Smaak die beskerming van die Engel van die HERE

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2020-08-02
Teks: 
Psalm 34
Preek Inhoud: 

Tema: Smaak die beskerming van die Engel van die HERE

Hierdie psalm het waarskynlik in ‘n grot ontstaan.

Die opskrif bo aan die psalm, vers 1, gee kortliks die omstandighede weer, waarin dit tot stand gekom het.

Wil ‘n mens meer daaroor weet, kan mens in die boek 1 Samuël daaroor lees.

Ons ken min of meer Dawid se lewensgeskiedenis.

As ‘n jong seun is hy al deur Samuël gesalf met die oog op sy latere koningskap.

Die feit dat hy die nuwe koning, God se nuwe gesalfde was, het vir die volk duidelik geword toe hy Goliat die Filistynse reus verslaan het.

Die volk het toe begin roep: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.

Hierna het ‘n periode gevolg waarin koning Saul al hoe meer jaloers begin raak het.

Hy het siek van jaloesie geword.

Dit het tot ‘n breekpunt gekom toe Saul aktief begin probeer het om Dawid dood te maak.

Dawid was bevriend met Jonatan, Saul se seun, en die het hom betyds gewaarsku om te vlug.

Dit het gelei tot ‘n tyd wat Dawid nie vir sy lewe seker was nie.

‘n Absolute dieptepunt was toe hy, wat veronderstel was om die volk se nuwe koning te word, moes gaan skuiling soek by Israel se aartsvyande, die Filistyne.

Dit was nie ‘n beplande aksie nie.

Dawid was totaal in ‘n hoek gedryf, in sy eie land was hy nie meer veilig nie, waardeur hy in die stad Gat van die Filistyne opgeëindig het.

Hier, in die Filistynse stad het daar vir hom, hy wat destyds die Filistyne se reus Goliat verslaan het, net een ding gewag, naamlik die doodsvonnis.

Hy is uitgelewer aan die koning van die stad, met die naam Agis.

In vers 1 van Psalm 34 word daar na Abimeleg verwys.

Die naam Abimeleg was waarskynlik die titel vir alle konings van die Filistyne, soos Farao die titel vir die konings van Egipte was.

So kom Dawid dus in die hande van Abimeleg, meer spesifiek Agis.

Nou staan daar bo-aan hierdie psalm dat Dawid hom voor Abimeleg kranksinnig gehou het, en dat die hom toe weggejaag het.

Nou moet ons nie dink dat dit ‘n slim plannetjie van Dawid was, dat hy homself bewus kranksinnig gehou het, terwyl hy dit eintlik nie was nie.

As dit die geval was, dan sou Psalm 34 nie sin gemaak nie, want hierdie psalm is juis ‘n psalm wat God dank vir sy onverwagse uitredding.

Vers 5: Hy het my geantwoord en uit al my vrees gered.

Vers 7: Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.

 

Nee, Dawid was regtig kranksinnig voor Abimeleg, hy het regtig sy kop verloor.

As ons onsself vir ‘n oomblik in sy omstandighede verplaas, dan sal dit ons ook niks verbaas nie.

Maak nie saak hoe gehard hy was nie, onthou Dawid was eintlik ‘n beroepsoldaat, op hierdie oomblik het hy geknak.

En wie sou nie geknak het nie?

Dink net:

Hy moes vlug vir sy lewe omdat sy skoonpa hom wou doodmaak.

Selfs sy familie moes vlug vir hulle lewe as gevolg van hom.

Sien 1 Samuël 22:1 onder andere.

Ons besef dit dalk nie, maar Saul het ook vir sy familie die lewe nag gemaak.

Dawid moes later vir sy ouers asiel reël by die koning van Moab.

Ja in sy eie land, waar hy eintlik veronderstel was om koning te word, was hy en sy familie nie meer veilig nie.

Hy eindig op as asielsoeker in ‘n buitelandse stad, ‘n stad van die aartsvyande, die Filistyne.

Dawid het goed besef dat dit nou die einde van sy loopbaan was, meer nog, die einde van sy lewe.

Nou sal die Filistyne Goliat se bloed wreek, en daar in ‘n vreemde stad sou hy sterf.

Dit alles het net vir hom te veel geword, en toe het hy geknak.

In sy kranksinnigheid het sy oë wild gestaan, soos ‘n dementerende het die speeksel in sy baard afgeloop, met sy naels het hy die deure van die poort gekrap.

Hierdie was inderdaad ‘n dieptepunt in Dawid se lewe.

 

Maar juis hierdie dieptepunt verklaar die sublieme woorde van Psalm 34, waar Dawid vol verbasing sing:

Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die almal red die HERE hom.

Ja Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.

Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vreees, en red hulle uit.

Smaak en sien dat die HERE goed is!

Ja op daardie oomblik toe Dawid, wat op sig ‘n dapper held was, daardie oomblik toe hy niks meer kon nie, ja totaal geknak het, op daardie oomblik het die HERE hom vasgehou en uitgered.

Die HERE lei dit so dat die Filistynse koning Agis besluit om Dawid uit sy stad weg te jaag.

Agteraf beskou ‘n groot oordeelsfout van die koning.

Eintlik onverklaarbaar dat Agis dit gedoen het.

Tog het dit gebeur.

Dawid kon slegs die HERE se leiding daarin sien.

Van daaraf het Dawid toe padgegee die woestyngebergte in, waar hy in die spelonk van Adullam gaan skuil het.

En daar is hierdie psalm waarskynlik gebore.

Dawid sien die reddende hand van die HERE in hierdie gebeure.

Ja die Engel van die HERE, met sy leërskare, was tog rondom hom, toe hy daar in die Filistynse stad totaal magteloos was.

 

Gemeente, dit is dus die omstandighede waarin hierdie psalm gebore is.

Die Gees van God het hierdie woorde in sy mond gelê.

God het sy lewe deur hierdie dal van doodskaduwee gelei, juis met die doel om hom hierdie lewenservaring te gee, waaruit hierdie lied gebore is.

 

En Dawid skryf hierdie lied, nie net vir homself nie, maar ook vir hulle wat by hom was.

Ons weet uit die boek Samuël dat sy familie hom daar opgesoek het.

Ook was daar ander vlugtelinge wat daar by hom aangesluit het.

Aan hulle getuig hy wat die HERE vir hom gedoen het.

Ons ontmoet in Psalm 34 ‘n man wat uit ‘n diep dal gekom het.

Dit wat sy lewenspad gekruis het, het hom kranksinnig gemaak.

Die woorde van hierdie lied is beslis nie net vroom praatjies van iemand vanuit sy gemaksone nie.

Nog steeds was sy omstandighede haglik, daar waar hy in ‘n grot moes wegkruip.

Nietemin het hy die krag van die HERE se uitredding ervaar, en daarvan getuig hy nou.

Hy vertel dit aan die ootmoediges, staan daar in vers 3.

Ons moet dan in eerste instansie dink aan sy familie en lotgenote daar in die grot.

Die vlugtelinge wat daar by hom aangesluit het, word as ootmoediges getipeer.

Die woord ootmoedig, oftewel sagmoedig, beteken nie dat hulle ‘sissies’ was nie.

Letterlik in Hebreeus wil die woord sê: hulle wat laag is, nederig, wat gebuk gaan,.

Gebuk nie in die eerste plek onder hulle omstandighede nie (dit ook), maar veral gebuk onder God se hand – dit wil sê hulle wat buig vir sy gesag.

Hulle wat op Hom bly vertrou, ook in tye van benoudheid.

Die woord benoudheid (vers 7) is ‘n term wat in die Bybel meer gebruik word, spesifiek om na die HERE se verbondstraf te verwys.

Ja ook die ootmoediges ondergaan die straf, maar die HERE gee uitkoms vir hulle, wat op Hom bly vertrou.

En so het Dawid gesmaak dat die HERE in sy lewe uitkoms gee, al het hy self verwag dat dit klaarpraat was, toe hy daar in die Filistynse stad opgeëindig het.

Vir ‘n oomblik het Dawid naamlik nie met God se sterke Engel rekening gehou nie, wat met ‘n ontelbare skare laer om hom heen opgestel was.

In die boek Daniël lees ons oor ‘n hemelse engeleleër van tienduisend maal tienduisend (Dan. 7:10).

Letterlik is tienduisend maal tienduisend ‘n totaal van 100 miljoen.

Daar het nog nooit op aarde ‘n leër bestaan met soveel soldate nie.

Maar so groot is die weermag van die Engel van die HERE dus.

Hierdie hemelse engeleleër is selfs nog groter.

Daniël noem daardie getal net om te beklemtoon dat hulle ontelbaar is.

So ‘n skare, onder leiding van hulle Aanvoerder, die Engel van die HERE, het rondom Dawid laer getrek.

Dawid kon weer moed skep.

Die wat aan ons kant is, is veel meer as die teenstanders!

En hulle Aanvoerder is die Engel van die HERE, wat ons van tyd tot tyd in die Ou Testament ontmoet.

Wat uit die Nuwe Testament geblyk het om die Messias, die Here Jesus Christus te wees.

Dit is Hy wat Dawid uit sy nood gered het.

Dawid mog opnuut leer wat dit beteken om by Hom te skuil.

Waar daar nog miskien twyfel was oor die vraag wie Goliat verslaan het, of dit nie uiteindelik te danke was aan Dawid se behendige beheer van ‘n slingervel nie, hierdie keer was dit so klaar soos daglig.

Dawid het nie homself gered nie.

Dawid was self op daardie stadium kranksinnig.

Maar die Engel van die HERE het die uitredding gegee.

En daar vanuit die grot sing Dawid: Jong leeus ly honger, maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.

Wat ‘n belydenis!

Dawid sing dit nie vanuit die gemaksone van sy paleis nie.

Dawid het nog nie ‘n paleis gehad nie.

Hy was ‘n vlugteling wat moes wegkruip in ‘n grot.

Tog kom hierdie belydenis oor sy lippe: Hulle wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.

 

Geliefde broers en susters, laat hierdie belydenis ook oor ons lippe kom.

Ook as ons onsself tans in ‘n moeilike tyd bevind.

‘n Pandemietyd, ‘n onseker tyd, vir gesondheid en inkomste.

Juis nou maak ‘n gelowige se belydenis nog meer indruk: Wie die HERE vrees, het geen gebrek nie.

Die HERE sal voorsien, op die een of ander manier.

Ons kyk op na Hom.

Ook in hierdie pandemietyd.

 

 

Kom, kinders, luister!

As Dawid die kinders aanspreek, vers 12, bedoel hy nie net letterlik kinders nie.

‘n Vers later praat hy weer oor ‘n volwasse man – “wie is die man” ...

Meer dikwels in die Skrif hoor ons hoe alle gelowiges as ‘kinders’ of as ‘my seun’ aangespreek word.

Hulle wat in kinderlike vertroue na die HERE opkyk.

Hulle wat soos kinders sit aan die voete van die leermeester, in hierdie geval Dawid, wat die HERE gebruik om hulle te onderrig.

En in hierdie gedig onderrig hy hoe om ‘n goeie lewe te kry.

As jy lus het in die lewe, as jy ‘n goeie lewe wil hê, wat moet jy doen?

Dawid onderrig hulle: Bewaar jou tong.

Moenie met jou lippe bedrog praat nie.

Bly ver van dit wat verkeerd is.

Jaag die vrede na.

Die HERE se oë van beskerming is op sulkes.

Hulle wat sy Hom soek, hulle noem Hy regverdig.

 

Dawid se onderrig is hier in lyn met sy eie lewe.

Al het koning Saul hom agtervolg, hom probeer doodmaak, Dawid het die vrede bly soek.

Selfs toe hy die geleentheid gehad het om vir Saul dood te maak, het hy dit nie gedoen nie.

Hy het sy hart bewaak, daarteen geveg dat wraaklus nie in sy hart begin groei nie.

Het het sy tong in toom gehou.

Liewers gebuk gegaan onder onreg.

Hy het ootmoedig gewag op God se tyd.

Dit was nie maklik nie.

Vir niemand van ons is dit maklik nie.

Tog word ons opgeroep om te wag vir God se tyd, en nie self te vergeld nie.

En God se tyd het gekom.

Toe Saul sy eie lewe op Gilboa geneem het, het God se tyd gekom.

Al was dit verskriklik erg dat dit gebeur het, tog was dit ‘n uitkoms, ‘n verademing vir Dawid, die dag toe Saul nie meer daar was nie.

Toe het Dawid besef: Die HERE se ore was nie doof vir sy hulpgeroep nie.

Die HERE het nie sy oë gesluit nie.

Wat die kwaaddoeners op aarde aangerig het (vers 17), dit het Hom nie ontgaan nie.

Op sy tyd het Hy ingegryp.

Die kwaaddoeners – mens kan dink aan Agis, die Filistynse koning.

Mens kan dink aan wat Saul en sy trawante gedoen het.

Mens kan dink aan iemand soos Doëg, wat 85 presters saam met hulle gesinne in Nob vermoor het (1 Sam. 22:6-19).

Dit was die kwaaddoeners van toe se tyd.

Maar hulle kon nie onbeperk aangaan nie.

Die dag het gekom dat die HERE hulle gedagtenis van die aarde af uitgeroei het.

 

Broers en susters, dieselfde vertroue mag ons vandag in die HERE stel.

Ook vandag is die aarde vol kwaaddoeners.

Hulle wat toelaat dat Satan beheer in hulle lewens oorneem, om dinge stukkend te maak.

En dan dink ons nie net aan hulle wat ons geld en goed wil afvat nie – daar is baie sulkes in hierdie land waarin ons woon.

Ons dink veral aan hulle wat ons diens aan die HERE van ons wil afvat, wat hulle pyle rig op God se Woord en die betroubaarheid daarvan.

Dawid se ergste vyand was nie die buitelandse Filistynse koning Agis nie.

Sy ergste vyande was hulle wat binne God se verbond afvallig begin raak het.

En in ons tyd is dit nog steeds dieselfde.

Die Satan gee vir Christus se kerk nie ‘n rustige tyd op aarde nie.

Die graagste probeer hy vasstrapplek binne Christus se kerk kry, om dit van binne uit stukkend te maak, soos hy dit destyds reggekry het deur die optrede van koning Saul.

Maar juis vir sulke omstandighede is Psalm 34 ook geskryf.

Ons kry hierin die versekering: Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, verslae van gees.

En ja, menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die almal red die HERE hulle.

Die woord regverdige is hier sinoniem aan ootmoedig, hulle wat buig onder God se gesag, hulle wat in die verbond alles van Hom verwag, hulle wat lojale bondgenote is.

Die HERE sal hulle nie in die steek laat nie!

Juis hulle wat verbrysel is, verslae van gees, juis by hulle sal die HERE wees.

 

Geliefde gemeente, in Psalm 34 verkondig Dawid nie ‘n voorspoedsteologie nie.

Die Bybel sê vir ons eerlik: menigvuldig is die teëspoede van die regverdige.

Moenie uitgaan van ‘n rustige vaart nie, maar soos die spreekwoord sê, wel van ‘n behoue aankoms.

As gelowiges ly ons ook onder die gevolge van die sonde op aarde.

Maar dit neem nie weg dat ons onder God se besondere beskerming staan nie.

Dawid stel dit baie sterk, vers 21: Hy bewaar al sy bene; nie een daarvan word gebreek nie.

Dit het Dawid in die Filistynse stad Gat ervaar.

Hy was daar in die hol van die leeu, die dood se asem het in sy nek geblaas.

Tog is hy daaruit gered.

Nie deur eie krag nie, hy was op daardie stadium tot niks in staat nie, hy was kranksinnig.

Maar God het hom daaruit gered.

God se besondere beskerming het hy daar gesmaak.

In die Johannesevangelie word Psalm 34 eksplisiet genoem, as daar vertel word hoe Christus van die kruis afgehaal is, en hoe die soldate sy liggaam toe hanteer het (Joh. 19:32-36).

Net soos Dawid, het Christus ook tereggekom in die hol van die leeu.

Die asem van die dood het in sy nek geblaas.

Nog erger as by Dawid.

Christus het die ewige dood gesterf.

Tog vra die evangelis veelbetekend ons aandag vir die feit dat die soldate nie die bene van sy dooie liggaam gebreek het nie.

Die evangelis sien dit as ‘n bewys dat God sy Seun tog nie in hierdie uur van duisternis in die steek gelaat het nie.

Mense mag dalk reageer: ag, wat ‘n skrale troos.

Of sy bene nou gebreek was of nie, Hy was in elk geval dood.

Hy moes in elk geval begrawe word!

Maar die ootmoediges, die wat tog op God vertrou, vir hulle was dit ‘n hoopgewende teken!

Vir hulle is daar in hierdie opmerking tog ‘n ryke troos.

Soos God vir Dawid uit die hol van die leeu gered het, daar waar hy alreeds opgesluit was in die stad van die Filistyne, so sal Hy nou ook doen.

Laat ons net opkyk en dit van Hom verwag.

Hy sal nie teleurstel nie.

So het dit ook geblyk, toe die hemelse Vader op die derde dag sy Seun weer uit die graf opgewek het.

Ja ook Hy het God se besondere beskerming gesmaak.

So het Dawid in hierdie psalm nie net getuig van sy eie onverwagte uitredding nie, maar hy het ook geprofeteer van die grootste uitredding van alle tye, toe sy nakomeling, die Messias, se bene bewaar is, soos geblyk het uit sy heerlike opstanding.

 

Psalm 34 eindig deur te getuig oor die uiteindelike afloop.

In die hede word sowel regverdige as goddelose deur die kwaad getref.

Dawid bely: Maar aan die einde van die dag gaan die goddelose ten onder aan hulle eie onheil.

Hulle boet vir hulle eie wandade.

Maar die wat by die Engel van die HERE skuil, hoef nie te boet nie.

In teenstelling tot die goddelose, word die regverdige aan die greep van die kwaad ontruk.

Wat ‘n pragtige belydenis!

Ook ‘n profetiese belydenis.

Dit profeteer naamlik oor die groot oordeelsdag, waarop ook ons nog wag.

Dit is wat die finale stand van sake gaan wees.

Ons hoef nie daarteen op te sien nie, want ons skuil by die Engel van die HERE.

Dus hoef ons nie te boet nie.

Hy, Christus, ons Heiland, het ons verlos, Hy het vir ons geboet.

 

Geliefde gemeente, vandag was ‘n psalm uit die Ou Testament ons teks.

Maar ons het daarin die Evangelie van die Nuwe Testament gevind.

Ons is daardeur gevoed vir ons lewe van vandag, ‘n lewe wat nie net rosegeur is nie.

Hierdie jaar, 2020, is nog maar halfpad, maar dit het al ‘n stewige porsie ellende gebring, nie net ver weg nie, maar ook in ons eie midde.

Maar ons is nie wanhopig nie.

Want die Engel van die HERE waak oor die wat Hom vrees, wat ootmoedig vir sy Woord bewe!

Hy waak oor sy kudde, oor sy kerk, hoe klein en onbelangrik hulle ook op aarde mag voorkom.

In sy oë is julle kosbaar, gemeente!

Hy waak oor julle, ook in daardie momente as julle weerloos is.

As julle siek is.

As julle raadop is.

As julle voel dat julle julle verstand gaan verloor, soos by Dawid.

Ja daar is situasies in hierdie lewe wat ons nie op eie krag kan bolwerk nie.

Maar die Engel van die HERE waak oor julle.

Moenie dit ooit vergeet nie.

Hy waak oor jou as jy met die Coronavirus in kontak kom.

Hy waak oor jou as jy self gevel word deur Covid-19.

Nog meer, Hy waak oor jou as die Satan jou lewe, jou siel, probeer inpalm met een van sy slim planne.

Juis dan trek die Engel van die HERE sy laer rondom jou.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 34:1

Wet

Ps 34:2-3

Skriflesing: Psalm 34

Ps 34:7

Teks: Psalm 34

Preek

Ps 34:4-6

Gebed

Kollekte

Ps 34:8-9

Seën