Die hartedief misbruik die vertroue van die slagoffer

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-08-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 42
Verwysing: 
HK 42-4
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“U het my hart gesteel, my susterbruid, u het my hart gesteel met een straal van u oë, met een kettinkie van u halssieraad” – só lees ons in Hooglied 4:9. Jy het my hart gesteel – is dit oortreding van die agste gebod (“jy mag nie steel nie”)? Nee, gemeente, ons verstaan almal dat hierdie uitdrukking hier in ‘n positiewe sin gebruik word. Die bruidegom, wat hier aan die woord is, wil met hierdie uitdrukking sê dat sy bruid sy hart gewen het, en dat hy mal is oor haar. Hy verklaar dus sy liefde aan haar!

Maar is dit ooit moontlik om die uitdrukking ‘iemand se hart steel’ in ‘n negatiewe sin te gebruik, en om dit dan vervolgens aan die agste gebod te verbind? Wel, broers en susters, hierdie negatiewe betekenis is presies wat ons vind in die twee gedeeltes wat ons saam gelees het. In die Hebreeus van 2 Samuel 15:6 staan daar letterlik: “sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het”, en so gee ons vertaling dit ook weer. In Genesis 31 word dit minder letterlik vertaal – in verse 20, 26 en 27 lees ons driemaal dat Jakob vir Laban ‘mislei’ het – maar in die Hebreeus staan presies dieselfde uitdrukking as in 2 Samuel 15. Letterlik: Jakob het Laban se hart gesteel. En in beide Skrifgedeeltes is dit duidelik dat hierdie uitdrukking nie positief nie, maar negatief gebruik word.

 

En dit is waarop ek vanoggend, in ons behandeling van die agste gebod, wil fokus. Dit is ‘n heel ander fokus as waaraan ons moontlik gewoond is. Preke oor Sondag 42 fokus normaalweg – en heeltemal tereg – op ‘n meer letterlike uitleg van die gebod ‘jy mag nie steel nie’. En dan gaan dit oor sake soos rentmeesterskap – die feit dat ons al ons materiële besittings van God af kry, dat ons daardie materiële besittings deur eerlike arbeid behoort te verwerf, en dat ons dit uiteindelik vir God se eer en die welsyn van ons naaste behoort te gebruik. En by die oortreding van hierdie gebod word dan sake genoem soos oneerlikheid met belastingvorms, tyd steel by die werk, salarisse van werknemers te laat uitbetaal, oormatige rente vra, en nog meer van sulke baie konkrete oortredings. En dit is nodig dat gelowiges gereeld aan hierdie sondes herinner word. Ek wil vandag egter nadink oor ‘n ander vorm van diefstal – baie subtieler, en daarom in baie gevalle ook gevaarliker. Die tema vir die preek is:

Tema: Die hartedief misbruik die vertroue van die slagoffer

 

Kom ons begin deur eenvoudig na die twee verhale te kyk wat ons saam gelees het, sodat ons kan sien met watter soort optrede ons hier te make het.

In Genesis 31 kry Jakob van die Here die opdrag om terug te gaan na die land van sy familie. Die verhouding tussen Jakob en Laban (asook tussen Jakob en Laban se seuns) is nie meer wat dit moet wees nie. Daar is onmin en jaloesie, veral oor Jakob se rykdom. Wanneer Jakob vir sy twee vroue, Ragel en Lea, vertel wat God hom opgedra het, vat dit min moeite om hulle te oorreed om saam met hom hulle vader te verlaat. In alle haas word die vertrek voorberei. En terwyl Laban ver van die huis af is, besig om die skape te skeer, vlug Jakob en sy hele huishouding. En in hierdie proses word Laban van twee dinge beroof: Ragel steel Laban se huisgode (vers 19), en Jakob steel Laban se hart (vers 20). Die eerste diefstal is redelik voor die handliggend – almal van ons verstaan wat Ragel gedoen het. Die tweede, egter, is moeiliker. Wat presies word bedoel wanneer gesê word dat Jakob Laban se hart gesteel het? Laban self help ons om dit beter te verstaan, wanneer hy in vers 27 sê: “Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei (letterlik: my hart gesteel) deur my dit nie te vertel nie?” Dus, Jakob steel Laban se hart deur niks vir hom te vertel nie, en in die geheim te vlug. Laban het Jakob vertrou, en Jakob misbruik daardie vertroue om te vlug terwyl Laban ver van die huis af is, besig om die kleinvee te skeer. Op bedrieglike wyse misbruik Jakob dus Laban se vertroue.

2 Samuel 15 is hierin selfs nog duideliker. Absalom is baie subtiel besig om ‘n paleis-rewolusie voor te berei. Hy skaf vir homself ‘n wa en perde aan, en laat vyftig man voor hom uitloop – ‘n regte prins! Intussen bewerk hy die simpatie van die skare. Hy maak ‘n punt daarvan om vroeg op te staan en na die stadspoort (die geregshof van daardie tyd) te gaan. Daar vra hy dan uit oor die regsake van sy volksgenote – en feitlik in alle gevalle gee hy aan die klaer gelyk (kyk, jou saak is goed en reg – vers 3). Maar, voeg hy dan by met ‘n bedenklike uitdrukking op sy gesig, ongelukkig is daar niemand om jou saak aan te hoor nie. Jou saak staan êrens onder aan die lys, jy moenie verwag dat die koning jou saak gou sal aanhoor nie. Daarmee plaas Absalom vir Dawid onder verdenking, met die gepaardgaande versugting in vers 4: “Mag hulle mý as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ‘n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied.” Die suggestie is dus gewek dat hy ‘n beter koning as Dawid sal wees – hý sal sorg, hý sal omgee! En dan gebruik Absalom ten slotte ook nog ‘n ou, beproefde tegniek om die guns van die skare te wen – hy gee homself voor as iemand vir die gewone man, ‘n regte mense-mens. Onthou, aangesien Absalom die koning se seun was, het mense die gewoonte gehad om voor hom te buig. Maar hy maak asof hierdie plegtighede vir hom totaal onbelangrik is, en hy behandel elkeen gelyk en met liefde; kyk maar na vers 5: “En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.” Absalom is dáár vir die gewone man! En dit werk – vers 6 vertel vir ons dat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het. Miskien het hy nie hulle egte liefde gewen nie, maar hy het in elk geval hulle simpatie en ondersteuning gehad vir wanneer hy sy staatsgreep sou uitvoer.

 

Broers en susters, in albei gevalle – by Jakob sowel as by Absalom – het ons te make met diefstal van die hart, ‘n baie unieke vorm van sonde teen die agste gebod. In albei gevalle lei Jakob en Absalom ander mense aan die neus... en om die bos. Of in meer moderne terme: in albei gevalle het ons ten diepste te make met manipulasie. Om iemand te manipuleer is om daardie persoon se simpatie en vertroue te wen (jy steel sy hart), en jy maak hom sodoende ‘n slaaf van jou planne en jou oogmerke. Jy misbruik daardie persoon se simpatie en vertroue vir jou eie doeleindes. Dit bring ons terug by ons tema: die hartedief misbruik die vertroue van die slagoffer. En daaroor moet ons twee dinge sê:

  1.  Oppas, dat jy dit nie doen nie...
  2. Oppas, dat dit nie aan jou gedoen word nie...

 

1. As ons so na Jakob en Absalom se optredes kyk, dan laat dit nie ‘n goeie gevoel nie. So geraffineerd, en tog so oneerlik. Om goedgelowige mense so aan die neus te lei. Om daardie mense se harte so te steel – en dit net vir hulle eie voordeel. So ‘n onverkwiklike gevoel is heeltemal tereg, gemeente, maar laat ons nie te vinnig oordeel nie. Jakob se misleiding en Absalom se diefstal sit uiteindelik diep binne-in elkeen van ons se harte. Ons het ook hierdie sondige vaardighede om ander se harte te steel, om die mense om ons heen só te manipuleer dat hulle aan óns kant is en óns belange dien. Ook onder gelowiges kom hierdie soort van oortreding van die agste gebod voor, ook al is ons geheilig in Christus.

En hoe sien ons dit nie in huwelike nie – manne of vroue wat op baie oortuigende en verfynde maniere hulle eggenoot aan hulle kant kry (soms só dat die een die ander blindelings navolg) – met die doel om besluite te maak en dinge te doen wat uiteindelik nie werklik in belang van die huwelik of die gesin is nie, maar slegs in belang van daardie betrokke hartedief. Hoe sien ons dit nie in gesinne nie – pa’s of ma’s, moontlik in ‘n ongelukkige huwelik, wat oneerlike en subtiele maniere gebruik om die kinders aan hulle kant te kry, en sodoende teen die ander ouer kant te kies. Of kinders – ja, selfs kinders het hierdie vaardighede – wat weet hoe om pa of ma om hulle pinkie te draai, sodat hulle sekere verantwoordelikhede (soos skoolwerk, of take in die huis) nie hoef na te kom nie. Of kinders wat weet hoe om baie subtiel hulle juffrou of meneer te manipuleer om haar of hom aan hulle kant te kry en sodoende beter punte te kry. En hoe sien ons dit nie in die gemeente nie – broers en susters in die geloof wat dalk in onmin met mekaar lewe, of wat dalk in onvrede met die kerkraad lewe, en wat vervolgens daarop uit is om vir ander gemeentelede hulle kant van die verhaal te vertel, sodat hulle op daardie gemeentelede se ondersteuning kan reken. Op alle terreine van die lewe vind ons hierdie hartedief, die manipuleerder, die een wat misbruik maak van die vertroue van ‘n ander – uit selfsugtige motiewe.

 

En dit is, broers en susters, omdat die manipuleerder, die hartedief (die Jakob en die Absalom), diep binne-in elkeen van ons sit. Vanaf die sondeval is dít ons standaard posisie. En daarom het ons Hom nodig wat ons harte kan wen en vernuwe – nie deur ons om die bos te lei nie, nie deur ons te manipuleer nie, maar deur aan ons die waarheid te vertel, die onvervalste waarheid. Die waarheid oor onsself – oor ons sonde, oor ons gebrokenheid, oor die feit dat ons van nature manipuleerders is. Maar ook die waarheid oor Homself – sy voorbeeld tydens sy lewe op aarde, waarin Hy nooit mense met lis aan sy kant probeer kry het nie, nooit gemanipuleer het nie, nooit doekies omgedraai het nie, maar altyd met almal oop en eerlik was. En ook die waarheid oor sy werk aan die kruis, waarin Hy ook vir hartediewe gesterf het, hulle sonde teen die agste gebod gedra het. Hy het nie probeer om sy Vader te manipuleer nie, maar Hy het die volle en verskriklike las van God se toorn gedra. Ons het nodig dat Hy, soos wat ons ná die preek uit Psalm 86 gaan sing, ons harte sal neig en saam sal voeg tot die vrese van sy Naam. Ons het nodig dat Hy aan ons onverdeelde harte gee! Geen dubbelhartigheid meer nie, maar harte uit een stuk, sodat hierdie manipulasie en diefstal onder die gelowiges al hoe minder ‘n plek sal hê. Sodat ons, as gelowiges, veilig is bymekaar, en mag vertrou dat my broeder of suster nie daarop uit is om my hart te steel nie.

Dus, oppas dat jy dit nie doen nie. Maar dan ons tweede gedagte, waarby ek ‘n bietjie langer wil stilstaan: oppas, dat dit nie aan jou gedoen word nie...

 

2. Manipulasie – die steel van harte – is natuurlik nie net iets wat ons noodwendig self doen nie, maar ook iets wat áán ons gedoen kan word. En dit gaan vir my nou nie oor iemand wat werklik onwetend – en ook sonder dat hy of sy dit kón geweet het – gemanipuleer word nie. Dít gebeur – en hiervoor staan die manipuleerder, die hartedief, volledig skuldig. Maar dit is nie waaroor dit nou vir my gaan. Nee, dit gaan oor iets baie dieper en ernstiger. Dit gaan daaroor dat ons, as Christene, onsself soms láát manipuleer, omdat ons eenvoudig nie toegerus en voorbereid genoeg is om die hartedief te kan herken en ontmasker nie. Dit gaan daaroor dat ons, as gelowiges, tóélaat dat ons harte gesteel word, omdat ons nie geestelik – gelei deur die Gees! – omgaan met wat in hierdie wêreld op ons afkom nie. En laat ons baie goed besef: hy wat sy hart láát steel, is uiteindelik mede-verantwoordelik aan diefstal. Hy was nie versigtig genoeg nie; hy het sy hart nie mooi opgepas nie... Hy het die oproep van die Spreuke-digter in Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” – hy het hierdie oproep nie ernstig genoeg gevat nie.

 

Gemeente, die Skrif roep ons telkemale op om dít wat vanuit die wêreld op ons afkom – of dit nou indrukwekkende persoonlikhede is, of nuwe giere wat posgevat het, of nuwe produkte op die mark, of nuwe klere-style, of nuwe denkwyses, of die tydsgees wat ons inasem – om dit alles op die proef te stel. “Beproef alle dinge, behou die goeie”, roep Paulus ons op in 1 Thessalonicense 5:21. En dan bedoel hy daarmee nie: toets alles, probeer alles uit, en dan sal jy proef-ondervindelik agterkom wat goed en wat sleg is nie; Paulus bedoel nie: leer maar uit jou ervaring en foute nie (hoewel dit natuurlik nie onwaar is nie). Nee, Paulus bedoel hier: beproef op geestelike wyse, deur Woord en Gees. Dieselfde vind ons Efesiërs 5, waar Paulus – net nadat hy in vers 9 gepraat het oor die vrug van die Gees – ons in vers 10 oproep: “Beproef wat die Here welbehaaglik is” (sien dieselfde in Romeine 12:2). Ons moet fynproewers van God se wil word, broers en susters.

En om dit te kan doen, moet ons toegerus wees. Om dit te kan doen, moet ons die volle wapenrusting van God aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (só roep Paulus op in Efesiërs 6, vanaf vers 10). Ja, die duiwel is die hartedief by uitstek, en hy het baie liste – hy het baie pyle op sy boog, hy het baie maniere hoe hy ons harte kan steel. En hy is voortdurend op die loer om te sien waar die onbewaakte plekke in ons harte is, en waar hy in ons lewens kan inbreek. Maar God laat ons gelukkig nie weerloos nie – Hy gee vir ons sy wapenrusting. En hierdie wapenrusting maak ons weerbaar in die geestelike stryd; dit stel ons in staat om weerstand te kan bied in die dag van onheil en om staande te kan bly (Ef. 6:13). Die Here gee vir ons, onder andere, die skild van die geloof, Hy gee vir ons die helm van verlossing, Hy gee vir ons die swaard van die Gees (wat die woord van God is). Deur dit alles word ons weerbaar, en word ons in staat gestel om ons harte te bewaak.

 

Die aanval op ons harte is dus groot, broers en susters. Maar nog groter is die beskerming wat die Here bied deur die volle wapenrusting van die geloof. Die probleem is egter, dat ons in talle gevalle nie die wapenrusting aantrek nie, of dalk nie volledig aantrek nie; ons verwaarloos die verdedigingsmiddel wat die Here gee. Ons maak onsself willens en wetens kwesbaar... Met die gevolg dat ons in baie gevalle nie in staat is om die hartedief te herken, te ontmasker en teen te staan nie.

  • Is ons, byvoorbeeld, nog in staat om die hartedief van die tydsgees te herken? Die tydsgees van die postmodernisme wat sê dat betekenis en waarheid deur elke individu self bepaal word, en dat geen gesag – selfs nie God in sy Woord nie! – namens jou kan bepaal wat waarheid is nie. Met die gevolg dat elkeen uiteindelik sy eie waarheid bepaal! Die tydsgees van die postmodernisme wat slegs vir die hier en nou wil lewe – want die verlede is irrelevant (kyk watter ellende het dit veroorsaak), en die toekoms is te onseker. Met hedonisme as gevolg – geniet slegs van die hier en die nou. Herken ons nog hierdie tydsgees, wat daarop uit is om ons harte te steel? Of ís ons harte dalk al gesteel, en gly ons vrywillig saam in hierdie stroom van eie plesier, eie waarheid en egoïstiese selfbeskikking?
  • Is ons nog in staat om die hartedief van politieke strominge te herken? Aan die linkerkant van die politieke spektrum is daar die onstuitbare stroom van politieke korrektheid en grenslose toleransie teenoor seksuele en etniese minderhede – enige iemand wat daarteen beswaar maak, word gebrandmerk as ‘n seksis of ‘n rassis. En aan die regterkant van die politieke spektrum word ons gebombardeer met die volkseie, en met ‘n veridealisering van die Afrikaner-Christenskap, waarin dit amper onmoontlik geword het om nog te onderskei wat Afrikanerskap en wat Christenskap is. Luister maar na liedjies soos Monumentaal, wat tans oral gehoor kan word – dit sweep die luisteraar saam op ‘n kragtoer langs die monumente van die Afrikaner-geskiedenis. Terwyl die genade van God wel genoem word, is dit uiteindelik die eie geskiedenis wat die volk moet motiveer om op te staan en aan te gaan. Broers en susters, sien ons nog hierdie dinge? Of laat ons ons harte saamsleep in die emosie?
  • Is ons, verder, nog in staat om die manipulasie van persone te ontmasker? Innemende persoonlikhede en boeiende sprekers kan mense aangryp. Kyk hoe hang ‘n deel van die Amerikaanse volk aan die lippe van Donald Trump, terwyl ‘n ander deel aan die lippe hang van Joe Biden – terwyl albei van hulle al telkemale betrap is op leuens en verdraaiing van die waarheid. Ja, die mag van die woord is ‘n goeie gawe van God, maar misbruik van woorde kan miljoene mense hipnotiseer, met die gevolg dat hulle instem met ‘n gevaarlike beleid en bedenklike planne. Is onsself vry van hierdie soort aantrekkingskrag? Is ons vry van die invloed van persoonlikhede soos Absalom, wat hele skares kan draai in die rigting wat hulle pas?
  • En as ‘n laaste voorbeeld – wat ons nog nader aan die agste gebod bring – is ons nog in staat om die hartedief van ekonomiese manipulasie te ontmasker? Die geraffineerde advertensie-wese van ons tyd flous ons telkemale met die belofte van kits-rykdom en pryse wat gewen kan word. Produkte wat nie noodsaaklik is nie, word vir ons aangebied asof hulle wel noodsaaklik is – en skielik dink ons ook dat hulle noodsaaklik is. Die welvaartsug is ‘n bedreiging vir elke gelowige se hart, en die druk om volgens ‘n sekere standaard te lewe, is groot. Is ons nog daarteen bestand? Bewaak ons nog ons harte hierteen, of is ons harte al gesteel deur hierdie ekonomiese hartedief?

 

Uit hierdie voorbeelde, broers en susters, sien ons dat die duiwel baie listig kan wees, dat hy baie maniere het om ons te manipuleer en ons harte te steel. Laat ons onsself hierdeur waarsku. Die enigste en beste manier om ons harte te bewaak, sodat ons onsself nie laat manipuleer nie, is om die volle wapenrusting aan te trek wat God aan ons gegee het. Laat ons ons harte vul met die Woord en die Gees van Jesus Christus. Dit is wat ons nodig het om die dinge wat op ons afkom, te kan beproef. Toets, daarom, gemeente – toets elke persoon, toets elke politikus, toets die tydsgees, toets die media. Sodat ons harte, wat deur Jesus Christus duur gekoop is met sy kosbare bloed, nie gesteel sal word nie; sodat ons ons harte nie láát steel nie. En sodat ons elke dag opnuut kan bely (en nie net bely nie, maar ook uitleef): aan U, o Here, bied ek my hart – bereidwillig en opreg.

Amen

Liturgie: 

Votum: Sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 115:8 en 9

Wetslesing

  • Genadeverkondiging Rom. 3:19-24

Sing Ps. 130:2 en 4

Gebed

Lees:    Genesis 31:17-32

            2 Samuel 15:1-6

Teks: HK, Sondag 42

Preek

Sing Ps. 86:3 en 6

Gebed

[Kollekte]

Slotsang Skr. 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen