Jesus het ons ryk gemaak met genade

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-06-21
Teks: 
Efésiërs 1: 7-8
Verwysing: 
Serie: Efésebrief #3
Preek Inhoud: 

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,”

Jesus het ons ryk gemaak met genade
1 -    Jesus het die losprys vir ons betaal
2 -    Die rykdom skitter in jou lewe

1    Jesus het die losprys vir ons betaal

1.1    Inleiding

’n Hele ruk gelede het pirate by Somalië ’n nuwe inkomstebron gevind: hulle het vragskepe gekaap en hoë losgeld geëis. Net wanneer 20 miljoen Euros vir ’n skip betaal is, het hulle dit met die bemanning saam laat gaan. Met die geld kon hulle wapens koop, en meer skepe kaap.

Naderhand het die Amerikaanse marine die gebied begin patrolleer en die kapings het afgeneem.

Losgeld – dit word betaal om iemand vry te koop. In Somalië was die losgeld aan misdadigers uitbetaal wat die skip op ’n onregmatige wyse (teen die wil van die eienaars) gekaap het.

1.2    Ons is losgekoop

Vandag lees ons dat Jesus ons losprys betaal het. 

Maar ons was nie onwillige slagoffers nie. Ons het self gesondig en slawe van sonde en dood geword. Ons was onder Gods oordeel.

Dit is die volgende van die seëninge wat gelowiges in Christus ontvang (na die uitverkiesing, die aanneming tot kinders van God, en die ons nuwe lewensdoel: om sy lof te sing).

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade...”

Verlossing: eintlik ‘loskoping’. Jesus het die losprys betaal om ons vry te maak! 

1.3    So bekend!

Jesus het vir ons sondes gesterf. Dit is die mees bekende deel van die hele Bybel.
Ek kan nog onthou dat ek in 1997 met sendingwerk begin het, en dat ek verbaas was dat daardie goeie nuus wat ek wou bring, al klaar bekend was.

‘Ja, sure, Jesus het vir my sondes gesterf!’

Ek het gewonder: wat maak ek hier?

Gedurende die volgende 23 jaar was ek besig om die diepte van daardie woorde vir ongelowiges en gelowiges te verduidelik en ook self te ontdek.

Wat Paulus sê in v.7 is só bekend dat ek gewonder het of ek dit nie maar moet oorslaan nie. Wat kan ek nog daaroor sê wat julle nog nie gehoor het nie?

Maar hierdie waarheid kom steeds weer terug in die Bybel, in die Ou en Nuwe Testament. Nooit het Moses of Jesus of Paulus dit as bekend veronderstel en daarom as onnodig verswyg nie. Steeds weer kom dit terug, in nuwe kleure, met nuwe klanke, met groter diepte.
(voorbeeld: in ’n musiekstuk steeds weer kom dieselfde tema terug. Dink aan ’n Kantate van Bach of ’n simfonie van Beethoven.)

Hoekom? (ek kan dink aan tenminste 3 redes)

  • Dit is so vreemd vir ons dat ’n ander vir ons sterf (en ons menslike hoogmoed kan dit nie aanvaar nie).
  • Dit is só belangrik dat ons die prys vir ons vryheid sal waardeer, raaksien.
  • Dit is só diep dat God sy eie Seun gegee het om ons, ons hele bestaan, en sy hele skepping te red!

Wanneer jy die verlossing deur sy bloed vergeet, raak jy weer in die sonde en dood verstrik.

Wanneer jy die waarde daarvan onderskat, raak genade goedkoop en misbruik jy dit.

Dan verdraai jy die regverdiging van die sondaar tot sy teenstelling: die regverdiging van jou sonde - en jy gaan aan in die sonde, aan die slaap gesus deur valse gerustheid.

Dis wat op die spel staan: of jy uit genade ’n heilige lewe wil leef of dat jy die genade goedkoop maak.
(lees meer hieroor by die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer: The Cost of Discipleship (NL vertaling: Navolging).

1.4    Beelde en simbole wat help om dit te onthou

God het heeltyd herinneringstekens en simbole gegee, sodat Israel en ons altyd sou onthou dat vergewing kosbaar is.

  • Elke jaar was daar die Pasga om die bevryding na 480 jaar slawerny in Egipte te onthou en te vier.
  • Elke week was daar ’n sabbat om aan die vryheid te dink en God te eer as hulle eienaar.
  • Levitikus 6 wys vir ons dat God voldoening eis wanneer iemand teen sy naaste gesondig het. Die persoon wat sy naaste bedrieg (met woorde of deur sy besitting te steel) het ontrou gehandel teen die Here! Dit was ’n duur proses om met sy naaste versoen te word: hy moes die gesteelde goed + 20% terugbetaal, én hy moes, om met God versoen te word, ’n ram sonder gebrek offer. So het God sy volk geleer: die prys vir versoening is hoog.
  • Dan was daar die reinheidswette: God het hulle daagliks daaraan herinner dat sonde onrein maak, dat God heilig is, en dat hy hulle rein en aanvaarbaar vir hom maak.
  • Tenslotte het die eindelose stroom van bloed van die offerdiere deur die ewe die pad gewys na Christus, wat sondaars met die heilige God versoen.

Die versoening deur voldoening / terugbetaling in die wet van Moses klink op die agtergrond van Paulus se woorde: 

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade…”

In die Nuwe Testament word dit net meer intensief.

Nou ontdek ons, dat die prys nóg hoër was as wat ons ooit gedink het. Christus self stort sy bloed uit, gee sy lewe om vir ons versoening te bewerk.

Die kosbaarste in die hele wêreld – die bloed van God se Seun, wat onskuldig was – is die prys vir ons lewe.

Onthou dit!

Moenie die sekerheid van die versoening verwar met vanselfsprekendheid nie.

Moenie dink ‘ag, natuurlik’ en aanbeweeg nie.

Verwonder jou!

Raak beindruk met sy liefde vir jou. Dis vir ons onverstaanbaar diep.

1.5    Die Vader en die Seun

Nie net die Seun van God het die prys betaal nie.

God die Vader het ook ’n offer gebring: Hy het sy eie Seun oorgegee in die dood en godverlatenheid, onder die ewige straf wat ons verdien het. Die Vader bly nie op ’n afstand nie, soos ’n regter wat net die wet toepas.

Die heilige God wat die skuldeiser is, het die belediging teen sy majesteit en die skuld wat ons veroorsaak het, op sy eie Seun gelaai.

Die liefde van God skitter hier!

1.6    Hoe sien ons die waarde van die losprys op die regte manier?

Hoe onthou ek die prys wat Jesus vir my betaal het?

Hoe doen ek dit prakties in my lewe?

Gaan in jou hart na: hoe vra ek vergewing vir my sondes? Sien ek my sondes nog raak? Erken ek hoe ernstig hulle is? Weet ek hoe onmerkbaar ek terugkerende sondes kan begin aanvaar en wegpraat, pleks daarvan om daarvoor vergewing te vra?

God herinner ons so baie aan die offer van Christus, sodat ons houding teenoor sonde en vergewing sal verander. Ons het nodig om die hoë prys wat Jesus betaal het - sy lewe! – te onthou, dit te besef.

Daarvoor het Jesus mos ook die nagmaal gegee:

“Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. (Mt26; 1983 vert.)

Ons kan die sekerheid van vergewing misbruik, soos die seun van ’n suksesvolle besigheidsman, met die kredietkaart van sy pa in hande, dink: ‘Ag, daar is genoeg geld, ek kan maar spandeer.’ (Omdat hy nie daarvoor gewerk het nie, sien hy nie die waarde van geld nie.)

Moenie dink ‘ons het vergewing van sondes, dus die sondes wat ek nog gaan doen, is al klaar vergewe nie (dan maak sonde vir jou nie meer saak nie).

Nee.
Dink daaraan dat Jesus die losprys vir jou lewe betaal het met sy eie bloed. Onthou die hoë prys wat hy betaal het om vergewing vir jou te skenk!

Dis 3 eenvoudige woorde: ‘deur sy bloed’ – maar die liefde van God, die dood van Jesus, en die hele plan van verlossing klink daarin deur.

Bely nederig jou sondes bely en kyk vol verwondering na die hoë prys wat Jesus betaal het. En dan, wanneer jy met ’n gebroke hart na Jesus toe kom, klink hierdie woorde soos musiek in jou ore: 

“ons het die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade…”

Dit maak jou vrymoedig, sodat jy vol vertroue tot hom bid. Dan sal jy die sekerheid van die vergewing ontvang. En die blydskap van Christus woon in jou hart.

2    Die rykdom skitter in jou lewe

2.1    Nóg ’n seën

Daar is nóg ’n seën wat die uitverkorenes ontvang deur die bloed van Jesus. Ons lees nou v. 8:

“na die rykdom van sy genade, (8) wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand.”

Die eerste woord = wysheid/kennis wat jou bekwaam maak.

Die tweede woord = wysheid wat vorentoe kyk, verstandige beplanning.

Ek dink in v. 9 begin ’n nuwe gedagte (“Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak...”)

v.8 is die afsluiting van v. 7. Wysheid en verstand is dan seëninge wat ’n bewys is van die genade van God in jou lewe.

Die rykdom van God se genade word baie duidelik sigbaar in die seëning van hierdie twee dinge: wysheid en verstand. Dit begin in ons lewe wys. Ons lewens verander daardeur.

Paulus bid gereëld in sy briewe dat Christene mag groei in kennis en die verstaan van die liefde van Christus, in fyngevoeligheid en onderskeidingsvermoë. Hierdie dinge word sigbaar in hoe ons op aarde leef.

Sondaars kan net slaafs en dwaas hul sondige begeertes volg en maar net maak waarvoor hulle lus is. Sonder Christus het ons dit ook gedoen.

Maar nou loop die genade van God oor, dit word oorvloedig sigbaar in wysheid en verstandigheid.

Eerstens is daar die verstaan van die geestelike seëninge. Jesus het in Mt11,25-26 sy Vader gedank dat hy dit vir die wyse mense weggesteek het, maar aan kindertjies bekendgemaak. Nederigheid is die sleutel om die deur van kennis oop te sluit. Dis net die uitverkorenes wat dit ontvang.

Wie Christus ken en hom as sy dissipel volg, kyk met nuwe oë na die begin en die doel van sy lewe, en hanteer die dinge van die wêreld op ’n radikaal ander manier. Jy hou op om vir jouself te lewe en om die aardse dinge na te jaag. Dit maak jou tevrede met mooi dinge wat gebeur en wat jy ontvang; jy is dankbaar en mededeelsaam. 

En jou nuwe hantering van aardse dinge wys veral wanneer jy hulle verloor: wanneer selfs jou gesondheid afneem en die einde van jou kragte en van jou lewe nader kom. Dan hoef jy nie angstig te wees nie, omdat jou oë gerig is op die koninkryk van God en die liefde van Jesus. Dit bly vir altyd. Die dood kan dit jou nie afneem nie.

Tog beteken dit nie dat almal wat in die koninkryk van God leef, minagtend neerkyk op al die daaglikse dinge van hierdie wêreld nie. 

Inteendeel, die genade van God maak jou verstandig sodat jy dit alles op ’n godvresende en verstandige manier hanteer. Jy gebruik dit nou om God te dien.

Jy kan dit ook vind in Deut4,5-8:

“Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: ‘Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk.’ Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”

Nie almal in die wêreld sal dit erken nie. Maar die verskil word baie duidelik.

Dis wys en verstandig om nie dooie afgode te aanbid nie, maar met die lewende God te wandel!

Wie God se wil volg, is wys en verstandig. Dis deel van die genade van God: die dwaasheid en die skadelike gevolge van baie sondes gaan aan jou verby omdat jy nie meer ’n slaaf van die sonde is nie.

Die verstandigheid wat Jesus vir jou gee, beskerm jou lewe. ’n Paar voorbeelde:

  • Neem die voorbeeld van ’n jongman wat vinnig in sy motor ry om die meissies te beindruk. Hy kan gemaklik beheer verloor en in ’n boom vasry, en sy lewe is verby. Verstandigheid beskerm jou lewe!
  • Jy kan ’n paar duisend Rand wen deur te lieg en te steel, maar jy verloor jou integriteit en dalk jou werk ook. Wanneer jy opreg is, kan daar steeds teenstand wees van ander
  • Om jou man of vrou te bedrieg en ’n verhouding te begin, sal jou huwelik en gesin vernietig. Maar God seën jou as jy trou bly.

Sonde bou nooit op nie, maar vernietig. Dit is opstand teen God, en in sy wêreld kan jy nie daarmee wegkom nie. 

Maar die genade van God plaas jou op die pad van God se koninkryk en maak jou lewe mooi!

Laat ons God aanbid vir die oorvloed van sy genade in Christus.

Jy kan daarop staatmaak as jy nederig jou sondes bely.

En jy sal die bewys daarvan sien in jou nuwe hantering van jou lewe op aarde. 

Amen

Liturgie: 

Ps 121:1

Seëngroet

Ps 9:7-10

[oggend: Wet - Ps92, 4.6.7]

Gebed

Skriflesings:
Levitikus 6:1-7
Matthéüs 26:26-30
Efésiërs 1:7-10

Ps 139:8,9,12

Preek

Skrifberyming 44:2-4

[middag: Geloofbelydenis]

Gebed

Skrifberyming 35