Die praktyk van die nuwe lewe in Christus

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-03-01
Teks: 
Kolossense 3:18-4:1
Verwysing: 
Geheim van my heilige lewe (5)
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Waaraan sou jy iemand op die straat herken as ‘n moslem? Ja, ‘n moslem-vrou herken jy aan haar burka (die lang – meestal swart – kledingstuk wat haar van kop tot tone bedek sodat dikwels net haar oë uitsteek); ‘n moslem-man herken jy aan die spesifieke hoedjie op sy kop. En ‘n ortodokse Jood? Wel, ‘n Ortodokse Jood herken jy aan sy petjie (die sogenaamde kalotjie), asook die tosseltjies aan sy moue en aan die onderkant van sy klere, en die vlegsels aan die sykant van sy kop. En ‘n lid van die ZCC? Hulle is herkenbaar aan hulle uniforms en aan die silwer ster op die groen lappie. En wat dan van ‘n Christen?

Daar bestaan ‘n brief uit die 2de eeu, geskryf aan ‘n sekere Diognetus. En in hierdie brief vind ons ‘n pragtige antwoord op hierdie vraag: hoe is die Christen herkenbaar? Luister mooi wat ek vir u gaan voorlees (dit is ‘n redelike lang aanhaling):

Christene verskil nie van ander mense ten opsigte van die plek waar hulle woon of hulle taal of gewoontes nie. Hulle woon nie afsonderlik in hulle eie stede nie; hulle praat nie een of ander vreemde taal nie; hulle leef nie op ’n snaakse manier nie. Hulle woon in Griekse en in nie-Griekse stede, soos dit beskik word; en wat klere en kos en ander dinge betref, het hulle dieselfde gewoontes as die mense om hulle heen. En tog is die manier waarop hulle lewe, wonderlik en buitengewoon! Hulle woon in hulle eie vaderland, maar asof hulle buitelanders is. Soos goeie burgers neem hulle aan alles deel, en tog moet hulle baie swaarkry verduur asof hulle vreemdelinge is. Enige vreemde land kan hulle vaderland wees, en tog is enige vaderland vir hulle soos ’n vreemde land. Hulle trou soos al die ander mense; hulle kry kinders, maar hulle raak nie van hulle kinders ontslae nie. Hulle deel hulle kos met mekaar, maar nie hulle huweliksmaats nie. Hulle leef tussen ander mense, maar hulle doen nie die slegte dinge wat ander mense gewoonlik doen nie. Hulle woon op die aarde, maar hulle is eintlik burgers van die hemel. Hulle kom die wette na wat hier op aarde ingestel is. In hulle eie lewens doen hulle selfs meer as wat die wette van hulle verwag. Hulle is lief vir almal, en tog vervolg almal hulle. Mense ken hulle nie regtig nie, en tog word hulle veroordeel. Hulle word doodgemaak, en tog kry hulle die lewe. Hulle is arm, en tog maak hulle baie mense ryk. Hulle kom alles kort, en tog het hulle ’n oorvloed van dit wat regtig saak maak. Niemand eer hulle nie, en tog gee God aan hulle eer. Mense sê slegte dinge van hulle, en tog laat God aan hulle reg geskied. Hulle word uitgeskel, en tog vra hulle vir God om goed te wees vir die mense wat hulle uitskel. Hulle word beledig, en tog het hulle eerbied vir die mense wat hulle beledig. Wanneer hulle goed doen, word hulle gestraf asof hulle kriminele is. Wanneer hulle gestraf word, is hulle bly omdat hulle daardeur nuwe lewe kry.”

Só, broers en susters, is die Christen herkenbaar! Nie deur ‘n afgesonderde woonplek nie, nie deur ‘n spesifieke dieet nie, nie deur een of ander geheime taal nie. Ook nie deur spesifieke klere nie. Want die Christen het alreeds die nuwe klere van Christus aangetrek – die Christen het die ou mens uitgetrek en homself met die nuwe mens beklee (soos wat ons laasweek gesien het)! Die Christen hoef dus nie spesiale klere aan te trek om voor die oë van hierdie wêreld te verskyn nie. Die Christen se klere is die klere van veranderde lewens en herstelde verhoudings – in die huwelik, in die gesin, en by die werkplek. Juis in daardie mees basiese verhoudings, wat Paulus in ons teks bespreek, word die Christen vir hierdie wêreld herkenbaar as Christen – omdat hy en sy in Christus is!

In ons teks maak Paulus gebruik van ‘n sogenaamde huishoudelike kode, soos wat ons meerdere in die Skrif teëkom (ons het een gelees in Efesiërs 5 en 6), en soos wat daar talle bestaan het in die Grieks-Romeinse wêreld van daardie tyd. Ook in die sekulêre wêreld van daardie tyd was daar kodes wat die verhoudings tussen man en vrou, ouers en kinders, en here en slawe gereël het. Maar die Christelike kode is anders – dit is anders omdat die gelowige vrou en man, die gelowige kinders en ouers, die gelowige slaaf en heer ‘n ander innerlike dryfveer in hulle lewe het; hulle word deur iets anders gemotiveer. Die gelowige is immers in Christus, en dít bepaal hoe hy en sy binne sosiale verhoudings lewe. En dit is sigbaar – prakties, konkreet – vir die wêreld om ons heen.   

Tema: die praktyk van die nuwe lewe in Christus! Ons let agtereenvolgens op 1) die huwelik, 2) die gesin en 3) die werkplek.

 

1. Ons begin met die huwelik...

Susan en André is getroud. André het ‘n verantwoordelike posisie by die werk, hy werk lang ure. En as hy nie werk nie, hou hy van sy vryheid en wil hy graag sy sport beoefen. Hy kan ook nogal dominerend by die huis wees. Susan, daarenteen, verlang eenvoudig na geselligheid en aandag. Maar dikwels is André nie by die huis nie. Alle verantwoordelikhede by die huis kom op haar skouers neer. Sy offer haarself op, maar voel ook die las van alles wat sy moet doen. Wanneer André by die huis kom, begin sy al hoe meer aandag van hom vra. Sy manupileer hom selfs. André reageer geïrriteerd en probeer haar vermy. Susan verlang na liefde, André soek waardering. Maar sy word al hoe meer ‘n onaangename vrou, hy word al hoe meer apaties teenoor haar. En stadig maar seker begin hulle verhouding verbrokkel.

Maar dan sê Paulus: Wag, staan gou vir ‘n oomblik stil! Wat is gepas vir mense wat bely dat hulle in Christus is? Het jy, as getroude, al daaroor nagedink? Jy as man, jy as vrou – jy is deur die geloof verbonde aan Christus. Wat beteken dit vir jou huwelik dat jy in Christus is? Paulus wys vir ons die weg...

Paulus sê: “Vroue, wees julle mans onderdanig...” Nou verstaan ons almal dat dit polities uiters onvanpas is om dit vandag nog so te sê. In Paulus se kultuur was dit dalk meer aanvaarbaar (hoewel ook dit bevraagteken kan word), maar verseker nie meer in ons kultuur nie. Maar let daarop, broers en susters, dat Paulus sy oproep kwalifiseer met die woorde “soos dit betaamlik is in die Here.” Die Here bepaal dus wat betaamlik (vanpas) is en wat nie. Sommmige dinge mag dalk kultureel onaanvaarbaar wees, maar as jy daaroor nadink ‘in die Here’, dan moet jy tot die gevolgtrekking kom dat dit pas by ‘n Christen. Dus, die onderwerping van die vrou aan die man het ten diepste te make met ons lojaliteit aan die Here Christus!

Maar dit is ook dieselfde Here Christus wat die grense van hierdie onderdanigheid bepaal. Hy bepaal dát dit betaamlik is dat die vrou aan die man onderdanig is, maar Hy bepaal ook wát betaamlik is in so ‘n verhouding. In die verhouding tussen man en vrou hoef die vrou nie net alles te aanvaar nie. Trouens, die woord wat hier vir ‘onderdanig wees’ gebruik word, het baie meer die betekenis van ‘toevertrou aan’, eerder as ‘onderwerp aan’. Die vrou word geroep om haarself aan haar man toe te vertrou. Dus, vrou, laat jou man eerste wees. Spreek hom, as dit nodig is, ook daarop aan! Hy moet sy verantwoordelikheid neem as hoof van die huwelik en die gesin. Gee hom daardie verantwoordelikheid, en gee hom die ruimte om daardie verantwoordelikheid tot uitvoering te bring in julle huwelik en in julle gesin.

Daarteenoor, as die eerste – as die hoof – moet die man sy vrou liefhê en nie teenoor haar verbitter word nie. Hy moet dus nie ‘n dominante man wees nie. Hy moet nie ‘n man wees wat wegloop en afwesig is in sy huwelik en gesin nie. Nee, neem as man die verantwoordelikheid. En dit beteken: wees lief vir jou vrou in die Here. Sien haar raak met al haar verlangens en behoeftes. Wees trou aan haar, sorg vir haar. Soek haar hart. En sorg dat jy self ook ‘n hart vir haar het, nie ‘n hart waarin daar bitterheid is nie. Neem die nodige tyd vir haar; geniet van mekaar.

Gemeente, ons verstaan almal dat hierdie dinge soms maklik gesê kan word, maar dat dit baie moeiliker kan wees om dit in die praktyk tot uitvoering te bring. Daar is gelowiges, ook in hierdie gemeente, vir wie die huwelik ‘n daaglikse stryd is. ‘n Daaglikse stryd om lief te hê, en meer nog: ‘n daaglikse stryd net om bymekaar te bly en nie weg te loop nie. Die ou mens wat nog in ons oorgebly het, maak baie dinge stukkend. Gewoontetjies lei tot irritasie – die manier waarop sy lag, die manier waarop hy sy kos eet. Konflik word nie uitgepraat nie, maar groei tot ‘n sweer wat net wag om tot uitbarsting te kom. Druk by die werk en in die gesin lei tot ‘n gebrek aan tyd om te kommunikeer, om rustig te sit en praat. Geen huwelik is immuun teen enige van hierdie dinge nie.

Maar as gelowiges word ons geroep om hierdie dinge baie bewustelik te oorweeg en te hanteer in ons verhouding tot Jesus Christus. Wat beteken dit vir my huwelik dat ek met Christus bekleed is, dat ek die nuwe mens aangetrek het? Wat beteken dit vir hoe ek my man antwoord? Hoe kan ek in die Here wys dat ek hom erken as die hoof van ons huwelik en gesin, ook al is hy so dikwels geneig om sy verantwoordelikhede te ontduik? Hoe kan in die Here my vrou liefhê, ook al trek sy alle energie uit my uit met haar geneul? Hoe kan ek in die Here – die Here, wat so geduldig met my is – my vrou se manier van lag en my man se manier van eet geduldig aanvaar? En die doel met hierdie vrae is nie in die eerste plek om dit nou anders te gaan doen nie. Die doel is dat ons meer en meer vernuwe word na die beeld van Jesus Christus – dat ons na Hom toe gaan en in geborgenheid by Hom en met die krag van sy Gees die ou mens aflê en onsself met die nuwe mens beklee.

 

2. Vervolgens spreek Paulus die kinders en die ouers aan...

Dit gaan al hoe slegter tussen Irma en haar pa. Sy kry die gevoel dat hy altyd besig is om haar te kontroleer – het sy haar huiswerk gedoen? Waarheen gaan sy en haar vriendinne? Dit wat sy doen, is net nooit goed genoeg nie. Hy het kommentaar op haar klere en haar grimering. Laas het sy die tafel gedek, en toe het hy sowaar ook kommentaar gehad op hoe sy die vurke en messe neergesit het. Hy het altyd iets om oor te kla. Nooit kry sy die idee dat hy geïnteresseerd is in haar lewe nie. Ná skool of oor naweke kuier sy al hoe meer gereeld by haar vriendin. Of hulle gaan kuier êrens anders. En dit het niks met hom te doen nie. Eergister nog het hulle ‘n groot woordewisseling gehad – nou ja, dis sy probleem.

Maar wat daarvan as jy deel het aan Christus? Wat is die wil van die Here vir ouers en kinders? Paulus begin by die kinders. Dit is trouens opmerklik dat hy in al drie gevalle in ons teks (huwelik, gesin, en werk) elke keer by diegene begin wat die maklikste onderdruk word. En in die gesin is dit die kinders. En vir Irma en ander kinders sê Paulus: probeer jouself afvra wat die Here Jesus in hierdie situasie van jou verwag. As jou ouers iets van jou vra, wat wil Jesus Christus dan hê moet jy doen? Die Here het immers jou ouers vir jou gegee. Hulle taak is om vir jou die pad in die lewe te wys. Dit is hulle taak om vir jou te vertel wie die Here is. Hulle mag vir jou vertel wat ‘n lewe met die Here beteken. Maar hulle kan dit slegs doen as jy vir hulle luister. Dink daarom mooi hieroor na: agter jou ouers staan die Here Jesus! En wat is vir Hom ‘welbehaaglik’? – dit is die woord wat Paulus in vers 20 gebruik. Nie net: wat is sy wil nie? Nee, wat gee Hom plesier? Wat maak Hom bly? Ook as jou ouers foute maak, ook as hulle jou soms teleurstel. Kyk dan na hulle vanuit die genade van Jesus Christus. Vir Irma beteken dit: wees gehoorsaam aan jou pa en wees geduldig met hom, ook wanneer hy lastig is.

Maar ook Irma se pa het met Jesus Christus en met sy genade te make. Sonder die genade van Jesus Christus sien jy net die foute van jou kinders raak, en is jy altyd krities op hulle. Sonder Jesus Christus kan hulle nooit goed genoeg na jou sin presteer nie. Wat beteken die genade van Jesus Christus daarom vir Irma se pa en vir alle Christelike ouers? Dit beteken: kyk na hulle vanuit die genade van Jesus Christus, vanuit die wonder van die doop! Wys vir jou kinders dat jy in Christus lief is vir hulle. Neem tyd vir jou kinders, ontwikkel ‘n oog vir hulle behoeftes en gevoelens. En, sê Paulus, moenie julle kinders terg nie – dit beteken: moet hulle nie prikkel of irriteer nie. Ook ouers kan met die beste bedoelings hulle kinders irriteer. Jy kan hulle oorvra sodat hulle moedeloos word. By die uitoefening van ons ouerlike gesag, moet ons die grense ken. En die grense is daar waar jy met jou eise jou kinders so irriteer dat hulle moedeloos word. Bemoedig jou kinders eerder, stimuleer hulle. Vol liefde, en vanuit die genade van Jesus Christus.

Ook in hierdie verhouding is ons as gelowiges nie immuun teen moeite en stryd nie. Ook in ons kringe staan die ouer-kind verhouding soms onder groot druk. En dit kan maklik in ‘n bose kringloop ontaard waarin ouers en kinders net verder en verder uitmekaar groei. Ouers en kinders word daarom opgeroep om oor hulle verhouding na te dink in die Here. Wat beteken die feit dat ek met Christus bekleed is vir my verhouding met my pa en ma? Hoe beïnvloed dit my reaksies en antwoorde? En wat beteken die feit dat ek in Christus is vir my omgang met my seun of dogter? Dit gaan hier nie oor die navolg van ‘n paar wenke en taktieke nie. Dit gaan hier ten diepste oor ons verhouding tot Christus. Ouers en kinders wat met die nuwe bekleed is, mag dit ook wys in hulle verhouding tot mekaar.

 

3. En ten slotte praat Paulus nog oor die werkplek, oor die verhouding slaaf en heer. Of in vandag se terme: werknemer en werkgewer. Dit is opmerklik dat hy aan hierdie deel die langste aandag bestee in ons teks. Dit is heel goed moontlik dat dit ‘n gevolg is van daardie ander briefie wat hy saam met hierdie brief aan die Kolossense gestuur het. U weet miskien dat Paulus, saam met sy brief aan die gemeente in Kolosse, ook nog ‘n kort nota aan Filemon gestuur het. In die brief aan Filemon pleit Paulus vir die weggeloopte slaaf, Onesimus, wat intussen tot bekering gekom het. Paulus stuur Onesimus terug na sy heer, maar hy vra eintlik dat Filemon hom sal vrystel en hom sal afstaan om Paulus te gaan help. Nou, om in daardie tyd ‘n gedroste slaaf vry te stel, was ongehoord (en eintlik ook onaanvaarbaar). Maar Paulus begrond dit deur in sy brief aan Filemon te wys dat Onesimus nou hulle broeder geword het in die Here. Maar om nou te voorkom dat sy versoek as rewolusionêr opgevat sou word – asof alle slawe skielik vrygestel sou moes word – bestee Paulus hier in ons teks die nodige tyd om die verhouding tussen slaaf en heer, werknemer en werkgewer goed te beskryf.  

En ook in hierdie verhouding kan dinge so maklik skeefloop. Wat daarvan as jy ‘n werkgewer het, ‘n baas, wat nie sy beloftes nakom nie? Wat die hele tyd dreig om jou te ontslaan? Of wat van jou verwag om onmenslike ure te werk? Of wat jou nie erken vir die goeie werk wat jy lewer nie? Hoe reageer jy dan? Hoe dikwels het jy al in die stilte van jou hart jou baas gevloek of uitgeskel? En as jy die baas is: wat doen jy dan met ‘n personeellid wat jy eintlik nie kan verdra nie, of wat die werk nie doen soos wat jy dit gedoen wil hê nie? Weer plaas Paulus die lewende Christus in die middel van ons daaglikse lewe neer. Jy het saam met Hom opgestaan uit die dood – hoe verander dit jou werksituasie? Paulus sê: Jesus is die Heer, die meester, die hoogste baas – van werknemers én werkgewers. Dink ‘n bietjie daaroor na. Wat sou jy doen as Jesus by jou by die werk sou kom rondloop? Wat beteken dit vir die baas? Wat beteken dit vir die personeel?

Vir alle personeel / werknemers beteken dit: moenie jou werk vir jou baas doen nie, maar doen dit vir Jesus Christus. Paulus sê in verse 23 en 24: Jesus is jou meester, jou heer, werk vir Hom! Moenie net werk as jou baas kyk nie, moenie probeer kortpad vat nie, nie elke oggend ‘n paar minute laat inklok en elke middag ‘n paar minute vroeg uitklok nie. Moet ook nie in die baas se goeie boekies wil kom in die hoop dat jy daaruit voordeel sal trek nie. Moenie met enige bybedoelings werk nie. Werk vanuit jou hart! Gee opreg jou beste. Asof jy vir Jesus Christus werk! Asof Jesus Christus enige oomblik daar kan aankom om te kyk hoe dit gaan.

En die baas, ja, jy het net so goed met Jesus Christus te make. Wie is werklik die direkteur, die werkgewer van jou bedryf? Dit is Jesus Christus! Jy sal as baas eendag verantwoording aan Hom moet aflê. Dink daaroor na wat dít beteken. Dit beteken dat jy goed vir jou personeel sal sorg. Dat jy vir hulle sal gee waarop hulle reg het. Dat jy ‘n veilige werkomgewing sal skep, billike salarisse sal gee, jou beloftes sal nakom. Sodat jy jouself sal kan verantwoord teenoor die Direkteur in die hemel.

 

Broers en susters, ek hoop u het opgemerk dat, hoewel hierdie ‘n baie praktiese boodskap is (dit gaan immers oor verhoudings waarmee ons almal elke dag te make het), dit ten diepste gaan oor ons verhouding tot Jesus Christus. Ek glo in Jesus Christus, en deur die geloof in Hom het ek my met die nuwe mens beklee. En wat beteken dit, wat werk dit uit in die lewe van elke dag? Nie: wat moet ek nou alles gaan doen? Wat is my aksie, wat is my dade? Nee! Eerder: ek het myself met Christus beklee, en hoe lyk ek nou? Ek hoop u kan hoor dat dit ‘n ander vraag is. ‘n Vraag waarin ek in vertroue en afhanklikheid na Christus kyk! Here, beklee my met uself, sodat ek en my man / ek en my vrou in liefde saam kan leef. Here, beklee my met uself, sodat ek en my pa / ek en my seun mekaar kan verstaan. Here, beklee my met uself, sodat ek en my baas / ek en my werknemer in harmonie saam kan werk. Here, beklee my met uself, asseblief, sodat ek in al my verhoudings U beeld kan vertoon. Amen

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 144:4-6

Gebed

Lees: Efesiërs 5:22-6:9

Sing Ps. 128:1 en 2

Teks: Kolossense 3:18-4:1

Preek

Amenlied Ps. 128:3 en 4

Gebed

Geloofsbelydenis van Athanasius

Kollekte

Slotsang Ps. 147:4, 5 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen