God verenig ALLES onder Jesus

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-08-23
Teks: 
Efésiërs 1: 10
Verwysing: 
Serie: Efésebrief #5
Preek Inhoud: 

(vervolg van die preek oor Efésiërs 1,9-10)

Doel:

-    Wys die allesomvattende betekenis van Jesus (nl.: vir die hele skepping!)

’n Beter Vertaling

God het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 
volgens sy eie besluit / welbehae
wat hy beplan het in Christus
om dit werklikheid te maak in die volheid van die tye
met die doel om alles in Hom saam te vat / om harmonie te bring in die hele skepping: hemelse magte en dinge op aarde.

Inleiding:

Die wêreld waarin ons leef is heelwat groter as wat ons besef.  Met mikroskope kan mens tot in die kleinste detail gaan: selle, molekule, neutrone en protone, en daarbinne nog kleiner deeltjies: quarks en muons.  Toe mense in staat was om teleskope te maak, kon hulle planete ontdek of beter bekyk: Saturnus met sy ringe, Uranus, Mars. Daar was so baie om te sien binne ons sonnestelsel.  In 1990 het die ruimtetuig Voyager 1 op ’n afstand van 6 miljard kilometer ’n foto van ons sonnestelsel geneem. In een van die sonnestrale is piepklein ’n ligblou kolletjie sigbaar. Dis die aarde. Ons hele planeet.  So klein! Ons kry dit nie eers reg om die Melkweg (ons sonnestelsel) met ’n bemande ruimtetuig te verlaat nie. En daar is nog derduisende sterre en sterrestelsels.  Die heelal laat ons regtig klein voel. Jy kan Orion (’n sterrebeeld wat jy gemaklik kan herken) met jou oë sien. Maar die lig wat jy sien, was 1500 jaar op pad om jou oog te bereik. As jy soontoe wil reis, het jy 5 miljoen jaar nodig…
(sien die boek: Voyager. 101 wonders between earth and the edge of the cosmos, deur Stuart Clark)

Die Efesebrief begin met ’n hoofstuk oor die uitverkiesing. Ons lees van geestelike seëninge wat elke gelowige persoonlik ontvang.  Van ewigheid het God ’n plan gemaak om sondaars uit te kies en te red. Almal wat glo word in Jesus aangeneem as God se kinders.  Vers 9 en 10 gee ’n baie wyer perspektief as ons eie redding.  Het jy geweet die koms van Jesus op aarde bring ’n groot verandering vir die aarde waarop ons lewe, en vir die universum, die heelal?

God het die geheim bekendgemaak. Sy doel is:
om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te saam te vat (in harmonie te bring).

Alles.
A L L E S !
Dink net hoe allesomvattend Jesus se betekenis is vir die hele wêreld.

Tema:   God verenig ALLES onder Jesus.

1 -    Hy bring harmonie in die hele skepping

2 -    Dit verander hoe ons kyk en leef

1    Hy bring harmonie in die hele skepping

Kan jy of ek ’n land regeer? Dit is moeilik om die politiek, ekonomie, onderwys, polisie en howe, vervoer, landbou, water en grond en die sosiale aspekte van ’n samelewing goed te bestuur.  Kyk watter mynveld dit is om net een land te bestuur in gedurende die pandemie. Wie kan die finansiële, politieke, juridiese probleme oorsien en perfekte besluite neem? En wie kan mense beheer wat kwaad doen?  Sou een persoon oor al die lande in die wêreld kon regeer? Wie kry dit reg? Dit kan net met geweld en onderdrukking gehandhaaf word.

Hoe wyer jy die sirkel trek, hoe meer probleme, hoe minder eenstemmigheid en hoe minder beheer.

Maar alles hier op aarde, alle lewende wesens, alle kennis, alle mag, vind hulle doel in en eenheid in Jesus. God se plan is, dat Hy oor alles sal regeer en eenheid sal bring.
Dit is verstommend!

1.1    Skepping = aarde en hemelse geweste

Ek het tot nou toe eintlik nog maar net van sigbare dinge op hierdie aarde gepraat. Dis nog nie al nie. Paulus praat van
“alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is”

Jesus se mag en betekenis hou nie op by die aarde nie. Paulus praat van die hemele.  En dit is nog meer as die en al die sterre sterrestelsels, supernovas en ander sigbare hemelliggame. Wanneer Paulus praat van ‘die hemele’ en ‘die hemelse geweste’ praat hy van die geesteswêreld. Daar is onsigbare magte wat ons nie eers kan sien nie!  Dalk onthou jy dit van die preekserie oor die wapenrusting in Efésiërs 6:
  die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. (Efésiërs 6:10)

Hy praat in die hele Efesebrief oor hierdie twee domeine: die aarde en die hemele.
  die owerhede en magte in die hemele (Efésiërs 3:10)

Alles vind sy eenheid in Jesus en sal deur hom geregeer word.

1.2    Hy regeer oor alles

Die woord wat Paulus hier gebruik, is uniek. Dit is moeilik om te verduidelik. Dit beteken soiets as ’n opsomming maak, alles onder een prinsipe bymekaarbring. 
In vs 20-22 lees ons hoe dit plaasgevind het:
God het sy almagtige krag gebruik om Jesus op te wek uit die dood. Vervolgens het hy Christus verhoog bo alles:
… Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, … (v20-22)

Dit is eintlik nie in die eerste plek politieke mag nie. Dit gaan oor die samehang van alles. Alles vind sy betekenis en doel in die Messias.

Daarvoor het ons ook Kolossense 1 nodig:
“want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” (v. 16-17)

Dat alles opgesom kan word in Jesus en sy betekenis in hom vind, is dus reeds die geval sedert die skepping.  Die Seun van God was sentraal in die skepping van die hele wêreld, en dit sluit die sigbare en onsigbare dinge in, mense, diere en geeste – alle magte en owerhede.

Dit is eintlik teveel toutjies wat hier bymekaar kom – ons kan dit nie verstaan nie.

Terug na Efésiërs 1:10.  Hier is die aandag op die versoening wat Jesus gebring het.  Jesus is in die sentrum van die reddingsplan van God, wat drieënig is.  God se plan het in werking getree toe die volheid van die tye aangebreek het: die Seun van God het mens geword.  Jesus die Messias het as hoëpriester deur sy lyding en sterwe die sondes versoen. En hy is nou besig om vanuit die hemel alles aan hom te onderwerp.

Dit was nodig, want daar is opstand in die skepping.  Die eenheid en vrede wat daar in die begin was, is verbreek. Die onsigbare magte, die heerskappye en trone weerstaan God se regering. En daarmee het chaos gekom, is die skepping soos ’n boom wat ontwortel is. Ons kan nie meer die betekenis en die eenheid van die skepping raaksien nie.

Christus vernuwe die hele skepping: mens en dier, water en lug, supernovas en atome, sigbare organisasies en prosesse, maar ook onsigbare magte en geeste. Alles. Hy bring eenheid, betekenis, harmonie.  Hy sal uiteindelik alles aan hom onderwerp, en dan kry alles sy eenheid en betekenis terug in Jesus.

2    Dit verander alles vir ons op aarde!

Ek vind dit eintlik nogal moeilik om te verstaan.  Dis amper teveel vir ons!  Maar Paulus skryf dit vir ons neer, sodat ons alles op ’n nuwe manier gaan bekyk.
Wat is die impak daarvan dat Christus alles in hemel en op aarde tot ’n eenheid bring?

2.1    Een man in die tronk kyk baie ver!

Ons moet net besef wie dit skryf en onder watter omstandighede.
Paulus is in ’n tronk, met kettings aan sy hande en voete, maar sy hart en verstand is vry. Hy beweeg rond in die ewigheid van God se plan, hy kyk baie wyd: hy kyk ver terug in die verlede (die ewigheid van God se raadsplan), na die volheid van die tyd by die koms van Jesus, en selfs ver in die toekoms: wanneer God alles onder Jesus tot ’n eenheid sal bring. Sy denke en hart is vry om rond te vlieg deur die hele skepping, alle sigbare dinge en alle magte en geeste. Sy hart is vol van die geestelike seëninge van Christus.

Dikwels word ons deur ons omstandighede neergedruk en kyk ons vas in ons moeilikhede. Maar Paulus het ’n geweldige allesomvattende perspektief!
Ons het nodig om sy wêreldwye universele perspektief ons eie te maak.

Ons behoort aan Christus, wat tyd en ewigheid in sy hande hou, oor alles regeer, die hele skepping weer onder God se regering sal bring

2.2    Geen angs

Beteken dit nie dat daar geen plek vir angs is nie?
Ja, ons leef in onseker tye. Hoe gaan die res van 2020 lyk?
Wat verwag jy van 2021?  En daarna, as jy dit mag beleef?
Dit is al hoe onsekerder.  En dinge word nog meer onseker wanneer jy siek word, oud en swak, en die dood nader kom.
Waar gaan jy vrede en rus in jou hart vind?

Paulus gee ons ’n vaste anker: Jesus Christus.  God het ons rykelik geseën in Christus. En ons verlosser bring eenheid in die hele skepping. God verenig alles in hom.  Met so ’n magtige redder hoef ons tog nooit meer bang te wees nie?

Pleks van angs behoort ons hom te prys en hom te vertrou.  Alles is in goeie hande, die hande van ons hoof Jesus Christus. Sy hande wys steeds dat hy aan die kruis gehang het om die skepping met God te versoen.

Bekyk alles in die lig van Christus. Verlede en toekoms, hemel en aarde, sigbare en onsigbare dinge, ALLES is in sy hand.

2.3    Dat gaan oor baie meer as ons saligheid

Ons kry dus ’n baie wyer perspektief as ons eie lewe en ons redding.
Paulus het die redding in pragtige woorde beskryf in die eerste verse. Dit bring ons tot lofprysing.

Maar ons moet nie stilhou by ons eie saligheid nie.  Die hele skepping sug onder die las van die sonde van die mensheid. Alles is aan die vrugteloosheid onderworpe.  Diere, plante, bome, visse en voëls, wilde diere en huisdiere, die lug en water en die grond, alles vind sy eenheid en doel in Christus. Siekte en dood, die gevolge van die sonde, sal verdwyn.  Die onsigbare magte van die duisternis, waaronder nog so baie mense gevange is, sal uiteindelik verbreek en vernietig word.

Niks sal meer teen hom in opstand kom nie. Hy is nou besig om alles aan te onderwerp, en hy onderwerp sal aan die einde alles aan die Vader onderwerp. Dan is God alles in almal.

2.4    Daar is nou stryd op aarde, maar al die teenstand sal oorwin word

Ons sien nog nie dat alles aan hom onderworpe is nie.  Ons wandel steeds in geloof, in hoop.

Die volheid van die tyd dui nie net op die koms van Jesus op aarde nie, maar ook op die wederkoms.  In die volheid van die tyd sal die stryd en teenstand teen Jesus ophou.  Dan sal ons die eenheid wat ons na verlang, onder die hoofskap van Jesus sien en geniet.

Intussen gee God vir ons waarborge.
Die geheim wat in die beloftes en die wette die Ou Testament verborge was, is deur die apostele bekendgemaak. Dit het in Christus in vervulling gegaan! Dit het gebeur, in hierdie wêreld van ons.  Jesus het die oorwinning oor die duiwels magte reeds behaal deur sy lyding en sterwe en opstanding. Hy het die verlossing gebring en veilig gestel.
Paulus sal dit herhaal in hoofstuk 2:
“waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” 
Maar God het ons saam met Hom opgewek!
(Ef2,2-4)

En hy het sy Gees in ons uitgestort as ’n waarborg (dit volg in vs 11-14)

2.5    Wat staan ons nou te doen?
Kom ons kyk na die laaste effek wat dit vir ons het: as gemeente saam.
Hierdie geheim van v 9 en 10 is dus nou bekend.  Paulus het dit orals in die Romeinse Ryk bekend gemaak, van Jerusalem tot Rome, van hoog tot laag in die samelewing.

Hierdie boodskap moet aanhou klink. Dit is die taak van die gemeente van Christus.  Ons mag dus nie wegkruip agter die veilige mure van die kerk omdat die wêreld so sleg en gevaarlik is nie.  Dan dink ons te klein van die geheim en die oorwinningsboodskap.  Christus is besig om die sondige wêreld te oorwin, en die verkondiging van die evangelie speel hierin die sentrale rol.

Dink groot oor die regering en oorwinning van Jesus.  Ons mag nie die boodskap in die kerk toemaak nie.

Kom ons bid saam dat God vir ons die moed en liefde sal gee om saam die boodskap van versoening met God bekend te maak. Die hele wêreld moet die boodskap van die oorwinning van Jesus kry.  Dan kan nog mense tot die blye ontdekking kom dat Jesus sin maak uit hulle lewe en wêreld. En hulle kan hom ook prys en dien.

Paulus het die geheim van Christus orals bekendgemaak. Hy het uit sy pad uit gegaan, lyding verdra, sy lewe selfs opgeoffer om hierdie boodskap orals bekend te laat hoor.

Het ons dieselfde besef dat die gemeente van Christus ’n roeping het om Hom bekend te maak?
Of ons hou dit vir onsself? 
Is ons tevrede met wat ons doen, met die mense wat klaar deel van die kerk is. Kan ons tevrede wees met die impak wat ons op ons stad het - of nie het nie?

God gaan alles in Christus verenig en tot sy volle doel bring.  
Verheug jou oor daardie geheim!

Amen

Liturgie: 

Seëngroet

Psalm 47:1,4

Wet

Psalm 2:3,4,6

Gebed

Lesing: Efésiërs 1:7-23; Efésiërs 2:1-10; Kolossense 1:15-20

Psalm 110:1,2,6,8

Teks + Preek: Efésiërs 1:9b-10

Skrifberyming 18:1-5

Gebed

Skrifberyming 20:1-3.5.6