Vind rus daarin dat God se Gees alomteenwoordig, alsiende en alwetend is

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2020-02-09
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 11
Preek Inhoud: 

Saam met art. 11 van die NGB bely die kerk dat die Heilige Gees ook God is.

En soos u in u Psalmboekie kan sien, is daar heelwat Bybeltekste onderaan hierdie artikel.

Alles was in hierdie artikel staan, is ontleen aan die Bybel self.

Die Skrif openbaar naamlik op verskillende wyses die Godheid van die Heilige Gees.

Toe ons onlangs na art. 10 van die NGB gekyk het, oor die Godheid van Jesus, onthou u dalk dat die Skrif basies saamgevat op vier verskillende wyses Christus se Godheid openbaar.

Christus ontvang Goddelike name in die Bybel.

Christus ontvang Goddelike eer in die Bybel.

Die Skrif openbaar dat Christus Goddelike eienskappe het.

En die Skrif beskryf Christus se Goddelike werke.

 

Presies dieselfde kan oor die Heilige Gees gesê word.

Die Bybel gee ook Goddelike name aan die Heilige Gees.

Sien byvoorbeeld Handelinge 5:4, waar die Heilige Gees God genoem word.

Die Bybel gee ook Goddelike eer aan die Heilige Gees.

Dink byvoorbeeld aan die feit dat mense gedoop word, ook in die naam van die Heilige Gees.

Om in iemand se naam gedoop te word, dit is ‘n eer wat net God toekom.

Derdens beskryf die Bybel ook die Goddelike werke wat die Gees verrig.

So was Hy betrokke by die skepping, Hy is betrokke by die vernuwing en reiniging van ons lewens, breër nog, die herskepping van die hele aarde.

En dan vierdens beskryf die Bybel ook die Gees se Goddelike eienskappe.

So is Hy byvoorbeeld alomteenwoordig.

 

Nou gaan ek vanaand nie in detail let op al vier hierdie openbarings van die Skrif nie.

‘n Paar jaar gelede het ek in die leerpreek dit wel gedoen.

Dit was in 2015.

In die preek toe na aanleiding van NGB art. 11 het ek gefokus op die name, eienskappe, werke en eer van die Heilige Gees.

Daardie preek staan nog op die internet, en u is welkom om dit weer deur te lees.

Ek gaan dit in hierdie preek nie herhaal nie.

Ons kyk vanaand na ‘n Skrifgedeelte waar die Heilige Gees baie eksplisiet na vore kom, en dit is Psalm 139.

 

Tema: Vind rus daarin dat God se Gees alomteenwoordig, alsiende en alwetend is.

 

In Psalm 139 verwoord Dawid hoe klein en nietig hy voel.

Dit het hom ineens getref hoe groot, almagtig en alomteenwoordig God se Gees is.

Psalm 139 is geen filosofie oor God nie.

Hierdie psalm is vol bevinding, vol emosie.

Dawid beskryf wat hy van God die Heilige Gees ervaar.

Dit het hom ineens oorweldig dat daar letterlik niks van sy lewe verborge is vir God se Gees nie.

Die psalm begin met die eerlike erkenning: HERE, U deurgrond en ken my.

Dis soos iemand wat sy hande in die lug steek, heeltemal weerloos is.

Wat daar ook in’ n mensehart weggesteek is, niks is aan die Gees onbekend nie.

Ja selfs voordat ‘n mens ‘n gedagte geformuleer en onder woorde gebring het, weet God al wat daar op koms is!

Vir ons as mense geld dat jou woorde ‘n spieël van jou hart is.

Dit waaroor mense baie praat, dit is wat leef in hulle hart, dit is wat vir hulle belangrik is.

Ons kan nie in ‘n ander se hart kyk nie.

Maar ook as jy dit regkry om iets, wat sterk in jou hart leef, net vir jouself te hou, en nie daaroor te praat nie – nog steeds is dit nie vir Hom onbekend nie.

God, wat die hart ken, is nie afhanklik van woorde nie.

So dring God se Gees deur tot in die diepste dieptes van die menselike gees.

God se Gees is orals tegelyk, voor en agter, bo en onder.

En dit nie net op afstand nie, maar naby, so naby dat Hy sy hand op my kan lê.

Hier bely Dawid baie konkreet die Gees se alomteenwoordigheid.

God die Heilige Gees is nie opgesluit in die hemel nie.

Hy is soos ‘n pa wat sy hand op sy klein kind se kop lê.

Orals waar die klein kind heengaan, is die pa ook by.

 

Dit alles weet die digter.

Dis is sy ervaring.

Dit is nie iets wat hy kan begryp nie.

As hy probeer om dit te verstaan, begin dinge vir hom te duisel.

Alles begin te duisel, veral as Hy iets van sy alomteenwoordigheid probeer verstaan.

Ook dit is nie iets wat abstrak is nie.

Dit is wat die digter agterkom.

Orals vind ek u Gees terug.

En om dit duidelik te maak, verwoord Dawid die absolute uiterstes, uiterstes wat in die werklike lewe in elk geval onbereikbaar vir ‘n mens is.

Eerstens klim hy op na die hemel, verby die verste sterre en planete.

Tweedens daal hy af tot in die doderyk.

Derdens kry hy vlerke, nie sommer net vlerke nie, maar die vleuels van die dageraad, ons sou vandag sê – hy kan met daardie vlerke vlieg teen die spoed van lig ...

Soos wanneer vroegoggend die son agter die horison uitkom.

Die oomblik as die son verskyn, skiet die ligstrale oor die veld met ‘n ongekende spoed.

Maar hoe ver hy ook vlieg met hierdie vlerke, orals is God.

Selfs al bereik hy die uiteinde van die see – daar is God!

Geografies gesproke is daar dus geen plek op aarde, ja selfs geen plek in die uitspansel, in die heelal, waar God nie aanwesig is nie.

Alle plekke, selfs die verste ster, is vir Hom naby.

 

Nou goed dan, dink Dawid, as daar geen plek is waarheen ek kan ontsnap nie, miskien help die duisternis.

Die stikdonkerte kan mens as ‘t ware heeltemal insluk, sodat jy nie ‘n hand voor jou oog kan sien nie.

Miskien help die nag.

Is dit nie so dat baie sondes en ongeregtighede in die nag plaasvind, juis omdat ander dit dan nie kan sien nie?

Is dit nie so dat rowers en roofdiere die sluier van die nag gebruik om te kan opereer nie?

Maar, skryf Dawid, ook dit help nie vir God se Gees nie.

Want vir hom bestaan daar geen duisternis of nag nie.

God is lig, en waar God kom, word dit vanself lig.

 

Ons moenie verbaas wees dat God ook ons mees geheime gedagtes kan lees nie.

Was dit nie God self wat ons hart, ja ons hele liggaam geskep het nie?

Dit is die volgende tema waaroor Dawid besin.

Dawid gaan verder deur te beskryf dat God hom selfs al gesien het toe hy in sy ma se skoot gemaak is.

Ja dit is God self wat Hom daar as ‘t ware geweef het in die donkerte van sy ma se skoot.

Elke kunstenaar op aarde, as hy iets moois wil maak, het voldoende lig nodig om te kan sien wat hy doen.

Maar God, vir wie die nag soos dag is en die duisternis soos lig, vir Hom maak dit nie saak nie.

Die groot hemelse Kunstenaar was in staat om daar waar geen oog dit kan sien nie, tog die pragtigste kunswerk te skep.

Ontroerend skryf Dawid daaroor.

God self het die kunswerk van sy liggaam gevorm.

Hy is self die Kunstenaar.

Hoe kan ‘n skepsel dan vir hom verborge wees?

Gemeente, ons staan te min daarby stil dat God die Skepper en Kunstenaar van ons liggaam is.

Veral as ons jonk is, sal ons ons eie liggaam bewonder, die pragtige kurwes van ons liggaam, ledemate, spiere, oë, lippe, hare, noem maar op.

Ons doen dit asof dit aan ons behoort.

Veels te min gaan hierdie gedagtes oor in ‘n dankgebed tot God, die Kunstenaar van ons liggaam, wat dit alles so wonderbaar gemaak het.

 

En wat nog meer is, skryf Dawid, God loop nie agter die feite aan, in die sin dat Hy ons volg in alles wat ons doen nie.

Nee, God weet vooraf al wat ons gaan doen!

Hy het ons lewensloop al bepaal, toe ons gebeente nog nie gevorm was nie.

Toe was dit al in sy boek alles opgeskrywe.

Hierdie is dinge wat, as ‘n mens dit probeer verstaan, hom in verwarring bring.

Dawid skryf: wil ek u gedagtes tel ...

Die woordjie “tel” in vers 18 het hier die betekenis van kontroleer, nareken, boekhou.

Maar dit luk nie.

God se gedagtes en dit wat Hy doen, is meer as die sand van die see.

Inderdaad, dit bring ‘n mens in verwarring, as hy dit probeer nareken.

God se raad is te diep, sy gedagtes is te veel, ‘n mens kan nie daarby nie.

 

Die Heilige Gees is alomteenwoordig, Hy is alsiende, Hy is alwetend.

Ons weet nie presies wanneer in sy lewe Dawid hierdie psalm geskryf het nie.

Wat ons wel weet, is dat Dawid proefondervindelik ervaar het dat dit waar is.

Jy kan niks vir die Heilige Gees wegsteek nie.

Op ‘n stadium het Dawid ‘n geheime verhouding met ‘n ander vrou gehad.

Toe sy onbepland swanger word, het Dawid nog steeds probeer om dinge weg te steek.

Hy het ‘n baie vuil plan uitgevoer, om te maak asof die kind van die vrou se eie man afkomstig was.

Daardie plan het egter nie geslaag nie.

Die man, ons ken die geskiedenis, dit was Uria, was te lojaal aan sy koning en sy medesoldate.

Toe het Dawid nog ‘n vuiler plan gemaak, wat wel geslaag het.

Uria is in die voorlinies van die stryd geplaas, en het toe gesneuwel.

Dawid het toe vir Batseba as sy eie vrou gevat.

Al hierdie dinge het in die grootste geheim gebeur.

Maar groot was die skok toe die profeet Natan op ‘n dag daar aankom, en presies op die hoogte was van wat gebeur het.

Inderdaad, niks is vir God se Gees verborge nie.

Daarvan dig Dawid in Psalm 139.

Hy het dit proefondervindelik ervaar!

 

Net soos Dawid, lei ons ook onsself om die bos deur dinge te probeer wegsteek.

Al is jy deel van die gemeente, al het jy in die verbond opgegroei, al weet jy wie en hoe God is, tog kan ons ook in hierdie soort gedrag verval.

Jy kan dalk die feit dat jy dwelms gebruik, vir jou ouers wegsteek.

Jy kry dit reg om die feit dat jy pornografie kyk, vir jou vrou weg te steek.

Jy slaap rond, maar ‘manage’ jou lewe so, dat dit nie ‘n impak het op jou kerklid wees nie.

Jy gebruik oormatig alkohol, maar dis op ‘n plek waar ander dit nie sien nie.

En daardie vriende wat dit wel weet, vertrou jy, hulle doen dalk dieselfde.

Sondes floreer op geheimhouding.

En dan het ek nog nie eers oor ons gedagtes gepraat nie.

Hoe kan ons soms nie ons gedagtes die vrye teuels gee, in ‘n baie sondige rigting nie.

Gedagtes van haat, van wraak, van onversoenlikheid.

Gedagtes van owerspel.

Gedagtes van gierigheid, van ontevredenheid.

Slegte gedagtes oor medemense, slegte gedagtes selfs oor mede broers en susters.

Dawid skryf: vir U is die duisternis nie donker nie.

Selfs my donkerste gedagtes is volledig en tot in alle detail by die Heilige Gees bekend.

Die duisternis is vir Hom soos die lig!

 

Gemeente, maak dit jou nie mal om te weet daar is iemand heeltyd besig om jou dop te hou nie?

Dawid het daardie gedagte verdring, toe hy in sonde geleef het.

Ons doen dit ook, as ons weet ons is besig met iets wat nie die toets van die daglig kan deurstaan nie.

Inderdaad, hierdie besef, dat die Gees jou elke minuut, elke sekonde, dophou, dit is ‘n vreesaanjaende besef.

Dit is ‘n besef wat ‘n mens inderdaad mal kan maak.

‘n Mens wat sy eie boontjies wil dop.

‘n Mens wat nie wil hê daar moet in sy lewe ingemeng word nie.

‘n Mens wat met rus gelaat wil word, sodat hy sy gang kan gaan.

Is u so ‘n mens?

 

Maar, gemeente, dit kan ook anders.

Dink aan ‘n kind wat dit juis as rusgewend ervaar, dat sy pa en ma heeltyd naby is, dat sy pa en ma hom heeltyd dophou.

As ons so ‘n verhouding met die Here het, soos ‘n kind met sy pa of ma, dan lyk dinge totaal anders.

Dan is die Gees se alsiendheid, en alomteenwoordigheid, en alwetendheid, juis iets wat vertroue wek, en ‘n gevoel van geborgenheid.

Dawid het vir God se Gees probeer wegvlug, maar hy het dit nie reggekry nie.

Maar toe Dawid weer in die posisie van ‘n kind teenoor God geplaas het, toe kon hy hierdie psalm skryf.

Hierdie psalm is nie ‘n radelose, rustelose psalm, van iemand wat gefrustreerd is met die feit dat die Heilige Gees hom dophou nie.

Hierdie psalm asem juis ‘n gevoel van geborgenheid, vertroue, dankbaarheid.

Absolute verwondering oor die feit wie en hoe die Gees van God is!

Hoe almagtig Hy is, welke Goddelike eienskappe Hy het, welke Goddelike werke Hy verrig!

 

Een van die Heilige Gees se werke in ons is dat Hy die Reiniger is.

In Johannes 16:8 staan daar: “Hy sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.”

Dit is wat die Gees ook in Dawid se lewe gedoen het, onder andere deur die profeet Natan na hom te stuur.

Dawid was God se verbondskind, en daarom het die Gees hom nie uitgelos nie.

Deur sy volhoudende bemoeienis het Hy gesorg dat Dawid se lewe gereinig word van sondes.

Dawid het dit ook besef, en Hy het die Heilige Gees se werk leer waardeer:

Daarom roep Hy God op aan die einde van die psalm:

“Deurgrond my, o God” – ja dis goed, ek is dankbaar dat U reg deur my kan kyk!

“Deurgrond my ... en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (vers 23-24)

 

Ook vandag nog is die Heilige Gees die Een wat reinig, wat oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Met ons doen Hy dit, nie om ons uit te lewer aan ‘n ongenaakbare regter wat oor ons oordeel nie.

Hy doen dit met ons, soos Hy dit met Dawid gedoen het, om ons lewe te reinig en al hoe meer aan Christus toe te wy, aan wie ons behoort, Hy wat ons met sy kosbare bloed gekoop het.

Hy is mos die Gees van Christus.

So gebruik die Heilige Gees ook vanaand se erediens om ons te reinig.

Soos u in die afkondiging voor die erediens gehoor het, dit is vandag voorbereiding vir die viering van die nagmaal, DV volgende week.

In hierdie erediens leer die Gees ons dat ons nie vir Hom kan wegvlug nie, dat ons niks vir Hom kan wegsteek nie.

My dwelmgebruik kan ek dalk vir my ouers wegsteek.

My pornografieverslawing dalk vir my vrou.

My wêreldse gewoontes dalk vir die gemeente.

Maar die Gees deursien my.

“Daar’s niks voor U bedek, o HEER!”

Soos Natan destyds vir Dawid gesê het, so klink die Gees se stem vandag ook:

U is die man!

Jou sondes kan jy nie wegsteek nie!

Nie vir God se Gees nie.

Vir Hom bestaan daar nie ‘n dubbellewe nie.

Hy sien jou soos jy is, in jou totaliteit.

 

O liewe broer en suster, mag dit tog so wees dat jy dit nie as negatief ervaar nie.

Mag dit tog so wees dat jy soos Dawid by die punt kom om dit te waardeer.

Dat jy selfs vir die Gees vra:

Asseblief, Gees van God: deurgrond my!

Ken die swart verborge dieptes van my hart.

Deursoek my!

Kyk of daar diep in my, waar U kan lees, ‘n skadelike weg mog wees.

En lei voortaan my wank’le skrede, tog op die weg van eewge vrede!

 

Dit is, gemeente, waarom ons vandag voorbereiding het vir die nagmaal.

Sodat u hierdie week geestelik kan gaan stoei.

En gebruik asseblief daarby Psalm 139, dat dit jou lei, jou lei na die punt dat jy dankbaar is vir die speurwerk van die Gees.

Want so maak die Gees jou waardig om ook volgende week op te staan en nagmaal toe te kom.

 

In die nagmaalsformulier lees ons: die wat in skandelike sondes bly lewe, moet nie die nagmaal van die Here gebruik nie.

Solank hulle daarin volhard, moet hulle wegbly van die nagmaal, sodat hulle oordeel en verdoemenis nie nog swaarder word nie.

Tussen hakies, die nagmaalsformulier bedoel nie dat sommige sondes skandelik is en ander nie.

Elke sonde is skandelik!

Dis nie net dwelmgebruik, pornografieverslawing, owerspel, dronkenskap en sulke dinge wat skandelik is nie.

Dis net soveel hulle wat hulle nie met hulle naaste wil versoen nie.

En hulle wat ander kritiseer, maar nie met die persoon self wil praat nie.

En hulle wat inhalig lewe, te suinig om ander bly te maak.

En so is daar baie voorbeelde, wat onder andere in die nagmaalsformulier genoem word.

 

God se Gees deurskou my geheel en al.

Hy sien alles.

Hy oortuig my, Hy leer my ook wat sonde is (Joh 16:8).

Hy vorm my gewete.

Dikwels is dit naamlik so, dat ons God of ons naaste seermaak met dit wat ons doen, dink of sê, maar dan besef ons dit nie eers nie.

Maar die Heilige Gees stap met ons ‘n pad.

Calvyn het genoem: ons lewe van heiligmaking hou in dat ons leerlinge is in die skool van die Heilige Gees.

Hy leer ons wat God se wil is.

Hy leer ons dinge raaksien wat ons voorheen nie besef het nie.

Hy leer ons insien dat ons ons hemelse Vader geweldig kwets met dinge wat ons doen, dink of sê, dinge wat ons voorheen glad nie besef het dat dit enigsins sondig kon wees nie.

En net so wat betref ons naaste.

 

Geliefdes, laat julle tog hierdie week rus vind vir julle siele.

Rus in die feit dat God se Gees alomteenwoordig, alsiende en alwetend is.

Hy leer ons om sondes te bely.

Doen dit hierdie week.

Gebruik die geleentheid nou dit nog kan.

Kom ons beaam die prediking deur vir Hom te sing:

 

“Deurgrond, o HEER, en ken die swart,

verborge dieptes van my hart;

of diep in my, waar U kan lees,

‘n skadelike weg mog wees.

En lei voortaan my wank’le skrede

tog op die weg van eewge vrede.”

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 139:1-3

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 139:4-5

Skriflesing: Psalm 139

Gebed

Kollekte

Ps 139:6,7,8

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 11

Preek

Ps 139:12

Gebed

Ps 103:6,9

Seën