Die stroom van God se goeie gawes vloei slegs in een rigting…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-10-04
Teks: 
2 Korinthiërs 9:8-11
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus, 

“Wie het eers iets aan God  gegee, dat dit Hom vergeld moet word?” (Rom. 11:35). Die antwoord is: niemand! Ek en jy het niks aan God gegee nie, en ons kan ook niks aan God gee nie, vir die eenvoudige rede dat alle goeie dinge van God af kom. God is die Gewer by uitstek. Die beeld wat Maarten Luther in hierdie verband gebruik, is dié van ‘n stroom; hy sê: “Die liefde van God stroom vanuit God en skenk die goeie.” En ‘n stroom, gemeente, vloei slegs in een rigting, van hier na daar, en nie terug nie; die vloei van ‘n stroom, ook die stroom van God se goeie gawes, is eenrigting-verkeer. 

Maar wat gebeur wanneer die stroom van God se gawes by ons aankom? Stop dit dan, omdat die geskenk gegee is en die doel bereik is? Is dit hoekom ons biddag hou? Sodat die stroom na ons toe kan kom, en by ons kan opdam? Maar, gemeente, ons is dan gemaak om soos God te wees! Ons is gemaak om, net soos God, te gee! Daarom moet die stroom van God se geskenke nie stop wanneer dit ons bereik het nie. Die vloei van die stroom moet voortgaan. Sterker nog: die voortgang van die stroom is presies die doel waarvoor God die stroom tot by ons laat kom het; die gee aan ander is die doel waarvoor God geskenke aan ons gegee het. Ons is dus meer as slegs die eindbestemming van die stroom van God se geskenke; eintlik staan ons halfpad. Vanuit Christus stroom daar geskenke na elkeen van ons; Christus self is die grootste geskenk wat in ons kom woon deur sy Gees, sodat ons kan sê: “ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my…” Maar vanuit ons stroom Christus en sy geskenke weer na elkeen wat dit nodig het. Dit is wat Luther bedoel wanneer hy die ietwat vreemde stelling maak dat ‘n christen ‘n Christus is vir ander. Deur my stroom Christus verder na my naaste!

Broers en susters, ons is dus tegelykertyd ontvangers én gewers. Ons hou daarom nooit biddag as blote ontvangers nie. Nee, op biddag vra ons ook om gewers te wees in die stroom van God se goeie gawes. Nou, iets van hierdie verweefdheid van God as die Gewer, van ons as ontvangers, en van ons as gewers vind ons terug in 2 Korinthiërs 8 en 9. Soos in ‘n stroom loop die verskillende aspekte deurmekaar heen. In hierdie preek sal ek hulle, ter wille van die duidelikheid, van mekaar probeer onderskei. Maar ons moet hulle nooit skei nie.

Laat hulle maar rustig in die stroom met mekaar vervloei.

Tema: die stroom van God se goeie gawes vloei slegs in een rigting…
1.    Van God na ons
2.    Van ons na die naaste

1. “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” – só vra Paulus aan die Korinthiërs in sy eerste brief (4:7). Dit is ‘n retoriese vraag, waarvan die antwoord moet wees: niks nie, heeltemal niks nie. Niks van wat ek het of is, is aan myself te danke nie; ek het alles ontvang. Gemeente, hoewel ons hierdie antwoord op ‘n intellektuele vlak waarskynlik verstaan, is dit belangrik dat ons die volle impak daarvan na behore sal ‘gryp’, dat ons die implikasies daarvan tot ons sal laat deurdring. Want om te glo dat God ons werklik álles geskenk het – alles! – is om te weet dat ons bestaan totaal van Hom afhanklik is. Jakobus sê in hoofstuk 1:17 van sy brief: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte.” En daarom kan Paulus in Handelinge 17 aan die Atheners verduidelik: “In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.” Biddag vir gewas en arbeid, is daarom om werklik met leë hande voor die Here te kom in erkenning dat Hy die enigste Bron is van alles wat goed is (NGB, art. 1). By hierdie Bron ontspring die stroom van geskenke, nêrens anders nie.
 
Maar wat doen ons dikwels? Ons dink – miskien onbewustelik – dat ons die beste van twee wêrelde kan kry. Ons glo dat ons op ons eie bene kan staan, onafhanklik van God kan wees, en tegelykertyd kan bely dat God die Skepper van alle dinge is. Maar dit is totale onsin. God is immers die bron van ons bestaan; God dra ons totale bestaan. Ons kan nie deur God gemaak wees en vir ons hele bestaan van Hom afhanklik wees, en tegelykertyd onafhanklik wees nie. Kom ons gaan vir ‘n oomblik terug na die begin, Genesis 2, want daar sien ons dit baie duidelik. God het die aarde gemaak – só lees in Genesis 2:4 – maar daar was nog geen struike in die veld nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie. Hoekom nie? Vers 5 gee vir ons twee redes: 1) die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en 2) daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Hierdie tweede rede is opmerklik. Werk God en mens dus tog saam in die skepping? Ja, in ‘n sekere sin wel. Maar voordat ons onsself nou as ‘n gelykwaardige en onafhanklike vennoot naas God opstel, lees nou gou vinnig vers 7 hierby: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.” Met ander woorde, ons bestaan as lewende wesens kom van God af. Ek haal asem deur God se genade, en as Hy nie aanhou om elke sekonde van elke dag vir my daardie asem te gee nie, dan hou ek op bestaan. So fundamenteel is my lewe van God afhanklik. Ja natuurlik, ek bewoon en bewerk die natuur, ek vermeerder en beskerm, soos wat God dit bepaal het in die skepping. Maar die moontlikheid daartoe en die bereidheid daartoe is, saam met die lewe self, geskenke van God af!

As ons onsself daarom onafhanklik teenoor God opstel, as ons onsself toeëien wat God s’n is, dan doen ons daarmee tekort aan God. En dit is presies wat Adam en Eva gedoen het. God het Adam in ‘n pragtige tuin geplaas en gesê: “Van al die bome in die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16-17). Wat was God se doel met hierdie gebod? Wou Hy keer dat die mens word wat Hy self is? Was God gierig? Was Hy jaloers? Nee, inteendeel, Hy wou juis wys dat Adam en Eva en alles wat rondom hulle was, nie maar net toevallig daar gekom het nie. Die wêreld bestaan nie sommer net nie. Daardie een verbode vrug wys geen gierigheid of jaloesie van God nie, maar dit wys juis God se oorvloedige vrygewigheid en goedheid. Die verbode vrug is ‘n heilige teken van ‘n gegewe wêreld! Dit wat ons het, het ons ontvang! Maar helaas, Adam en Eva het nie geweet hoe om met hierdie geskenk om te gaan nie; hulle het God se geskenke as regte begin toeëeien. Hulle het hulself onafhanklik teenoor God begin opstel…

Dit is tot vandag toe nog ons belangrikste sonde teen die Goddelike Gewer. Ons sien onsself as eerlike, hardwerkende burgers wat verdien wat ons het. En eintlik verdien ons nog meer, want my werkgewer of die owerheid het my beroof van wat regtens myne is – my werkgewer het nie die oortyd betaal wat ek verdien nie, en die owerheid se hoë belastings ontneem my van wat myne is. En só raak dankbaarheid vir elke goeie ding wat ons het, ‘n vergete saak, want wat ons het, het ons mos verdien – nie gekry nie. Of: so dink ons. En hierdie welverdiende besittings wil ons beheer soos wat ons goeddink. So is die goeie dinge nie meer geskenke waarvan ons mag geniet nie, maar word dit my eie eksklusiewe eiendom. 

Om jouself onafhanklik van God op te stel, om trots te wees op jou prestasies, om te meen dat jy dit verdien het, om te meen dat jy die absolute reg het om met jou eiendom te doen wat jy wil – dít is die maniere waarop ons lewens so dikwels weerspreek wie ons eintlik is in verhouding tot God. “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie” (dus, om afhanklik te wees van God) draai ons om na: “wat het ek wat ek nie verdien het nie” (onafhanklik teenoor God). Dink hieroor na, gemeente, want dit is biddag vandag. En gebed is nie vir onafhanklikes nie, gebed is nie vir mense wat op hulle eie bene wil staan nie; gebed is slegs vir afhanklikes, mense wat diep onder die indruk is van God se geskenke in ‘n genadelose kultuur. 

…………

Daar is hongersnood in Jersualem. Die gelowiges daar kry swaar; Jerusalem is ‘n hulpbehoewende kerk. Maar gelukkig, Paulus is deel van die Deputaatskap vir hulpbehoewende kerke. En daarom reël hy dat daar versorging kom vir die kerk van Jerusalem. Hy het alreeds die gemeentes in Galasië genader (1 Kor. 16:1). Ook die kerke in klein-Asië word in Handelinge 20 by die hulpbetoning betrek. En dan is daar ook nog die kerke in Macedonië en Achaje wat opgeroep word om aan die insameling deel te neem (Rom. 15:26). Alle susterkerke word dus ingeskakel, ook die kerk in Korinthe wat deel is van die provinsie Achaje. Nou, Paulus weet dat die kerk in Korinthe heeltemal bereid was om ‘n insameling te hou. Om die waarheid te sê, hulle het ‘n jaar gelede alreeds hulle bereidwilligheid uitgespreek, sodanig dat dit tot aansporing vir ander gedien het (9:2). En Paulus het selfs ‘n bietjie gespog met die Korinthiërs by die ander gemeentes (9:3); hy het hulle as voorbeeld gebruik van die Here se genadewerk. Maar dit het tot dusver slegs by bereidwilligheid gebly. Nou wil Paulus tog graag sien dat die daad ook by die woord gevoeg word, dat hulle doen wat hulle belowe het, en daarom stuur hy afgevaardigdes vooruit om die Korinthiërs se bydrae solank in gereedheid te bring (9:4-5). 

Om die Korinthiërs vervolgens aan te spoor om die daad by die woord te voeg, wys Paulus vir hulle in ons teksgedeelte presies op die beginsel wat ons sopas bespreek het: God is die Gewer van alles wat ons is en het. In vers 8 gebruik Paulus selfs tot vyf keer toe in die Grieks hierdie woordjie ‘alles’: “En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte alles kan hê en oorvloedig kan wees in elke goeie werk.” Ja, die Here se genade oor die Korinthiërs is volmaak; Hy skenk aan hulle elke geestelike en materiële gawe wat hulle nodig het; in Hom is hulle oorvloed. Beteken dit die Korinthiërs was ryk? Nie noodwendig nie. Kyk maar terug na hoofstuk 8:1 – daar lees ons van dieselfde genade van God, hierdie keer aan die gemeentes van Macedonië: ook hulle het altyd in alle opsigte alles gehad! Maar, vers 2, hulle het nogtans diepe armoede gely. En steeds het hulle alles gehad wat hulle nodig gehad het om bo vermoë te kan uitdeel. 

God gee nooit te min nie – altyd is sy geskenke genoeg, sodat ons altyd in alle opsigte alles kan hê! En dan moet ons onsself nie vergelyk met die ander een nie, met daardie ryk persoon nie; moenie op ‘n horisontale vlak na jou geskenke kyk nie. Want dan kry jy ‘n skewe beeld van wat jy ontvang het. Nee, plaas jouself voor die hemelse Gewer, en onthou dan wat ons gesing het uit Psalm 104: “Wat leef in water en op land, verwag hul spyse uit u hand. Ontsluit U dit, hul word verkwik; hou U dit toe, hul word verskrik; neem U hul asem weg, hul keer tot stof en as en is nie meer.” Selfs die mees basiese, broers en susters, is nie iets waarop ons reg het nie. Ons het nie die reg tot basiese voedsel en water nie; ons het selfs nie die reg op lewe nie. As ons dit dan wel kry deur God se stroom van genade, kom ons buig ons in geloof en dankbaarheid voor Hom neer. En dan moet ons oppas om die vuiste te bal en met die voete te begin stamp as ons sogenaamde basiese regte deur die owerheid of enige iemand anders vertrap word. Dan moet ons oppas om te roep: “Waarvoor betaal ons belastings?”, wanneer daar weer kragonderbrekings is, of ons water weer vir ‘n dag afgesluit word. 

Nee, gemeente, ons lewe enkel en alleen van God se stroom van geskenke. Dit is wat Paulus aan die Korinthiërs oordra, by wie hy wil sien dat die bereidwilligheid nou in dade oorgaan. Dít is hoe hy hulle wil aanspoor: alles wat julle het, kom van God af. En dit is nie so dat, as God die stroom van sy geskenke toemaak, ons op one eie verder kan lewe nie – dalk het ons dan ‘n bietjie minder, maar ons sal regkom. Want ek het darem nog ‘n neseiertjie by Absa, en my besigheid gaan ook nie te sleg nie… Nee, as God sy stroom toemaak, dan hou die lewe oombliklik op. Maar God doen dit nie. Nog nooit het Hy sy stroom heeltemal toegemaak nie. Nee, Hy gee saad aan die saaier en brood aan die eter (9:10) – selfs van die mees basiese behoeftes is Hy die Verskaffer. Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges (Mt. 5:45). Kom ons word op hierdie biddag klein voor hierdie God, die God wat mildelik gee aan ondankbares, aan elkeen van ons. Kom ons bid werklik in afhanklikheid vir elke goeie gif en elke volmaakte gawe. Want dit moet van bo af neerdaal! Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?

Vervolgens vloei God se gawes van ons na die naaste toe.

2. Gemeente, kan ons iets aan God teruggee? 

In ou Griekeland en Rome was daar die beeld van die drie dansende susters in ‘n geslote sirkel: die een gee geskenke, die tweede ontvang dit, en die derde gee dit weer terug. En na aanleiding van hierdie beeld vra die filosoof Seneca: “Waarom dans die susters hand aan hand in ‘n geslote sirkel?” En sy antwoord daarop: “Omdat iets goeds wat van hand na hand stroom uiteindelik terugkeer na die gewer. Die skoonheid van die geheel word verwoes wanneer die stroom êrens onderbreek word, en die sirkel is op sy mooiste wanneer dit ononderbroke is.” Die sirkel is dus geslote, broers en susters. Voordele en goeie dinge keer uiteindelik terug na die gewer. Natuurlik, dit keer in ‘n ander vorm terug; dit getuig van slegte smaak as jy vir jou vriende dieselfde bottel wyn gee as wat hulle vir jou gegee het. Maar nogtans keer goeie dinge terug na die gewer. 

Geld dieselfde egter ook vir God? Keer God se geskenke ook weer terug na Hom toe? Nee. Ons kan nooit geskenke aan God teruggee nie, vir die eenvoudige rede dat alles wat ons terug sou wou gee alreeds van God af kom. Daar is niks wat ons God kan bied nie. Om aan God iets te wil gee, is dieselfde as om uit God se regterhand iets te neem en dit weer in sy linkerhand terug te sit. Dit getuig van ondankbaarheid. 

Maar… vra God se stroom van geskenke dan niks van ons nie? O ja! Ons kan miskien nie teruggee nie, maar ons kan wel deurgee! God vra dat ons kanale sal wees waardeur die stroom van sy geskenke verder kan vloei. Waar ons van nature ontvangers wil wees en wins wil maak, waar ons van nature net wil hê, hê, hê… daar vra God nou van ons dat ons die egoïstiese en gierige ou mens sal aflê en onsself met die nuwe mens sal beklee; die nuwe mens wat geskape is na die beeld van God, die nuwe mens wat soos God lyk: “Wees daarom navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God…” (Ef. 5:1) Dieselfde voorbeeld van Christus se liefde gebruik Paulus ook in die hoofstuk net voor ons teks, hoofstuk 8:9: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” In Christus het ons ryk geword, maar nie ter wille van onsself nie. Ons ontvang nie die rykdom in Christus om slegs verbruikers daarvan te wees nie. Nee, van ons word verwag om dit verder deur te gee! 

God wil hê dat ons kanale sal word waardeur die stroom van sy geskenke verder kan vloei. God gee oorvloedig aan ons, sodat ons ook weer oorvloedig kan wees tot elke goeie werk (9:8). Dít is wat reg is voor die Here. Dít is geregtigheid voor God, naamlik dat ons sal uitstrooi en aan die armes sal gee (9:9) – dít is geregtigheid wat bestaan tot in ewigheid. Geregtigheid in hierdie betekenis is dus nie iets wat ons bymekaar maak nie. Nee, geregtigheid in hierdie konteks is om weg te gee. 

Maar ons sukkel om weg te gee, nie waar nie? Want ons dink dat as ons weggee, dan verloor ons, dan word ons voorraad minder. Ek gee maar eerder R5 in die kollekte, want as ek R10 gee dan bly daar waarskynlik meer maand oor as wat daar geld oorbly. Of as ek die bedelaar help, dan is die geld weg wat ek eintlik wou gebruik om die brood mee te koop. Ja, dit is mos logies: as ek weg gee, dan word, wat myne is, minder. Maar, gemeente, hoewel dit op ‘n menslike vlak waar is, is dit voor God nie waar nie. Vir die regverdige van vers 9 wat uitstrooi en aan die armes gee en wie se geregtigheid tot in ewigheid bestaan, vir hom gee God nog méér. Kyk maar na vers 10: Hy wat saad verskaf aan die saaier, Hy verskaf ook brood om te eet en Hy vermeerder die saad, juis sodat die vrug van die geregtigheid nog verder kan toeneem. Waar God se stroom vrylik deur die kanaal van ons vrygewigheid kan stroom, daar laat God nog méér na ons toe stroom; wanneer ons uitdeel, dan gee God nog méér vir ons om uit te deel. Die Bron raak nooit op nie; die vraag is net: vloei die kanaal vrylik? 

Maar moet ek dan nou maar alles weggee? Want as ek hierdie redenasie volg, dan moet ek eintlik niks meer oorhou nie – so dink u miskien. Nee, sê Paulus in hoofstuk 8:12 vir die Korinthiërs: jou bereidwilligheid moet wees volgens wat jy besit, nie volgens wat jy nie besit nie. Want, sê Paulus, ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. En Paulus wil verder ook glad nie voorskryf wat elkeen moet gee nie: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem…” (9:7) Niemand kan van buite-af aan jou voorskryf wat jy moet uitdeel nie. Maar onthou die beginsel: waar die kanaal vrylik vloei, daar laat God ook nog meer na ons toe stroom, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid. Sien u, daar het ons weer tweemaal die woordjie ‘alles’ – God laat ons in alles ryk word, sodat ons in alles milddadig kan wees. God laat stroom, sodat ons verder kan laat stroom. 

Nadat God in Genesis 12 vir Abraham geroep het, het Hy aan Hom ‘n dubbele belofte gegee. Die eerste was: Ek sal jou seën. En die tweede was: Ek sal jou tot ‘n seën stel. Die selfde dubbel belofte word aan ons gegee. As ons slegs geniet van God se goeie gawes sonder om dit deur te gee, as ons geseën word sonder om ‘n seën te wees, dan kom ons nie tot ons doel as kanale nie. Ons is gewers omdat ons so gemaak is! Ja, God se geskenke kom by ons uit, maar dikwels staan daar ‘n ander naam en ‘n ander adres op daardie geskenk. Hoewel hulle in ons hande is, is hulle dikwels êrens anders heen oppad. Oefen jouself daarin om dít raak te sien!

Gemeente, biddag vir gewas en arbeid is daarom nie slegs ‘n bede om te ontvang nie, maar dit is ook ‘n bede om ons in staat te stel om te gee. Dit is ‘n bede om te wees wat ons is, naamlik kanale waardeur God se gawes na ander kan stroom. Mag die Here ons in die komende jaar ryklik seën met alles wat ons nodig het, mag Hy sy hand oopmaak sodat ons kan lewe. Maar mag Hy ook aan jou en my beitel en skaaf, sodat ons kanale kan word waardeur die water van sy liefde vrylik kan stroom na elkeen wat dit nodig het. 

Amen

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet:
-  Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
-  Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 123

Sing in voorbereiding op die wet Ps. 105:23

Wetslesing

Gebed om skuldbelydenis

Lees:
-  2 Korinthiërs 8 & 9
-  Genesis 2:4-17

Sing Ps. 104:17 en 18

Teks: 2 Korinthiërs 9:8-11

Preek

Amenlied Ps. 112:4, 5 en 9

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 16:3-5

Seën:
-  Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. /
-  Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.