Die plerooma (volheid) van God in Christus maak die dwaalleer leeg en waardeloos

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-02-16
Teks: 
Kolossense 2:9-10
Verwysing: 
Geheim van my heilige lewe (3)
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Paulus is dankbaar en bly oor die gemeente in Kolosse – en dit is iets wat ons nie van elkeen van die gemeentes, aan wie hy briewe geskryf het, kan sê nie. Hy is dankbaar vir hulle geloof in Jesus Christus, hulle liefde tot al die heiliges, en hulle hoop in die toekoms (Kol. 1:3-5). En volgens hoofstuk 2:5 is hy bly om hulle goeie orde en die vastigheid van hulle geloof in Christus te sien. Maar dieselfde hoofstuk 2 wys vir ons dat Paulus nie net dankbaar en bly is nie; daar leef in Paulus se hart ook bekommernis. Want die gemeente word deur dwaalleer bedreig. Wat presies die inhoud van hierdie dwaalleer was, is uiters moeilik om vandag nog vas te stel; talle geleerdes het al pogings gewaag om die sogenaamde “Kolossensiese dwaalleer” te probeer definieer, maar daar is tot vandag toe weinig eenstemmigheid. Maar dit is in elk geval duidelik dat Paulus die gemeente in hoofstuk 2 ernstig teen hierdie dwaalleer waarsku: “Dit sê ek sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie” (vers 4); “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie...” (vers 8); en vanaf vers 16 tot aan die einde van die hoofstuk bestee Paulus al sy aandag om hierdie dwaalleer as waardeloos te ontmasker en te weerlê (vers 23).

En dit is teen die agtergrond van hierdie dwaalleer dat ons ons teks – verse 9 en 10 – moet probeer verstaan. Dit is teen die agtergrond van hierdie dwaalleer, dat die reliëf van ons teks na behore na vore kom. In vanoggend se preek wil ons dus stilstaan by en nadink oor God se volheid – in Grieks: sy plerooma – teen die agtergrond van die dwaalleer in Kolosse.

Tema: die plerooma (volheid) van God in Christus maak die dwaalleer leeg en waardeloos.

 

Nou, broers en susters, dit is inderdaad uiters moeilik om te probeer vasstel deur watter dwaalleer die gemeente van Kolosse presies bedreig is. Duidelik het die Kolossense baie goed verstaan waaroor dit gaan, maar vir ons – 2000 jaar later – is dit ‘n ander storie. Maar dit beteken nog nie dat ons niks oor hierdie dwaalleer kan sê nie. Kom ons probeer vasstel wat ons in elk geval wél kan sê – en dan moet ons veral let op daardie gedeelte waar Paulus die dwaalleer eksplisiet bespreek, verse 16-23.

Dit is duidelik uit hierdie gedeelte dat die dwaalleer in Kolosse in die eerste plek te make gehad het met sekere – veral Joodse – praktyke. Paulus praat in vers 16 van spys en drank, en van die onderhouding van feeste, nuwemane en sabbatte. Dit is tipiese Joodse identiteitsmerkers – spyswette (spys en drank) en vasgestelde tye (feeste, nuwemane en sabbatte) – waardeur Jode in die wêreld van daardie tyd hulleself van ander volke onderskei het. Ook die besnydenis, waarna Paulus kortliks in vers 11 verwys, is ‘n duidelike Joodse gebruik. Selfs die verering van die engele in vers 18 verwys waarskynlik na die belangstelling vir die engele-wêreld, wat sterk binne sekere Joodse groepe in daardie tyd geleef het (ons moenie dink dat die Judaïsme van Paulus se dae ‘n eenvormige geheel was nie; o nee, daar was ‘n wye verskeidenheid van groepe en sektes wat almal daarop aanspraak gemaak het om die waarheid te besit). Dus, dit wil voorkom asof ons hier te make het met ‘n aanslag vanuit groepe binne die Judaïsme op die jong gemeente in Kolosse. Hierdie groepe het probeer om, vanuit die Skrifte (die Ou Testament, wat, terloops, dieselfde Skrifte was as wat die Christene gebruik het) druk op die kerk uit te oefen om sekere wette en praktyke na te volg – asof daar nog iets aan hulle geloof ontbreek het. ‘n Mens kry nie die indruk dat die gemeente in Kolosse al daarvoor geswig het nie, maar die druk was sekerlik daar.

In die tweede plek wil dit voorkom asof hierdie dwaalleer ook sekere asketiese praktyke bevat het; praktyke wat ‘n afkeer van die liggaamlike en fisiese dinge gereflekteer het. Dit kom treffend uit wanneer Paulus die dwaalleraars self aan die woord laat in vers 21: “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie...” – dis die beginsel waarby hierdie dwaalleraars geleef het. Die dwaalleraars het die geestelike dinge hoër geag as die liggaamlike en fisiese dinge. Sterker nog: hulle het die liggaamlike en fisiese dinge as minderwaardig – en selfs sondig – beskou, en daarom vereis dat sekere liggaamlike dinge (soos spys en drank) vermy moes word. Paulus beskryf hierdie dwaalleer in vers 23 dan ook as ‘n ‘gestrengheid teen die liggaam’.

 

Nou goed, mens sou nog meer kon noem, maar dit is ongeveer die hoofelemente van hierdie dwaalleer. Om van hieruit ‘n geheelbeeld te vorm, is moeilik, ek weet. En om te sê met watter spesifieke groep of dwaalleer ons hier te make het, is amper onmoontlik. Maar dit is in elk geval duidelik dat ons hier met ‘n groep of groepe te make het wat aan die jong gemeente in Kolosse sekere vereistes opgelê het, en van hulle vereis het om bepaalde praktyke en reëls na te volg om sodoende tot geestelike volmaaktheid te kom. Paulus noem hierdie praktyke en reëls tot tweemaal toe (vers 8 en 20) die “eerste beginsels van die wêreld”. Dit is weereens ‘n moeilike begrip om te verstaan, maar ons sou kon sê dit verwys na die ABC van alle wêreldse godsdienste. Dit is die elemente waaruit alle godsdienste opgebou is – in alle godsdienste is die basiese boublokke – die ABC! – dat jy sekere reëls moet volg en sekere praktyke moet uitvoer om tot geestelike volmaaktheid te kan kom. Net so het hierdie dwaalleer van die Christene in Kolosse geëis om iets toe te voeg, iets by te dra, iets self te doen. Want geloof alleen is nie voldoende nie – geestelike volmaaktheid vereis nog iets meer! En dít is waarteen Paulus hom met al sy mag verset. Paulus beskryf dit neerhalend as ‘n filosofie wat mense as buit wegvoer, ‘n nietige misleiding (vers 8), gebooie en leringe van mense (vers 22), ‘n eiesinnige godsdiens (vers 23). Paulus verwerp hierdie dwaling op alle moontlike maniere.

 

Want, sê hy in ons teks (en hier kom ons by die kern!), in Christus woon al die volheid (die plerooma) van die Godheid liggaamlik! Al die volheid van die Godheid – dit is ‘n Ou Testamentiese gedagte. In die Ou Testament verwys hierdie volheid na die heerlikheid van God wat die aarde vul. Dink aan Psalm 72:19, wat ons saam gesing het: “Geloofd sy vir ewig sy heerlike naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word.” Of Jesaja 6:3: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” Of dink ook aan Esegiël 43:5, waar die heerlikheid van die Here die tempel vervul het. Dit gaan hier dus oor die heerlikheid van God, die volheid van God, wat in die Ou Testament die hele aarde – en spesifiek ook die tempel – vervul het. Daardie heerlikheid, die volheid van God, woon nou in Christus. En let op, gemeente, hier staan nie net dat die volheid van die Godheid in Christus woon nie. Nee, hier staan: al die volheid van die Godheid, die volle volheid. God in al sy volheid en heerlikheid woon in Jesus Christus – liggaamlik! Interessant, nie waar nie, dat Paulus hierdie laaste nog toevoeg. Teenoor die verwerping van die liggaamlike deur die dwaalleraars, teenoor die gedagte dat die mens vir sy verlossing bo die liggaamlike en stoflike moet uitstyg en in voeling moet kom met die geestelike (die hoëre), getuig Paulus dat die volheid van die Godheid juis liggaamlik in Christus woon. God het mens geword! En in die mens, Jesus van Nasaret, woon God in sy volheid.

Maar Paulus gaan nog verder in vers 10: ja, dis waar, die volheid van die Godheid woon in Christus, maar daar is nog meer: óns het die volheid in Hom! En om nog ekstra te bevestig wie Christus vir ons is, noem Paulus Hom in vers 10 die Hoof van alle owerheid en mag. Christus het die Hoof van alle owerheid en mag geword toe Hy (volgens verse 14 en 15) die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was (dit is die einste insettinge wat die dwaalleraars weer verpligtend wil maak), uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. Christus is die Hoof – bo Hom is daar niks of niemand nie! En in Hom het ons nou die volheid – die volle volheid! Daar is niks wat belangriker is as Hy, wat nog toegevoeg moet word nie; daar is niemand hoër as Hy wat iets kan toevoeg nie. Niks nie! In Hom het ons alles!

 

Gemeente, hierdie boodskap aan die Kolossense is so geweldig relevant vir ons. Want dieselfde druk wat daar op hulle toegepas is om iets ekstra te moet doen, word vandag nog steeds op ons as gelowiges en as gemeente toegepas. En ons is so vatbaar daarvoor. Die eerste beginsels van die wêreld, waarvan Paulus praat, die ABC van alle godsdienstigheid, naamlik dat ons sekere ekstra dinge moet doen en sekere ekstra reëls moet nakom om geestelike volheid te kan bereik – dit sit van nature in almal van ons. Dit is die standaard vertrekpunt van alle godsdienstigheid – gaan kyk maar na enige godsdiens. Jy moet iets doen; jy moet sekere reëls volg; jy moet sekere verpligtinge nakom; jy moet iets ekstra beleef. Ja, geestelike vervulling / volheid lê in daardie ekstra wat ons moet doen of beleef. En ons sien dit...

Van buite-af word deur invloedryke Christelike groepe vir ons gesê dat gewone geloof in Christus nie genoeg is nie. Daar moet nog iets by kom – ‘n ekstra belewing, ‘n ekstra ervaring van die Gees, die spreek in tale, ‘n ‘second blessing’. Jy moet van jou bekeringsdag en -uur kan getuig, jy moet jou geloof wys deur met jou hande in die lug te staan. Jy moet verkieslik kan getuig hoe die Here met jou gepraat het. Dit is alles daardie ‘ekstra’ wat op ons gelê word, en wat ook op ons lidmate invloed uitoefen.

Maar dit is nie slegs daar buite nie... Binne ons geledere kom dit op ‘n baie spesifieke manier tot uiting wanneer ons sekere gewoontes en sekere tradisies en gebruike die norm maak vir ons Christenskap. Getroue kerkgang word dikwels onder ons so ‘n norm, of dat ons slegs sekere liedere tydens die erediens mag sing en net sekere instrumente vir begeleiding mag gebruik, of dat ons kinders na ‘n gereformeerde skool toe gaan, of dat ons sekere dinge nie op Sondae doen nie – om maar net ‘n paar eenvoudige voorbeelde te noem. Ek is seker u kan nog ander dinge noem wat ons aan die lysie sou kon toevoeg. Al hierdie dinge word identiteitsmerkers, wat ons baie subtiel (soms selfs sonder dat ons dit agterkom) aan mekaar oplê, en waaraan ons mekaar dan meet. En baie van hierdie gebruike en praktyke is goeie dinge, mooi dinge, dinge wat ons asseblief nie moet weggooi nie. Maar die vraag is: waar vind ons vervulling? Waar vind ons die volheid?

Paulus leer ons, broers en susters, dat ons die volheid in Christus vind. Die volle volheid – daar is nie plek vir nog iets anders nie. Dit is nie Jesus Christus + nie. Dit is nie Jesus Christus + gereformeerde onderwys nie. Of Jesus Christus + ‘n orrel + die psalms nie. Of Jesus Christus + die vervulling met die Gees + die spreek in tale nie. Daar is eenvoudig nie plek vir die + wanneer ons in Christus die volle plerooma van God ontvang nie. En ek sê dit nie om daarmee die mooi dinge in ons gereformeerde tradisie te verag en weg te gooi nie. Ek sê dit tot ons saligheid! Want dit is wat vir Paulus hier op die spel is: pas op dat niemand julle as krygsgevangene wegvoer nie! (vers 8) Laat niemand julle van jul prys beroof nie (vers 18). Paulus waarsku die Kolossense teen eiesinnige godsdiens, teen waardelose godsdienstigheid (vers 23). Teenoor die volheid in Christus word alles, wat ons moontlik sou kon toevoeg om geestelike volheid te vind, waardeloos. Dit dien slegs tot versadiging van die vlees (vers 23).

 

In Hom het ons die volheid!

In die verse rondom ons teks wys Paulus pragtig waaruit hierdie volheid in Christus bestaan – en elke keer gebruik hy dieselfde soort begrippe: in Christus, in die Here, in Hom, met Hom, saam met Hom. En al hierdie begrippe, wat ongeveer 160 keer in Paulus se briewe voorkom, kan saamgevat word met daardie pragtige, heerlike rykdom van ons geloof, wat deur die reformatore herontdek en deur die eeue daarna verder ontgin is: die gemeenskap met Christus (in Latyn: unio cum Christo). ‘n Gemeenskap met Hom as Persoon – Hy in my en ek in Hom. En as Hy so, deur die geloof (nie deur my werke nie, nie deur my ekstra nie – slegs deur die geloof!), as Hy so in my bly en ek in Hom, dan open dit vir my die toegang tot Hom en al sy werke, al sy genade. Gemeenskap met Christus strek van ewigheid tot ewigheid. Van ewigheid – want God het ons immers in Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (soos Paulus leer in Efesiërs 1:4). Uitverkiesing, daardie leerstuk wat talle onder ons so benoud kan maak, mag ons dus nooit los van Christus beskou nie. Soos Calvyn sê: Christus is die spieël waarin ek my uitverkiesing sien: wil hy weet of jy uitverkies is? Kan dan na Christus! Van ewigheid... in Hom! En ook tot in ewigheid – want ons sterf immers in Christus (1 Thess. 4:16), en ons sal in Christus lewend gemaak word (1 Kor. 15:22), en by sy wederkoms sal ons met Hom in heerlikheid geopenbaar word (Kol. 3:4), en ons sal met Hom regeer (2 Tim. 2:12). Van ewigheid tot ewigheid is alles in Christus! Van ewigheid tot ewigheid.... en ook alles tussen-in. Kyk maar saam met my na die verse rondom ons teks.

Ons het saam met Christus gesterf en is saam met Hom begrawe in die doop (vers 12a). Christus se dood en begrafnis is dus, deur die geloof, ook ons s’n, ook myne. Verder: ons is saam met Christus opgewek deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het (vers 12b). Christus se opstanding is ook ons opstanding. En dan: ons is in Christus besny met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus (vers 11). ‘n Moeilike vers, maar dit dui op die bekering, die aflegging van die sonde, in die lewe van elkeen wat in Christus glo. Maar hierdie bekering is nie ons werk nie, nee, ons ontvang dit in Christus! Ons is ook met Christus lewend gemaak, ons wat dood was deur die misdade (vers 13) – dit dui op die wedergeboorte wat ons in Christus het. En ons is nou in Hom gewortel en opgebou (vers 7) – twee beelde wat ons ook op ander plekke in die Skrif teëkom. Gewortel – dit herinner ons aan die beeld in Johannes 15, waarin dit gaan oor die takke wat ingeënt word op die wynstok. Daar sê Christus: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.” Dit gaan hier dus oor die bron van my geestelike lewe en van die vrugte wat ek in my lewe dra – ek kan slegs lewe en vrug dra as ek in Christus gewortel is! En die tweede beeld: opgebou. Dit is die beeld van ‘n bouwerk, wat ons herinner aan Efesiërs 2:20-22: “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here. Opgebou in Hom, ‘n heilige tempel in Hom, my heiligheid in Hom!

 

En dan ten slotte ook nog die oproep in vers 6 van Kolossense 2: “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom.” Christus aanneem – ons is soms so benoud vir hierdie gedagte, broers en susters. En tereg. Dit het in baie christelike kringe die gedagte gewek dat ons die inisiatief neem, dat ons God kies, in plaas daarvan dat Hy ons gekies het voor die grondlegging van die wêreld. Maar ons moet hierdie woorde verstaan in die lig van die volheid waarvan ons teks praat – ons het alles in Christus; in Hom woon immers die volheid van die Godheid. Neem daardie alles dan ook in geloof aan, neem Hom in geloof aan, ontvang alles in Hom. Soos wat v/a 61 van die Kategismus ons leer: “Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof geregverdig is? Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Chrisus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.” Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom.

Wandel in Hom! Wanneer dit gaan oor die geheim van ons heilige lewe (ons jaartema!), dan is dít dikwels die kritieke punt waar ons dink dat ons nou ons deel moet doen. Ja, sterwe en opstanding in Christus, eendag ewige lewe in Hom. Maar die wandel? Dit is ons verantwoordelikheid, ons bewys van dankbaarheid. En dan sê Paulus: nee! Net soos die uitverkiesing, en ons dood en opstanding, en ons wedergeboorte en bekering, en ons regverdiging en volharding, en ons ewige lewe en heerskappy, is ook die wandel in Hom! En dit beteken, broers en susters, dat ons op ons hele lewenspad op Christus sal fokus. Die hele tyd sal vra: wie is Christus in my lewe? Wat het my werk, my huwelik, my sport, my ontspanning met Christus te make? En dit is iets anders as die die bekende WWJD: what would Jesus do? Daar word die fokus beperk tot wat ek moet doen; daar word Christus ‘n soort volmaakte voorbeeld wat ek maar net moet navolg. Maar dit gaan oor baie meer: dit gaan oor die Persoon van Christus met Wie ek verbind is! Wie is Hy vir my wanneer ek my werk doen? Wie is Hy vir ons in ons huwelik? Wie is Hy vir my wanneer ek skooltoe gaan en dalk nie sulke goeie maats het nie? Wie is Hy vir my in die mooi en heerlike tye van my lewe, maar ook in die donker dal wat soms oor ons lewens kom? Ek is gewortel in Hom, ek is opgebou in Hom – dus, my lewe is veilig en vas geanker! – en daarom: gaan wandel nou ook in Hom! Ook vir die daaglikse, gewone lewe, gemeente, vind ons die volheid in Christus.

 

Broers en susters, laat ons die tyd neem om na te dink oor die werklikheid dat die volheid van die Godheid liggaamlik in Christus woon, en dat ons in Hom die volheid besit. Deur die geloof in Christus, deur die gemeenskap met Hom, is op een of ander wonderlike wyse die volheid van die Godheid ook in ons. Die volle volheid! Laat ons mekaar daarop wys, mekaar daarmee verbly! En nie toelaat dat allerhande ander dinge daardie volheid kom verdryf nie. Laat ons kerkwees nie ontaard in ‘n benoude gereformeerdheid waarin ons mekaar laste oplê en mekaar vervolgens daaraan meet nie. Christus en die volle volheid in Hom – laat ons mekaar aan Hom alleen verbind. Heerlik, ontspanne... en voluit gereformeerd! Amen

Liturgie: 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 42:5 & 43:3 en 4 (sing aaneen)

Lesing van die wet (Jakobus noem dit: die koninklike wet, die wet van die koninkryk)

Sing Ps. 72:1, 6, 10 en 11

Gebed

Lees: Kolossense 2:4-23

Sing Ps. 102:8, 9 en 12

Teks: Kolossense 2:9-10

Preek

Amenlied Ps. 23:1 en 3 (tweede beryming)

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 33:1 en 2

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen