Vanaf die aarde klink die noodroep: My God, my God. Vanuit die hemel is daar verhoring.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-04-10
Teks: 
Psalm 22
Preek Inhoud: 

Psalm 22 begin met die herhaalde uitroep: My God, my God!

Hierdie woorde is tot op die dag van vandag seker die mees gebruikte uitroep in tye van nood en rampe.

Sommige mense gebruik dit as leë stopwoorde O my God! en laster dan eintlik sy heilige Naam.

Maar is dit nie so: elke keer as mense – of hulle nou gelowig is of nie – oog en oog kom met ‘n verskriklike ramp, of verskriklike nuus ter ore kom, dat hulle eerste neiging is om uit te roep:

My God, o my God!

In hierdie uitroep klink wanhoop.

In hierdie uitroep klink die mens se nietigheid.

Dat die mens weerloos staan teenoor dit wat gebeur.

Dat die mens opkyk na God as enigste wat iets sal kan doen.

Ek dink hierdie uitroep tot God het die laaste weke dikwels geklink te midde van die huidige Corona Pandemie.

By die sien van hoe die besmettinge en sterftes eksponensieel toeneem.

By die magteloosheid wat dokters en verpleegsters ervaar, omdat die hospitale nie genoeg beddens en ventilators het om die siekes te help nie.

 

Tema: Vanaf die aarde klink die noodroep: My God, my God. Vanuit die hemel is daar verhoring.

  • Dawid se noodkreet en verhoring
  • Christus se noodkreet en verhoring

 

  • Dawid se noodkreet en verhoring

In Psalm 22 klink ook hierdie noodroep: My God, my God!

Bo aan staan dat dit ‘n Psalm van Dawid is.

Die historiese omstandighede word nie vermeld nie.

By ander psalms word dit soms wel genoem, byvoorbeeld Ps 3 toe Dawid op die vlug was vir sy eie seun.

By hierdie psalm word dit egter nie vermeld nie.

Wat wel duidelik is, is dat Dawid in geweldige nood verkeer het.

Maar watter nood word nie eksplisiet gemaak nie.

Die psalm is boordevol beeldspraak en vergelykings.

Dit kon die nood van siekte gewees het, siekte van ‘n koning gee dikwels aanleiding tot spot, tot leedvermaak, tot intriges.

Die nood kon bedreiging deur ‘n vyand gewees het.

Die nood kon ook ‘n psigiese depressie gewees het.

Uit meerdere psalms van Dawid kan mens dinge aflei wat ons vandag as simptome van ‘n depressie sou beskryf.

Die nood kon ook ‘n kombinasie van bogenoemde dinge gewees het.

Soos ons uit Dawid se lewensgeskiedenis weet, was daar meerdere situasies waar die nood hoog gestyg het.

 

Nou bestaan die psalm globaal uit twee dele.

In die eerste deel, tot en met vers 22 kla Dawid oor sy nood.

Hierdie eerste deel kan ook nog onderverdeel word.

Eerstens kla Dawid dat God hom verlaat het.

En tweedens beskryf hy hoe vyandig die mense hom behandel.

Die tweede deel van die psalms beskryf vervolgens die versekering wat hy opnuut gekry het, dat die HERE wel naby is, en dat Hy wel sal uitred, en hoe hy die HERE daarvoor sal dank.

Saam vorm hierdie twee dele ‘n geweldig indrukwekkende gedig.

Eerstens die aangrypenste klaagtone, tweedens die heerlikste lofsange.

 

Die Psalm begin direk met ‘n noodkreet.

My God, my God, waarom het u my verlaat?

Te ver om my te help.

So ver om nie eers my gebrul te hoor nie – dit is sterk woorde!

Dawid roep dag en nag, maar God antwoord nie.

Wat hierdie noodkreet nog aangrypender maak, is dat hy heeltyd praat oor my God.

Dawid wy ook uit oor sy verlede.

Van die moederskoot af was dit al my God.

Hy gebruik dit as ‘n aanklag teen God:

U is altyd al my God gewees.

U is tog die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!

Ons vaders kon tog op U vertrou!

Toe hulle U aangeroep het, het u uitredding gegee.

Hoekom los u my dan nou uit?

 

Dit is die refrein wat meer as een keer terugkom in hierdie psalm.

Dat God te ver is.

Dat God Hom verlaat het.

En Dawid se oproep: wees tog asseblief nie ver van my af nie.

Veral in my huidige omstandighede nie!

 

Dawid noem homself dan ‘n wurm.

Of hy hierdie gebruik as ‘n beeld van hoe nietig ja hoe afskuwelik sy situasie nou is, of dat hy bedoel om te sê dat sy liggaam al so goed as dood is, al deur wurms verteer begin word, die beeld is duidelik en grafies.

Ek is ‘n wurm en geen man nie.

Verag deur mense.

Almal wat Dawid sien, spot, steek die lip uit – ‘n uitdrukking vir baie sterk publieke veragting.

En hulle skud die hoof:

Laat die HERE hom maar bevry, Hy het mos behae in Hom.

Hierdie bedoel sy vyande nie ernstig nie, maar sarkasties.

 

Dawid omskryf sy nood in beeldende terme, en dan maak hy veral gebruik van diere.

Hy vergelyk sy vyande met gevaarlike diere.

Stiere van Basan.

Basan was ‘n gebied met baie vrugbare grasvelde.

En die buffels van Basan het daarom bekend gestaan vir hulle krag.

Die grootste buffels het mens in Basan aangetref.

Hoe hierdie stiere presies gelyk het, weet ons nie, maar om ‘n indruk te kry van wat Dawid bedoel, kan ons dit die beste vergelyk met die buffels wat ons hier in Suid-Afrika het.

Een van die gevaarlikste diere, nie verniet een van die big five nie.

En wat tipies van die gedrag van buffels is, beskryf Dawid ook hier:

Hulle het my omring.

‘n Trop buffels gaan staan tipies in ‘n kring om hulle vyand dan by te kom, met hulle horings te gaffel.

Dalk het u dit al ‘n keer in die wildtuin gesien, of op ‘n film.

Buffels sal selfs in ‘n kring om ‘n leeu gaan staan en dan met hulle horings rondgooi.

Sulke gedrag van stiere of buffels het Dawid ook gesien, toe hy as skaapherder dae lank in die natuur deurgebring het.

 

‘n Leeu op sig is ook al ‘n vreesaanjaende dier.

Ook die leeu gebruik Dawid as beeld van die gevaar wat hom bedreig.

Soos ‘n nagmerrie waarvan mens wakker word, as ‘n leeu met oopgesperde mond bo op jou staan.

‘n Leeu wat verskeur en brul.

 

Nog ‘n skrikaanjaende dier wat noem Dawid, vers 17, is honde.

Nou ken ons honde deesdae as troeteldiere.

En al weet ons nog steeds al te goed dat honde ook lelik kan byt, is honde deesdae tog lank nie so vreesaanjaend soos vroeër nie.

Honde was vroeër nie troeteldiere nie, maar wild.

Hulle het in troppe veral rondom die stede geswerf.

Saans het hulle in die stede ingekom om te soek na afval om op te vreet, afval wat die mense op die strate gegooi het.

Honde het ook hulle prooi omsingel en dan saam doodgebyt.

Dink maar aan die gedrag van wat ons vandag ken as wilde honde.

Soms het honde mense ook aangeval, byvoorbeeld boemelaars wat op die straat lê en slaap het.

Daarmee vergelyk Dawid homself.

Vers 17: honde het my omsingel en my hande en voete deurgrawe.

Hierdie vertaling is bietjie verwarrend.

Die oorspronklike teks verwys daarna dat die honde met hulle skerp tande Dawid se hande en voete gebyt het.

So het dit soms gebeur, vroeër, as ‘n weerlose siek mens aan die kant van die pad gelê het.

Dan het die honde hom as ‘n prooi geïdentifiseer.

In ‘n kring om hom heen gaan staan en vennynig vinnig nadergekom en gebyt.

 

Buffels, leeus, honde, drie tipiese diere waaroor mense vroeër nagmerries gekry het.

Dawid vergelyk sy vyande met hulle, hoe hulle sy nood aangryp om daaruit munt te slaan.

En sy nood is erg.

Hy is soseer uitgeteer of uitgehonger dat mens al sy bene deur sy lyf kan sien en tel.

Sy tong kleef aan sy verhemelte, gevolg van iemand wat dae en dae gehuil het en nie meer trane oor het nie, van binne drooggehuil is.

My krag verdroog soos ‘n potskerf.

En wat vir Dawid die pynlikste is, is hoe hulle spot oor sy God.

Sy God wat hy altyd so trou gedien het, maar wat hom nou oënskynlik in die steek gelaat het.

Dis vir hom die ergste.

 

Maar dan, in die tweede deel van die Psalm, is daar ‘n ongekende wending.

Dit skets vir ons ‘n situasie waar Dawid saam met sy geloofsgenote die HERE uitbundig prys vir sy uitredding.

‘n Oproep: Prys Hom, julle wat die HERE vrees.

Al die nakomelinge van Jakob en Israel, vereer Hom, vrees Hom.

En as motivering vir die oproep:

Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag nie

Hy het sy aangesig nie verberg nie.

Hy het gehoor toe Hy aangeroep is om hulp.

 

Daarna spreek Dawid sy voornemens uit (vanaf vers 26):

  • Eers persoonlik:

    • Ek sal u loof in ‘n groot vergadering.
    • Ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.
  • En dan kollektief:
    • Die ootmoediges sal die HERE prys
    • Al die eindes van die aarde sal hulle tot die HERE bekeer
    • al die geslagte van die nasies voor sy aangesig aanbid

Met as motivering: Want die koninkryk behoort aan die HERE, Hy heers oor die nasies.

Vanaf vers 30 gee Dawid ‘n vooruitskouing:

Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid.

Almal wat in die stof neerdaal sal kniel, ook hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.

‘n Nageslag sal Hom dien, dit sal vertel word aan die volgende geslag.

Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig, aan die volk wat nog gebore moet word.

Want Hy het dit gedoen.

So loop Dawid se noodkreet uit op ‘n loflied vir God se verhoring.

Na ‘n geweldige diep dal, staan Dawid nou op ‘n bergtop en het hy weer perspektief in sy lewe.

Geliefdes, verkeer ons nie tans ook in soortgelyke tye nie?

Ons beweeg deur die dal van doodskaduwee.

Maar terselfdertyd ervaar ons hoe die HERE ons optel tot bo-op asemerowende bergtoppe, en ons ongekend wydse perspektiewe gee!

 

(Tema: Vanaf die aarde klink die noodroep: My God, my God. Vanuit die hemel is daar verhoring.

  • Dawid se noodkreet en verhoring)

 

 

2             Christus se noodkreet en verhoring

Psalm 22 is ook baie prominent aanwesig in die Nuwe Testament.

Veral in die geskiedenis van Jesus Christus se lyde en kruisiging.

Jesus se kruiswoorde kom direk uit Psalm 22.

En ook ander dinge wat op daardie dag gebeur het, het ‘n direkte konneksie met Psalm 22.

Die evangeliste maak ons daarop attent.

Soos die klere van Jesus wat verdeel is en waaroor daar die lot gewerp is – Ps 22:19.

 

Dit bring ons by die punt hoe hierdie psalm in Christus vervul is.

Het Dawid in hierdie psalm ook oor Christus geprofeteer, of was hy net besig met sy eie omstandighede?

Daar word soms onderskeid gemaak tussen ‘n sogenaamde indirekte Messiaanse profesie en ‘n direkte Messiaanse profesie.

‘n Indirekte profesie sou dan wees dat die psalm eers van toepassing was op Dawid se eie lewe, maar dat dit later ‘n nuwe betekenis gekry het in dit wat met Christus gebeur het.

En ‘n direkte profesie sou dan wees dat die psalm glad nie primêr op Dawid se eie lewe en omstandighede kon gedui het nie, en dus van begin af bedoel was as ‘n heenwysing na die Messias.

So noem eksegete byvoorbeeld dat die laaste gedeelte van Psalm 22 ‘n direkte Messiaanse profesie moet wees.

Waar ons lees dat die eindes van die aarde, ja al die geslagte van die nasies hulle tot die HERE sal bekeer en Hom sal aanbid.

Dat al die grotes van die aarde Hom sal aanbid.

Dit is iets wat nie in Dawid se tyd gebeur het nie.

Al was daar internasionaal gesproke ook uit ander lande eerbied getoon vir Dawid se koningskap en vir die God wat hy gedien het, was dit tog by verre nie op die skaal wat hierdie psalm beskryf nie.

Wat daar staan, laat mens eerder dink aan dit wat na Pinkster begin gebeur het.

 

Is Psalm 22 nou ‘n direkte of indirekte profesie?

Dit is ‘n groot teologiese diskussie, wat veral opgelaai het by die nuwe omdigting van die psalms ‘n aantal jare gelede, die sogenaamde Cloete omdigtings.

Hoe moet ons Psalm 22 interpreteer?

Hoe moet ons dit vandag in die Nuwe Testamentiese tyd lees?

Kan mens praat oor ‘n primêre en sekondêre eksegese?

Wat is dan primêr, en wat is dan sekondêr?

Is die uitleg wat op Dawid en sy omstandighede van toepassing is, primêr, of dit wat met Christus gebeur het?

 

Gemeente, nie net in ons tyd nie, maar deur die eeue heen was die uitleg van Psalm 22 ‘n omstrede saak.

Dit het al begin in die groot debatte in die vroeë kerk tussen die Jode en die Christene.

In sommige ou manuskripte van Psalm 22 het die Jode selfs die teks verander, met die bedoeling om dit vir die Christene moeiliker te maak om te argumenteer dat hierdie Psalm op Christus dui.

Calvyn noem in sy kommentaar dat die Jode die oorspronklike teks korrup gemaak het.

Deur een letter in vers 17 te verander, kon hulle dit regkry om die vers se betekenis te swaai.

Oorspronklik het daar gestaan dat Dawid se hande en voete deursteek of deurboor is.

Ek het vroeër in die preek daarna verwys, naamlik dat die wilde honde met hulle skerp tande deur sy hande en voete gebyt het.

Maar die Jode het deur een letter te wysig, die woord deursteek of deurboor verander na omring of teister.

Hoekom het die Jode dit gedoen?

Omdat die Christene hierdie vers as ‘n profesie van Christus se kruisiging gesien het.

Juis daardie woord deursteek of deurboor het gedui op wat met Christus se hande en voete aan die kruis sou gebeur.

Die soldate het sy hande en voete deurboor toe hulle groot spykers daardeur gekap het.

 

Daar is nog so ‘n voorbeeld uit die geskiedenis waar in Joodse manuskripte bewus ‘n woord verander is, om daardeur te probeer voorkom dat die Christene die Ou Testament kon gebruik as bewys dat Jesus die Messias is.

In Jesaja 7:14 is daar die bekende profesie: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem.”

In sommige Joodse manuskripte van Jesaja is die woord maagd vervang met ‘n ander woord, ‘n woord wat ‘n vrou meer in die algemeen aandui, nie spesifiek ‘n maagd nie.

Dit het hulle gedoen om te probeer voorkom dat die Christene hierdie as ‘n profesie vir die maagd Maria sou gebruik.

 

So het dus, juis deur die koms van Christus en wat daar op aarde met Hom gebeur het, en deur die feit dat Hy selfs aan die kruis woorde uit Psalm 22 gebruik het, hierdie Psalm in die spervuur beland van die groot debatte in die kerkgeskiedenis deur die eeue heen.

 

En dit geld vir vandag nog steeds.

Die vrysinnige teologie keer byvoorbeeld die saak heeltemal onderstebo.

Net vir die rekord: In die vrysinnige teologie word Christus se opstanding ontken, asook dit wat rondom sy kruisiging gebeur het.

Volgens hulle het die evangeliste, Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes, hulle eie storie opgemaak.

Hulle het ‘n mooi storie met ‘n diep betekenis uitgedink, versin, en dit as die evangelie opgeskryf.

En om die mooi storie te skryf, het hulle toe gebruik gemaak van elemente uit Psalm 22.

Dinge wat nie noodwendig gebeur het nie, het hulle in hulle verhaal laat gebeur, asof dit presies in lyn was met Psalm 22.

Soos byvoorbeeld sy hande en voete wat deurboor is.

Soos sy klere waaroor die soldate die lot gewerp het.

Dit het nie werklik gebeur nie.

Maar omdat daar soiets oor Dawid in Psalm 22 staan, het die evangeliste iets soortgelyks oor Jesus versin en opgeskryf.

Verstaan u wat ek bedoel, dat die vrysinnige teologie die saak heeltemal onderstebo keer.

Die beste antwoord wat mens op hierdie onsin kan gee, is die woorde van die apostel Petrus:

“Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” - 2 Petrus 1:16.

Dit is wat die vrysinnige teologie die apostels en evangeliste in die skoene skuif: asof hulle kunstig verdigte fabels uitgedink het, en dit met gebruikmaking van Psalm 22.

Maar Petrus se woorde is soos ‘n koue stort oor die vrysinniges se redenasies.

 

Maar behalwe vir hierdie ekstreem vrysinnige denkbeelde, is daar ook meer gematigde benaderings.

Daar is diegene wat sal benadruk dat die primêre eksegese van Psalm 22 die historiese omstandighede van Dawid is, dis nou as hulle Dawid erken as die outeur van hierdie psalm.

Hulle argumenteer, dat wil mens reg doen aan hierdie psalm, mens daardie eksegese moet handhaaf, sonder om Christus daarby te haal.

Die sogenaamde vervulling van die Psalm in Christus is dan net ‘n latere toevoeging, oftewel ‘n herinterpretasie van hierdie Psalm.

Hierdie benadering lê byvoorbeeld ten grondslag aan die omdigting van TT Cloete, aan die hand van die 1983 Bybelvertaling.

Maar gemeente, hierdie op die oog af meer gematigde benadering, is aan die einde van die dag ook net so gevaarlik.

Ek het vroeër in die preek gevra: wat is eintlik die primêre en wat die sekondêre eksegese?

Eintlik is dit ‘n valse dilemma.

Mens behoort nie van primêr en sekondêr te praat nie.

Dit is ook nie òf – òf nie, maar én – én.

Calvyn verwoord dit mooi as hy skryf: Hoewel Dawid hier kla oor sy eie nood, is hierdie psalm gedig onder die invloed van die Gees wat geprofeteer het oor Dawid se Koning en HERE.

Die vraag watter dinge in hierdie psalm Dawid bewus oor homself en sy situasie geskryf het, en by watter dinge hy nie aan homself gedink het, maar aan ‘n toekomstige Messias, daardie vraag sal ons nooit volledig kan beantwoord nie.

Ons sal nie kan sê: in hierdie vers praat Dawid bewus oor homself, maar in hierdie ander vers dink Dawid aan die Messias.

Dis nie òf-òf nie, maar én-én.

Alles in hierdie psalm het te make met Dawid sy historiese omstandighede.

Maar alles in hierdie psalm het ook te make met Christus en sy koms.

Dawid het in sy omstandighede ook gelewe met die toekomstige Messiasverwagting.

Maar bo wat Dawid wel of dalk nie besef het nie, daarbo uit het die Gees van Christus deur hom gespreek.

 

Wat baie help, is om te besef dat Dawid maar net ‘n mens, ‘n skepsel soos elkeen van ons was.

Alles wat Dawid was en waartoe hy instaat was, het hy in geval aan sy Skepper te danke gehad.

En alles wat Dawid opgeskryf het in sy Psalms, het hy nie aan sy eie insigte te danke gehad nie, maar slegs danksy die feit dat hy met die Gees van God gesalf was.

Ja die Gees het in hom gewerk.

Die Gees, wat die Gees van Christus is, het gesorg dat hierdie Psalms tot stand gekom het.

Eintlik moet mens dus nie net sê: Psalm 22 is ‘n psalm gedig deur Dawid wat in Christus tot vervulling gekom het nie.

Eintlik moet mens nog meer spesifiek sê: Psalm 22 het tot stand gekom deur die Gees van Christus.

Christus is die eintlik digter van hierdie psalm.

Hy het Dawid daarvoor ingespan, maar Christus het gesorg dat daar oor die toekomstige heilsfeite aangaande sy Middelaarswerk in hierdie psalm geprofeteer word.

En daarom, ja beslis verwys vers 17 na Jesus se hande en voete wat deurboor word, net soveel as wat dit verwys na Dawid se nagmerrie dat honde in ‘n kring om hom staan en vennynig na sy hande en voete byt.

En beslis profeteer vers 19 oor die soldate wat Jesus gekruisig het, en oor sy klere die lot gewerp het, net soveel as wat Dawid gevrees het dat sy vyande dit met hom sou doen.

En as Jesus aan die kruis uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat, dan gebruik Hy nie net Dawid se woorde nie, maar ook sy eie woorde uit Psalm 22!

In Dawid se geval was dit ‘n eksistensiële angs dat God hom in sy benaderde omstandighede sou verlaat.

In Christus se geval was dit werklik so dat God Hom aan die kruis verlaat het.

En wat so pynlik is, is dat net soos in Dawid se geval, die mense daarmee spot.

Kom ons wag en sien, Hy het sy God immers aangeroep.

Kom ons wag en sien of Hy Hom van die kruis sal kom afhaal!

Maar God het nie.

En juis daardie besef dat Hy deur God se bepaalde raad en voorkennis oorgelewer en gekruisig is, juis dit was die pynlikste.

 

God se raad kan nie gekeer word nie.

En gelukkig het God se raad daar nie geëindig nie.

Daarom was daardie geweldige wending in Psalm 22 moontlik.

Want God het sy Seun weer uit die dood opgewek!

En as Psalm 22 eindig met die indrukwekkende vooruitsig dat die eindes van die aarde hulle tot die HERE sal bekeer, en alle komende geslagte sy geregtigheid sal verkondig, dan is dit die gevolg van die feit dat die HERE sowel Dawid nie verlaat het, en ook sy eie Seun nie vir altyd in die steek gelaat het nie, maar Hom op die derde dag in heerlikheid opgewek het.

En vers 31 van hierdie psalm word in ons dae vervul:

‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word aan die volgende geslag.

Ons vier vandag dit waaroor Psalm 22 geprofeteer het.

Ons vier Christus se kruisdood, omdat dit vir ons geregtigheid gebring het.

En ons verkondig dit vir die volgende geslag, ja vir die hele wêreld.

Meestal kom ons daarvoor op Goeie Vrydag in die kerk bymekaar.

Tans met die Corona Pandemie is dit nie moontlik nie.

Maar die verkondiging gaan voort, met gebruikmaking van digitale media.

Ons verkondig en ons besing vanuit ons huise dit wat die HERE gedoen het.

Met hierdie woorde eindig Psalm 22:

Want Hy het dit gedoen!

‘n Kort kragtige no-nonsense sin waarmee Dawid, ja waarmee Christus, sy Psalm afsluit.

Hy het dit gedoen.

Die HERE het dit reggekry!

En daarom aanbid al die geslagte van die nasies Hom.

Ook ons aanbid!

En die aanbidding sal voortgaan tot die dag dat Hy terugkom in heerlikheid.

En hulle wat voor die tyd deur Hom weggeroep word, hulle gaan voort om Hom te aanbid en te prys voor sy hemelse troon.

Juis in hierdie dae, waarin geliefdes van ons weggeneem is, mag ons des te meer die eenheid tussen hemel en aarde ervaar.

Saam vertrou ons op Christus, saam loof ons Hom, die kerk op aarde en die kerk in die hemel.

Saam sing ons:

“Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb. 5:12-13)

 

Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën
Ps 22:1
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 27:32-56
Sb 6:1,4
Skriflesing: Johannes 19:23-24
Sb 6:5,6
Teks: Psalm 22
Preek
Ps 22:3,5,9
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Kollekte
Ps 22:10,12
Seën