Die eedswering op die periferie bring ons ten diepste by die hart van die geloof!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-07-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 37
Verwysing: 
HK 37-3
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Met Sondag 37 staan ons gelyktydig aan die periferie én in die sentrum van die Christelike lewe. Ons staan aan die een kant aan die periferie, die buiterand, van die Christelike lewe. Want kom ons wees eerlik, die eed is nou nie regtig ‘n etiese kwessie waaroor daar in ons tyd intens gedebateer word deur die kerkraad of by die jeugvereniging nie. Ek wil selfs beweer dat as ons vandag ‘n nuwe Kategismus sou moes skryf, die eed hoogswaarskynlik nie ‘n plekkie daarin sou gevind het nie. In die sestiende-eeu, toe die Kategismus geskryf is – ja, toe was die eed baie meer relevant, sowel deur gebruik as deur misbruik. Gevolglik moes die reformatore hulleself aan die een kant verantwoord teenoor die wederdopers (wat van die eed niks wou weet nie, omdat hulle gemeen het dat hulle dit nie nodig het nie – ons vind spore hiervan terug in v/a 101), en aan die ander kant moes hulle hulself verantwoord teen die Roomse kerk (wat toegelaat het dat mense sommer by enige heilige ‘n eed kon sweer – ons vind dit terug in v/a 102). Maar óns, ag, wanneer kry ons regtig te make met die eed? Daar is miskien ‘n mediese student onder ons wat die eed van Hipokrates moes aflê; miskien is daar ‘n enkeling onder ons wat al in die hof moes getuig en daarvoor die eed moes aflê dat hy/sy in alles die waarheid sal praat; miskien enkeles wat ‘n eed van geheimhouding moes aflê met betrekking tot hulle beroep. Maar dit is dan ook ongeveer dit. Sondag 37, hoewel nie irrelevant nie, staan nogtans op die buiterand van ons Christelike lewens.

 

En tog, aan die ander kant, staan ons met die eed op ‘n besondere manier ook in die sentrum van die Christelike lewe. Want in die saak van die eed het ons ten diepste te make met die hart! Óns harte, waartoe slegs God toegang het, omdat Hy die enigste Kenner van ons harte is (volgens v/a 102) – en dit nie slegs wanneer ons ‘n eed aflê nie, maar by elke woord wat ons spreek, elke belofte wat ons maak, elke gesprek wat ons voer, elke gebed wat ons uitspreek. God ken my hart, elke keer wanneer ek my mond oopmaak! Maar behalwe óns harte, het ons in die saak van die eed ook met Gód se hart te make – God se hart, waarin ons genadiglik mag inkyk wanneer Hy aan ons die waarheid (waarmee ons so sukkel) openbaar in sy Seun, Jesus Christus. In die eed kom op ‘n sekere manier ons harte en God se hart bymekaar. Dit is waarop dit ten diepste in Sondag 37 neerkom. En daarom het ek die tema vir die preek soos volg geformuleer:

Tema: die eedswering op die periferie bring ons ten diepste by die hart van die geloof!

 

Kom ons lees saam uit Mattheus 5:33-37 – want buiten Mattheus 23, wat ons reeds saam gelees het, is dit die enigste ander gedeelte in die evangelies waarin die Here Jesus uitdruklik oor die eedswering praat [lees]. Net ‘n paar woorde oor hierdie gedeelte. Wat was naamlik die praktyk onder die Jode (en daar is bewyse hiervoor in die geskrifte van die Rabbyne van daardie tyd)? Om aan die erns van die eed te ontkom, het die Jode dikwels nie by die Naam van die Here gesweer nie – hulle het eerder by die hemel gesweer, of by die aarde, of by Jerusalem, of by hulle eie hoof. Dit was dan skynbaar minder heilig, en daarom ook minder bindend. Maar dan sê Jesus in Mattheus 5: “Nee, mens, jy staan oral en altyd voor die aangesig van die heilige God! Jy mag dalk by die hemel sweer omdat jy dink dat dit minder heilig is as die Naam van God, maar weet jy, die hemel is die troon van God. Jy mag dalk by die aarde sweer, maar die aarde is die voetbank van God se voete; jy mag dalk by Jerusalem sweer, maar Jerusalem is die stad van die groot Koning; jy mag dalk by jou eie hoof sweer, maar ook jou hoof is nie jou werk nie – selfs jou haarkleur (swart of wit) is nie jou eie keuse nie, dit is God wat dit bepaal.

Die Here is oral – laat daarom jou ja ja wees en jou nee nee! ‘n Uiters relevante beginsel vir gelowiges – ook vir ons! Geloof in God dwing ons om elke woord wat ons spreek so swaar te weeg asof dit ‘n eed voor sy aangesig is. Al ons woorde vind uiteindelik plaas in die teenwoordigheid en voor die aangesig van God – dink daaraan wanneer jy weer gaan praat; dink daaraan wanneer jy weer gaan belowe; dink daaraan wanneer jy weer gaan vertel! En as dít die geval is, dan word die eed vir die Christen in feite oorbodig, en gebruik ons dit slegs wanneer ander dit van ons vereis (die owerheid of die noodsaak, volgens v/a 101).

 

Maar, gemeente, Mattheus 5 is nie vandag my hooffokus nie – ek het dit gelees (en kortliks toegelig) omdat ek wil hê dat ons dit langs Mattheus 23 moet neersit. En as ons dit doen dan kom ons af op nog ‘n dieper werklikheid.

Wanneer ons hierdie twee hoofstukke langs mekaar neersit, dan lyk dit op die oog af asof dit oor dieselfde saak gaan; miskien ander voorbeelde, maar in feite spreek Jesus dieselfde Joodse gebruik aan. “Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde... Elkeen wat sweer by die altaar – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde” (verse 16 en 18). Dit klink baie soos Mattheus 5, nie waar nie? Die probleem is egter dat ons in hierdie geval geen bewyse vanuit die Rabbynse geskrifte van daardie tyd het dat Jesus hier na bestaande praktyke van die Jode verwys nie (dit het ons wel vir Mattheus 5). As dit inderdaad Jesus se bedoeling was om bestaande praktyke onder die Jode te weerspieël, dan sou sy woorde nie ‘n getroue weergawe wees van dít wat onder die Jode die gewoonte was nie. Geen skrifgeleerde of Fariseër sou, wat Jesus hier beweer, verdedig het nie; meer nog: die stellings wat Jesus in verse 16 en 18 maak, sou vir hulle dwase stellings gewees het – asof jy wel mag sweer by die goud van die tempel, maar ‘n eed by die tempel self nie so ernstig hoef te neem nie; asof jy wel mag sweer by die offergawe, maar ‘n eed by die altaar nie so ernstig hoef te neem nie. Belaglik! Jy moet darem maar blind wees om dít te wil beweer. En tóg sê Jesus vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: dit is presies wat julle doen! Julle het blinde leiers geword wat presies hierdie dwase dinge verkondig. Hoekom? Wat bedoel Jesus hier presies?

 

Gemeente, baie dikwels wanneer Jesus in die evangelies kritiek gee op mense of groepe, dan het sy kritiek ten diepste te make met hulle houding teenoor Hom, teenoor sy Persoon! Dit is ook hier in hoofstuk 23 die geval – ons moet Jesus se herhaaldelike ‘wee julle’ (verse 13, 14, 15, 16, 23, 25, 27, 29) verstaan teen die agtergrond van die skrifgeleerdes en Fariseërs se ontkenning van Hom, die Messias wat deur God gestuur is. Dit is ook die rede hoekom ek die laaste verse van hoofstuk 22 saam met hoofstuk 23 gelees het, want daar sien ons dat die skrifgeleerdes en Fariseërs – daardie blinde leiers – Jesus nie as Heer wil erken nie! Ja, seun van Dawid, maar Heer? God? En die gevolge hiervan is verskriklik: want met hulle ontkenning van Jesus sluit hulle die koninkryk van die hemele, nie net vir hulleself nie, maar vir elkeen wat hulle volg (23:13); en met hulle ontkenning van Jesus lei hulle enige bekeerlinge wat hulle dalk kon gemaak het, uiteindelik hel toe (23:15), want hulle leer hulle bekeerlinge om in die God van Israel te glo, maar terselfdertyd teen Jesus te kies; hulle leer hulle bekeerlinge om in die Naam van Israel se God te sweer, maar intussen vyandig teenoor Jesus te staan. Dit, sê Jesus, kan nie wees nie, dit is nie moontlik nie...

Want wat gebeur as jy Jesus verwerp? Wel, baie eenvoudig: as jy Jesus verwerp, as jy Jesus Christus nie aanvaar nie, dan verloor jy daarmee saam ook die God van Israel. En wat jy uiteindelik oorhou, is net jou eie, selfgemaakte godsdienstigheid. En dit is nou presies wat Jesus met sy dwase uitsprake in verse 16 en 18 probeer aantoon. Kyk na vers 16: “Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.” Sien u, die tempel is onbelangrik, maar die goud wat jy in jou godsdienstigheid na die tempel toe bring, dit word alles. Dieselfde sien ons in vers 18: “Elkeen wat sweer by die altaar – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.” Weereens: die altaar is onbelangrik, maar die gawe wat jy bo-op die altaar neersit, word alles. Hierdie blinde leiers en hulle volgelinge het blind geword vir dít wat die belangrikste is: God se tempel, God se altaar, God self... omdat hulle Jesus Christus verwerp het! En dit terwyl Jesus Christus die ware tempel is, waardeur alles geheilig word; dit terwyl Hy die ware altaar is, waardeur versoening bewerk word. Hy is die hart van die erediens! Maar omdat hulle Hom verwerp het, is al wat die skrifgeleerdes en die Fariseërs oorgehou het, hulle eie godsdienstige bydraes: hulle goud en hulle offergawes. Dis altyd so! As jy Jesus Christus verwerp, dan hou jy net jou eie godsdienstigheid oor, terwyl jy die hart van die evangelie verloor het. As jy Jesus Christus verwerp, dan bly net jou eie bydrae oor.

 

En as ons dit nou toepas op hierdie spesifieke konteks van verse 16-22, waarin Jesus praat oor die eedswering (en onthou wat ek in die inleiding gesê het: wanneer Jesus hier oor die eedswering praat, dan gaan dit ten diepste oor al ons woorde), dan beteken dit: as jy Jesus Christus verwerp – of in die woorde van verse 16 en 18: as jy die tempel minag as onbelangrik, of as jy die altaar verwerp as niks nie – wat het jy dan nog werklik om vir God aan te bied? Dan bly uiteindelik net dít oor wat jy self aandra: jou goud en jou gawes – jou sondige eed, jou gebrekkige woorde, jou leë beloftes. En hoe dwaas is dit om hierdie gawes vir God te wil aanbied, sonder Hom wat hierdie gawes heilig maak. Hoe dwaas is dit om jou goud vir God aan te bied, en daarby te sê dat die tempel nie saakmaak nie: “want wat is meer (sê Jesus in vers 17): die goud of die tempel wat die goud heilig?” Hoe dwaas is dit om jou offergawe vir God aan te bied, en intussen neerhalend te praat oor die altaar waarop die offergawe lê: “want wat is meer (sê Jesus in vers 19): die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?” (vers 19) Hoe dwaas is dit om jou eed, jou beloftes, jou woorde, jou gebede voor die aangesig van die Here uit te spreek, maar Jesus Christus staan nie sentraal in jou lewe nie: Want wat is meer: jou woorde, of die Woord wat vlees geword (Joh. 1:14)? Ja, wat is meer: jou waarheid, of is dit dalk Hy wat self die Weg, die Waarheid, en die lewe is (Joh. 14:6)?

En natuurlik sê Jesus nie dat die goud en die gawes onbelangrik is nie; Hy sê nie dat die Jode dit nie vir God moet aanbied nie. Maar Hy wys wel hier dat alles deur Hom moet gaan. Die weg na die hemel en na die troon van God, loop via die Seun. Hy heilig dit alles. Hy is die tempel wat die goud heilig, Hy is die altaar wat die offergawes heilig. Hy is die Waarheid wat die waarheidsgehalte van al my beloftes en ede bepaal; Hy is die Woord wat al my woorde heilig. Daarom moet ons by Hom begin – nie by ons eie bydrae nie. Nie my goud nie, maar die tempel is bepalend; nie my offergawe nie, maar die altaar is bepalend; nie my waarheid nie, maar Christus is bepalend; nie my woorde nie, maar Christus is bepalend.  En daarom sê Jesus in verse 20 en 21: “Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is; en wie sweer by die tempel sweer dáárby en by Hom wat daarin woon.”

 

Hoe eenders Mattheus 5 en Mattheus 23 ook al mag lyk, wanneer ons hulle langs mekaar neersit en goed ondersoek, dan sien ons dat Mattheus 23 uiteindelik oor Jesus Christus gaan! Dit is slegs deur Jesus Christus, broers en susters, dat die waarheid weer betekenis kry in ons midde, dat woorde weer betekenis kry, dat beloftes wees betekenis kry, dat ons gebede weer betekenis kry. Los van Hom kan ons baie praat en baie ede sweer en baie bid en baie beloftes maak ... en ons kan praat tot ons blou is, maar dit sal altyd leuen en valsheid wees; dit sal altyd deurspek wees van ons eie belange. Maar deur Jesus Christus word ons woorde en ons beloftes – en indien dit nodig is ook ons ede – geheilig.

Dink hieraan, jongmense, wanneer julle aan die einde van hierdie jaar julle ‘ja’ gaan uitspreek in die openbare geloofsbelydenis. Moet dit nie onbesonne doen nie, moet dit nie net doen omdat die hele groep dit doen nie, of omdat dit nou eenmaal die ouderdom is waarop ‘n mens dit doen nie. As dít jou motivering is, dan gaan jou ja-woord ‘n frustrasie en ‘n teleurstelling wees. Doen dit, omdat jy Jesus Christus van harte liefhet, en in Hom die vertroue het dat jou ‘ja’ deur Hom geheilig is; Hy is dan ook die waarborg dat jy in daardie ‘ja’ sal kan volhard tot die laaste dag toe.

Dink ook hieraan, broeder en suster, wanneer julle gaan trou of wanneer julle al getroud is. Dit is nie genoeg dat julle ‘ja’ gedra word deur julle verliefdheid en julle ideale en drome vir die toekoms nie. Julle ‘ja’ beteken op sigself niks nie – sonder Jesus Christus is dit die ja-woord van twee sondige leuenaars, wat van nature maar alte graag van hulle ‘ja’ ‘n ‘nee’ sal maak. Wanneer julle ‘ja’ gaan sê of al gesê het, maak dan seker dat dit in Christus is – Hy heilig julle ‘ja’, Hy heilig júlle vir mekaar, sodat julle trou kan bly aan julle belofte. In Hom kan julle nie slegs met mekaar volhard nie, maar kan julle ook werklik liefhê en geniet.

Dink hieraan, broeder en suster, wanneer julle antwoord op die doopvrae – om te belowe om jou kind groot te maak in die vrese van die Here is op sigself nie so moeilik nie. Die praktyk van die opvoeding is egter ‘n heel ander storie. So maklik word die opvoeding pragmaties – wat werk, wat werk vir my, wat werk nou. So maklik is ons opvoeding ‘n verantwoordelikheid waarin ons mik op ‘n goeie opleiding, ‘n blink toekoms vir ons kinders. Maar slegs in Christus word julle belofte (daardie ‘ja’) op die doopvrae geheilig, sodat julle die vrees van die Here sal soek, en dat julle jul kinders in die diens aan die Here sal voorgaan – kom wat wil, ook wanneer dit moeite kos, ook wanneer dit julle nie pas nie, ook wanneer dit pynlik is.

Dink hieraan, broeders, wanneer julle die amp aanvaar en belowe om julle amp getrou te beoefen. Baie maklik kan ‘n ampsdraer die vermaning, wat hy eintlik moes uitgespreek het, stilhou omdat hy konflik wil vermy; baie gou kan jy ‘n huisbesoek, wat jy eintlik moet bring, maar uitstel en uitstel. Laat jou ‘ja’ vir hierdie swaar taak daarom ‘n ‘ja’ in Christus wees – geheilig in Hom! Sodat jy by ‘n huisbesoek kan sê wat gesê moet, sodat jy die vrae kan stel wat gestel moet word, sodat jy kan vermaan met liefde wanneer dit moet gebeur, sodat jy kan opbeur wanneer mense moedeloos is, sodat jy daardie huisbesoek kan gaan bring wanneer dit nie geleë is nie. Laat die woorde wat jy spreek in jou amptelike werk, woorde wees wat in Christus geheilig is en daarom tot heil van die broeder en suster sal strek.

En dink ook hieraan, alle broeders en susters, in ons omgang met mekaar hier in die gemeente. Hier in die gemeente praat ons met mekaar; in besonder in hierdie tyd is ons uitgehonger om met mekaar te praat. Bedink mooi: woorde maak saak. Sonder Jesus Christus in die sentrum van ons lewens, word daardie woorde baie maklik leeg en sonder betekenis. Sonder Jesus Christus word die waarheid relatief, en raak dit vir ons al hoe makliker om die waarheid net so effens te buig of te verdraai. Maar in Christus kry ons die krag om in alles die waarheid te praat, ook al maak dit seer, ook al maak dit ons onpopulêr. In Christus kry ons ook die wysheid om die waarheid te spreek in liefde.

 

Sondag 37 van die Kategismus, daardie saak op die periferie van ons Christelike lewens, dwing ons egter na die sentrum, na die hart. Na ons eie harte – leuenagtig en bedrieglik soos wat hulle van nature maar is. Beloftes word gemaak en gebreek; woorde word onnadenkend gespreek; grappies word messe waarmee ons mee-gelowiges beseer; ja’s word uitgespreek terwyl nee’s bedoel word. Laat ons maar eerlik bevestig wat Jakobus in sy brief skryf: As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man (Jak. 3:2). En wie wil beweer dat hy so ‘n volmaakte persoon is? Met skaamte en pyn in ons harte moet ons erken dat elke woord wat ons spreek van nature wind is.

Maar hierdie Sondag bring ons gelukkig ook by die hart van God – by Jesus Christus, die Woord, die Waarheid. By Hom en deur Hom kry woorde weer betekenis, en kan ons gebroke beloftes weer regmaak, en kan ons weer opreg word in wat ons sê. Begin daarom by Hom – die tempel, die altaar. En dan word jou goud en jou offergawe – jou beloftes, jou woorde, jou gebede – geheilig. Jongmense, dink daaroor na wanneer julle ‘ja’ gaan sê. Egpare, kyk mekaar weer in die oë en bevestig die belofte wat julle teenoor mekaar gemaak het. Ouers, kyk weer na julle kinders, en neem julle opnuut voor om hulle voor te gaan op die ewige weg. Ampsdraers, jy het belowe om ‘n goeie herder te wees; wees dit dan ook in Christus se Naam. Broers en susters, spreek wys, praat mooi, wees eerlik, belowe opreg. Want ons het ‘n tempel van God gekry; Hy het ‘n altaar aan ons geskenk – deur die geloof word al ons woorde geheilig... in die Naam van Jesus Christus. Beroep jou op daardie Naam.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 115:8 en 9

Gebed

Lees:    Mattheus 22:41-23:22

Sing Ps. 24:2 en 3

Teks: HK, Sondag 37

Preek

Antwoordlied Ps. 139:1 en 2

Gebed

Geloofsbelydenis

Slotsang Ps. 139:10 en 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen