Waak teen generasie-degenerasie

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-09-20
Teks: 
Rigters 2:6 - 3:6
Verwysing: 
Doop: Joshua Boesenkool
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. 
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

As jy die Voortrekker-monument hier in Pretoria sou wou besoek, dan kan jy natuurlik eenvoudig daar instap en jou pad deur die monument begin werk. Maar as jy totaal onbekend is met die geskiedenis van die Groot Trek en met die besonderhede van die Voortrekker-monument, dan is dit dalk beter om vooraf eers die informasie-blaadjie te lees waarin die agtergrond en die raamwerk vir jou geskets word. Sodoende sal jy dít wat jy in hierdie monument gaan teëkom, beter kan verstaan en waardeer. Die informasie-blaadjie help jou om betekenis te gee aan al die besonderhede.

Nou, die gedeelte wat ons vandag saam gelees het, Rigters 2:6-3:6, funksioneer amper soos die informasie-blaadjie by die Voortrekker-monument. Dit verskaf aan ons die nodige voorskou om te kan verstaan wat in die res van hierdie boek gaan gebeur, in besonder in die hoofstukke 3-16 (die sogenaamde rigter-siklus). Dus, vóór al die interessante verhale oor die verskillende rigters en wat hulle gedoen het, kry ons hier alreeds ‘n geestelike interpretasie-raamwerk, een wat ons in die vervolg steeds in gedagte moet bly hou.

Tema:  waak teen generasie-degenerasie
1.    Die ontrou van die volgende geslag
2.    Die trou van die Here

1. Opmerklik, broers en susters, is dat die skrywer in hoofstuk 2:6 terugkeer na dieselfde datering as in hoofstuk 1:1 (die dood van Josua), en eintlik nog na die tyd daarvoor. Dus, hoofstuk 1 en 2 loop nie chronologies in mekaar oor nie. In feite vat die skrywer ons terug na die laaste verse van die boek vóór Rigters, die boek Josua. U kan maar saam met my blaai na Josua 24:28-31 [lees dit] – hierdie gedeelte word byna woordeliks in Rigters 2:6-9 aangehaal. Hoekom doen die skrywer dit? Wel, onthou wat ons in die inleiding gesê het: die skrywer probeer om in hierdie hoofstuk ‘n soort geestelike informasie-blaadjie vir sy lesers te gee, sodat hulle dít wat hierop gaan volg, reg kan verstaan. En daarom begin hy deur eers vir sy lesers te wys hoe dinge voor die tyd onder God se volk was. In die dae van Josua en van die oudstes wat ná hom nog gelewe het, het die volk getrou die Here gedien. In Josua se dae vind ons dus ‘n generasie van getroue gelowiges. Dit is wonderlik! Ons kan die Here maar net dank as daar in sy kerk komplete generasies is wat Hom getrou wil dien.

Máár Josua het gesterwe (vers 8), en uiteindelik het daardie hele geslag uitgesterf (vers 10). En die volgende geslag was skielik anders… Binne een generasie het die gees in Israel verander – die een generasie het nog die Here gedien, die volgende het die Baals en die gode van die volke rondom gedien. Binne een generasie het die ware kerk duidelike tekens van verval begin vertoon. Hoe is dit moontlik, gemeente? Wat het daartoe aanleiding gegee?

Wel, die skrywer gee vir ons die antwoord in vers 10: “En toe daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag op wat die Here en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.” Die skrywer skets hier vir ons ‘n duidelike kontras met die vorige geslag, wat (volgens vers 7) “al die groot werke van die Here gesien het wat Hy vir Israel gedoen het.” Aan die een kant het ons dus ‘n geslag wat eerstehands met die groot werke van die Here te doen gehad het, wat selfs persoonlik – hoewel nog jonk – betrokke was toe die Here die volk uit Egipteland uitgelei het (vers 12). En aan die ander kant het ons ‘n geslag wat al hierdie dinge nie meegemaak het nie, wat baie verder van hierdie groot dade verwyder was. 

In ons eie tyd kan ons dit vergelyk met die kennis van en belangstelling in die geskiedenis van die Vrymaking van 1944 in Nederland – daardie stuk geskiedenis, daardie werk van die Here, wat direk aanleiding gegee het tot die bestaan van die VGKSA. Wie van ons jonger generasie kan nog iets vertel van die geskiedenis van die Vrymaking? Miskien sal ‘n enkeling nog vaagweg iets onthou van Klaas Schilder, Abraham Kuyper en die leer van die veronderstelde wedergeboorte. Maar vra dieselfde vraag vir ons bejaardes – hulle was dáár! Hulle het óf persoonlik daardie keuse gemaak, óf hulle het êrens in die sitkamer gesit en luister terwyl pa en ma met mede-gelowiges oor hierdie kerklike stryd gedebateer het. Maar wat weet ons daarvan? Wat het dit nog met ons te doen? Dis so lank gelede… Nou, dit is wat in Israel gebeur het: die nuwe geslag Israeliete het van die vrymaking ook nie meer baie geweet nie… die vrymaking uit Egipte!

Broers en susters, hoe beveg ons hierdie gevaar? Wat moet ons doen om hierdie kerklike amnesie (hierdie kerklike vergeetagtigheid) teen te gaan? Wel, daar is ‘n verantwoordelikheid na twee kante toe, en beide kom in ons Skrifgedeelte na vore…

Daar is enersyds die verantwoordelikheid van die ouer generasie. Want hoe moet ons – die volgende geslag – weet van die groot werke van die Here, sowel in die bybel as in die kerkgeskiedenis, as julle ons nie daarin onderrig nie? Hoe kan die jonger generasie opgroei as ‘n geslag wat getrou die Here dien, as julle hulle nie vertel van die groot dade van die Here nie? Dis presies waartoe die Here Josua se generasie ook opgeroep het, nog nie lank gelede nie, in die boek Deuteronomium. Dink aan Deuteronomium 4:9: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak.” En net daarna in Deuteronomium 6:6: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Die kerklike geheue en die geloofsgeheue van die volgende generasie word gevorm deur die vertelling en die onderrig van die vorige generasie. En dikwels gebeur dit nie formeel in ‘n klaskamer nie; dit is nie in die eerste plek die dominee se taak in die katkisasieklas nie. Nee, dit gebeur in die gewone gang van elke dag – wanneer jy in jou huis is, wanneer jy oppad is, wanneer jy gaan lê, en wanneer jy opstaan. En dit is ook nie maar net die oordrag van koue feite wat die jonger generasie eenvoudig moet weet en glo nie; nee, dit gebeur wanneer die ouer generasie met groot liefde spreek tot die hoof, die hart en die hande van die volgende generasie. 

Dis waar, u kan nie aan die volgende generasie geloof gee nie. Maar geloof is wel gebaseer op geloofsinhoud, op kennis van die Here en sy groot werke. En dít mag u oordra! Op ‘n lewendige manier, op ‘n kreatiewe manier, op ‘n speelse manier. En ook op ‘n wyse manier… sonder om hulle af te stoot. Vertel vir u kleinkinders die verhaal van God se liefde wanneer hulle by u kom kuier; praat met jou kinders en hulle maatjies oor God se groot dade wanneer julle saam in die kar ry; wys God se hand aan in die wêreldgebeure wanneer julle as gesin nuus kyk. Neem hierdie verantwoordelikheid op u, broers en susters. Die doopbelofte strek verder as net u eie kinders; dit raak ook u kleinkinders en agterkleinkinders. En dit gaan nog verder: dit raak die hele volgende geslag van God se gesin, die kerk. As u, uit liefde vir die Here, ‘n hart het vir die toekoms van die kerk, praat dan ook oor die verlede van die kerk.

Maar dan is daar ook die verantwoordelikheid na die ander kant toe…

En dit is die verantwoordelikheid van die nuwe generasie. En dit is ‘n verantwoordelikheid wat in Rigters 2 selfs nog sterker beklemtoon word as die verantwoordelikheid van die vorige generasie. Want wanneer ons in vers 10 lees dat die volgende geslag die Here en sy werk nie gekén het nie, dan word daarmee nie bedoel dat hulle daarvan nie geweet het nie. Ons vind presies dieselfde uitdrukking ook in 1 Samuel 2:12 in verband met Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas. Hierdie twee manne was priesters in die huis van die Here, en het daarom verseker van die Here geweet. En tog word van hulle gesê dat hulle die Here nie geken het nie; dieselfde Hebreeuse woord word gebruik as hier in Rigters 2. Ons vertaling vertaal daarom tereg: “hulle het die Here nie erken nie.” En dit is ook die probleem in die Rigter-boek: die nuwe generasie het die Here en sy werke nie erken nie; die Here en sy werk het hulle nie meer geraak nie, dit het geen invloed in hulle lewe uitgeoefen nie. 

Dit is ‘n voortdurende gevaar, broers en susters van die volgende geslag. Een generasie kan hulleself verheug in ‘n lewende geloof, hulle kan die intieme gemeenskap met God geniet, hulle kan van harte lewe vanuit die koningskap van Jesus Christus, elke dag. En die volgende generasie kan kom sonder dat dit hulle raak. En dit beteken nie dat die volgende generasie dadelik alles sal verwerp en die kerk sal verlaat nie. Nee, hulle sal nog van die Here weet, maar hulle ken Hom nie meer persoonlik nie! Hulle sal vir eers nog by die kerk bly op hulle formele, koue manier. Maar daar is geen vuur in hulle geloof nie, geen warmte in hulle liefde nie, geen vreugde in hulle hoop nie. Van “die uitnemendheid van die kennis van Jesus Christus, my Here”, soos wat Paulus daaroor praat in Filippense 3, verstaan hulle niks nie. En daarom is dit vir die jonger generasie só belangrik om die geloof van die vaders hulle eie te maak. Ons moet nie net die geloof van ons ouers na-aap nie; geloof is nie ‘n sak vol kennis wat van vader na seun oorgedra kan word nie. Nee, ons moet persoonlik wedergebore word, ons moet persoonlik tot bekering kom, ons moet persoonlik ‘n verwondering kry vir die Here se werke. Om die Here te ken, beteken om Hom persoonlik te erken, om in ‘n lewende verhouding met Hom te staan. 

Gemeente, as ons vandag die bose kringloop van die rigtertyd wil ontkom, as ons wil keer dat daar van óns tyd gesê word “elkeen het gedoen wat goed is in sy eie oë”, dan moet ons, deur die Here se krag en genade, hierdie verantwoordelikhede aanvaar. Van geslag tot geslag. Die ouer geslag moet leer, moet onderrig gee. Die jonger geslag moet geleer word, moet onderrig ontvang. Só wil die Here generasie op generasie sy volk bou. En die generasies sit hier in ons midde – oupas en oumas, pa’s en ma’s, seuns en dogters, klein babatjies. Moenie die wonder daarvan verag nie, en moenie die waarskuwing van Rigters se informasie-blaadjie in die wind slaan nie. Gaan vanmôre huis toe, en gaan onderrig die volgende geslag; gaan vanmôre huis toe, en stel jouself oop vir die onderrig van die vorige geslag.

[sing Ps. 78:2 en 3]

Kom ons let vervolgens op die trou van die Here.

2. Behalwe die kontras tussen die ontrou van die nuwe geslag en die trou van die vorige geslag, is daar ook nog ‘n ander kontras, naamlik dié tussen die ontrou van die nuwe geslag en die trou van die Here. Ten spyte van die ontrou van die volgende geslag, staan ons verstom oor die trou van die Here. En  hierdie trou van die Here skitter op verskillende maniere in hierdie informasie-blaadjie…

Aan die een kant sien ons die trou van die Here in sy toorn. Lees maar verse 14 en 15; wanneer die volk die Baals en Astartes begin dien het, “het die toorn van die Here teen Israel ontvlam … soos die Here gespreek en soos die Here vir hulle gesweer het.” Dus, wanneer die Here – volgens verse 14 en 15 – begin toelaat dat rowers die volk beroof, of wanneer Hy hulle in die hand van hulle vyande verkoop, of wanneer sy hand teen hulle is wanneer hulle uittrek teen hulle vyande, dan doen Hy niks vreemds nie. Hierdie optrede van die Here moes die volk geensins verras het nie. Hoekom sou dit? Dit is mos wat die Here gesê het!? Toe die Here tydens die woestynreis die verbond met sy volk vernuwe het, het Hy mos baie konkreet die seën én die vloek van die verbond uitgespel?! Hy het mos duidelik in Levitikus 26:17 as deel van sy vloek vir hulle gesê: “En ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers…” En dieselfde sien ons in Deuteronomium 28:25: “Die Here sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug…” Die Here het dit vooraf vir sy volk gesê! Dus, wanneer die Here in sy toorn uitbreek omdat die volk agter vreemde gode aanloop, dan bewys dit vir ons dat Hy trou is aan sy woord. Dit is ‘n voorspelbare en getroue toorn! 

En hierdie toorn behoort ons daarom ook nie te verbaas nie, gemeente. Dit is die prys wat ons betaal om deur die Here bemin te word. Die Here het vooraf gesê dat Hy geen teenstanders, geen konkurrente, in hierdie verhouding tussen ons en Hom verduur nie. Sy Naam is immers Jaloers; Hy is ‘n jaloerse God (Ex. 34:14). En goddelike jaloersheid is die keersy van liefde; waar die liefde eksklusief is, daar is jaloersheid altyd aanwesig. Dink hieroor na: veronderstel ‘n man het die hartseer getuienis gekry dat sy vrou ‘n verhouding met ‘n ander man het. Dit is nie maar net stories nie, nee, hy het harde bewyse daarvoor in die hande gekry. En veronderstel hierdie man was, met al sy foute, nog altyd ‘n liefdevolle en toegewyde man vir sy vrou. En nou het sy hierdie verhouding. Wat gaan jy dink wanneer sy reaksie is: “Ai, dis nou jammer, maar ongelukkig is dit nou eenmaal hoe die lewe loop; jy kan seker nie alles wil hê nie.” Jy gaan verseker dink dat hierdie man nie omgee vir sy vrou nie, want as hy regtig vir haar lief was, dan sou hy nie so noncholant gewees het nie. Dan sou hy jaloers gewees het, woedend gewees het. Egte, gesonde jaloesie is liefde wat in vlamme uitbars! 

Nou, dit is wat dit beteken om God as ons God te hê. Om ‘n God te hê wat sy volk liefhet, is om ‘n jaloerse God te hê. En ‘n jaloerse God is ‘n onverdraagsame God. Sy goddelike liefde is nie goedkoop romanse nie; nee, sy liefde is ‘n vurige onverdraagsaamheid waarmee Hy aanspraak maak op die onverdeelde hart van sy volk. So is die God van Israel – sy jaloersheid maak Hom trou in sy toorn. As jy Hom verlaat, sal Hy jou agtervolg – in sy toorn, in sy trou! Moet jou nie daaroor verbaas nie. Moet jou nie verbaas wanneer die Here hierdie gemeente straf as ons Hom sou verlaat nie; moet jou nie verbaas wanneer die Here jou in sy toorn agtervolg wanneer jy in jou persoonlike lewe al hoe verder van Hom af wegdwaal nie. Inteendeel, sien daarin die brandende keersy van sy liefde oor die degenerasie van die volgende generasie. 

En onthou: wanneer daar geen bekering is nie, dan eindig daardie brande keersy uiteindelik in die hel. Dit is nie ‘n bangmaker nie; dit is nie ‘n stok agter die deur nie. Nee, ek wys net vir u waarop die vertrapte liefde van die Here uiteindelik uitloop. Die hel is nie die speelplek van ‘n leedvermakerige God nie; nee, die hel is die noodwendige gevolg van God se vertrapte liefde. En sien daarin sy verbondshandeling – Hy tree op binne die verhouding waarin Hy met ons staan, óók in die hel! En laat dit ons bring tot bekering, broers en susters, laat dit ons by Christus uitbring. Dit is Hy wat die volle las van God se toorn moes verduur, dit is Hy wat die degenerasie van alle generasies gedra het, sonder dat Hy daaraan deel gehad het. 
En dit is dan ook die ander kant van God se trou…

Want, gemeente, die Here is nie net getrou in sy toorn nie, maar Hy is dit selfs nog meer in sy genade en verlossing. Vergelyk vir ‘n oomblik verse 14a en 16a met mekaar: “die toorn van die Here het teen Israel ontvlam…” (vers 14a) en vervolgens “die Here het rigters verwek wat hulle verlos…” (vers 16a). Vir ons gevoel kan hierdie twee nie net so langs mekaar staan nie. Vir ons gevoel moet daar nog iets tussen-in gevoeg word; iets soos: “Israel het hulle bose weë verlaat, Israel het Baal afgesweer, Israel het die Here opgesoek…” Ja, dán kan die Here hulle mos verlos?! Dán is daar mos rede vir redding?! Maar nêrens vind ons iets daarvan nie. Nee, die God wat Israel in die hand van rowers oorgegee het (vers 14), Hy verlos hulle ook weer uit die hand van hulle berowers (vers 16); die hand van die Here wat teen hulle is (vers 15), is op ‘n geheimsinnige manier ook aan hulle kant (vers 16). En dit is die wonder van God se genade, dat Hy wat sy volk tereg neerwerp, hulle ook sonder rede weer ophef. 

Sonder rede – daar is in elk geval geen rede in die volk nie; ons sien nog geen bekering nie. As ons ‘n rede sou moes noem, dan lê daardie rede in God se bewoënheid oor sy volk. Selfs wanneer die volk telkens maar weer afvallig is, dan verwek die Here nogtans rigters om hulle te verlos. Hoekom? Want die Here het medelyde gehad vanweë hulle gekerm oor hulle verdrukkers en hulle verdringers (vers 18). God se hart is bewoë oor die groot benoudheid waarin sy volk gekom het; sy hart is bewoë oor die blote gekerm van sy volk. 

Gekerm – ons kom hierdie woord ook teë in die boek Exodus waar die volk onder die slawejuk van Egipte gelewe het. U onthou mos nog wat ons lees in Exodus 2:24: “En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.” En nou, ongeveer driehonderd jaar later, vind ons weer presies dieselfde: die Here het medelyde gehad vanweë hulle gekerm (vers 18). Die Here só ongelooflik trou, Hy bly steeds dieselfde in sy verbond. Honderde jare tussen Exodus en Rigters laat nie die hitte van sy liefde afkoel nie, selfs al het die volk telkemale emmers met koue water oor daardie warm liefde gegooi. Niks kan die vuur van God se liefde blus nie! 

Gemeente, as God aan sy toorn vrye teuels sou gegee het, dan sou daar van Israel niks oorgebly het nie, maar Hy het Homself ingehou. Hy het sy toorn beteuel en aan Israel nog ‘n genadige proeftyd gegee. Drie keer in hierdie gedeelte (2:22, 3:1 en 3:4) lees ons dat God die omringende volke gebruik het om Israel op die proef te stel… om te sien of hulle die weg van die Here sal hou deur daarin te wandel (2:22), om te weet of hulle na die gebooie van die Here sou luister (3:4). God gee genadetyd vir sy volk, ook vandag nog. In die woorde van 2 Petrus 3:9: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” Nóú is daar nog genadetyd; nóú is daar nog tyd vir bekering. Gaan na die Here in die Naam van Jesus Christus, want “Here, wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe? Hy hou sy toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met ‘n eed beloof het sedert die dae van die voortyd” (Miga 7:18-20). Ja, ook sedert die rigter-tyd is die Here se optrede ‘n voorbeeld van trou en goedertierenheid. En daarom: vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Amen

Liturgie: 

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. 

Sing Ps. 31:5 en 15

Wetslesing 

Sing Ps. 65:2 en 3

Gebed

Doopsbediening
•    Lees formulier + vrae
•    Doopsbediening
•    Gebed
•    Sing Ps. 105:1 en 5

Lees en teks: Rigters 2:6-3:6

Preek

Amenlied Ps. 78:2 en 3

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 60:1 en 4

Seën:
- Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
- Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.