Die Heilige Gees werk die vrug van goedheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2020-05-24
Teks: 
Galasiers 5:22 (goedheid)
Preek Inhoud: 

Om ‘n diakonale, ‘n diensbare gemeente te kan wees, is ‘n voorvereiste dat ons hart reg is.

Dis om hierdie rede dat ons in die kader van Maranata se jaartema na die vrugte van die Gees kyk.

Ons het nou al ‘n aantal vrugte behandel – liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, en vriendelikheid.

Christus stort sy Gees uit in die lewens van sy lidmate.

Sy Gees werk hierdie vrugte.

Die beeld van vrugte wys daarop dat hierdie eienskappe soos vrugte is wat groei.

Elke vrug begin met ‘n klein knoppie, maar met verloop van tyd word die vrug al hoe groter, voller, mooier.

So is Christus se Gees besig met ‘n mooi werk in ons lewens.

Aan sy hand stap ons die pad van die heiligmaking.

Dit is ‘n pad waarop ons nie dieselfde bly nie.

Wie in Christus ingeënt is, begin vrug dra.

En sy Gees sorg dat hierdie vrugte al hoe mooier en voller word.

 

Vandag staan ons stil by die vrug wat in ons teks met goedheid vertaal is.

Gaan mens terug na die Griekse Bybel, vind ons daar ‘n woord wat vertaal kan word in Afrikaans met woorde soos:

Goedheid, opregtheid, welwillendheid, vrygewigheid.

Net soos in vorige preke, gaan ons vandag ook vanuit die Skrif kyk wat hierdie woord, wat hierdie vrug inhou.

En net soos in vorige preke, by die ander vrugte van die Gees, lei die Skrif ons in die eerste plek terug na God self.

 

Tema: Die Heilige Gees werk die vrug van goedheid

  1. Goedheid kenmerk die karakter en dade van God
  2. Goedheid kenmerk die lewe van hulle wat aan Christus behoort

 

  1. Goedheid kenmerk die karakter en dade van God

God is goed.

Dit is ‘n refrein wat deur die Bybel klink.

Dink aan Psalm 136: want sy goedertierenheid, sal bestaan in ewigheid.

Goedertierenheid is ‘n intensiewe vorm van goedheid.

Nou wat hou dit in, die feit dat God goed is?

By God se goedheid verwys die Skrif na eienskappe soos sy vrygewigheid.

Hy gee rojaal, nie net die bitter noodsaaklike nie.

By God se goedheid verwys die Skrif ook na sy betroubaarheid.

Hy mislei niemand nie.

Hy is nie onvoorspelbaar en vals nie.

Hy is altyd dieselfde, soos ‘n rots wat nie verander nie.

God se goedheid in die Bybel is onskokbaar, onveranderlik.

Mens kan dit vergelyk met ‘n natuurwet soos swaartekrag.

Dit is ‘n wet wat nooit uitsonderings toon nie.

So is God se goedheid ook.

Maak nie saak wat die omstandighede is nie, God is goed en Hy doen goed.

Selfs as slegte dinge plaasvind, kan God dit ombuig om iets goeds daarvan te maak.

Dit wil nie sê God doen self die slegte dinge nie.

In Job se lewe, byvoorbeeld, het Satan die slegte dinge gedoen.

God het dit wel toegelaat, maar Satan het dit gedoen.

Tog het God iets goeds daaruit laat voortkom, en so Satan se planne tot mislukking gedoem.

Dieselfde geld in Josef se lewe.

Josef se broers het groot kwaad in sy lewe aangevang.

God het dit nie gedoen nie, maar wel dit toegelaat.

Josef se broers se bedoeling was dat hulle hul broer nooit weer wou sien nie.

God se raad egter was dat hulle hom wel later weer sou ontmoet, en dit tot hulle eie redding.

Genesis 50:20: “julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.”

“God is goed in al sy handel, en sy pad is enkel reg”.

Dit is in ‘n neutedop wat die Bybel ons oor ons God leer – Psalm 25:4.

 

Waar dit waar is van God die Vader, is dit net so waar van God die Seun.

“Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” – Johannes 14:9.

Christus is die volmaakte ewebeeld van die Vader, dus is Hy ook goed.

Goed van karakter, en sy dade is ook goed.

Petrus beskryf Jesus aan die heidense Cornelius in ‘n neutedop soos volg:

Hy het die land deurgegaan en goed gedoen – Handelinge 10:38.

Dan dink ons aan al die genesings wat Hy verrig het.

Hy het ‘n verskil ten goede in mense se lewens gemaak.

Maar nie net dit nie.

Dat Jesus goed gedoen het, beteken ook dat Hy gedoen het wat reg was.

Hy het geweet wat sy Vader se raad met sy lewe was, en Hy het daardie pad gestap.

Hoewel daar dikwels die opsie was om van hierdie pad af te wyk en ‘n makliker alternatief te kies, ‘n wegkomkans, het Hy nie ingegee nie.

Dink aan hoe die duiwel Hom tot drie keer versoek het.

Jesus het die maklike pad na roem en glorie weerstaan.

Dink aan hoe sy ma en broers wou hê dat hy terugkom huis toe en ‘n gewone lewe begin lei.

Daarenteen het Jesus hulle daarop gewys dat sy moeder en broers hulle is wat die wil van die Vader doen.

Dink aan hoe Simon Petrus geprobeer het om die donker vooruitsig van lyding en kruisiging uit sy kop te praat.

Daarenteen het Jesus hom bestraf: Gaan weg agter my, Satan.

Dink aan sy worsteling in die tuin van Getsemane, dink aan Pontius Pilatus, wat hom ook weer ‘n opsie gebied het om aan die kruis te ontsnap.

Dink aan die legioene van engele, wat gereed gestaan het om sy bevele uit te voer.

Desondanks het Jesus sy integriteit behou, sy voorneme om te doen wat reg is, naamlik dit wat sy Vader van Hom verwag het.

Daarin het Hy dus ook sy goedheid getoon.

 

Om die eerste punt saam te vat: die woord goedheid in die Bybel kry sy diepste betekenis in God, in die openbaring van wie die Vader en die Seun is.

Hulle doen goed omdat hulle goed is.

Alles wat God doen, het ‘n goeie uitwerking op sy skepping.

Alles wat Jesus op aarde gedoen het, het die mense se lewens verbeter.

Sy goedheid het geblyk uit sy welwillendheid en vrygewigheid.

Verder is hulle goedheid ook onkreukbaar, betroubaar, rotsvas, onskokbaar, onveranderlik.

Die Vader en ook die Seun is goed van karakter, omdat hulle bly staan vir dit wat reg is.

Hulle wyk nie af van dit wat goed is nie.

Dit het veral geblyk in Jesus se lewe op aarde.

Hy was bereid om die lydenspad enduit te stap tot aan die kruis.

Dit het Hom onuitspreeklike lyding gekos, en sy Vader ondenkbare pyn in sy hart om sy Seun te moes opoffer.

Maar hulle het dit gedoen met die doel om dit wat goed en reg is op aarde te herstel.

 

  1. Goedheid kenmerk die lewe van hulle wat aan Christus behoort

In die tweede plek gaan ons nou sien dat hierdie karaktereienskap, hierdie standvastige goedheid, ook deel is van hulle wat aan Christus behoort.

Dit is ‘n karaktereienskap wat Christus se Gees in hulle lewens werk.

Vir hulle wat in Christus ingeplant is geld: “’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie ...” (Matt. 7:18)

Ons handelinge aan die buitekant wys wie ons aan die binnekant is.

Soos Christus goed is van binne en daarom goed doen, so geld dit vir sy lidmate ook.

Oor Barnabas se lewe word byvoorbeeld die volgende in die Skrif gesê:

“hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof” (Hand 11:24).

Om goed te wees en goed te doen is dus ‘n wesenlike deel van ‘n Christen se lewe.

Dit is die rooi draad wat ons byvoorbeeld deur die hele Bergrede vind.

Christus se prediking daarin openbaar aan ons ‘n nuwe kwaliteit van lewe.

Hy beskryf hoe die karakter en optrede is van hulle wat burgers van sy koninkryk geword het.

Hulle is op aarde soos sout.

Sout is veral gebruik om te voorkom dat vars kos bederf en vrot word.

Vars vleis hou net ‘n paar dae, maar ingesoute vleis, soos biltong, kan lank hou.

So ‘n inwerking het sy lidmate op hierdie wêreld.

Ook is hierdie burgers van sy koninkryk die lig van die wêreld.

Mattheüs 5:16: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

Om die lig van die wêreld te wees, beteken dus eenvoudig om goeie werke te doen, om goeie mense te wees.

En om ‘n goeie mens te wees, beteken eenvoudig om soos Christus te wees.

En dan gaan dit nie net oor woorde nie, maar ook dade.

Christus se lewe was vol woorde, en ook vol dade.

Sowel sy woorde en dade was goed.

Sowel sy woorde en dade het mense gelukkig gemaak, het lig in mense se lewens gebring.

 

Voorbeelde van sulke mense vind ons natuurlik in die Skrif terug.

Ek het nounet na Barnabas verwys, maar daar is nog meer.

Dink aan die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Matt. 20:1-16).

Sommige arbeiders het die hele dag gewerk, en hulle eerlike dagloon ontvang.

Ander is deur die huisheer eers op ‘n later stadium ingehuur, sommiges het slegs een uur gewerk.

Tog het die baas vir hulle ook ‘n volle dagloon gegee.

Die wat die hele dag gewerk het, het toe begin kla dat dit onregverdig was, natuurlik met die implikasie dat hulle nou nog meer wou hê.

Waarop die huisheer hulle geantwoord het: “is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (Matt. 20:15)

In die woord goed hoor ons hier die konnatasie vrygewig.

Wat Jesus ons hier wil leer is dat iemand wat goed is, nie altyd let op wat presies volgens die reëls vereis word nie.

Goedheid lei tot vrygewigheid, meer as wat die vereiste is.

 

Wat bedoel ons as ons sê: Hy is regtig ‘n goeie man?

Dan dink ons veral aan iemand met integriteit, wat groothartig is, wat vrygewig is.

Wat nie net die minimum doen wat vereis word nie.

Nee, hierdie huisheer het geweet dat ook daardie arbeiders wat hy eers later ingehuur het, dat hulle ook aan die einde van die dag as hulle huis toe gaan, ‘n gesin het wat wag om gevoed te word.

Al was hy dit nie verplig nie, het hy wel aan hulle omstandighede gedink.

Uit daardie daad het geblyk dat hy ‘n goeie hart gehad het.

Hierdie huisheer in die gelykenis word natuurlik deur Jesus aan ons voorgehou as ‘n model, ‘n voorbeeld.

So moet ons ook in die samelewing bekend staan, as sulke mense.

In hierdie tyd van die Corona Pandemie is dit nie moeilik om dit toe te pas nie.

Baie van ons het byvoorbeeld bediendes wat ons huise skoonmaak, wat in ons tuine werk.

Ons het ongeskoolde arbeiders wat vir ons help in die uitoefening van ons dagtaak, of dit in die bou is, of in fabrieke of winkels.

Tydens die grendeltyd is dit nie toegestaan dat hulle kom werk nie.

Betaal ons wel vir hulle deur?

Dink ons daaraan dat hulle nog steeds gesinne of afhanklikes tuis het wat gevoed moet word?

As ons sou redeneer – geen werk, geen betaling – dan sou die goedheid wat Christus ons in hierdie gelykenis leer, nie in ons lewens reflekteer nie.

In hierdie grendeltyd word die oproep van Paulus in Galasiërs 6:10 daarom baie konkreet:

“Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan amal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”

Gemotiveer deur hierdie teks het die diakens in u gemeente reeds op u ‘n beroep gedoen, en laat ons daardie oproep van harte beantwoord.

En mag die mense wat die diakonale hulp ontvang, of hulle binne of buite die gemeentes is, daarin Christus se goedheid proe.

Laat jou bediende en loonwerkers ook in jou optrede hierdie vrug van die Gees, ja goedheid, proe.

Laat hulle juis in hierdie tyd van jou kan getuig: Jy is ‘n goeie mens.

 

Daar is nog mense wat ons in die Skrif ontmoet wat goed van karakater was.

Ons kan dink aan iemand soos Daniël.

Hy was ‘n goeie mens, juis ook in die sin dat hy standvastig was.

Die getuienis dat Daniël ‘n goeie karakter gehad het, kom uit onverdagte hoek, naamlik van sy kollega ministers.

Hulle het hulle bes gedoen om fout met hom te vind.

Dit is ook ‘n belangrike boodskap in die Bybel, die waarskuwing dat as jy goed is en goed doen, dit nie ‘unchallenged’, dit nie onbetwis gaan bly nie.

Dit was nie in Christus se lewe die geval nie, dit sal ook nie by sy lidmate so wees nie.

Daniël is ‘n goeie voorbeeld daarvan.

Iemand wat goed doen is suksesvol, dus was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel (Dan. 6:4).

Maar wat goed en suksesvol is, maak ook jaloesie wakker.

Dit is helaas die werklikheid van hierdie sondige wêreld.

Daniël se kollega ministers was so jaloers, dat hulle die heeltyd met hom probeer fout soek het.

Miskien ervaar jy dit ook in jou lewe, dat jy ‘n kollega het wat heeltyd probeer fout vind, wat jou heeltyd probeer aftrek.

Maar, sê die Skrif: “hulle kon geen enkele grond vir ‘n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.” (Dan. 6:5)

Dit is ‘n indrukwekkende getuienis wat hier van Daniël gegee word.

Sy baas kon op hom staatmaak.

En hulle wat onder hom gewerk het, kon hom vertrou.

Sy goedheid en integriteit het soos ‘n paal bo water gestaan.

Maar, mense wat goed is en integriteit het, is nie altyd populêr nie.

Veral nie onder hulle wat korrup is en net by die werk is om ryk of magtig te word nie.

Daniël was vir sy kollegas ‘n struikelblok.

Hy was vir hulle kompetisie waarteen hulle nie opgewasse was nie – so het sy kollega ministers altans na hom gekyk.

En dus het hulle hom gehaat en slegte planne teen hom begin beraam.

Uiteindelik moes hulle toegee, hoe fyn hulle hom ook dopgehou het, dat hulle geen fout met hom kon vind nie.

Toe het hulle nog gemener geword.

In hulle komplot was dit juis Daniël se sterkste punt wat hulle aangeval het.

Dit wat van Daniël so ‘n goeie mens gemaak het, naamlik die feit dat hy sy vertroue op God gestel het.

Ons ken die geskiedenis, hoe hierdie ministers dit reg gekry het om ‘n wet uit te vaardig dat almal net die koning mog aanbid, vir ‘n maand lank.

Die gevolg was dat Daniël in die leeukuil opgeëindig het.

Ook hierin het dus Daniël se goedheid en integriteit geblyk, die feit dat hy goed bly doen het, selfs as dit hom duur te staan sou kom.

Goeie mense is naamlik hulle wat die versoeking weerstaan om te kroek, al is dit net vir een keer.

Goeie mense moet soms ‘n duur prys betaal vir hulle integriteit.

Maar ook dit is die vrug van die Gees.

In Daniël se lewe was die Gees werksaam, dis duidelik.

Hy het hom onkreukbaar van karakter gemaak.

 

Daniël se lewenservarings is in die Skrif opgeskryf vir ons as ‘n voorbeeld.

Dit is wat Christus in sy lidmate se lewens wil bereik.

Dat ons goeie mense is, en dat ons goed doen, en dit in die volle Bybelse sin van die woord.

Dat ons goed doen, ook as daar teenstand kom.

Daniël se kollega ministers se jaloersheid het nie Daniël van koers laat verander nie.

Die Fariseërs en Sadduseërs was groen van jaloesie op Jesus en al die goeie dinge wat Hy gedoen het.

Christus het Homself nie daardeur laat beïnvloed nie.

 

So staan die Nuwe Testament ook vol van oproepe om goed te doen.

Ons is soms bang om daaroor te preek.

Want ons bely mos dat ons slegs deur geloof in Christus regverdig word, en dat goeie werke niks daaraan bydra nie.

Die gevolg is soms dat ons die oproepe in die Nuwe Testament om goed te doen bietjie uit die oog verloor.

Paulus se briewe in die Nuwe Testament is egter baie duidelik: Net so dringend as wat hy waarsku dat ons nie deur ons goeie werke gered kan word nie, net so dringend beklemtoon hy dat ons gered word sodat ons goeie werke in ons lewe sal doen.

Dink byvoorbeeld aan Paulus se brief aan Titus.

Eerstens: Ons is gered “nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming” – Titus 3:5.

En dan tweedens: “Hierdie woord is betroubaar, en ek wil hê dat jy met nadruk oor hierdie dinge praat, sodat hulle wat in God glo daarop bedag sal wees om hulle aan goeie werke toe te wy. Hierdie dinge is goed en voordelig vir die mense.” (vers 8) (Bybel Direkte Vertaling)

Paulus is nie skaam vir die oproep tot goeie werke nie.

Paulus is nie skaam vir die tien gebooie as reël vir ons dankbaarheidslewe nie.

Paulus is oortuig: hulle wat aan Christus behoort, het sy Gees ontvang, en is daarom in staat om vrug te dra.

So loop Paulus se brief aan Titus oor van oproepe om goed te doen.

Die woordjie ‘goed’ vind ons keer op keer in hierdie kort briefie terug.

Kom ek noem net ‘n paar:

Titus 1:8: ‘n Opsiener moet een wees wat die goeie liefhet.

Titus 2:3: Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is.

Titus 2:7: Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.

Titus 2:14: Jesus Christus is vir ons gegee om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Titus 3:1: Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk.

Titus 3:8: Die wat in God glo, moet sorg dra om goeie werke voor te staan; dit is wat goed en nuttig is vir die mense.

En dan Titus 3;14, die voorlaaste vers van die brief: Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.

Hoekom hamer Paulus dit so by Titus in, hierdie noodsaak om veral goed te doen?

Wel, dit is die enigste manier om die kwaad te oorwin.

“Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom. 12:21)

Christus het nie daarvan afgesien om goed te doen nie.

So het Hy aan die kruis die kwaad oorwin.

Die kruis was die ultieme simbool van God se goedheid.

Ons mag nou deur die krag van die kruis ‘n lewe lei van goed doen.

Ons stry die goeie stryd.

Die oorwinning van Christus gee ons die krag om goed te kan doen.

Deur in jou lewe goed te doen, op die plekkie waar God jou geplaas het, demonstreer jy die krag van die Evangelie.

Ons doen goed, beide as dit gewaardeer word of as dit jaloesie oproep.

Ons goed doen is nie berekend nie, maar dit is sonder kondisies.

Dit is puur.

‘n Pure vrug van die Gees van Christus.

Goed in die sin van goedhartig wees, vrygewig wees.

En goed doen in die sin van standvastig wees, onkreukbaar wees.

Mag jy en ek bekend staan as goeie mense by vriend en vyand.

Mag ons gemeentes bekend staan deur die goeie dinge wat ons doen by vriend en vyand.

Mag dit hulle daartoe bring om Christus te verheerlik, omdat sy Gees die vrug van goedheid in ons werk. 

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 86:3,8

Wet

Ps 25:4,5,6

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 20:1-16

Ps 61:2,3

Skriflesing: Titus 2:7-3:8

Ps 119:23

Teks: Galasiërs 5:22 (goedheid)

Preek

Ps 101:1,2,4,5

Gebed

Kollekte

Ps 103:2,9

Seën