Ontrouheid en soeke

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-05-03
Teks: 
1 Kronieke 10:13-14
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente(s) van Jesus Christus, ons Here,

Saul is dood. Hy het sy eie lewe geneem. Toe sy wapendraer hom nie wou doodmaak nie, moes hy dit self doen. Hoewel... ons teks sê ook nog iets anders. Ons teks sê dat die Here Saul doodgemaak het. Saul het homself dalk met sy swaard deurboor, maar ten diepste is dit die Here wat sy lewe geneem het. En ons teks gee ook die rede hiervoor: weens ontrou wat hy teen die Here begaan het, weens die woord van die Here wat hy nie gehou het nie. Hierdie aanklag vertel vir ons iets van Saul se lewe in die algemeen – hy was ontrou in sy verhouding met die Here, hy was ontrou binne die verbond deurdat hy nie na die woord van die Here geluister het nie. En dit is nie net Saul wat hiervan aangekla word nie – nee, ‘ontrouheid’ is een van die sentrale temas in die boek Kronieke. En hou dan in gedagte wat ek reeds gesê het: in die Hebreeuse Bybel is 1 en 2 Kronieke een boek, en daarby ook nog die laaste boek van die Hebreeuse Bybel. Dus, in die boek waarmee die Ou Testament afsluit (in die Hebreeuse Bybel, dis waar, maar dit moet vir ons ook van betekenis wees), is ontrouheid ‘n rooi lyn. Ontrouheid aan die woord van die Here.

En die gevolg van Saul se ontrouheid aan die woord van die Here, so wys ons teks vir ons, was dat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gaan vra het, en nie die Here geraadpleeg het nie. Dit vloei eintlik logies voort uit die voorafgaande – toe Saul nie meer na die Here geluister het nie, het hy ander middele gaan opsoek. Nou, ons ken hierdie geskiedenis, waarvan ons kan lees in 1 Samuel 28 – hoe Saul homself vermom het, en in die nag die towerheks van Endor gaan raadpleeg het. Hy was so desperaat om uit te vind wat in die oorlog teen die Filistyne sou gebeur, dat hy selfs bereid was om die risiko te neem om agter die linies van die Filistyne in te gaan om hierdie towerheks te gaan besoek – want dit is waar Endor gelê het: agter die vyandige linies. Hy moes in die nag om hulle heen sluip om by die dorp Endor uit te kom. So desperaat was hy! Maar hy moes eenvoudig uitvind wat hom te doen staan en wat die toekoms vir hom inhou! En in dit alles, sê ons teks, het hy nie die Here geraadpleeg nie. Ons kan selfs beter vertaal met: het hy nie die Here gesoek nie. Nog so ‘n sentrale tema in Kronieke – meer as veertig keer vind ons hierdie gedagte (‘om die Here te soek’) in die boek Kronieke. En deurgaans wys die Kroniek-skrywer vir ons wat die dramatiese gevolge is wanneer mense God soek of nie soek nie. Seën vir dié wat God soek; oordeel vir dié wat God nie soek nie. Saul het God nie gesoek nie, en die gevolg was die oordeel van die Here. Die Here het Saul doodgemaak.  

In sy kommentaar op die geskiedenis van Saul se dood in ons teks (verse 13 en 14), gee die skrywer van Kronieke – gelei deur die Gees! – dus vir ons twee temas, twee lyne, wat regdeur Kronieke voorkom en waarmee in die Hebreeuse Bybel die Ou Testament afgesluit word: die eerste lyn is dié van ontrouheid aan die woord van die Here; en die tweede lyn is dié van soeke na die Here. Hou dit vas, want ons gaan in die res van die preek daarop voortbou! Kom ons kom eers bietjie nader aan ons eie tyd...

 

In 1943 skryf die studente van prof. Klaas Schilder, teologie-dosent in Kampen, aan hom ‘n brief waarin hulle hom uitvra oor die toekoms van die kerke. En daar is goeie rede vir hierdie vraag. Dis immers in die middel van die Tweede Wêreldoorlog. Schilder self moes al wegkruip (onderduik) om aan die Nazis te ontkom. Die studente het uitmekaar gespat. En intussen verkeer die kerke in groot stryd – sowel teologies (dink aan die stryd rondom die Vrymaking) as maatskaplik (dink aan die hongersnood wat tydens die oorlog geheers het). Die vraag na die toekoms van die kerke is daarom nie ‘n vraag uit die bloute nie. En dan antwoord prof. Schilder die studente se bekommernis met hierdie kragtige uitspraak: kyk nougeset na die gebod van God en sien dan in die toekoms! Aan sy studente, vir wie die toekoms maar duister was, sê hy dus: kyk na die gebod van die Here, en dan sal julle deur die geloof ook weer uitsig kry op die toekoms. Daarmee het hy bedoel: wie trou luister na die Woord van die Here, weet waarheen die geskiedenis gaan.

Hoe staan dit met ons in hierdie opsig, broers en susters? Na wie luister ons in hierdie tyd? Na wie soek ons in hierdie tyd? En hoe kyk ons na die toekoms? Ek sal vir u sê wat ek sien... Ek sien Christene wat aan elke woord van Donald Trump hang – of hy nou beweer dat die pandemie binne enkele weke onder beheer sal wees, of dat hy insinueer om ontsmettingsmiddel in die liggaam in te spuit om daarmee die virus teen te gaan. Ek sien Christene wat hulle mening laat bepaal deur kenners op mediese gebied – waarvan sommige sê dat ons hier met ‘n katastrofe van Bybelse proporsies te make het, en waarvan ander sê dat dit glad nie so ernstig is as wat beweer word nie. Ek sien Christene wat onder die invloed staan van samesweringsteorieë oor wie hierdie pandemie laat ontstaan het – China, Rusland? Ek sien Christene wat om een of ander rede beter voel wanneer hulle ‘n kenner kan aanhaal wat beweer dat die owerheid besig is om hulle mag te misbruik en ons land in ‘n polisie-staat te verander. Ek sien Christene wat siener Van Rensburg en soortgelyke ‘sieners’ aanhaal omdat hulle sogenaamd sou voorspel het waardeur ons nou gaan. Ek sien Christene wat ons president ophemel, en ek sien ander wat hom verguis. Selde was die sosiale media so vol met mense – ook Christene, ons! – wat ten diepste smag na verstaan, na duidelikheid, na uitsig in hierdie onseker tyd. En dit is te verstane! Maar het ons in die proses nie dalk stil-stil, soos Saul, agter vyandige linies ingesluip om ons eie heks van Endor te gaan raadpleeg nie? Het ons nie elkeen dalk ons eie geeste by wie ons inligting vra nie? En het ons in dit alles nie dalk vergeet om trou te wees aan die Woord en die Here te soek nie? Saul se ondergang, wanneer ons dit in die geheel van die Skrif verstaan, is ‘n belangrike waarskuwing en ‘n dringende oproep vir ons as gelowiges in hierdie tyd. En daarom wil ek u nou saamneem deur die Skrifte om, in die lig van Saul se ondergang, te wys wat die weg is wat die Here vir ons gee, sodat ons as gelowiges kan sien in die toekoms!

 

Lees Deuteronomium 18:9-18

Dit is altyd weer ‘n indrukwekkende Skrifgedeelte om te lees! In verse 9-14, en in besonder in vers 11, vind ons as’t ware vir Saul terug. In hierdie verse sien ons voor ons geestesoog vir Saul daar by die heks van Endor. Saul, wat in 1 Samuel 28:3 pligsgetrou alle dodebesweerders en waarsêers uit die land verwyder het, maar wat vervolgens deur angs en desperaatheid gedryf word om presies dít op te soek wat hy sopas probeer uitroei het. Saul soek dít op wat die Here sy volk uitdruklik verbied het. En ons moet mooi verstaan, broers en susters, die Here verbied hierdie middele nie omdat dit sinneloos en oneffektief sou wees nie, asof dit nooit kan werk nie – o nee, hierdie middele kan werk! Maar die Here verbied dit omdat dit heidens is, en Hy ‘n gruwel daaraan het. Die Here wil nie hê dat sy volk hulle vertroue op hierdie heidense middele sal stel om insae in die toekoms te kry nie. Want die toekoms is nie in die hande van waarsêers of towenaars of die geeste van gestorwenes nie. Die toekoms – die geskiedenis – is in die hande van die Here alleen! Hy lei dit, Hy bestuur dit, en Hy vertel vir sy kinders alles wat Hy in sy wysheid meen dat hulle nodig het.

En daarom is vers 15 so krities belangrik in hierdie gedeelte. Vers 15 is die skarnier tussen die verbod in verse 9-14 en die oproep wat daarop volg. Teenoor die waarsêers en die towenaars stel die Here sy Profeet: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister!” Nie na die waarsêers en goëlaars en towenaars nie; nee, na die profeet moet julle luister! En dit verwys in die eerste plek na die hele profetiese diens wat ons deur die loop van die Ou Testament teëkom, vanaf Moses, via Elia, Jesaja, Maleagi, tot en met Johannes die Doper (die laaste profeet). Na al hierdie deur-God-gestuurde profete moet die volk luister. Maar ten diepste verwys vers 15 natuurlik na die Here Jesus Christus – Hy is by uitstek die Profeet uit die midde van sy broers. Die Here wys dus hier in Deuteronomium 18 nie slegs wat vir Hom ‘n gruwel is nie, maar Hy wys ook wat Hom behaag: hier is my Profeet, luister na Hom! Pragtig vind ons die vervulling van hierdie gedeelte in Deuteronomium 18 in Mattheus 17 – kom ons lees dit saam!

 

Lees Mattheus 17:1-9

Sien u dit? Moses en Elia, die twee grootste verteenwoordigers van die Ou Testamentiese profete – presies wat die Here in Deuteronomium 18 belowe het! – is hier in gesprek met Jesus. En dan nie met Jesus as mens nie, maar met Jesus as God! Immers, “sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig” (vers 2). Moses en Elia soek dus kontak met die Seun van God, hulle wil met Hom praat! Want Jesus Christus is die vervulling van die hele Ou Testamentiese profetiese bediening. Hy is die groot Profeet wat, volgens Sondag 12 van die Kategismus, aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het. Hy is die groot Profeet wat waarborg staan vir die vervulling van al God se beloftes! Hy is die groot Profeet wat nie net profeteer wat die Here vir Hom gee nie, maar wat self die heilsgeskiedenis in sy hande hou! Hoe weet ons dit? Wel, luister na die stem uit die wolk: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Mt. 17:5). Daar het ons dit weer! Eers Deuteronomium 18: “’n Profeet uit jou midde sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister!” En nou Mattheus 17: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Ja, luister na Hom!

Die dissipels, en in besonder Petrus, moes dít leer. Net voor die verheerliking op die berg wou Petrus niks hoor toe Jesus hulle van sy lyding en sterwe vertel het nie. Petrus het Jesus opsy geneem en Hom bestraf: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie” (Mattheus 16:22). Want wat sou ‘n dooie Jesus hulle kon help? Hulle het immers ‘n aardse koninkryk verwag, hulle het verwag dat Jesus die Romeine sou verdryf. Dit was wat die sosiale media van hulle dae gesê het. Ja, die dissipels het hulle ore uitgeleen aan die nasionale verwagtings van hulle dae, maar na Jesus se aankondigings oor lyding en sterwe wou hulle nie luister nie. En toe Moses en Elia met Jesus in gesprek was op die berg, het Petrus ook maar gesukkel om te luister; hy wou eerder hutte bou, asof hemelse heerlikheid ‘n dak vir die koue nodig het! En toe hulle ná die verheerliking van die berg afgedaal het, moes Jesus hulle beveel om niks hiervan te vertel nie totdat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het. Want Petrus en die ander het nog nie verstaan nie. Eers moes hulle leer luister; later sou hulle verstaan. Petrus vertel daarvan in sy twee brief.

 

Lees 2 Petrus 1:16-22

Petrus het leer luister. Hy het leer luister na die woord van die Here! Hy het die verheerliking van Jesus begin verstaan binne die geheel van die profetiese woord. En daarom roep hy sy lesers op om op hierdie woord ag te gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). En dit is die oproep – die oproep van Deuteronomium 18, waaraan Saul tydens sy lewe ongehoorsaam was... tot sy eie ondergang, en waaraan ons vandag herinner word. Die Woord, broers en susters, die Woord van Jesus Christus – dis waarna ons moet luister, in besonder in tye soos hierdie. In hierdie donker tyd waarin ons lewe is die profetiese woord die lamp wat skyn. Dit is hierdie lamp wat vir ons die pad na die toekoms wys; dit is hierdie lamp wat ons die toekoms laat sien! Dit is hierdie lamp wat die pad vir ons verlig. Elke tree, elke dag. Totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte, sê Petrus. Dus, tot op die laaste dag, totdat Christus – die môrester! – terugkom, is hierdie Woord die kompas waarby ons behoort te lewe. Daarin hoor ons die stem van die profete, daarin ons die stem van ons hoogte Profeet en Leraar. Dit is waarna ons moet luister, dit is waarna ons moet soek.

Saul het die woord van die Here nie gehou nie; hy was ontrou. En dit het hom gedryf om sy houvas te soek in persone en middele wat die Here uitdruklik in sy wet verbied het. Laat ons leer uit sy val. Die toekoms is nie te vinde by die leiers van hierdie wêreld nie, ook nie by die mediese of ekonomiese kenners nie, ook nie by die sieners en voorspellers nie. Die toekoms is in die hande van ons groot Profeet, Jesus Christus. Luister na Hom! Ook al lyk dinge baie duister op hierdie stadium. Ook al weet ons nie of dinge ooit weer na normaal sal terugkeer nie. Ook al wonder ons hoe ons die volgende maand gaan oorleef. Jesus Christus vertel vir ons van sy werk aan die kruis in die volheid van die tyd, Hy vertel vir ons van sy Vader in die hemel wat sorg, Hy vertel vir ons van die groot toekoms waarheen sy kinders oppad is. Luister na Hom, en dan kan jy sien in die toekoms!

 

En dit is wanneer ons na Jesus Christus luister – en nie ons ore uitleen aan die leiers en medici en nuusagentskappe van hierdie wêreld nie – dat ons ook werklik iets het om vir die wêreld te vertel. Dit is die opvallende by mense wat hulle eie heks van Endor gaan opsoek – hulle raak dikwels die mees dwase dinge kwyt. Hulle maak stellings waarvoor daar geen begronding is nie, hulle voorspel dinge waarvan hulle niks weet nie, hulle beskuldig ander sonder bewyse, hulle roep uit om gehoor te word... want hulle weet nie. As jy die heks van Endor raadpleeg – dus, as wêreldleiers en kenners en nuusagentskappe en die meningsvormers van hierdie wêreld en die sosiale media en die Huisgenote van hierdie wêreld (of watter heks van Endor jy ook al raadpleeg!), as dít die bron van inligting is waarop jy bou – dan moet jy nie verbaas wees as jy dwase dinge kwytraak nie. Wees daarom asseblief beskeie in dié sake waarvan ons eintlik bittermin weet, en waaroor die Here ons baie min geopenbaar het.

Maar wanneer ons na Jesus Christus, ons groot Profeet, luister, dan het ons self ook ‘n egte boodskap. En dit is, soos Petrus in vers 16 sê, nie kunstig verdigte fabels nie (2 Pet. 1:16), maar dit is die krag en die koms van ons Here Jesus Christus. Wanneer ons mooi na ons Profeet geluister het, dan mag ons self ook profeteer, dán het ons reg van spreke – die heerlike boodskap van die evangelie van Jesus Christus. Kom ons ondersoek daarom in hierdie tyd na wie ons luister en wie ons raadpleeg, en na wie ons soek. En kom ons luister baie fyn na die Woord van die Here, na ons Profeet, sodat ons ‘n boodskap het vir die mense om ons heen. En gaan dan uit – binne die grense wat die regering toelaat, uiteraard – en gaan basuin daardie boodskap vanaf die dakke en op die strate.  

----------------

Ons gaan nog een keer terug na ons teks...

Saul is dood. Die Here het hom omgebring – oor sy ontrou en omdat hy die Here nie gesoek het nie. En dan lees ons ten slotte in ons teks: “en die Here het die koningskap laat oorgaan op Dawid, die seun van Isaï. Die Here neem die koningskap van Saul weg, en Hy gee dit aan Dawid en sy nageslag. En wanneer ons vanaf hierdie laaste boek van die Ou Testament (in die Hebreeuse Bybel) oorspring na die eerste boek van die Nuwe Testament, Mattheus 1, dan sien ons hoe Mattheus die lyn van Dawid volg, via die Babiloniese ballingskap, tot by Jesus Christus. Hy is naamlik die ewige Koning op die troon van sy vader Dawid. Hy is waardig, volgens Openbaring 5, om die boek te neem en oop te breek – die boek van toekoms en verlede (soos wat ons sing in Skrifberyming 8). Hy is waardig, Hy alleen, omdat die werk volbrag is, toe Hy as offer vir ons sondeskuld geslag is. Die boek van verlede, hede en toekoms is veilig in sy hande. Die hele geskiedenis is veilig by Hom. Lees daarom jou nuus, sien wat aangaan in die wêreld, maar doen dit altyd in getrouheid aan die Profeet en Koning, ons Here Jesus Christus. Laat die lig van sy profetiese woord – wat ons lei vanaf die begin tot by die voleinding en elke tree tussen-in – laat daardie lig ons help om al die stemme wat op ons af kom, te evalueer en te beoordeel en, indien nodig, te weerlê.

Dit is goed, broers en susters, om te lewe onder hierdie Profeet en Koning. Want dit beteken dat ek nie meer heen en weer gedryf hoef te word deur al die opinies en krete en doemdenke nie. Ek kan my siel tot bedaring bring wanneer ek Hom opsoek en na sy Woord luister. Dan mag Saul dalk dood wees, maar ek mag lewe. Onder my Koning, en nie onder die heks van Endor nie.

Amen.

Liturgie: 

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 146:1

Gebed

Lees: 1 Kronieke 10:1-14 (in Hebr. Bybel is dit laaste boek, en 1 & 2 Kron is een boek)

Sing Ps. 89:8 en 14

Teks: 1 Kronieke 10:13-14

Preek

Amenlied Skr. 8:1 en 2

Gebed

Geloofsbelydenis (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 146:2, 3, 4 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.