Die Skrif openbaar aan ons die waarheid en historisiteit van skepping en sondeval

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-07-19
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 14
Preek Inhoud: 

NGB art. 14 behandel twee dinge wat in die Skrif onlosmaaklik verbonde is, naamlik skepping en sondeval.

Die artikel begin deur te skryf in watter toestand die mens geskep is.

Hy is volgens God se beeld, dit wil sê goed, regeverdig, heilig geskape, sodat sy wil met God se wil ooreen kon stem.

Maar dan volg die sondeval.

Deur die sonde word die mens van God, wat sy ware lewe was, losgeskeur.

Die voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, het hy verloor.

Slegs klein oorblyfsels – genoegsaam om hom alle verontskuldiging te ontneem.

Hy het duisternis geword (Joh 1:5).

Die mens is nou ‘n slaaf van die sonde, sy vrye wil het gekneg geword.

Tensy die hemelse Vader hom trek, kan hy niks goed doen nie (Joh 6:44).

Dit is God wat ons gewillig en bekwaam moet maak (Fil 2:13).

“Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5).

 

Dit is dus twee basiese kernwaarhede waarmee die Skrif begin.

Een: Aan die begin was alles goed.

Daar was geen sonde en daar was geen dood nie.

Twee: Die sondeval het die mens en die aarde, wat onder sy gesag geplaas is, stukkend gemaak, onderwerp aan verderf en dood.

Dit is dus die lewens- en wêreldbeskouing waarmee die Skrif begin.

 

In vanaand se preek skenk ons hieraan aandag: skepping en sondeval.

Hierdie Bybelse temas is in art. 14 saamgevat.

Ons gaan vanaand kyk na die verband tussen hierdie twee tema’s; na hoe relevant hulle nog vandag is; en hoe belangrik dit bly om vas te hou aan die leer van die skepping en sondeval.

 

Tema: Die Skrif openbaar aan ons die waarheid en historisiteit van skepping en sondeval

 

Dit is nie moeilik om te verstaan dat hierdie visie oor skepping en sondeval haaks staan op die heersende wêreldbeeld vandag rondom ons nie.

Dan dink ek veral aan die ewolusionisme.

Ons ervaar ook dat die druk groot is dat Christene moet aanpas by hierdie heersende denkbeelde.

Dit is wat op skole, in handboeke, op universiteite as die enigste waarheid opgedis word.

Met die gevolg dat daar ook Christene is wat hard probeer om hierdie ewolusionistiese wêreldbeskouing met die Bybel te probeer versoen.

Daar is baie voorbeelde daarvan in die vorige eeu.

En dit duur nog steeds voort.

Onlangs is byvoorbeeld ‘n nuwe boek uitgegee in Nederland, getiteld Oer, wat die ewolusionisme verdedig met ‘n Christelike sousie daaroor.

Die boek is geskryf deur mense wat hulleself Christene noem, wat onder andere lid van ons susterkerke is.

Die boek word soos volg op internet aangeprys:

 

Die boek Oer begin met ‘n fassinerende hervertelling van die skeppingsverhaal.

Die boek laat sien dat die aanvaar van die ewolusieteorie op ‘n natuurlike manier gekombineer kan word met die geloof in die skepping deur God en die opstanding van Jesus.

Dit neem die leser saam deur ‘n tyd en ruimte wat nouliks te bevat is, en maak ‘n teorie wat 14 miljard jaar omspan, insigtelik en leesbaar.

Tot sover die aanhaling vanaf internet.

 

Hierdie boek word selfs in ons susterkerke en by hulle predikante-opleiding in Kampen aangeprys.

In die boek vervul God slegs die rol dat Hy die sogenaamde oerknal aan die gang gesit het.

Daarna het die klein eiertjie, wat ontplof het, self verder ontwikkel volgens die natuurwette, sonder God se bemoeienis.

God het Homself eers weer met die proses bemoei toe na miljoene der miljoene jare ‘n aapagtige wese ontwikkel het wat genoeg breins gehad het dat God met hom kon praat.

In lyn met hedendaagse wetenskaplike aannames was die eerste mensepaar nie in die paradys nie, maar skynbaar hier in Afrika.

Dit was ook nie so dat daar in hierdie aapagtige man se tuin ‘n boom van die lewe en ‘n boom van kennis van goed en kwaad gestaan het nie.

Nee, maar daar was skynbaar twee fonteinte, twee bronne, en die aapagtige man en sy dorp het toe gekies om uit die slegte bron water te drink.

Dit was onder invloed, nie van die satan wat hom soos ‘n slang vermom het volgens die Bybel nie, maar skynbaar onder invloed van ‘n ou man, wat heel toepaslik vir hier in Afrika die naam Madala (Mdala) gehad het.

Deur sy toedoen het God se kommunikasie met hierdie aapagtige man in Afrika dus op niks uitgeloop nie.

Dood en verderf het op aarde bly voortduur.

En so fantaseer hierdie boek verder.

Ja, want dit is wat hierdie boek Oer is, net soos alle ander handboeke oor die ewolusieteorie, is dit fantasie, wat op verkeerde wetenskaplike en historiese aannames berus.

Een so voorbeeld is dat dit aanneem dat daar ‘n oervis bestaan het, wat pootjies uit sy vinne ontwikkel het, en wat toe op land kon begin loop – die begin van landdiere.

Hierdie was ‘n gewilde opvatting onder ewolusioniste in die vorige eeu, totdat blyk dat hierdie skynbaar prehistoriese vis nog steeds bestaan, dat dit gewoon ‘n diepseevis is wat nog steeds voorkom.

Hierdie is maar een voorbeeld.

Om saam te vat: die boek Oer is een aaneenrygsel van fantasie op fantasie.

 

Maar mense, en ongelukkig ook Christene, val soos bossies daarvoor.

Want dit is die in-ding.

En mense wil mos graag in wees.

Hulle wil mos saamtel in die wêreld.

Dit vind tans op groot skaal in ons susterkerke in Nederland plaas.

Dit is ontstellend om waar te neem hoe ‘n gees van dwaling daardie kerke in sy mag gekry het.

En laat ons self nie oorgerus wees nie.

Hierdie invloede probeer ook onder ons houvas te kry.

Deur die eeue het Christene al ingegee, gekapituleer, vir die tydsgees.

In die vroeë kerk was daar hulle wat die Bybel aan die gnostiek wou aanpas.

Dink aan iemand soos Marcion.

God sy dank is die kerk deur daardie periode heen bewaar.

Vandag rig die tydsgees ook sy aanslae teen die Bybel.

Mag ons tog tel onder hulle wat trou aan die Bybel gebly het.

 

Want hierdie wêreldbeeld is onversoenbaar met hoe die Bybel begin.

Dit gooi die geskiedenis van ‘n sewe dae skepping in die asblik.

En dis nog maar die minste.

Dit wil ook nie weet van ‘n aktief betrokke, ja ‘n voorsienige God, wat spreek en dit was nie.

God is net nuttig om die gate op te vul.

Die gate in ons denksisteem, daardie dinge wat ons skynbaar nog nie kan verklaar nie.

Soos om die ‘big bang’ te ‘kick start’.

Ook gooi hierdie wêreldbeeld die geskiedenis van die sondeval in die asblik.

Die Bybel leer ons dat Adam en Eva, as die eerste twee mense, in opstand gekom het.

Deur hulle sondeval het daar dood en verderf in die wêreld gekom.

Die ewolusionistiese wêreldbeeld ontken egter dat Adam en Eva die eerste mense was.

Voor hulle was daar derduisende mense wat uit ape ontwikkel het.

Die ewolusionistiese wêreldbeeld ontken ook dat deur Adam en Eva se sondeval die dood sy opwagting op aarde gemaak het.

Voor Adam en Eva moes daar al derduisende mense, derduisende aapagtiges, gesterf het.

Die boek Oer beweer selfs dat die Skepper die proses van dood en verderf deur al daardie miljoene jare juis nodig gehad het.

Wel, laat ons eerlik wees, dis natuurlik die grootste onsin.

Die Skepper het niks nodig nie.

Dit is die mees wesenlike boodskap wat uit die skeppingsgeskiedenis tot ons kom.

 

Die hele boodskap van die Bybel met betrekking tot nie net die skepping nie, maar ook die sondeval val dus in duie.

Hierdie wêreldbeeld, soos beskryf in die boek Oer, gaan verder daarvan uit dat die (aapagtige) mense al vir die son en maan aanbid het, voordat die ware God en Skepper na hulle toegekom het.

Die ware godsdiens was dus nie eerste nie, maar afgodery het eerste bestaan.

 

Ook die heilsgeskiedenis val in duie.

Ook dit wat die Bybel ons leer oor die tweede Adam, Jesus Christus, wat na die aarde gekom het om te herstel wat die eerste Adam verniel het.

Dit alles maak nie meer sin in die ewolusionistiese wêreldbeeld nie.

Vir meer as ‘n eeu probeer sommige Christene al ewolusionisme en die Bybel versoen.

Steeds het duidelik geword dat dit nie moontlik is nie.

Wie daarmee begin, eindig sonder ‘n betroubare Bybel, ja eindig sonder ‘n geloof, wat ‘n vaste wete en vertroue is.

 

Ek het die preek begin deur te noem dat NGB art. 14 twee dinge behandel wat in die Skrif onlosmaaklik verbonde is, naamlik skepping en sondeval.

Hierdie artikel gee ‘n samevatting van die Skriftuurlike leer.

En dit is wat vanaand aan die orde is.

Wat leer die Skrif ons oor skepping en sondeval?

Wat is die wêreldbeeld wat die Skrif aan ons voorhou?

In hierdie opsig is die paar verse wat ons uit Hebreërs 1 gelees het, baie relevant.

“U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Hebr. 1:10-12)

 

Die skrywer van Hebreërs haal hierdie woorde uit Psalm 102 aan.

In hierdie psalm bely die digter God se ewigheid, teenoor die aarde se tydelikheid:

“In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.

Hulle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Ps. 102:26-28).

God se ewigheid is ‘n troos vir die digter, wat ervaar hoe swak en sterflik hy is.

God se ewigheid is ‘n troos vir Sion, vir hulle wat op Hom vertrou.

 

Nou in Hebreërs 1 haal die skrywer Psalm 102 aan om ook op Christus se ewigheid te wys.

Die skrywer oortuig die Hebreërs, die Jode, om Jesus as die Messias te erken.

Hy doen dit deur te wys hoe die Psalms oor Hom praat.

Eerstens noem hy Psalm 45, oor Christus se ewige heerskappy.

Christus se troon staan vas tot in ewigheid.

Sy septer is ‘n regverdige septer (vers 8).

 

Daarna haal hy ook aan uit Psalm 102.

Nou hierdie woorde uit Psalm 102, en uit verse 8-10 van Hebreërs 1, herinner ons nie aan ewolusionisme, oftewel die ontwikkeling van primitiewe organismes na hoër, meer intelligente en ingewikkelde organismes nie.

Hierdie woorde uit die Skrif dui nie op progressie nie.

Hierdie woorde wys op die omgekeerde!

Daar is geensins sprake van ontwikkeling, van progressie nie.

Dinge gaan stadig maar seker bergafwaarts.

Dinge word al hoe slegter.

Dinge word nie beter met verloop van tyd, al is dit miljoene jare, soos die ewolusioniste beweer nie.

Inteendeel.

Alles op aarde, ja selfs die heelal self, is soos ‘n kledingstuk wat verslyt.

Wat hier in Hebreërs staan, is nie in stryd nie met wat daar in Genesis 1 gesê word, dat God alles goed gemaak het, ja selfs baie goed (Gen. 1:31).

God het inderdaad alles goed geskape, bedoel om ‘n ewigheid te hou.

Maar die sondeval het daartussen gekom.

En so beskryf Hebreërs 1 dus die situasie van die aarde, inklusief die mens, van ná die sondeval.

Alles het aan die verganklikheid onderworpe geraak.

Daar word die vergelyking gebruik dat die aarde en hemele soos ‘n kleed is wat verslyt, namate die tyd vorder.

Hoe goed mens ‘n kledingstuk ook oppas, dit sal verslyt.

Selfs al trek jy dit nooit aan nie, en hang dit net in die kas, nog steeds gaan dit slyt.

Of dit nou deur motte is wat dit begin vreet, of stof wat daarop vergaar, of die swaartekrag wat veroorsaak dat dit uitrek, of net die kleur wat met verloop van tyd dowwer word.

Elke kledingstuk verslyt met verloop van tyd.

Hierdie beeld word op die aarde toegepas.

Daar is sprake van ‘n gestadige agteruitgang.

Geen ewolusie nie, maar eerder degenerasie.

Mens kan dink aan wat in die natuurwetenskap die wet van entropie genoem word.

Engergie gaan verlore.

In ‘n sak braaihout skuil byvoorbeeld baie potensiële energie, potensiële warmte.

Mens steek die hout aan die brand, en dit verskaf lig en warmte.

Maar nie vir ewig nie.

As die energie in die hout op is, doof die vuur uit en daar bly net as oor.

Nou hierdie beginsel is net so waar vir die aarde in sy geheel.

Die Skrif openbaar ook die oorsaak daarvan.

Dit lê in die mense se opstand en sondeval.

Daardeur het die hele aarde onderworpe geraak aan die verganklikheid.

Die aarde het saam met die mens, sy heerser en onderkoning, sterflik geraak.

Stadig maar seker gaan dinge agteruit.

Lank gelede, in Noag se dae, kon die mense nog oud word, sommer eeue oud.

Deesdae is die mens se lewensverwagting veel minder.

Die mensdom se gene word stelselmatig swakker.

Genetiese ondersoek het uitgewys dat met elke nuwe generasie die aantal genetiese afwykings toeneem.

 

Sien u hoe die Bybelse wêreldbeeld haaks staan op die ewolusionistiese wêreldbeeld?

Geen ontwikkeling, geen vooruitgang nie, maar agteruitgang.

Ons praat nou oor natuurlike prosesse.

Maar dieselfde kan gesê word oor die mens se moraliteit.

Ook daar sien ons geen vooruitgang nie.

Soos wat die eeue aanstap, word die mens nie minder gewelddadig, nie meer vredeliewend nie.

Oorloë word nie minder op aarde nie.

Daar is nie iets op aarde wat ons hoop gee op ‘n beter toekoms nie.

Daarvoor moet ons boontoe kyk.

Die Hebreërskrywer rig ons aandag op Christus, en op sy heerskappy.

In Psalm 102 word die verganklikheid van die aarde gekontrasteer met die ewigheid van Hom wat dit geskape het.

Dit verslyt soos ‘n kleed.

Hy kan dit soos ‘n kledingstuk oprol en wegbêre.

Die Hebreërskrywer plaas teenoor die verganklikheid van die aardse werklikheid, Christus se heerskappy.

Dit is die nuwe orde, wat blywend is (vers 8).

Dit is ons hoop vir die toekoms.

Dit is dus die konteks in Hebreërs 1, gemeente.

Die skrywer kontrasteer die tydelikheid van die gevalle skepping met die ewigheid van Christus se heerskappy.

 

In Christus is daar ‘n toekoms ook vir die aarde.

Maar dan moet ons boontoe kyk.

Wie sy blik rig op aardse dinge, op die wetenskap, op dit wat die wetenskap oor ewolusionêre ontwikkeling beweer, hy is hopeloos wat die toekoms betref.

En wat die verlede betref, verkoop hy sy siel aan fantasie, aan kunstig verdigte fabels (2 Petr. 1:16).

Niks op hierdie aarde is besig om ewolusionêr te ontwikkel van ‘n laer orde na ‘n hoër orde nie.

Dit is ‘n waandenkbeeld.

Ons stam nie van ape af nie.

Ons deel ook nie dieselfde voorouer met die ape nie.

Die skedels wat in die Sterkfontein grotte opgegrawe word, waarmee Wits universiteit wêreldwyd probeer aandag trek, dit is ‘n wetenskaplike ‘scam’, in Afrikaans, ‘n bedrogspul.

Dis die skedels van al die ape en bobbejane wat deur die eeue in daardie grotte gewoon het, selfs lank voordat mense hulle opwagting gemaak het hier aan die suidpunt van Afrika.

Die eerste mense kom nie uit Afrika nie.

Die ‘cradle of mankind’ lê nie in Afrika nie, maar in die paradys, wat nie in Afrika geleë was nie.

Dis eintlik tragies dat hierdie storie so opgeblaas is, dat die mensdom in Suid-Afrika sou ontstaan het, dat wetenskaplikes vandag totaal blind geword het vir wat ons wel uit die geskiedenis weet oor Suid-Afrika.

Soos byvoorbeeld dat die eerste bewoners van Suid-Afrika, die sogenaamde KhoiSan, die Hottentotte en Boesmans soos hulle vroeër bekend gestaan het, dat in hulle mondelinge oorlewerings melding gemaak word van die feit dat hulle ook met skepe in Suid-Afrika aangekom het.

Dit was baie lank voor Jan van Riebeeck met sy skip aangekom het.

Daar is ondersoek gedoen, dit was al in die 1800’s, en dit lyk of die taal van die KhoiSan – ‘n taal wat uitgesterf het – dat hulle taal verwant was aan die tale van mense wat gewoon het aan die kuste van die Indiese Oseaan, aan die baai van Bengale.

Dis waar deesdae lande geleë is soos Sri Lanka, Indië, Bangladesh, Myanmar, Thailand en so meer.

Eeue voordat die Europeërs op die idee gekom het om langs die kus van Afrika af te vaar, het daardie volke al langs die ooskus van Afrika met hulle bote afgesak.

En van hulle mense het dus aan die suidpunt van Afrika vasgehaak en daar gebly.

Dis wat die geskiedenis ons leer.

Maar die ewolusionistiese propaganda veroorsaak dat mense na niks anders meer wil luister nie.

Die ewolusionistiese wêreldbeeld is so oorheersend deesdae, dit verdra nie alternatiewe nie.

Maar gelukkig is ons vrygemaak deur Christus.

Vry van alle verslawende denkbeelde van hierdie wêreld.

Ons mag oopkop na die verlede kyk.

Ons mag oopkop na die natuur om ons heen kyk.

Daar is nog so baie mooi dinge om ontdek te word.

Terselfdertyd besef ons dat die huidige wêreldorde nie blywend is nie.

Dat alles besig is om soos ‘n kledingstuk te verslyt.

Tog is ons nie doemdenkers nie.

Ons weet dat daar ‘n herskepping oppad is.

Die apostel Petrus skryf dat die aarde aan vuur oorgegee sal word teen die dag van die oordeel (2 Petr. 3:7).

Hierdie vers uit die Bybel het my altyd somber gemaak, beseffende wat die krag van vuur is om iets te vernietig.

Maar ek het hierdie beeld werklik begin verstaan, enkele jare gelede toe ek sien wat vuur aan die fynbos in die Kaap doen.

Nadat die versengende vlamme deur die fynbos getrek het, bly daar inderdaad net ‘n swart veld agter.

Maar dit duur nie lank nie, of alles begin weer uitloop.

Selfs plante en bolle wat vir jare dormant was, kry nou kans om op te kom en die pragtigste blomme te maak.

So ja, hierdie vuur gaan nie alles vernietig nie.

Net dit wat sondig was.

Deur die vuur heen gaan Christus hierdie aarde herskep, nog mooier as wat dit ooit was.

Ons sien daarna uit.

Ons staan reeds onder sy heerskappy.

Sy koningskap staan vas!

Ons weet dat sy planne nie sal misluk nie!

Ons hou vas aan sy Woord, aan alles wat daarin staan.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 46:1

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 1:1-14 & 2 Petrus 3

Ps 45:1,4,5,6,16

Teks: N.a.v. Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 14

Preek

Ps 102:9-12

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 46:3,6

Seën