Niemand word as ‘n nommer gebore nie…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-06-28
Teks: 
1 Korinthiërs 7:14
Verwysing: 
Doop: Aartsma & Kampman
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat is hierdie pasgebore, pasgedoopte babatjies se status in die gemeente? Wat is hulle posisie hier in ons midde? Hoe kyk jy na hom / haar? Is hy jou broeder in die geloof, is sy jou suster in die geloof ? Dit is moeilik om dit jouself voor te stel, nie waar nie? Dit is moeilik om te dink dat ons en hierdie twee babatjies soveel in gemeen het dat hy selfs jou broer – jou kleinboet – genoem word, en sy jou kleinsus genoem word. Maar, gemeente, daar sit agter hierdie generasie-gaping ‘n groter verbondenheid as wat met die eerste oogopslag moontlik lyk. Nie ‘n verbondenheid wat deur ons moontlik gemaak word nie, maar een wat God skep. Die heilige God skep ‘n heilige verbintenis mét elkeen én tússen elkeen in sy gemeente. Kom ons kyk vanoggend saam na wat Paulus ons leer oor die posisie van die kindertjies in die gemeente. 

Tema:  Niemand word as ‘n nommer gebore nie…

1.    Die kinders is heilig

2.    Nou moet hulle ook heilig word

1. Die gemeente in Korinthe het vir Paulus ‘n brief geskryf. Daar was naamlik verskeie sake in die gemeente waaroor hulle vrae gehad het, en waarop hulle nie ‘n duidelike antwoord kon vind nie. Dus, die skriba van die gemeente stel ‘n brief op en gee daarin ‘n opsomming van die verskillende vrae wat die gemeente het, en stuur dit aan Paulus. En wat ons nou in die boek 1 Korinthiërs vind, is Paulus se geïnspireerde beantwoording van hierdie vrae. Hy begin naamlik in hoofstuk 7 met die woorde: “Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het…” – dit dui op die brief met die verskillende vrae van die Korinthiërs. En dan is die heel eerste saak wat aan die orde kom: die huwelik. Wat was presies die probleem?

Wel, soos in enige sendingsituasie kry jy gevalle waar óf die man óf die vrou in ‘n huwelik tot bekering kom, en die ander een nie. Gaan praat maar met enige van ons sendelinge, en dan hoor jy hoe selde dit gebeur dat beide man én vrou as ‘n eenheid tot bekering kom en deel van die gemeente word. Nee, meestal is dit net een van die twee. Maar wat moet die gelowige wederhelf nou in so ‘n situasie doen? Paulus se antwoord is baie duidelik: moenie verplig voel om te skei nie! Inteendeel, skei slegs wanneer die ongelowige nie meer bereid is om met die gelowige saam te leef nie. Maar as die ongelowige wél bereid is om met die huwelik voort te gaan, dan moet die gelowige ook volhou. Want – en dit is Paulus se konklusie in vers 14 – “want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.”

Heilig… Geheilig… Wat word in die Skrif hiermee bedoel?

Broers en susters, op die papier wat u ontvang het, vind u al die gevalle in die Ou en die Nuwe Testament waar die terme ‘heilig’, ‘heilig wees’ en ‘geheilig word’ gebruik word. Daar is uiteraard nog meer tekste wat nie hier genoem word nie, maar elkeen van hulle val onder een van die kategorieë wat u op die papier vind. Kom ons kyk wat die prentjie is wat die Bybel vir ons skets oor hierdie begrip.

Soos u kan sien word daar in die Ou Testament gepraat van sake of voorwerpe wat heilig is, byvoorbeeld die grond waarop Moses staan by die brandende doringbos (Ex. 3), die jubeljaar (Lev. 25:12), en die buit wat by die verwoesting van Jerigo in beslag geneem is (Jos. 6:19). Verder word daar gepraat van diere wat heilig is – nie diere in die algemeen nie, maar spesifiek offerdiere (Ex. 13 en Lev. 27). Vervolgens heilige persone – eersgeborenes, die priesters, ‘n Nasireër, die Leviete, en die Ou Testamentiese profete. Hulle word almal heilig genoem. Dan word daar in die Ou Testament ook nog gepraat van die volk wat heilig is – Israel as geheel, maar dan ook uitsluitlik Israel; geen ander volk word heilig genoem nie. En uiteraard word daar ook nog gepraat van die Here wat heilig is, maar kom ons laat dit vir ‘n oomblik buite beskouing. Samevattend hou ons dus vier kategorieë oor: sake/voorwerpe, diere, persone en die volk. Baie uiteenlopende kategorieë, dit is waar, maar daar is ‘n gemeenskaplike deler. Want vanuit elkeen van hierdie kategorieë loop daar ‘n lyn na God toe. God is heilig, en slegs dít wat vir Hom afgesonder is, wórd heilig. In die Ou Testament is dit wat heilig is, daarom ook nooit heidens nie! Iets is slegs heilig wanneer dit val binne die kring van wat aan God gewy is. Toegepas op mense beteken dit dat niemand in die Ou Testament heilig genoem word nie, tensy hy homself bevind binne die kring van die verbond. Dit is dan ook die betekenis van die begrip ‘heilig’, en ons kan dit maar uit ons koppe leer – heilig beteken: vir God afgesonder! Dit is ‘n eksklusiewe begrip! Nêrens in die Ou Testament vind ons dat van iemand, wat nie tot die kring van die verbond behoort nie, gesê word dat hy heilig is nie. Letterlik nêrens nie!

Watter beeld vind ons vervolgens in die Nuwe Testament? Wel, die beeld in die Nuwe Testament stem grotendeels ooreen met die beeld wat ons in die Ou Testament gevind het. In die Nuwe Testament vind ons weer die kategorie van sake of voorwerpe – die verbond word heilig genoem (Luk. 1:72), op verskeie plekke word gepraat van ‘n heilige kus (o.a. Rom. 16:16), en ook word die gebod van die Here heilig genoem (1 Pet. 2:21) – dit is maar net enkele voorbeelde, u kan die res wat op die papier staan self nagaan. Dan is daar ‘n nuwe groep: die engele. Op verskillende plekke word daar gepraat van die heilige engele. Dan is daar ook weer individue of persone wat heilig genoem word, byvoorbeeld Johannes die Doper (Mk. 6:20). Vervolgens ook weer groepe: broeders, die kerk of die gemeente, God se volk, ‘n heilige priesterdom, en ook die heilige apostels en profete. Ten slotte word Christus, die Heilige Gees en God die Vader uiteraard ook heilig genoem. 

Nou, broers en susters, teen hierdie agtergrond moet die woord ‘heilig’ in ons teks – 1 Korinthiërs 7:14 – uitgelê word. En dan bestaan daar geen ander moontlikheid nie, as dat ‘heilig’ beteken: vir God afgesonder, aan God gewy. En op mense toegepas beteken dit, dat wie heilig genoem word, vir God afgesonder is, en daarom deel uitmaak van die kring van die verbond, die kring van mense met wie God ‘n liefdevolle verhouding aangaan. 

Ja maar… is dit nou nie baie vreemd dat daar in 1 Korinthiërs 7:14 nie slegs van die kinders nie, maar ook van die ongelowige wederhelf gesê word dat hy of sy geheilig is? Hoe kan die Here nou iemand, wat nie in Hom glo nie, deel ag van die kring van die verbond, heilig vir Hom? Dit staan in elk geval lynreg teenoor die oortuigings van dié wat glo in die volwasse-doop, want volgens hulle is iemand eers heilig en deel van die nuwe verbond wanneer daardie persoon sy geloof bely het. Ja, dit roep inderdaad vrae op. 
Maar voordat ons daardie vrae vanuit die Skrif beantwoord, moet ons eers met mekaar erken dat daar geen moontlikheid is om aan die begrip ‘heilig’ met betrekking tot mense ‘n ander betekenis toe te ken nie as: vir God afgesonder, aan God gewy. En dit is daardie betekenis wat ons ook in 1 Korinthiërs 7:14 sal moet toepas: die ongelowige wederhelf is, net soos die gelowige wederhelf én die kinders, afgesonder vir die Here.  

En is dit regtig so vreemd, broers en susters? Was dit nie ook God se werkswyse toe Hy met Abraham ‘n pad begin stap het nie? Ons sien naamlik dat God sy verbond gesluit het met Abraham en sy hele huis – en daarvan het ook die slawe ‘n deel uitgemaak. Al die manlike lede van Abraham se huis moes besny word – nie slegs diegene wat in sy huis gebore is nie, maar ook die slawe wat hy met geld van vreemdelinge gekoop het (so het ons gelees in Genesis 17). Nou, dink u dat hierdie slawe opgewonde sit en wag het om ‘n nuwe god te kan begin dien? Dink u dat almal van hulle skielik ywerige Jahwe-aanbidders geword het? Nee, natuurlik nie! Miskien enetjie hier, of enetjie daar, maar ons kan aanneem dat talle van hulle ook gewoon hulle eie gode bly dien het, ook al was dit dan in stilte. En tog lees ons nêrens dat Abraham ‘n skeiding onder sy slawe moes aanbring nie; nêrens lees ons dat Abraham slegs daardie slawe moes besny wat in die Here geglo het nie. Inteendeel, God eis hulle almal se lewens vir Homself op, en hulle almal word net soos Abraham besny, want hulle was deel van sy huis. En hierdie werkswyse bly, ook in die nuwe verbond.

Wie behoort tot die huis van ‘n gelowige, word deur die Here opgeëis – behalwe by Abraham sien ons dit ook op verskillende plekke in die boek Handelinge: Lydia met haar hele huisgesin word gedoop (Hand. 16:15), die tronkbewaarder van Filippi met al sy mense word gedoop (Hand. 16:33). Natuurlik, dit is geen kaartjie na die saligheid nie, en Paulus wys dit ook vir ons in 1 Korinthiërs 7:16. Hoewel die ongelowige wederhelf geheilig is, vir die Here afgesonder is, vra Paulus nogtans in hierdie vers vir die gelowige wederhelf: “hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?” Dus, geheilig-wees, vir die Here afgesonder wees, aan God gewy wees – dit alles beteken nie noodwendig dat jy ook gered is nie, want God vra dat daar ‘n duidelike antwoord op sy eis sal kom (daarop sal ons net hierna in die tweede punt let). Maar geheilig-wees beteken wél ‘n bevoorregte posisie. Die ongelowige wederhelf word in die kring van God se volk opgeneem en betrek, en sodoende kom hy binne die kragveld van die evangelie van verlossing. Hy word as heilig beskou, wat behels dat God sy lewe opgeëis het. Uiteraard, en dit moet ons goed raaksien, beteken dit ook ‘n ekstra verantwoordelikheid, of jy nou daarvan hou of nie, of jy nou daarna gesoek het of nie! 

Vervolgens trek Paulus in 1 Korinthiërs 7:14 dieselfde konklusie ook deur na die kinders. Vanuit sy betoog dat die ongelowige wederhelf geheilig is in die gelowige wederhelf, kan Paulus nou verder redeneer na die heilige status van die kinders. Die kinders is geheilig in die gelowige ouer, hulle deel in die toewyding aan God. Hulle hoort by God, by sy volk, by sy verbond, by Christus se gemeente. En daarom is die beloftes, wat deel is van die verhouding met God, ook vir hulle bedoel. Indien dit nie so was nie, of – om Paulus se beeld in Romeine 11:16 te gebruik – as die wortel (die ouers) nie heilig sou wees nie, dan sou die takke (die kinders) dit ook nie wees nie; dan sou hulle geestelike basterkinders gewees het.

Maar, gemeente, dit is mos nie wat ons van ons kinders glo nie? Ons glo mos nie dat ons kinders basterkinders is en op dieselfde vlak staan met die kinders van die ongelowiges nie? Nee, dis waar, jy gaan nie in die kraamsaal instap en die verskille tussen die gelowige se pasgebore babatjie en die ongelowige se pasgebore babatjie raaksien nie. Maar deur die geloof weet ons mos dat hulle anders is! Ons glo mos dat ons kinders heilig is; kyk maar wat bely ons in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1,17: “Die Woord van God getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie – dus, hierdie heiligheid lê nie in hulleself nie – maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is.” God skénk daardie heiligheid, want Hy eis ons kinders op vir Homself! En juis daarom glo ons dat ons kinders van die ongelowiges se kinders onderskei word en onderskei moet word; dit is wat ons bely in Sondag 27 van die Kategismus: “Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word.” Daar is ‘n verskil tussen my kinders en die kinders van my ongelowige buurman. Dit maak my en my kinders nie beter nie, maar dit plaas ons wel in ‘n ander posisie!

Wat ‘n wonder van genade, broers en susters! Die kinders van die gemeente het ‘n ander status, ‘n ander posisie voor die Here, as die kinders van die ongelowiges. God wil in die gelowige ouer of ouers – nee, nie danksy die gelowige ouers nie, maar in die gelowige ouers – ook met die kinders sy verbond sluit. En dit beteken dat sy beloftes ook vir hulle bedoel is. En vir die klein kindertjies word dan as vaste beloftes saamgegee dít wat ons lees in die doopsformulier: die Vader verklaar en verseël aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik. Die Seun verseker ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes, sodat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word. Die Heilige Gees belowe dat Hy in ons wil woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak. Hierdie beloftes word aan ons kinders aangereik, dit is God se heerlike geboortegeskenk aan die gelowiges én hulle kinders!

En hierdie beloftes roep nie om vervulling êrens ver in die toekoms nie; nee, dit vra gelowige aanvaarding. Gelowige aanvaarding, vandag, van volwasse gelowiges. Maar ook gelowige aanvaarding van ons kinders soos wat hulle opgroei. En dan eis die Here iets anders van ‘n tweejarige as wat Hy van ‘n tienjarige verwag, en van die tienjarige verwag Hy iets anders as van die agtienjarige. Die God wat groei en ontwikkeling as ‘n deel van sy goeie skepping ingewerk het, Hy hou ook daarmee rekening wanneer Hy die eise van die verbond bepaal. Maar die antwoord móét kom – Hy heilig ons, Hy sonder ons af vir Homself, maar Hy roep vervolgens ook op: wéés nou ook heilig, want Ek is heilig.
En daarop let ons nog kortliks in die tweede punt: nou moet hulle ook heilig word!

2. Gemeente, dit is op hierdie punt dat ons as gereformeerdes dikwels die beskuldiging kry dat ons ‘n sekere verbondsoutomatisme in die hand werk. Met die leer van die doop en die verbond, soos wat ek dit in die eerste punt verduidelik het, sou ons veroorsaak dat mense nie meer erns maak met die eis van die verbond nie, want “ek is mos in die verbond, ek is mos afgesonder vir God, ja, dan volg die res outomaties, dan is daar niks meer wat ek hoef te doen nie.” So sou ons, volgens hierdie beskuldiging, redeneer, ook al is dit maar net onbewustelik. En dit is nie ‘n beskuldiging van gister af nie; nee, reeds in die tyd van die Reformasie het die Roomse kerk die reformatore daarvan beskuldig dat hulle sorgelose mense kweek. Luister maar na vraag 64 van die Kategismus: “Maar maak hierdie leer nie die mense onverskillig en roekeloos nie?” En die Arminiane in die tyd van die sinode van Dordt het dieselfde beskuldiging gehad. En hierdie beskuldiging klink vandag nog.

Nou, as hierdie beskuldiging gerig is teen die gereformeerde leer, dan kan ons met vrymoedigheid sê: nee, dit is nie waar nie! Die feit dat kinders van gelowige ouers deur God in sy verbond opgeneem is en daarom deel het aan sy heerlike beloftes, daardie leer in sigself kan onmoontlik sorgelose en onverskillige mense tot gevolg hê. Maar wat daarvan as hierdie beskuldiging nie soseer gebore word uit ‘n weerstand teen die gereformeerde leer nie, maar eerder ‘n uitvloeisel is van die lewenswandel wat mense by ons raaksien? Wat daarvan as ons met ons lewenswandel hierdie onteregte beskuldiging bevestig en aanvuur?

Gemeente, ons is ryk met die leer van die verbond. Ons is geweldig bevoorreg om, saam met ons kinders, aan ‘n heilige God verbonde te wees. Wat ‘n rykdom om aan Hom gewy te kan wees, en sodoende te kan deel in die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis en in die gawe van die Heilige Gees. Maar saam met die gawe kom ook die opgawe, soos wat ons duidelik in 1 Petrus 1:15 en 16 gelees het: “… soos Hy wat julle geroep het – hier sien ons die verbond! – heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word.” Ons moet dus begin lyk soos die God aan wie ons verbonde is. Meer nog: ons wil al hoe meer soos Hy begin lyk; ons wil sy beeld wees. En dit nie net in ‘n deeltjie van ons lewe nie, nie net in daardie deeltjie wat óns bereid is om aan God af te staan nie; nee, ons moet heilig wees in dít wat God opgeëis het – ons hele lewe! En daarom sê Petrus ook in vers 15: in jul hele lewenswandel! Dit geld dus vir dit wat ek lees, dit wat ek kyk, my Sondagsinvulling, my geldbesteding, my sportbeoefening, my Facebook-inskrywings, my inkopielys, my vakansie-uitgawes, die stem wat ek komende Woensdag gaan uitbring, dit wat ek aantrek, my toekomsplanne, my studierigting, die manier hoe ek oor ander praat, die manier hoe ek die wêreldgebeure beoordeel… alles! My hele lewe. As God my lewe vir Hom afsonder, en ek daarom in my hele lewe heilig is, dan geld die opdrag tot heiliging ook vir my hele lewe. Geen uitsondering nie!

Maar, broers en susters, kyk met watter genadige God ons te make het! Ek het reeds gesê dat die God wat groei en ontwikkeling deel van sy skepping gemaak het, ook daarmee rekening hou in ons geloofslewe. En daarom kan Petrus aan die einde van vers 15 sê: julle moet in jul hele lewenswandel heilig word. Ja, dit is ‘n proses. Ook al haal Petrus in vers 16 die bekende woorde aan: “wees heilig, want Ek is heilig”, dan kan hy nogtans hierdie heiliging beskryf as ‘n wordingsproses (“heilig wórd”). Dit is nie iets waarin God eensklaps volmaaktheid eis nie, maar dit is eerder iets waarin ek deur sy genade elke dag vordering mag maak. En jy weet hoe dit gaan: heiliging is dikwels iets van drie treë vooruit en twee treë agteruit. Vandag gee die Gees my krag om daardie sonde te weerstaan, môre doen Hy dit weer, oormôre dalk ook nog, maar op dag vier val ek weer so hard, dat ek voel asof ek weer terug is by die begin. Dit is hoe dit gaan in die christen se lewe. En dit is ook nie die einde van die wêreld nie. Maar bid wel dat die Here jou sal help sodat die geheel van jou lewensrigting nie agteruit is nie, maar vooruit! Bid dat die Here jou vordering sal laat maak met sy opdrag om heilig te wees. En bid ook dat ons verbondenheid aan Hom, ons afsondering vir Hom, dat dit ons nooit vrede sal laat maak met die onheiligheid wat daar nog in ons lewens oorgebly het nie. Nee, die verbond maak ons nie onverskillig nie, maar spoor ons juis aan tot heiligmaking. Ek is heilig, ek is aan God verbonde, nou wil ek ook al hoe meer heilig word

Gemeente, laat ons daarmee die grootste erns maak. Laat ons dit ons kinders voorhou. Laat ons mekaar in die gemeente daarmee help. Nie krampagtig nie. Nie angstig nie. Maar omdat ons die Here liefhet. Omdat ons hartlik aan Hom verbonde is. Wat ‘n liefde en volheidslewe, waar ons bly ons in beroem, het die Vader ons gegewe, dat Hy ons sy kinders noem… En juis daarom kan ons verder sê: teen die sonde duur die stryd, sonde is ongeregtigheid. Maar ons lewe, uit God gebore, is tot heilig-wees verkore.

Amen
 

Liturgie: 

Votum en Seëngroet:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing: Psalm 108:1

Geloofsbelydenis: HK v/a 74

Doopsbediening
•    Doopsformulier
•    Vrae
•    Doopsbediening
•    Sing: Psalm 22:9
•    Sing: Skrifberyming 24:1
•    Gebed

Lees: Genesis 17:10-13, 23-27
    1 Petrus 1:15-16
    1 Korinthiërs 7:10-16

Teks: 1 Korinthiërs 7:14

Preek

Sing: Skrifberyming 33:1-2

Gebed

Slotsang Skrifberyming 33:3

Seën:
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee.

Amen.