Johannes die Doper is oorleef deur sy prediking

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-12-01
Teks: 
Mattheüs 14:3-4
Preek Inhoud: 

Desembermaand is in ons kultuur tipies die maand waarin ons aandag skenk aan die koms van Christus na die aarde.

Die adventstyd is die weke voor Kersfees, waarin mense in die gemoedstemming vir Kersfees gebring word.

Het dit waarde om aan hierdie tradisie deel te neem?

As ons dit doen, laat ons dit dan wel waardig die inhoud van die Evangelie doen.

Ons skenk vanaand aandag aan die voorloper van die Here Jesus, Johannes die Doper, en hoe hy aan die einde van sy lewe gekom het.

 

Tema: Johannes die Doper is oorleef deur sy prediking

  • Hy word vermoor omdat hy as boeteprofeet die waarheid gepraat het
  • Sy prediking bly voortleef omdat hy die die voorloper van die Messias was

 

  • Hy word vermoor omdat hy as boeteprofeet die waarheid gepraat het

In ons teks skryf Mattheüs alweer oor Herodes.

Hierdie Herodes, ook bekend as Herodes Antipas, was egter ‘n seun en opvolger van Herodes die Grote, die een wat al die kindertjies in Betlehem laat vermoor het.

Herodes Antipas was ook wel Herodes die Viervors, of die Tetrag genoem (Matth 14:1; Luk 3:19).

Dit dui daarop dat hy slegs oor ‘n vierde deel van die gebied van sy pa, Herodes die Grote, geregeer het.

Naamlik oor Galilea en Perea.

Galilea was wes van die Jordaanrivier, Perea oos.

Hoewel die teks uit Mattheüs 14 is, dit is al halfpad in die Mattheüsevangelie, het die gebeurtenis wat hier beskryf word, eerder gebeur.

Die evangelis gee hier naamlik ‘n terugblik op hoe Johannes die Doper, Christus se voorloper, aan die einde van sy lewe gekom het.

 

Dit was die tyd toe Jesus sy apostels oor die hele land uitgestuur het, en toe Jesus al hoe meer naamsbekendheid begin kry het.

En so het die gerug van Jesus ook by Herodes uitgekom.

Herodes se bygelowigheid het sy belangstelling geprikkel in hierdie wonderdoener.

Dit het hom direk laat terugdink aan Johannes die Doper.

‘n Onbehaaglike gevoel het hom bekruip.

Dit wat hy nog aan ‘n gewete oorgehad het, het in hom boontoe gekom.

Hy het vir sy knegte gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper. Hy het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in hom.”

 

Aan die een kant was dit ‘n kompliment vir sowel Jesus as Johannes die Doper.

Herodes herken hierdie manne duidelik as persone met kragte wat hom imponeer, kragte wat hy nie het nie, kragte wat hom onrustig maak.

Maar aan die ander kant is dit ‘n slegte voorteken vir Jesus, noudat Herodes hom identifiseer met sy slagoffer, wie se kop hy laat rol het.

 

Mattheüs gee dan ‘n terugblik hoe dit sover kon gekom het, dat Herodes vir Johannes die Doper vermoor het.

Dit het alles daarmee te make gehad dat Johannes ‘n profeet van die Allerhoogste was.

Dat Johannes die vrymoedigheid gehad het om die waarheid te praat, selfs teenoor die koning.

Dit het gegaan oor die vrou van Herodes se broer, Filippus.

So noem Mattheüs vir Herodias, al het Herodes op daardie stadium alreeds ‘n onwettige huwelik met sy skoonsuster aangegaan.

Volgens die norm, in God se oë, het sy nie aan Herodes behoort nie.

Al was sy al geskei van Filippus, en al het Herodes sy eerste vrou alreeds verstoot, hierdie twee mense se tweede huwelik het nie God se goedkeuring weggedra nie.

En Johannes die Doper het die lef gehad om dit te sê.

Die werkwoordsvorm wat hier gebruik word, dui daarop dat Johannes dit nie net een keer gesê nie, maar ‘n gewoonte daarvan gemaak het om Herodes en Herodias daaroor te bestraf.

Dit was die oorsaak hoekom Herodes hom opgesluit het.

Tog het Herodes ‘n bygelowige angs vir hierdie profeet gehad.

Die evangelis Markus getuig daarvan, as hy skryf: “Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.” (Markus 6:20)

 

Herodes se tweede vrou, Herodias, was egter nog meer koelbloedig wreed as hom.

Solank haar man enigsins onder Johannes se invloed was, het dit ‘n domper op hulle owerspelige huwelik geplaas.

Sy het dus na ‘n geleentheid gesoek om van hom ontslae te raak.

‘n Geleentheid wat homself voorgedoen het op Herodes se verjaarsdag, toe haar dogter Salome die gaste en veral Herodes met haar dansbewegings so in vervoering gebring het, dat jy met hom kon toor.

Herodias misbruik die geleentheid.

Herodias se advies aan haar dogter is om iets van hom te vra, wat onder normale omstandighede nooit in ‘n normale meisie se kop sou opkom nie.

Herodes was skaakmat, en hy het sy bygelowige angs vir hierdie kragtige profeet oorwin en beveel om hom te laat onthoof.

 

Maar, soos ons in Mattheüs 14:1 lees, toe die gerug van Jesus en van sy wonderkragte by hom uitkom, het die bygelowige angs weer kop op gesteek.

En tereg het hy direk aan Johannes die Doper teruggedink.

Daardie boeteprofeet wat die waarheid durf praat het, wie hy vermoor het.

Op ‘n manier het sy gewete hom nog agtervolg, en hom laat terugdink aan Johannes se prediking.

 

(Tema: Johannes die Doper is oorleef deur sy prediking

  • Hy word vermoor omdat hy as boeteprofeet die waarheid gepraat het)

 

 

  • Sy prediking bly voortleef omdat hy die die voorloper van die Messias was

Die doel van Johannes die Doper se prediking was om die mense voor te berei op die koms van die Messias.

So lees ons in Mattheüs 3:2:

“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”

Of in Markus 1:4: “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig.” 

Of soos Paulus later bely in Handelinge 19:4: “Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.”

 

In hierdie opsig is vandag se teks geskik vir hierdie tyd van die jaar.

In ons kultuur werk dit nou eenmaal so dat daar nou baie aandag gegee word aan die adventstyd.

Sedert die tweede helfte van November word daar al kerskonserte gehou, kooruitvoerings, kerssangdienste en dies meer.

Op die skole word aan Kersfees aandag bestee.

En soos ons in Desember ingaan, sal dit net nog meer word.

Op radio word daar nou weer al hoe meer kersmusiek gespeel.

En so kom ons almal stadig maar seker in die atmosfeer van Kersfees.

En dan, op Kersfees, gaan ons die geboorte van Jesus Christus vier.

Dit is ons welbekend dat 25 Desember nie die datum van sy geboorte kon gewees het nie.

Maar solank die oorheersende kultuur in die Weste 25 Desember bly aanhou, sluit die kerk daarby aan.

Dit wil egter nie sê dat ons Kersfees en Advent net soos die gesekulariseerde wêreld om ons heen vier nie.

En juis ons teks vir vandag kan ons wat dit betref in die regte rigting stuur, wat betref die manier hoe ons hierdie Adventstyd beleef.

 

Johannes die Doper is naamlik deur God gestuur om sy volk voor te berei op die koms van sy Seun, die Messias.

Die manier waarop die volk hulle moes voorberei, was nie deur kersbome te plaas en presente vir hulleself te koop nie.

Johannes die Doper was in eerste instansie ‘n boeteprediker.

Sy prediking was daarop gemik om die volk te reinig van hulle sondes.

Wat dit betref was die voorbereiding op Kersfees, waarin God sy volk gedompel het, van ‘n heel ander aard as deesdae se voorbereiding op Kersfees.

Destyds was dit boetedoening, verootmoediging, reiniging – dink aan Johannes se doop, dit was die kernwoorde wat die Advent soos Johannes die Doper dit vorm gegee het, gekenmerk het:

boetedoening – verootmoediging – reiniging.

So is die volk gereedgemaak vir die koms van die Messias.

 

En dit staan inderdaad mylever af van die oppervlakkige Advent wat in ons kultuur so vanaf halfpad November begin inskop.

Gelukkig is daar ook kersliedere wat wel hierdie geestelike diepte het.

Maar laat ons as gemeente van Christus nie net die heersende kultuur agternaloop nie.

Laat daar geestelike diepte wees in die manier waarop ons onsself op die herdenking van Christus se geboorte voorberei.

 

Johannes die Doper se prediking het gewerk soos ‘n tweesnydende swaard.

Dit het sommige mense tot verootmoediging gebring.

Hulle het gekom en is deur hom in die Jordaan gedoop.

Maar ander mense het sy prediking naas hulle neergelê, of nog erger, die boeteprediker self aangeval.

Herodes en sy onwettige vrou Herodias was voorbeelde hiervan.

 

Hulle het hulleself nie onderwerp aan die prediking van Johannes die Doper nie, maar het hulle vererg.

Onderdeel van sy prediking was dat hy Herodes gekritiseer het, omdat hy iemand anders se vrou gevat het.

Die feit dat Johannes vir die waarheid in sy prediking opgekom het, het hom duur te staan gekom.

As gevolg daarvan het Herodes hom in die gevangenis laat opsluit.

En Herodias was nog vernyniger as haar onwettige man.

Sodra sy ‘n geleentheid kon vind, het sy gesorg dat die profeet se kop sou rol.

 

Nou is hierdie ‘n ekstreme voorbeeld van wat daar met die Here se profete kan gebeur.

En ons kan dankbaar wees dat hierdie nie aan die orde van die dag in ons land is nie.

Tog het hierdie teks wel ‘n boodskap vir ons.

Elkeen van ons moet onsself afvra hoe ons verhouding is met die profete wat die Here na sy kinders stuur, en die boodskap wat hulle bring.

Waar dit by Herodes en Herodias foutgegaan het, is dat Johannes die Doper se prediking hulle teen die bors gestuit het.

As dit goed is, sal elkeen van ons sulke momente meemaak.

Dat die prediking jou teen die bors stuit.

Dat die prediking iets aanspreek in jou lewe wat nie in orde is nie.

Die predikers wat God vandag na ons gestuur het, sal ook dinge sê oor huwelik en egskeiding, dinge wat vir sommige gemeentelede dalk moeilik is om te sluk.

Hulle sal soms preek oor geldbesteding, wat vir baie van ons ‘n gevoelige onderwerp is.

Hulle sal soms preek oor naasteliefde, en maan teen onverdraagsaamheid teenoor mense van ander kulture, hulle sal maan teen rassisme.

Hulle sal soms preek oor jou tydsbesteding.

Hulle sal jou oproep tot lewende lidmate in die liggaam van Christus, op Sondag en ook deur die week.

Hulle sal jou oproep om nie skindertaal te besig en lasterlike dinge te sê nie.

 

Laat hierdie adventstyd by ons gekenmerk word deur die regte gesindheid, ‘n gesindheid van verootmoediging.

Ons ou mens kan so maklik die boodskap langs ons neerlê.

Dan vind ons wel iets om die prediker te kritiseer, en dan kan ons die boodskap van ons lyf afhou.

Of as die prediker te irriterend word, dan skuif mens gewoon na ‘n ander gemeente.

As ek sien dat my beplande egskeiding probleme gaan veroorsaak in die gemeente waar ek nou is, dan soek ek ‘n gemeente wat makliker is op hierdie gebied.

As ek myself toenemend vererg vir die prediker se aanhoudende waarskuwing teen rassisme, dan skuif ek na ‘n gemeente waar dit deur die vingers gesien word.

As ek met te veel mense in ‘n konfliktueuse verhouding verseild geraak het in hierdie gemeente, dan skuif ek na ‘n nuwe gemeente.

Of, as dit vir my te veel is om te skuif, begin ek die prediker ondergrawe.

Negatiewe opmerkings maak, wat nie onderbou is nie, sonder om die gesprek met die prediker self aan te gaan.

So bly die ou mens die botoon voer, so herhaal ons in feite Herodes en Herodias se gedrag.

Al is dit nie so drasties soos Johannes se kop wat gerol het nie, tog het ons ou mens die neiging om Christus se predikers te marginaliseer.

 

En net vir die duidelikheid, die boeteprediker Johannes die Doper was nie ‘n volmaakte man nie.

Hy was self ook soms kleingelowig, hy was self ook sondig.

Net so geld dit vir elke prediker.

As ‘n prediker al hierdie dinge aan die gemeente voorhou, hou hy dit ook aan homself voor, hy preek ook vir homself.

Wees dankbaar as ‘n prediker met so ‘n boodskap na u kom soos Johannes die Doper destyds.

Want ‘n prediker kan self ook die Bybelse boodskap langs hom neerlê, as hy dit as te konfronterend vir homself ervaar, met die gevolg dat die gemeente dit nooit te hore kry nie.

Nie hy nie, en ook nie sy gemeente nie.

 

Maar dit was die HERE se genade, dat Hy Johannes die Doper opgewek het, om met daardie boodskap na sy volk te gaan.

Dit is die HERE se genade in elke eeu van die mensegeskiedenis, dat Hy predikers uitstuur wat die Evangelie onverkort verkondig, soms met gevaar vir eie reputasie, eie vryheid, of selfs eie lewe.

Die prediking is ‘n genademiddel.

Johannes die Doper se prediking het die volk na die Messias toegedryf.

‘n Selfingenome volk sou geen belang by die Messias hê nie, ‘n boetvaardige volk wel.

 

Laat ons daarom hierdie Adventstyd, wat vir baie van ons ook gedeeltelik vakansietyd is, wys gebruik.

Die ekstra tyd, die meer rus wat ons het, laat ons dit gebruik om nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik tot rus te kom.

Soms in die gejaagde lewe skeep ons die huisgodsdiens maar bietjie af.

In hierdie tyd kan mens ontspanne die Bybel oopmaak, rustig daaroor napraat.

Miskien wel met uitsig op die see, of op majestueuse berge, of in die hart van die bosveld, of hier in Pretoria wat in Desembermaand so mooi en rustig is.

Desembermaand is ‘n tyd wat die gesamentlike Bybelstudies opgehou het.

Ons het meer tyd vir onsself.

Ook persoonlik kan jy tydmaak om na te dink oor jou eie lewe.

Watter koers vaar jou lewe?

Hoe het jou lewe in 2019 gelyk?

Is daar dinge wat jy nog nie verwerk het nie?

Is daar dinge wat met jou gebeur het, waarin daar lesse was wat wag om geleer te word?

En, met watter ingesteldheid gaan jy die nuwe jaar tegemoet?

Laat ons die periode van rus sinvol gebruik.

Kersfees mag ons weer as Christusfees vier.

Hy het gewilliglik in ons sondige en gebroke wêreld ingekom.

Gedurende sy hele lewe het Hy gely.

Toe die berig van Johannes se onthoofding Hom bereik, het dit Hom baie verdrietig gemaak.

Hy het daarna die eensaamheid gaan opsoek, om op ‘n verlate plek alleen te wees.

Opvallend dat Christus wat alle mag gehad het, nie op hierdie stadium tussenbeide getree en Herodes op sy plek gesit het nie.

Opvallend dat Christus wat ander weer uit die dood opgewek het, nie Johannes se hoof op sy liggaam teruggesit en weer tot lewe gebring het nie.

Johannes se onthoofding was ‘n voorbode van wat met Jesus sou gebeur, en Jesus het dit geweet.

Ook hierin was Johannes die Doper die voorloper van die Messias.

Sy onthoofding was al die skaduwee van die kruis wat oor Jesus se lewe geval het.

Maar op hierdie stadium het Jesus gekies om te ly, die lydensweg te stap, geen wraak te naam nie, maar om die eensaamheid op te soek.

Met die Christusfees herdenk ons dat God se genade so groot was, dat Hy bereid was om sy eie geliefde Seun in sulke ellende in te stuur.

Met die Christusfees herdenk ons dat God se genade ook in die 21e nog steeds skitter.

Met die Christusfees herdenk ons dat dit wat Johannes die Doper geprofeteer het, sien Joh 1:29, waar geword het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Johannes die Doper is oorleef deur sy prediking.

Ja tot vandag toe bely ons saam met die skare wat na Jesus geluister het: “alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” (Joh 10:41)

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 2:6

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 14:1-13

Sb 16:8-10

Teks: Mattheüs 14:3-4

Preek

Sb 2:1,3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 2:4,5

Seën