Die HERE se Naam is heerlik, en Hy verdien alle eer!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-06-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 36
Verwysing: 
HK 36-2
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie – so lui die derde gebod. Nou, die woord wat met ‘ydellik’ vertaal is, beteken eintlik ‘nietig’ of ‘ligtelik’. Letterlik staan daar dus eintlik: jy mag die Naam van die HERE jou God nie ligtelik optel / oplig nie. ‘n Mens sou dit kon vergelyk met een van daardie mooi gekleurde ballonne waarop woorde geskrywe staan – jy blaas daardie ballon op, en wanneer jy dit opgeblaas het, staan daarop geskrywe: HERE, Jahwe! En jy hou dit in die lug, maar wanneer mense daarop afkom, dan bars hy – leeg, weg. Maar die Here waarsku ons baie ernstig in die derde gebod (om die waarheid te sê, Hy dreig selfs: “want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik nie ongestraf laat bly nie”), dat ons nie ligtelik met sy Naam mag omgaan nie, dat ons nie ligtelik met Homself mag omgaan nie. Want die Here is nie ‘n liggewig nie!

Nou, die teenoorgestelde van ‘lig’ is ‘swaar’. En ook hiervoor het die Ou Testament ‘n woord (‘n baie belangrike woord, een wat u maar gerus kan memoriseer): kabod. Kabod dui letterlik op iets wat swaar is. Dink aan Absalom wat eenkeer per jaar sy hoof laat skeer het omdat sy hare so swaar geword het – daar word selfs vir ons vertel hoeveel sy hare geweeg het (2 Sam. 14:26). Dink ook aan Moses, wie se hande – wat hy in die lug moes hou terwyl die Israeliete teen die Amalekiete geveg het – te swaar geword het (Ex. 17:12). Ook sonde kan vir ons ‘n swaar las word, soos wat ons lees in Psalm 38:5: “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.” Of ‘n taak of amp kan swaar op iemand druk – Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy sal heeltemal uitgeput raak ... want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie” (Ex. 18:18).

Maar behalwe hierdie meer letterlike betekenis, is daar ook die afgeleide betekenis – iets wat swaar is, het gewig en is dus gewigtig! Of anders gesê: so iets of so iemand is indrukwekkend, en verdien respek, en ontvang eer. Die sprekendste voorbeeld hiervan, vind ons waarskynlik in die vyfde gebod: eer jou vader en jou moeder, en dan staan daar letterlik kabod – gee aan jou pa en jou ma (en almal wat oor jou gestel is) die gewig (die respek en die eer) wat hulle toekom. En dit is in hierdie betekenis dat daar ook van die Here gepraat word. Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ligtelik optel nie, want die HERE is geen liggewig nie – Hy is ‘n swaargewig! Hy is kabod (gewigtig, indrukwekkend) en Hy verdien daarom kabod (eer en heerlikheid)! Die Here sê self in 1 Samuel 2:30: Dié wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” Of letterlik: dié wat aan My die gewig toeken wat My toekom, aan hom sal Ek gewig gee; maar dié wat ligtelik met My omgaan, sal self as ‘n liggewig gereken word. En dit is presies waaroor die derde gebod gaan: ons mag nie ligtelik met die Here se Naam – met Homself! (onthou: Naam en Persoon is in die Bybel dieselfde!) – omgaan nie. Hy het gewig, en daarom verdien Hy ons eer. Pragtig vind ons dit in Psalm 29. Eers in vers 1: “Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die Here eer (kabod) en sterkte; vers 2: “Gee aan die Here die eer (kabod) van sy Naam.” En dan vers 9: “Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid (kabod)!” Die HERE se Naam is heerlikheid, en Hy verdien alle eer! Dit is ten diepste waaroor dit in die derde gebod gaan:

Die HERE se Naam is heerlikheid, en Hy verdien alle eer!

------------

Nou wil ek vra dat u saam met my sal blaai na Romeine 9.

Romeine 9-11 is ‘n magtige uiteensetting van Paulus oor die posisie van die volk Israel, en hoe ons as gelowiges deel het aan daardie Israel. En dan lees ons daar in vers 4: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes.” Dit gaan vir my oor daardie woordjie ‘heerlikheid’ (wat in Grieks weergegee word met: doxa). Dit is die Ou Testamentiese kabod – dus, saam met kabod (Hebreeus) moet u nog ‘n woordjie onthou, en dit is doxa (Grieks). Nou, wat bedoel Paulus presies wanneer hy sê dat aan Israel hierdie heerlikheid behoort het? Wel, om dit te verstaan, moet ons teruggaan na die Ou Testament. So werk dit amper altyd in die Skrif: om die Nuwe Testament te verstaan, moet ons teruggaan na die Ou Testament.

Nou, in Exodus 3 – die geskiedenis van die brandende doringstruik – maak die Here Homself aan Moses bekend: Jahwe. En met daardie Naam gaan Moses oppad na Egipte. Die Here verbind Homself met daardie Naam aan Israel en red hulle vervolgens uit die slawehuis van Egipte. Wanneer hulle enkele maande daarna by die berg Sinaï kom, dan mag die volk daar die kabod – die heerlikheid! – van die Here sien. Ons lees daarvan in Exodus 24:17: “En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.” En daar op die berg belowe die Here aan Moses dat Hy met sy heerlikheid (kabod) by die volk wil woon. In die tabernakel wat Moses moet oprig – Exodus 29:43: “En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word.” Met sy heerlikheid, met sy indrukwekkende majesteit wil Jahwe by sy volk woon. Dis nie een of ander liggewig wat aanbied om by Israel te kom woon nie – dis Jahwe, die swaargewig, die heerlike, die God vol majesteit. Dit is wonderlike nuus vir Israel!

 

Maar terwyl Moses nog bo-op die berg is, en terwyl die Here nog presies vir hom wys hoe die tabernakel gemaak en ingerig moet word en hoe die diens aan Hom verrig moet word, sondig die volk met die goue kalf. Nog voordat die Here die tabernakel met sy heerlikheid kan vul, is die verbond al stukkend. En dan wil die Here ook nie meer saam met sy volk trek nie – Moses moet die volk maar lei, en die Here sal ‘n engel stuur om voor die volk uit te trek. Vervolgens sien ons Moses in aksie kom in die gedeelte wat ons saam gelees het in Exodus 33 en 34. Moses pleit vir die volk – hy wil so graag hê dat die genade wat die Here aan hom bewys, ook die volk te beurt sal val. Tot twee keer toe in Exodus 33:16 praat Moses van “ek én u volk” – Moses tree op in diens van die volk. Wanneer die Here Hom deur Moses laat vermurwe (vers 17: “ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen”), dan is Moses nog nie tevrede nie. Hy vra nog meer; hy soek ‘n bewys van God se teenwoordigheid: “Laat my tog u heerlikheid (kabod) sien” (vers 18). Want eers as die heerlikheid van die Here weer by sy volk is, eers as die Here blyk gee dat Hy weer by sy volk wil woon, eers dan is die verhouding weer herstel; eers dan maak dit sin om verder te trek na die Beloofde Land.

In vers 19 antwoord die Here: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep...” Dubbelpunt, en dan volg die Naam: “Ek sal genadig wees oor wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Dit is die Naam van die Here – genade en ontferming. En dan doen die Here vervolgens in Eksodus 34:5-7 presies wat Hy vir Moses belowe het; Hy openbaar Homself, nog voller as wat Hy in hoofstuk 33:19 gedoen het. Hy roep sy eie Naam uit: “HERE, HERE (Jahwe, Jahwe), barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.” Pragtig, nie waar nie – ons vind hier een van die hoogtepunte in die geskiedenis van God se selfopenbaring. “Israel, Ek sal met jou saamtrek, Ek sal in jou midde wees, en Ek doen dit in barmhartigheid en genade, in lankmoedigheid en goedertierenheid en in trou – want slegs op hierdie manier kan die reis deur die woestyn tot ‘n goeie einde kom. Jahwe (“Ek is”!) beteken van nou af “Ek is barmhartig, Ek is genadig, Ek is lankmoedig, Ek is goedertieren, Ek is trou”! Hierin lê die heerlikheid (die kabod) van die Here waarmee Hy by sy volk wil woon.  

 

Dit is hierdie heerlikheid wat vervolgens die tabernakel vul, en waarmee die boek Exodus afsluit in hoofstuk 40:34-35: “Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul...” En nou moet u saam met my die lyn volg... Want dieselfde gebeur later by die tempel in die tyd van Salomo – 1 Konings 8:11: “En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.” En Esegiël sien dieselfde in sy visioen van die nuwe tempel – Esegiël 43:1-5: “En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom... En die heerlikheid van die HERE het in die huis ingetrek deur die poort... en kyk, die heerlikheid van die HERE het die huis vervul.”

En dit alles kom tot ‘n hoogtepunt in Johannes 1:14: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.” In Jesus Christus kom die heerlikheid van God meer intiem onder sy volk woon as wat dit ooit tevore by hulle was. In sy lewe en werk op aarde het Jesus Christus die Vader verheerlik (aan Hom die gewig gegee wat Hom toekom); die werk wat die Vader Hom gegee het, het Hy volbring (Joh. 17:4). Die barmhartigheid en genade, die lankmoedigheid en goedertierenheid en trou, wat so eie is aan die Naam van God (soos wat Hy dit aan Moses op die berg geopenbaar het) – dít kom op sy mees volmaakte tot uiting in die Persoon en werk van Jesus Chrisus. En daarom dat Jesus die Vader kan bid: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Joh. 17:5). Die kabod van die Ou Testament (die heerlikheid van die Here in die Ou Testament), is die doxa (die heerlikheid) van Jesus Christus in die Nuwe Testament. Dit is die gewig, die grootheid, die eer wat die Naam van God toekom. En hierdie eer het Christus aan sy Vader bewys, en deur sy werk is dit die eer wat Christus self ook verdien. Daarom kan ons nie oor die Naam van die Here (oor die derde gebod) praat sonder die Naam van Jesus Christus nie. In sy Naam sien ons Wie die HERE werklik is: die Genadige, die Barmhartige, die Verlosser van sy volk. Daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). En Hy woon hier in ons midde – sy Naam is oor ons uitgeroep; meer nog: ons dra sy Naam, ons is Christene! En net hierna, in die tweede diens, sal daardie Naam ook uitgespreek word oor twee klein verbondskindertjies wanneer hulle gedoop sal word. Hier, onder ons, in ons midde (in die kerk) woon die heerlikheid (die kabod, die doxa, die gewig) van God! Ons moet diep hiervan deurdring word, ons moet baie goed hieroor nadink en dit besef!

 

En juis daarom, gemeente, staan die derde gebod reg in die middel van die kerk! Te maklik dink ons dat hierdie gebod in die eerste plek op die buitestaanders, die ongelowiges, die heidene van toepassing is. Want dis mos hulle wat God se Naam ydellik gebruik – op die televisie en in die openbaar; hulle is diegene wat kragwoorde van God se Naam maak; hulle is diegene wat OMG (Oh, my God!) as uitroepe gebruik en in advertensies gebruik. Met as gevolg dat die vraag by ons opkom hoe ons daarop behoort te reageer: moet ek die televisie afsit? Moet ek iets vir die persoon sê wat in my aanwesigheid die Naam van die Here misbruik? Nie onbelangrike vrae nie, maar hiermee is ons nog maar pas op die buiterand, op die periferie van hierdie gebod. Want die derde gebod het nie in die eerste plek met die buitestaanders te make nie; nee, dis hier in die kerk, dis onder die Christene, dat hierdie gebod werklik spannend begin raak. Want dit is hulle wat God se Naam ken ... of behoort te ken. Mense wat God se Naam nie ken nie, kan dit baie moeiliker ydellik gebruik as die Christen wat God se Naam nie net ken nie, maar self ook dra. Die derde gebod is daarom juis in die kerk so skerp en dringend, want hier woon God in sy heerlikheid!

Die oortreding van die derde gebod vind plaas aan die nagmaalstafel – jy vier saam die nagmaal, maar uit jou houding aan die tafel en uit jou daaglikse lewenswandel blyk dat jy glad nie ernstig daaroor is nie. Jy het nie werklik behoefte om Jesus Christus te ontvang of sy wederkoms te verwag nie. En tog neem jy maar deel, want anders gaan die mense praat, en anders moet jy in jou lewe gaan krap, en anders gaan mense vrae begin stel. Dít is wat dit beteken om Jesus se Naam op te hef, in die beker en die brood, maar dit beteken niks in jou lewe nie. Dis leeg – dis soos daardie ballon wat bars, en hy’s weg.

Die oortreding van die derde gebod vind plaas tydens die huisbesoek – wanneer die ouderlinge vir jou vrae stel oor jou persoonlike geloof, en jy allerhande vroom praatjies het oor die geloof, oor hoe moeilik dit soms kan wees, oor hoe jy jou bes doen, oor die genade van die Here, maar intussen is dit nie ‘n werklikheid in jou lewe nie. Dan lig jy die Naam van die Here op, maar daardie Naam is eintlik lug vir jou, nietigheid. Die ballon bars, en hy’s weg.

Die oortreding van die derde gebod is om baie woorde op jeugvereniging te praat, mooi woorde oor jou geloof en jou geloofservaring, maar daaragter skuil ‘n baie diep gat in jou lewe. Dan gebruik jy wel die Naam van die Here, maar eintlik beteken Hy nie so baie vir jou nie. Die oortreding van die derde gebod is om God se Naam te gebruik wanneer jy ‘n goeie jaar by die werk gehad het: “Sjoe, maar dit het goed gegaan, né?”, sê iemand dan vir jou. “Ja, ons is geseënd, maar natuurlik kom dit van bo-af, dis alles genade”, terwyl jy diep in jou hart dink dat jy darem maar goed gewerk het die afgelope jaar. Dan misbruik jy God se Naam om jou eie hoogmoed mee weg te steek. God en sy Naam word maar net die vroom sousie waarin jy dit verpak. Die oortreding van die derde gebod is om vir jou kind te sê: “Jy moet nou mooi vir mamma luister en nie meer stout wees nie – dit maak mamma hartseer, en die Here word ook hartseer.” En ja, dit maak die Here hartseer, maar op ‘n ander manier as wat jy dit bedoel. Dit maak die Here hartseer – en kwaad – wanneer sy Naam gebruik word as magsmiddel, as die stok agter die deur om die kind mee te slaan. Die oortreding van die derde gebod is om die Naam van die Here te gebruik om jou wil en jou idees mee te regverdig – “die Here het my gewys dat ek dit of dat moet doen”, of “die Here wil mos nie hê dat ek die res van my lewe in hierdie ongelukkige huwelik moet wees nie?”, of “die Here eis dat my vrou en kinders aan my gehoorsaam en onderdanig sal wees”, of “God wil seker nie hê dat ek teen my wil twee keer op ‘n Sondag kerktoe moet gaan nie”. Dan lig jy die Naam van die Here op, maar in feite beteken daardie Naam vir jou niks nie – dis leeg, dis nietig...

Broers en susters, alle moontlike praktyke wat ons verkoop in die Naam van die Here, of in die Naam van Jesus Christus, of in die Naam van ons Christen-wees; alle praktyke en optrede wat ons legitimeer as iets wat goed is voor God en vir ons geloof, terwyl die werklikheid van ons lewens nie daarmee ooreenstem nie, is oortreding van die derde gebod. Die Here haat dit om voor ons karretjie gespan te word; Hy het ‘n gruwel daaraan as ons die pragtige uitstraling van sy Naam misbruik vir ons eie doele, om ons daardeur groter en beter en sterker en gelowiger en vromer te laat lyk. Die Here verdra dit nie dat ons van Hom ‘n liggewig maak vir ons eie voordeel nie.

 

Ons moet daarom bekend wees met die geskiedenis van die Here se heerlikheid onder sy volk. Ons moet bekend wees met die lyn deur die heilsgeskiedenis: tabernakel, tempel, nuwe tempel... en uiteindelik Jesus Christus. En ons moet bekend wees met die Naam wat onder ons woon: “HERE, HERE (Jahwe, Jahwe), barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe...” – heerlik, pragtig, wat ‘n genade om in die teenwoordigheid van hierdie Naam te mag lewe. Maar moenie die ander deel van die Naam vergeet nie: “wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.”

Die Here se heerlikheid (sy kabod, sy doxa) onder ons is ‘n vuur, broers en susters! Sy Naam is ‘n vuur van redding waarby ons mag skuil, waarby ons veilig is. Maar sy Naam is ook ‘n verterende vuur – en ons ken die uitdrukking: moenie met vuur speel nie. Laat ons daarom met groot eerbied en respek met die Here omgaan hier in die gemeente; laat ons lewens daarvan getuig dat sy Naam nie net ‘n sousie is om ons lewens mooi te laat lyk nie, maar dat sy Naam die Naam is wat ons met vrees en eerbied dra. Ons huiwer om dit te doen – omdat ons iets van sy heerlikheid verstaan – en tog kan ons nie anders nie, omdat ons weet dat daar geen ander Naam onder die hemel is waardeur ons gered word nie. Kom ons gee aan daardie Naam die gewig wat dit toekom: “Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid (kabod)!”

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 19:1

Wetslesing

Sing Ps. 19:4 en 7

Gebed

Lees:    Eksodus 33:12-34:10

            Johannes 17:1-5

Sing Ps. 110:1 en 2

Teks: HK, Sondag 36

Preek

Antwoordlied Ps. 29:1 en 4

Gebed

Slotsang Ps. 145:1, 4 en 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen