Die reddingsplan van God bring ons op ons knieë.

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-09-27
Teks: 
Efésiërs 1: 15-18
Preek Inhoud: 

Doel:
-    Motiveer om God te dank vir geloof en liefde
-    Spoor aan om te bid vir geestelike groei

Bybelgedeelte:

Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges — [16] hou ek ook nie op om vir julle te dank nie
terwyl ek aan julle in my gebede dink, (net ’n bietjie anders as die 1933 vertaling)

[17] dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid,
aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,

[18] verligte oë van julle hart (‘verstand’ sê die 33 vertaling),
sodat julle kan weet
⁃    wat die hoop van sy roeping is
⁃    en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;
-    
[19] en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte (… v. 20…)

Inleiding:

Uitdaging: jou gebede gaan verander wanneer jy raaksien hoe Paulus vir christene bid!

Kyk na die twee maniere waarop Paulus bid:
-    Danksegging: “ek hou nie op om vir julle te dank nie”
-    Voorbede: Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat God julle sy Gees sal gee en die oë van julle hart sal verlig”

Paulus doen dus twee dinge in sy gebed: hy dank God voortdurend vir die geloof en liefde van die gelowiges en hy bid vir hulle, dat hulle geestelike kennis sal groei.

Ons het een van die mooiste gedeeltes in die briewe van Paulus gelees.
-    Paulus het in hs 1 begin met lofprysing: alles wat hy ons oor ons verlossing leer, lei tot lofprysing. Dit is die doel van die hele reddingsplan: dat ons sal wees tot lof van sy genade. Teologie lei tot doksologie = lofprysing. Het dit jou lewe reeds verander?
-    Maar kyk nou: wat is die heel eerste ding wat Paulus na hierdie pragtige gedeelte doen? Hy bid!
-    Kennis van God (teologie) lei dus ook tot gebed.
-    Onthou dit. Alles wat jy leer oor God die Vader, oor die Seun wat jou gekoop het, oor sy Gees wat jou beskerm en jou aan Christus verbind, lei tot gebed.

Tema:    Die reddingsplan van God bring ons op ons knieë.

1 -    Dank God vir geloof hoewel dit onvolledig is
2 -    Bid vir verdere groei deur sy Gees

Dank God vir geloof (al is dit onvolledig)

1.1    Paulus dank God!

Paulus het gehoor van die geloof en liefde van die christene in Efese. Geloof in Jesus maak ’n radikale verskil in hulle en ons lewens. Die christene het hulle rug gedraai op die afgodiese kultuur. Heidendom, duisternis, aanbidding van afbeeldings van die godin Artemis oorheers die stad Efese. Maar hulle ken nou vir Jesus, en hulle geloof verander alles.

Hy noem dikwels geloof en liefde (in die verbinding) in sy briewe (in Efésiërs, Kolossense, Thessalonicense, Filemon).  Geloof gaan saam met liefde. Geloof is nie net ’n verandering van denke nie, maar dit verander jou hele lewensuitkyk: sondaars dink net aan hulself. Maar God stort sy liefde in die harte van gelowiges uit. Dan gaan jy omsien na ander.

Wat is nou so besonders?
Paulus noem vir die christene in Efese dat hy God dank vanweë hulle geloof en liefde.

Wag wag wag.
Het jy dit al ooit van ’n ander gehoor?
Ek hoor dadelik die teenwerpings.
Hulle geloof en liefde is glad nie perfek nie!
Hulle is tog sondaars. Daar kort tog heelwat liefde!
Is God dan bly met geloof wat dikwels nog swak is, en met liefde wat so dikwels nog koud of lou is?
Ons haal tog nooit die paal nie?
En wanneer ons iets gedoen het uit liefde vir ’n ander, is ons beskeie en wil nie hê dat dit genoem word nie.

1.2    Positief kyk!

Ons is baie terughoudend om goeie woorde en dade by mekaar aan te wys, en dit duidelik te noem. Hoe dikwels dank jy God vir goeie dade wat jy kon doen?
Dalk wil jy juis God eer deur te sê ‘daar is niks van myself nie. Ek is ’n sondaar. Ek kry niks reg nie.’

Dis gesond om ons gedrag en woorde te toets met die Woord van God. Is dit reg om so te dink en te praat soos wat ons gewoond is?
Hier is die vraag wat ons moet vra: ‘is dit reg om God se werk in ons te verswyg?’ 
Ons moet bewus daarvan word dat ons eensydig kyk. Eintlik haak ons vas in die tyd vóór die wedergeboorte.

Luister na Paulus. Hy dank God vir die geloof en liefde van die gelowiges.
Die Gees van Christus maak van ons radikaal nuwe mense. Daar gebeur dinge wat ons nooit sou verwag nie en nooit verlang het nie toe ons sondaars was nie. Maar nou is ons ’n nuwe skepping (2 Korinthiërs 5). Ons moenie na mekaar of ons self kyk en maar net dink ‘sondaars’ nie.

Paulus wys ons hoe ’n prediker en sielsorger na die lede van Christus moet kyk. 
Hy is self ’n voorbeeld van geloof: hy kyk met die oë van die geloof en sien die gelowiges, gekleed in die geregtigheid van Christus. 
En elkeen van ons wat glo het dit ook ontvang.

Ons moet dus nie met afkeuring begin nie, op soek na sondes en gebreke nie, maar met dankbaarheid vir die werk van God in hulle.
Dit is ’n belangrike les vir my bediening. Teenslag en frustrasie met ’n gebrek aan groei kan veroorsaak dat ek by die probleme begin en eerste kyk na wat kort in geloof, liefde en gehoorsaamheid by lidmate van die kerk.
Maar dit is nie reg nie.

Wat Paulus hier doen is ’n houding wat alle predikante, ouderlinge, en diakens  moet leer: ky só na die gemeente: dank God vir hulle geloof en liefde!
Dit bring eer aan God wanneer ons dankbaar is vir sy werk in die harte van die gelowiges.

Dis hoe God na ons kyk.
En so mag ons ook na mekaar kyk.

1.3    Dit help hulle groei

Dalk is ons bevrees dat hierde manier van kyk en bid mense selfvoldaan maak en laat terugsit.
Daar is ook ouers wat hulle kinders nooit komplimente gee om dieselfde rede: dalk hou my kind dan op presteer by die skool. Maar niks is verder van die waarheid af nie. Dit is ’n geweldige aansporing om te hoor dat jou pa of ma trots is op jou.
Die gevaar dat ons te min waardering en dank uitspreek is groter as dat ons dit teveel doen! Dit ’n feit (en ’n skokkende statistiek) dat daar baie seuns en mans is wat perfeksionisties en ongelukkig is, omdat hulle pa hulle nooit geloof het, maar vir hulle onmoontlike standaarde gestel het. Niks was ooit goed genoeg nie.

Kyk hoe Paulus bid.
Paulus skryf vir die christene in Efese hoe hy vir hulle dank en bid.
En hy laat weet hulle dat hy God vir hulle dank.
God gebruik dit om hulle (en ons almal) verder te verander.

Dis ’n geweldige bemoediging vir ons om te weet dat ’n ander vir ons bid en dat ’n ander groei en vooruitgang in die geloof in ons raaksien. Dit maak jou bly en dit spoor jou aan om in geloof te volhard en ander mense nog meer lief te hê!

Dit is in bepaalde gevalle nodig om kritiek te lewer en mense reg te help. Paulus doen dit ook. Maar dis nie waar mens in die gemeente mag begin nie. Hoe gee jy ’n ander in die gemeente, of ook jou eie kind, hoop en help jy hulle groei? Deur die werk van God in hulle hart raak te sien en dit ook te noem, en God daarvoor te dank.
Dink net wat ’n geweldig opbouende effekt dit op jou het. Het jy dit al ervaar, en agtergekom hoe bemoedigend dit is?

Party van ons het grootgeword om ooit die waardering van jou pa of ma te gekry het. Of jy het in die gemeente min aanmoediging ontvang. God kan daardie hindernis in jou lewe oorwen!

En as jy jou kinders nooit aangemoedig het nie, is dit nog nie te laat om te verander nie, al het hulle reeds hul eie kinders. 
Jy en ek moet net luister na God. Ons kan leer om dankbaar te wees en dit ook vir jou kind of jou broer/suster te sê. 
Onthou: God gebruik dit as ’n geweldige aanmoediging, wat hulle help om te groei!

Bid vir verdere groei deur sy Gees

En dis nog nie al nie.
Paulus se gebed gaan aan: hy vra vir die gelowiges:
dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, 
aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, 
[18] verligte oë van julle verstand,

Weereens sien ons hoe hy self ’n voorbeeld van die geloof en liefde is, wat hy in die gelowiges raakgesien het.
Sy gebed vir die gelowiges is ’n bewys van sy eie geloof en liefde!
Dis regte liefde: om op ’n ander gerig te wees, en sy/haar nood en behoeftes by God te bring.
Soos hy sonder ophou dank, so bid hy ook. Voortdurend.

2.1    Sonder ophou

Ek vind dit baie moeilik. Herken jy dit? Jy is getref deur die verdriet van ’n broer of suster, en jy bid een of twee keer, of dalk ’n hele week, maar dan kom ander dinge op die voorgrond en vergeet jy eintlik van hulle. Dit het my al oorgekom.
Dit gebeur gemaklik, omdat daar soveel dinge is wat ons aandag opsluk. Nes met die nuus: ’n geweldige ontploffing in Beiroet laat ons almal besef hoe groot die skade en pyn is. Maar ’n week of twee later is daar ander nuus wat die gaping van die ontploffing oorskadu. Weer ’n ramp. Nog ’n humanitêre krisis. Ons gebede kan dieselfde patroon volg. 

God leer ons om sonder ophou vir mekaar te bid.
Dit moet aanhoudend, en juis nie net wanneer die ander deur ’n krisis gaan nie.
Jy kan dit sien in die inhoud van Paulus se voorbede.

2.2    Diepste behoefte

Wat is jou diepste behoefte?
Is dit liefde van ’n lewensmaat? Is dit om ’n werk te hê wat jy van hou? Is dit ’n gesin, waar jy geborgenheid vind? Is dit aanvaarding en erkenning deur ander mense?

Wat vir jou belangrik is, wys in jou gebede. Wat vra jy van God? Waaroor bid jy die meeste?

Soos ons liggaam adrenalien maak wanneer daar gevaar dreig, so word ons verlangens aangewakker deur ’n krisis of tekort: jou gesondheid is in gevaar, of jou inkomste, of ’n verhouding. Hierdie jaar het ons besef van risiko en gevaar sterk toegeneem: ons gesondheid, ons inkomste, ons sekerhede word bedreig.
Sigbare, dringende tekorte
Dit was ons kan sien en voel, dit wat regstreeks ’n effek op ons het, lyk die grootste sorge en ons diepste nood.

Paulus se gebed wys ons wat ons diepste behoefte is. Geloof in Jesus maak ons oë oop dat ons diepste behoefte geestelik is.

Dit behoort ons verlange te word.

2.3    Groei!

Jy sou kon dink dat Paulus alles reeds uitgespel het. Ons weet dit nou: alles wat in vs 1-14 genoem is, is die geestelike seëninge wat ons ontvang het. Ons ken dit mos. Ons het dit ontvang!

Maar Paulus bid dat ons geestelik mag groei.
Ons oorskat dikwels ons kennis / insig. 
Ons tradisie is so ryk! Ons belydenis het alles…
Ja, maar wat in die boekie staan, is nog nie in jou geheue nie. En dit het nog nie van jou kop na jou hart afgedaal en alles verander nie!
Dit gaan oor wysheid en insig, wat meer is as bloot kennis. In ons tyd is baie inligting beskikbaar en dis moeilik om uit die high speed datapyp van die internet te drink. Insig, onderskeidingsvermoë om wys te reageer, kry jy nie van google nie.
So is dit ook met kennis van God uit die Bybel.

Paulus bid vir geestelike insig. Hy weet dat Gods volk dit nodig het dat God hom aan hulle bekend maak, telkens weer. 
Kennis van God is nie soos ’n groot dam waarin jy net water bewaar vir die toekoms nie. Dit gaan eintlik nie in die eerste plek oor hoeveelheid nie, maar oor geestelike diepte.
Dit gaan oor ’n luisterhouding, ’n geestelike beoordeling, nederigheid, onderwerping aan God se wil.
God sê dit in Jesaja 57,15: ek woon by die wat nederig van hart is.
“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”

In so ’n verhouding openbaar God homself aan ’n sondaar.
En so word die geestelike kennis persoonlike kennis, wat funksioneer in ’n verhouding. 
En telkens weer wanneer ons na die Bybel toe kom en tot God nader, moet dit ons gebed wees, vir onsself en vir mekaar:
“Here, maak u aan ons bekend. Ons kan nie beskik oor u openbaring nie, ons kan dit nie manipuleer nie, maar ons kan net u aanwesigheid en kennis van u nederig, met leë hande ontvang.”

Onderskeidingsvermoë om te weet wat hoofsaak en bysaak is, en om watter kennis jy ook al het, met liefde te kommunikeer en toe te pas.

2.4    Die Gees

Paulus se gebed vir die gelowiges kyk in twee rigtings: hy kyk na die gewer en na die ontvanger.
Hy bid dat ons die Gees van wysheid sal ontvang.
Dit is net die Gees wat geestelike kennis en insig gee. Hy maak God bekend. As hy nie in ons hart woon wanneer ons die Bybel lees of na die prediking luister, gebeur daar niks nie. Ons is totaal van hom afhanklik.

2.5    Verligte oë van julle hart

Paulus kyk ook na die ontvanger:
verligte oë van julle hart (nie: verstand nie), sodat julle kan weet:
… die hoop van sy roeping, die rykdom van sy erfenis en die geweldige krag van sy mag.

Die hart is die sentrum van jou gedagtes, emosies. Die hart stuur jou wil aan. Jy neem altyd besluite op grond van wat in jou hart leef. Daar is die dryfvere wat jou in tong, jou hande, jou hele liggaam in beweging bring.

As in jou hart dus die lig van God skyn, kan jy die geestelike dinge van God verstaan.
Dan is jou hart suiwer, gerig op God se wil. Dan het jy die begeerte om God te eer en om jou wil te onderwerp en gelyk te maak aan God se wil.
Bewaak jou hart, daaruit is die oorspronge van die lewe (Spreuke 4,23)
Omdat ons hart bedrieglik is, het ons nodig om daagliks te bid dat God ons harte verlig, om so te sê die oë van ons hart oopmaak, en dat sy Gees ons help om dit te bewaak.

Vir ons geestelike groei is ons van God afhanklik: dat hy sy Gees stuur en ons ontvanklik maak vir die geestelike kennis.

Die geestelike kennis wat God wil gee en waarvoor Paulus bid, lewer 3 dinge op: ek sal dit nou net noem; dit het meer tyd nodig om dit nader te bekyk.

Laat ons hierdie gebed ons eie maak. Laat ons meer en meer ’n biddende gemeente word. 
Bid om geestelike kennis. Dit gee hoop, dit vervul ons met die rykdom van die erfenis wat vir ons wag, en dit oortuig ons van die krag van God wat in ons werk.

Mag God ons geestelik laat groei, sodat ons sal leef tot lof van sy heerlikheid.

Amen

Liturgie: 

Sing: Psalm 104: 1, 20 en 21

Skriflesing: Efesiers 1: 1 - 23

Sing: Psalm 89: 1 en 6

Teks: Efesiers 1: 15 - 18

Sing: Skrifberyming 35: 1, 2 en 3

Sing Geloofsbelydenis

Slotsang: Psalm 33: 1, 2, 6 en 11