Aan Christus is gegee alle mag in hemel en op aarde, ook in die nuwe dekade wat môre begin!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2019-12-31
Teks: 
Mattheüs 28:18
Preek Inhoud: 

Preek: Mattheüs 28:18

 

Ons staan nou aan die vooraand, net nie van ‘n nuwe jaar nie, maar ook van ‘n nuwe dekade.

Môre breek alweer die derde dekade van die 21ste eeu aan.

Afgelope dekade het begin in 2010, die jaar van die groot sokker wêreldbeker in Suid-Afrika.

Afgelope dekade was ook ‘n dekade van politieke agteruitgang in Suid-Afrika.

Onder Jacob Zuma se bewind, wat byna ‘n dekade geduur het, het korrupsie en wetteloosheid hand oor hand toegeneem.

Ons hoop en bid dat die skade wat aangerig is, nou onder die nuwe president, Cyril Ramaphosa, se bewind stelselmatig opgeruim sal word.

Maar daar was al kenners wat aangedui het dat dit veel langer gaan vat om die skade op te ruim, as wat dit gevat het om die skade aan te rig.

Daar is ‘n Nederlandse spreekwoord wat sê, in Afrikaans vertaal:

As jy die onkruid een jaar laat staan, sal jy sewe jaar besig wees om dit weer uit te roei.

 

Maar nie net in politieke opsig nie, ook in geestelike opsig was die afgelope dekade dikwels ‘n tyd van agteruitgang.

As ek na die blanke Christene hier in Suid-Afrika kyk, en dit sluit ook Gereformeerdes, ook ons Vrye Gereformeerdes in, dan neem ek waar dat daar onder hulle die afgelope dekade baie meer sorge was oor hulle liggaamlike veiligheid en die behoud van hulle materiële welstand, as wat daar sorge was oor die behoud van hulle geestelike welstand.

En dit terwyl die afgelope dekade die kerkverlating hand oor hand toegeneem het.

En hulle wat wel lid van die kerk gebly het, kom steeds meer in die gewoonte om maar selde kerk toe te gaan.

En in ons geledere het die afgelope dekade die gewoonte om slegs een diens per Sondag by te woon, ook toegeneem.

 

Nou, aan die begin nie net van ‘n nuwe jaar, maar ook van ‘n nuwe dekade, laat ons onsself afvra.

Waar wil ons oor tien jaar wees?

Wil ons dan by ‘n situasie wees dat die aanddienste maar afgeskaf kan word, omdat prakties niemand dit meer bywoon nie?

Vergelykbaar met dieselfde situasie in baie kerke rondom ons?

Waar wil ons oor tien jaar wees?

Geliefde gemeente, ons eerste prys gaan natuurlik wees dat oor tien jaar die Here Jesus Christus inmiddels teruggekeer het.

En dat elkeen van ons ‘n plek mog ontvang op ‘n nuwe herskape aarde.

Dit is ons eerste, ons primêre toekomsverwagting.

Christus het beloof dat Hy sal terugkom.

Ons kan Hom dus met net soveel vertroue tegemoet sien as altyd.

Die apostel Petrus het ons gewaarsku dat die feit dat Hy sy wederkoms uitstel, dat dit nie vir ons ‘n aanleiding moet wees om aan sy wederkoms te begin twyfel nie.

“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petr 3:9)

Inderdaad, ook die afgelope dekade was daar baie mense wêreldwyd wat tot bekering gekom het.

Nie orals op aarde was daar geestelike agteruitgang nie.

Die afgelope dekade, wat ook genadetyd van God was, het dus vir baie positief uitgewerk.

Dit in ooreenstemming met die profesie van Petrus.

Die Here is lankmoedig en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

 

Tema: Aan Christus is gegee alle mag in hemel en op aarde, ook in die nuwe dekade wat môre begin!

 

Hierdie mega-uitspraak, hierdie ongelooflike stelling, wat Christus in ons teks maak, staan in die konteks van dit wat vir ons in die vorige vers vertel word.

Naamlik dat sommige van die dissipels getwyfel het.

Ja, hulle het Hom aanbid, maar tog was daar nog ‘n mate van twyfel aanwesig.

Dit is in hierdie konteks wat Jesus dan met die uitspraak kom: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde!

Hierdie woorde was bedoel as ‘n gerusstelling en ‘n bemoediging aan hulle.

 

Maar nie net dit nie.

Hierdie woorde het ook alles te make met die rede hoekom Jesus hulle ontbied het na hierdie berg.

Hy wil naamlik aan hulle die nuwe werklikheid openbaar.

Die werklikheid van die nuwe bedeling.

En hulle opdrag vir die nuwe bedeling.

Hierdie berg was geleë in Galilea.

Dit was ook hier waarvandaan Jesus sy dissipels uitgestuur het na elke dorp en stad in Israel, na al die verlore skape van die huis van Israel (Matt 10:5-6).

Toe het Hy aan hulle die mag gegee om onreine geeste uit te dryf, om elke siekte en kwaal te genees (Matt 10:1).

Nou ontbied Jesus hulle weer na Galilea.

Nou het Hy weer ‘n opdrag aan hulle, maar nou ‘n nog veel groter opdrag.

Nou stuur hy hulle nie net na die verlore skape van die huis van Israel nie.

Nou stuur Hy hulle uit na alle volke, stamme, nasies en tale op die ganse aarde.

Gaan dan heen – sê Jesus eksplisiet.

Hulle moet op reis gaan.

Hulle moet nie net sit en wag  vir die wat belangstel in hulle boodskap nie.

Nee, hulle moet aktief uitreik, op verre gevaarlike reise vertrek, om hierdie boodskap van Christus se Middelaarswerk, sy versoening, en sy heerskappy te bring tot die uithoeke van die aarde.

Dit wat in die Ou Testament die uitsondering was, dat ‘n profeet na ‘n heidennasie gestuur is – dink aan ‘n profeet soos Jona – dit word nou die reël.

 

Maar wat so mooi is, is dat voordat Jesus hulle hierdie opdrag gee, dat Hy hulle bemoedig, dat Hy hulle bemagtig, deur op die werklike stand van sake te wys, naamlik:

Aan My is gegee alle mag, alle bevoegdheid, in die hemel en op aarde.

Dus, waar die apostels ook heen mag gaan, na watter uithoek van die aarde ook, orals mag hulle gaan met die besef:

Daar is geen vierkante sentimeter op hierdie aarde wat nie aan Jesus Christus behoort nie!

Christus het reg op elke land, op elke erf, op elke mens.

En dit is die Evangelie, want Christus se mag, sy bevoegdheid, is ‘n goeie boodskap vir hierdie wêreld, in sonde oud.

Sy heerskappy bring nuwe tye, tye van hoop!

En dit is die plig van die apostels om daardie boodskap na die uithoeke van die aarde te bring.

En hierdie plig mag hulle uitvoer met die besef dat hulle gesteun word deur Hom wat op die magtigste posisie gaan plaasneem – die hemelse troon.

 

Ons teks begin deur te sê dat Jesus nader gekom het.

Skynbaar het die dissipels ‘n eerbiedige afstand van Hom gehou.

Hulle het geweet dis hulle Heiland, maar tog het hulle nie gedurf om te naby te kom nie.

Dit was hulle Heiland, maar nou in ‘n nuwe vorm, met ‘n verheerlikte liggaam.

Om een of ander rede het dit respek afgedwing.

Maar hoe skitterend en magtig Jesus nou ook was, dit het Hom nie verhinder om weer nader aan sy dissipels te kom nie.

Sy liefde en barmhartigheid blyk uit die feit dat Hy nader gekom het, sodat Hy van aangesig tot aangesig met hulle kom praat.

Met sy uitspraak “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde”, met hierdie uitspraak wil Jesus sy dissipels voorberei op hulle toekomstige roeping.

Daardie roeping vind ons in die verse na ons teks.

 

Nou hierdie uitspraak dat Hy alle mag het, hoef vir die dissipels nie onbekend te gewees het nie.

Want wat Christus hier oor Homself sê, het Hy tydens sy lewe op aarde al op verskillende wyses laat blyk.

Hy het sy mag getoon deur siekes gesond te maak, dooies op te wek.

Hy het sy mag getoon oor die Satan en oor die demone.

Hy het sy mag getoon oor water, golwe, wind en weer.

En die mense het dit geweet.

Juis daarom het so baie Hom ook bespot, daardie dag toe Hy aan die kruis gehang het.

Kon Hy wat ander uit die dood opgewek het, dan nie Homself red nie?

Tog het Hy gekies om so verneder te word.

En eers met sy opstanding uit die graf het sy almag veral geblyk.

Die dissipels was maar traag om onder die indruk daarvan te kom.

Hulle was kleingelowig.

Jesus moes hulle hulle ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. (Mark 16:14)

Tydens sy lewe op aarde, voor sy kruisiging, was dit aan die een kant nog verstaanbaar dat mense vrae gehad het oor sy almag.

Want aan die een kant het Hy siekes genees, dooies opgewek, storms stilgemaak.

Maar aan die ander kant het Hy sy mag nie gebruik om op die troon plaas te neem nie.

Hy het sy mag nie gebruik om te ontsnap aan hulle wat Hom gevange geneem en gemartel het nie.

Hy het sy mag nie gebruik om van die kruis af te kom nie.

Ja Hy het toegelaat dat sy lewe geneem word.

 

Maar nou is daardie dieptepunt verby.

Nou is sy lydensweg ten einde.

Nou het sy verhoging begin.

‘n Verhoging wat begin het toe Hy op Paassondag opgestaan het uit die graf, en wat binnekort sou vervolg met sy hemelvaart en sy plaasneming op die hemelse troon, die magtigste posisie denkbaar!

 

Maar juis hierdie besef van sy almag sou ‘n sleutelfaktor wees, wat betref die dissipels se toekomstige bediening.

As hulle nie daarin sou glo, as hulle dit nie as werklik sou beleef nie, sou hulle nooit kans sien vir die opdrag wat Jesus vir hulle gehad het nie.

Die Here Jesus lig hulle in wat betref die posisie wat Hy binnekort, met sy hemelvaart, sou gaan beklee.

Dat Hy sou gaan sit aan die regterhand van God, op die hemelse troon.

Ja alle mag in die hemel en op aarde is aan Hom gegee.

Slegs iemand wat inderdaad op die hemelse troon sal gaan plaasneem, is in staat, is geregtig, om soiets te sê.

 

En Christus is geregtig, tot en met!

Die dissipels, en ook ons deur hulle getuienis, sien Hom hier staan as die Verheerlikte, die Almagtige!

En vlak voordat Hy die troon aan bestyg, gee Hy hier op aarde sy instruksies vir die nuwe bedeling.

Dit is sy plan om van nou af ‘n nuwe volk te vergader, mense uit elke stam en taal en nasie.

En Hy gee sy dissiples ook die teken van toetrede tot hierdie nuwe volk.

In die ou bedeling was die teken tot toetrede tot God se verbondsvolk die besnydenis.

Die almagtige Christus het nuwe planne, veel grootser planne vir God se verbondsvolk.

En die teken dat ‘n indiwidu sal gaan behoort tot hierdie nuwe volk, of dit ‘n Jood is, of ‘n Griek, ‘n Germaan of ‘n Chinees, ‘n Afrikaner of ‘n Zulu, die teken is die doop, soos Christus dit hier vlak voor sy hemelvaart opdra:

Doop elkeen van hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

 

Die apostels, wat hierdie opdrag hier ontvang, hoef nie onseker te wees, hoef nie te twyfel, of hierdie nuwe volk gaan kom nie.

Christus kondig dit hier aan.

My nuwe volk uit alle volke, stamme en tale gaan ek vanaf nou vir Myself versamel.

Ek doen dit, dit is my werk.

Aan My is alle mag en outoriteit gegee.

En elkeen wat Ek toevoeg, die moet julle doop.

Julle hoef nie skepties te wees nie, julle hoef nie onseker te wees nie.

Dit is my werk, Ek die Almagtige op die troon.

Weet verseker, Ek is by julle!

Aan die begin van die Mattheüsevangelie het die engel aangekondig dat die kind wat gebore gaan word, Immanuël sal wees, dit beteken: God met ons.

Nou eindig die Mattheüsevangelie met die verwerkliking van hierdie belofte, vir die toekomstige bedeling.

Christus is Immanuël.

Hy sê dit hier self, in Mattheüs se laaste vers:

“Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Wow!

Wat ‘n ongelooflike bemoediging, wat ‘n riem onder die hart!

Nie net vir die apostels, wat hier hulle taakomskrywing ontvang vir die res van hulle lewe.

En soos ons weet byvoorbeeld uit die boek Handelinge, dit sou vir die apostels nie ‘n maklike lewe word nie.

Tog mog hulle hulle werk doen, met die wete dat hulle Opdraggewer agter hulle staan, en dat dit nie sommer net ‘n opdraggewer is nie, maar dat hulle Opdraggewer op die hemelse troon sit!

Maar ook vir ons, wat ‘n ongelooflike bemoediging, wat ‘n riem onder die hart!

Christus is met ons tot aan die voleinding van die wêreld!

 

Geliefde gemeente, so aan die vooraand van ‘n nuwe jaar, aan die vooraand van ‘n nuwe dekade selfs, is dit ‘n riem onder die hart, ‘n lafenis, ‘n bemoediging, om hierdie woorde van Jesus in te drink.

Die lang en komplekse wêreldgeskiedenis, ook die dikwels so onstuimige verloop van gebeurtenisse in ons land, is nie maar net ‘n noodlottige en toevallige saak nie.

Dit is alles onderdeel van hierdie bedeling wat Christus aangekondig het in Mattheüs 28.

Dit is alles onderhewig aan Christus wat op die troon sit.

Sy heerskappy ontgaan niks nie.

Alles wat roer en rumoer op aarde, in watter land ook, is ‘n voorbereiding, die Skrif sê, dit is die barensweë van die voleidning van die wêreld wat op hande is.

Elke dekade wat aan die wêreldgeskiedenis toegevoeg word, is opnuut ‘n dekade vol genadetyd.

Die Here vertraag nie die belofte nie ... maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. (2 Petr 3:9)

 

En ons, gemeente, ons wat alreeds in die verbond is, ons wat reeds die teken ontvang het dat ons tot hierdie nuwe volk van Christus behoort, ons gedooptes, hoe gebruik ons die genadetyd?

Laat ons dit tog nie gebruik om onsself te verhard nie, of om lou en ongeïnteresseerd of wêreldgelykvormig te raak nie.

Hoe mooi sal dit nie wees as ons oor tien jaar, DV in die jaar 2029, ons kan terugkyk op ‘n dekade waarin dinge weer beter begin gaan het.

Nie net dat daar in hierdie land weer meer politieke stabiliteit en vooruitgang gekom het nie.

Maar nog belangriker, mag dit ook ‘n dekade wees waarin daar waar nuwe geestelike diepgang mag kom in ons lewens.

As die kerkrade ‘n tendens waarneem dat sommige mense te maklik by die eredienste, spesifiek die aanddienste begin wegbly, dan moet dit aandag kry.

Maar nie net dat die verkeerde gedrag aangespreek word nie, maar veral die dieperliggende rede daaragter.

Dit is soos wanneer iemand na die oogarts gaan, omdat sy oë baie verslegter het.

Die oogarts kan nie net ‘n sterker bril voorskryf nie, sonder om verder ondersoek in te stel nie.

Die oogarts sal ook na die oorsaak moet kyk, hoekom die oë so eintlik agteruit begin gaan het.

Daar sal meer mediese toetse gedoen moet word.

Dalk lê die werklike rede nie by die oë nie, maar elders.

Dalk is die werklike rede dat die persoon diabetes gekry het.

Net ‘n sterker bril is dan nie voldoende nie.

 

Net so skuil daar ‘n bepaalde lewensinstelling, ‘n bepaalde geloofsinstelling agter die feit dat mense makliker word in die versuim van eredienste.

Dus moet nie net die gedrag aangespreek word nie, maar veral die agterliggende rede.

Dalk besef daardie broers en susters nie meer ten volle hierdie uitspraak van Christus in ons teks nie, naamlik dat aan Hom alle mag in hemel en op aarde behoort.

Dalk besef daardie broers en susters nie meer hoe groot voorreg dit is om by Christus se kerk te behoort, en dat dit op Sondag prioriteit behoort te hê bo enigiets anders!

Dalk besef hulle nie meer dat dit Christus is wat hulle roep, as die ampsdraers ‘n erediens belê nie.

Gehoorsaamheid aan Christus word konkreet hier op aarde as gelowiges gehoorsaam is aan die ampsdraers wat oor hulle aangestel is.

As daar in ons geledere ‘n kultuur ontstaan dat ampsdraers maar kan preek en soebat, aan die einde van die dag doen mense wat hulle self wil, dan is dit die eerste spyker in hierdie gemeente se doodskis.

Knoop dit in u ore:

As ‘n ampsdraer u tot iets oproep, hoor daarin dan Christus se stem vanaf sy hemelse troon!

Christus stig ‘n familie tussen gelowiges, ‘n Geestelike familie, ‘n kerk, wat uitstyg bo die bloedfamilie.

En Christus stel vanaf sy hemelse troon ampsdraers aan, wat gesag het oor sy kerk op aarde.

Johannes Calvyn skryf by ons teks, en ek dink hierdie woorde is vir ons vandag ook baie relevant:

As hulle wat na die prediking luister, voel dat die veragtelike voorkoms van hulle wat die Evangelie preek, hulle geloof verswak en nie voed nie, laat hulle tog veral leer om hulle oë op te hef na die Meester self ... en dan sal hulle nie waag om Hom te verag as Hy tot hulle deur sy predikers spreek nie.

 

So ja, vir die komende jaar, vir die komende dekade, as God die jongste dag voorlopig nog uitstel, is daar die nodige aandagspunte vir ons, beide ampsdraers en gemeentelede.

Laat ons die genadetyd gebruik om nog meer vrug te dra, om nog meer toegewyd te lewe, om nog meer mense met die Evangelie van Christus te bereik.

Ons weet nie of Christus in hierdie nuwe dekade gaan terugkeer nie.

Maar ook as die Vader besluit om nog ‘n dekade van genadetyd aan die wêreldgeskiedenis toe te voeg, ook dan het ons vir die nuwe dekade die belofte van Christus by ons:

“kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matth 20:20)

Hierdie woorde kom van Hom wat in ons teks gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”

Laat daardie woorde daarom u hart bereik, en u hande en voete, en u beursie, en u besittings en eiendeomme en beleggings.

Dit alles behoort aan Hom wat mag het in hemel en op aarde.

Laat Hy en laat sy diens groot wees in jou lewe, in 2020, 2021, 2022, 2029, solank as wat die genadetyd voortduur.

Christus is groot!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 45:1,4,5,15,16

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 28

Ps 2:4,6

Teks: Mattheüs 28:18

Preek

Ps 97:1,6,7

Gebed

Geloofsbelydenis: NGB art. 37 & HK 19

Ps 110:1-5

Kollekte

Ps 99:1,2,3

Seën