Bid sonder ophou

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-10-13
Teks: 
Lukas 18:1-8
Preek Inhoud: 

Tema: Bid sonder ophou

Gemeente van onse Here Jesus Christus, broers en susters, seuns en dogters:

Gestel jy sou in die middel van die oseaan van 'n groot skip af in die water val. Sou jy dit kan oorleef? As jy goed kan swem, sal jy moontlik nie onmiddellik verdrink nie. Maar as jy nie binne 'n kort tyd hulp ontvang nie, dan is jou kans op oorlewing baie klein. As ‘n lid van die bemanning sien dat jy oorboord val, dan kan hy ‘n lang tou na jou toe gooi. Dié tou is dan jou “lifeline”. Dit verteenwoordig die verbinding tussen jou en die lewe, oftewel die veilige skip.

Daar is teoloë wat die gebed daarmee vergelyk. Jou gebed is ‘n lewenslyn. Die gebed verbind jou met die Enigste Persoon wat jou kan red. Ander teoloë vergelyk die gebed met die menslike lewensasem. As jy ophou bid, dan is dit dieselfde as om op te hou asemhaal. En as jy nie asemhaal nie, dan sterf jy. Daarom is gebed dus baie belangrik!

Daar is ook baie mense wat wonder of bid eintlik wel sinvol is. Immers, as ‘n almagtige en alwetende God werklik bestaan, dan hoef jy Hom tog nie deur die gebed van jou handel en wandel op die hoogte te stel nie? Hy weet dit reeds. In die meeste gevalle kan jy ook nie agterkom of jou gebed werklik God bereik het nie. ‘n Duidelike antwoord ontbreek. En waarom sou jy iets doen wat nie werk nie?

Ek dink dat almal van ons met ons monde sou bely dat die gebed lewens-noodsaaklik is. Maar ook kan  baie van ons teleurgesteld wees oor die beantwoording van ons gebede. Dit is dus goed om weer saam te besin oor wat die Here Jesus oor gebed sê. Want as daar Een Persoon is wat weet hoe ons regtig met Sy Vader kontak kan onderhou, dan is dit die Here Jesus. In die afgelope Sondagse preek noem ds Erik van Alten Hom selfs die trapleer wat ons met die hemel verbind.

Die onderwys van die Here Jesus is altyd gefokus op ons daaglikse, praktiese lewe. Ons lewe hier en nou. Maar die Here Jesus woon op hierdie oomblik reeds as ons Koning in die hemel. Die vraag is dus hoe ons 'n verhouding met Hom kan onderhou, omdat ons meestal ervaar dat Hy baie ver weg is. Dit is die konteks van vandag se teksgedeelte. En daarin dui die Here Jesus self aan wat Hy in gedagte het. Soos ons in vers 1 kan lees, vertel Hy ' n gelykenis oor die noodsaaklikheid om altyd te bid en om daarin te volhard.

In die verhaal wat die Here Jesus vertel, sien ons hoe die term 'altyd bid' uitgebeeld word deur die weduwee. Sy het volgehou om die regter herhaaldelik te nader. En as die Here Jesus die bedoeling van die gelykenis verduidelik, dan verwys Hy na die antwoord wat God gee aan mense wat 'dag en nag' tot Hom roep. Hieruit blyk duidelik dat die Here Jesus ons wil leer dat ons inderdaad nooit in ons gebede moet moed verloor nie. Ons moet baie en voortdurend bid, sonder ophou, sê die Here Jesus.

Ja, juis daarin faal ons sogenaamde goeie gedrag. Want dit is presies dit waarin ons nie so goed presteer nie. Beslis nie, juis in oomblikke dat ons voel dat alles in ons lewe taamlik bevredigend verloop.

Ek dink dat ons die Here Jesus verkeerd verstaan as ons meen dat Hy lang gebede van ons verlang. Dit is vir Hom baie belangriker dat ons, soos Hy sê, nie moedeloos word nie. Om moedeloos te word in ons gebed beteken dat ons dink dat bid in elk geval niks help nie. Maar as ons dit dink, dan onderskat ons die waarde en belangrikheid van die gebed. Die gevolg daarvan is dat ons al hoe meer die gebed sal verwaarloos.

Maar ons moet onthou: Die Here Jesus het jou en my lewe in die spanningsveld geplaas van die kort tydjie wat aan Sy wederkoms voorafgaan. Na Sy hemelvaart is die Here Jesus self met niks anders meer besig as met die wederkoms nie. Juis daarom is in daardie periode die gebed baie belangrik. Ons kan let op die verskuiwing vanaf die Ou Testamentiese klem op openbare en amptelike gebede na die veel meer private gebede in die Nuwe Testament. Die baie belangrike funksie van die gebed word in die laaste tye nie net verrig deur dié wat kerklike ampte beklee nie, maar ook deur alle kinders van die Here. Veral in die laaste dae sê die Here Jesus, die eindtyd soos ons dit noem, is julle en my gebede uiters belangrik. Daar is klaarblyklik ‘n noue band tussen die koms van die Koninkryk en die gebed van die burgers van daardie koninkryk. Laat ek ter wille duidelikheid dit sê: Daar is geen wederkoms moontlik sonder gebed nie! Die Koninkryk kan nie sonder gebed realiseer nie.

En dit maak onmiddellik duidelik dat die verskoning dat ons te  besig is en daarom min tyd het, totaal ongeldig is. Ook die bewering dat ons nie goed kan weet wat ons moet sê in so ‘n gebed nie, is onwaar. Ja, natuurlik gebeur dit maklik as ons gewoond raak om slegs te bid vir dinge soos goeie gesondheid, om weer gesond te word, beskerming teen ongelukke, 'n goeie mate van skool of akademiese prestasie, 'n gunstige verloop van 'n beplande fees, vergewing van sondes ensovoorts. Ja, dan kan dit nie anders dat ons dan na so ‘n minuut of drie, weer in herhaling val nie.

Maar die Here Jesus praat oor die gebed in verband met die koms van sy Koninkryk. Dit beteken nie dat al die dinge wat ek nou net opgesom het geen deel mag uitmaak van ons gebed nie. Natuurlik mag ons ook dit vra. Maar al hierdie sake rondom ons aardse lewe moet wel inpas in ‘n veel breër raamwerk van die koms van die Koninkryk. Want ons gebede is nie spesifiek gerig op ons gesondheid of welsyn nie, maar op ons lewens. En dit is toepaslik of jy nou siek of gesond is, of oud of jonk is. Die gebed handel oor ons lewe as die verteenwoordigers van die Koning wat kom. Oor die taak wat die Here aan elkeen van ons persoonlik toevertrou op weg na Sy groot ontmoeting met ons. En ons kry nie 'n tipiese militêre 'inligtingsessie', soos soldate sê: Hou jou mond  en doen wat beveel word nie.

Nee, die Here wil hê dat ons ten volle betrokke moet wees op weg na daardie toekoms. En dit vereis goeie oorleg. Dit is presies wat ons waarneem in die gebed van die Here Jesus self. As ons Verlosser het hy 'n moeilike taak gehad. Maar Hy bid nie vir pynstillers of kalmerende middele nie. Nee, Hy bid vir insig in die taak wat sy Vader aan Hom opgedra het. Hy bid dat die Vader Hom deur sy Gees sal toerus om volkome gehoorsaam te wees aan die wil van Sy Vader.

As die Here Jesus dit duidelik stel dat Hy wil hê dat ons sonder ophou moet bid, is dit beslis nie 'n opdrag om slegs oor jou eie lewe goeie dinge van God af te smeek nie. Natuurlik nie! Dit is wel 'n opdrag om in en deur jou gebed saam te stry vir die koms van ons Koning.

Johannes, die vriend van die Here Jesus, sê selfs in die laaste Bybelboek dat ons saam met Christus moet regeer deur die gebed. En dit is presies wat die Here Jesus bedoel. En dit beteken dat nie net ons hele lewe nie, maar alles wat binne ons gesigsveld val, onderwerpe van die gebed word. Dit sluit in alle tendense en ontwikkelings van die breë lewe rondom ons waarmee ons te make kry. Omdat al hierdie dinge plaasvind binne God se groot stryd om die koninkryk van sy Seun te laat deurbreek. Hy het jou en my hier op die aarde geplaas sodat ons met ons gebede ons kragte kan saamsnoer.

Die Here wil nie hê dat ons as toeskouers moet wag totdat Hy klaar is met Sy groot werk nie. Nee, Hy betrek ons ten volle. Byvoorbeeld, om die slegte gevolge veroorsaak deur sy groot teenstander weg te bid. Om die krag van sy Gees af te smeek. Om biddend betrokke te wees in die stryd wat voorafgaan aan die koms van ons Koning. Gerig op daardie oomblik waar ook ons as Sy kinders geopenbaar sal word. Ons het gelees dat Paulus sê dat selfs die skepping met groot verlange uitsien na daardie oomblik. En dat ons die Gees van die Here as die belangrikste gawe ontvang en dat hierdie Gees ons help waar ons nie meer weet waarvoor om te bid nie.

Maar ons besef ook dat die Heilige Gees nie slegs werk op oomblikke dat ek bid nie. Die Heilige Gees se werk word nie bepaal deur my werkskema en die oomblikke dat ek tyd het om te bid nie. Want die gebed is veel meer as hande vou en oë sluit. Ons gebed is om voortdurend ‘n oop lyn na God toe te onderhou. Dag en nag. Dit beteken 'n permanente verbinding. ‘n Volgehoue oorleg met ons God in die hemel. Ook 'n staande opdrag om jou te laat stuur deur Sy Gees, wat jou verbind met die Here Jesus. Dit is immers Sy Gees wat in ons wil woon. En diegene wat sonder onderbreking met die Here oorleg pleeg oor letterlik alles waarmee hulle te make het, sal begin opmerk dat hul lewe al hoe sterker verbind word met die Here Jesus. Hy wil nie slegs ons Koning wees nie, maar wil ook dat ons lewe al hoe meer aan Homself verbind word.

En nou kom ons by die verhaal wat die Here Jesus vertel. Oor daardie weduwee. In bykans alle kulture waar die Bybel slegs ‘n geringe of geen rol speel nie, het weduwees en weeskinders dit moeilik. Ek het dit met my eie oë in Papua, Indonesië gesien. Ek dink dieselfde tipe omstandighede was aanwesig onder die Israeliete. 'n Weduwee was 'n vrou vir wie haar eie familie reeds in die verlede 'n bruidskat ontvang het. Dit beteken dus dat as haar man te sterwe sou kom, sy nie geredelik na haar eie familie kon terugkeer nie. Haar skoonfamilie het vantevore reeds baie vir haar betaal. Sy was dus reeds 'verkoop'. Weduwees was nie meer geskik as 'n moontlike huweliksmaat nie. Haar waarde het skerp gedaal. En die familie van haar oorlede man meen dat solank sy nog kon werk, kon sy nog iets vir hulle beteken. Maar hoe ouer sy word, hoe meer word sy 'n las. En niemand wil graag ‘n las op hom neem nie. Weduwees was eenvoudig nie gewild nie. En omdat daar niemand was wat vir weduwees opgekom het nie, was hulle uiters kwesbaar. Ook in die Bybel vind ons baie gebeure wat duidelik maak hoe sleg weduwees behandel is. Hulle is geëksploiteer. Hulle is na eie goeddunke gebruik. En protes was vrugteloos, omdat niemand na 'n weduwee geluister het nie.

In die verhaal wat die Here Jesus vertel, wil selfs ‘n regter nie na haar luister nie. U sou verwag dat 'n regter, iemand wat 'geregtigheid' moet handhaaf, ten minste sal luister. Maar hierdie regter wil niks met die weduwee te doen hê nie. Hy gee niks om vir die onreg wat haar aangedoen is nie. Hy dink slegs aan sy eiebelang. Daarom wil Hy ook niks van God weet nie. En wat mense sê of oordeel, raak hom nie. Hierdie man soek net die beste vir homself. Hy het reeds voldoende middele versamel, en dan dien hy steeds in 'n paar goed betaalde toesighoudende funksies. Hy geniet van die luukse en voorspoed wat hy op ‘n slim manier verkry het.

Wat dink jy? Sou hy iets kon verdien as hy haar saak sou opneem? Natuurlik nie. Want hulle het juis alles wat sy nog gehad het, van haar weggeneem. Die behandeling van hierdie saak sal hom geen voordeel oplewer nie. Los haar uit. Hy gaan nie vir haar intree nie.

Maar die weduwee van die verhaal is baie volhardend. Sy laat haar nie afskrik nie. Sy dring aan op haar reg. Sy kom elke dag terug. Dit gaan immers oor haar reg. Haar teenparty het growwe onreg gepleeg. Sy smeek nie vir werk of 'n stukkie brood nie. Sy vra nie dat hy haar mediese rekening vir haar betaal nie. Nee, sy vra niks anders as haar reg nie. Dit is waarop sy geregtig is.

Op 'n stadium dink die regter by homself: “Dit begin my te ontstel. Daardie vrou pla my nou al vir weke lang elke dag. Ek is veronderstel om haar te help op grond van die wet van God maar dit pla my nie. Ek gee nie om wat mense van my dink nie. As daardie vrou dood voor my neerval, dan sal dit my nie in die minste bekommer nie. Maar ek vind dit steurend dat sy aanhoudend bly kom. Sy begin my te pla.”. Hy dink by homself: “As ek nog ‘n keer die deur vir haar oopmaak dan sal sy my in die gesig slaan. En dalk krap sy my oë uit.”

Of daardie weduwee inderdaad so aggressief sou optree teenoor die regter, is nie van belang nie. Wat egter duidelik is, is dat die Here Jesus hierdie regter uitbeeld as 'n man wat slegs uit eiebelang optree. Ek dink ook nie dat die regter werklik bang was vir daardie weduwee nie. Maar sy het dit vir hom moeilik gemaak. En hy het nie kans gesien om dit te laat ophou nie. Hy besluit: “Ek sal aan haar reg verskaf, dan sal ek van haar gekerm ontslae wees.'

Almal kan aanvoel dat die motief van die regter totaal verkeerd is. En dit is ook sonder meer duidelik dat die Here Jesus nie bedoel om te sê: "as jy maar lank genoeg aanhou neul en kla by my hemelse Vader, dan kry jy uiteindelik wel jou sin nie." Ek dink dat die Here Jesus die verhaal juis daarom so sterk inkleur om misverstande te voorkom. Dit is verder heeltemal duidelik dat ons nie hierdie verhaal op alle detail punte op God die Vader kan toepas nie. Maar die belangrike punt is dit: As 'n baie slegte en onmenslike regter uiteindelik by die punt kom waar hy aan 'n weerlose weduwee reg verskaf, hoeveel te meer geld dit dan nie vir die hemelse Regter nie? Hy het immers nie te make met vreemdes nie, maar met Sy eie kinders! Kinders wat deurlopend bid, kinders wat dag en nag Hom aanroep. Die Vader sal hulle regtig nie vergeefs laat wag nie, sê die Here Jesus.

Ons moet daarop let, broeders en susters, dat die versoek van hierdie weduwee oor niks anders gaan as om haar "reg" te behaal nie. Sy kom nie maar met ‘n versoek wat moontlik afgewys kan word nie. Nee, sy kom op vir haar reg. Omdat groot onreg aan haar aangedoen is.

Ons weet dat die Here in al die wette wat Hy gegee het, spesifieke regte toeken aan weduwees. Juis omdat hulle so 'n kwesbare posisie beklee het. Na al die hartseer van die verlies moes hulle ook die hele versorging van die gesin op hulle neem. Met verskillende wette wou die Here bereik dat weduwees en weeskinders nie op sosiale en materiële vlak sou benadeel word nie. Elke Israeliet was verplig om weduwees en weeskinders te help versorg. En die weduwee in die gelykenis het dus in werklikheid slegs reg gesoek aan die hand van die wet van die Here. Sy het opgekom nie slegs vir geregtigheid wat haarself betref nie, maar vir die geregtigheid wat die Here aan haar gegee het. En daardie element is baie belangrik vir die regte toepassing van hierdie gelykenis.

As die Here met sekerheid sê dat sy Vader ons nooit sal laat wag as ons baie getrou bid nie, dan praat Hy nie van allerhande dinge wat ons graag sou wou hê nie. Maar dan praat Hy van die reg wat die Vader ons gee. En dan gryp ek terug na die brief aan die Romeine. Daar lees ons iets oor ons reg: Ons het die reg verkry om kinders van God te wees. In die hele periode tot aan die wederkoms, mag ons soos kinders van God leef. Maar, dit is duidelik dat dit vir ons as seuns nie beter sal wees as vir die groot Seun van God tydens Sy lewe op aarde nie. En daarom is dit sinloos om voorspoed en rykdom te vra. Dit is dinge wat wel met ons kan gebeur, maar die doel van ons bid en smeekbedes is om God se doel met ons te bereik. Daardie doel is dat ons as seuns van God geopenbaar sal word. Op dieselfde dag dat die groot Seun Homself ook in al sy glorie as Koning sal openbaar. Ons bid en smeekbedes handel dus oor ons lewe, ja, ook om ons gesondheid en ons welstand, maar dan in die konteks van die koms van God se Koninkryk.

En die voortdurende oorleg met God handel daaroor hoe ons reeds vandag as seuns van hierdie groot en magtige God, ons opdragte kan uitvoer. En die Here leer ons dat die voortdurende oorleg, nie 'n eensydige oorleg is nie. Want God se eie Gees verbind ons juis in die gebed aan Hom. En as ons spreek tot God dan is dit nie so dat ons nooit 'n antwoord kry nie. Ons kry juis wel ‘n antwoord. Dit begin reeds met ons versoek om vergifnis. Dit is iets wat die Here aan ons belowe het. Ons sal ook daardie vergifnis ontvang. Geen twyfel daaroor nie. En vanuit die vergifnis kan ons al hoe meer soos nuwe mense begin lewe. Net soos regte seuns, kan ons ons lewens nie net rig op ons lewe hier op aarde nie, maar kan ons ons rig op die koms van Christus. En alles wat ons in hierdie konteks aanhoudend vra, daar sal God ons nie op ‘n antwoord laat wag nie. Want Hy wil niks liewer hê as mense wat hul rig op Sy Seun tot op die oomblik dat Hy alles in almal sal wees.

Die heel laaste vraag in ons teks is daarom geen gewone vraag nie. As die Seun van die mens terugkom, sal Hy dan wel geloof op aarde vind? Geen van die dissipels sou hierdie vraag ooit kon beantwoord nie. Slegs Een Persoon ken die antwoord en dit is die Here self. Daarom is die doel van hierdie vraag nie om 'n antwoord van ons te kry nie. Nee, hierdie vraag is bedoel as 'n tipe vermaning. Soos ‘n dik onderstreping van Sy woorde oor die gebed. Want die Here spreek met ons oor die gebed. Hy sê dat Sy Vader ons nooit alleen sal laat nie. Maar is ons ook bereid om dit te glo? Om dit tot die einde toe te glo! Selfs wanneer dinge in ons lewens gebeur waarvan ons glad nie hou nie. Dinge wat ons soms glad nie kan plaas nie. Dinge wat aanleiding gee tot lewensgroot vrae: Hoe kan die Here dit ooit toelaat in ons lewe? Hoe is dit moontlik, ons het dan so intens gebid of die Here ons kinders wil bewaar en nou gebeur dit?

Wat die Here Jesus vir ons wil sê, is dit: Vertrou steeds op jou Vader. Hy sal jou nie laat wag nie. Hy neem jou vrae regtig ernstig op. Hy sal aan jou reg verskaf. Selfs as jy deur onreg getref word, sal die Here jou nie langer  laat wag as wat nodig is nie. En dan hoef ons nie slegs aan letterlike onreg te dink nie. Byvoorbeeld as iemand jou teenwerk. Of jou naam swart smeer. Nee, dit gaan oor alles wat ons as gevolg van sonde kan tref. Alles wat eintlik nie in die lewens van kinders van die lewende God moet gebeur nie. Kinders van die Koninkryk. En dit is dus baie wyer as die slegte dinge wat ons gereeld aan die Here voorlê. Dit gaan oor alle aanvalle, groot en klein, wat op ons en ons kinders gedoen word terwyl ons op die koms van die Here Jesus fokus. Dit kan ook 'n boek of 'n TV-program wees wat ons probeer mislei. Dit kan 'n gesprek by die werk wees, waarin oneerbiedig oor die Here gepraat word en wat jou snags laat wakker skrik. Dit is miskien 'n opmerking van iemand wat jou seermaak, want dit wys dat hy geen respek het vir wat die Here vir ons gedoen het nie. Dit kan selfs ‘n vriend of vriendin wees wat probeer om jou dinge te laat doen wat die Here duidelik verbied het.

Maar ons is moontlik al so gepantser teen die tipe aanvalle, broers en susters, dat ons net die persoonlike gerigte aanvalle raaksien. Aanvalle waar jou eie persoon betrokke is. Maar die duiwel sal regtig alles probeer doen om ons af te lei van ons fokus op die weg na die wederkoms. En die Here Jesus waarsku ons dat as ons nie ‘n deurlopende en aanhoudende gebeds kontak met Hom en sy Vader onderhou nie - omdat ons nie regtig glo dat dit sal werk nie - waarsku die Here Jesus ons dat daardie weg nie sal lei tot die openbaring van ons as kinders van God nie. As ons in ons omgang met die Here, of eintlik in ons nie-omgang met die Here wys dat ons nie meer glo dat die Here met ons ‘n weg wil gaan deur antwoord te gee op ons gebed, dan het ons ons erfenis verspeel. Dan verloor ons alles. Laat ek dit baie konkreet stel deur dieselfde vraag te stel as wat die Here vra: Glo ons nog steeds daarin, broers en susters? Glo ons dat die Here deur ons gebed in voortdurende kontak met ons wil wees en dat ons hierin op pad is na die groot dag? Glo ons steeds dat die Here ons ook Sondag in 'n baie gewone kerkdiens wil ontmoet om ons bande met ons te versterk?

Maar as ons dit dan wel glo, hoe staan dit dan met ons gebed? Wat sê dit ons? En nou draai ek dit om. Die Here Jesus sê: jy kan 100% staat maak dat my Vader jou sal reg verskaf. Hy sal jou werklik gee waarop jy deur My reg gekry het. En nou kan al die slegte dinge maar oor jou kom. Jy hoef jou nie daaroor te verbly nie. Maar jy moet besef dat daardie dinge nooit My Vader sal laat afsien van dit wat Hy aan jou beloof het nie. Naamlik die reg wat Hy aan jou gegee het, moontlik gemaak deur My offer, om Sy seun of dogter te wees.

'n Seun praat met sy Vader. Nie slegs 'n paar minute of enkele kere per dag nie. 'n Seun wat op pad is na die groot toekoms, praat gedurig met sy Vader. Nie in sommige gebede nie, maar in 'n biddende lewe. Dit is 'n lewe wat na bo toe oop is. Met ‘n onafgebroke verbinding. En as jy so seun is, en so ‘n dogter, dan kom daar eens 'n dag dat dit ook vir die hele wêreld sigbaar sal wees dat jy kind van God is en dat jy mag deel in die luister van ons Here Jesus Christus. En as jy dit glo, op Sy woord, dan doen ons Vader dit regtig. Onthou net jou doop dan weet jy dat by die Here geld: beloof is beloof.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Ps 135:1

Wet

Ps 135:2,3

Gebed

Doop:
- Doopformulier
- SB 15:1
- Ps 128:3
- SB 15:2,6,7
- Gebed

Skriflesing: Romeine 8:18-30

Ps 113:1-3

Teks: Lukas 18:1-8

Preek

SB 20:5-8

Gebed

Kollekte

Ps 145:10-12

Seën