Die hemelse lewe in Christus bring ‘n radikale verandering op aarde.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-02-23
Teks: 
Kolossense 3:1-17
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

As gelowiges praat ons dikwels van ons lewe as ‘n pelgrimstog. Ons lewe hier op aarde, en ons is oppad na die hemelse heerlikheid. Daar is dus ‘n duidelike rigting: vanaf ons lewe hier op aarde na die ewige lewe by God in die hemel. En as ‘n gelowige te sterwe kom, dan sê ons dat sy reis hier op aarde voltooi is en dat hy nou in die hemel by die Here is. Dit is ‘n voluit geldige en Bybelse beeld, wat ons byvoorbeeld in die Pelgrimspsalms terugvind. Maar Paulus gebruik in Kolossense 3 ook ‘n ander beeld, een wat ons maklik vergeet. En in hierdie beeld gaan dit nie daaroor dat ons oppad is na die hemel nie, maar dat ons alreeds in die hemel is. Ons het immers gesterwe, en ons lewe is saam met Christus verborge in God, sê Paulus in vers 3. Ons lewe is in Christus (ons het dit nou al verskeie kere in die prediking gesien) – en waar is Christus? Christus is daarbo, aan die regterhand van God (vers 1). Dit is dus ook waar ons lewe is – ons het met Hom gesterwe, ons is saam met Hom opgewek, ons lewe is met Hom in die hemel verborge in God. Nou alreeds! En daarom Paulus se oproep: soek die dinge daarbo (vers 1), bedink die dinge wat daarbo is (vers 2) – dus, wees besig met die hemelse dinge. Want daar lê die bron en die werklikheid van ons lewe.

En vanuit daardie hemelse werklikheid kom ons as’t ware in hierdie wêreld in. Ons begin dus daarbo, waar die bron van ons lewe is, en van daaruit kring die lewe uit na die aarde. Dit is wat Paulus ons leer in die begin van Kolossense 3. Dit is eintlik ironies as ‘n mens daaroor nadink. Die dwaalleraars, waaroor dit in hoofstuk 2 gegaan het, het gemeen dat, hoewel die gewone lewe op aarde is, hulle juis moet streef na die dinge daarbo: engele, geeste en magte. En dit is, soos ek laasweek al gesê het, die ABC van alle godsdienstigheid – ons moet só hier op aarde lewe dat ons kan streef na die hemelse lewe. Daarteenoor sê Paulus: dié wat in Christus glo, se lewe is reeds daarbo – bo die engele, bo alle magte en geeste, want Christus is bo alle heerskappye en owerhede en magte (1:16) – en dit beïnvloed die hele lewe hier op aarde.

En dit is hierdie rigting van ons lewe wat ons moet vashou wanneer ons in hoofstuk 3 uitkom by die praktiese uitwerking van die voorafgaande hoofstukke. Soos so dikwels in sy briewe, lê Paulus in die eerste deel van hierdie brief aan die Kolossense die teologiese basis (hoofstukke 1 en 2), en in die tweede deel (vanaf hoofstuk 3) werk hy dit uit in die lewens van die gelowiges. Maar die een bou op die ander een. Dus, wanneer ons vandag by die uitwerking kom, moet ons vashou aan die basis wat gelê is. En dit is Christus: Christus, ons regverdiging én ons heiliging, en ons in Hom. Wat het hierdie werklikheid – ‘n werklikheid wat in die hemel is! – te make met ons lewe hier op aarde? Wanneer ons dus oor ons lewens hier op aarde nadink, dan moet ons dit vanuit die hemel doen; ons moet hemels dink. Nie met ons kop in die wolke nie, nie swewerig nie, maar wel hemels – in Christus!

Tema: Die hemelse lewe in Christus bring ‘n radikale verandering op aarde.

Seuns en dogters, nou moet julle gou mooi luister...

Toe julle vanoggend begin regmaak het om kerk toe te gaan, het julle toe julle skoolklere gaan aantrek? Of het julle dalk dieselfde speelklere aangetrek wat julle gister aangehad het? Nee, julle het kerkklere aangetrek, nie waar nie? Die meeste van ons het spesiale kerkklere, klere wat ons nie Saterdag of Maandag sal dra nie, maar net op Sondag, wanneer ons kerktoe gaan. Nou, dit is die beeld wat Paulus ook in Kolossense 3 gebruik wanneer hy die gelowiges in Kolosse oproep om die ou mens met sy werke af te lê. Daardie woord ‘aflê’ (vers 8 en 9) is dieselfde woord wat ons sal gebruik wanneer ons ons klere ‘uittrek’.

Paulus wil hê dat die Kolossense hulle Saterdag-klere moet uittrek en hulle kerkklere aantrek. Die Saterdag-klere pas nie meer by hierdie gelowiges nie; dis vuil, dis afgeleef, dis stukkend. Al die dinge wat Paulus in vers 5 noem (hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes, en gierigheid), en al die dinge in vers 8 (toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond), asook die leuens in vers 9 – al hierdie dinge is soos ou klere (ou vodde) wat die Kolossense moet uittrek; dit wys na ‘n tyd toe hulle nog as ongelowiges gewandel het (vers 7), toe hulle lewe nog in hierdie wêreld was en nie in die hemel nie.

As ‘n mens die tweede deel van vers 9 mooi lees, dan lyk dit asof die gelowiges in Kolosse alreeds begin het om hierdie ou klere uit te trek. Dis goeie nuus! En Paulus moedig hulle aan om daarmee voort te gaan. Trek al die ou klere uit, trek dit elke keer wéér uit, en trek die nuwe klere aan. Ja, lê die ou mens (vers 9) – daardie ou, sondige, lelike jy – lê dit af, trek dit uit soos wat jy vuil, stukkende klere sal uittrek. En trek die mooi, nuwe klere in die plek daarvan aan – beklee julleself met die nuwe mens (vers 10). Hierdie nuwe klere lyk anders as die klere wat die gelowiges voorheen gedra het – radikaal anders – en dit sal ook in hulle hele lewenswandel sigbaar wees.

Maar daar is iets opmerkliks aan vers 10 waarop ek u aandag wil vestig. Ons lees daar: “en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe wórd tot kennis na die beeld van sy Skepper…” Die aantrek van die nuwe klere – die nuwe mens – dui dus op die beginpunt van ‘n proses wat daarna voortgaan. Jy begín dus as gelowige deur die nuwe klere aan te trek, maar daarna moet daardie klere ook al hoe meer vernuwe wórd! Ja, dit is anders as die klere wat jy elke dag aan jou lyf dra – daardie klere lyk mooi die dag wanneer jy dit koop, maar ‘n paar maande en vyf wasse later lyk dit nie meer dieselfde nie; miskien het daar ‘n paar vetkolle bygekom en begin die kleur al effens verbleik. Maar die nuwe mens, die nuwe klere, wat ons deur geloof in Christus aantrek, is bedoel om steeds mooier en mooier te word. Deurdat ek toeneem in kennis van my God en Verlosser, word ek as mens steeds mooier en mooier, word ek steeds meer wat ek moet wees, naamlik beeld van my Skepper.

Nou goed, ons moet dus die ou klere uittrek – en dit is duidelik hoekom. Hoerery, gierigheid, toorn, woede, leuentaal: ons verstaan dat dit nie by kinders van die Here pas nie. Maar hoe lyk die nuwe klere dan? Vanaf vers 12 begin Paulus om hierdie nuwe klere te beskryf, die nuwe uitrusting wat God gee aan sy “uitverkorenes, heiliges en geliefdes”. Ja, dis hoe Paulus die Kolossense in vers 12 aanspreek – hy gebruik hier taal wat in die Ou Testament op Israel toegepas is (Deut. 7:6 en 7). Dit gee iets weer van die spesiale posisie van die kerk en die gelowiges in die Nuwe Testament: uitverkorenes, heiliges, geliefdes. Máár, as hulle so ‘n spesiale posisie ontvang het, dan moet hulle ook spesiaal lyk. Hulle moet gekleed gaan in die uitrusting van die Een wat aan hulle hul spesiale posisie gegee het. Nou, kom ons kyk hoe lyk hierdie nuwe uitrusting. En dit is ‘n driedelige uitrusting wat Paulus hier vir ons beskryf; daar is drie kledingstukke: die onderkleed, die bo-kleed, en die gordel. Paulus begin eers by die onderkleed.

Innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid – dit is volgens Paulus in vers 12 die dinge wat saam die gelowige se onderkleed uitmaak.

  • Innerlike ontferming – in die bybelse spraakgebruik is die innerlike van die mens (letterlik: sy ingewande) die setel van die gevoelens, in besonder van gevoelens van ontferming en medelye. En wanneer Paulus sy tekening van die nuwe mens se onderkleed hiermee begin, dan wys hy daarmee dat die nuwe mens oor meer gaan as maar net die beoefening van ‘n aantal uiterlike deugde, soos wat die filosowe van sy dae voorgeskryf het. Nee, dit gaan daaroor dat die gelowiges begin lyk soos die Een met wie hulle deur die geloof verbonde is, en dat die ontferming wat hulle by Jesus raakgesien het tot uitdrukking kom in hulle houding teenoor mekaar. Om deel van Jesus Christus te wees, raak dus nie net ons uiterlike optrede nie, maar ook ons gevoelens – tot in die ingewande toe. En as ons praat van gevoelens, broers en susters, dan bedoel ons daarmee nie die swewende belewing van ons tyd nie; dit is iets wat voortdurend wissel soos wat ons emosies wissel. Nee, dit gaan daaroor dat ons innerlik beweeg word vir mekaar, ‘n deurleefde omgee vir die ander een.
  • Goedertierenheid – dit is die bereidheid om goed te doen, om jouself nuttig te maak vir die ander. En dit word gevoed vanuit ‘n opregte sorg vir die gevoelens en begeertes van die ander.
  • Nederigheid – dit is die bereidheid om die ander hoër te ag as jouself. In ‘n wêreld waar eer en aansien hoog aangeslaan is, en alles moontlik gedoen is om daardie eer te verkry, is hierdie deel van die Kolossense se onderkleed volledig teen-kultureel. En dit geld vir ons tyd nog net so – dit stry teen ons kultuur, en teen ons wese om jouself ondergeskik te stel aan die ander een, nie waar nie? Vra daarom, bid daarom vir hierdie uitnemende deug, wat ons op so ‘n besondere wyse in die lewe en sterwe van ons Here Jesus raaksien. Want nederigheid stel jou in staat om die ander een te dien sonder om jou daaroor te bekommer of dit raakgesien word of nie.
  • Sagmoedigheid – dus, nie toornig of opvlieënd nie. Nee, dit beteken nie dat jy alles net hoef te aanvaar nie, maar dit beteken wel dat jy daarna sal soek om nie die ander onnodig seer te maak en te kwes nie.
  • Lankmoedigheid – dit is geduld; dit beteken dat jy jouself lank kan inhou voordat jy lug gee aan gevoelens van toorn en woede.

Vervolgens gaan Paulus daartoe oor om die lankmoedigheid of geduld waarmee hy in vers 12 gëeindig het, in vers 13 nader te omskryf. Hierdie lankmoedigheid bestaan daarin dat ons, wanneer die een teregte kritiek op die ander een het en daar skuldbelydenis volg, dat ons mekaar sal vergewe. Ons mag dus kritiek lewer – kyk maar net na die oproep in vers 16 om mekaar te vermaan – maar altyd met die bereidheid om foute wat erken word, te vergewe. Rojaal te vergewe, soos wat Christus ons vergewe het. As jy van die vergifnis van die Here lewe, sal jy ook bereid wees om die ander se foute en gebreke te vergewe. Wie die Here Jesus aangetrek het, sal ook daaraan werk dat hierdie deel van die onderkleed – naamlik die vergifnis – mooier en mooier word.

Broers en susters, hier vind ons dus vyf gesindhede, vyf maniere van optrede, wat pas by die nuwe mens in Christus. En hierdie vyf staan lynreg teenoor die vyf ondeugde wat Paulus in vers 5 genoem het.

Maar daar is nog meer as die onderkleed, daar is ook nog ‘n bo-kleed. Miskien het u al gewonder hoekom ek die onderskeid maak tussen die onderkleed en die bo-kleed. Wel, die rede hiervoor lê in vers 14, waar ons lees: “En beklee julle bo dit alles…” Bo dit alles – dit kan die indruk skep dat dít wat nou gaan volg in kwaliteit die hoogste is; dus, doen dit en dit en dit, maar belangriker nog, bo dit alles… Dit is sekerlik waar, maar ons moet die egte betekenis van hierdie woorde tog op ‘n meer letterlike vlak soek. Paulus sit naamlik hier die beeld van die nuwe klere voort. Eers moes die Kolossense innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid as onderkleed aantrek, maar vervolgens moet hulle bo-oor dit alles aantrek: die liefde!

Ons moet onthou dat die mense van die bybelse tyd hoofsaaklik twee kledingstukke gehad het – die onderkleed en die bokleed. Die onderkleed was ‘n kleed van eenvoudige materiaal wat die hele liggaam van bo tot onder bedek het, effens sakvormig, met openinge vir die kop en die arms Nou moet ons dit nie verwar met vandag se onderklere nie; die onderkleed was nie onderklere nie, want dit was nie snaaks vir ‘n Jood om met sy onderkleed in die openbaar te verskyn nie. Die bo-kleed is daar bo-oor gedra en was van baie mooier materiaal en ook duursamer. Ryk mense se bo-kleed was dikwels van kosbare sy en pragtig versier. Dit is die beeld wat Paulus hier in gedagte het. Eers die onderkleed – innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid – uiters belangrik, maar eenvoudig. En dan die kosbare bo-kleed – die liefde! – dít wat die christen so asemrowend mooi maak, dít waaraan die christen by uitstek herkenbaar is as draer van die beeld van sy Skepper.

Broers en susters, die liefde onderskei homself van die vyf gesindhede wat in vers 12 genoem is in dié sin dat dit die christelike deug en die vrug van die Gees by uitstek is! Reeds in hoofstuk 1 het Paulus die Kolossense geprys vir die liefde wat hulle aan hulle medegelowiges in die wêreld bewys. En hier, in hoofstuk 3, spoor Paulus hulle aan om die bo-kleed van die liefde steeds weer aan te trek, steeds mooier en mooier te laat lyk. En hierdie aansporing dien om die Kolossense skerp te hou. Die liefde mag nooit roetine word nie; die liefde moet onderhou word, daar moet aan die liefde gewerk word. Want voordat jy weer kyk hou die liefde op om liefde te wees, en word dit koue pligpleging.

En wanneer ons as gelowiges die liefde as bo-kleed aantrek – deur die geloof, uiteraard! – dan trek ons in werklikheid Christus aan! Immers, Christus is die nuwe mens by uitstek, en wanneer ons Hom aantrek dan word ons óók vernuwe na die beeld van die Skepper. Dit is daarom nie verniet dat Paulus sy lesers in die laaste verse van ons Skrifgedeelte (verse 16 en 17) steeds weer na Christus en sy Woord verwys nie – “laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid” (vers 16), en “doen alles in die Naam van die Here Jesus” (vers 17). Liefde genereer jy dus nie uit jouself nie, liefde kom slegs wanneer ons die Skrif oopmaak, die bybel bestudeer, die eredienste bywoon, tot die Here gaan in gebed, en in dit alles groei in ons verhouding met Jesus Christus. Dit is die enigste manier hoe jy elke dag die bo-kleed van die liefde kan aantrek as ‘n werksame en praktiese lewenswyse.

En dan is daar nog die derde, en laaste, kledingstuk. Paulus praat aan die einde van vers 14 van die liefde as die band van die volmaaktheid. Ja, ons kan sê dat die liefde, behalwe dat dit die bo-kleed is wat die mens van God pragtig versier, ook die gordel is wat al die klere bymekaar hou. Al die gesindhede wat in vers 12 genoem, al daardie los dele, word deur die liefde saamgebind tot een geheel. Deur daardie liefde kom al vyf gesindhede van die onderkleed tot hulle reg; daardeur is ons innerlike bewoë oor mekaar, sal ons ‘n oog daarvoor ontwikkel om goed te doen vir mekaar, sal ons in staat wees om die ander te dien in nederigheid, sal ons altyd sag werk met die ander, en sal ons geduldig kan bly met die foute en die gebreke van die ander. Die liefde is die gordel wat dit alles saambind, sodat die Christen ‘n mens uit een stuk is!

-----------------

Gemeente, ek het reeds genoem dat Paulus hier in Kolossense die normale struktuur van sy briewe volg: eers ‘n teologiese basis, en vervolgens ‘n praktiese toepassing. Maar die praktiese toepassing is gebou op die basis. Ons moet die twee nie uitmekaar haal nie. Deur die geloof het ek met Christus gesterf en opgestaan, my lewe is met Hom verborge in God – my lewe is daarbo by Hom! En wat werk dit uit hier op aarde? Wel, dit is opmerklik dat Paulus in hoofstuk 3 nie baie opdragte gee nie. Dit mag dalk wel so voel as jy hoofstuk 3 ‘n eerste keer oppervlakkig lees, maar gaan kyk bietjie mooi. Hoeveel werklike opdragte is daar? In werklikheid, as jy goed daarna gaan kyk, is daar eintlik net twee opdragte: trek uit die ou klere, trek aan die nuwe klere; lê die ou mens af, en beklee julle met die nuwe mens. Want dit gaan nie in die eerste plek oor wat ons moet gaan doen nie, maar dit gaan oor wie ons is!

Wie in Jesus Christus glo, kry / ontvang van Hom nuwe klere. Nee, ons moet dit nog duideliker stel: wie in Jesus Christus glo, ontvang Hom! Hy is die nuwe klere! En deur die geloof trek ons Hom aan. Ek is bekleed met Jesus Christus; Hy is die nuwe mens wat my mooi maak. Hy is die onderkleed wat my innerlik bewoë en goed en nederig en sagmoedig en lankmoedig maak. Hy is die bo-kleed wat my liefdevol maak. Hy is die gordel wat my ‘n liefdevolle mens uit een stuk maak. Dis alles Hy! Sonder Hom is ek niks nie, staan ek naak voor God en die mense.

Ek wil ons almal daarom aanmoedig en aanspoor – in plaas daarvan om in eie kragte te probeer word wat ons moet wees – om heel eerste met Christus besig te wees. Dit is ook Paulus se advies in verse 16 en 17. Laat die Woord van Christus ryklik in ons woon (vers 16). Ja, laat ons besig wees met die Woord, met die prediking, met die studie van die Skrifte – want dit is die manier hoe die nuwe klere al hoe mooier word, hoe die nuwe mens al hoe mooier in my lewe sigbaar word. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere (vers 16). Laat ons al singende van die ou mens gestroop en met die nuwe mens beklee word. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. Watter mooi en goeie dinge ek ook al doen of sê – dit is nie ek nie, dit is die Here Jesus waarmee ek bekleed is, en daarvoor dank ek die Vader. En as jy soms moedeloos word omdat jou klere nog nie so mooi is soos wat jy graag sou wou hê nie, as jou lewe nog die spore van die ou mens dra, gaan dan na Christus toe. Soek Hom, bid Hom om vernuwing deur sy Gees. En hoop op, sien uit na sy openbaring by sy wederkoms. Want – vers 4 – wanneer Hy geopenbaar word, dan sal ons self ook in heerlikheid geopenbaar word. Dan sal sigbaar word wat vandag nog gebrekkig is. Nuwe mense, mense wat die volmaakte beeld van hulle Skepper dra. Dit moet heerlik wees! Kom, broers en susters, dis tyd om aan te trek!

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum: sing Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 136:1 (beurtsang: almal+refrein almal), 18 (susters+refrein almal), 19 (broeders+refrein almal), 20 (almal+refrein almal)

Lesing van die wet + samevatting Mt. 22:37-40

  • Kollekte

Sing Skr. 21:3-5

Gebed

Lees: Kolossense 3:1-17

Sing Ps. 73:10 en 11

Teks: Kolossense 3:1-3

Preek

Amenlied Ps. 132:6, 8 en 10

Gebed

Slotsang Skr. 9:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen