God gee vir ons sy eie beelde

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-06-21
Teks: 
2 Korinthiërs 3:1-4:4
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die tweede gebod klink, op die gehoor af, baie soos die eerste gebod: “jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (eerste gebod), en “jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie” (tweede gebod). Waarin lê die onderskeid presies? Ek dink ons kan die onderskeid die beste verduidelik aan die hand van die optrede van twee konings in die geskiedenis van Israel, beide in die boek 1 Konings.

Koning Jerobeam – die eerste koning van die tienstamme-ryk – wil nie hê dat die volk na die tempel van die Here in Jerusalem (in die tweestamme-ryk) moet gaan nie. Dus, wat doen hy? Hy maak twee goue kalwers, waarvan hy een in Dan (ver in die noorde) plaas en die ander een in Bethel (heeltemal in die suide van die tienstamme-ryk). En van hierdie goue kalwers sê Jerobeam vir die volk: “Hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het” (1 Kon. 12:28). Dus, Jerobeam wil hê dat die volk die Here moet aanbid, maar hy bepaal self hoe en waar dit moet gebeur. Koning Agab, wat so 40 jaar ná Jerobeam aan bewind kom, gaan egter nog ‘n stap verder. Hy aanbid nie net Jerobeam se goue kalwers nie, hy stel selfs ‘n nuwe god aan die volk bekend – Baäl. Sodat ons in 1 Konings 16:3 lees: “En dit was nog die minste dat Agab in die sondes van Jerobeam gewandel het: hy het ... Baäl gaan dien en voor hom neergebuig.” Dus, Agab sondig teen die eerste gebod deur Baäl as god te dien; Jerobeam sondig teen die tweede gebod deur die Here te wil dien, maar op sy eie manier (d.m.v. die goue kalwers).

Hierin lê die onderskeid tussen die eerste en die tweede gebod. Nadat in die eerste gebod alle ander gode afgewys is, sodat net die Here alleen oorbly, word in die tweede gebod afgereken met elke verkeerde vorm waarin ‘n mens nou hierdie Here sou wou vereer. Want as jy jou rug op die afgode draai (die eerste gebod), dan moet jy vervolgens wel op die regte manier voor die God van Israel kniel (die tweede gebod). Die eerste gebod roep ons dus op om die ware God te vereer; die tweede gebod roep ons op om die ware God op die regte manier te vereer.

 

Nou, hierdie tweede gebod (jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie) het in die tyd van die Reformasie op baie plekke gelei tot sogenaamde beeldestorms – waarby mense, in hulle entoesiasme vir die herontdekte leer van die evangelie, met geweld alle beelde en afbeeldings verwoes en uit die kerkgeboue verwyder het. Tot vandag toe is die kontras tussen ou Protestantse en Rooms-Katolieke kerkgeboue in Europa opmerklik: Roomse kerkgeboue staan vol met beelde en ikone; Protestantse kerkgeboue is sober (amper kaal), met feitlik net die preekstoel in die sentrum, want (soos wat antwoord 98 ons leer) “God wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig.” Die gevolg is ook dat die gereformeerde tradisie sedert die Reformasie maar redelik sku is vir simboliek of enige vorm van religieuse kuns in die kerkgebou. [Ook in ons kerkgebou is die simboliek, hoewel treffend en goed deurdag, maar dun gesaai].

Maar, gemeente, die feit dat ons geen afbeeldings van God mag (en kan) maak nie, en dat ons geen beelde mag maak om Hom daardeur te vereer nie, asook die feit dat ons in ‘n tradisie staan waarin ‘kuns’ en ‘kerk’ nie dikwels en gemaklik in een asem genoem word nie, beteken nog nie dat ons ‘n beeldlose godsdiens het nie. Net soos wat Israel se godsdiens in die Ou Testament nie beeldloos was nie. Die tabernakel, die tempel, die ark, die koperslang, die tafel met die toonbrode, die altaar, die cherubs, die voorhangsel, die waskom – oral was daar beelde / uitbeeldings... deur die Here aan sy volk gegee! En dit is juis hierdie punt wat ek in vandag se preek oor die tweede gebod wil beklemtoon. Ons mag geen beelde van God maak nie, máár God gee wel vir ons sy eie beelde – mooier en kragtiger as wat ons ooit sou kon uitdink.

Tema: God gee vir ons sy eie beelde!

 

1. Gemeente, eintlik moet ons die tema nog beter formuleer. Want die Here gee nie sommer net enige beelde vir ons nie; nee, Hy gee vir ons heel eerste ‘n beeld van Homself! Hy, die onsienlike God, wys vir ons Wie Hy is! In die menswording van die Seun – in Jesus Christus! – ontvang ons die mees aangrypende beeld van God. Die Hebreërskrywer beskryf dit vir ons só dat die Seun ‘n afskynsel is van die heerlikheid van God en ‘n afdruksel van die wese van God. En in Kolossense 1:15 noem Paulus Jesus Christus die Beeld van die onsienlike God. En ook in 2 Korinthiërs 4:4 word gepraat van die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Jesus Christus, wat die beeld van God is.

Dus, in die Seun, in Jesus Christus, kan ons presies sien Wie God is. Die Seun is so ‘n perfekte beeld, so ‘n volmaakte weergawe van die Vader dat, wanneer Filippus in Johannes 14 vra: “Here, toon ons die Vader”, dan antwoord Jesus hom: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” Jesus Christus is die volmaakte beeld en glans van die Vader. In die aangesig van Jesus Christus kan ons die heerlikheid van God leer ken, soos wat Paulus ons leer in 2 Korinthiërs 4:6. En wanneer Paulus dit sê, dan lê daarin ‘n stille terugwysing na wat hy vroeër in hoofstuk 3 beskryf het – oor Moses, wie se gesig gestraal het toe hy van die berg af gekom het (3:7 en 13). Moses, ‘n gewone mens, se gesig was vol heerlikheid wanneer hy met God verkeer het, sodanig dat die kinders van Israel hom gesmeek het om sy gesig te bedek sodat hulle nie na hierdie heerlikheid hoef te kyk nie. Maar die gelowiges, in wie se harte God geskyn het met die evangelie (4:6), mag in die aangesig van Christus die heerlikheid van God sien – “’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14).

 

Broers en susters, in Jesus Christus het ons ‘n volmaakte beeld van God. Óns mag nie beelde van God maak nie – ons kan nie; ons hoef nie. Want God het vir ons ‘n beeld van Homself gegee – in Jesus Christus kan ons die Vader sien en ken; in Jesus Christus het ons toegang tot die Vader. Wanneer ons daarom die tweede gebod wil gehoorsaam, dan moet ons by Jesus Christus begin. As jy naby Jesus Christus leef, dan hou jy jouself naby die ware God; as jy naby Jesus Christus bly, dan bewaar jy jouself van verkeerde godsbeelde... en van die oortreding van die tweede gebod. En dan sal sommige moontlik sê: Maar maak dit nou vir ons konkreet? Wat beteken dit prakties vir my lewe? Ek kan dit verstaan. Maar kom ons wag vir ‘n oomblik met die reëls en die riglyne, die moets en die moenies, dít wat ons mag en dít wat ons nie mag doen nie.

Die tweede gebod gaan, voor enige iets anders, daaroor dat ons die aangesig van God soek dáár waarin Hy Homself bekend gemaak het – in die beeld van sy Seun. Die tweede gebod gaan, voor alles, daaroor dat ons die ware God in sy hart – d.w.s. in Jesus Christus! – leer ken. Want wie dít doen, word wys – immers, Christus ís die wysheid uit God, soos Paulus in 1 Korinthiërs 1:30 vir ons leer. Wie met God se beeld – sy portret! – in Christus vertroud raak, word dus wys – en wysheid beteken dat jy ‘n aanvoeling kry vir wat God bly maak; of in Bybelse taal: wat vir Hom welgevallig is. Wysheid beteken dat jy in die diens aan die Here kan begin onderskei waarop dit aankom (Fil. 1:9-10). Wysheid beteken dat jy begin aanvoel hoe Hy gedien wil word en hoe nie. Want die ware diens aan die Here gaan oor baie meer as die moets en die moenies, oor die navolg van sekere reëls – nee, dit gaan oor omgang, dit gaan oor gemeenskap, dit gaan oor saamwees, dit gaan oor wandel met jou God. En dit kan jy nie in ‘n stel reëls vasvang nie. Dit is mos hoe ‘n goeie huwelik ook werk: man en vrou kry ‘n aanvoeling vir mekaar, hulle leer deur die gereelde omgang wat die ander wil hê, wat die ander bly maak, wat die ander ongelukkig maak. Hierdie dinge is nie in ‘n voorhuwelikse kontrak vasgestel nie; dis nie ‘n stel reëls wat jy plegtig aan mekaar oorhandig die dag wanneer jy trou nie. Nee, dit leer jy slegs deur gereeld die ander in die oë te kyk. En God kyk jy in die oë deur jou op sy Seun, Jesus Christus, te rig! Soek daarom die beeld op wat God self vir ons gegee het, word vertroud met hierdie beeld, word lief vir hierdie beeld, en sien in Hom die heerlikheid van God.

Dit is dus die beeld wat God aan ons gegee het: sy Seun, Jesus Christus. Maar ons moet nog meer sê...

 

2. Want as jy mooi opgelet het, sou jy gesien het dat die goue draad regdeur 2 Korinthiërs 4 – waarin Paulus praat oor Jesus Christus as die beeld van God – die goue draad is die verkondiging van die evangelie. Reeds in vers 1 praat hy oor die bediening wat die apostels ontvang het; in vers 2 praat hy oor die woord van God, in vers 3 oor ‘ons’ evangelie. Vers 4 sluit hierby aan wanneer dit gaan oor die verligting van die evangelie. In vers 5 sê Paulus dat hy en die ander apostels Christus Jesus as Here verkondig. En die ‘kennis’ waarvan vers 6 praat, word slegs verkry deur die verkondiging van die evangelie. Dit is dus die goue draad: die evangelie en die verkondiging daarvan.

Veral vers 4 is belangrik: dit gaan hier oor die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” Hier vind ons dus ‘n direkte verbinding tussen Christus – die beeld van God – en die evangelie. En dit is ‘n uiters belangrike verbinding, broers en susters, een wat ons nooit mag verbreek nie. Want die beeld van God, soos wat ons dit vind in Jesus Christus, word aan ons voorgeskilder slegs in en deur die evangelie, deur die Woord, en deur die verkondiging van daardie Woord. Immers, wanneer ons die heerlikheid aanskou van die Eniggeborene wat van die Vader kom (soos wat Johannes daaroor praat in Johannes 1:14), dan gaan dit daar oor die Woord wat vlees geword het. Christus is die Woord! En Hy self getuig daarvan teenoor die Skrifgeleerdes en Fariseërs in Johannes 5:39: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Die Skrifte gaan oor Jesus Christus! En Hy bevestig dit weereens wanneer Hy ná sy opstanding – eers vir die Emmaus-gangers en daarna vir al die apostels – vanuit die wet van Moses, die profete en die psalms wys alles wat op Hom betrekking het en deur Hom vervul is (Luk. 24:27 en 44).

 

Dus, Jesus Christus is die beeld van die onsienlike God – in Hom leer ons God ken; in Hom leer ons hoe God gedien wil word. Maar daardie beeld vind ons slegs voorgeskilder in die Woord (en dan mag ons rustig toevoeg: asook in die hulpmiddele / die sakramente wat die Here aan die Woord toegevoeg het: die doop en die nagmaal). En daarom dat Sondag 35 ook soveel klem plaas op die Woord en die verkondiging daarvan. “Ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie” (antwoord 96), en “God wil sy Christene nie deur stom beelde nie maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig” (antwoord 98). En daarom dat ons hier in die gemeente – in navolging van ons belydenis – ook soveel klem lê op die Woord, en die prediking van die Woord, en die bestudering van die Bybel (persoonlik en gesamentlik). Nie omdat ons in die eerste plek daarin die reëls vind vir die diens aan God nie. Nie omdat ons daarin ‘n bloudruk vind vir hoe die erediens ingevul moet word, en of ons gesange mag sing of nie, en of ons beurtsang mag sing of nie, en watter instrumente ons mag gebruik, en of die preekleser sy hande mag ophef vir die seën of nie, en of ons ‘n beker of kelkies by die nagmaal mag gebruik nie. Nee! Ons lê soveel klem op die Woord en die verkondiging daarvan omdat ons daardeur verlig word – verlig met die heerlikheid van Christus, Hy wat die beeld van God is (2 Kor. 4:4). En ook vers 6: God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het (deur die evangelie!) om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus. As ons met die Bybel omgaan asof dit ‘n reëlboek is vir die diens aan God, asof dit ‘n bloudruk gee vir die Sondagse eredienste, dan sal daar by ons, net soos by die Jode, ‘n bedekking oor ons harte bly (2 Kor. 3:13-14). ‘n Bedekking wat sal maak dat ons die Woord nie reg en goed sal verstaan nie, ‘n bedekking wat sal maak dat ons in allerhande mensgemaakte reëltjies sal verval, ‘n bedekking wat sal meebring dat ons nooit by die hart van die evangelie sal uitkom nie. En dit is ‘n bedekking wat slegs in Christus vernietig word (2 Kor. 3:14)! Dít is die bekering tot die Here (waarvan 2 Kor. 3:16 praat) wat ons nodig het, ook wanneer dit gaan oor die tweede gebod. Dan word die bedekking weggeneem (vers 16), dan word ons deur die Gees van die Here vrygemaak (vers 17), sodat ons die heerlikheid van die Here mag aanskou (vers 18).

Gemeente, daarmee gooi ons nie die wette en die verordeninge van die Here oorboord nie. Die reëls is nie skielik onbelangrik nie. Maar om God reg te kan dien (in ons hele lewe, sowel as in die Sondagse eredienste), en om te verseker dat ons van God geen gesnede beeld maak en daarvoor neerbuig nie, moet ons begin by die Beeld van God, Jesus Christus, soos Hy vir ons voorgeskilder word in die Skrif. En dit vra van ons ‘n goeie hermeneutiek – ‘n groot woord, wat eenvoudig beteken dat ons sal weet hoe om die Skrif te lees. ‘n Goeie hermeneutiek keer dat die Skrif vir ons ‘n wetboek word, of ‘n ensiklopedie wat op al ons vrae antwoorde gee, of ‘n bloudruk vir die Sondagse eredienste. ‘n Goeie hermeneutiek leer ons om Christus te ontdek op elke bladsy van die Bybel, en in Hom die heerlikheid van die Here te ontmoet. ‘n Goeie hermeneutiek gee vir ons toegang tot die hart van die Vader. Want dit is slegs op hierdie manier dat óns verander word om God reg te kan dien. Dit bring ons by ons laaste gedagte: ons het dus eers gelet op Christus, die beeld van God; vervolgens op die Skrif waarin Christus vir ons voorgeskilder word. En nou let ons ten slotte op wat met ons gebeur.

 

3. Vers 18 van 2 Korinthiërs 3 wys op ‘n besondere manier vir ons wat met ons gebeur – of beter gesê: wat die Gees met ons doen – wanneer ons die heerlikheid van die Here aanskou. Wanneer ons in Christus – Hy wat die beeld van God is – wanneer ons in Hom die heerlikheid van die Here aanskou, dan word ons self ook van gedaante verander na dieselfde beeld (só sê Paulus in vers 18). Of soos wat ons lees in Romeine 8:29: “dié wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun...” Dus, wanneer ons in Christus glo, en in Hom die beeld van God sien, dan word ons self ook na daardie beeld vernuwe.

En dit vat ons terug, broers en susters, na daardie heel eerste beeld wat God van Homself gegee het, reg aan die begin by die skepping: “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die mens geskape na sy beeld...” (Gen. 1:26-27). Ja, die mens was die heel eerste beeld wat God van Homself aan hierdie wêreld gegee het – die kroon van die skepping! Ons bely daaroor in Sondag 3 van die Kategismus: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.” Dis hoe dit was; dit is hoe dit moes gewees het.

En toe kom die sondeval – ‘n tragiese gebeurtenis wat ons nie ons beeld laat verloor het nie, maar wat daardie beeld wel onherkenbaar stukkend gemaak het. Ná die sondeval kon niemand meer in die mens die beeld van God herken nie – daar was (om maar Sondag 3 se woorde te gebruik) geen geregtigheid en heiligheid meer oor nie; die mens kon God nie meer reg ken en van harte liefhê nie; hy kon (en wou!) God nie meer loof en prys nie. En omdat die eerste Adam dit nie meer kon of wou doen nie, daarom het God sy Seun, die laaste Adam, gestuur. Die Seun, die afskynsel van die heerlikheid van God en die afdruksel van sy wese (Heb. 1:3), het mens geword – juis sodat ons weer na die beeld van God herstel kan word, juis sodat ons weer met die nuwe mens beklee kan word wat vernuwe word tot kennis na die beeld van ons Skepper (Kol. 3:10). Christus is die volmaakte beeld van God, en wanneer ons in Hom glo, en wanneer ons in Hom die heerlikheid van die Here aanskou, dan word ons van gedaante verander na dieselfde beeld. Dan begin ons soos Christus lyk! En dis ‘n proses, treetjie vir treetjie. Of soos Paulus in 2 Korinthiërs 3:18 sê: “van heerlikheid tot heerlikheid”. Die volle beeld van God sal eers by die wederkoms herstel word, die volle heerlikheid kom nog, maar nou alreeds word die beeld van God in ons dag vir dag, tree vir tree vernuwe. Sodat óns, wat die heel eerste beeld van God was, ook weer ons oorspronklike taak kan vervul: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” Só leer ons God weer reg dien!

 

Gemeente, jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis van God maak nie. Wat beteken dit? Ek reken dat ons met die volgende drieslag by die hart van die tweede gebod uitkom: 1) in Christus sien ons tot in die hart van die Vader, Hy is die Beeld van die onsienlike God; 2) hierdie Christus kom na ons toe in die kleed van die Woord, die gepredikte Woord; en 3) deur die prediking word die beeld van God, waarna ons geskape is, weer in ons herstel.

Moet daarom nie jou eie beelde van God maak nie; moet Hom nie dien soos wat jy goed dink nie. Moenie wyser as God wil wees nie. Word stil voor die Here, voor sy Woord. Ontdek daarin die Christus wat deur sy Gees vir jou toegang gee tot die diepste diepte van God se hart, en leer so hoe Hy gedien wil word. En hierdie geheim geld vir die erediens op Sondae – wat is die manier waarop God die beste kan verheerlik? Met watter musiek? Met watter houding? Met watter volgorde van die liturgie? Maar hierdie geheim geld uiteindelik vir die hele lewe – hoe kan ek God in my hele lewe verheerlik? En bid dan die Here dat Hy jou sodanig vernuwe dat jy dit ook al hoe meer kan gaan doen. Dan mag jy seker wees: die Here bewys sy barmhartigheid aan duisende van dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 105:4 en 5

Gebed

Lees:   2 Korinthiërs 3:1-4:6

            Hebreërs 1:1-4

Sing Ps. 17:2 en 7

Teks: HK, Sondag 35

Preek

Antwoordlied Ps. 40:3 en 4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Slotsang Skr. 36:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen