Verwag alles van die Here van die leërskare want sy ywer is die bewys dat Hy Hom aan ons verbind het

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-09-27
Teks: 
Jesaja 8:1 – 9:6
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Jesaja 9:6 hoor ons: Die ywer van die Here van die leerskare sal dit doen – dit is:  die Here sal vir seker lig werk waar daar duisternis van sonde was. Ons teks straal die lig van God se ywer vir sy eer uit, sodat die dag breek en die duisternis waarin sy volk vasgevang is, verdwyn.

God toon aan ons in sy verbond met Israel dat Hy die ywerige of jaloerse God is. Dat Hy in sy majesteitlike heiligheid waak oor sy eer, en dat Hy toorn oor die skending van sy eer. Hy is ‘n jaloerse God. (Eks 34:14). Hy ywer vir sy geregtigheid en dat daar daarom aan Hom reg gedoen word. Hy wil erken word as die enige God. Hy reageer vurig, en toorn, by die aantasting van sy reg en verbreking van sy verbond.

Sy ywer is eerstens teen Israel in verband met sy volk se afgodery en vertroue op mense en geeste, en hulle wantroue teenoor Hom en sy Naam.

Sy ywer is tweedens teen die heidense volke wat Hy in sy diens neem om sy volk te straf en sy reddingsplan deur te voer, omdat hullle hulle teen God verhef en nie erken dat hulle alleen maar instrumente in sy hand is nie. Die Here reageer op hulle minagting van sy Naam en die skending van sy reg. (Jes. 42:13).

Sy ywer is derdens vir sy verbondvolk Israel vir die seker handhawing, die betroubare handhawing en uitvoering van sy heil, in sy wil om hulle volgens sy Raad te red. Hy sal dit uitvoer. Dit is die fokus van die laaste deel van 9:6..

In ons teks gee God aan sy volk wat dreig om in duisternis onder te gaan, deur die profesie van die geboorte van die Messias Kind ‘n toekoms, ‘n nuwe heilvolle toekoms, ‘n toekoms waar reg en geregtigheid geskied en God alle lof en eer sal ontvang. (9:5,6). Die sekerheid en waarborg dat God sy heilswerk vir sy volk sal doen om aan sy volk wat in groot donkerte verkeer, lig te gee, word in die begrip die Ywer van die Here van die leërskare saamgevat. Die dag sal weer breek oor God se volk want die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen. Die ywer van God, die dryfkrag en sekerheid waarmee Hy alles deurvoer agter die beslissende en onomkeerbare wending in die geskiedenis wat Hy in Jesus Christus laat aanbreek. 

In Sy brandende liefde en heilige inset herstel Hy in Christus sy verbond met ons, sonder om af te doen aan sy heerlikheid en majesteit, en aan sy heiligheid, en ontvang deur die werk van Christus die lof en eer van sy uitverkorenes. In Christus kom al die lyne van God se verontwaardiging oor ons sonde saam. Dit is Sy gekrenkte liefde. Maar dit is ook Sy betroubare, liefdevolle verbondenheid aan ons. Deur Sy profetiese Woord word sy gemeente elke keer weer verseker van die ywer van die Here van die leërskare wat verlossing gee soos wat Hy beloof. Die son van geregtigheid breek deur die donkerste nag. In en deur sy Messias laat Hy ons sy beweging sien om alles reg te stel en die wereldgeskiedenis tot die groot einde te lei – die einde onder God se ewige vrede heerskappy. 

Tema:

Verwag alles van die Here van die leërskare want sy ywer is die bewys dat Hy Hom aan ons verbind het
•    God se ywer vir sy volk se vertroue op Hom
•    God se ywer vir die lig van heil om die duisternis van ongeregtigheid tot niet te maak

1. Sy ywer vir sy volk se vertroue op Hom

In hoofstuk 8 vanaf vers 1 staan die Assiriese inval teen Sirië en die tien stamme van Israel voor Juda se deur! God se volk, volk van die verbond word bedreig. Hulle is benoud. Onder leiding van hulle koning is hulle wantrouig teenoor God. Hulle wil hulleself maar red. Hulp deur Assirië kan dit vir hulle doen.

Die Assiriese inval word aangekondig met die naam wat Jesaja aan sy seun moet gee. Netnou is daar buit, gou is daar roof. Neem kennis: die oomblik breek aan! God gebruik die Assiriers wat vir Juda en sy koning gelyk het ‘n reddingsboei te wees, om sy volk se wantroue in Hom te straf. In hoofstuk 7:8,9, het God vir koning Agas, koning van Juda verseker dat hulle nie omvergewerp sou word deur die magte van die bongenote Sirië en Israel nie. Inteendeel Assirië sal hierdie bondgenote wat teen Juda aankom, vernietig. Maar Assirië, wat volgens mense se redenering en verwagting, Juda se redding moes wees, sal weens hulle wantroue in die Here, met sy soldate die land oorstroom en Jerusalem bedreig. Koning Agas wou ewe skynheilig ook nie van die Here ‘n teken hê dat die Here Juda sal beskerm nie. 

Jesaja moes in die openbaar voor betroubare getuies op ‘n publieke plakkaat die naam van sy seun opskryf wat vir hom gebore sou word. So gee Jesaja publisiteit aan die raad van die Here wat dit sal doen. Mense, voordat die seuntjie met die naam: Netnou is daar buit, gou is daar roof, Vader of Moeder sal kan sê, sal Damaskus in Sirië en Samaria in Israel tot niet wees en hulle skatte in die hande van die koning van Assur, en dan sal Juda en Jerusalem weerloos teen Assirië (wat hulle bondgenoot moes wees) staan. God straf sy volk so, omdat hulle Hom nie vertrou het nie. Nadat koning Agas afwysend teenoor die profesie van die profeet gaan staan het in hoofstuk 7, moet dit nou uit na die volk en word die volk voor die keuse gestel om die Here te vertrou en nie menslike bondgenote nie. Deur ‘n tydperk in ‘n menselewe, die lewe van die kind wat vir Jesaja gebore word, die kort tydperk van geboorte tot die sê van Pappa of Mamma, bewys God dat Hy vinnig sal doen wat Hy sê

Maar nou kies die volk om nie die Here ten spyte van sy oproep en dreiging te vertrou nie, maar die koning na te volg. Daarom: Volk van Juda, nie net die koning nie, julle sal ook getref word. Ook die volk versmaai die sagvloeiende water van Siloa. Hierdie fontein was die lewensaar in die ou tyd vir die stad Jerusalem. Die bron wys op die bron van die lewe, die Here. Die stad het sy bestaan aan die Here te danke gehad. Dit is Hom wat hulle versmaai. Hierdie mense het nie die waters van Siloa, die standhoudende vertroude water wat saggies vloei, die goeie betroubare sorg van hulle God verkies nie. Nee. Hulle blydskap is nou selfs in die slegte leiers Resin van Sirië en Israel, en in die seun van Remalia, dit is Peka, die koning van Israel. Daarom sal die volk nie meer rus en die waters van Siloa geniet nie, want oor hulle sal die sterk en magtige waters van die Eufraat kom. Dit is die koning van Assirie met sy mag en heerlikheid wat oor hulle sal kom. Die magtige Eufraat en Tigris was twee groot riviere in Assirie. …Die Here se verbondvolk het nie behae gehad in die standhoudende vredevolle stroom van sy liefde en goedheid nie, die water van die lewe wat die Here gee nie, nou ja dan gee Hy iets anders, meer aanskoulik, die magtige Eufraat rivier wat alles oorstroom. Hulle wantroue in God sal gewreek word. Die Here van die leërskare ywer vir sy Naam. Dit sal ‘n geweldige vloed wees wat God oor hulle laat kom. Die noordelike stamme het reeds ondergegaan onder die Assiriers. En Juda? Juda, wel die water sal net tot by hulle nek kom. Dus hulle het nog nie heeltemaal verdrink nie. Juda sal oorleef maar baie ly. Die volk van Juda wat op Assirie vertrou het, sal deur Assirie vertrap word. Vir jare lank sou Juda sug onder die verpligtings van die bondgenootskap met Assirië.

Jesaja is met sy roeping deur die heilige God, hoofstuk 6 opgedra om verharding van hulle harte aan die volk te verkondig in uitvoering van die oordeel van die Here oor hulle. Hierdie oordeel was dat God die Assiriers in sy diens teen sy verharde volk sou gebruik. Jesaja verkondig steeds die heil van God. Waar die ore doof en die oë blind en die harte hard geword het, waar dit donker geword het, werk God redding. Red Hy want alleen Hy kan nog red. 

In hoofstuk 7 lees ons van die geboorte van Immanuel, wat wys na DIE Immanuel wat sewe eeue later sou kom. Hy sou nie maar net ‘n teken van heil wees soos hierdie eerste Immanuel nie, nie maar Hy is die Een wat self alles kom doen het om God se eer te herstel, soos Matteus in ons skrifgedeelte bevestig het.

En nou lees ons in hoofstuk 8:8 “O Immanuel,” uitroep van die volk, want die land wat so oorstroom word, behoort aan die Here. Alle planne sal tot niks kom nie, want God is met ons. Dit wys op God se eer. Dit sê dat God sy wil uitvoer onder en met ons, sonder ons inisiatief. Ons kan God nie onder ons wil intrek nie, Hy trek ons onder sy wil in. God wat die Assiriers gebruik en God wat Jesaja gebruik, se wil sal geskied. Ons gebruik dikwels die term God met ons om aan ons selfvertroue krag te verleen. Maar hierdie begrip gaan juis teen ons selfvertroue in. Hy oorweldig ons. Jesaja mag nie wandel op die weg van die wantrouige volk nie, 11. Hy moet deur die Here se hand oorweldig word. Vrees die Here-dit is God met ons.
Die profesie van heil word onomwonde teen die onheil gestel. Die heil van God neem ook die onheil in diens. Daarom die angskreet of sware versugting. 8:8: O Immanuel! So is God vir hulle ‘n bedreiging omdat hulle hom nie wou ken nie. En so werk die verharding deur wanneer mense hulle teen die Evangelie van God keer, hulle keer teen God met ons

Maar in vers 10 is Immanuel ook ‘n gerusstelling vir elkeen wat gelowig die aanvallers se opmars teen Jerusalem in verse 9 en 10 sien as opmars volgens God se plan met die Assiriese wereldmag. Beraad maar, maak maar julle planne met mekaar, julle planne sal in duie stort. Hier is die versekering:

God met ons – sy wil sal geskied. Assirie sal Juda binneval. Gord julle maar, julle sal inmekaar stort, maak ‘n besluit, dit sal verydel word. Maak ‘n afspraak daar sal niks van kom nie.

Juda, maak julle gereed vir die inval!!!:

Hoe kan hulle hulle gereed maak vir die inval? Is alles nie verlore nie?

Nee: Vrees God en nie Assirie nie. 11-15:

Die Here stel Homself hier teen die volk op. Die profeet roep op: Noem nie soos hierdie volk alles ‘n sameswering nie, wees nie bevrees vir wat hulle voor bevrees is nie. Pasop dat jy nie luister na die publieke opinie nie. “Hulle sê….” Of na samesweringsteorië nie. Na die gangbare mening van die volk soos dit na vore kom in die gesprekke in die leidende kringe en die gepraat van die volk op straat of agter ‘n paar paar doemprofete aan nie. Vrees word opgewek en massa histerie gekweek. Maar daarmee word die Here van die leerskare nie geag nie. Daarmee word nie reg aan Hom gedoen nie. Daarmee word sy geregtigheid verkleineer. Moenie dat die meningsvormers jou hart oorneem nie. Hulle is so verskrik vir Sirië en Israel wat die land binnegeval het, maar Assirie vir wie hulle vertrou het om hulle te help sal nog in ‘n oogwink vir hulle aanval en vertrap. Dit is in die Here se groot plan dat Juda nie deur Sirie en Israel oorwin word nie, en ook nie heeltemaal deur Assirië nie. Die Here van die leerskare moet geheilig word. God moet gevrees word. Laat Hy julle verskrikking wees. Moenie van mense weghardloop nie. Maar hê vrees, eerbied vir die Here. 

Soek nie genade by die invallende leer nie, maar by God. In sy ywer vir sy Naam toon Hy Hom as die genadige. Wie die Here vrees is hulle wat Hom soek omdat Hy gedug is. Teen mensevrees waarsku Jesaja. En teen alles wat vrees kan inboesem. Een is te vrees. Die Here van die leerskare. Hy is die Heilige.Vir Hom moet jy ontsag hê. En Hy is dit wat vir sy eer ywer. Hy sal doen wat Hy belowe.

God sal vir sy volk ‘n heiligdom wees, ‘n plek van vrede en kennis van die Here. ‘n Plek waar God se eer erken word. Waar daar deur sy uitverkorenes geywer word vir sy eer. Maar wees gewaarsku… vir hulle wat Hom nie vertrou nie sal Hy wees ‘n klip waarteen jy stamp, ‘n rots waaroor jy struikel, vir Juda en Israel, die twee huise van Israel, en vir Jerusalem ‘n vangnet en ‘n strik. Baie sal gevang en verstrik word. 

God se getuienis en die profeet se instruksie moet gebind wees op die hart van God se leerlinge. Dit is nie ‘n passiewe wegbêre van sy Woord in die dieptes van ons harte nie. In 8:16-18 wag die profeet dat God hom lei. Ek sal wag op die Here wat sy aangesig hier verberg vir Jakob. Geen passiewe gewag nie, maar wag in gereedheid vir die stem van die Heer. Jesaja en sy kinders word tekens en sinnebeelde in Israel gemaak, deur die Here van die leerskare wat op die berg Sion woon. Jesaja kon sê: Ons, ek en my seuns is die boodskap. Kyk na ons. God het sy raadsplan aan’n termyn in die lewe van my kind verbind. 

Jesaja sal op die Here hoop. Teenoor die wantroue van die volk in die Here is God betroubaar, en kan Jesaja Hom vertrou. Die ywer van die Here teen sy volk se ontrou is die bewys dat Hy waak en werk en voer sy raad uit vir sy eer.

Maar by die mense van Juda is geloof in God skaars. Wie nie glo nie het geen rus nie. Hulle is onrustig en benoud. So gaan dit in Juda. 

Dit kan so anders wees…
Hulle moet God se lig en sy Woord soek dat hulle proefondervindinglik weet dat Hy vir die eer van sy Naam en vir hulle vertroue in Hom ywer, vers 19 en 20. Hulle moenie geeste van afgestorwenes en geeste van waarsêers soek nie. Hulle moenie op mense vertrou nie. God se volk moet Hom vra. So sal hulle ondervind dat Hy vir hulle stry. Daar is geen wins om die dooies vir die nog lewendes te soek nie. Dit gaan om God se selfagting, of selfrespek en dat Hy eerbied daarvoor van sy volk soek. Hy ywer teen sy volk met hulle diens aan afgode, maar Hy ywer ook teen die volke wat met Hom en sy volk die spot dryf.

Dit was met die volk destyds so dat as hulle nie volgens sy woord spreek nie, (in vertroue op God se beloftes nie), is dit nie omdat God hulle nie verlig nie, maar omdat daar geen lig in hulle is nie, geen dagbreek meer nie. In jammernag en benoudheid en duisternis laat hulle hulle drywe.

So gaan die paaie uitmekaar. Jesaja het God se heil verkondig. Dat die betroubare God ywer vir sy eer, en daarom ywer vir sy volk, sodat hulle op hom vertrou. Maar die koning en die volk het hulle redding in bondgenootskap en sameswering, in waarseggergeeste en geeste van dooies gesoek. 

So het Jesaja sy lewensopdrag van hoofstuk 6 om te profeteer tot verharding - uitgevoer. Maar hulle moet weet, hulle wat die boodskap van terugkeer tot God loslaat, hulle ore en hulle harte sluit en Hom laat praat en wat verwerp wat tot hulle vrede dien, hulle verspeel hulle saligheid. Horende verstaan hulle nie, sienende bemerk hulle nie die werklike krisis van hulle afvalligheid van God nie. Vir hulle is dit nag.

2. God se ywer vir die lig van heil om die duisternis van ongeregtigheid tot niet te maak

In 8: 21, 22, 23, 9:1 toon Jesaja die donkerte van ‘n doodsbestaan sonder God aan. Dit is ‘n opstapeling van dinge wat donkerte aandui en van terme vir duisternis. Dit kom lê as ‘n neerdrukkende gewig op die mensehart. Want dit is donker in Jerusalem en Juda. Daar is gebrek. Mense trek honger rond. Hulle honger lei tot woede. En hulle verwens die koning. Hulle gee ook aan God die skuld en vloek Hom. Die profesie van Jesaja dat God besig was om te ywer vir sy volk, ter wille van die ywer vir sy Naam, het hulle niks gesê nie. In hulle persoonlike stryd om oorlewing wou hulle nie die sorg van God sien nie. 

Duisternis lê vir hulle voor. Maar in die landstreek Sebulon en Naftali in die noorde was dit nog erger. Daar het dit in onlangse tyd reeds heeltemaal donker geword. Dit is die streke waar Tiglat Pileser die koning van Assirie die bevolking in ballingskap weggevoer het. 2 Kon. 15:29. En dit was die gevolg van die dwase en strydlustige planne van hulle koning Peka. 

Maar in die streke wat nou so donker is, hoor ons, het die Messias eeue later gekom as die lig en om lig te maak. Matt 4:12-17 lees ons Jesus van Nasaret het gaan woon in Kapernaum (dit is Galilea) en daar sy werk begin en so deur die koms van sy koninkryk lig gemaak in Naftali en Sebulon.

Vir die Jerusalemmers wat hulle nie verhard teen God nie maar hulle vasklem aan die beloftes van God vir die huis van Dawid (en sy ewige troon) bestaan daar geen rede vir wanhoop nie. Jesaja laat ‘n profesie hoor wat die wat op God vertrou nog meer verseker. Dit het betrekking op ‘n deel van die beloofde land (dus Galilea) wat soos ons lees, in hierdie dae nog baie meer verag en ongelukkiger was as Juda. Groot dele van die tien stammeryk is verower in Tiglat Pileser se stryd teen Sirië. Die gebied waarna Jesaja in vers 23 wys, word kortweg Galilea genoem. ‘n Naam wat dui op die plek van die volke. ‘n Naam wat afgelei is van heidense invloed en oorheersing. Hulle was aanvanklik lank blootgestel aan verskillende aanslae en oorloë met Sirië en onlangs was dit Assirië. Oor hierdie ongelukkige Galilea het Jesaja nou ‘n pragtige toekoms verkondig, 9:1. Dae van vreugde soos tydens die oes, 9:2 het vir hulle voorgelê. Want God ywer vir sy eer en dus ook vir sy volk. Hy is vurig besig om te werk vir die opbrengs van reg en geregtigheid vir sy Naam.

Hierdie profesie verkondig die ywer van God vir die werking van die heil wat daar in die persoon van God se seun, in die persoon van Jesus Christus vir Sebulon en Naftali, vir Galilea gekom het.

God se woord het in die Nuwe Testament, in die koms van die Messias in vervulling gegaan. Sagaria, die vader van Johannes die Doper, was verheug oor die lig wat gesien sou word deur hulle wat in duisternis en in die skaduwee van die dood geleef het, Luk 1:79. Matt 4:12-17 is vervulling van Jesaja se profesie van ons teks (8:23-9:6). God het sorgvuldig sy raad uitgevoer. Hy is die God van die hemelse leerskare wat ywer vir sy Naam.

Vanaf Jes. 9:1 lees ons hoedat die duisternis van die wanhoop van sonde en oordeel deurbreek sal word deur die lig van God se werk deur die Messiaskind. Wat ons hier tref is die lig wat deur die duisternis breek, die wat woon in die land van doodskaduwee, oor hulle het die lig geskyn. Die nasie wat vermenigvuldig het, die vreugde soos die mense vrolik is in die oestyd, of die soldate as die buit verdeel word.

Elke onderdeel van die Assirese inval was in God se hand. Hy het hulle in die regdoen vir sy Naam, as Here van die leerskare, gebruik as juk en as staf, teen sy volk, maar hom teen Assirië se hoogmoed gekeer in sy redding van sy volk, Hy het die roede waarmee sy volk geslaan is, verbreek. Daar sal ‘n tyd aanbreek waar daar van die hele Assiriese besettingsleër geen soldateskoen en geen bloederige soldatekleed in Galilea gesien sal word nie. Die Assiriese leër sal haastig met ‘n gedreun terugkeer na hulle land. Alles God se doelgerigte ywer vir sy reg en geregtigheid. Alles gerig op die Kind wat sal kom. En die Kind het hierdie doelgerigtheid vir sy Vader se eer kragtig vervul. Lees hoe die begrip dadelik of spoedig in Markus 1 telkens herhaal word in die beskrywing van Jesus se haastige gerigte gang om die koninkryk van die hemel op aarde te vestig.

God sal sy aangesig nie meer verberg nie, maar vrolikheid en lig sal sy uitverkorenes se deel wees. God sal die nasie vermenigvuldig. Verbreking van die juk en die stok waaronder hulle gely het. Soos op die dag van Midian. Juis die gebiede Sebulon, Naftali, die gebiede oorkant die Jordaan, die noordelike stamme wat voorheen die swaarste onder die Assiriers gely het met hulle soldateskoene wat alles vertrap het, sal dit ondervind. Waar die heidene eens die sterkste stempel afgedruk het, naamlik in Galilea, sal God se kinders uitbundig deel in die lig, in die heerlikheid en vreugde.

Die Here van die leerskare sal dit doen, lees ons 9 vers 6. Julle kan dit maar glo. Hy is betroubaar. Hoor net hier. 2 Kon. 19:31-37:  Want uit Jerusalem sal ‘n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.  Daarom, so sê die HERE aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie.  Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die HERE. En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid.  En in dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd vyf en tagtig duisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame!  En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly.  

Die Assiriese koning met sy groot mond teen God. Maar God het hom gestop. Die engel van die Here het verwarring, dood, verwoesting gesaai.

Maar wie op aarde sal hierdie profesie aangaande Jerusalem en Galilea kan vervul? 
Die Here van die leerskare.
Teen Assirie. 

Maar waarom sou God Hom bekommer oor die benarde Jerusalem en armsalige Galilea? Hy kom op vir sy reg en die vervulling van sy belofte aan Dawid van ‘n ewige koningskap. En van ewige heil.

Die ywer van die Here van die leerskare sal dit doen.

God verbreek die juk van Assirie soos Hy destyds met Gideon aan die Mideaniete gedoen het (9:3). Daar sal ‘n nuwe tyd aanbreek. Die verduistering word weggeneem. 
Aanskou die heerskappy van hierdie Kind. Dat daar ‘n Kind vir ons gebore word, ‘n Seun aan ons gegee word. Hy kom as kind en as seun. In hoofstuk 7 word die Immanuelkind, dit is God met ons reeds ‘n aanknopingspunt met 9:5,6. En na die aanhoor van die profesie van verse 5 en 6 sou die volk sekerlik kon dink aan die koningskind Hiskia. Maar Hiskia was hoogstens ‘n aanvanklike, voorlopige aanknopingspunt. Dit gaan hier in ons teks om soveel meer. Dit gaan hier om God se seun op aarde.

Uit ons teks kom dit dat dit om veel meer as ‘n gewone koning gaan op die troon van Dawid. Dit gaan om die heerlikheid van die Messias se regering. Die Messias wat as gebore mensekind aan God se volk gegee word. 

Jesaja gebruik herhaling om die punt te benadruk. Die kind moes gebore word. Die Ewige Seun moes gegee word. Dit word so seker gestel asof dit toe alreeds gebeur het.

‘n Pasgebore Kind word direk betrek teen die oorlogsgeweld en die besettingsmag. En die Kind wat aan ons voorgestel word is ‘n Raadsman, wonderbare Raadsman, wat eintlik van iemand op later leeftyd gesê behoort te word. En nog meer: Sterke God en Ewige Vader gee duidelik aan dat hier van God gespreek word. Vredevors is die beroemde kenmerk van sy heerskappy. Sy heerskappy is van vrede sonder einde. Hy sit op die troon van sy vader Dawid en bevestig en versterk dit as ‘n ewige troon deur sy reg en geregtigheid.

Dit is te goed om waar te wees, sal die ongelowiges opmerk. 

Maar die gelowiges staan verwonder voor die gesig van hierdie profesie in so ‘n slegte tyd. Verwonderd-dankbaar oor die uitsig en hoop. Die verwagting van God vir ‘n koningshuis wat onder Agas so onwaardig en sonder heil geword het. Hierdie was ‘n Woord op sy tyd waar die gelowiges deur God gesterk is om Hom in sy ywer vir sy eer te aanbid en hulle vertroue in Hom te vestig. Indien God reg en geregtigheid sou handhaaf sonder die Kind wat gebore sou word, sou sy ywer die mense alle hoop ontneem. Dan sou alles donker bly, …maar nou gee Hy hierdie profesie om die dag weer te laat aanbreek. Deur die komende Messias sal reg gedoen word aan God se geregtigheid, dit sal gevolge vir tyd en ewigheid hê. Die son van geregtigheid skyn reeds helder in die profesie.

Niks laat Hom koud nie. So is hy gevoelig vir sy eer en sy goeie Naam.

Hy is nie opgesluit in die verlede nie maar die God van die toekoms wat in die komende Messias tot by ons kom en ‘n wending in die eeue bring na die weerkoms van Christus toe.
Jesus Christus is met sy troonsbestyging in die hemel die koning van die heelal. Hy beheers alle magte, trone, kragte, sigbare en onsigbare dinge. Die hele aarde moet vervul wees met God se heerlikheid. Wie God nie die eer gee nie, het nie plek op die aarde wat kom nie. Dit is onvoorstelbaar en onvanpas om nie vir God te vertrou nie en op jouself of ander mense staat te maak om tot jou redding te kom. In Jesus Christus het God se ywer sy doel bereik om ons ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, te maak, vir die doel: om die deugde van Hom te verkondig wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. 1 Pet 2:9. Ons wag nog soos wat Jesaja op die vervulling van die Kind se geboorte gewag het, ons wag op die definitiewe vervulling met die weerkoms van ons Vredevors met sy heerskappy sonder einde. Maar dit is verseker. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen!

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.

Groet
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader deur ons Here Jesus Christus. Amen

Psalm 135:1,2

Lees van die wet

Psalm 119:59,61,62

Gebed om vergifnis van sonde en seën op die erediens, verkondiging van die Woord.

Skriflesing: Matt 4:12-17

Psalm 118:2,8

Teks: Jesaja 8:1 – 9:6

Preek

Amenlied: Psalm 145:1,3,4

Dank en Voorbidding

Kollekte by die deure of per Snapscan

Slotsang: Ps 97:1,6,7

Uitspreek van die seën:
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee
Gemeente sing AMEN