Die sesde gebod bring gelowiges tot ‘n loflied op die God wat lewe gee!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-08-02
Teks: 
Deuteronomium 19:1-13
Verwysing: 
HK 40-2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die lewe is ‘n gawe van God; Hy géé aan ons die lewe met ‘n baie spesifieke doel, naamlik om Hom daarmee te loof, om sy Naam groot te maak. Dit beteken dus, dat ‘die lewe’ in sigself nie die hoogste doel is nie. Ons ontvang die lewe, ons kan dit ook weer verloor, en soms moet ons dit selfs opoffer. En daarom moet ons baie versigtig wees met uitdrukkings soos ‘eerbied vir die lewe’ soos wat dikwels in verband met die sesde gebod gebruik word, en verseker as ons nog daaraan toevoeg: ‘absolute eerbied vir die lewe’. So ‘n absolute eerbied kom in élk geval nie die plante en die diere toe nie, omdat die Here plante en diere immers as deel van ons spyskaart gegee het; ons mag daarvan eet. Maar ook die menslike lewe het geen absolute waarde in homself nie. Eerbied vir die lewe wek naamlik die indruk asof die lewe een of ander heilige saak is, wat dit nie is nie!

Eerbied vir die lewe is daarom ook nie waaroor dit in die sesde gebod gaan nie. Waaroor dit wel gaan, is eerbied vir Gód en vir sy gebod. Wanneer Hy, as die God van die lewe, respek vir die lewe vra, dan mag ons nie sommer ‘n lewe beëindig of op watter manier ook al seermaak nie. Maar aan die ander kant: wanneer Hy die diere tot ons voedsel gee, dan mág ons op ‘n verantwoordelike wyse diere doodmaak. En wanneer Hy aan die owerheid die swaard toevertrou, dan ontvang die owerheid daarmee die reg om, in spesifieke gevalle, die lewe te beëindig van hulle wat verkeerd handel. Ons moet die gawe van die lewe dus altyd in verband sien met die Gewer daarvan, en met sy doel daarmee.

Tema: die sesde gebod bring gelowiges tot ‘n loflied op die God wat lewe gee!

 

Gemeente, om vir sy volk te wys dat daar nie so iets is soos absolute eerbied vir die lewe nie, maak die Here in Deuteronomium 19 (en ander plekke) ‘n duidelike onderskeid tussen moord as ‘n beplande, koelbloedige daad, én – aan die ander kant – doodslag sonder opset, ‘per ongeluk’. Iemand wat in Israel skuldig was aan moord met voorbedagte rade was, sonder uitsondering, onderhewig aan die doodstraf. Moord is deurgaans beskou as ‘n halsmisdaad, en was nie verskoonbaar nie. Maar wanneer die doodslag nie met opset was nie, kon die dader genade vind in die heiligdom – die tabernakel – deur fisies aan die altaar vas te klou as ‘n plek van veiligheid en beskerming. Hier kon niemand die dader enige kwaad aandoen nie. Hy was veilig by die Here!

Hierdie praktyk het goed gewerk gedurende die reis deur die woestyn, aangesien die volk gedurende daardie tyd relatief naby aan die tabernakel was, en dus maklik daarheen kon vlug. Maar toe die volk in die land Kanaan elkeen sy eie stamgebied begin bewoon het, was hierdie reëling nie meer prakties nie; toe was die volk te wydverspreid, en veral sekere stamme was ver van die heiligdom af. Nou was daar behoefte aan meerdere van hierdie toevlugsoorde, meerdere van hierdie plekke van veiligheid. En daarom gee die Here vóór die intog in Kanaan alreeds die opdrag dat daar drie stede aan die oostekant van die Jordaan en drie stede aan die westekant van die Jordaan afgesonder moes word as sogenaamde vrystede. Ons lees in Josua 20:7 en 8 op watter stede die volk onder die leierskap van Josua besluit het (sien kaart). Dus, daar was ses stede waarheen iemand kon vlug wat sonder opset iemand doodgeslaan het, terwyl hy hom van gister en eergister nie vyandig was nie (Deut. 19:4).

 

Nou moet ons by hier instelling van God in gedagte hou, gemeente, dat daar in Israel geen polisie-mag was soos wat ons dit vandag ken nie; die polisie het nie gekom om jou te arresteer in geval van moord of doodslag nie. Nee, dít was die verantwoordelikheid van die familie-lid wat die naaste aan die slagoffer was – die sogenaamde losser. Dit was sy taak om die moord te ondersoek en te straf. Hierdie persoon word in Deuteronomium 19:6 die bloedwreker – die losser van bloed – genoem. Hy moes die bloed van die geliefde wreek. Maar – en kyk net hoe goed ken die Here sy volk – hierdie persoon se eie emosionele betrokkenheid en passie en woede oor die verlies van ‘n geliefde kon maklik sy oordeelsvermoë vertroebel – of in die woorde van Deuteronomium 19:6: sy hart kon verhit wees – sodat hy nie meer werklik in staat of bereid was om deeglik te ondersoek of dit moord met voorbedagte rade óf doodslag sonder opset was nie. En dan kon dit dalk gebeur dat die bloedwreker iemand sou doodmaak wat glad nie die doodstraf verdien het nie. Nou, om dit te voorkom, was daar vrystede nodig.

Daarheen kon die dader dan sonder versuim vlug, en daar sou hy teen die bloedwreker beskerm word totdat die oudstes van die stad die geleentheid gehad het om die saak deeglik te ondersoek. Indien uit die ondersoek sou blyk dat hy tog skuldig was aan moord, dan sou die dader steeds die doodstraf ontvang. Maar in geval van doodslag sonder opset sou die dader veilig in die vrystad kon bly woon. Met dié voorwaarde: hy moes in dáárdie stad bly! Ook al is hy vrygespreek van moord, hy was steeds skuldig aan manslag. Hy moes fisies binne in daardie stad bly totdat die hoëpriester van dié tyd te sterwe sou kom – in sommige gevalle het dit vinnig gebeur, in ander gevalle kon dit jare duur. In feite moes die dader sy vryheid vir ‘n onbepaalde tyd opgee om sy eie lewe te red.

 

Nou goed, gemeente, kom ons fokus ons aandag bietjie meer spesifiek op die vrystede. Wat was kenmerkend van hierdie stede?

Wel, in die eerste plek moes hierdie ses stede strategies gekies word. Niemand moes alte ver van so ‘n stad af wees nie; eintlik moes elkeen in Israel binne ongeveer ‘n dagreis so ‘n stad kon bereik (sien die kaart vir die omtrek van ‘n dagreis). Daarby gee die Here in Deuteronomium 19:3 die opdrag dat daar goeie paaie na hierdie stede moes lei. Bronne van buite die bybel leer vir ons dat hierdie paaie goed onderhou moes word; brue moes oor ravyne gebou word, sodat die vlugtende persoon nie nodig gehad het om eers in die ravyn af te klim en ander kant weer op te klim nie; hierdie paaie moes skynbaar ook elke lente, ná die reëns van die afgelope winter, herbou word sodat die paaie maklik begaanbaar was. By elke kruispad moes daar duidelike padtekens geplaas word, waarop met groot letters moes staan: TOEVLUG of SKUILPLEK. Dus, as iemand besig was om te vlug, dan was dit nie vir hom nodig om te stop om die padteken te lees nie.

‘n Tweede kenmerk was dat die poorte van hierdie vrystede nooit gesluit moes word nie. Indien iemand ver moes hardloop en dan nog by die poorte moes wag totdat dit oopgemaak word – byvoorbeeld in die middel van die nag – dan was daar altyd die kans dat die bloedwreker hom daar voor die poort kon doodmaak. Dus, die poorte moes altyd oopbly. In die derde plek moes hierdie vrystede deeglik toegerus wees met materiële voorraad – kos en huisvesting – om die vlugteling vir ‘n geruime tyd te kan huisves en onderhou. In die vierde plek leer Deuteronomium 19 en Numeri 35 vir ons dat as die dader nie na een van die vrystede gevlug het nie, dan was daar geen ander gewaarborgde plek van veiligheid nie. Hierdie ses stede – waarskynlik saam met die heiligdom – was die enigste vrywaring van die bloedwreker. En as die dader, nadat hy ingekom het, die stad weer sou verlaat, dan kon die stad niks doen om hom teen die bloedwreker te beskerm nie; dan was hy op sy eie. En dan nog ‘n vyfde en laaste kenmerk: hierdie vrystede was nie slegs vir die Israeliete nie, maar ook vir vreemdelinge wat onder hulle gewoon het (Jos. 20:9).

 

Dus, gemeente, wat God met hierdie vrystede wou bereik, was in die eerste plek om, op ‘n ordelike wyse, die wiele aan die rol te kry vir ‘n deeglike regsproses, ‘n eerlike verhoor. Ons regstelsel vandag ken nie verniet die beginsel dat iemand se onskuld veronderstel word totdat hy skuldig bewys word nie. Totdat alles deur die oudstes van die stad ondersoek is en daar in ‘n volle vergadering reggespreek is, het die dader die sekuriteit geniet van veronderstelde onskuld. So sien ons God se wysheid om te verseker dat daar geen onskuldige bloed in die land vergiet sou word nie.

Hy het dan juis sy volk bevry van ‘n Farao wat onskuldige bloed vergiet het deur onder andere pasgebore baba-seuntjies te laat doodmaak. Dít wou Hy nie in die midde van sy vrygekoopte volk sien nie; geen vergieting van onskuldige bloed in sy land en onder sy volk nie. En hierdie beginsel het uiteraard na twee kante toe gewerk – aan die een kant het dit beteken dat die bloed van die persoon wat sonder opset iemand anders doodgemaak het, nie vergiet mag word nie, want dan sou onskuldige bloed vergiet word (Deut. 19:10). Maar aan die ander kant het dit ook beteken dat die egte moordenaar sonder uitsondering met die dood gestraf moes word om sodoende die onskuldige bloed, wat hy vergiet het, uit Israel weg te doen (Deut. 19:13).

 

Ons kan dus sê dat die Here in die sesde gebod ruimte maak vir geregtigheid – die handhawing van die reg – teenoor die moordenaar. Maar Hy maak net so goed ruimte vir barmhartigheid teenoor die persoon wat sonder opset iemand anders se dood veroorsaak het. Geregtigheid en barmhartigheid – dit is so tipies van God se karakter; dit is so eie aan Hom om binne hierdie een gebod te nuanseer. God bewys Homself in die sesde gebod enersyds as die straffende God teenoor die moordenaar, maar Hy bewys Homself andersyds ook as ‘n veilige toevlugsoord vir die persoon wat sonder opset gehandel het. Hieruit kan ons belangrike beginsels aflei vir die regstelsel in vandag se wêreld, maar ook in die kerk.

 

 

Maar gemeente, behalwe vir die wetlike en etiese implikasies vir die samelewing en die kerk, is daar in die instelling van die vrystede ook vir elkeen van ons persoonlik diep geestelike implikasies. En ons moet hierdie geestelike implikasie nie miskyk nie. Want as ons dit wel sou miskyk, dan sou dit waarskynlik ‘n simptoom daarvan wees dat ons ons eie skuld aan die sesde gebod nog nie goed verstaan nie. Die Kategismus wys naamlik baie duidelik vir ons dat hierdie gebod nie slegs praat van doodmaak nie – want dan sou die meeste van ons onskuldig gewees het, dan sou die meeste van ons aan ‘n vrystad geen behoefte gehad het nie – en dan was dit ‘n interessante stukkie Ou Testamentiese geskiedenis, maar verder irrelevant vir ons. Maar die Kategismus wys vir ons dat God na die wortel van hierdie gebod wil deurstoot: afguns, haat, woede en wraaklus. Dit is alles vir Hom heimlike moord. Maar selfs dan is ons nog nie klaar nie, want terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Dit behels, volgens antwoord 107, dat ons teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik moet wees, alles wat hom kan benadeel sover moontlik moet probeer voorkom, en selfs aan ons vyande goed moet doen. Kan ons nou nog onskuldig pleit? Kan ons nou nog sê dat ons aan ‘n vrystad geen behoefte het nie?

Nee, broers en susters, daar is niemand onder ons wat kan sê: ek het geen skuld aan die sesde gebod nie; daar is niemand wat kan beweer: my hande is skoon van die bloed van ander nie. En dit is juis hier waar die dieper rykdom van die instelling van die vrystede vir ons na vore kom. Want vir elkeen van ons wat vuil voor God staan in ons oortreding van die sesde gebod, word die instelling van die vrystede evangelie. Jesus Christus het immers ons toevlug geword. Jesus Christus is ons vrystad! Die Nuwe Testament lê self die verbinding tussen die Persoon en werk van Christus én hierdie vrystede in Israel. Ons het daarvan gelees in Hebreërs 6:18: “sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê.” In hierdie gedeelte van Hebreërs 6 is die skrywer besig om die absolute sekerheid van ons sekuriteit in Christus te beklemtoon. En in hierdie vers gebruik hy spesifiek die beeld van die vrystede; hy beeld ons verlossing in Jesus Christus uit as ‘n vrystad waarheen ons kan vlug.

 

Want, gemeente, sonder die werk van Jesus Christus, ons goddelike vrystad, is ons verlore. Immers, die gevolg van die sonde is die dood; die dood volg onherroeplik op die sonde. Of as jy dit so wil stel: ons word deur die bloedwreker agtervolg. Ons lewe is in groot gevaar! En daarom het God Jesus Christus aangestel. En as voortvlugtende sondaars mag ons in geloof na Hom toe gaan om gered te word. Meer nog, Jesus nóói ons selfs: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee (Mt. 11:28). En dus is dit opmerklik om die ooreenkomste te sien tussen die vrystede in Israel en die werk van Jesus Christus in ons lewens.

 

Die eerste ooreenkoms lê in die toegangklikheid van die vrystede. Onthou, hierdie vrystede moes toeganklik wees – in terme van geografiese ligging, in terme van goeie paaie en in terme van padtekens. Só is Jesus Christus ook vir ons. Ons kan enige tyd, enige plek na Hom toe kom. Vir elkeen wat sy sonde en nood erken, vir elkeen wie se hart gebroke is oor hoe hy sy naaste seergemaak en dalk met woorde of gedagtes doodgemaak het, is Jesus volledig toeganklik. Die geloof is die anker van ons siel waarmee ons kan ingaan tot binnekant die voorhangsel (Heb. 6:19). Dít is ‘n sekerheid wat ons mag hê, en dit is die boodskap wat ons mag uitdra: daar is ‘n plek van veiligheid in ‘n verskriklike en wrede wêreld. Laat ons na ons hemelse vrystad vlug en daar skuiling vind!

Die tweede ooreenkoms sluit nou hierby aan: die poorte van die vrystede moes nooit gesluit word nie. Dieselfde geld vir ons wanneer ons na Jesus Christus toe vlug. Ons hoef nie bekommerd te wees dat ons by Jesus Christus een of ander vreemde kombinasie van religieuse slotte en sleutels gaan vind, asof ons slegs op ‘n geheime en misterieuse manier in ‘n verhouding met Christus kan kom nie. By Jesus hoef ons nie ‘n lang rye te staan om ‘n toegangskaartjie te reël nie. Nee, die deure staan altyd wyd oop. Selfs as jy in die middel van die nag by Hom opdaag, hoef jy nie met jou vuiste op die deure te slaan om Jesus wakker te maak nie. Hy staan oop vir jou! Gaan na hom toe met al jou skuld teen die sesde gebod, wat die Kategismus tereg en duidelik aan ons uitspel.

Die derde ooreenkoms: die vrystede moes die hulpbronne van kos en huisvesting gereed hê vir die geval dat die vlugteling lank daar sou bly. Só is Jesus Christus ons toevlug wat volledig selfonderhoudend is. Sy dood bied genoegsame beskerming teen die veroordeling van al ons sondes, en daarby voorsien Hy ook op ‘n deurlopende basis in al ons geestelike behoeftes. “In Hom – sê Paulus in Efesiërs 1:7 en 8 – het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand.” By Jesus Christus ontvang ons genade op genade.

Die vierde ooreenkoms: die enigste plek waar jy beskerming van die bloedwreker geniet het, was in die vrystad. Jy kon hoe berouvol wees, as jy jouself buite die vrystad begeef het, was jy op jou eie. En dieselfde geld met Jesus Christus: as ons nie vlug na die toevlug wat God in Jesus Christus aan ons voorsien het nie, dan is daar vir ons geen geestelike asiel nie. Geen verlossing los van Hom nie. As jy die evangelie hoor, maar vervolgens sê: “Ek het dit nie nodig nie, ek sal ‘n ander manier vind”, dan is jy op jou eie. Dan is jy afgesonder van God en sy volk. Dan is jy voëlvry, en weet verseker: die bloedwreker sal jou kry. En vir al jou sondes – ook teen die sesde gebod – sal jy moet betaal.

En die vyfde ooreenkoms: net soos die vrystede oop was vir enige iemand, Jood en vreemdeling, net so is Jesus se aanbod van persoonlike verlossing universeel: “… daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom. 10:12 en 13).

 

Gemeente, uiteraard is daar ook verskille tussen die vrystede in Israel én die werk van Jesus Christus. Hierdie vrystede was immers slegs ‘n afskaduwing van iets groters en beters. Maar die boodskap is relevant en heerlik: ek mag skuiling vind by Jesus Christus. By Hom is ek veilig teen die bloedwreker wat my agtervolg. En hoe het ek dit nie nodig nie! Want, soos ek reeds gesê het, die sesde gebod gaan nie net oor moord nie. Nee, Jesus self leer vir ons in die Bergrede, dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. Nou, ek ken my eie hart: ek weet dat ek dikwels my naaste met gedagtes, woorde of gebare onteer, haat en beledig. Ek ken die afguns, die haat, die woede, die wraaklus, wat daar in my hart aanwesig is – vir die Here is dit heimlike moord. Ek ken my eie gebrek aan geduld, vredeliewendheid, sagmoedigheid en vriendelikheid. Ek weet dat ek nie altyd my naaste liefhet soos myself nie. En probeer ek altyd dít wat my naaste kan benadeel, sover moontlik voorkom? Verseker nie! Doen ek altyd aan my vyande goed? Skuldig! Ek verdien die dood!

Maar die Here het onskuldige bloed vergiet, die bloed van sy eie Seun, sodat daar vir my ‘n plek van veiligheid is – ‘n vrystad! Die Here Jesus self wys vir ons op die skerpte en diepte van die sesde gebod – sodat niemand onskuldig is nie! – maar dan kom bied Hy vervolgens in Homself óók die uitkoms. By Jesus Christus is ek veilig van die dood – die dood wat ander mý wil aandoen, maar ook van die dood wat van nature in my heers en wat tot uiting kom in my houding teenoor ander. Ek is vry van die dood, want ek is veilig in my vrystad, Jesus Christus. Dit is waarheen ek telkens weer vlug om daar te skuil. En mag die Here gee dat ons mekaar in daardie vrystad sal raakloop: “Is jy ook hier? Ja, ek moes vlug, want ek het afguns, haat en woede in my hart. Jy ook? Ja, ek sukkel maar om geduldig, vredeliewend en sagmoedig op te tree.” En dan mag ons eerlik vir mekaar sê: “Dankie tog dat ons mekaar hier raakloop, en nie op enige ander plek nie, want ons is nie seker wat ons mekaar sou aangedoen het nie.” Dit is die wonder van die geloof in Jesus Christus – mense wat van nature ander wil seermaak en kwaad aandoen, ontmoet mekaar in hulle vrystad. Daar kan hulle hul sonde teenoor mekaar bely; en daar word hulle vriende, broers en susters, wat liefhet en omgee. En in Christus leer ons dit ook doen aan die ongelowiges daarbuite. Kom ons dank die God van die lewe dat Hy kinders van die dood gered het sodat hulle nou lief kan hê, kan sorg en kan omgee. En dit alles in Christus.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God onse Vader en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Amen.

Sing Ps. 8:2-4

Gebed

Lees:    Deuteronomium 19:1-13

            Josua 20

            Hebreërs 6:17-20

Teks: HK, Sondag 40

Sing Belydenis van Geloof

Preek

Amenlied Ps. 142:1-3

Gebed

Slotsang Ps. 142:4-6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.