Die geheim van my heilige lewe

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-10-18
Teks: 
Hebreërs 2:11
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van ons Jesus Christus,

Afgelope Dinsdagaand het die ouderlinge vergader om te rapporteer oor die huisbesoeke wat hulle gedurende die laaste maand en ‘n half gebring het. Vlak 1 van die grendeltyd bied gelukkig weer meer moontlikhede vir huisbesoeke; dus, daar was heelwat besoeke om te rapporteer. In verskeie gevalle moes die ouderlinge egter terugvoer gee dat gemeentelede nie kon onthou wat die jaartema was nie. “Die geheim van my heilige lewe” (die jaartema, terloops) het, so lyk dit vir my, helaas ‘n geheim gebly – selfs ná ‘n reeks preke oor Paulus se brief aan die Kolossense en die praktiese uitwerking daarvan in die Tien Gebooie.

Nou, dit kan natuurlik gebeur. Dis nie asof almal van ons daagliks, of selfs weekliks met die jaartema besig is (soos byvoorbeeld die ampsdraers) nie; dis ook nie asof die jaartema in elke preek so duidelik herkenbaar is nie [hoewel, die jaartema word wel in elke “Van Huis tot Huis”-blaadjie asook in die “Mededelingsblad” afgedruk – dus, jy kan dit daar vind]. Maar goed, wat die geval ook al mag wees, hierdie terugvoer van die ouderlinge het my laat besluit om, nadat ons verlede week die behandeling van die Tien Gebooie klaargemaak het, nog eenmaal die jaartema samevattend te behandel. Uiteraard voordelig vir jou wat nog geen huisbesoek ontvang het nie – jy is nou voorbereid vir wanneer die ouderling jou oor die jaartema gaan uitvra. Maar uiteindelik is dit voordelig vir elkeen van ons, want ons kan nie genoeg aan hierdie geheim herinner word nie. “Die geheim van my heilige lewe” is nie een van daardie geheime waaroor ‘n mens moet stilbly omdat dit nie verklap mag word nie. Nee, hierdie is ‘n geheim waaroor ‘n mens juis móét praat, want dit bly altyd ‘n geheim, dit bly altyd ‘n misterie, iets waarmee ons ons lewe lank moet worstel – en daarom vra hierdie geheim om elke keer maar weer verkondig te word.  

 

En dit is wat ek vanoggend nogmaals wil doen. Ek gaan dit eenvoudig probeer hou. Vir sommige dalk te eenvoudig, vir ander dalk ‘n herhaling van wat ons reeds gehoor het. Maar kom ons worstel saam met hierdie geheimenis. Ek verkondig dus aan u ‘die geheim van my heilige lewe’ – dit is die tema vir die prediking vanoggend...

 

Gemeente, kom ons probeer dit prakties en konkreet maak: hoe werk die heiliging dikwels in die praktyk van ons lewens? En uiteraard gaan ‘n mens hier ‘n bietjie moet veralgemeen, maar ek dink dat as ons almal eerlik is, ons hierdie beskrywing sal herken in ons eie lewens. Dikwels werk dit so dat ons, byvoorbeeld, in die kerk sit en die wet word gelees, of daar is ‘n vermaning in die preek wat ons aanspreek op sekere sondes in ons lewens... Of die ouderling besoek my, of ek het ‘n gesprek met iemand – en ek besef dat daar dinge in my lewe is wat nie reg is nie... En wat gebeur dan? Dikwels ervaar ons dan in ons harte die hartseer, en daarmee saam die voorneme om ons lewens te verbeter. Ek wil my bes doen om teen daardie sonde te stry, ek wil my lewe verander. Ek is vas van plan om my lewe te heilig, en ek vra daarvoor die krag van die Heilige Gees.

Is dit nie dikwels hoe ons dink oor die heiliging nie? Die heiliging van ons lewe is, as ‘n bewys van dankbaarheid vir die verlossing, ons verantwoordelikheid. En soos ek in vroeëre preke verduidelik het, het dit te make met hoe ons kyk na die totale verlossing. Met die driedeling van die Heidelbergse Kategismus (ons ken mos die driedeling: ellende, verlossing en dankbaarheid) in ons agterkoppe, sien ons die verlossing dikwels as verskillende fases wat mekaar chronologies opvolg: eers moet daar die sondebesef wees, daarna – wanneer ek met daardie sondebesef myself voor die Here verootmoedig – word ek deur die werk van Jesus Christus aan die kruis van my sonde verlos (dit is, wat ons noem, die regverdiging – en dít is volledig Christus se werk), maar ten slotte is daar ook my verantwoordelikheid om aan God my dankbaarheid te bewys vir die verlossing – en dít doen ek deur heilig te lewe (of in elk geval, te probéér lewe). Dit is dikwels hoe dit in ons gedagtes leef, nie waar nie? Die heiliging is ons reaksie op die verlossing deur Jesus Christus. Ja, vir ons is die heilige lewe dikwels glad nie so ‘n geheim as wat die tema van die preek suggereer nie. Nee, dis mos redelik duidelik: uit dankbaarheid vir die verlossing word ons geroep tot ‘n heilige lewe. En ons doen dit natuurlik met die krag van die Heilige Gees, maar tog is dit óns verantwoordelikheid...

 

Maar luister nou na ons teks uit Hebreërs 2. Hebreërs 2 – soos ‘n groot deel van die Hebreërbrief, maar hier in besonder – gaan oor Christus se Hoëpriesterlike werk. En die skrywer roep sy lesers op om nie van hierdie Christus af weg te drywe nie (2:1). Die Hebreërs was naamlik besig om terug te keer na die Ou Testamentiese erediens – na die nakoming van allerhande rituele en insettinge, en selfs offers. En dan wys die skrywer vir hulle dat die groot saligheid, wat eers deur die Here Jesus verkondig is en daarna deur die apostels bevestig is (2:3), hiermee op die spel geplaas word. Hy wys hulle dus op die evangelie, om daarmee te sê: die saligheid is slegs by Jesus Christus! En dit geld die vólle saligheid, die hele verlossing – ook die heiliging! Want kyk maar wat sê die skrywer vir ons in vers 11: “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een.” Hoor u dit? Christus maak heilig! En wie is dit wat geheilig wórd? Wel, die tweede deel van vers 11 praat van sy broeders; vers 12 praat van die gemeente. Vers 16 praat van die geslag van Abraham waaroor Christus Hom bekommer – dit is dus die gelowiges. Christus is die Een wat heilig maak, en ons (die gelowiges) is diegene wat geheilig word.

Dit is dus nie ek wat my lewe heilig maak nie; dit is nie ek wat aan die werk moet spring en my lewe moet verbeter nie. Die aktiewe, handelende Persoon is Christus; Christus is my Heiligmaker. En let goed op hoe dit hier gestel word: hier staan nie slegs dat Christus my heiligheid is nie (hoewel dit ook waar is), maar dat Hy my Heiligmaker is, die Een wat my heilig maak. Die hele pad van heiliging – daardie lewenslange proses wat ons almal hooplik ken, om treetjie vir treetjie te vorder (een dag meer as die ander) sodat ons meer en meer na die beeld van ons Here vernuwe word, totdat ons uiteindelik sonder sonde sal wees – daardie hele pad is Christus se werk. Die verlede van my heiliging, die hede van my heiliging, en die toekoms van my heiliging is Christus se werk! Hy maak my ons heilig (Hy is die aktiewe, handelende Persoon), en ons (die gelowiges) wórd geheilig (ons is passief, ons ondergaan / ontvang die heiliging).

 

Dat Christus verantwoordelik is vir die hele heiliging (verlede, hede en toekoms), word pragtig vir ons bevestig wanneer ons ‘n bietjie verder deur die brief aan die Hebreërs blaai. Blaai saam met my na Hebreërs 9:13 en 14: “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” In die Ou Testament het die bloed van stiere en bokke reiniging gebring. Maar slegs ‘n uiterlike reiniging. Dit het nie werklik die lewe – die harte – verander nie. Maar die bloed van Christus, sê die Hebreërs-skrywer, sal julle gewete reinig. Met ander woorde, julle hele bestaan en denke word verander, om die lewende God te dien. Hier staan dit dus baie duidelik: die bloed van Christus sal julle reinig / heilig, sodat julle God sal dien. Dit heilig julle nou, en vir die toekoms.

Ons blaai nog ‘n bietjie verder, Hebreërs 10:10: “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” Dit het gebeur, eenmalig (aan die kruis). Jesus Chrstus het my heiliging reeds volbring. Jy en ek is geheilig, eens en vir altyd. Die heiliging verwys hier na hede, verlede en toekoms.

 

Ons sien dus, broers en susters, dat elke deel van my heiliging – die verlede (dus, die aanvanklike heiliging), die hede waarin ons nou lewe (dus, die daaglikse proses van my heiliging), en ook die toekoms (die vervolmaking van my heiligheid by die wederkoms) – elke deel is deur Jesus Christus volbring. Daarom, as jy wil praat oor die heiliging van jou lewe, dan is die Persoon en werk van Jesus Christus onmisbaar. Dit wat God van jou vra, is deur Hom gebring. In Christus is alles reeds gedoen. Ek kan nie met die heiliging van my lewe besig wees sonder Christus nie. Elke deel van my heiliging – hede, verlede en toekoms – het Hy volbring. Sodat Paulus in daardie besondere vers in 1 Korinthiërs 1:30 kan sê: “Maar deur Hom (deur God) is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” Christus is die verpersoonliking van God se alwyse plan om mense te red – en dít het nie slegs betrekking op my regverdiging en my verlossing nie, maar ook op my heiligmaking. Die geheim van my heilige lewe is Christus! Of soos Paulus dit verwoord in 1 Timotheus 3:16: “... die verborgenheid van die godsaligheid is groot...” Die verborgenheid (die geheim) van die godsaligheid (van ‘n heilige lewe) is groot – dubbelpunt... En wat is dan die geheim? Jy moet werk? Jy moet jou lewe agter mekaar kry? Staan op en ruk jou reg? Nee! Die verborgenheid van die godsaligheid is groot – dubbelpunt: “God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.” Is dit nie verstommend nie? Paulus praat hier oor die geheim van my (en elke gelowige) se heilige lewe, en hy sê nie een keer wat ék moet doen nie. Ek word nie eens genoem nie! Maar in elkeen van die frases wat soos ‘n geloofsbelydenis opmekaar gestapel word (is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid) klink elke keer een Naam: Jesus Christus.

 

En hiermee, broers en susters, moet ons worstel. En ek sê spesifiek: ons moet hiermee worstel, want dit gaan teen ons grein in. Worstel hiermee! Ja, dis waar, die wet wat ons Sondae lees, wys vir ons ons sondes. En ja, die prediking gaan jou soms vermaan oor dinge in jou lewe wat nie reg is nie. En dalk gaan die ouderling of jou ouers of ‘n onderwyser of ‘n vriend jou wys op iets wat moet verander. Die vraag is: wat doen jy wanneer dit gebeur? Wat doen ons wanneer ons, in voorbereiding op die nagmaal oor enkele weke (as die Here wil), na ons eie lewens kyk en besef dat daar nog baie daarin ontbreek? Spring jy dan aan die werk? Begin jy met hernude ywer om jou lewe te heilig ... omdat jy so dankbaar is vir die verlossing wat Christus bewerk het? Dit is, helaas, dikwels ons reaksie.

Maar dit is nie wat die Skrif ons leer nie. Die brief aan die Hebreërs (in samehang met die ander Skrifgedeeltes wat ek aangehaal het) leer ons dat Christus gesterf het, sy bloed gestort het, nie net vir ons regverdiging nie (dus, nie net dat die verhouding met God weer reg is nie); nee, Hy het gesterf vir ons regverdiging én vir ons heiliging: “Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit een.” Werk hiermee, broers en susters, worstel hiermee, sodat ons heiliging nooit ‘n nuwe las sal word nie. Ons is so gou om die Roomse Kerk daarvan te beskuldig dat hulle verlossing deur goeie werke verkondig, maar hoe dikwels het die heiliging by ons ‘n goeie werk geword? En die redenasie is baie eenvoudig: Christus verlos ons deur sy werk aan die kruis, ons glo dit, maar (ons weet mos!) geloof kan nooit sonder werke van dankbaarheid bly nie... dus... Jy sien, daar het jy dit nou: só word die heiliging ‘n nuwe werk, ‘n nuwe juk, ‘n nuwe las. Nee, die heiliging moet altyd evangelie bly – goeie nuus! En glo my, dis nie goeie nuus as ek vir my heiliging verantwoordelik is nie. Maar dis wonderlike nuus as Christus vir my heiliging sy bloed gestort het, en dit is wat die Hebreërskrywer verkondig: dit is Christus wat heilig máák, dit is ek wat geheilig wórd!

-----------------

Ja, goed, maar die Bybel praat mos ook van goeie werke? Ons word mos geroep om goeie werke te doen, ons word mos geroep om ‘n heilige lewe te lei? Ons word geroep! As jy hierdie soort vrae stel, is jy gedeeltelik reg. As álles Christus is, as my hele heiliging deur Hom bewerk word (soos ons hierbo gesien het), dan beteken dit nie dat ons skielik – soos die Dordtse Leerreëls dit noem – “stokke en blokke” word nie. Ons word nie robotte in wie Christus ‘n ‘chip’ inplant (sê maar, die heiligheid-‘chip’) sodat ons heilig begin lewe nie. Nee, ons bly volledig mense, en die goeie werke wat ons doen, word werklik deur ons gedoen. Maar nou moet ons mooi oplet: die feit dat die goeie werke deur ons gedoen word, maak dit nog nie óns goeie werke nie; die goeie werke wat ék doen, maak dit nie my goeie werke nie. Dit mag dalk vreemd klink, maar kom ek verduidelik...

Ons het saam gelees uit Efesiërs 2. ‘n Pragtige gedeelte wat vir ons wys dat ons, wat eers dood was deur die misdade en die sondes, deur God lewend gemaak is saam met Christus (vers 5). Uit genade is ons gered (vers 8). Deur die geloof – en die oomblik as Paulus hierdie laaste skryf (deur die geloof), dan voeg hy blitsvinnig by: en onthou, geloof is ‘n gawe van God. En dán sê Paulus in vers 9: “ook nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Ons word nie gered deur ons werke, deur ons werkstukke nie; inteendeel, sê Paulus in vers 10, ons is Gód se werkstuk; ons is God se kunswerk. Dit laat ‘n mens dink aan die beeld van die Pottebakker wat met die klei pragtige voorwerpe maak. God het ons in Christus tot pragtige kunswerke geskep, kunswerke wat goeie werke kan doen. Dus, ja, ons doen goeie werke; ons móét goeie werke doen – dis hoe God ons gemaak het. Maar nou kom die kruks (die tweede helfte van vers 10): hierdie goeie werke – wat ons gemaak is om te doen – het God vantevore alreeds voorberei, sodat ons eenvoudig daarin kan wandel.

 

Net soos wat ons in Christus geskape is, so is ook die goeie werke – die heilige lewenswandel – in Christus voorberei. Ons hoef dus nie die goeie werke uit te dink nie; ons hoef hulle nie te skep nie; ons hoef hulle te realiseer, asof óns die kunstenaars is nie. Nee, God is die kunstenaar! Al wat ons hoef te doen is om eenvoudig te wandel in dít wat Hy reeds gemaak het.

Dink aan ‘n klein kind wat vir sy pa ‘n geskenk gee op sy verjaarsdag. Daardie klein kind kan nie winkel toe gaan om die geskenk te koop nie – dit doen sy ma vir hom. En selfs al gee hy ‘n paar rand vanuit sy spaarpotjie vir daardie geskenk, is dit nie sy geld nie. Dis nie geld wat hy self verdien het nie – nee, sy pa en ma het dit vir hom gegee. En ja, dit is waar, wanneer die verjaarsdag aanbreek, dan gee die kind die geskenk vir pa – dit is werklik die kind se geskenk, en sy pa is werklik bly daaroor. Maar daardie kind kan die geskenk slegs gee omdat sy ouers dit vooraf moontlik gemaak het. En só gaan dit ook met ons goeie werke. Ons doen hulle sélf; dit is werklik goeie werke wat deur óns gedoen word. Maar ons kan dit slegs doen omdat God dit vooraf moontlik gemaak het. God het alles in plek gestel, God het elke goeie werk vooraf gereël. In Christus Jesus. En ons moet eenvoudig in daardie goeie werke wandel.

Paulus se lesers het vroeër gewandel in die misdade en die sondes (kyk maar na verse 1 en 2 van Efesiërs 2). Maar God het ingegryp. Hy het ‘n nuwe lewenspad aangelê, die smal pad wat na die ewigheid lei, waarop die goeie werke een vir een alreeds neergesit is; die goeie werke lê gereed op hierdie pad. En die pad is Christus – die weg, die waarheid en die lewe. Gaan na Hom, wandel met Hom, lewe met Hom, volg Hom. En daardie weg, Jesus Christus, lê besaai met goeie werke – vir ons om te doen.

-------------

Broers en susters, die gedagte met hierdie preek – en met die jaartema – is nie om die talle oproepe wat ons in die Skrif vind om gehoorsaam te wees, om goeie werke te doen, om God se gebooie te volg, ensovoorts, eenvoudig te ignoreer nie. Ons gooi ook nie God se oproep “wees heilig, want Ek is heilig” weg nie. Maar ons moet weet dat daar in al hierdie oproepe ‘n geheim skuilgaan – ‘n geheim wat lynreg teen die wêreld se gedagtegang ingaan. Die wêreld sê: jy kan! Die wêreldse sielkunde sê: ek is sterk, ek het krag in myself. Die wêreldse reg sê: jy moet, anders gaan jy tronk toe. Maar die Skrif leer ons: wandel met Jesus Christus. As jy dít doen, dan is jy op die pad waar die goeie werke alreeds gereed lê. En dit beteken nie dat daar nie stryd gaan wees nie, dit beteken nie dat ons soms gaan struikel en weer in sonde gaan val nie. Maar gaan elke keer weer terug na die weg, Jesus Christus.

En as jy weer aangespreek word deur die wet, wat ons Sondae lees, of as daar ‘n vermaning in die prediking is wat relevant is vir jou, of as jy deur gesprekke agterkom dat daar dinge in jou lewe is wat moet verbeter... – dan is die geheim nie om aan die werk te spring nie. Dis nie ‘n geheim nie – immers, die hele wêreld doen dit: ek kan, ek wil, ek sal! Nee, gaan in geloof en gebed na jou Verlosser, jou Heiligmaker, soek Hom ywerig. En wandel dan saam met Hom (jou hand in syne) en deur die krag van sy Gees in die werke wat Hy reeds voorberei het. En weg is dan die las, die las wat jou heeltyd druk: ek moet, ek moet, ek moet. Nee, dit maak ons nie onverskillig nie: ag, dit maak nie eintlik saak nie. O nee. Die teendeel is eerder waar, soos wat ons bely in Sondag 24 van die Kategismus: “Dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.” Daar het jy dit weer: Christus. Hy is die geheim van my heilige lewe.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 113

Wetslesing (+ HK, Sondag 40)

Sing Ps. 35:7, 9, 10 en 12

Gebed

Doopsbediening: Nelmarie Hordijk

  • Lees formulier + vrae
  • Doopsbediening
  • Dankgebed
  • Sing Skr. 14:1 en 2

Lees:    Efesiërs 2:1-10

            Hebreërs 2

Teks: Hebreërs 2:11

Preek

Amenlied Skr. 2:3 & 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 33

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.