Sagmoedigheid as seldsame maar genesende vrug van die Gees

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-05-31
Teks: 
Galasiers 5:22 (sagmoedigheid)
Preek Inhoud: 

Preek: Galasiërs 5:22 (sagmoedigheid)

 

Vandag kyk ons na nog ‘n vrug van die Gees.

Verlede week Sondag het ons herdenk dat die Heilige Gees uitgestort is.

Daardie karaktereienskappe wat so kenmerkend aan Christus se lewe op aarde was, werk Hy nou in sy lidmate.

Vandag kyk ons na ‘n vrug wat ons Here Jesus by uitstek gekenmerk het, naamlik sagmoedigheid.

As mens teruggaan na die Griekse woord, is dit moontlik om dit te vertaal met woorde soos sagmoedigheid, of nederigheid.

In Engels dink ons aan woorde soos gentleness of meekness.

 

Tema: Sagmoedigheid as seldsame maar genesende vrug van die Gees

 

Dit is nie net die Here Jesus wat in die Bybel as sagmoedig beskryf word nie, maar God die Vader self ook, ook al in die Ou Testament.

Dit mag ons verbaas, want ons ken God uit die Ou Testament veral ook as die almagtige, die een met onbeperkte mag en krag, op wie se stem berge smelt en die waters van die see op die vlug slaan.

Tog het hierdie onbeperk grote en almagtige God ook ‘n sagte kant.

Dawid beskryf God as ‘n deernisvolle Herder – Psalm 23.

Ook die profeet Jesaja doen dit: “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.” – Jesaja 40:11.

Ook word God beskryf as ‘n bekommerde ouer wat besef dat sy kinders sag en kwetsbaar is – Psalm 103:

“Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” – Psalm 103:13-14.

Ook Moses beskryf God as ‘n sorgsame vader: “hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het” – Deuteronomium 1:31.

So skets die Ou Testament vir ons ‘n beeld van God wat omsigtig en sagmoedig vir sy kinders sorg.

Dis ook opvallend hoe die HERE aan Elia verskyn het, toe Elia heeltemal depressief en desperaat was en onder ‘n bossie in die woestyn gaan wegkruip het.

Die HERE het nie aan hom verskyn in ‘n groot sterk wind wat die berge skeur en die rotse gebreek het nie.

Die HERE het ook nie aan hom in ‘n aardbewing verskyn nie, en ook nie in vuur nie.

Die HERE het aan hom in die gesuis van ‘n sagte koelte verskyn – 1 Konings 19:12.

Nou soos ons weet, die HERE het ook al in die verlede op ander maniere verskyn – byvoorbeeld aan Moses in die brandende braambos; aan sy volk by die berg Horeb met aarbewings en weerlig en donderslae.

Maar hier in 1 Konings 19 is duidelik dat Hy ook, gesien die omstandighede, kan kies om op ‘n sagmoedige manier aan iemand te verskyn.

 

En wat waar is van God die Vader, geld ook vir God die Seun.

Daar was tye wat Jesus sy almag gewys het, daar was tye wat Jesus toornig was en mense bestraf het, daar was tye wat Hy sonder omhaal van woorde die mense die waarheid gesê het – dink aan sy gesprekke met die Fariseërs.

Maar wat tog veral opval tydens Jesus se lewe op aarde, was sy sagmoedigheid.

Wat veral opval is dat Hy juis glad nie aggressief of strydlustig was, selfs nie as mense Hom vals beskuldig het nie.

Wat veral opval is dat Hy juis nie mense geboelie, afgeknou, verkleineer of verwerp het nie.

Een van sy bekendste uitsprake op aarde was: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, wat Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” – Mattheüs 11:28-30.

 

Hierdie beskrywing wat Jesus van Homself gee, blyk uit en uit in die manier waarop Hy met mense omgegaan het, veral met mense wat min aansien in die samelewing geniet het.

Dink aan hoe Hy ‘n gesprek gevoer het met die Samaritaanse vrou in Johannes 4.

Sy sagmoedige ingesteldheid het veroorsaak dat Hy Homself nie aan die etiket van daardie tyd gehou het, naamlik dat ‘n man nie sommer met ‘n vrou praat, laat staan dat ‘n Jood met ‘n Samaritaan sou praat nie.

Dieselfde geld vir Jesus se gesprek met die Siro-Feniciese vrou, Markus 7:24-30.

Sy het ‘n dogtertjie met ‘n onreine gees gehad, en het genesing kom soek by Jesus.

Op die oog af het Jesus haar ‘n harde antwoord gegee: “Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie.”

Jesus het met hierdie uitspraak bedoel dat Hy in eerste instansie na die Joodse volk gekom het, en dat sy aandag op hierdie stadium primêr op hulle gerig was.

Nou staan daar nie in die Bybel met watter stemtoon Jesus dit gesê het en hoe sy gesigsuitdrukking was nie, maar ons kan vermoed dat Jesus haar nie afgeblaf het nie, want sy het die moed gehad om as volg te reageer:

“Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels.”

Hierdie antwoord het duidelik Jesus oor die streep getrek, want Hy het direk daarna haar dogtertjie genees.

 

Jesus se sagmoedigheid het veral aan die lig gekom gedurende die laaste dae van sy lewe op aarde.

Sy geduld, sy sagmoedigheid is tot die uiterste beproef.

Hy het twaalf legioene aan engele tot sy beskikking gehad (Matt. 26:53-54) om hierdie onregverdige behandeling daar en dan te stop, maar Hy het nie.

Hy het ook nie geïrriteerde repliek gelewer op al die valse beskuldigings nie, maar gewoon stilgebly (Matt. 26:63).

Gewoon, eintlik buitengewoon.

Toe hulle Hom aan die kruis vasgehamer het, het Hy nie vervloekinge oor sy vyande uitgespreek nie.

Geen vloekwoord het oor sy lippe gekom nie.

Hy het selfs vir sy Vader gebid om hulle te vergewe (Luk. 23:34).

En te midde van die ergste lyding aan die kruis, het Hy ook nog aan sy ma gedink en haar aan die sorg van Johannes opgedra (Joh. 19:26-27).

Sy sagmoedige houding was ook opvallend teenoor Petrus, wat Hom so lelik verloën het.

Die einste Petrus sou later in een van sy briewe skryf: “as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg ... wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie ...” (1 Petr. 2:21,23)

 

En dit bring ons by die tweede deel van die preek.

Ons het hierdie preek begin deur te kyk na die sagmoedigheid van God die Vader, en die sagmoedigheid van God die Seun.

In sy Woord hou die Heilige Gees hulle aan ons voor as voorbeeld tot navolging.

Daarna gaan ons nou kyk.

 

As die apostel Paulus in ons teks die lys van die vrugte van die Gees opnoem, dan is dit nie net ‘n lys in die algemeen van goeie karaktereienskappe nie.

Om die waarheid te sê, in die toenmalige Grieks-Romeinse wêreld is dinge soos sagmoedigheid en nederigheid allermins as ‘n deug beskou.

Dit is eerder as ‘n swakte beskou.

Suksesvolle mense was allermins nederig of sagmoedig.

Suksesvolle mense was wenners, wat nie skaam was om te spog oor hulle prestasies nie.

As Paulus in hierdie lys dus sagmoedigheid noem as ‘n positiewe eienskap, dan volg hy dus allermins dit wat oor die algemeen in die populêre kultuur in daardie tyd as goed en deugsaam beskou is.

Enige heiden sou gefrons het by die lees hiervan.

Paulus ontleen sy lys met vrugte van die Gees dan ook nie aan die samelewing om hom heen nie, maar hy ontleen dit aan die voorbeeld van Jesus se lewe op aarde, en die voorbeeld van God die Vader, soos Hy hom uit die Ou Testament geken het.

En daarom hou Hy ook sagmoedigheid aan die Galasiërs voor as ‘n vrug van die Gees.

‘n Geesvervulde mens reageer anders op konflikte.

‘n Geesvervulde mens reageer nie met aggressie nie, nie met rusies nie, nie met harde woorde nie, nie met aggressiewe selfverdediging nie.

Maar ‘n Geesvervulde mens beheer sy emosies, is in beheer van sy tong en sy humeur.

‘n Geesvervulde mens besef dat ander mense ook gevoelens het wat seergemaak kan word.

‘n Geesvervulde mens is nie iemand wat altyd net stilbly en altyd net die klappe opvang nie, maar hy ken sy tyd en plek.

Sy optrede word geïnspireer deur en gemodelleer op Christus se optrede.

Want ons behoort aan Hom, en ons staan in diens van Hom.

Paulus skryf aan die Efesiërs: “Ek vermaan julle dan ... om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra.” (Ef. 4:1-2)

Hierdie oproepe het haaks gestaan op die Grieks-Romeinse kultuur.

Hierdie ingesteldheid staan ook vandag nog steeds haaks op die ingesteldheid van die wêreld.

Maar dit is wel in lyn met die ingesteldheid en optrede van ons God, wat ons mag dien.

Karaktereienskappe wat in die omringende kultuur bespotlik gemaak word, is nou juis dit wat openbaar dat die Gees van Jesus in ons aktief is.

Dit wat die wêreld belaglik vind, dit lys Paulus as eienskappe wat ons meer soos Christus laat lyk.

 

En, soos dit ‘n leier betaam, begin Paulus dan by homself.

As daar een gemeente was, wat sy geduld op die proef gestel het, was dit die kerk van Korinthe.

Amper raadop vra hy op ‘n stadium in sy brief – 1 Korinthiërs 4:21: “Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die gees van sagmoedigheid?”

In sy volgende brief sien ons dan dat hy tog maar vir die laaste opsie gekies is: “En ek self, Paulus, bid julle by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus ...” (2 Kor. 10:1)

Paulus se verhouding met hierdie gemeente het onder spanning gestaan.

En ons sien dan dat hy sagmoedigheid kies as metode om die versteurde verhoudings te herstel.

En soos hy dit self probeer doen het, deur die krag van die Gees, so roep hy ook elke Christen op:

“Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” (Gal. 6:1)

 

In hierdie gees word elke ampsdraer ook opgeroep om sy taak te verrig, al is dit nie altyd eenvoudig nie.

As daar vermaan moet word, as daar kerklike tug toegepas moet word, dat dit steeds in ‘n gees van sagmoedigheid gebeur.

Dit is opvallend hoe Paulus in sy pastorale briewe hierdie vrug van die Gees beklemtoon.

By uitstek die ampsdraers moet voorop gaan in sagmoedigheid.

Hy skryf aan die jong ampsdraer Timotheüs: “’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie ...” (2 Tim. 2:24-25)

Ook al in sy eerste brief het Paulus Timotheüs hiertoe opgeroep: “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” (1 Tim. 6:11)

Amper elke ampsdraer, elke ouderling, diaken, predikant, het wel iemand in sy wyk, in sy gemeente, wat sy geduld steeds op die proef stel.

En soms gebeur daar in jou lewe iets wat in jou oë kwaad is, totaal verkeerd is.

Nou selfs as dit objektief gesproke waar is, dat jou kwaad aangedoen is, dan nog, skryf Paulus, moet ‘n ampsdraer in staat wees om kwaad te kan verdra.

Dit is nie maklik nie.

Maar die vrug van sagmoedigheid wat die Gees in ons werk, stel ons daartoe in staat.

As ampsdraers, en dit geld natuurlik ook vir elke gemeentelid, gaan ons nie soos die wêreld die sosiale media gebruik om ander mense te beledig, of steke onder water uit te deel nie.

In alle omstandighede, ook as ons van die sosiale media gebruik maak, roep die Heilige Gees ons op, Titus 3:2: “om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.”

 

Ja danksy hierdie vrug van die Gees is daar ‘n kerklike lewe op langtermyn moontlik.

Hierdie vrug van die Gees maak die gemeente van Christus juis aantreklik vir die buitewêreld.

Dit klink dalk teenstrydig, want vir die buitewêreld, vir die samelewing, is hierdie deug – sagmoedigheid – nie iets waarna hulle streef nie.

Maar tog, as Christus se gemeente hierdie deug beoefen, maak dit haar as gemeente juis wel aantreklik.

Want hierdie vrug van die Gees het ‘n genesende werking.

As ons oor evangelisasie praat, is dit selfs een van die belangrikste deugde!

Ongelowiges word nie in die eerse plek oortuig deur beterweterige Christene nie.

Ongelowiges word eerder aangetrek deur die sagmoedige opstelling van die gelowiges.

Daarom skryf die apostel Petrus, as dit gaan oor hoe ons die Evangelie aan ongelowiges kommunikeer, spesifiek as volg:

“wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees ...” (1 Petr. 3:15)

Ons kragtige argumente vir die Evangelie sal nie ongelowiges bekeer nie.

Maar as ons met ongelowiges omgaan in ‘n gees van sagmoedigheid, dan sien hulle Christus in ons.

Sagmoedigheid, nederigheid, dit bly nie ongemerk nie.

En die beste manier om sagmoedig en nederig te word, is om weer stil te staan by hoeveel geduld, hoeveel sagmoedigheid God met jou moes gehad het en nog steeds het.

As ek maar net weer besef hoeveel dit my Heiland gekos het om my te red, dan is dit nie moeilik om sagmoedig en geduldig met ongelowiges te wees nie.

Wat ‘n voorreg, dat jy en ek juis met hierdie vrug van die Gees ander mense na Jesus toe mag trek.

So kom ons laat hierdie seldsame vrug van die Gees steeds ryper word in ons lewens.

Sagmoedigheid as seldsame maar genesende vrug van die Gees.

Sodat daar eendag oor ons ook die getuienis gegee kan word, wat daar destyds byvoorbeeld oor Moses gegee is: “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” (Num. 12:3)

Aan die einde van die dag is dit wat gaan saakmaak in jou lewe, of jy net soos jou Koning is, oor wie daar geskryf is: “Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig ...” (Matt. 21:5)

Hy, jou Koning, het naamlik oor sy koninkryk en wie sy koninkryk mag beërf die volgende gesê – Mattheüs 5:

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matt 5:5)

 

Amen.

Liturgie: 

Liturgie:

Votum

Seën

Ps 149:1,2

Wet

Ps 25:4

Gebed

Skriflesing: Galasiërs 6:1-10

Ps 37:5,6

Skriflesing: 1 Timotheüs 6:11-16 & 2 Timotheüs 2:23-26

Ps 34:1

Teks: Galasiërs 5:22 (sagmoedigheid)

Preek

Sb 16:1-3, 5-7

Gebed

Kollekte

Ps 147:1,2,4

Seën