Selfbeheersing is die vrug van die Gees wat jou immuniteit gee teen sonde in jouself en in die wêreld

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-06-07
Teks: 
Galasiers 5:22 (selfbeheersing)
Preek Inhoud: 

Preek: Galasiërs 5:22 (selfbeheersing)

 

Laaste maar nie die minste nie.

Dit geld ook vir die vrug van die Gees waarna ons in hierdie erediens kyk, die laaste in die lysie wat in ons teks genoem word.

Sonder hierdie vrug kan al die ander vrugte maklik bederf word.

Hierdie vrug laat my dink aan wat sommige mense in hulle groentetuin doen.

Hulle plant een plant naby ‘n ander, juis sodat die plante mekaar beskerm.

So kan ‘n plant wat sterk ruik, lavendel of roosmaryn byvoorbeeld, ander groentes beskerm teen ongediertes.

Op ‘n manier kan dit ook oor die vrug van selfbeheersing gesê word.

‘n Sterk ruikende plant wat nodig is solank daar nog ongediertes bestaan.

Ons lewe nie in ‘n volmaakte wêreld nie, en ons sal daarmee moet rekening hou.

 

Tema: Selfbeheersing is die vrug van die Gees wat jou immuniteit gee teen sonde in jouself en in die wêreld

 

Hierdie laaste in die lys van vrugte van die Gees wat Paulus in ons teks noem, het alles te make met die lys van die werke van die sondige vlees wat hy net voor ons teks genoem het:

Die werke van die vlees is owerspel, hoerery … ongebondenheid … twis, jaloersheid, toornigheid, naywer … moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge.

Hierdie dinge is alles optrede wat gekenmerk word deur die feit dat ‘n mens die kontrole oor homself verloor het.

Mense wat nie meer beheer oor hulleself het nie, verval in oormatige en eksessiewe gedrag, wat betref seksualiteit, wat betref eet of drink, wat betref emosies en so meer.

Daarenteen geld vir hulle in wie die Heilige Gees woon, dat hulle lewens steeds meer gekenmerk word deur selfbeheersing.

 

Nou hierdie vrug van die Gees is die enigste vrug waar die Bybel nie vir ons God self as voorbeeld stel nie.

In die afgelope preke het ons telkens begin deur te kyk hoe ‘n bepaalde vrug volmaak tot uiting kom in God se karakter – God die Vader en God die Seun.

Dink aan vrugte soos liefde, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid.

Maar selfbeheersing vind ons nie in die Skrif as onderdeel van God se karakter nie.

Dit het natuurlik daarmee te make dat God in Homself sonder sonde is, en dat daar in sy karakter dus geen spanning is, geen noodsaak tot die beoefening in selfbeheersing nie.

“God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.” – 1 Johannes 1:5.

 

Vir ons in ons aardse bestaan is hierdie vrug egter wel van onmisbare belang.

En as jou liggaam ‘n tempel van die Gees geword het, dit wil sê, as jy aan Christus behoort, dan sal jy begin ervaar dat hierdie vrug in jou lewe begin groei.

Sonder hierdie vrug sal jou beste intensies en jou beste werke vinnig geruïneer word.

Hoeveel Christene was daar al nie in die verlede, nie in die laaste plek kerkleiers met groot talente, wie se lewens in ‘n verleentheid geëindig het, juis omdat hulle die vrug van selfbeheersing nie genoeg gekultiveer het nie.

Hoe groot jou talente ook is, hoe kragtig jy ook mag wees, sonder selfbeheersing is dit niks werd nie.

Dis soos om ‘n motor met ‘n turbo aangedrewe V8 enjin te hê, maar jou bande is heeltemal verslete.

Dan gaan al daardie krag jou nêrens bring nie.

 

Ja die sonde is en bly ‘n werklikheid in elke gelowige se lewe, en juis daarom is die oefening in selfbeheersing so noodsaaklik.

Ons is tempels van die Gees, en deur sy inwoning begin ons dit regkry om die sondige neigings van ons karakter steeds meer te onderdruk, op hulle plek te hou, in goeie bane te lei, of hoe mens dit ook wil beskryf.

As jou wil, wat van nature sondig en opstandig was, nou vernuwe word deur die Gees, kry jy dit steeds meer in jou lewe reg om die goeie te wil, en nie meer in te gee vir slegte begeertes nie.

 

Een van die bekendste voorbeelde is natuurlik ons seksuele begeertes, en die Skrif swyg nie daaroor nie.

Daar is pragtige voorbeelde van selfbeheersing in die Skrif, daar is ook trieste voorbeelde van hoe sommiges hard gestruikel het.

Josef is ‘n voorbeeld van die vrug van selfbeheersing.

Potifar se vrou het aanhoudend probeer dat hy by haar sou slaap, maar Josef het nie ingegee vir die versoeking nie.

Hoe het Josef dit reggekry om stand te hou?

Uit die geskiedenis in Genesis 39 vind mens hoofsaaklik twee redes:

Eerstens sy respek en hoogagting vir sy baas, Potifar.

En tweedens, nog belangriker, die besef dat so ‘n daad ‘n sonde teen God is.

Juis daardie besef het hom die krag gegee om homself te weerhou van so ‘n daad.

Dit was die Gees wat daardie besef in hom gewerk het, dat God se gebod goed is, die sewende gebod in hierdie geval, en dat die oortreding van hierdie gebod die goeie band verbreek, nie net met Potifar sy baas nie, maar veral die band met sy God.

Dan is daar die bekende voorbeeld in die Skrif van Dawid, ‘n voorbeeld van iemand wat diep geval het in hierdie opsig.

Dit het ‘per ongeluk’ begin, toe hy Batseba ‘n keer sien bad het.

Dawid het nie selfbeheersing getoon nie, hy toegelaat dat hierdie versoeking hom op sleeptou geneem het.

En sy gebrek aan selfbeheersing het aaklige gevolge gehad.

Hoewel hy van sy sondige weg homself bekeer het, en hoewel die Here hom heeltemal vergewe het, is dit wel ‘n feit hier op aarde dat ons nie altyd van die gevolge van ons sondes verlos word nie.

En so was dit ook by Dawid.

Hy het, veral in morele opsig, die beheer oor sy eie gesin verloor.

Sy twee seuns Amnon en Absalom het in hulle pa se voetspore gevolg wat betref gebrek aan selfbeheersing in seksuele opsig, en selfs nog erger as hulle pa, ja dit het tot hulle ondergang gelei.

Net so kan mens vandag, uit ons eie tyd, ook die een voorbeeld na die ander noem, hoe gebrek aan selfbeheersing op seksuele gebied mense se lewens geruïneer het, gesinne geruïneer het, en in die geval ampsdraers, soms hele gemeentes geskeur het.

 

Dus, broeders en susters, en dalk veral broeders, bly realisties wat betref die gevaar van seksuele versoekings.

Moenie toelaat dat jou selfbeheersing verslap nie, die beheersing van jou gedagtes, die beheersing van jou oë, die beheersing van jou gebruikmaking van internet en sosiale media.

Dis nie dat jy hoef te gaan soek vir pornografie nie, die Satan sal sorg dat dit jou vind.

En as dit gebeur, laat dit jou nie onkant vang nie.

Laat dit so wees dat jy, as tempel van die Gees, deur die krag van die Gees, sterk staan.

Al begin die samelewing, die kultuur om ons heen, hierdie dinge steeds meer stilswyend aanvaar, nie ons nie.

In Christus is ons geheel anders.

En die enigste manier om anders te bly in hierdie opsig is as die Geestesvrug van selfbeheersing in ons lewens groei.

 

Maar dit is nie die enigste gebied waar ons selfbeheersing moet toepas nie.

Paulus noem ook dinge soos toornigheid, twis, naywer, partyskap, tweedrag, jaloersheid.

Vir almal van ons is dit ook ‘n noodsaaklike leerkurwe op die pad van heiligmaking, dat ons onsself daarin oefen om nie ons humeur te verloor nie, om nie tantrums te gooi nie.

Dat ons onsself ook weerhou van jaloesie, dat ons nie steeds let op ander en in watter opsigte hulle dit beter as ons het nie.

Verder ook dat ons nie deur ons eie ambisies in die lewe gedryf word nie, maar dat ons ons ambisies stel in diens van Christus en sy koninkryk.

Verder noem Paulus ook brassery.

‘n Ietwat ou woord, maar wat hieraan ten grondslag lê, is dat jy selfbeheersing het oor jou eet- en drinkgewoontes.

Niemand sal ontken dat dit ook vir ons uitermate aktueel is nie.

Nie net vir hulle wat ‘n drankprobleem het nie, vir elkeen van ons.

Is jy baas oor jou buik, of is jou buik baas oor jou?

Dink ook aan ander verslawende gewoontes, soos byvoorbeeld rook.

Al is dit dalk nie altyd met die regte motiewe gedoen nie en al het die regering sy eie bevoegdheid soms oorskry, die feit dat die verkoop van tabak en alkohol in hierdie grendeltyd verbied is, is iets wat ons as Christene net kan toejuig.

Hoeveel leed veroorsaak hierdie verslawende middele nie in ons land nie.

Vir ‘n Geesvervulde mens wat homself oefen in selfbeheersing, is dit ‘n gulde geleentheid om vir ‘n paar maande te vas van hierdie verslawende middele.

Nog iets waarin selfbeheersing onmisbaar is, is ons tydsbesteding.

Kan jy jou tyd wat God jou gee, as ‘n goeie rentmeester beplan en gebruik, of verval jy dikwels in slegte gewoontes wat jou tydsbesteding betref?

Mors jy baie van jou tyd, is luiheid iets waarteen jy moet veg, is daar ‘n gebrek aan selfdissipline in jou tydsbesteding?

Die feit dat daar in hierdie grendeltyd byvoorbeeld baie minder sport op televisie is, is ook ‘n goeie geleentheid om onsself in beter tydsbesteding te oefen.

Tyd is goud werd.

Dit is ‘n vrug van die Gees as jy die kosbare tyd aan jou gegun, ook goed gebruik.

 

En dan is daar nog een ding, miskien wel die belangrikste en moeilikste, waar jy selfbeheersing veral nodig het.

En dit is wat die gebruik van jou tong betref.

Die apostel Jakobus waarsku indringend teen die sonde van die tong, teen gebrek aan selfbeheersing wat dit betref.

Die tong is maar ‘n klein lid in jou liggaam, maar dit is soos ‘n vuurtjie wat alles aan die brand kan steek.

Dit verwoes die hele liggaam.

Nie net jou liggaam nie.

Ook die liggaam van Christus.

Broers en susters, en in hierdie geval miskien veral die susters, as julle nie selfbeheersing oor julle tong toepas nie, dan sal daar nie veel van ons gemeentes oorbly nie.

En deesdae geld dit nie net vir skinderpraatjies as ons by mekaar koffie drink nie, tydens die grendelperiode is dit in elk geval veel minder moontlik, maar ook vir dit wat ons tik in ons whatsapps, instragrams, facebook, weblogs ensovoorts.

 

Geliefde gemeente, laat Christus so ryklik in julle woon, laat sy Gees kragtig in julle werk.

Laat julle in die wêreld bekend staan vir die deug van selfbeheersing.

En laat elkeen wat geroep is tot ‘n ampsdraer, veral hierin die voortou neem.

Die Skrif roep veral elke ampsdraer op: “Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, EEN WAT HOMSELF BEHEERS” – ja selfbeheersing! – Titus 1:7-8.

As iemand nie beheer oor homself het nie, hoe kan hy beheer oor sy gesin hê, hoe kan hy beheer oor die huisgesin van die kerk hê?

 

En hierdie oproep tot selfbeheersing klink nie net aan die adres van die jong mense nie, dit geld net soveel vir die ou mense.

Hoe skadelik is dit nie vir ‘n gemeente as juis bejaardes gebrek aan selfbeheersing in hulle lewens toon nie.

Paulus skryf aan Titus: “Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë ...”

En die “ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is” (Titus 2:2-3).

Dus almal van ons, oud en jong, manlik en vroulik, op almal van ons is die Heilige Gees uitgestort.

Almal saam vorm ons ‘n Geesvervulde gemeente.

En so oefen ons ons almal saam in die deug van selfbeheersing.

En elkeen van u, van julle, kan in antwoord op hierdie preek gaan nadink hieroor.

Op watter gebiede in jou lewe is daar by jou meer noodsaak tot selfbeheersing?

Waar lê jou swakpunte op hierdie gebied?

En vra dan of die Gees jou juis sal lei om te groei in selfbeheersing.

Dat hy hierdie vrug kragtig sal laat groei in jou lewe, juis ook ter beskerming van al die ander mooi vrugte wat Hy in jou lewe gee,

Ja, soos die tema sê: Selfbeheersing is die vrug van die Gees wat jou immuniteit gee teen sonde in jouself en in die wêreld.

 

Geliefde gemeente, ons het nou aan die einde gekom van die lysie van vrugte van die Gees, soos ons dit in Galasiërs 5:22 vind.

Hierdie lysie is nie eksklusief nie, mense sal nog ander deugde ook kan noem wat geld as vrugte van die Gees.

In die Nuwe Testament is daar nog lysies, waar ander deugde ook in genoem word.

‘n Geesvervulde lewe is pragtig, dit dra vrug, ja dit dra baie vrug.

Aan die begin van hierdie serie preke het ons die vraag behandel of die vrug van die Gees slegs een is of dat dit baie is.

Is dit slegs een vrug met baie sê maar kompartimente, byvoorbeeld soos ‘n lemoen verskillende skyfies het, waarvan elke skyfie ‘n ander deug is?

Of moet mens dink aan iets soos ‘n druiwetros, een tros waaraan baie druiwe hang?

Of moet mens eerder dink aan velerlei soorte vrugte, elkeen volgens sy eie soort, appels, pere, kersies, koejawels, piesangs, perskes en noem maar op.

Ons het toe gesien dat die woord vrug in ons teks in die Griekse grondteks vertaal kan word as ‘n enkelvoud of ‘n meervoud.

Dat dit vanuit die Grieks ook vertaal kan word met die woord oes.

Ja die Gees laat ‘n ryke uitbundige en gevarieerde oes ryp word op die akker van ons lewe.

Mens hoef dus nie eksklusief aan net een beeld te dink nie.

Dit is beeldspraak, en met ‘n beeld moet mens nie te ‘dogmaties’ omgaan nie.

Feit is dat ieder en elke deug ‘n vrug is van die Heilige Gees.

Feit is dat hierdie vrugte slegs kan groei as ‘n mens ingeplant is in Christus en dus sy Gees ontvang het.

Hierdie vrugte van die Gees groei dan en word steeds groter, mooier en voller.

En hierdie vrugte wend ons dan aan nie tot ons eie eer nie, nie om te spog nie, maar juis om diensbaar te wees aan mekaar en in sy koninkryk.

Dit is dan ook die konneksie met Maranata se jaartema, om ‘n diakonale, ‘n diensbare gemeente te wees.

‘n Geesvervulde mens is diensbaar, dit kan nie anders nie.

Die Here het hierdie jaar baie uitsonderlike omstandighede oor ons gebring.

Vir die eerste keer in die sewentigjarige bestaan van die VGK, kon daar vir maande nie eredienste in die normale sin gehou word nie.

Dit is ‘n jaar waarin die dreiging van siekte en armoede geweldig toegeneem het.

Juis in hierdie omstandighede laat die Here ons des te meer besef hoe noodsaaklik dit is om ‘n diakonale gemeente te wees.

Laat ons nie net ortodoks wees wat betref die leer nie, maar ook wat betref ons lewe.

Ek sê dit nie om hierdie twee teen mekaar uit te speel nie.

Dikwels sien mens die meganisme dat kerke wat liberaal raak in die leer, uit reaksie juis meer daarop fokus om goed te doen aan armes, kansloses, verdruktes in die wêreld.

Maar dit is nie of – of nie, maar en – en.

Juis ons respek vir God se Woord, en die onfeilbaarheid van sy Woord, ook in die 21ste eeu, bring ons tot ‘n ortodokse, ‘n reglynige lewe.

Die Bybel, die Woord, is die Heilige Gees se instrument.

Laat ons nie aan sy Woord torring nie.

Laat ons bewe vir sy Woord.

Laat ons dit ernstig neem, in leer sowel as in lewe.

 

Amen.

Liturgie: 

Liturgie:

Votum

Seën

Ps 9:8,10

Gebed

Skriflesing: Galasiërs 5:16-26

Ps 37:17-19

Skriflesing: Titus 1:5-9 & Titus 2:1-6

Ps 31:15,16

Teks: Galasiërs 5:22 (selfbeheersing)

Preek

Ps 19:6,7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 92:2

Kollekte

Ps 34:5,6

Seën