In sy huis gee God die regte perspektief op die lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2020-10-04
Teks: 
Psalm 73:26
Preek Inhoud: 

Vandag is dit biddag vir gewas en arbeid.

Die teks vir die preek is baie toepaslik, veral in die omstandighede waarin ons tans ons bevind, te midde van ‘n Griepepidemie, wat miskien nog nie so erg as die Spaanse griep van die vorige eeu is nie, maar tog alreeds meer as ‘n miljoen lewens wêreldwyd geeïs het, ook in ons land, ook lewens van mense wat ons moontlik geken het:

“Al beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.”

‘n Pragtige vertroostende boodskap vir ‘n tyd waarin ons meer as gewoonlik met die groot vyand, die dood, oog in oog te staan kom.

 

Tema: In sy huis gee God die regte perspektief op die lewe

 

Dit is vandag Sondag, en ons is weer in God se huis, daar waar sy Woord bedien word.

Hier mag ons ‘n troosvolle perspektief op die lewe en die toekoms ontvang.

Dit is hoekom ons hier is.

Kom ons luister na die boodskap van ons goeie God, soos dit tot ons kom in Psalm 73.

Kom ons luister hoe hierdie psalm spreek oor ‘n menselewe, vol teenslae, en hoe God jou by die hand neem.

 

Hierdie psalm begin met ‘n algmene opmerking.

God is goed vir Israel.

Maar wat beteken daardie woordjie goed eintlik?

Hierdie psalm is ‘n soektog, ‘n speurtog na wat dit beteken.

Wat hou die goeie in?

Hierdie speurtog is nie ‘n afstandelike wetenskaplike speurtog nie.

Hierdie speurtog kom uit die alledaagse lewe.

Ons sien hoe in hierdie psalm ‘n kind van God weggly in depressie.

Ons sien hoe hy oorweldig word deur die waan van die dag.

Ons sien hom uitgly, wegsak in somber lusteloosheid.

En dit het veral daarmee te make dat hy sy eie toestand vergelyk met die van ander.

 

Ek, vertel die psalmis, het die voorspoed van die goddelose gesien.

Ken hulle enigsins moeite?

Weet hulle wat armoede is?

Hulle liggame is gesond en weldeurvoed.

Ander moet swoeg, nie hulle nie.

Die digter beskryf hoe hulle lyk.

Verwaandheid as halssieraad.

Geweld dra hulle as gewaad, as hulle klere.

Hulle oë puil uit hulle vet voorspoedige gesig.

Hulle hart loop oor van spot.

Hulle mond spaar selfs nie Hom wat in die hemel woon nie.

Hulle tong gaan tekeer op aarde.

En dan sê hulle nog:

Hoe sou God dit weet?

Hulle word nie deur God gepla nie.

Hulle gaan gewoon aan.

Hulle wen aan invloed en mag.

 

Maar, ek, kla die psalmis, vergeefs het ek my hart rein bewaar.

Vergeefs het ek my hande in onskuld gewas.

Want wat het dit my uiteindelik opgelewer?

Wat het dit my opgelewer dat ek ‘n goeie lewe probeer lei het?

Dat ek my aan die gebooie probeer hou het?

Ek word die hele dag gekwel.

Elke môre as ek wakker word, val die somberheid op my soos ‘n tugtiging.

Weer ‘n dag?

Wat moet ek daarmee doen?

Lusteloosheid.

Niks het tog sin nie.

Ek kan die lewe nie begryp nie.

Dit is ‘n onoplosbare raaisel.

As mens sake op ‘n rytjie probeer sit, dan misluk dit.

Geestelik te ingewikkeld.

Jou hoof slaan op hol.

Die lewe oorweldig jou.

Die realiteite van die lewe laat jou kop uitmekaar spat.

Die lewe het jou vyand geword.

Jy wil weg uit die lewe.

Jy wil probeer om alles te begryp, maar dit word net duideliker dat dit onmoontlik is.

Sin maak uit die lewe, dis ‘n opgawe wat te swaar is vir ‘n mens.

 

Geliefdes, hierdie psalm van Asaf verwoord iets wat vandag, baie eeue later, nog steeds baie herkenbaar is.

Wat is die lewe?

Wat is die mens?

Waarom neem die lewe soms sulke ondraaglike wendings?

Waarom dra sommige mense so swaar aan die lewe, terwyl ander min gepla is?

 

Dra jy soms swaar aan die lewe?

Het jy ‘n moeitevolle lewe?

Ken jy depressie?

Voel jy soms dat God jou op ‘n baie moeilike lewenspad geplaas het?

Hoekom?

Daar was tye dat my hart verbitterd was, my niere geprikkel, lees ons in die psalm.

Hart, dit is die middelpunt van jou lewe, jou wil.

Niere, die middelpunt van jou emosies, jou gevoel.

Geprikkel, onderstebo gekeer.

Jy kan huil, jy kan lag, jy kan boos wees, of verdrietig ...

Maar jy kan niks daaraan doen nie.

Jy het geen grip op sake nie.

Baie herkenbaar, hierdie psalm van Asaf.

So kan dit met ‘n mens gaan.

So gaan dit dikwels met mense.

Om alles te begryp, dit was ‘n opgawe wat ons nie kan bemeester nie.

 

 

Daar is een woord in hierdie psalm, gemeente, wat ‘n opmerklike wending aandui.

Die woordjie “totdat” in vers 17.

Totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan het.

Dit is die plek waar ‘n mens in God se aanwesigheid kom.

Waar ‘n mens iets te sien kry van hoe God na die wêreld kyk.

Hoe God na hierdie lewe kyk.

Hoe God na mense kyk en al hulle doen en late.

Dit is die plek waar mens iets verneem van God se raadsplanne.

Die plek waar mens se verstand verlig word.

Die oë van jou verstand om iets van die werk van die Ewige te sien.

Die heiligdom van God, skryf Asaf:

Dis die plek waar mens afstand kan neem van die lewe van alle dag.

Om daarna met ‘n nuwe perspektief die lewe weer tegemoet te gaan.

 

Vir Asaf, die digter van hierdie psalm, is dit ‘n keerpunt: “totdat”.

Niemand kan gelukkig wees as die lewe net blinde toeval sou wees nie.

Maar in God se heiligdom word die sluier gelig wat oor die toekoms lê.

Soos daar in vers 17 staan: “totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.”

Die einde van die welvarendes, die ongevoeliges, die goddelose mense.

Toe die digter sig kry op hulle einde, het dit hom anders na hierdie op die oog af so gelukkige en welvarende mense laat kyk.

Hulle bevind hulle op glibberige paaie.

Hulle kan net so verdwyn.

Hulle lewe is soos ‘n droom, wat verdwyn die oomblik as mens wakker word.

Totdat.

Daar in God se heiligdom, daar het die digter geleer om anders na die lewe te kyk.

Totdat hy sy heiligdom ingegaan het.

Dit het veroorsaak dat hy nuwe sig gekry het op die menselewe, ook op sy eie lewe.

 

Noudat ek uit u oogpunt na die lewe kyk, o Here, so sê die digter, nou besef ek eers dat ek ‘n groot dwaas was, sonder verstand.

‘n Redelose dier by U.

Hoekom het ek myself so laat meevoer deur wat voor oë was?

 

En dan, gemeente, is daar nog ‘n woord in hierdie psalm wat ‘n opmerklike wending aandui.

Vers 23, die woordjie nogtans.

Dit kan ook vertaal word as: tog, of: maar.

Maar ek is altyddeur by U; U het my regterhand gevat.

Hierdie is ‘n geloofsbelydenis van die psalmis.

‘n Geloofsbelydenis wat ons ook kan omarm.

Ook ons is dikwels soos ‘n redelose dier.

Maar God vat my regterhand.

Sy liefde maak my rustig.

My hart, my niere, my kop.

Sy liefde laat die onrus verdwyn.

Al die dreiging van die lewe.

As ek in u heiligdom is, dan het ek ook die moed, die vrymoedigheid, om op my eie einde te let.

U sal my lei deur u raad, en my daarna in heerlikheid opneem.

U sal my tuishaal.

 

Hier in God se huis, waar sy Woord oopgaan, hier kry ons weer perspektief op die lewe.

Hier kry jy die versekering dat God jou regterhand sal vashou tot die einde.

Ook al val jou geliefdes rondom jou weg.

Hy het sy eie Seun ook vir jou laat sterf.

In die middel van ‘n pandemie, midde in ‘n moeitevolle lewe, kry ons in sy huis weer perspektief.

Leer ons om alles in hierdie lewe te relativeer, op sy regte plek te sit.

Wie het ek buiten U?

Buiten U begeer ek niks op aarde nie.

Al vergaan my liggaam, al takel my liggaam af, al vergaan my hart,

tog bly die rots van my hart, my God, my erfdeel vir altyd.

Die wat hulle ver van U hou, sal vergaan.

Maar my rykdom is om naby aan God te wees.

Tot die Here HERE het ek my toevlug geneem.

Die Here sal my nie beskaam nie.

 

In God se heiligdom, in sy huis kan ons vanuit sy Woord, dit wat Hy in sy Woord aan ons openbaar en beloof, na die lewe kyk.

Daaruit put ons troos, en krag, en volharding.

Selfs al beswyk my vlees, soos die teks sê, weet ek dis nie die einde nie.

Ek word tuisgehaal by die hemelse Vader.

Dit is nie die einde nie.

Dit is die begin van wat God werklik vir ons beplan het.

Dit is mos die bedoeling van hierdie lewe, hierdie kortstondige lewe.

Al word jy 90 jaar oud of ouer, die leeftyd van die baie sterkes op aarde, tog was dit ‘n oogwink, vergeleke by die ewigheid.

Ons word in hierdie lewe klaargestoom vir God se bedoeling, die ewige heerlikheid.

Dit is die doel van die lewe.

Die herskepping van siel en liggaam.

 

Gemeente, die tyd is kort.

Moenie tyd mors met die waan van die dag nie.

Sorg dat hierdie woorde ook in jou hart uitgebeitel is, onuitwisbaar:

God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.

In sy huis gee God ons die regte perspektief op die lewe.

Aanvaar hierdie perspektief op jou lewe, maak die denkskuif.

Skud die waan van die dag af, wat jou wil wysmaak dat dit wat in die Bybel staan nie waar kan wees nie.

In Jesus se tyd was daar ook al die waan van die dag.

In Jesus se tyd was daar ook al baie mense wat die opstanding uit die dode ontken het, wat dit onmoontlik geag het.

Byvoorbeeld die Sadduseërs (Markus 12:18).

Christus het Homself nie deur hulle laat lei nie.

Hy het sy Vader se belofte geglo, dat Hy Hom sou opwek.

En die Vader het sy belofte gehou.

Christus is opgewek uit die dood.

En nou beloof Hy aan ons dat elkeen wat in Hom glo, ook liggaamlike opstanding sal beleef.

En tot daardie dag sal jou lewe by Hom in die hemel wees, waar Hy sit aan die regterhand van die Vader.

Moenie dat die waan van die dag jou teneerdruk nie.

Bly naby die HERE, bly naby sy kerk, leef met sy Woord.

Sorg dat jy perspektief bly hou.

 

Met hierdie besef mag ons vandag Biddag vir gewas en arbeid hou.

Ons mag vrymoedig ons behoeftes aan die Here voorlê.

Ja, ons wil dat die Corona pandemie so spoedig moontlik verby is.

En ons bid die Here dat daar spoedig ‘n effektiewe entstof beskikbaar mag kom, sodat ‘n tweede en derde golf van die virus voorkom kan word.

Ons bid dat die ekonomie weer sy kop sal optel, dat die werksgeleenthede weer meer mag word.

Ons bid dat al die baie ander probleme in die land ook in ‘n goeie rigting mag begin beweeg.

En net soos alle voorafgaande jare, bid ons ook hierdie jaar dat daar in die nuwe seisoen genoeg reën mag val.

Nie te veel, dat daar vloede kom.

Nie te min, dat daar droogte kom.

Dat die gewasse op die lande voorspoedig mag groei tot die dag dat hulle geoes word.

 

Die Here Jesus het ons beveel om vrymoedig te bid vir ons daaglikse brood, waarmee bedoel word al ons lewensbehoeftes.

Op katkisasie vra ek die jeug soms om ‘n lysie te maak van alle produkte wat hulle daardie dag al gebruik het.

Elke keer word daardie lysie veel langer as net brood en botter en kaas.

Daar is ook koffie of tee, vrugte, groente, stysel, proteïene.

Daar is ook klere en skoene.

Daar is ook seep, sjampoo, tandepasta.

Daar is ook medisyne vir as jy koppyn het.

En hoe ouer mens word, hoe meer medisyne het mens dikwels op daaglikse basis nodig.

Dan is daar vervoermiddels en brandstof, om by die skool of die werk uit te kom.

Daar is skryfbehoeftes en handboeke.

Elektrisiteit en water.

Dan is daar deesdae veral ook data, selfone, rekenaars.

En dan het ons nog nie by die ekstras gekom wat ook deel van ons bestaan is nie, al is dit dalk nie vir elke dag nie.

Soms ‘n sjokolade, of ‘n glas wyn, ‘n bier, soms ‘n vakansie en noem maar op.

Al hierdie dinge het die Here Jesus ons beveel om voor te bid.

Ons mag ook daarvoor bid.

As ons daarvoor bid, dan leer ons dat al hierdie dinge, ook die luukse dinge, uit God se Vaderhand kom.

En Psalm 73 leer vir ons om al hierdie dinge in die regte perspektief te sien.

Daar gaan altyd mense wees wat meer het as jy, wat ‘voorspoediger’ is as jy.

Psalm 73 maak ons dankbaar, vir die lewenspad wat God vir ons uitstippel.

En ja, daar kan dae kom in ons lewe, dat dit regtig sleg gaan.

Of materieel, òf wat betref jou gesondheid, òf geliefdes wat wegval.

Ja al beswyk jou vlees en jou hart, soos die teks dit verwoord.

Juis in sulke dae kan jy in God se huis nuwe perspektief kry.

Ja in sy huis gee God ons die regte perspektief op die lewe.

In voor- en teëspoed, in gesondheid en siekte, in alle omstandighede bly God die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.

As dit jou lewensleuse is, dan is jou lewe geanker.

Dan sal die voorspoed van die goddelose jou nie depressief maak nie.

Selfs nie jou eie omstandighede, siekte, armoede nie.

Want in Christus is ons skatryk, erfgename van ‘n skitterende toekoms.

So bepaal ons teks, op hierdie Biddag, ons by die wese van die lewe.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 73:1,2

Wet

Ps 73:3,4,5,9

Gebed

Skriflesing: Psalm 73

Ps 73:6-8

Teks: Psalm 73:26

Preek

Ps 73:10,11,12

Gebed

Kollekte

Ps 52: 3,4

Seën