God bereik die doel van sy skepping in Christus

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-07-26
Teks: 
Efésiërs 1: 9-10
Verwysing: 
2029
Preek Inhoud: 

Doele van hierdie preek:
-    Kyk wyer as ons beperkte wêreld, kyk vanuit God se ewigheidsperspektief
-    dat ons verwonderd raak en ons Heer Jesus Christus prys!

Bybelgedeelte Afr 33/53:

“deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het
    na sy welbehae
        wat Hy in Homself voorgeneem het,
om die volheid van die tye te reël,
met die doel om alle dinge
    wat in die hemele sowel as wat op die aarde is,
onder een hoof in Christus te verenig —”

’n Duideliker vertaling:

Kom ons begin met ’n duideliker vertaling van die twee verse:
God het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 
    volgens sy eie besluit / welbehae
    wat hy beplan het in Christus
om dit werklikheid te maak in die volheid van die tye
met die doel om alles in Hom saam te vat / te verenig: hemelse magte en dinge op aarde.

Inleiding

Hier (op die tafel) is ’n kop met ’n doek oor.
Almal wonder nou: wie se kop is dit? Jy kan nie regtig mooi sien nie:
-    Is dit ’n man of ’n vrou?
-    Kleurling, blank of swart?
-    Watter werk het die persoon? Die klere / uniform kan dit wys.
-    Is die persoon wat hiermee afgebeeld word, vir ons belangrik? Kan hy/sy ons lewens verander? Jy sal nie weet nie. Dan moet jy meer oor die persoon hoor.

Tot nou toe het ons in Efésiërs 1 gehoor (gelees):
-    ons ontvang alle seëninge van God deur Jesus Christus
-    dit lei tot lofprysing – dis eintlik die doel van ons lewe en ons redding.

Vandag kry ons ’n nog wyere perspektief.
Dis asof ons in die berge rondtoer, ons is in ’n kloof, dis donker, hier en daar ’n waterval: dis mooi! 
En dan is daar ’n draai in die pad, en skielik wyk die kranse, en jy kry ’n pragtige uitsig!

In vs 9-10 sal ons sien hoe groot en diep Jesus se redding en koningskap is.

Tema: God bereik die doel van sy skepping in Christus
1    -    Dit was ’n geheim, maar dis nou bekend!
2    -    Wat is die bedoeling hiervan?

En in 'n volgende preek:
3    -    Ons verwag die volle eenheid / vrede in Christus.

1    Die geheim is nou bekend!

1.1    Wat is die geheim?

Jy dink dalk aan die geheimsinnige organisasies soos die Broederbond, of Scientology ofso. Maar die geheim waaroor Paulus praat is nie iets wat net vir ingewydes is nie, 
Paulus het dit orals bekendgemaak!

Dis iets wat vroeër nie bekend was nie, God het dit verborge gehou tot die regte tyd.

1.2    Dit was verborge gewees
Geheimenis wat Paulus hier bekendmaak = genade nie net vir Jode nie, maar ook vir heidene. Julle ook: gemeente van Efese = paar Jode, baie heidene.
Genade = versoening met God deur Jesus se sterwe.

Ons is bekend met OT as skadus v Christus. Maar besef jy wel dat die ‘geheim’ al klaar daar was:
“En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees. (En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek;) en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Gen 12,2-3

Hy het Abraham uitgekies en sy verbond met hom opgerig. Die nasies het op die agtergrond geraak. Israel het dit nie raakgesien nie. God het opsetlik die verlossingsplan in segmente, stuk-stuk bekendgemaak.

1.3    Doel van die graduele bekendmaking

Hy het ’n offerdiens ingestel met priesters, sodat sy volk die verlosser sou verstaan: hy ondergaan die toorn van God in ons plek. God het konings gegee: so regeer God oor hulle, hulle moet leer luister, dan sal daar vrede wees. Dit hang nie af van die getal soldate nie, maar van hul vertroue op God. En God, die koning, beskerm almal wat by hom behoort. Daar was ’n wet, wat hulle geleer het hoe om God lief te hê en te dien, en hoe om te rus, hoe om fees te vier. Sodat ons by die koms van die verlosser kon geleer het dat ons Jesus ons koning moet gehoorsaam en liefhê. Die wet het ook die hart van die volk aan die lig gebring. Wanneer die verlosser kom, moet God se volk na hom toe hardloop: ja, net hy is ons verlosser , en ons het hom nodig!

So het God eerste die woorde, begrippe, en beelde gegee om die verlosser se taak te verstaan, en daarna sy Seun gestuur.

Die besonderse posisie van Israel en die wet is egter verkeerd verstaan. Hulle het dit gebruik om hulself op te hef en met veragting na die heidenvolke te kyk. En die wet het vir hulle alles geword. Maar die Ou Testament eindig met die bankrotskap van die volk onder die wet. Hulle kan nie hulself red nie. Hulle hart is vol afgodery. En so is hulle maar net soos die heidenvolke: afkerig van God, opstandig.

1.4    Maar nou: bekendgemaak!

Daarom is die bekendmaking van die geheim so verrassend en mooi! In die duisternis van die OT en die afgodery van die volk het ’n lig opgegaan. Jesus is gebore in die volheid van die tyd.
“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet,” (Gal4,4)
Hy het die verlore skape van Israel versamel, by hom geroep, en gewys hoe sy koninkryk vir hulle vryheid van sonde en oorheersing deur die duiwel bring.

Hoe hy dit sou doen, was deel van die geheim: deur lyding en vernedering tot heerlikheid.

Al die apostele het dit as die evangelie, die blye boodskap bekendgemaak: the secret is out: God se Seun het aan mense gelyk geword en hom verneder. So het hy die sonde versoen, vrede met God gebring. En God het hom verhoog: hy het hom opgewek uit die dood en hom die naam bo alle name gegee. En Jesus gaan terugkom as regter van almal.
(dit is die terugkerende tema in die verkondiging van die apostele)

Dit was baie duidelik in die roeping van Paulus. Jesus het spesiaal Paulus geroep om apostel vir die heidene te wees. Barnabas het gaan ‘headhunting’ doen en hom in Tarsis gaan soek, om vanuit die eerste heiden-christelike gemeente Antiogië die eerste sendingreis te begin. Hulle het telkens by die Jode begin, maar vervolgens die evangelie aan Grieke en Romeine die evangelie verkondig.

Ook die ander apostels is ingeskakel:
By Petrus kom jy agter hoe ’n groot skok dit was dat God die wet van Moses gekanselleer het, en dat heidene sonder besnydenis en wetsgehoorsaamheid gered kon word. Jy lees dit in Handelinge 9 en 10: die verhaal van Kornelius. ’n Visioen was nodig om Petrus te oortuig, en die ervaring dat die Heilige Gees op die luisteraars gekom het.

In die verdere hoofstukke van Handelinge sien jy die skokgolwe: dit was ’n groot ontdekking en ’n aangename verrassing vir die christene uit die Jode dat God die Heilige Gees ook vir die heidene gegee het: jy lees dit in Handelinge 10-15. Hulle het ook deel geword het van God se volk!
Hulle maak dit in Handelinge 15 ’n amptelike besluit dat daar geen addisionele wette vir die heidene opgelê mag word nie, behalwe twee voorskrifte ivm afgode en bloed. So kon heidenchristene en Jode-christene in een gemeente saamleef en saam eet.
Die bekering van die heidene het tot groot blydskap gelei.

So is die geheim aan die hele wêreld bekendgemaak.

1.5    Wat is die geheim dan?

Die Efesebrief kan jy lees as die verslag van die onthulling van die geheimenis. Dit word duidelik wat die geheim is:
-    Redding nie deur die wet nie, maar deur die gehoorsaamheid van Christus.
-    God versoen ons sondes deur die kruis van Jesus
-    Die heidene word ook geroep, ontvang die Gees en word deel van die gemeente van Christus! (Efésiërs 3: 6: heidene het saam met Jode erfgename geword!)
En volgens Kolossense 1 kan ons selfs sê dat Christus self die geheim is:
“die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. (Kolossense 1: 26-27)
Jesus het God se heilsplan uitgevoer en die volheid van die tyd het aangebreek met sy koms.

Voordat ons aangaan en kyk hoe wyd en diep die geheim is, moet ons net stilstaan en besef wat ons ontvang het omdat die geheim aan die hele wêreld bekendgemaak is.

2    Wat is die bedoeling hiervan?

2.1    Aanbidding

En wat is die effek dat die evangelie aanvanklik, ewelank, verborge gehou is, en na die dood, opstanding en verheerliking van Jesus bekendgemaak?

In die eerste plek, dat ons God sal aanbid vanweë sy genade, oorvloedige liefde, en sy wysheid om hierdie dinge verborge te hou, en vir gelowiges nou te openbaar.
Jesus self het God gedank dat hy die begrip van die evangelie vir wyse mense verborge gehou het, maar vir kindertjies geopenbaar.
Aanbid God vanweë sy wysheid: hoe hy sy verlossingsplan oor die ewe bekendgemaak het, sodat ons die werk van Christus kan verstaan, 
Omhels jou redder wanneer jy deur die verkondiging van die evangelie alhoe beter raaksien hoe baie jy Christus nodig het.

Aanbid God vir sy genade, dat ons in die tyd leef nadat hy die geheim bekendgemaak het. Wat ’n oorvloed van lig en kennis van God het ons ontvang!

Aanbid Christus, wat die sentrale, beslissende rol gespeel het in die verlossingsplan. Alles wat ons in hierdie hoofstuk en die res van die Byble leer, lei tot meerdere eer van Christus!

2.2    Illustrasie

In ’n video van ’n preek het ’n predikant die volgende voorbeeld gebruik: 

Tydens ’n konsert van Michael Jackson is die toeskouers mal oor hom en almal is buite hulself van ekstase.  Maar hy is maar net ’n mens (hy is nou oorlede), en hy het niks vir hulle gedoen om hul lewens te verander nie!
Hoeveel entoesiasme, blydskap en dankbaarheid wys in ons erediens? Is dit in proporsie met die heerlikheid van Jesus, en met die lewensveranderende verlossing wat hy vir ons gee?

In Efésiërs 2 en 5 wys Paulus die groot teenstelling tussen lig en duisternis wat die gelowiges ervaar het:
“Julle was in die duisternis, dood in julle sonde, maar God het julle in Christus lewend gemaak.”
Die heidene kon die groot verskil tussen duisternis en lig raaksien en self ervaar. Dit lei tot dieper lofprysing. Die bedoeling is, dat ons rondom ons kyk en sien hoe die duisternis steeds baie mense in sy greep hou. En dan moet ons nie net buite die kerk kyk nie, en maar ons koppe skud oor die duisternis daarbuite nie…!
Ons moet in ons eie hart kyk, en twee dinge besef:
-    dat die sonde steeds aan die deur klop en dat ons geneig is tot alle kwaad
-    en teselfdertyd: dat die lig in ons harte opgegaan het, en dat ons in die lig mag lewe!

Ons knip ons oë in die fel lig – kom ons verwonder ons oor die lig wat oor ons skyn! 
Ons het dit nie verdien nie.
Dit maak ons vry.
Dit gee ons blydskap, dit maak ons lewens so mooi!

Ons deel in hierdie geheim, en ons is ryk gemaak deur die lyding en heerlikheid van Christus.

Prys hom!
Amen

Liturgie: 

Ps 121: 1 (Belydenis van afhanklikheid)

Seëngroet

Ps 49: 1, 2, 5, 6

Gebed

Lesing: Efésiërs 1: 7-23 + Kolossense 1: 15-29

Ps 145:1-4

Teks: Efese 1: 9 (en 10)

Preek

SB 24: 1, 4, 5

Geloofsbelydenis

Gebed

Kollekte

SB 36

Seën