Neem en lees

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-10-27
Teks: 
Hebreërs 2:1-4
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus, Broers en Susters,

Vandag het ek 'n teks gekies wat gerig is op die historiese dag 31 Oktober. Die dag van die begin van die groot Reformasie van die 16de eeu: 31 Oktober 1517. Vanaf daardie datum het Martin Luther begin om hom in die openbaar te verset teen die onbybelse aflaat-handel van die Roomse kerk. Daar sou baie meer hieroor gesê kan word, maar ek wil myself vandag beperk tot een saak: Die Woord van die Here is deur die Reformasie weer aan gewone mense teruggegee.

U moet besef dat op daardie stadium die Bybel vir gewone mense 'n geslote boek was. Min mense kon aan die begin van die 16de eeu lees en skryf. En selfs as jy dit wel kon doen, kon jy nog steeds nie die Bybel lees nie. Want die Bybel was in daardie tyd slegs beskikbaar in Latyn. En dit het beteken dat slegs geleerdes soos wetenskaplikes, monnike en priesters die Bybel kon lees. En as hierdie mense eerlik sou vertel wat hulle in die Bybel lees, sou gewone mense dit nog deur hulle kon hoor. Maar nee, as die monnike en priesters in die kerke gepreek het, dan was dit in Latyn. Vir die meeste kerkgangers was dit betekenislose woorde. Darem kon diegene wat die kerkdienste besoek het om hulle heen kyk en iets ontdek van die Bybelse verhale in die beelde en skilderye in die kerk, en in die gebrandskilderde vensters. So was dit destyds.

Martin Luther het hierdie armoede besef en het die inisiatief geneem om die hele Bybel in Duits te vertaal. En van toe af kon gewone kerkgangers ontdek wat die Bybel werklik sê. Op hierdie manier kon die Reformasie mense se harte bereik en kon die kerke weer die Woord van die Here elke week oopmaak. En dat julle, jongmense almal 'n eie Bybel het wat julle kan lees, dit is vrug van die Reformasie.

Nog lank voor die groot Reformasie, in die vierde eeu na Christus, dus 1100 jaar voor Luther, het ‘n vrome moeder gelewe wat elke dag tot die Here gebid het dat haar rebelse seun die Here sou begin liefhê. Die moeder se naam was Monica en haar seun was Augustinus. Augustinus het ‘n uitnemende verstand gehad, maar hy was nie lus om te leer nie. Hy het ook nie in kategese belang gestel nie. Hy het liewer allerhande kattekwaad uitgehaal. Maar dit is nie waar dit stop nie. Hy het naderhand ook begin steel en verniel. Alles vir die plesier en die opwinding daarvan. Hy het selfs as 'n jong volwassene daarmee voortgegaan. Hy het ‘n wilde en onverantwoordelike lewe gevoer. Hy het byvoorbeeld ‘n jong meisie swanger gemaak. Hy het nie met die meisie getrou nie, maar eerlikheidshalwe moet ons byvoeg dat hy haar en hul seun wel onderhou het. Tog was Augustinus nie getrou aan hierdie meisie nie. Hy het steeds na ander meisies en vroue gekyk, en selfs meer as dit.

Maar Augustinus het ook 'n ernstige kant gehad. Hy het byvoorbeeld diep nagedink oor God en die slegte dinge in die wêreld. Maar in die proses beland hy op die verkeerde spoor. Hy het heeltemal verkeerd begin dink oor die Here God en oor die Bybel. Ek dink dit is grootliks veroorsaak deur sy verwerping van die Bybel as 'n baie spesiale boek. Die Bybel self verklaar dat God die uiteindelike outeur daarvan is. En daarom het die Bybel seggenskap oor jou lewe. Augustinus wou dit nie aanvaar nie. Hy wou beslis nie hê dat iets of iemand aan hom voorskryf hoe om te dink of te handel nie. Hy het gedink dis iets wat hy self kan doen. Ons herken hierin Augustinus as 'n ware volgeling van Adam en Eva. Hy het gedink hy kan self bepaal wat goed en reg is.

Augustinus het baie ver van die weg van die Here God afgedwaal. Maar gelukkig het dit nie so gebly nie. Toe hy eendag uit nuuskierigheid na Ambrosius, die predikant van Milaan, luister, is hy baie beïndruk deur sy preke. En baie stadig het die Heilige Gees deur die preke van Ambrosius in die hart van Augustinus begin werk. Augustinus het al hoe meer begin nadink oor die vele verkeerde dinge wat hy gedoen het. Hy was al hoe minder gemaklik daarmee.

Op 'n dag het hy in die tuin gesit, moontlik by die huis van sy ma, Monica. Kinders het in die tuin langsaan 'n spelletjie gespeel. Watter speletjie dit was, weet ons nie maar skielik het een van die kinders uitgeroep: Tolle lege. Dit beteken: Neem en lees. Miskien het hulle iets met 'n stuk kryt op ‘n potskerf geskryf en dit onderstebo neergelê. In elk geval: Augustinus het die kind se stem gehoor en dit het vir hom gevoel asof die Here self met hom spreek: Neem en lees! Hy het die huis binnegegaan en die Bybel geneem. Dit val oop by Romeine 13: 13 en 14. En daar lees Augustinus 'n kristalhelder lewensbeskrywing van sy eie lewe tot op daardie stadium. 'n Lewe van baie drank en plesier; 'n lewe waarin die eie ek sentraal staan. ‘n Lewe waarin die Here geen enkele rol speel nie.

Maar die waarskuwing wat gevolg het, was ook baie duidelik: Jy moet jou van jou sondige lewe bekeer en 'n nuwe lewe naby die Here Jesus begin leef. Hierdie woorde tref Augustinus soos ‘n hamerslag. Dit was die Here God self wat hom opgeroep het tot bekering. Augustinus het na hierdie woorde van die Bybel geluister en hom aan die Here oorgegee. Sy vroom moeder, Monica se vele gebede is op hierdie manier verhoor. Augustinus het verander na 'n man wat tot vandag toe van groot betekenis is vir die kerk van die Here Jesus.

Tolle Lege. Neem en lees. Watter geweldige verstrekkende betekenis het hierdie woorde uit die mond van 'n kind nie gehad nie! Deur daarna te luister het 'n baie groot vyand van die Here God skielik 'n heel ander, 'n nuwe mens geword. 'n Man wat deur sy preke en geskrifte baie mense na ons Verlosser heen sou lei.

Miskien is julle, miskien is jy 'n bietjie jaloers op Augustinus omdat die Here God so duidelik tot hom gespreek het. Waarom spreek die Here nie meer so tot ons nie? Dan sou ons volle sekerheid kan ontvang dat Hy wel bestaan, en dan sou ons ook weet waar ons staan.

Maar weet jy, die Here het al baie duideliker en  meer direk tot mense gespreek as met Augustinus. Dink byvoorbeeld aan Abraham. Die Here het self direk na Abraham gekom. Soms gebruik die Here 'n droom of 'n visioen om te spreek. Of Hy spreek deur middel van 'n profeet. Dis hoe dit was in die Ou Testamentiese tyd.

Ons teks vermeld ‘n “...woord deur engele gespreek”. Ons lees dat God blykbaar vroeër ook deur engele gespreek het. Ja, sal ons waarskynlik sê, ons weet dat die Here soms 'n engel aarde toe stuur om 'n Goddelike boodskap te bring. Ons dink dan aan die engel Gabriël wat met Maria gespreek het. Maar ons teks het 'n heel ander gebeure in gedagte. Naamlik die gee van die wet op die berg Horeb in die Sinaï-woestyn. Moontlik klink dit vreemd, ons lees naamlik niks daarvan in die boek Exodus nie. Daar is geen vermelding van engele wat die wet aan die volk oorgedra het nie. In die bekende prent uit die Kinderbybel word Moses met die twee plat klippe in sy hand uitgebeeld waarop die wet geskryf is. Maar in die Nuwe Testament word op meer as een plek iets meer gesê oor die gebeure. Stefanus wat later gestenig is, spreek die Jode toe en sê (Hand 7v53): “...julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het ...” Engele het dus klaarblyklik 'n rol gespeel in die gee van die wet.

Ons weet nie presies hoe dit plaasgevind het nie. Engele kon sekerlik 'n rol gespeel het in die angswekkende natuurverskynsels op en rondom die berg Horeb ten tye van die wetgewing. Uit dit alles kan ons aflei dat die engele aan die volk duidelik gemaak het dat die wet nie handel oor ‘n paar reëls, wat Moses moes opstel nie. Nie 'n tipe skool reglement nie, maar goddelike reëls bedoel vir die hele volk. Want die Here self  het daardie tien belangrike reëls opgestel. En Hy het dit twee keer met sy eie vinger op daardie kliptafels gegraveer. En die Here gee blykbaar daardie gebooie aan die volk nie net deur Moses nie, maar ook deur engele. Die Here sê: Ek sluit 'n verbond met julle en hierdie reëls is in dié verbond van toepassing. 'n Verbond bestaande uit beloftes en eise. En as julle moeite ondervind om te glo wat Ek julle belowe het, dink daaraan dat ek my wet deur tussenkoms van hemelse boodskappers na julle toe gebring het. Ek is magtig genoeg om My beloftes na te kom. En daarom is die wet die boek wat ons heenwys na die ware lewe. Ja, die wet leer ons, so bely ons, om Christus te ken. 'n Wonderlike en magtige geskenk uit die hande van die heilige en groot God! Heeltemal onverdiend!

Juis daarom is die strawwe teen oortreding van hierdie gebooie ook so swaar. Dit is wat ons in ons teks lees. God laat nie met Hom spot nie. Omdat Hy jou die ware lewe wil gee, moet jy nie daaraan dink om dit ongehoorsaam en astrant af te wys nie. Let op wat gebeur het met die hele geslag van Israeliete wat getwyfel het aan die krag van God om aan hulle die beloofde land te gee. Nie een van hulle mog die beloofde land binnekom nie. Hulle het almal in die woestyn gesterwe. Dit is 'n baie ernstige straf. Ja, maar dit was die straf as gevolg van die nie-luister na die woord van die lewe, wat deur niks minder as die engele aan die volk Israel aangereik is nie.

En dan sê ons teks: “Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons dan vandag ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here Self verkondig is en aan ons bevestig is deur getuie, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en kragtige werkinge deur die Heilige Gees?” As boodskapper van God staan die eie Seun van God tog baie hoër as die engele? Ons teks sê dit op 'n meer subtiele manier: In die NT handel dit oor 'n veel groter verlossing as die verlossing uit Egipte. Met die woorde wat die Here Jesus gespreek het, het 'n veel groter verlossing begin. Die oomblik toe Hy begin spreek het, het die verlossing begin sigbaar word. En Hy het nie slegs die boodskap van die lewe verkondig nie. Hy het self ook die verlossing van ons lewens verdien en begin realiseer.

En die Here God beskou dit as 'n direkte persoonlike belediging as ons daardie dinge ignoreer wat sy Seun hier op aarde gedoen het. Daarmee beledig ons die Vader in Sy diepste gevoelens vir mense. Daarom is dit vir mense uiters gevaarlik om nie die Here voluit ernstig op te neem in ons lewens-gedrag nie. Ja, natuurlik, op baie punte doen ons dit wél. Maar tog is daar dikwels 'n paar punte waarin ons ons nie laat voorsê nie. Ons meen daar is dele van ons lewe waaroor die Here geen seggenskap het nie. Ons beskou dit as ons privaat lewe. Maar dit is regtig ook gevaarlik, broers en susters, seuns en dogters. Dink net 'n oomblik aan die streng strawwe van die Ou Testament. Dan besef ons hoe vertoornd die Here kan wees, as ons Hom met opset aan die kant skuif.

Is dit nie skrikwekkend nie? Ja, natuurlik is dit! Die Here het dit in ons eie belang in hierdie brief neergeskryf! Dit is nie bedoel as 'n dreigement nie, maar as 'n waarskuwing. Dit is 'n waarskuwing om nie van koers af te raak nie. Ons teks gebruik die woord “wegdrywe”. Dit beteken dieselfde as om van koers af te raak.

Daardie woord “wegdrywe”, skep by my ‘n sekere beeld. Watter beeld, seuns en dogters? Ek sien 'n seun wat in Kanada woon. Die seun het vir sy verjaarsdag 'n pragtige kano van sy ouers present gekry. Hy mag van sy ouers in die bergmeer rondvaar. Sy ouers waarsku hom: “Bly naby die kant, want daar vloei 'n sterk stroom in die middel van die meer. Die sterk stroom vloei na ‘n waterval. As mens in die stroom beland, dan is jy reddeloos verlore.”

Ja, die seun ken die gevaar. Hy is ook nie dom nie! Maar terwyl hy speel en verder roei, kom die seun ongemerk naby die waterval. As sy ouers dit bemerk, begin hulle hom terugroep: Kom terug, kom terug! En as hy betyds daaraan gehoor sou gee, en sou terugdraai, dan was dit steeds veilig. Maar hy luister nie na sy ouers nie. Of beter gesê: hy wil nie na sy ouers luister nie. En alles gaan steeds goed. Maar toe hy uiteindelik agterkom dat hy reeds te ver afgedryf het, is dit te laat. Die stroom dra sy kano steeds vinniger na die waterval toe. Hy het geen beheer meer daaroor nie. En voor die oë van sy ouers stort hy oor die rand van die waterval.

Ja, en dan besef jy: om nie na die woorde van jou ouers te luister nie, ook nie na die Woord van jou hemelse Vader nie, is uiters gevaarlik. Nee, daardie seun het nie willens en wetens na daardie waterval gevaar nie. Dit was beslis nie sy bedoeling om so ver te gaan nie. Maar dit het wel gebeur. Hy het ongemerk weggedrywe. Hoekom? Omdat hy nie geluister het nie. Hy het die woorde en die waarskuwings van sy pa en ma nie ernstig opgeneem nie.

God het deur Sy eie Seun met ons gespreek. Dit sê ons teks. Die Seun van God, die Here Jesus praat met ons en roep ons. Maar hoe moet ek my dit voorstel? Ek het nog nooit self die Here Jesus ontmoet nie. Hoe weet ons wat Hy vir ons wil sê?

Die skrywer en lesers van die Hebreër brief het ook nie die Here Jesus persoonlik geken nie. Tog word in die brief nie sonder doel oor die Here Jesus geskryf nie. Maar hoe kan mens soveel skryf oor iemand wat jy nie eers persoonlik ken nie? Dit is wel moontlik as jy goeie bronne het, as jy beskik oor goed ingeligte getuies wat die Here Jesus goed geken het. En dit is ook hier die geval. Die Here Jesus het self daarvoor gesorg. Hy het sy dissipels opdrag gegee om al Sy woorde en werke deur te vertel. Nee, hulle was allermins 'n tipe menslike bandopnemer wat dieselfde verhaal oor en oor kon vertel sonder om self ook intens daarby betrokke te wees. Hulle was getuies. Kundige en ingeligte getuies. Twaalf oor- en ooggetuies.

En daar was baie ander getuies. Selfs mense wat in die begin vyande van die Here Jesus was. Dink maar aan Paulus. En daarom kan niemand beweer dat die getuies 'n tipe sekte of goedgesinde vriende van Jesus was nie. Die boodskap van verlossing is vir die Here belangrik genoeg om dit nie slegs aan die willekeur van die vorming van volksverhale of legendes oor te laat nie. Die Here Jesus sorg vir uiters betroubare getuies. Hulle kon met reg sê: "Ons het dit met ons eie oë gesien" Of: "Die Here het in eie persoon aan my verskyn. En as jy dit nie wil glo nie, vra dan die ander getuies. En jy sal bemerk dat hierdie getuies dit bevestig".

Ja, daardie getuienis was sterk genoeg om dit in die hele wêreld te versprei. Tot verby Rome. Hul getuienis is aanvanklik versprei sover as wat die mense se bene hul gedra het. En net so lank totdat die mense van ouderdom gesterf het. Of totdat hulle lewens deur die marteldood beëindig is. Maar daarna? Natuurlik, hul verhaal sou nie onmiddellik uitgesterf het nie. Maar hoe lank daarna sou daar nog getuienis wees, ek noem net, van die vergewing van sondes deur die kruis alleen? En vir hoe lank sou die evangelie nog suiwer bewaar word?

Per slot van rekening: sodra die verhaal nie meer deur getuies bevestig kon word nie, kan ons aanvaar dat die Satan in beweging kom. Verskuif slegs die aksente 'n bietjie, en daar kom skielik 'n heel ander Jesus na vore. 'n Jesus wat nie veel meer as 'n martelaar is nie. Of 'n Jesus wat Sy hele lewe saam met die armes gely het. 'n Jesus wat vermoor is omdat hy 'n verre voorloper was van Amnesty International.

En na drie eeue sou Jesus van Nasaret waarskynlik sy plek ingeneem het in die galery van bekende vryheidsvegters. ‘n Figuur soos Judas die Makkabeër. 'n Volksheld wat uiteindelik gesterf het vir sy eie ideale. En wat sou ons nog van die blye evangelie kon gehoor het van ons vaders en moeders? Waarskynlik niks nie. Die naam Jesus Christus sou vir ons heeltemal onbekend wees.

Maar dit was nie God se bedoeling nie. Sy boodskap van verlossing was immers bedoel vir die hele wêreld en vir alle, ook toekomstige geslagte. Almal moes dit kon hoor. Dis hoekom die Here die getuienis van die dissipels laat boekstaaf het. In geskrewe vorm, deur 'n boek of per brief. Met die dood van die getuies het hul getuienis nie doodgeloop nie.

Ons het as gevolg daarvan nie minder as vier afsonderlike getuienisse oor die lewe en dood van die Here Jesus nie. Ons hoef nie te twyfel oor wat werklik gebeur het nie. Die skrywer van die Hebreër brief spreek van 'n betroubare oorlewering. Maar hy skryf dit in 'n brief, wat op sy beurt ook weer vir ons bewaar is. En dit is besondere voorsorg. En vandag klink dit asof God in die Bybel steeds persoonlik met ons spreek. Ja, Hy spreek met ons deur sy Seun. Maar ons weet dit uit 'n baie betroubare getuienis. Die Here sê dit self. Dit is swart op wit in die Bybel opgeteken.

Die Bybel bevat nie 'n historiese boodskap van die Here wat slegs gerig was op mense van  die verre verlede nie. Sê maar ‘n boodskap slegs vir mense wat voor die tyd van Augustinus geleef het nie. Nee. As dit die geval was, dan sou ons deur dit te lees, eintlik 'n tipe onwelkome indringer wees. Asof ons ‘n gesprek afluister wat nie vir ons ore bedoel is nie. Maar dit is nie so nie. Nee, die wonder is dat die vasgelegde Woord van die Here, juis ook vir ons vandag bedoel is. Sodra jy die  Woord oopmaak, dan begin God met jou te praat.

En dan moet ons iets meer sê oor Augustinus se verhaal dat hy toevallig die Bybel by Romeine 13 geopen het. Die Here het toe, op die oomblik, op die wonderlike manier Augustinus tot orde geroep. Maar ons moet daaruit nie leer dat ook ons die Bybel lukraak moet oopmaak en daar moet begin lees nie. Nee, die Here vra van ons om sy hele Woord ernstig op te neem. Om dit van begin tot einde te lees en weer te lees. Dan ontdek ons deur daardie Woord wat Hy in en deur Sy Seun vir ons gedoen het. Die ou boek wat ons Bybel noem, handel ook oor ons verlossing van die dood.

Maar as jy jou ore half gesluit hou, of miskien heeltemal gesluit het, dan raak jy van koers af. Jy begin wegdrywe. Jy kry vreemde gedagtes. Jy sal die Woord van die Here aanpas by wat jy as waarheid beskou. Of jy pas dit aan by jou gevoelens. En dan beland jy onopgemerk naby daardie waterval. Jy word eenvoudig mee gevoer deur die sterk stroom. Wie nie noukeurig luister nie, verloor die lewe, wat die Here vir ons aanbied. Wie sy testament verwaarloos en dit uiteindelik as ou papier weggooi, verloor die hele erfenis. En die dag waarop die erfenis uitgedeel word, staan jy met leë hande.

Maar as jy wel hoor en daarna luister, dan sal jy presies ontvang wat die Here vir jou belowe het, toe Hy 'n verbond met jou gesluit het. Dit staan swart op wit geskrywe. Dit staan in die Woord van die Here. In die Bybel. In die Ou en in die Nuwe testament.

Ons ken die eenvoudige, maar goeie liedjie: Lees jou Bybel, bid elke dag (read your Bible, pray every day). Ons moet onthou, broers en susters, seuns en dogters: Die Gees van die Here werk slegs solank as wat die Woord van die Here geopen bly. As jy die Woord sluit, of nie meer daaraan gehoor gee nie, dan stop die volgehoue werking van die Gees. Wie sy Bybel toegesluit hou of dit nie ernstig opneem nie, dryf weg.

En dit is presies wat vandag gebeur. Die satan mobiliseer letterlik alles om ons heen in ‘n poging om ons weg te suig van die Here vandaan. Hy is die groot en gevaarlike waterval. Hy probeer om ons deur die gevaarlike stroom te laat meevoer. Sodat ons nooit ons bestemming veilig sal bereik nie. As jy jou Bybel toegesluit hou, sal jy nie eers weet wanneer jy in gevaarlike waters beland nie. Totdat dit te laat is. Daarom is ‘n oop Bybel so belangrik. Maar ook omdat die Here nie toelaat dat Hy bespot word nie. Omdat Hy eers sy eie Seun gestuur het en daarna Sy Gees kragtig laat werk het sodat daardie Woord en daardie Gees jou versteende hart weer lewend kan maak. Daarom moet ons nie so dom wees om die Here geleidelik uit ons lewens weg te stoot nie. Want as ons dit wel doen, dan sal ons ontvang wat ons self gesoek het: 'n Lewe sonder Hom. En dit is rampsalig! Dink aan die Here Jesus wat aan die kruis deur sy Vader verlaat is! Dit is die hel.

Tolle lege! Neem en lees. Dit is 'n oproep wat elke dag weerklink. Maar die Satan sal alles probeer om daardie oproep weg te filter deur die gedruis van die hedendaagse partytjie- en genot-kultuur. Wat 'n wonderwerk, broers en susters, dat daar nog iets is wat ons in ons hande kan neem. 'n Bybel waardeur die Here steeds tot ons spreek. 'n Boek wat die Reformasie aan ons teruggegee het. 31 Oktober 1517. Ons kan vandag met groot gemak die Woord van die Here ter hand neem. Maar laat ons dit ook lees. Laat ons die Woord oopmaak. Laat ons tyd daarvoor afstaan. Moet nie dat musiek en geraas dit oorweldig nie. Skuif jou eie gedagtes en persepsies aan die kant. En lees die Woord van die Here met volle konsentrasie. Luister aandagtig na die stem van ons God en leer om dit te verstaan. Want eers dan sal ons vind wat ons elkeen uiteindelik nastreef: ware ewige geluk. Dan vind ons in die Bybel ‘n beskrywing van ons ryk erfenis wat die Here ons en ons kinders belowe het. Tolle lege, neem daardie testament en lees dit, broers en susters. Omhels dit in geloof. Dan kan u seker wees dat wat in die testament staan, aan jou en my gegee sal word. Ons ontvang die ware lewe saam met ons Here Jesus Christus. Vir ewig. En daarom sing ons vol dankbaarheid (Ps 119v39):

HEER, u woord is my ’n fakkel
Wat sy ligglans voor my dra,
Voor my voet die duisternisse
Van my lewenspad verja.

Amen

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Psalm 106: 1,2

Wet

Psalm 112: 1,2

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 1

Psalm 110: 1-3

Teks: Hebreërs 2:1-4

Preek

Psalm 119: 39,51

Gebed

Kollekte

Psalm 46: 1,6

Seën