Die teenstand van die Engel van die HERE verander die vloek in ’n seën

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-12-08
Teks: 
Numeri 22:22-35
Preek Inhoud: 

Psalm 2:12: “Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.” Gemeente, Psalm 2 is ‘n sogenaamde Messiaanse Psalm, daardie deel van die Ou Testament wat onmiskenbaar spreek van die koms van die Seun van God na die aarde – dié rede waarom ons Kersfees vier. Maar ons vergeet soms dat die Ou Testament nie slegs oor die Seun van God profeteer nie, maar dat die Seun van God van tyd tot tyd ook sélf op die Ou Testamentiese toneel verskyn – uiteraard nog nie as Jesus, die Christus, God wat mens geword het nie – Hom vind ons eers in die krip in Betlehem. Maar ons ontmoet Hom van tyd tot tyd in die Ou Testament as die Engel van die HERE. Ons kan sê dat die Engel van die HERE die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte is. En vandag en volgende week wil ons, as deel van die adventsprediking, saam na hierdie Engel van die HERE kyk – vandag spesifiek in verband met die eerste deel van vers 12 van Psalm 2 (“Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam”), en volgende week in verband met die tweede deel (“Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil”). Maar voordat ons dit doen, kom ons bid eers saam.

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Engel van die HERE – Hy is daardie amper misterieuse figuur wat ons van tyd tot tyd in die Ou Testament teëkom. Die eerste keer is in Genesis 16, wanneer Hagar, saam met haar seun Ismael, van Abram en Sarai af wegvlug. Die laaste keer is in die vierde naggesig van die profeet Sagaria, wanneer hy Josua die Hoëpriester met sy vuil klere voor die Engel van die HERE sien staan. En tussen-in nog so vyftien-of-wat keer. Maar wat laat ons dink dat hierdie Engel van die HERE ‘n manifestering van die Seun van God is? Wel, in die eerste plek omdat hierdie Engel verskeie kere met God geïdentifiseer word of uitsprake maak wat slegs aan God toegeskryf kan word. Dink aan Genesis 22, waar Abraham op die punt staan om sy seun, Isak, te offer. Dan lees ons in vers 11: “Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” En in vers 15 roep die Engel van die HERE vir ‘n tweede keer en sê: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE...” Duidelik word die Engel hier met die HERE – met Jahwe! – geïdentifiseer. Iets soortgelyks vind ons in Exodus 3, waar vertel word hoe die Engel van die HERE aan Moses in ‘n vuurvlam uit die doringbos verskyn, en vervolgens word van hierdie Engel slegs as die ‘HERE’ of ‘God’ gepraat. Duidelik is weer die identifikasie. ‘n Laaste voorbeeld: in Sagaria 3 sien Sagaria die hoëpriester Josua voor die Engel van die HERE staan, en dan verseker die Engel vir Josua: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem...” – vergewing van skuld is iets wat net God self kan doen. En ‘n tweede belangrike rede waarom dit waarskynlik is dat ons in die Engel met die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte te doen het, is omdat ons hierdie Engel van die HERE in die Nuwe Testament glad nie meer teëkom nie. Die vleeswording van die Seun maak hierdie Ou Testamentiese gestalte oorbodig. Nou goed, u kan dit tuis self verder ondersoek. Want ek wil uitkom by die verskyning van die Engel van die HERE in ons teksgedeelte vir vandag – Numeri 22. Ek verkondig aan u die Woord van die Here onder die tema:

Tema: Die teenstand van die Engel van die HERE verander die vloek in ’n seën

  1. Die Engel weerstaan die vloek
  2. Die Engel verander die vloek in ’n seën

 

1) Bileam – hy klink eintlik soos ‘n baie vroom man. Hy kan so mooi praat: “Ek kan net saamgaan as die Here my toelaat”; “ek kan net spreek wat die Here my gee om te spreek”; en “As die Here seën, kan ek niks doen om dit te keer nie.” Dit klink alte vroom! Maar intussen kan ons vanuit die res van die Skrif weet wat regtig in Bileam se hart geleef het. Hy het so mooi oor die Here gepraat, maar uiteindelik het Bileam net een god gehad: geld, Mammon. Lees maar wat die apostel Petrus, met die insig wat die Gees aan hom gegee het, oor Bileam skryf: “Hulle (dan praat hy oor die valse leraars) het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bileam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het” (2 Pet. 2:15). En in sy kort briefie skryf die apostel Judas iets soortgelyks oor Bileam; hy sê daar dat die valse leraars hullself om loon in die verleiding van Bileam gestort het (vers 11). Dus, Bileam was uiteindelik niks anders nie as ‘n swendelaar, wat bereid was om vir die regte bedrag die vereiste boodskap oor te dra. En dit was ten diepste wat hom gedryf het toe hy daardie oggend vroeg saam met Balak se boodskappers koers gekies het na die vlaktes van Moab. Nieteenstaande al sy vroom woorde, was die prys vir Bileam reg om daardie klomp Israeliete te gaan vervloek.

Maar skaars was Bileam oppad, of sy reis neem ‘n onverwagse wending. Sy lewenslange, getroue rydier (vers 30) begin skielik snaakse streke uithaal. Eers draai die donkie van die pad af weg en loop sommer-so die veld in; vervolgens druk sy haarself teen ‘n muur vas sodat ook Bileam se voet vasgedruk word; en ten slotte gaan lê sy plat in die pad. ‘n Regte steekse donkie! Of... was dit dalk eerder ‘n geval van ‘n steekse Bileam?! Ja, Bileam is só verblind deur sy geldsug, dat hy nie kan raaksien wat die stomme dier wel raaksien nie. Met die gevolg dat hy haar tweemaal slaan, en die derde keer selfs sy stok gebruik om haar tot orde te bring. En wanneer die donkie vervolgens begin praat en vra hoekom Bileam haar so slaan – interessant, dit lyk nie asof dit vir hom vreemd was om so met sy donkie te praat nie – antwoord Bileam dat as hy maar net ‘n swaard gehad het, dan sou hy haar sekerlik doodgeslaan het.

 

En dit is dan dat die Here Bileam se oë open om te sien wie wél ‘n swaard in die hand het, en wie wérklik die een is wat gevaar loop om doodgeslaan te word. Voor hom sien Bileam die Engel van die HERE in die pad staan met sy ontblote swaard in sy hand. En die Engel identifiseer Homself as Bileam se teëparty: “Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog” (vers 32) Of eenvoudiger gestel: die pad waarop jy gaan, is gevaarlik / onverantwoordelik.

Bileam is naamlik oppad om die volk Israel te gaan vervloek. En die Here kan dit nie toelaat nie; Hy het immers self in vers 12 gesê dat Bileam die volk nie mag vloek nie, want hulle is geseënd. Hulle is geseënd – hierdie Israel is die Here se oogappel, ondanks al haar ongehoorsaamheid en murmurering tydens die woestynreis; sy is die volk wat Hy in sy liefde uitgekies het, niemand mag haar aanraak nie! En daarom word die Engel van die HERE Bileam se teëparty. Tot driemaal toe kom keer Hy Bileam voor op sy pad. En Hy doen dit met ‘n ontblote swaard in sy hand, ‘n swaard wat uit die skede gehaal is. Dus, die Engel van die HERE is gereed om te veg, om die stryd teen Bileam aan te gaan, en só die vloek van sy volk af te wend. Die Engel laat nie toe dat hierdie geldgierige dienskneg van Satan aan sy geliefde volk raak nie; Hy staan nie terug vir die geveg nie. En as Bileam dit nie kan sien nie, dan moet sy donkie hom maar daarby help.  

Kom ons blaai vir ‘n oomblik verder in die Ou Testament, na die boek Josua, hoofstuk 5. Numeri speel af tydens Israel se reis deur die woestyn, oppad na die Beloofde Land. In Josua 5 het die volk sopas in die Beloofde Land aangekom. Hulle is skaars deur die Jordaan-rivier, dan ontmoet Josua ‘n man by Jerigo – ons lees Josua 5:13-15 [lees]. Sien u dit? Daar staan ‘n man met ‘n ontblote swaard in sy hand. Hy noem homself die leërowerste van die HERE. En wanneer Josua voor hom op die grond neerval, dan sê die man: “Trek jou skoen van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig.” Dit herinner ons aan Exodus 3, waar die Engel van die HERE vir Moses dieselfde gesê het by die brandende doringstruik. En hier is Hy weer – die Engel! Weereens met ‘n ontblote swaard. Hoekom ontmoet Hy Josua juis op hierdie oomblik met sy ontblote swaard? Want Israel, wat sopas die Beloofde Land ingetrek het, kry van die Here die opdrag om die land te gaan inneem en die omringende volke volledig te verwoes, uit te delg. Hoekom? Want as hulle dit nie doen nie, sal hierdie heidense volke Israel met hulle sondige gebruike en valse godsdienste van die Here af wegtrek. Verwoes daarom die heidense volke, verwoes dít wat julle van die Here kan wegtrek, roei die sonde uit die land uit! En juis wanneer die volk op die punt staan om met hierdie skoonmaak-operasie te begin, ontmoet Josua die Engel van die HERE met die ontblote swaard – as waarborg dat Hy vir hulle sal stry! Hy sal persoonlik die stryd aangaan om die vloek van die heidense sonde uit die land uit te roei, sodat sy volk in vryheid in Kanaan kan woon. En dit begin (Josua 6) met die verwoesting van Jerigo – sewe dae lank moet die volk om die stad loop. Geen wapens nie, geen aanvalstaktieke nie, geen oorlogskrete nie. Eenvoudig om die stad loop. En dan val die mure... want die Engel veg vir Israel!

 

Ja, gemeente, dit is wat die Engel van die HERE doen – Hy stry vir sy kinders teen die bose en teen elkeen wat in diens van die Bose staan. Sodanig dat Dawid in Psalm 35 die HERE daartoe kan oproep: “HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry! Gryp die klein swaard en die grote, en staan op as my hulp. En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam agteruitwyk en rooi van skaamte word! Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot. Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg!” (Ps. 35:1-6) En as u die profete lees, dan is dit ‘n deurlopende lyn wat u ook daar sal aantref. Die Engel van die HERE weerstaan die vloek van die sonde wat sy volk voordurend bedreig.

En toe die Engel van die HERE, die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte, toe Hy mens geword en onder ons kom woon het as Jesus Christus, is dit presies wat Hy nogmaals gedoen het – hierdie keer tot in die hel toe. Hy het die stryd aangegaan teen die vloek van die sonde. Hy het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – só skryf Paulus in Galasiërs 3:13. Aan die kruis bereik sy teenstand / sy weerstand / sy stryd teen die vloek sy hoogtepunt – of dalk eerder: sy dieptepunt. Dáár wys Hy hoe ernstig Hy was toe Hy Bileam tegemoet gegaan het met sy ontblote swaard om die vloek oor sy volk af te weer. Dáár aan die kruis wys Hy wat dit werklik beteken het dat Hy, die leërowerste van die HERE, voor Israel uitgegaan het om die heidense nasies uit die Beloofde Land uit te roei. Dáár aan die kruis wys Hy hoe lief Hy ons het deur die vloek, wat andersinds ons lewens ongetwyfeld sou oorheers het, te oorwin. Die kruis is Christus se ontblote swaard teen die vloek wat sedert die sondeval oor hierdie bestaan hang. Daar roep Hy dit uit: “Stop, vloek! Stop, sonde! Dit is genoeg, dit is volbring.” Sodat ons kan uitroep: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus!” (1 Kor. 15:55-57)

 

Die kruis – dít is dan ook ons wapen, broers en susters. In ons lewens, waar die vloek van die sonde steeds ‘n bedreiging is, en waar ons daagliks die styd daarteen moet aangaan, is die kruis ons wapen, ons enigste wapen. Ons veg nie teen die sonde met eie krag of met mensgemaakte wapens of met sielkundige hulp nie. Ons neem ons toevlug in die kruis van Christus! Wanneer die Satan op my afkom en my wil verlei, wanneer die Satan my aanhits om nie vir pa of ma te luister nie, of om daardie pornografiese beelde op die internet te bekyk, of om ‘n rassistiese grappie of opmerking te maak, of om sinies oor my ouderling of predikant te praat, of om my geld te gebruik vir daardie bier op ‘n Saterdagaand in plaas van vir die kollekte op Sondagoggend, of om my kind wat my aandag soek met ‘n kortaf opmerking weg te jaag, of wat die verleiding ook al mag wees – wanneer die Satan, die wêreld en ons eie sondige natuur (daardie drie doodsvyande waarvan Sondag 52 praat) nie ophou om ons aan te val nie, dan is daar net een wapen! Die kruis van Jesus Christus! Nie as iets magies, soos die kruisie wat die Roomse Katolieke of die Ortodokse slaan nie. Die kruis is nie in die eerste plek ‘n hangertjie wat ons om ons nekke hang of wat ons teen ons voorhekke vasmaak omdat ons dink dat ons daarmee die boewe gaan buite hou nie. Nee, die kruis van Jesus Christus is die krag van God tot redding vir elkeen wat gló.

Geloof in die werk van Jesus Christus aan die kruis, daar waar Hy die vloek beslissend teëgegaan het – dít is ons wapen. Gebruik daardie wapen, broers en susters. Glo in Hom wat die stryd vir ons gestry het... en ervaar dan hoe hierdie Engel van die HERE ons vyande voor ons verstrooi, verjaag. En elke keer as ons die oorwinning proe – sy oorwinning in ons lewens! – sê dan: “Wie is soos U, o HERE, wat die ellendige bevry van dié wat sterker is as hy? Die arme – dat hy U mag loof – verlos van dié wat hom beroof?”

Kom ons sing nou eers hiervan uit Psalm 35:1, 2 en 4.

Vervolgens let ons daarop dat die Engel die vloek ook in ‘n seën verander.

 

2. Bileam lyk asof hy werklik onder die indruk is van die Engel met sy ontblote swaard. Hy buig en val op sy aangesig voor die Engel (vers 31). “Ja, kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie, want gou kan sy toorn ontvlam” – Bileam verstaan iets hiervan! Hy bely sy sonde en bied selfs aan om terug te draai en huistoe te gaan. Maar hier toon die Engel sy egte mag – Hy gee aan Bileam toestemming om saam met die manne van Balak te gaan, “maar net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek” (vers 35). En dit is presies waaraan Bileam hom gehou het. Ten spyte van koning Balak se heidense rituele (sewe altare, sewe bulle en sewe ramme), en ten spyte van die verandering van plek (eers op die hoogtes van Baal, daarna op die top van Pisga, en ten slotte op die top van Peor), ten spyte van dit alles kan Bileam nie anders nie as om Israel te seën nie. Tot driemaal toe seën hy Israel – sodat Balak uiteindelik radeloos uitroep: “Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën” (Num. 23:10). Die Engel van die HERE, wat Bileam met ontblote swaard tegemoet gegaan het, verander die beplande vloek in ‘n seën – Bileam kan slegs spreek wat die HERE hom opdra. En wanneer Balak vir Bileam ná die derde seënspreuk as’t ware wegjaag huistoe, dan spreek Bileam die woord waarin die egte seën vir Israel lê.

 

Hy praat in hoofstuk 24:17 oor ‘n persoon wat kom – nie gou nie, maar in die verre toekoms. Hy noem Hom ‘n ‘ster’ wat uit Jakob te voorskyn kom, en ‘n ‘septer’ wat uit Israel opkom. Beide hierdie beelde – die ster en die septer – het in daardie tyd verwys na gesag en heerskappy en koningskap. En dit word bevestig met die beeld van die leeu wat Bileam in die tweede en derde seënspreuk gebruik (23:24 en 24:9). In al hierdie beelde hoor ons die profesie oor die koms van die Christus. Want is Hy nie die ster, wat die wyse manne uit die Ooste gelei het om na Jerusalem te kom en te vra waar die Koning van die Jode gebore is sodat hulle aan Hom hulde kan bewys nie? (Mt. 2) Is Hy nie die Een wat Homself in Openbaring 22 die blink môrester noem nie? En is dit nie die môrester waarop ons vandag met verlange wag dat dit moet opgaan nie? En is Hy nie die leeu, waarvan Jakob alreeds in Genesis 49:9 en 10 gespreek het nie, toe hy gesê het: “Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” En bevestig Bileam hierdie feit, naamlik dat die volke aan Hom gehoorsaam sal wees, nie pragtig in sy laaste woorde voordat hy huiswaarts keer nie – hierdie septer uit Israel verbrysel die slape van die hoof van Moab, en Edom sal sy besitting wees, en Amalek se einde is ondergang, en Kain sal verwoes word. En hoor ons nie die eggo hiervan in Openbaring 5:5 nie, wanneer een van die ouderlinge aan die huilende Johannes sê: “Kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van David, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek”? 

 

Sien u, gemeente, die Engel van die HERE wat vir Bileam op die pad teëkom, Hy verander die vloek in ‘n seën. En hoe doen Hy dit? Deur Bileam woorde van seën oor sy geseënde volk te laat spreek. En wat is ten diepste die inhoud van daardie seën? Hyself! Jesus Christus – die blink môrester, die Leeu van Juda, wat die septer van heerskappy dra – Hy is die inhoud van Bileam se seën. Hy is die seën vir sy volk, en daarmee die ondergang van alle volke wat Hom teenstaan! Prys die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus – só roep Paulus uit in Efesiërs 1:3. Die Engel verander nie net die vloek in ‘n seën nie; Hy is die seën! Elkeen wat Christus in sy lewe het, is geseënd. Nee, om geseënd te wees, beteken nie wat dit vandag so dikwels onder christene beteken nie, naamlik dat ons onsself en mekaar seën en goeie woorde oor onsself en mekaar uitspreek: “Ek verklaar dat ek geseën is by die huis, dat my huis veilig bewaar sal word; ek verklaar dat ek geseën is by my werk, met goeie verhoudings met die mense rondom my en dat ek ‘n seën is vir ander rondom my; ek verklaar dat ek geseën is dat alles wat ek aanpak, sal slaag en voorspoedig sal wees; ek verklaar al hierdie seën in die Naam van Jesus Christus van Nasaret” – dit is wat ek vanoggend op die internet gevind het; hierdie soort self-motiveringswoorde is deesdae baie gewild. En daar sit ‘n beginsel daaragter, naamlik dat alles wat ek uitspreek, hetsy vloek of seën, werklikheid word. Spreek ek negatiewe dinge, dan gebeur daar negatiewe dinge; spreek ek seën, volg daar seën. Woorde word werklikheid – asof ek, met my woorde, beheer oor my of iemand anders se lewe het. Asof ék die werklikheid van vloek of seën bepaal.

 

Nee, gemeente, Christus weerstaan die vloek, en Hy verander die vloek in ‘n seën, en Hy is die inhoud van die seën. Dit lê in sy hande, nie in myne nie. En daarom is nie my woorde, maar sy Woord so belangrik. Nie my woorde wat ék oor myself of ‘n ander uitspreek met my eie mond nie, maar die Woord wat aan my verkondiging word! En met Woordverkondiging bedoel ek eerstens die prediking, maar ook alle Woorddiens wat daarmee saamgaan – die katkisasies, die huisbesoeke, alle gesamentlike en persoonlike Bybelstudie... elke keer wanneer ons die Skrifte oopmaak en in geloof daaruit lees. Want Christus en sy seën kom nie anders na ons toe nie as in die kleed van die Woord, soos Calvyn so pragtig sê. En daarom kan ek vandag vir u sê: Geseënd is elkeen wat nederig by die voete van die Here Jesus kom sit om van Hom te leer. Geseënd is elkeen wat getrou die eredienste bywoon en die Woord ontvang as Woord van God, en elke jongmens wat aandagtig na die onderrig in die katkisasie-klasse luister, en elke ouer wat vir sy kinders die Woord voorlees, en elkeen van ons wat elke dag tyd maak om ons Bybels te lees. Geseënd is jy wanneer jy dít doen! Want die seënwoord het net een inhoud: Christus! Maar Christus kom net op een manier na ons toe: in en deur die Woord. Hierdie Leeu van Juda het een kragtige septer: sy Woord! En dit is met hierdie septer dat Hy seën gebied in die lewens van hulle wat luister, en vloek in die lewens van elkeen wat hulle van sy Woord afkeer. Kus, daarom, die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. En welgeluksalig is almal wat by Hom skuil (en op hierdie laaste deel let ons volgende week, as die Here wil, nog verder).

Liturgie: 

Liturgie - aanddiens

 

  • Afkondigings
  • Votum: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.
  • Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here, Jesus Christus // Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen
  • Sing Ps. 2:6
  • Lees: Psalm 2
  • Gebed
  • Lees:   Numeri 22:21-35

                       Numeri 24:10-25

  • Preek
    • Ná die 1ste punt sing Ps. 35:1, 2 en 4
    • Ná die preek sing Ps. 72:2 en 10
  • Gebed
  • Belydenis van Geloof – staande en singende
  • Kollekte
  • Sing Ps. 47:1, 2 en 4
  • Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God, die Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees is en bly met julle almal // Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee, Amen