nie.

Juis deur hierdie vereistes word duidelik dat dit Geesvervulde broeders is.

Hierdie eienskappe is voorts in lyn met die vereistes wat in die Ou Testament reeds aan oudstes gestel is.

Ook in die Ou Testament was daar oudstes, wat leiding gehad het oor die volk.

Oudstes wat in die poorte moes regspreek.

Dit wat in die Ou Testament staan – ‘n skat aan wysheid – is deur die Heilige Gees geopenbaar.

En Paulus, geïnspireer deur die Gees, gee hier instruksies vir die Nuwe Tesamentiese kerk.

Hierdie instruksies is in lyn met wat van elke Godvresende mens verwag kan word.

Maar tog is hulle nog meer spesifiek toegespits op die bekleding van die amp.

Dinge soos dat hy ‘n man van een vrou moet wees, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, dit is tipies eienskappe, vrugte van die Gees, wat van elke Christen verwag kan word.

Maar daarnaas is daar ook eienskappe wat spesifiek vir die amp nodig is, soos die bekwaamheid om te kan onderrig, asook die vereiste dat die persoon nie ‘n nuweling mag wees nie.

Daarmee word bedoel, iemand wat nog maar onlangs tot geloof gekom het, nog maar onlangs by die kerk aangesluit het.

So ‘n persoon kan baie bereidwillig en entoesiasties wees, maar kort nog die diepte van ervaring.

Ervaring in verskillende situasies wat hulle in die kerk kan voordoen.

Maar ook ervaring in sy eie lewe.

Elke Christen ken ook dieptepunte in sy eie geloofslewe, en dit tel as geloofservaring om weer daaruit op te kom.

Elke Christen struikel soms.

Geloofservaring word opgebou as mens geleer het om nie in die sonde te bly lê nie, as mens ervaar het dat God kragtig genoeg is om ons uit die sonde te laat opstaan.

 

Kom ons kyk nou na die vereistes wat hier gelys word.

Paulus begin deur te skryf dat ‘n opsiener onberispelik moet wees.

Hierdie is eintlik ‘n sambreelterm, wat alles wat nog volg, in een woord saamvat.

Onberispelik is as iemand nie in opspraak is, of onder verdenking, in terme van enigeen van hierdie einskappe wat genoem word nie.

 

‘n Opsiener moet die man van een vrou wees.

Dit wil sê, iemand wat trou is aan sy huwelikspartner.

Hierdie vereiste geld natuurlik vir elke Christenman, soos Paulus in 1 Korinthiërs 7:2 skryf dat elke man sy eie vrou moet hê en elke vrou haar eie man.

Vir ‘n ampsdraer is dit ononderhandelbaar.

 

Vervolgens moet hy nugter wees.

In Engels staan hier die woord ‘sober-minded’.

Dit is iemand met ‘n gesonde onderskeidingsvermoë.

Dis wat hier bedoel word.

 

Dan volg die eienskap ingetoë.

Sinoniem hiervoor is selfbeheersing.

Hy word nie op sleeptou geneem deur dinge nie.

Hy is baas oor sy eie mond, oor sy eie maag, ensovoorts.

Hy hak nie uit in sommige omstandighede of situasies nie.

 

Dan volg die eienskap fatsoenlik.

Dis ‘n bekende woord, maar as mens vir iemand vra wat dit presies beteken, dan sukkel mense soms om dit onder woorde te bring.

Dit is dikwels baie kultuurgebonde, wat fatsoenlik beteken.

In ‘n openbare ruimte sal blanke mense dit byvoorbeeld as onfatsoenlik beskou om hard met mekaar te gesels.

Swart mense sal dit egter juis as fatsoenlik beskou om wel hard te gesels.

Daarmee gee hulle te kenne dat hulle nie skinder nie.

As twee mense op die straat staan en praat, sal ‘n blanke nie tussendeur hulle loop nie, dit word as onfatsoenlik beskou.

Swartmense sal dit egter as fatsoenlik beskou, ook weer om aan te dui dat hulle niks het om weg te steek nie.

Maar wat beteken fatsoenlik hier in die Bybel?

Dit help om te noem dat die Griekse woord ook met beskeie vertaal kan word.

Fatsoenlik hier in Bybelse sin hou dus in dat ‘n persoon beskeie is.

Ek dink nie dit hoef verduidelik te word nie.

Ons weet almal wat beskeie is.

Niemand van ons is van nature beskeie nie, maar dit is ‘n vrug van die Gees om ‘n beskeie mens te wees.

Juis hulle wat baie kennis en ervaring in die lewe het, raak beskeie.

Dikwels is dit so dat mense met net ‘n bietjie kennis, of dalk baie kennis maar net oor een saak, nie beskeie is nie, en so in hulle jeugdige oormoed in die strik van die duiwel val.

 

Die volgende vereiste is dat ‘n ampsdraer gasvry moet wees.

Dit is ‘n eienskap wat in ons individualistiese samelewing baie onder druk staan.

Ons woon agter hoë hekke en geslote deure, en behalwe vir dit is ons skedule so oorvol dat ons nie tyd het vir mense nie, veral nie onbekende mense nie.

Die vrug van gasvryheid is egter dat ons juis tyd beskikbaar maak vir hulle wat nie ons familie of vriende is nie.

En ‘n ampsdraer behoort hierin dus ‘n goeie voorbeeld vir die gemeente te wees.

 

Nog ‘n vereiste is dat ‘n ampsdraer bekwaam moet wees om te onderrig.

Hy moet oor bepaalde didaktiese kwaliteite beskik.

Iemand wat self nouliks die Bybel met begip kan lees, laat staan dit op ‘n duidelike en eenvoudige manier aan ander kan uitlê, hoe kan so iemand vrugbaar huisbesoeke doen, hoe kan so iemand met oortuiging vertroos, weerlê of vermaan?

In Paulus se brief aan Titus word ook nog hier bygevoeg dat hy self goed onderlê moet wees in die leer van die Skrif.

Hy moet in staat wees om met die gesonde leer te vermaan – Titus 1:9.

En: “spreek jy wat by die gesonde leer pas” – Titus 2:1.

 

 

Tot dusver het Paulus ‘n aantal positiewe karaktereienskappe genoem.

Nou volg daar enkele waarskuwings:

‘n Opsiener mag nie ‘n drinker wees nie.

Ons kan hierdie verbreed na enige verslawing waarin iemand beland het.

Die krag van die Heilige Gees se werk kom juis na vore in iemand se lewe, as hy in staat is om nie verslaaf te raak aan verslawende middels nie; as hy byvoorbeeld in staat is om alkohol met mate te gebruik.

Wie die alkohol te veel ruimte gee, word ook ingetrek in ander sondes: rusies, argumente, dwase en onvanpaste optrede, onkuise gedrag en dies meer.

 

Eweneens word die werk van die Gees openbaar in iemand se lewe, as hy geen vegter is nie.

By ‘n vegter hoef ons nie net te dink aan iemand wat in die kroeg met stoele rondslaan nie.

‘n Vegter kan ook iemand wees wat al te maklik elke keer weer met ‘n ander in ‘n argument betrokke raak, wat in elke saak – of dit nou belangrik of onbelangrik is – sy eie gelyk wil haal, iemand met ‘n bakleierige temperament.

Ons kan ook dink aan iemand wat in onmin lewe, in ‘n onopgeloste konflik, met familie, of kollegas, of wie ook al.

 

‘n Opsiener mag ook nie ‘n vuilgewinsoeker wees nie.

Die Engelse vertaling het: “not a lover of money”.

Daar is baie ooreenkomste tussen geld en alkohol.

Beide behoort mens met mate te gebruik.

Maar vir beide geld dat mense maklik daaraan verslaaf raak.

‘n Geesvervulde mens weet egter hoe om geld te relativeer.

‘n Geesvervulde mens staan nie bekend as iemand wat uit alles munt wil slaan nie, soos die ou uitdrukking sê.

Ons gebruik deesdae amper nie meer munte nie, maar die bedoeling is duidelik.

‘n Geesvervulde mens het aan die een kant geen gat in sy hand nie, hy weet om goed te begroot en binne sy begroting te lewe.

Aan die ander kant is ‘n Geesvervulde mens ook vrygewig, en nie met sy geld getroud nie.

 

Dan volg ‘n eienskap wat ook ‘n goeie aanduiding gee of iemand ‘n bekwame ampsdraer sal kan wees, en dit is die vraag of hy sy eie huis goed kan regeer.

Die vraag of hy in sy eie huis ‘n gesagstruktuur kan vestig, ‘n klimaat kan skep waarin sy kinders aan hom onderdanig is, nie as slawe nie, nie met ‘n kadawerdissipline nie, maar ‘n liefdevolle onderdanigheid.

Kinders wat hulle vader sowel respekteer as liefhet.

 

As hier in ons teks die woord ‘huis’ gebruik word, dui dit in Grieks op die volledige huishouding soos dit destyds gefunksioneer het.

Dit het dikwels ook behalwe vir die gesin die slawe en die huispersoneel ingesluit.

Die man was die sogenaamde paterfamilias.

Hy was verantwoordelik vir die reëls, die besluite, die saaklike belange, die welsyn van die hele gemeenskap.

As iemand in staat was om dit goed te bestuur, dan sal hy ook vir die gemeente van God, wat ook soos ‘n hegte familie behoort te funksioneer, kan sorgdra.

Maar as die kinders hulle pa nie respekteer nie, as die pa nie oorwig oor sy kinders het nie, as die kinders hulle eie koers kies, as die pa sy eie kinders nie eers in die kerk kan bring nie, hoe sal hy die gemeente bymekaar kan hou?

As ‘n pa die doopbelofte wat hy afgelê het by sy eie kind se doop, nougeset in praktyk bring, dan is dit ‘n positiewe teken dat hy ook ‘n goeie ampsdraers sal kan wees.

 

Ons is nog nie klaar met die lys van eienskappe nie.

Die lat word inderdaad hoog gelê!

Nog ‘n eienskap is dat hy nie ‘n nuweling mag wees nie.

Ons het hieraan aandag geskenk, ek hoef dit nie te herhaal nie.

Opvallend is wel wat Paulus daaraan toevoeg: “sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.”

Hierdie rede wat hy gee, kan op twee maniere uitgelê word.

As ‘n nuweling te gou ‘n leidinggewende posisie kry, kan hy, soos die uitdrukking sê, oor die perd getel word.

Dan is daar die gevaar dat hy verwaand word.

En dit is ‘n strik wat die duiwel vir hom gespan het.

Hy val dan in daardie strik van die duiwel.

Dit is ook moontlik dat Paulus nog meer bedoel het, naamlik dat so iemand in dieselfde strik val as waarin die duiwel geval het.

Die duiwel was naamlik ook eers ‘n leidinggewende engel, in ‘n baie hoë gesagsposisie.

Maar hy het self verwaand geword, en het toe tot ‘n val gekom.

Hierdie twee verklarings sluit mekaar nie uit nie, beide is moontlik.

Beide dui daarop dat daar ‘n gevaar daarin skuil as ‘n nuweling te vinnig te veel verantwoordelikheid gegee word.

Hierdie is ‘n gevaar waarvoor mens op die sendingsveld ook bedag moet wees.

Jong broeders wat teologie begin studeer, wat baie talente het, kan soms te vinnig met te groot verantwoordelikhede opgesael word.

As ons toelaat dat dit gebeur, is ons dalk medeskuldig dat sulke broeders in die strik van die duiwel val.

 

Paulus sluit af met ‘n laaste vereiste:

Hy moet ook ‘n goeie getuienis hê van die buitestaanders.

‘n Man van integriteit sal nie net in die kerk nie, maar ook in die wêreld hooggeag word.

Dit is deurgaans die geval.

Daardie kere wat dit nie die geval is nie, is meestal die uitsondering.

Dink aan mense in die Bybel soos Josef en Daniel.

Daar was tye in hulle lewe dat hulle Godvresende lewe hulle nie in dank afgeneem is nie, al het daar later wel vir hulle eerherstel gekom.

In ‘n stad soos Efese, waar Timotheüs gearbei het, was daar daagliks interaksie tussen die Christene en die nie-Christene.

En geld dit nie ook vir ons hier waar ons woon in Pretoria nie?

Iemand wat betroubaar is in sy beroepslewe, iemand wat ‘n man van sy woord is, iemand wat orals waar hy kom, bekend staan as ingetoë en nie verslaaf aan iets nie, en nie geldgierig nie, so iemand sal outomaties in die samelewing ook bo begin dryf, soos die uitdrukking sê, en ook in die samelewing waardeer word, ja ‘n ankerpunt vorm.

Ook in die samelewing sal so iemand nie verag nie, maar hooggeag word.

Maar as iemand ‘n slegte reputasie in die samelewing het, hoe kan hy dan in die gemeente ‘n ampsdraer word?

Dan sal nie net hy nie, maar ook die gemeente, ly onder sy bedenklike reputasie.

Veral as mens in ag neem dat die gemeente van Christus ‘n baken behoort te wees in etiese opsig.

As die ouderlinge egter nie eties onberispelik is nie, dink net hoe vinnig die wêreld met die kerk sal begin spot.

 

 

Tot sover, gemeente, die lys van eienskappe, vereistes, wat Paulus vir ‘n opsiener, ‘n ouderling stel.

Weer eens, dis nie ‘n lys wat Paulus uit sy duim gesuig het nie.

As apostel was hy geïnspireer toe hy dit opgeskryf het.

In lyn met die vereistes wat daar reeds in die Ou Testament was, hou hy hierdie lys voor ook vir die volk van God van die Nuwe Testament, die gemeentes van die Here Jesus Christus, nie net daardie gemeentes wat hy gestig het nie, ook die gemeentes waar Timotheüs en Titus gearbei het, ja vir alle gemeentes van die nuwe bedeling.

En so is vandag in 2020 hierdie lys met vereistes nog steeds vir ons rigtinggewend, as ons vandag weer saamkom om ampsdraers vir die komende ampsperiode te verkies.

Hierdie lys van vereistes stel die standaarde hoog.

En dit is met goeie rede, soos Calvyn skryf in sy kommentaar op ons teks:

Dit is nie ‘n ligtelike saak om verteenwoordiger van die Seun van God te wees, om so ‘n gewigtige amp te beklee, om die koninkryk van God uit te brei, om te waak oor die redding van die siele wat die Here vir homself met sy eie bloed gekoop het, om die kerk te regeer, wat God se erfenis is nie.

 

Nou kan ek my voorstel, as ek een van die agt broeders is, wie se name vanoggend voor die erediens afgekondig is, dat ek by die aanhoor van al hierdie vereistes, in my skulp sou wou kruip.

Want regtig, om eerlik te wees, al hierdie vereistes in ag genome, klink dit asof iemand volmaak moet wees voordat hy ‘n ouderling kan word.

Hierdie lys van vereistes sal mens sommer ‘n minderwaardigheidskompleks gee.

Nou hoef hierdie agt broeders, en dit geld net so vir ons ampsdraers wat reeds aan diens is, ons hoef gelukkig nie oor onsself te oordeel nie.

Ons kan maar beskeie bly.

Uit eie krag is ons inderdaad nie in staat, en voldoen ons nie aan hierdie lys vereistes nie.

Terselfdertyd is dit wel so dat die Heilige Gees ‘n goeie werk in ons lewens begin het.

Soos Paulus oor homself skryf in 2 Korinthiërs 3:5: “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God”.

Dit is ‘n feit dat die kerkraad en die gemeente die vrugte van die werk van die Gees in ons lewens opmerk.

Dit is nie iets wat ons verwaand maak nie, maar wel diep dankbaar dat die Heilige Gees dit wel gedoen het en steeds doen.

En ook maak dit ons gewillig om hierdie gawes, wat die gemeente in ons opmerk, gewillig en diensbaar aan te wend tot die opbou van die gemeente.

Ons mag selfs daarna verlang, soos daar in vers 1 staan, om in die opsienersamp te dien.

Dit is sy werk in ons, wat ons graag uitdeel.

En nou mag ons dankbaar en gewillig daardie gawes ook gebruik in diens van die gemeente.

Want, soos die tema van die preek sê: Christus se gemeente het reg op Geesvervulde ampsdraers

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 93:1,2

Wet

Ps 79:5,6,9

Gebed

Skriflesing: 1 Timotheüs 3 & Titus 1:1-9

Sb 49:5,6

Teks: 1 Timotheüs 3:1-7

Preek

Ps 96:6,7

Gebed

Kollekte

Ps 93:3,4

Seën