As elkeen die plaag van sy hart ken

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-03-15
Teks: 
1 Konings 8:37-40
Preek Inhoud: 

Dit gebeur nie dikwels dat die kerkraad bekommerd is dat daar dalk te veel mense kerk toe gaan kom nie.

Normaalweg is die kerkraad baie bly as daar groot hoeveelhede mense kerk toe kom.

Hoe meer, hoe beter.

As gevolg van die Coronavirus moes die kerkraad egter nou besluit om die mense te vra om asseblief net een keer per Sondag kerk toe te kom.

Sommige mense word selfs deur die kerkraad aangeraai om glad nie kerk toe te kom nie.

Wat dink u, wat dink jy daarvan?

Sê nou maar na vandag, die eerste Sondag met hierdie baie ongebruiklike situasie, sê nou maar na vandag blyk dat daar nog steeds te veel mense kerk toe kom, en dat daar meer as 100 mense in die kerk sit.

Sê nou maar die kerkraad sal dan vir u die vraag vra: Steek net asseblief julle hande op, wie van julle wil nie kerk toe kom nie?

Gaan jy die eerste wees om jou hand op te steek?

Of gaan jy hoop daar is genoeg ander wat hulle hande opsteek, omdat jy eintlik baie graag kerk toe wil kom?

Is die uitbreek van die Corona Pandemie vir jou ‘n groot teleurstelling, omdat dit nou beperkings plaas op jou kerkbesoek?

Of is jy eintik diep in jou hart bly, want nou hoef jy maar net een keer per Sondag kerk toe te kom, sonder om skuldig te voel en sonder dat iemand jou dalk skeef gaan aankyk.

 

Tema: As elkeen die plaag van sy hart ken

 

‘Proudly made in China’.

Dit is wat ek nou die dag hoor oor die Coronavirus.

Soos ons weet het die Corona Pandemie in China begin, in die stad Wuhan, ‘n miljoenestad waar die meeste van ons ‘n paar maande gelede nog nie geweet het dat dit bestaan nie.

Daar het die virus op een of ander manier oorgespring vanaf diere na mense.

Die eerste gevalle word terugherlei na ‘n seekosmark in die stad, waar ook lewendige diere verkoop is.

Dit is duidelik, die oorsprong lê in China.

 

Daar is nog ‘n uitdrukking wat mens van tyd tot tyd hoor, en dit is ‘Chinese junk’, verwysende na die feit dat produkte in China vervaardig nie altyd van ‘n hoë kwaliteit is en nie lank hou nie.

Kom ons hoop dit is ook met die Coronavirus die geval, al kan op hierdie stadium niemand die toekoms voorspel, hoe lank hierdie virus, wat nou soos ‘n veldbrand oor die aarde versprei, met ons gaan wees nie.

 

Moet ‘n mens nou vir China die skuld gee vir hierdie krisis wat by hulle ontstaan het, en ondertussen ‘n wêreldwye krisis geword het?

Moet ons ons meng in die sogenaamde ‘blame game’, om ‘n skuldige te soek vir ‘n ramp wat min mense onberoerd laat?

Geliefde gemeente, ons kom vandag kerk toe, en sommiges luister oor die internet of lees die preek van papier af, juis om ons gedagtes, ja ons harte, op te hef na die hemel, juis om die perspektief te kry wat God vir ons gee, juis ook in sulke tye van wêreldrampe.

God het sy Woord gegee as ‘n lig op ons pad, ook deur donker tye heen.

En juis in die teks van vandag gee die Here vir ons ‘n geweldige perspektief!

Vandag se teks spreek ook tot die situasie waarin die wêreld in die jaar 2020 so onverwags verseild geraak het.

Vandag se teks blyk ongekend aktueel te wees.

 

Die konteks van vandag se teks is dat dit kom uit ‘n gebed wat Salomo namens die hele volk Israel gebid het op die dag van die inwyding van die tempel.

Nadat sy pa, koning Dawid, geld en skenkings begin insamel het vir die bou van die tempel, het sy seun vervolgens die bou van die tempel voltooi.

Mens kan in die Skrif lees watter indrukwekkende gebou dit geword het.

Nie net wat betref hoe groot dit was nie, maar ook wat betref die kwaliteit materiale wat gebruik is.

Goud en koper, die beste soorte hout beskikbaar.

Geen koste nog moeite is gespaar nie.

Ook artistiek was die tempel van die hoogste kwaliteit.

Ek kan my voorstel dat die dag van die inwyding ‘n uitsonderlike dag was.

Duisende der duisende mense het dit bygewoon.

Dit was ‘n hoogtepunt in die volk Israel se geskiedenis.

En Salomo en almal wat daarby betrokke was, kon met reg trots wees op hierdie prestasie.

Daardie dag is daar verskeie offers gebring by die splinternuwe tempel, en dan vervolgens gaan Salomo die volk voor in ‘n uitgebreide gebed aan die HERE.

 

Ons het daardie gebed gelees, en wat die meeste opval, is dat in hierdie gebed daar glad nie ‘n toon van trots is nie.

Behalwe vir ‘n toon van dankbaarheid, is daar veral ook ‘n toon van inkompetensie, ‘n besef dat hierdie skitterende tempel eintlik onvoldoende is.

Ek dink aan die volgende woorde van Salomo:

“Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” (1 Kon 8:27)

In teenstelling tot die heidene, het Salomo besef hy kan nie vir God omkoop met ‘n asemrowende mooi tempel nie.

Dit was dan ook nie die rede vir die feit dat die tempel so mooi en duur was nie.

Al daardie goud en geskenke wat Dawid, Salomo en die volk gebring het om die tempel te bou, was nie bedoel om God om te koop nie, maar was om hulle dankbaarheid te wys, vir ‘n God wat genadiglik Homself met hulle bemoei het, met hulle ‘n verbond gesluit het, in hulle midde wou woon, aan hulle sy wet gegee het.

So die feit dat die HERE se teenwoordigheid met ‘n wolk in die tempel ingetrek het, dit was net genade.

Dit was ‘n ongekende voorreg.

En al die skatte en gawes waarmee die tempel gebou is, het in elk geval reeds aan God behoort, en die volk het dit net uit dankbaarheid aan Hom teruggegee.

Alles behoort in elk geval aan Hom.

Hy regeer nie net oor Israel nie, maar oor die hele wêreld.

Niks gebeur buite sy wil om nie.

Niks is toevallig nie.

 

In hierdie totale afhanklikheid nader Salomo nou in gebed tot die HERE.

En in sy gebed blik Salomo die toekoms in.

Hoe sal dinge in die toekoms gaan vir sy volk?

En dan spreek die besef uit sy gebed dat alles in God se hand is.

Niks sal buite sy wil om gebeur nie.

Meer selfs, dat alles wat gebeur, of dit voorspoed is of teëspoed, dat God ‘n doel daarmee het.

As daar hongersnood is in die land ...

As daar brandkoring of heuningdou is – siektes op die plante wat die oes sal laat misluk, waardeur daar juis hongersnood kan ontstaan.

As daar sprinkane is, kaalvreters – ‘n sinoniem vir die sprinkane.

Ook ‘n sprinkaanplaag was ‘n ernstige bedreiding vir voedselsekerheid.

As die vyand opdaag in die land, in die stad se poorte.

As daar pes is ...

Die Corona Pandemie laat mens terugdink aan die tye van die pes.

Duidelik is hoogs aansteeklike siektes nog nie iets van die verlede nie.

Die pes het van die wêreldtoneel af verdwyn, maar hoogs aansteeklike epidemies nog nie.

Wie na die kurwe kyk van die toename van besmettinge met Coronavirus in amper elke land op aarde, kry koue rillings op sy rug.

By die skryf van hierdie preek het die sterfgevalle wêreldwyd al bo die tien duisend gelê, en die kurwe voorspel niks goeds nie.

As Salomo tot God bid in verband met die pes, dan is dit dus nog volledig aktueel.

As watter plaag, as watter siekte ook al die stad, die land, tref, wil U dan tog hoor in die hemel.

Ja die hemel is God se vaste woonplek.

Ons hef ons harte op na die hemel, waar God se vaste woonplek is.

 

En so bid ons ook vandag, te midde van die pandemie wat die wêreld tans in sy greep het, en ons hef ons harte op na die hemel.

Al gehoorsaam ons die beperkinge wat staatspresidente, konings en kanseliere die wêreld tans oplê, kyk ons nie in vertroue op na hulle nie.

Hulle is net so magteloos as ons.

Ons verwag dit ook nie van die wetenskap en die tegniek, van hospitale en spesialiste nie.

Juis die Coronapandemie skud ons wakker, as ons in die verlede te veel op die mediese wetenskap vertrou het.

Hierdie pandemie is so oorweldigend, dat hospitale en klinieke magteloos staan teenoor die aantalle.

 

En dit bring ons by die kruks van die saak.

En om dit te verwoord, wil ek graag die woorde van die profeet Amos gebruik:

Amos 3:6: “Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?”

Dit is die kruks van die saak.

Dit is wat die ongelowige wêreld tans ignoreer en nie wil erken nie.

Dit is ook wat uit Salomo se gebed spreek.

Die HERE is in beheer van alles, en niks tref ons by toeval nie.

En met alles wat ons lewenspad kruis, voor- of teëspoed, het God ‘n bedoeling.

Nie dat die kwaad sy skuld is nie.

Ons het laasweek in die aanddiens aandag geskenk aan God se voorsienigheid.

God is nie die bewerker van die kwaad nie, maar Hy gebruik wel die kwaad, Hy buig dit om, om daarmee iets goeds te bereik.

God is goed!

Dit is wat ons as kerk bely saam met artikel 13 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Ons go dat ons goeie God ... die duiwel en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

Luister mooi wat hier staan.

Hier staan nie dat die duiwel en ons vyande ons nie skade sal aandoen nie.

Hulle sal!

Maar, hier staan: Die duiwel en ons vyande sal nie sonder sy toelating ons skade aandoen nie.

Die Coronavirus is tans ‘n groot vyand, en sy dreiging gaan nie aan die kerkdeure verby nie.

Maar hier in die kerk bly ons egter nie net op die horisontale vlak fokus nie.

Ons hef ons harte omhoog.

Ons vra of God hierdie plaag ten goede wil laat meewerk.

Ons vra dat God hierdie plaag wil gebruik dat elke mens tog maar net die plaag van sy hart sal ken.

Salomo bid: “as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei ...”

En luister mooi wat Salomo verder bid.

Salomo bid nie: HERE wil U asseblief tog hierdie plaag so gou as moontlik laat ophou nie.

Wil u tog net u almag gebruik om hierdie pes, siekte of plaag soos mis voor die son te laat verdwyn nie.

Sodat ons met ons daaglikse lewe weer kan aangaan.

Sodat ons weer kan eet en drink en vrolik wees, en rondreis waarheen ons wil, en doen net wat ons wil, sodat ons maar net weer die lewe kan geniet en dat die lewensdreiging weg is en dat die ekonomie weer kan groei.

Dis nie wat Salomo vir sy volk bid nie.

Maar in sy gebed gaan Salomo ‘n vlak dieper.

Hy bid: Laat elkeen tog veral die plaag van sy hart ken!

En dan, as mense weer hulle afhanklikheid van U besef, as hulle hulle hande weer uitbrei na hierdie huis, wil U dan hoor in die hemel.

Wil U dan asseblief vergewe.

Wil U elkeen gee volgens sy weë, U wat die harte ken.

Want U alleen ken die hart van al die mensekinders.

Sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

Met die woord “sodat” laat Salomo blyk dat hy bewus is van die feit dat God met elke siekte, pes, plaag of oorlog ‘n doel het.

En die doel is dat die mense Hom weer begin vrees.

Dat die mense die plaag van hulle eie hart weer begin ken.

 

Gemeente, ken u die plaag van u eie hart?

En, dink u ons wêreld ken die plaag van hulle eie hart?

Besef u dat die plaag van u hart net so aansteeklik is as die Coronavirus?

Neem, net as ‘n voorbeeld, die sekulêre en ongelowige lewenswyse van die Westerse wêreld, waarvan ons ook deel is.

Die pandemie wat Hollywood, Netflix, Google en Twitter oor die wêreld versprei, dit is ‘n plaag wat soveel meer dodeliker is as die Coronavirus.

Om een sprekende voorbeeld te noem, maar let wel daar kan nog talle ander voorbeelde genoem word.

Die sekulêre Weste propageer wêreldwyd vroueregte, waarvan een is dat die uitvoer van ‘n aborsie gewettig is.

Nou is die woord aborsie eintlik ‘n te sagte word.

In Engels ken ons die woord ‘abort’, wat pilote byvoorbeeld gebruik as hulle afsien van ‘n landing weens te sterk wind of ‘n donderbui of soiets.

Die woord Aborsie bedoel om te sê dat ‘n ma afsien van die voltooing van haar swangerskap, dat sy dit vroegtydig afbreek.

As mens dit so stel, klink dit nie so aanstootgewend nie.

Maar eintlik is dit veel meer as net die onderbreking van ‘n swangerskap.

Dit is doelbewuste kindermoord, waartoe vroue of meisies oorgaan, soms onder druk van hulle partners of ouers.

Nou hierdie Aborsie Pandemie het veel meer lewens geëis en eis nog veel meer lewens as die Coronavirus Pandemie.

Die onlangse film Unplanned het net weer aan die lig gebring hoe siek die Westerse wêreld is wat dit betref, en in China is dit dieselfde.

En dit laat mens besef hoe min daar eintlik gedoen word om hierdie pandemie hok te slaan.

Veral hier in Suid-Afrika word daar bitter weinig gedoen.

En dalk dink u.

Dis OK as ander aborsie stiekers afkrap op ons strate se pale, maar dis nie iets vir my nie.

Ek gaan nie betrokke raak nie.

Verstaan u gemeente, hoekom Salomo bid, as elkeen maar net die plaag van sy hart ken ...

Salomo bid nie, ag Here, gee tog dat hierdie plaag of siekte so vinnig moontlik net verbygaan nie.

Salomo bid in die eerste plek: as ieder en elk maar net die plaag van sy eie hart ken ...

Sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef.

 

Die Coronavirus laat ons opskrik.

Maar laat dit ons ook na die HERE toe vlug?

Laat dit ons ook selfondersoek doen?

Laat dit ons ook speurwerk doen na die plaag van ons eie hart?

Nog gevaarliker as die Coronavirus is die plaag in my eie hart.

 

As die kerkraad vir u gaan vra: Steek net asseblief julle hande op, wie van julle wil nie kerk toe kom nie?

Gaan jy die eerste wees om jou hand op te steek?

Of is daar in jou hart die verlange om so veel as moontlik kerk toe te kom, juis om medisyne te kry teen die plaag in jou hart?

 

Salomo se gebed, eeue gelede gebid, leer so baie vir ons vandag.

Geen ramp kom toevallig oor die wêreld nie.

En die kerk is nie van die wêreld nie, maar is wel in die wêreld.

En kerklede wat eerlik is sal erken, ook in my hart is daar ‘n plaag, wat as dit nie onderken word nie, dodelik gaan wees en hoogs aansteeklik is.

Ja die rampe wat die wêreld tref, gaan nie aan die kerkdeur verby nie.

En dit is maar goed ook.

Ook daarin ervaar ons die goedheid van God, hoe paradoksaal dit ook mag klink.

 

Geliefde gemeente, hoe het u na hierdie preek geluister?

Het hierdie preek u hart bereik?

Of het u dit reggekry om dalk êrens fout te vind met hierdie preek?

Het ek dalk te min Christus gepreek in hierdie preek?

Is dit vir u ‘n rede om die preek langs u neer te lê?

Christus kom ook tot u met hierdie prediking uit Salomo se gebed.

As daar iemand was op wie al die plae denkbaar geval het, was dit op Christus.

Dit het die goeie God gedoen.

Hoekom? Hoekom?

Hoekom verlaat U my, het Christus aan die kruis geroep.

Eli, Eli, lama sabagtani?

My God, my God, waarom het U My verlaat?

Uit die Evangelie weet ons ondertussen die antwoord op daardie vraag.

Om ons te behou, om ons te red, te red van die grootste epidemie, naamlik die plaag van ons hart, daarom het Christus aan die kruis gely, het Hy gesterf en is Hy begrawe.

In Christus is Salomo se gebed verhoor.

 

En so mag ons vandag na Salomo se gebed luister met die besef dat daar ‘n entstof gevind is teen die plaag van ons hart, die gevaarlikste pandemie van alle pandemies.

Christus verwyder die hart van klip, en gee ons deur sy Gees ‘n hart van vlees.

God belowe nie, soos ons uit Salomo se gebed geleer het, dat ons geen pes of plaag meer gaan meemaak nie.

Juis wel, om ons weer te herinner aan die groter plaag, die plaag van ons hart.

En dan bied God ook die remedie.

Ons mag na Christus vlug, en by Hom genesing vind.

 

Gemeente, in hierdie preek het ons aandag geskenk aan verskillende plae, verskillende pandemies.

Die Coronavirus Pandemie, en ons is almal tans baie gemotiveerd om stappe te neem om dit terug te dring.

Dan die Aborsie Pandemie, en ek het u opgeroep om meer aktief betrokke te raak om hierdie pandemie te bekamp.

As ons as Christene dit nie doen nie, gaan niemand anders dit doen nie.

En dan die Pandemie, die plaag van ons hart.

Aan die einde van die dag staan of val alles by die stryd teen hierdie pandemie.

Hierdie stryd is nie hopeloos nie, Christus het die beslissende oorwinning behaal.

Sy Gees gee vir ons ‘n nuwe hart.

 

Geliefde gemeente, dit is die groter perspektief wat ons mag hê te midde van die huidige omstandighede.

Ons gaan nie die ‘blame game’ saam speel en aan China die skuld gee vir hierdie pandemie nie.

Ons sien dit as ‘n aanleiding, ja iets wat so deur die HERE bestuur is, om ons weer aan die plaag van ons hart te herinner.

En die medisyne daarteen, ons Here Jesus Christus, gee vir ons die krag en perspektief om ook selfopofferend die ander pandemies wat daar oor die wêreld gaan, te bestry.

Elke stryd teen watter pandemie ook begin hier, om aan Hom te vra, net soos Salomo destyds: “wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe.”

God het gehoor!

In Christus is daar vergewing!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 91:1,2

Gebed

Skriflesing 1 Konings 8

Ps 91:3,4,5

Teks: 1 Konings 8:37-40

Preek

Ps 78:18,19,20,22,23

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 107:8,9,10

Seën