Israel se poorte: die plek waar geregtigheid en vrede mekaar kus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-09-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 43
Verwysing: 
HK 43-1
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Preek – HK Sondag 43; lees Deut. 25:1-3, 2 Kor. 2:5-11

Broer en suster in Jesus Christus, 

Weet jy wat ons eendag gaan doen wanneer Christus terugkom op die wolke? Heeltemal reg, dan volg die laaste oordeel, dan word die boeke geopen en verskyn elkeen van ons voor die regterstoel van Christus. Maar besef jy dat ons, as gelowiges, nie slegs geoordeel gaan word nie, maar dat ons self ook gaan oordeel? Jesus sê immers in Mattheus 19:28: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.” En in Openbaring 20:4 lees ons die woorde van Johannes: “En ek het trone gesien, en hulle (dit is die gelowiges) het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee…” En volgens Paulus in 1 Korinthiërs 6:2 sal die gelowiges selfs die engele oordeel. Dit is ‘n aangrypende gedagte, nie waar nie? Ons word nie slegs geoordeel nie, as gelowiges sal ons eendag sélf regters wees oor Israel, oor die volke en oor die engele!

Nou, dit is hierdie toekomsperspektief wat Paulus in 1 Korinthiërs 6 gebruik om die gelowiges in Korinthe te wys op hulle taak om vandag alreeds as gelowiges in die kerk reg te spreek. Kerklike regspraak laat ons nie oor aan die wêreldlike regters nie; as gelowiges gaan plaas ons nie ons geskil voor ‘n ongelowige regter nie! Nee, vanuit die perspektief van die toekomstige wêreldoordeel deur die gelowiges – deur onsself! – mag ons vandag reeds regspreek binne die kerk, tussen broers en susters. En dít is die perspektief vanwaaruit ons vandag na die negende gebod van die Here se wet wil kyk. 

“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie” – ons betrek dit dikwels onmiddellik op dinge soos jok en skinder en lelik praat. En uiteraard is dit belangrike en geldige uitwerkings van die negende gebod. Maar die oorspronklike konteks van die negende gebod is die sfeer van die regspraak; met hierdie gebod moet jy jouself heel eerste probeer verplaas na die stadspoort van een van Israel se stede, te midde van die oudstes en die regters, wat besig is om een of ander regsaak te behandel. En dit is hierdie einste konteks wat Moses in gedagte het wanneer hy die negende gebod in die eerste klompie verse van Deuteronomium 25 uitwerk. 

Tema: Israel se poorte: die plek waar geregtigheid en vrede mekaar kus!

Nou goed, hoe het die regspraak in Israel presies gewerk?

Wel, ons kan daarvan lees in Deuteronomium 16. Elke stad of dorp het sy eie plaaslike regters gehad wat vanuit die oudstes van daardie plek verkies is. En die stadspoort, die plek waar almal in- en uitbeweeg het, was die plek waar die regsittings plaasgevind het. Dus, regspraak was ‘n openbare saak; daar was nie iets soos geheime hofsittings nie. Maar nou moet ons nie dink dat hierdie regters elke oggend poort toe gekom het, hulle lys met sake ontvang het, en die hele dag daar bly sit het om die sake te hanteer nie. Nee, hulle het ook hulle gewone werk gehad om te doen; miskien was een ‘n boer, miskien was ‘n ander ‘n ambagsman. Maar daarby is hulle ook gekies as regters, en die volk het geweet: as daar enige saak is, dan is hierdie die manne wat ons kan nadertrek. En dit het gegeld vir sake wat gewissel het van openbare sondes, tot geskille tussen volksgenote, tot gewone kontraktuele sake. Ons sien ‘n lewendige voorbeeld van hoe so ‘n hofsitting verloop het in Rut 4:1 en 2, waar ons lees: “En Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En het hy nader gekom en gaan sit. Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle het gaan sit.” Siedaar, broers en susters, ‘n hofsitting! 

Maar nou moet die informele aard van hierdie hofsittings ons nie laat dink dat daar ligtelik met enige van die sake omgegaan kon word nie. O nee, hierdie hofsittings was baie ernstig, want hier het die Hére se reg gegeld, hier moes die Hére se reg toegepas word. En dit is geen ligtelike saak nie. Wanneer koning Josafat baie jare later in 2 Kronieke 19 regters in al die stede van Juda aanstel, dan is dít die gewig waaronder hy die regters plaas, wanneer hy vir hulle sê: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak. Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie.” Die aangestelde regters moes dus baie goed besef: die Here is in ons midde wanneer ons regspreek, Hy is by ons in sy onkreukbare geregtigheid. Met die gevolg dat Moses in Deuteronomium 25 dit eenvoudig as ‘n gegewe aanvaar dat die regters van Israel die regverdige regverdig sal verklaar en die skuldige skuldig sal verklaar (Deut. 25:1). Want “hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE ‘n gruwel” – só sê die Spreuke-digter in Spreuke 17:15. 

Maar daar was, volgens Deuteronomium 25:1-3, ook nog ander vereistes vir die regspraak…

Indien die regter naamlik die skuldige skuldig verklaar het, moes hy vervolgens bepaal of die skuldige lyfstraf verdien het – want dit kon gebeur dat die skuldige slegs ‘n boete moes betaal. Het hy egter wel slae verdien, dan moes die regter bepaal hoeveel slae gepas sou wees. Dus, die regter moes enersyds die oortreding weeg en andersyds die straf weeg – hierdie twee moes in ooreenstemming met mekaar wees. Jy kon iemand mos nie met moord laat wegkom deur hom slegs ‘n paar slae te gee nie, maar andersyds kon jy ook nie iemand ter dood veroodeel wat iets kleins by sy buurman gesteel het nie. Oortreding en straf moes van gelyke gewig wees; iemand moes gestraf word ooreenkomstig sy skuld.

Indien iemand vervolgens wel lyfstraf verdien het, dan was veertig slae die meeste wat hy kon ontvang. Dikwels sou dit minder wees, maar in elk geval nie meer as veertig nie. Vir ons gevoel klink dit dalk baie – wie van ons kinders het al ooit op een slag soveel slae gekry? – maar as ons dit vergelyk met die maksimum aantal slae wat by die volke rondom Israel gegeld het, dan sien ons in hierdie maksimum die Here se genade. Byvoorbeeld, in die kode van Hammurabi, ‘n Babiloniese wetboek van so ‘n paar honderd jaar voor Deuteronomium, word die maksimum op sestig slae gestel. En so was dit ook by baie ander volke. Maar die Here se wetboek gee ruimte vir barmhartigheid, want die oortreder bly jou broer, jou bondgenoot, jou verbondsgenoot, wat nie voor jou oë verneder mag word nie (Deut. 25:3). Die Jode het later hierdie veertig verminder na nege-en-dertig – waarskynlik om te verseker dat hulle nooit die maksimum sou oorskrei nie. Dít is dan ook waarvan Paulus praat wanneer hy in 2 Korinthiërs 11:24 sê: “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.” En dan nog ‘n laaste vereiste in Deuteronomium 25: die regter kon nie die voltrekking van die vonnis aan een of ander amptenaar oorlaat nie; nee, die straf moes in sy teenwoordigheid uitgevoer word. Hy moes eerstehands iets beleef van die vonnis wat hy sélf sopas nog uitgespreek het.

Nou, gemeente, as jy so na hierdie bepalings in Deuteronomium 25:1-3 luister, watter indruk maak dit op jou? Na wie se kant – dink jy – neig die simpatie van hierdie wette? Wie word deur hierdie wette bevoordeel? Die regter? Die vrygespreekte persoon? Die skuldige persoon? Probeer dit vir jouself weeg! Nie so maklik om hierop ‘n antwoord te vind nie, of hoe? Want hierdie bepalings is so genuanseerd na alle kante toe! Aan die een kant was daar die regter wat moes besef dat hy voor die aangesig van die Here staan, maar tog gee die Here vir hom genoeg en duidelike riglyne sodat hy sy taak in regverdigheid en barmhartigheid kan verrig; aan die ander kant was daar die onskuldige persoon wat onskuldig verklaar word, maar wat vervolgens nie die vernedering van sy broer mag soek nie; en dan is daar ook nog die skuldige persoon wat skuldig verklaar word en die straf kry wat hom toekom, maar nie so swaar dat hy daaronder sou vergaan nie. Gebalanseerde wetgewing na alle kante, genuanseerde reg teenoor alle partye… Dit is wat die Here in die negende gebod soek! En die rede vir hierdie genuanseerde reg, broers en susters, is dat die Hére se reg hier geld! En binne die Here se reg gaan dit nie slegs daaroor dat reg reg is, en dat verkeerd verkeerd is nie. Die Here se reg is nie ‘n kliniese reg of verkeerd nie. Nee, binne die Here se reg is sy geregtigheid en sy liefde en sy vrede onlosmaaklik met mekaar verweef. Daar waar die Here se reg toegepas word, daar ontmoet goedertierenheid én trou mekaar, daar kus geregtigheid én vrede mekaar, daar kom die verskillende kleure van die Here se eie karakter bymekaar in ‘n reënboog van vrede vir sy hele volk. 

Is dit nie presies wat ons bely oor daardie grootste van alle regsake nie? Daardie regsaak wat gegaan het oor jou en my ewige toekoms! Daardie regsaak wat bepaal het of jy en ek kan lewe, of dat ons die ewige dood moes sterwe! In die hemelse regsaal waarin daar oor die toekoms van die totale skepping beslis is – ook oor jou en my toekoms – het God se regverdigheid en sy barmhartigheid op ‘n ongelooflike manier bymekaar gekom; daar het sy geregtigheid en sy vrede mekaar gekus in ‘n omhelsing wat nooit weer sou eindig nie. Ons bely dit so pragtig in artikel 20 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. [Kom ons lees saam artikel 20…] Het u dit gesien? “So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en só [dus, op dié manier] sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het.” 

Broers en susters, wat ‘n wonder! Toe God as Regter opgetree het in die hofsaak waarin jy en ek in die beskuldigdebank gestaan het, was Hy 100% regverdig. Hy het nie ‘n duimbreedte van sy reg afgewyk nie, Hy het dit nie vir een sekonde oorweeg om die skuldige onskuldig te verklaar en die onskuldige skuldig te verklaar nie. Daar was geen kans dat Hy sou swig voor ons sogenaamde ‘goeie werke’ waarmee ons Hom probeer omkoop het nie. Nie vir een oomblik het Hy dit oorweeg om partydig te wees omdat ons in hierdie lewe kamtig sulke gesiene persone sou wees nie. Nee, volledig regverdig, daar moes betaal word! En tog was Hy ook 100% barmhartig en genadig; Hy het naamlik die vereiste betaling uit genade aan ons geskenk, Hy het sélf daarvoor gesorg dat daar aan sy geregtigheid voldoen word, Hy het die geregtigheid van ‘n ander aan ons toegereken asof ons self vir al ons sondes betaal en alle geregtigheid volbring het. Dit wat gedoen moes word, het Hy gedoen; dit wat ons nie kon doen, het Hy ons toegereken. 100% regverdig, 100% barmhartig – hierdie twee het in die Goddelike regsaal mekaar ontmoet en mekaar omhels! En die Naam van hierdie omhelsing is Jesus Christus! In Hom het God se regverdigheid en barmhartigheid op ‘n volmaakte wyse bymekaar gekom; in Hom het geregtigheid en vrede mekaar gekus, sodanig dat Paulus in Efesiërs 2:14 van die Here Jesus kan sê: “… Hy is ons vrede.” 

God self gee dus in Jesus Christus die volmaakte voorbeeld van hoe sy reg lyk, ‘n reg waarin sowel geregtigheid as barmhartigheid hulle regmatige plek ontvang tot vrede vir sy volk. En nou die belangrike: dit is dáárdie soort reg wat die Here ook by sy volk wil terugsien! Dit is dáárdie soort reg waartoe die negende gebod ons oproep – ‘n reg wat reg doen, sonder om die barmhartigheid en die liefde en die bewoënheid oor die naaste te verloor; ‘n regverdige reg, waarin nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n; ‘n barmhartige regverdigheid en ‘n regverdige barmhartigheid. En die doel hiervan is: die vrede in en vir die gemeente!

Kom ons probeer om dit ‘n bietjie meer konkreet te maak. Ek vat u saam na die gemeente in Korinthe…

‘n Problematiese gemeente, soos u weet. ‘n Gemeente waarin daar, volgens Paulus se eerste brief, nogal ‘n paar dinge lelik skeef geloop het. Onder andere hoor ons in hoofstuk 5 van sy eerste brief van openlike hoerery, dat iemand sowaar die vrou van sy vader het. En wat Paulus die meeste ontstel is dat daar niks aan hierdie persoon gedoen word nie; hierdie sondaar is nog steeds deel van die gemeente asof daar niks gebeur het nie. As dit van Paulus afgehang het sou hy hierdie persoon aan die satan oorgelewer het tot verderf van die vlees, maar sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus (1 Kor. 5:5). Dit is wat Paulus sou gedoen het as hy aanwesig was, en eintlik sê hy daarmee vir die gemeente: “Aangesien ek egter nie aanwesig is nie, moet júlle dit nou doen!” 

Nou, gemeente, vermoedelik is dit hierdie einste persoon wat weer terugkom in Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs, in die gedeelte wat ons saam gelees het. Paulus beskerm wel die identiteit van die persoon, maar dit is duidelik dat hierdie persoon by amper die hele gemeente droefheid veroorsaak het. En ná Paulus se eerste brief het hulle skynbaar ook teenoor hierdie persoon opgetree. Hy is deur die gemeente bestraf. Die Griekse woord wat met ‘bestraffing’ vertaal is, is ‘n regsterm wat hier in die konteks van ‘n kerklike regsaak gebruik word. Hierdie persoon is dus in ‘n wetlike proses onder tug geplaas. Die gemeente het reg gespreek en hierdie persoon is gestraf. Dit is waarop Paulus, op grond van die Woord van die Here, by die Korinthiërs aangedring het.

Maar nou kom daar in sy tweede brief skielik ook ‘n ander geluid van Paulus se kant af. Volgens Paulus het die bestraffing nou sy grens bereik; genoeg is nou genoeg. Paulus roep sy lesers nou ook dringend op om barmhartig te wees met hierdie berouvolle sondaar, en om die tydsduur van sy straf nie onnodig te verleng nie. Wat hierdie persoon op hierdie oomblik nodig het, is nie om verder gestraf te word nie; nee, hy het nodig om bemoedig te word deur sy mede-christene. Want die skaamte van die sonde en die pyn van verwerping is sodanig dat dit die sondaar tot wanhoop kan dryf. En daarom word die gelowiges in Korinthe opgeroep om hierdie persoon as broeder en suster in Christus te ontvang en te herstel. Die gemeente mag nooit toelaat dat ‘n sondaar, wat vergifnis ontvang het, die kerk die rug toekeer en die geloof vaarwel toeroep as gevolg van die kerk se gebrek aan liefde nie. En weereens gebruik Paulus in hierdie verband in vers 8 ‘n regsterm: “Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.” Hierdie persoon moet amptelik en van harte weet dat hy weer deel is van die verbondsgemeenskap van die kerk van die Here!

Gemeente, ‘n mens wonder hoe dit moontlik is dat Paulus so kan omswaai? Eers wil hy hierdie sondaar aan die satan oorlewer, en vervolgens roep hy die gemeente op om aan hom liefde te bewys? Wat wil jy nou eintlik, Paulus? Wel, broers en susters, Paulus wil die Hére se reg in die gemeente laat geskied! En ons het nou al gehoor wat die Here se reg behels: dit is ‘n reg wat bestaan uit geregtigheid én barmhartigheid, ‘n reg wat gebalanseerd is na alle kante toe, ‘n reg waardeur die vrede in die gemeente herstel word. Dit is wat Paulus graag wil sien! En daarom is hy hier nie wispelturig besig nie. Hy wil nie eers dit, en dan skielik dat nie; nee, hy wil dit én dat! Hy wil geregtigheid én barmhartigheid, hy wil hê dat die reg en die vrede mekaar sal kus in die gemeente van Korinthe! Indien die gemeente die reg wil toepas sonder die geregtigheid, dan sou hulle die negende gebod oortree – dan sou hulle valse getuies wees, omdat hulle die sonde verswyg het en nie verkeerd genoem het wat verkeerd is nie. Maar die ander kant is net so waar: indien hulle die reg wil toepas sonder die barmhartigheid, dan sou hulle óók die negende gebod oortree het – dan sou hulle net so goed valse getuies gewees het, omdat hulle dan vergeet het dat hierdie persoon ‘n broeder is wat nie verneder mag word nie. Paulus roep daarom die gemeente op tot ‘n eerlike getuienis oor die sondaar: ‘n getuienis wat die sonde nie verswyg nie, maar wat ook die straf nie te swaar maak nie. ‘n Regverdige en barmhartige getuienis! 

En, gemeente, daarin lê vir ons as gemeente die uitdaging van die negende gebod. Die uitwerking van die negende gebod in die gemeente vra vir die handhawing van die volle reg van die Here: regverdigheid én barmhartigheid, geregtigheid én vrede. En dan gaan dit hier nie slegs oor die amptelike kerklike tug nie, dit gaan nie slegs oor die amptelike vermaning nie. Want dan sou die meeste van ons vanaand kon huistoe gaan sonder dat die preek iets vir ons te sê het. Nee, dit gaan hier in sy volle breedheid oor ons omgang met mekaar. Neem ons, in ons omgang met mekaar, die reg in eie hande, sodat ons maar óór mekaar of vír mekaar kan sê wat ons wil? Kan ek maar die ander se woorde verdraai, kan ek maar ‘n kwaadstoker of lasteraar wees, kan ek maar die ander onverhoord of ligtelik help veroordeel, kan ek maar lieg en bedrieg, soos Sondag 43 sê?

Of laat ons die Here se reg hier in die gemeente geld? 

As ons sê dat laasgenoemde die geval is, dan moet ek – volgens Sondag 43 – in regsake en in alle ander handelinge die waarheid liefhê en opreg wees in wat ek sê en bely. Dan moet ons verkeerd kan noem wat verkeerd is, en ons moet reg kan noem wat reg is. Ons moet nie onder die tydsgees swig en alles relatief maak nie: “Ag, dit is maar jou mening…” Ons moet die waarheid handhaaf, ons moet ons belydenis handhaaf. Ons durf nie een deeltjie daarvan te verwaarloos, en ons durf nie mekaar die vryheid gee om ‘n deeltjie daarvan te verwaarloos nie. Dit wat sonde is, moet aangetoon word. Dit wat reg is moet hoog gehou word. En binne hierdie geregtigheid is daar nie ruimte vir die aansien van die persoon nie. Niemand is bo die Here se geregtigheid verhewe nie; niemand is te belangrik om vermaan te word nie. Ons kan nie wat verkeerd is onder die dekmantel van die liefde toedek nie…

Maar, gemeente, onthou nou een ding: as ons dít nagekom het, as ons die waarheid gehandhaaf het, dan het ons nog maar die helfte van die Here se reg nagekom. Daar is ook nog ‘n ander kant: die barmhartigheid. Ek kan hoe regverdig wees wanneer ek oor jou praat, maar as ek die barmhartigheid nie openbaar nie, dan het ek van God se reg nog niks verstaan nie. My weergawe van iemand anders se optrede of woorde kan hoe reg wees, en ek kan die spyker op die kop slaan in my beoordeling van ‘n ander, maar as liefde en barmhartigheid nie deel van daardie beoordeling is nie, dan is ek ‘n valse getuie. Ek kan hoe reg wees, maar sonder barmhartigheid is ek verkeerd! En juis op hierdie punt wil ek u vanaand oproep: ons is dikwels briljant in ons analise van mekaar, ons kan mekaar so raak opsom, ons is opperste handhawers van die waarheid, maar ons vergeet soms dat dit nog maar die helfte van die Here se reg is. In die Here se omgang met my handhaaf Hy nie slegs die waarheid nie; nee, Hy betoon óók barmhartigheid. Só moet ons ook doen teenoor mekaar. 

Broers en susters, Paulus is in Efesiërs 4 besig met ‘n hele betoog oor die opbou van die liggaam, die gemeente. Hy vertel hoe ons moet opgroei in die Hoof en hoe die lede mekaar moet opbou, ensovoorts. En terwyl hy nog hiermee besig is, voeg hy in die middel van sy betoog in vers 15 sommer so ongeërg ‘n paar woorde in wat ons nie mag mislees nie; hierdie tussenvoegsel lui: “terwyl ons in liefde die waarheid betrag.” In liefde die waarheid betrag… - sou ons een van hierdie twee weglaat, dan bly ons met niks oor nie. Waarheid sonder liefde is dooie ortodoksie, dit is ‘n koue reg of verkeerd. Liefde sonder waarheid is leë gevoelens, en wie weet: dalk voel ek môre anders?! Ons moet hierdie twee bymekaar hou – die waarheid en die liefde, die geregtigheid en die barmhartigheid – want slegs op dié manier kan ons eerlike getuies wees. Slegs op dié manier kry ons die regte omgang met mekaar. Slegs op dié manier kan geregtigheid en vrede mekaar met ‘n kus begroet. 

Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie – dit gaan hier nie slegs oor lieg en skinder nie, broers en susters. Dit gaan oor die handhawing van God se reg in die gemeente. God se reg – ‘n geweldige gawe vir elkeen wat Jesus Christus persoonlik in sy lewe leer ken het as die geregtigheid en barmhartigheid in eie Persoon. Maar behalwe dat dit ‘n gawe is, is dit ook ‘n opgawe, ‘n opdrag vir elke christen. Wees regverdig teenoor mekaar, maar werk ook baie sag met mekaar.

Amen

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. 

Sing Ps. 97:1 en 7

Gebed

Teks: HK, Sondag 43

Lees:
Deuteronomium 25:1-3
2 Korinthiërs 2:5-11

Sing Ps. 85:4

Preek

Amenlied Skr. 16:4, 5 en 7

Gebed 

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 82 en daarna Skr. 31:3

Seën:
Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.