Die betekenis van die kruis in die lewe van Paulus en die hele kerk

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-02-02
Teks: 
Kolossense 1:24
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Paulus skryf in ons teks, vers 24: “Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus...” Of soos in die nuwe 2020-vertaling staan: “met my liggaam vul ek die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan.” Nou, hoe dan nou? Net laasweek het ons vanuit die eerste deel van hoofstuk 1 gesien dat ons volle verlossing te vinde is in Christus se lyding en sterwe en opstanding. Dit is volbring – Hy het dit voltooi. Niks wat ons nog daaraan kan toevoeg nie. En nou kom Paulus in vers 24 en sê dat hy wel iets toevoeg / aanvul, dat hy iets toevoeg aan die lyding van Christus – asof Christus se lyding nie voldoende of genoegsaam was nie... Dit lyk amper asof Paulus vorige Sondag met die een hand iets vir ons gegee het, net om dit vandag met die ander hand weer weg te vat. Hoe moet ons hierdie moeilike teks verstaan?

Tema: Die betekenis van die kruis in die lewe van Paulus en die hele kerk

1. ’n Lewe in die vorm van ’n kruis

2. Lyding wat lei tot vermeerdering

 

1. Broers en susters, ek wil u sommer dadelik gerusstel – Paulus doen in ons teks nie afbreuk aan die voltooide werk van Christus nie. En ons kan dit veral sien aan die woord wat hy hier gebruik om na die ‘verdrukkinge’ van Christus te verwys – dit is ‘n woord wat nooit in die Bybel gebruik word vir die plaasvervangende lyding van Jesus Christus vir ons sondes nie. Die woord wat Paulus hier gebruik, het meer die betekenis van moeite, swaarkry, moeilike omstandighede. Dus, Paulus probeer nie om te suggereer dat daar iets in die lyding van Christus, wat Hy ter wille van ons verlossing aan die kruis verduur het – dat daar iets daaraan ontbreek, wat deur Paulus of enige ander gelowige aangevul sou moes word nie. Nee, daardie plaasvervangende lyding was onvoorstelbaar, dieper as wat enige mens ooit sal of kan verduur. In Jesus se lyding vir ons sondes is daar dieptes wat ons nie kan peil nie, en dit kom die mees skreiende tot uiting in sy uitroep aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Oor hierdie lyding bestaan daar geen twyfel nie: Christus het dit alles volbring. 

Die verdrukkinge van Christus waarvan Paulus in ons teks praat, dui egter op die lyding wat Christus as mens moes ondergaan, sy swaarkry tydens sy lewe op aarde: sy hartseer oor siekte en dood, sy eie honger en dors, sy lyding as gevolg van die vervolging deur die Fariseërs en die skrifgeleerdes, sy lyding oor die sonde en die ongeloof van die volk, sy lyding vanweë sy vermoeiende bediening. Dít is waarna Paulus hier verwys. En hierdie spesifieke lyding van die Here Jesus was noodwendig beperk, vir die eenvoudige rede dat Hy maar ‘n beperkte aantal jare hier op aarde geleef het. Hy was maar vroeg in sy dertigs toe Hy gesterf het, en sy aktiewe bediening was nie meer as drie tot vier jaar lank nie. En in hierdie tyd het Christus verseker swaarkry en lyding verduur, maar daar is heelwat lyding wat Hy nie self (fisies, na die vlees) verduur het nie. Jesus het, byvoorbeeld, nooit kanker gehad nie, hoewel Hy wel dodelike siektes genees het; Jesus het ook nooit ‘n kind verloor nie, hoewel Hy wel gestorwe kinders uit die dood opgewek het; Hy was nie liggaamlik of psigies gestremd nie, hoewel Hy heelwat gestremdes gesond gemaak het. En uiteraard, na sy Godheid het Hy al hierdie dinge verstaan en geken, maar na sy mensheid het Hy nie al die lyding verduur wat deur die loop van die geskiedenis op hierdie aarde te vinde was en steeds is nie. Die Vader het bepaal dat, ná Jesus se hemelvaart en voor sy wederkoms, ‘n deel van daardie lyding ook sy kerk te beurt sal val. Dus, met Christus se opstanding en hemelvaart het nie skielik alle lyding opgehou nie – nee, in sy wyse raad, wat vir ons soms so moeilik is om te verstaan, het die Here bepaal dat die kerk, dat die gelowiges, ook nog ‘n deel van die lyding van hierdie aardse bestaan moet verduur. Soos wat die Hoof ly, so ook die liggaam...

 

En dit is van hierdie lyding – hierdie swaarkry – dat Paulus in ons teks sê: ek het ook deel daaraan. En hy’s reg! Dit is presies wat die Here self vóór Paulus se bekering aangekondig het, toe Hy vir Ananias na Paulus gestuur: “Gaan, want hy is vir my ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand. 9:15-16) En hoeveel was dit? Wel, kom ons luister hoe Paulus self daarvan vertel in 2 Korinthiërs 11: “Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.” Dít is hoeveel Paulus vir die Naam van die Here moes ly. En nog is dit ‘het einde niet’, want terwyl Paulus sy brief aan die Kolossense skryf, sit hy in boeie in die gevangenis. En op al hierdie maniere vul hy in sy vlees – in sy liggaam – die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan. Nie alles nie – nee, net sy deel. Paulus se deeltjie is weer ‘n onderdeel van die groter geheel van lyding en verdrukking wat God vir die hele kerk bestem het totdat Christus terugkom. 

 

En dít, gemeente, is die realiteit vir elkeen wat in Jesus Christus glo – ons ervaar ook lyding, ons ken ook pyn as gevolg van siekte en dood, ons word ook soms gespot oor ons geloof, ons oortuigings word onder geweldige druk geplaas, ons het ook deel aan die verdrukkinge. So is dit... Nadat Paulus in 2 Timotheus 3:10 en 11 vir Timotheus opnoem watter lyding en vervolging hy al moes verduur, dan sê hy vervolgens in vers 12: “En almal wat godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Ja, gemeente, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, sê Jesus in Johannes 15:20; as hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Dit is eenvoudig ‘n feit in die lewens van God se kinders! 

Nêrens word gesê dat ons dit moet opsoek nie; niemand van ons kry ‘n opdrag om vir Christus te gaan ly nie. Ons is nie soos sommige in die vroeë kerk wat martelaarskap opgesoek het nie, en waar lyding vir Christus ‘n verdienstelike karakter gekry het nie. Ons is nie soos Origenes wat vrywillig na die skouburg sou gegaan het om daar die marteldood te sterf, as dit nie vir sy ma was wat sy klere weggesteek het nie. Nee, ons soek dit nie, dit is geen werk van ons kant nie. Maar dit is wel hoe dit is! In hierdie lewe as gelowiges gaan daar lyding en verdrukking kom. Wanneer Paulus in Romeine 8 uitroep: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?”, dan aanvaar hy al hierdie swaarkry eenvoudig as ‘n realiteit in die lewe van die christen. Dit is hoe die christen se lewe lyk. As ek in Jesus Christus glo, dan word dit die vorm van my lewe. As ons in Christus glo en so deel van sy liggaam word, dan volg ons lewens die patroon van sy lewe. En watter patroon is dit?

 

Wel, dit is die patroon van die kruis – ‘n patroon wat met die eerste oogopslag spreek van nederlaag, swakheid en dwaasheid, maar wat uiteindelik oorwinnig, en krag, en wysheid beteken. Dít is die patroon wat ons in Jesus se lewe raaksien: terwyl Hy ‘n beskamende dood aan die kruis sterf, is die werklikheid tegelykertyd dat Hy die hoogste Heer is; Hy regeer, ook al ondergaan Hy ‘n nederlaag; Hy is die Koning op dieselfde oomblik dat Hy vervloek word. En daardie selfde patroon sien ons in Paulus se lewe raak, wanneer hy in 2 Korinthiërs 4 getuig: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” En ‘n entjie verder in dieselfde brief, hoofstuk 12, vat Paulus dit so pragtig saam: “Die Here het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” Dit is die patroon van die kruis! Meer nog: dit is die paradoks van die kruis – as jy na die kruis kyk, dan sien jy met die eerste oogopslag swakheid, dan sien jy vernedering, dan sien jy vervloeking. Maar as jy dieper kyk – en die Skrifte noukeurig ondersoek en na die evangelie luister – dan leer jy om verby die swakheid te kyk, en dan sien jy: krag; en jy leer om verby die vernedering te kyk, en dan sien jy: verhoging; en jy leer om verby die vervloeking te kyk, en jy sien: verheerliking! Dit is dieselfde patroon wat in ons lewens sigbaar word wanneer ons glo in Jesus Christus. 

 

Gemeente, ons word nie opgedra om lyding en verdrukking op te soek nie. Daar is geen verdienste daarin nie. Alles (ons volle verlossing) kom immers van Christus – niks wat ons daaraan kan toevoeg nie! Nee, lyding en verdrukking en swaarkry kom eenvoudig oor ons christelike, kruisvormige lewens deur die wyse leiding van ons Vader in die hemel. Daar is niks vreemds daaraan wanneer swaarkry of lyding oor ons lewens kom nie; dit is eintlik die normale, christelike lewe – so vul ons die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus aan. En wanneer dit kom – en dit gaan kom! – dan moet ons baie mooi kyk hoe ons daarmee omgaan. Laat ons net nie daarmee omgaan soos die samelewing waarin ons vandag lewe nie! Ons samelewing het ‘n fundamentele probleem met lyding en pyn – ons lewe in die tyd ná die uitvinding van die pynstiller. Daar moet iets aan gedoen word: medikasie, terapie, berading. En as ons niks meer daaraan kan doen nie, dan moet ons in elk geval ‘n menslike genadedood kan reël. Maar laat ons vandag van Paulus leer dat lyding en verdrukking, pyn en vervolging, siekte en dood, deel is van die groter prentjie van die Christen wat sy volle verlossing in Christus soek. Aanvaar in geloof dat wanneer jy by Christus behoort, jou lewe die vorm het van ‘n kruis. Swak, dwaas en vernederend. Maar juis daarin, só belowe die Here, is jy sterk. Juis daarin lê die oorwinning. Juis daarin skuil die krag van Christus. Want sy genade is vir jou genoeg!

Ons tweede gedagte: lyding wat lei tot vermeerdering

 

2. Wanneer ons na die laaste woorde van Kolossense 1:24 kyk, dan sien ons dat Paulus se lyding – hoewel hy nie daarna gesoek en nie daarvoor gevra het nie – tog iets uitwerk. Hy sê daar dat sy lyding ter wille van die liggaam van Christus is, en dan bedoel hy daarmee die gemeente, die kerk. En as ons verder lees in ons Skrifgedeelte, dan sien ons dat Paulus se lyding en verdrukking lei tot groei van die kerk – groei in geloof, maar ook in getalle (meer en meer mense, veral heidene, kom tot geloof). Paulus se lyding dien tot vertroosting van die harte, tot versekerdheid van insig, en tot kennis van die verborgenheid van die Vader en van Jesus Christus (Kol. 2:2). En daarom dat Paulus hom, volgens ons teks, ook kan ‘verbly’ in sy lyding (Kol. 1:24). Hy soek dit nie, hy begeer dit nie, en tog is hy bly, omdat hy die vrug daarvan raaksien in die kerk van Jesus Christus. 

En dit is belangrik, broers en susters, om te sien dat hierdie verbinding van ‘lyding’ en ‘groei’ ‘n heilshistoriese verbinding is, wat ons reg deur die geskiedenis raaksien. Dadelik ná die sondeval alreeds sien ons dit wanneer die Here vir die vrou sê: “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar.” Hierdie vloek bring ons terug by die kultuur-opdrag waaroor ons laasweek al gepraat het – die opdrag om die aarde te vul en te vermeerder met beelddraers wat God se glorie sal uitstraal (Gen. 1:28). En nou sien ons dat, binne-in die vloek oor die vrou, hierdie opdrag herbevestig word. God sal sorg dat dat Adam en Eva ‘n nageslag sal kry, maar hierdie proses omvat groot pyn en lyding. Groei te midde van lyding. Ons moeders vandag kan steeds daarvan getuig. 

Ons sien dieselfde gedagte weer wanneer ons Israel in Egipte aantref. Exodus 1:7: “Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.” Hier lyk dit asof Israel uiteindelik daardie oorspronklike kultuur-opdrag nakom – hulle was vrugbaar en het vermeerder. Maar ons weet dat die Egiptenaars nie daarvan gehou het nie, en hulle het van die Israeliete slawe gemaak. En dan lees ons in vers 12 van dieselfde hoofstuk: “Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei...” Die Israeliete staan onder geweldige druk, en tog – paradoksaal – hoe meer hulle ly, hoe meer vermeerder hulle. 

Ons sien dit ook in die Nuwe Testament, in die boek Handelinge. Die boek Handelinge weef hierdie twee gedagtes – lyding en groei – pragtig saam. Dink aan die vervolging van Saulus in Damaskus, net nadat hy tot bekering gekom het. En wat was die einde van die daardie verhaal? Handelinge 9:31: “En die gemeentes deur die hele Judea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.” En ná die gevangenisname en bevryding van Petrus in Handelinge 12, lees ons in vers 24: “Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.” Lyding en groei; lyding en vermeerdering

 

Wanneer ons Kolossense 1:24 deur hierdie heilshistoriese en bybelse lens lees, dan begin ons die betekenis van Paulus se woorde verstaan. Terwyl Paulus en die heiliges ly en verdruk word, vermeerder die evangelie voortdurend. In die kerkgeskiedenis sien ons dit veral in die vroeë kerk, waar die bloed van die martelare die saad van die kerk genoem is (die bloed van die martelare, die saad van die kerk – dus, wanneer die gelowiges bloei ter wille van hulle geloof, daar is dit soos saad wat in die grond val en opkom en vrug dra). En ons sien dit vandag nog steeds: dáár waar die kerk onder druk staan, dáár waar sy vervolg word – in lande soos China en Noord-Korea – daar groei sy dikwels die vinnigste. 

Dit is eie aan die evangelie, broers en susters, en dit is eie aan die Christenlewe dat dit juis onder druk floreer. En dit is ons probleem, want ons hou nie van daardie druk nie. Ons probeer die lewe so glad as moontlik stryk. As jy nog ‘n kind is, probeer jy probleme en swaarkry op enige moontlike manier vergeet en wegsteek; as jy maar daarvan vergeet, dan bestaan dit nie. En wanneer jy ouer en meer verantwoordelik geword, dan is probleme en swaarkry daar om so gou moontlik opgelos te word; vir elke probleem soek ons ‘n oplossing. Solank ons net nie met daardie probleme, lyding, swaarkry hoef te leef nie. 

Maar een of ander tyd kom ‘n mens agter dat die lewe tog meer ingewikkeld is. Een of ander tyd kom jy agter dat lyding en verdrukking nie altyd opgelos kan word nie. En juis hier in die gemeente besef jy dat lyding en verdrukking deel is van die lewe met die Here. Juis wanneer jy met die Here lewe, is daar nie altyd oplossings vir lyding en verdrukking nie. En watter plek gee ons dan aan hierdie lyding en verdrukking? Watter plek gee ons hier in ons midde aan dié mense wat swaar moet ly? Hoe belangrik is diegene wat rou vir ons? En daardie mense wat sterwende is, is hulle nog werklik deel van die gemeenskap van die heiliges? So maklik word ook in hierdie opsig die kerk ‘n aktivistiese gemeenskap: jy tel saam as jy iets het om te bied, as jy iets kan doen, as jy iets kan bydra. Maar dit is juis deur en in die lyding van daardie lede wat ernstig onder druk staan dat die gemeente groei, broers en susters. Dit is juis wanneer die gemeente gesamentlik ly, dat ons die meeste groei raaksien. Dit is juis in en deur die lyding wat elkeen van ons op ons eie manier beleef dat ons gevorm word in die lewe met die Here. Net soos ‘n diamant, wat diep onder die grond, onder geweldige hoë druk, gevorm word – skoonheid kry – so is dit ook met die geloof van die kinders van die Here. Die lyding en verdrukking wat die Here oor ons beskik, die druk waaronder Hy ons plaas in sy wysheid – dit werk iets heerliks uit, in ons elkeen se lewens afsonderlik, en ook in die lewe van die gemeente. 

 

Laat ons daarom nie wegskram vir die lyding en die verdrukking wat die Here as ons deel oor ons bepaal nie. Laat ons nie maak asof die seer en die pyn nie bestaan nie. Laat ons, wanneer ons deur die dal van doodskaduwee gaan (wat dit ook al mag wees), ook werklik daar deurgaan! Gaan deur die dal van doodskaduwee, moet dit nie vermy nie, moenie kortpad probeer vat nie, en dan mag ons aan die ander kant uitkom – skoner, heerliker, meer na die beeld van ons God as voordat ons daar ingegaan het. So is Christus in ons lewens besig. Besig om ons te vorm sodat Hy uiteindelik almal van ons volmaak voor hom kan stel (Kol. 1:28). Hy het ons volmaak verlos – dit is volbring. Maar die weg na die heerlikheid is nie altyd ‘n maklike weg nie. Laat ons biddend en gelowig op daardie weg gaan, agter Christus aan. Hy het ons voorgegaan – en ons volg Hom. ‘n Lewe in die vorm van ‘n kruis. 

Amen

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 125:1-3

Lesing van die wet

  • HK, v/a 105

Sing Ps. 139:7, 8, 10 en 12

Gebed

Lees: Kolossense 1:24-2:3

Sing Ps. 22:1, 8 en 9

Teks: Kolossense 1:24

Preek

Amenlied Skr. 16:8-10

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 10:3-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen