Die Evangelie van Jesus Christus is vrugbaar en vermeerder in die hele wêreld - en ook in my lewe.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2020-01-26
Teks: 
Kolossense 1:3-23
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons noem onsself gereformeerd - en ek weet nie van u nie, maar ek doen dit met groot dankbaarheid en oortuiging! - maar in die praktyk verskil ons dikwels nie so baie van die remonstrante in die tyd van die Dordtse Sinode nie. Ons praat van solus Christus (Christus alleen!) en sola gratia (genade alleen!), maar wanneer dit kom by my lewe van elke dag, dan is dit dikwels maar weer Christus én ek, Christus se werk aan die kruis én my goeie werke. Dit is nie vreemd om óók by gereformeerdes (sonder dat ons dit wil of bedoel) 'n skeiding tussen regverdiging en heiliging teë te kom nie - Christus sorg vir my regverdiging deur sy dood en opstanding, Hy plaas my weer in die regte verhouding tot God (dis wat regverdiging in eenvoudige terme beteken); en nou is dit my verantwoordelikheid om uit dankbaarheid 'n heilige lewe te lei. En daar is moontlik sommige onder ons vir wie hierdie laaste dalk nie eens so ongereformeerd in die ore klink nie. Ja, helaas, Pelagius en Arminius en John Wesley en Billy Graham en Rick Warren sit ten diepste in almal van ons (en as jy nie weet wie hierdie mense is nie, gaan vind meer uit oor hulle wanneer jy by die huis kom).

Nou, verskeie van u het in die afgelope jaar die kursus van ds. Jopie, getiteld 'Die geheim van my heilige lewe', bygewoon. En die kerkraad het dit goedgedink om in die jaartema vir 2020 hierby aan te sluit en hierop voort te bou. Maar daar is natuurlik ook talle onder ons wat nie hierdie kursus bygewoon het nie, en daarom wil ek in die komende paar maande eers die basiese beginsels van ons heilige lewe uiteensit, soos wat dit ook in die kursus uitgekom het. Vanuit die brief van Paulus aan die Kolossense wil ons die geheim van 'n heilige lewe ontdek. Dus, u kan gerus by die huis en in u gesin hierdie brief van Paulus 'n paar keer goed deurlees en bespreek (dis maar net 4 hoofstukke). En vanaf April - rofweg - wil ons aan die hand van die Kategismus se bespreking van die Tien Gebooie kyk wat dít dan konkreet beteken in ons lewens as gelowiges. Want, ja, uiteindelik kan ons nie ontkom aan die Bybelse oproep om heilig te wees nie; ons kan nie ontken dat God gehoorsaamheid aan sy gebooie van ons eis nie, radikale gehoorsaamheid selfs. Maar wat beteken die beginsels, wat ons hoop om in Kolossense te ontdek, dan vir my lewe volgens elkeen van God se gebooie?

 

Dus, vir 'n groot deel van hierdie jaar gaan onsself met hierdie tema besighou: die geheim van my heilige lewe (eers vanuit Kolossense, en daarna aan die hand van die Tien Gebooie). En ons begin vannaand met Kolossense 1.

Tema: Die Evangelie van Jesus Christus is vrugbaar en vermeerder in die hele wêreld - en ook in my lewe.

 

Gemeente, hoe meer 'n mens die Skrif lees en leer ken, hoe meer kom jy onder die indruk van hoe die Nuwe Testament gedrenk is in die taal en die beelde van die Ou Testament. En nie net in die taal en die beelde nie, maar daarmee saam ook in die boodskap van die Ou Testament (en ek hoop dat u dit elke Sondag in die preke sal hoor en saam met my opgewonde sal wees/word oor hierdie eenheid van die Skrif). Vat nou maar net die tema van vanaand se preek - wat ek, terloops, nie self uitgedink het nie, maar wat vanuit ons Skrifgedeelte kom, soos wat hooplik nog duidelik sal word soos wat ons aangaan - die tema lui: 'Die Evangelie van Jesus Christus is vrugbaar en vermeerder in die hele wêreld. Vrugbaar en vermeerder - waaraan herinner dit jou? Dis reg, dit vat ons terug na die Ou Testament, na die begin, na daardie oomblik toe God die eerste mense na sy beeld gemaak het: "En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip" (Gen. 1:28).

"Wees vrugbaar en vermeerder"... Dit is so ‘n bekende vers, en dit het ook in ons kringe altyd ‘n belangrike rol vervul. Dit is hierdie vers wat die klassieke bewysteks geword het vir die sogenaamde 'kultuur-opdrag/mandaat' - dáárdie verantwoordelikheid wat die mens gekry het om as onderkoning God op aarde te verteenwoordig, sy beeld uit te dra, en vir die hele skepping te sorg. Die mens word vanaf die begin opgedra om die skepping te bewaar en te beskerm, maar tegelykertyd om dit te ontwikkel en om die volheid van gawes, wat God in die skepping gelê het, te ontgin. Nou, hierdie kultuur-opdrag word vandag nog steeds onder ons gebruik om 'n wye reeks aspekte in die Christelike lewe Skriftuurlik te begrond. Dink byvoorbeeld aan die opdrag aan getroudes om kinders te kry (uiteraard, indien die Here hulle daarmee wil seën) - ons huweliksformulier noem dit een van die doele van die huwelik: "Die menslike geslag moet deur die huwelik gebou word", en dan volg daar 'n verwysing na Genesis 1:28. Dus, Christelike egpare kry die opdrag om te vermeerder - dit bepaal uiteraard ons denke oor gesinsbeplanning. Dink verder aan die saak van omgewingsbewaring (wat in ons tyd so relevant is: klimaatsverandering is tans die mode-woord en is in baie gevalle #1 op politieke agendas) - ons het die taak gekry om die skepping te bewerk en te bewaak, om dier- en plantspesies te beskerm teen uitwissing, om besoedeling teen te gaan, om grondstowwe so te gebruik dat dit nie uitgeput word nie, en om te sorg dat ontwikkeling nie ten koste van die natuur is nie - dit alles met verwysing na die kultuur-opdrag in Genesis 1:28. Dink ook aan die roeping om die gawes en talente wat ons van die Here gekry het, te gebruik tot voordeel van die mensdom en die omgewing - weereens, met 'n beroep op Genesis 1:28. Hierdie kultuur-mandaat uit Genesis 1:28 plaas ons dus met altwee bene op hierdie aarde - met die duidelike opdrag om te bewoon en te bewerk en te bewaak en te vermeerder. En dit is 'n teologiese gedagte wat - tereg - onder ons ook altyd baie simpatie gehad het. Sodanig dat, teenoor Totius se bekende gedig "Die wêreld is ons woning nie", 'n voormalige predikant van hierdie gemeente 'n boekie geskryf het met die titel: "Die wêreld is ons woning" (C van der Waal).

 

Maar daar is 'n probleem, broers en susters. En dit is die probleem van die hele mensdom en die hele geskiedenis, en dit is die probleem van Genesis 3. Die mens het deur die sondeval die vermoë verloor om hierdie kultuur-mandaat na behore uit te voer. Die onderkoning het 'n rebel geword - 'n rebel, wat nie meer die beeld van sy Skepper vertoon nie (in elk geval nie soos wat hy moet nie), maar eerder die beeld van sy nuwe heer, die duiwel. En hierdie rebelse beeld manifesteer homself oral om ons heen: ons sien dit in vervuilde strome en riviere, in uitgestorwe plant- en dierspesies, in armoede en hongersnood, in uitbuiting van grondstowwe, in egpare wat daarvoor kies om kinderloos te bly, in die grootskaalse moord op ongebore babatjies, en in mense wat nie meer vrugbaar wil wees vir die samelewing om hulle heen nie, maar net vir hulleself wil lewe. In plaas daarvan om vrugbaar te wees en te vermeerder tot eer en verheerliking van God, het ons 'vrugbaar' geword in die kwaad, en 'vermeerder' ons die heerskappy van die duiwel. Die mens is nie meer in staat om vrugbaar te wees en te vermeerder soos wat God dit oorspronklik bedoel het nie. Dis die probleem!

Nou terug na ons Skrifgedeelte - want dit is presies waarby Paulus so pragtig aansluit in Kolossense 1:6. In verse 4 en 5 dank Paulus die Here vir die Kolossense se geloof in Christus, hulle liefde tot al die heiliges, en hulle hoop op die ewige lewe. Geloof, hoop en liefde - wat hulle ontvang het deur die evangelie wat aan hulle verkondig is. En van hierdie evangelie, die woord van die waarheid, sê Paulus in vers 6 dat dit vrug dra en vermeerder. Dit is so jammer dat die 1933/53-vertaling slegs die eerste begrip vertaal: vrug dra. Maar die tweede begrip ('vermeerder') staan regtig in die Griekse teks. Om dit vir u te bewys, wil ek vinnig vir u twee ander vertalings voorlees. Die 1983-vertaling sê: "Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle". Vrug voortbring en verder versprei (vrugbaar en vermeerder). En in die nuwe sogenaamde 2020 direkte vertaling (wat hooplik in 2020 sal verskyn) lees ons: "Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei." Vrug dra en groei (vrugbaar en vermeerder). En u kan gerus die Engelse vertaling wat in ons susterkerke in Kanada en Australië gebruik word (asook ander Engelse vertalings), nagaan, en u sal daar dieselfde vind.

 

Dus, met hierdie woord-kombinasie in Kolossense 1:6 (vrug dra en groei / vrug voortbring en verder versprei / vrugbaar en vermeerder) vat Paulus ons terug na die begin, na Genesis 1:28. Hy wil ons herinner aan daardie opdrag, daardie kultuur-mandaat waarmee ons, wanneer ons dit hoor, dadelik aan die werk wil spring: die wêreld is mos ons woning. Ons staan as't ware al gereed met die graaf en die troffel in die hand - ons wil spruite skoonmaak en gemors op die Magaliesberg gaan optel; ons wil kinders van die Here ontvang en hulle grootmaak met kultuur, met musiek en goeie boeke; ons wil ons gawes en talente ontwikkel ten dienste van hierdie samelewing. Ons het immers 'n kultuur-mandaat!

En dan sê Paulus: wag nou eers, luister mooi! Die opdrag wat die mens van God ontvang het, maar wat hy sedert die sondeval nie meer in staat is om na behore uit te voer nie, kom nie meer in julle tot verwerkliking nie. Dit kom in die evangelie tot verwerkliking! Want dit is die evangelie wat vrug dra in menselewens (dink aan die geloof, hoop en liefde, wat Paulus by die Kolossense raaksien – ves 4-5); dit is die evangelie wat vermeerder en die hele aarde vul (“wat julle sowel as die hele wêreld bereik het – vers 6a). Dit is die evangelie wat vrugbaar is en vermeerder, want die evangelie is die boodskap van Jesus Christus! Wat die mens nie meer in staat is om te doen nie, kom doen Jesus Christus! Daardie eerste, allesomvattende opdrag van God aan die mens, sy beelddraer (onthou Genesis 1:26-27: "laat ons mense maak na ons beeld"), daardie opdrag bring ons ten diepste uit by ons Verlosser! Want Hy is die Beeld van die onsienlike God (volgens vers 15). Hy het sy opdrag, sy kultuur-mandaat, volmaak en tot eer van God uitgevoer: "Dit is volbring!", roep Hy aan die kruis uit. Dit is volbring - hoor u dit? Niks wat ons spruitjie-skoonmaak, en ons glas- en plastiekherwinning, en ons waterbesparing, en ons groot (of dalk eerder: 'groterige') gesinne, of ons kinders se kultuur-uitstappies daaraan gaan toevoeg nie. Dis gedoen - 100%, volmaak, klaar - deur Jesus Christus! En dan breek Paulus in verse 15-20 uit in 'n lofsang op hierdie Jesus Christus - dit is Hy wat heerskappy voer oor die eerste skepping (Hy is immers die Eersgeborene van die hele skepping; in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is ... alle dinge is deur en tot Hom geskape; Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand [verse 15-18a]). En dit is verder ook Hy wat heerskappy voer oor die nuwe skepping (want Hy is die Eersgeborene uit die dode; en dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon, en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis [verse 18b-20]). Hy is die Eersgeborene in skepping en herskepping!

 

Dit is deur sy werk dat ons verlos is uit die mag van die duisternis en oorgebring is in sy Koninkryk. Dit is deur Hom dat ons die verlossing het deur sy bloed, die vergifnis van ons sondes (verse 13-14). Maar daar is nog meer! Dit is, volgens vers 22, deur Hom dat ons versoening ontvang, sodat ons heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom kan staan. Daar het ons dit nou! Verlossing, vergifnis, versoening - deur Jesus Christus, ja! Maar ook: heiliging! Ook ons heiliging, waardeur ons weer ons opdrag kan uitvoer om vrugbaar te wees en te vermeerder tot eer van God - ook daardie heiliging kom van Hom af. Dis nie my werk nie, dis nie my bydrae nie, dis nie my inspanning nie. Nee, deur sy dood staan ons heilig voor Hom (vers 22). Deur sy dood staan ons sonder gebrek voor Hom - sonder gebrek: weer so 'n Ou Testamentiese motief. U onthou mos nog dat, wanneer die Israeliete aan die Here 'n offerdier moes bring, dit 'n offerdier sonder gebrek moes wees. Dit begin daardie eerste keer in Egipte, net voor die uittog uit die slawehuis, Exodus 12:5: "Julle moet 'n lam hê sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie..." En daarna vind ons hierdie gedagte van 'n offerdier sonder gebrek nog ongeveer 50 keer in die Ou Testament. En dit is deur die dood van Jesus Christus, daardie volmaakte offerlam, dat óns nou gereken word asof ons sonder gebrek is, asof ons self die volmaakte offer gebring het. Heilig, sonder gebrek, en dan ook nog: onberispelik (dit is die laaste begrip in vers 22). Hierdie begrip plaas ons in die sfeer van die regspraak, die hofsaal - en dit beteken dat daar geen beskuldiging teen ons ingebring word nie. Die regter kyk na jou lewe en sê: Onberispelik. Alles is reg. Jy kan maar gaan.

Dit is alles en volledig Christus se werk: Heilig en sonder gebrek en onberispelik, as julle ten minste... (vers 23). As julle ten minste wat? As julle ten minste ver genoeg gevorder het in julle heiliging? As julle ten minste aan God gehoorsaam is? As julle ten minste julle bes gedoen het? Nee, as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie. Bly staan op die vaste grond van jou lewe: Jesus Christus! Laat val maar eers die graaf en die troffel uit jou hande waarmee ons - gereformeerde aktiviste - so gou aan die werk wil spring. Laat val eers die swart sakke waarmee ons die gemors wil opruim; laat val die swaard waarmee ons meen dat ons die goeie stryd moet stry; laat val die pen waarmee ons meen dat ons vir die waarheid moet opkom; laat val die dagboek waarin ons vol, kerklike agendas staan. En gryp Jesus Christus aan! Want in Hom het jy nie net die regverdiging nie, maar ook die heiliging.

So pragtig stel Paulus dit in daardie weergalose teks in 1 Korinthiërs 1:30: "Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing." Die volledige pakket van ons verlossing (om dit effens oneerbiedig te stel) is in Christus, elke aspek daarvan! En as ons in Christus glo, dan mag - en dan moet! - ons die volledige pakket aanneem. Dit is nie 'n McDonalds-spyskaart waar ek my eie maaltyd kan saamstel nie: "Ek wil graag 'n Big Mac-burger hê, maar in plaas van die skyfies wil ek graag slaai hê; en asseblief 'n Coke sonder ys...” Gee my asseblief regverdiging, maar los maar die heiligmaking, ek het by die huis nog genoeg daarvan! Nee, in Christus ontvang ons die volle verlossing: regverdiging én heiligmaking! En as ons in die komende maande gaan praat oor die geheim van ons heilige lewe, dan moet ons daar begin en eindig. Net soos wat ons Skrifgedeelte vandag begin en eindig met Jesus Christus: dit is die evangelie van Jesus Christus wat vrugbaar is en vermeerder en die hele aarde vul; dit is Hy wat die opdrag vervul het wat ons nagelaat het om te vervul en ná die sondeval ook nie meer kán vervul nie (dit is vers 6), en dit is deur Christus se werk dat ons heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom gestel word (dit is vers 22). Ons begin en eindig met Jesus Christus!

 

En tussen hierdie twee verse in vind ons dan die uitwerking in ons lewens. Vers 10: dat ons in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei. Hoor u dit? Vrug dra en groei - Paulus gebruik hier presies dieselfde (Griekse) woorde as in vers 6 (vrugbaar wees en vermeerder). In en deur Jesus Christus word ons weer vrugbaar in elke goeie werk, en groei ons (vermeerder ons) in die kennis van God. Maar ook dít is nie ons werk nie. Vers 10 is naamlik deel van Paulus se gebed vir die Kolossense, waarmee hy in vers 9 begin: "Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid..." Ook vir die uitwerking van die voltooide werk van Christus in ons lewens vra ons / bid ons in diepe afhanklikheid van God. En dit mag ook ons bede wees vir hierdie gemeente. Hoe bid ek nie, hoe bid die ampsdraers nie, hoe bid ons nie vir mekaar nie, dat elkeen van ons mag vrug dra in alle goeie werke. En hoe bid ons nie dat elkeen - deur die prediking, en deur ons gesamentlike Bybelstudie, en deur ons persoonlike Bybelstudie - mag vermeerder in die kennis van God. Maar ons doen dit op ons knieë, ons doen dit in afhanklikheid van Hom wat alle vrug en alle groei gee. En wanneer ons gebid het, en ons sien inderdaad dat die Here ons gebede verhoor - en ons sien hoe lidmate vrug dra in alle goeie werke en vermeerder in die kennis van God, en ons sien die mooi aktiwiteite waarby lidmate betrokke is in die omgewing, en deelneem aan projekte om die natuur op te pas, en aktief is in die uitdra van die evangelie - dan, sê Paulus in vers 12, dan dank ons die Vader wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig. U sien: eers bid ons, en wanneer die Here vrug en groei gee, dan dank ons. Want dit begin en eindig by Jesus Christus.

 

Ek weet, dit mag dalk voel of hierdie preek alles uit jou hande wegslaan. Alles wat jy so graag en met liefde vir die Here doen. Wel, as jy so voel, dan het die Woordverkondiging sy doel bereik. Want dit is presies wat moet gebeur. Daar moet uiteindelik niks in jou hande oorbly nie – al waarop jy dan nog kan staan is die geloof in Jesus Christus. Paulus verwoord dit so pragtig in sy eerste brief aan Timotheus, 1 Timotheus 3:16, waarin hy sê: “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot...” Nou, godsaligheid beteken ‘godsvrug’, ‘vroomheid’ – dit het dus alles te make met ons heiligheid. En nou brand ons van nuuskierigheid, want wat is dan die verborgenheid – wat is die geheim! – van my heilige lewe?! Wel, luister na Paulus: “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot:”, en dan volg daar ‘n dubbelpunt. Hier kom dit nou, luister mooi! “God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.” Dis ‘n verstommende vers as jy daaroor nadink – die geheim van my heilige lewe, aha, nou moet ek mooi luister; en dan wag ons vir die goue reël, en ons wag vir die ‘lifehack’ wat Paulus vir ons gaan gee sodat ons heilig en sonder gebrek en onberispelik kan wees. En dan sê Paulus: Jesus Christus, in sy sterwe en opstanding en hemelvaart en in die verkondiging wat daarop gevolg het – Hy is die geheim van my heilige lewe. Hy is waardig om te ontvang die rykdom, wysheid, krag, en eer en heerlik en dankbare seëninge. Aan die Lam van God, self ewige Skeppings-Here, sy ewig lof en prys en krag en roem en ere. En saam met die gerubs sê ons: Amen, Amen.

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 9:7, 8 en 10

Gebed

Lees: Kolossense 1:1-23

Sing Skr. 24:3, 5 en 6

Teks: Kolossense 1:6, 10, 22

Preek

Amenlied Ps. 99:2, 4, 5

Gebed

Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis (staande)

Kollekte

Slotsang Skr. 8:2, 4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen