Die HERE beoog altyd die welsyn van Sy volk

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-09-15
Teks: 
Maleagi 3:6-12
Preek Inhoud: 

Kerk van ons Here Jesus Christus, broers en susters, seuns en dogters,

In Suid-Afrika heers daar baie armoede. En dit geld nie slegs vir die swart bevolking nie. Daar is armoede onder alle lae van die bevolking. Dit is ook nie altyd van buite af sigbaar nie. Daar is ook "stille armoede". Moontlik woon mense in 'n groot huis. Van buite af lyk dit alles baie goed. Maar daar is min geld vir die nodige herstelwerk. En die bydrae vir die mediese fonds is bykans onbekostigbaar.

Wat vir buitestaanders moontlik opvallend is, is dat daar elke Sondag 'n kollekte vir die diakonie is. Dit beteken dat daar mense is binne ons eie gemeente wat diakonale hulp nie kan ontbeer nie.

Die gedeelte van ons inkomste wat ons aan die kerk afstaan, is nie 'n tipe belasting wat die kerk van ons hef nie. Dit is ook nie van ons kant ‘n vaste bydrae vir lidmaatskap nie. Dit is ‘n suiwer vrywillige bydrae. Dit is waar dat hulle wat maar skraps bydra tot die kerklike fondse, soms daarop aangespreek word. Maar niemand se kerk lidmaatskap sal op grond daarvan beëindig word nie. Miskien is dit daarom soms moeilik om die juiste bydrae vir die kerk te vind. Natuurlik wil u graag baie gee. Maar soms is daar baie ander noodsaaklike lopende kostes, die koste van ‘n motor of herstelwerk aan die huis.

Vanoggend wil ek enkele boustene aanreik vanuit die Woord van die Here. Boustene wat ons kan help om die regte prioriteite te bepaal. Sodat ons ons besluite op 'n verantwoordelike manier kan neem.

Die Woord van die Here praat op sommige plekke baie duidelik oor allerlei konkrete situasies. Soos byvoorbeeld in die tyd van Maleagi. Nie dat daardie situasie heeltemal vergelykbaar is met ons tyd nie. Dit is ook nie nodig nie. Maar as ons ons verdiep in daardie historiese situasie, dan leer ons hoe die Here oordeel. Ons kan vandag baie daaruit leer. Die Here gaan as’t ware langs ons staan en help ons om op die regte manier ons bydrae aan Sy diens en ons eie lewe in Sy diens te beoordeel.

DIE HERE BEOOG ALTYD DIE WELSYN VAN SY VOLK. Daarom:
1. herinner Hy die volk aan hul sonde;
2. vra Hy vir ‘n opregte bekering; en
3. belowe Hy ‘n ryk seën.

Broers en susters, seuns en dogters, Die profeet Maleagi het opgetree gedurende die tyd na die terugkeer van die volk Israel uit ballingskap. Dit is moontlik dat hy tydgenoot was van die profeet Nehemia. Dit is in elk geval duidelik dat die tempel reeds herbou was en dat die offerdiens ongestoord kon voortgaan.

Die herbou van die tempel was 'n moeisame proses. Die Samaritane het teëstand gebied, maar ook die teruggekeerde volk was nie altyd ewe getrou nie. Nehemia moes hulle ernstig berispe om hulle weer aan die werk te kry. Maar die tempel is uiteindelik tog voltooi. En daaruit blyk dat die Here met sy volk was. Gedurende die tyd van Nehemia het die volk hulle tot ‘n belofte onder voorwaarde van self-vervloeking verbind. Ons lees dit in Nehemia 10v29-33.

Hulle het gesê dat die vloek van die Here oor hulle mog kom as hulle hul nie sou hou aan hul beloftes nie. Hulle het belowe dat hulle nie hul dogters sou uithuwelik aan heidense manne nie. Hulle het ook belowe om nie toe te laat dat op die Sabbatdag handel gedryf word nie. En verder om hul verpligtinge ten opsigte van die tempeldiens stiptelik na te kom naamlik die gee van eerstelinge en tiendes, en om die heffings te betaal en offers te bring.

Dit was 'n wonderlike gebeure, dat die volk dit aan die Here belowe het. Net omdat hulle dankbaar was dat hulle terug was in Jerusalem. En dat die tempel weer herbou kon word. En dat hulle deur hul offerdiens in vrede kon leef met die God wat hulle verlos het.

Maar sedert die tyd van die belofte het intussen 'n hele aantal jare verloop. En as ons die geskrifte van Maleagi lees, dan merk ons dat van daardie pragtige beloftes van die volk nie so veel gerealiseer het nie. Want juis in daardie dinge wat hulle so ernstig belowe het, het hulle weer gesondig. Daar was weer sprake van gemengde huwelike. Die offerdiens in die tempel het nie op die regte manier plaasgevind nie. Die gawes aan de Here was nie in orde nie. Selfs siek diere is as offers aangebied. Die offerdiens is nie noukeurig nagekom nie. Selfs deur priesters en Leviete.

Daar was hongersnood in die land. Dit het vir lank periodes nie gereën nie. Die oeste het op die lande verdroog. En dit wat nog kon groei, aan die rand van die bykans opgedroogde stroompies, is kaal gevreet deur sprinkane. Mense leef as’t ware in 'n soort bedwelming. Want ondanks al die ellende en tekorte, is daar tog uitbundige feeste. Mense probeer om hul ellende te vergeet deur hulle te vergryp aan drank. En ja, die volgende dag is hul omstandighede nog slegter as tevore. Ja, en as hulle dan weer die werklikheid onder oë moet sien, dan kan hulle maar één oorsaak aanwys: Dis die Here. Want het die Here nie belowe dat dit met hulle goed sou gaan nie? Hulle het immers die tempel weer opgebou? Sodat die Here onder hulle kon woon. En daar is immers offers op die tempelplein gebring! Hulle doen wat hulle kan. Maar die Here het verander. Hy kom nie Sy beloftes na nie. Hy gee nie die voorspoed wat Hy beloof het nie. En die volk sê: “Ja, daarom  kan ons ook nie meer ons beloftes nakom nie".

Maar dan antwoord die Here. Hy sê: "Ek, die Here, het nie verander nie, en julle gedra julle steeds soos die nageslag van Jakob." Ek is nog steeds dieselfde. My beloftes is steeds geldig. Ek is immers die HERE. Met hoofletters. Dit is Yahweh, die God van die Verbond. Die God, wat julle eers bevry het uit Egipte en daarna uit Babel. En eers daarna het Ek van julle 'n antwoord gevra. En daardie antwoord ontbreek steeds. Ek het julle terug gebring na Jerusalem. Julle kon die tempel herbou omdat Ek julle die krag daarvoor gegee het. Ek het self daarvoor gesorg dat die diens van die versoening weer in die tempel kon plaasvind; sodat julle weer in vrede met My kon leef. Maar waar bly julle antwoord? Kyk rondom julle. Kyk maar na julle onheilige praktyke in die tempel. O ja, oppervlakkig  lyk dit nog op die offerdiens, soos wat Ek dit beveel het. Maar dit is anders. Julle is steeds kinders van Jakob, die bedrieër. Want julle bedrieg My met die offers wat aangebied word. Julle bedrieg My met die tiendes wat julle na die tempel toe bring. Asook met julle heffings vir die priesters. Julle mag bly wees dat julle nog nie deur My verteer is nie. Omdat julle dit ten volle verdien. Nie Ek het verander nie, maar julle het verander. Dit is die antwoord van die Here.

Die Here ken sy mense. Hy ken presies hulle vele verontskuldigings. En dat hulle as gevolg daarvan steeds die oorsaak van hul ellende aan God toeskryf. Daarom vra Hy hardop die vraag wat Hy by hulle bemerk: "Wat het ons dan verkeerd gedoen? Waarin het ons gesondig. Waarvan moet ons ons bekeer?" En dan vra die Here 'n vraag wat duidelik hulle sonde aanwys: “Dink julle dat julle God kan beroof?” En baie brutaal vra die mense: 'Wat bedoel U? Op watter wyse besteel ons U?"

Die Here antwoord: "Julle doen dit deurdat julle van die tiendes en die offergawes agter hou. Julle gee nie volgens die ooreenkoms nie. Volgens ons ooreenkoms wat toepaslik is binne ons gesamentlike verbond. Julle bring baie minder as die vereiste tiendes en die heffing vir die priesterdiens."

Maar hoe kan die Here meer van hulle verwag as dinge so sleg gaan? Natuurlik weet hulle dat siek en kreupel diere nie aangebied kan word as offerdiere nie. Maar hulle sê hulle kan nie anders nie. Dit is 'n tyd van ekonomiese krisis! Daar heers hongersnood in die land! Hulle benodig die gesonde diere vir hul eie onderhoud. Die kudde mag immers nie uitsterf nie. Want dit sou die einde van alles beteken. En bring hulle nie ook nog ander dinge na die tempel nie? Natuurlik nie soveel soos voorheen nie. Maar dit is as gevolg van die misoeste. Van wat nog oor is het jy ook nodig vir jou eie lewensonderhoud.  Watter voordeel lewer dit op as jy die beste aan die Here gee, maar self van ellende sterf? Uiteindelik is dit die skuld van die Here self dat die mense nie getrou kan wees nie, so redeneer hulle.

Maar Maleagi maak dit heeltemal duidelik, broeders en susters: As jy nie gee wat jy beloof het nie, dan beroof jy die Here. Dan is jy 'n dief. En u kan nie die misoes as verskoning aanvoer nie. Natuurlik weet die Here dat as jy nie veel het nie, dan kan jy ook nie veel gee nie. Maar jy moet nooit twee dinge vergeet nie. In die eerste plek: Wat is die rede waarom jy so min het? Is dit nie as gevolg van jou eie sonde nie? En tweedens: Jy kan altyd tiendes bly gee. Want dit bly tiendes, of jy nou baie of min het. Dit is die wysheid van so 'n reël. Maar die mense het die saak presies omgedraai. Hulle dink dat hulle self eers aan bod moet kom. En as daar dan nog iets oorbly, dan moet die Here daarmee genoeë neem. Maar as mens so redeneer, dan weet ons elkeen dat ook al het jy baie, dan sal daar nooit tiendes oorbly nie. Daarom moet die gawes aan die Here eerste kom. Want, kom ons stel dit so, die Here het die eerste stap geneem. En daarna kom ons beurt. Die Here het ons verlos. Hy het aan ons die lewe belowe. Daarom gaan ons nie eers ons deel opeis en daarna dank ons God nie. Jy maak ook nie so as jy 'n sak vol smarties by jou tante present kry nie. Dan eet jy nie eers alles op en eers daarna – met jou mond nog vol sjokolade - mompel jy “dankie tannie” nie.

Ten diepste handel dit hier oor die betekenis van God se beloftes, broeders en susters. Hoe gaan ons om met die beloftes van die Here? Indien ons glo in die beloftes van die Here, dan sê ons nie: Ek wil eers sien of die beloftes wel bewaarheid word nie. En eers as ek sien dat dit so is, dan dank ek God daarvoor. Want as ons dit doen, beroof ons die Here van dit wat Hom toekom. God vra onmiddellik ons geloof-antwoord op Sy beloftes. 'n Antwoord nie slegs met woorde nie, maar ook met ons beursie. 'n Antwoord wat ook in ons tyd besteding na vore kom. Ja, 'n geloofsantwoord in ons hele lewe. Die Here vra eintlik die tiendes van ons lewe; en in daardie tiendes vra Hy ons hele lewe. Omdat Hy daarop geregtig is. Hy het ons naamlik vir ‘n hoë prys gekoop. Die prys van die lewe van sy Enigste Seun. En daarom verwag Hy ons antwoord daarop in alles wat ons doen.

DIE HERE BEOOG ALTYD DIE WELSYN VAN SY VOLK. Daarom:
1. Herinner Hy die volk aan hul sonde;
2. vra Hy vir ‘n opregte bekering.

Broers en susters, seuns en dogters,

Daar was baie meer sondes van die volk Israel as slegs in die gee van tiendes en heffings. Tog beperk die Here Hom tot dié sonde om duidelik te maak waarom dit so sleg gaan in Jerusalem. Want in die sonde van diefstal van die volk was ‘n dieperliggende sonde aanwesig. Mens sou kon sê: daar was iets anders waaruit hierdie sondes voortgespruit het. En om dit te verstaan, moet ons 'n bietjie langer stilstaan by die doel van die gee van tiendes en tempel-heffings.

Die Here het deur middel van Moses 'n hele aantal reëls gegee vir die voortgang van die tempeldiens. Die volk was verantwoordelik vir die voortgang van die daaglikse offerdiens. Die diens in die tempel is waargeneem deur die priesters en die Leviete. Elkeen het sy eie taak gehad. Soos die Leviete was die priesters afkomstig uit die stam van Levi. Die Leviete het geen eie erfdeel in Israel besit nie. Hulle het geen landerye besit nie. Daarom sê die Bybel: Die Here is hulle erfdeel. Dit beteken dat die Here vir hulle sorg. Die Here het dit gedoen deur middel van ‘n “kopbelasting” wat vir elke eersgebore seun betaal moes word . Want in sy plek het ‘n Leviet diens gedoen by die Here in die tempel. Vir elke eersgebore seun wat gebore is, is 'n vaste bedrag aan die tempel afgestaan. Dit was bedoel vir die lewens-onderhoud van die Leviete. Maar die Here het sy diensknegte ook versorg deur middel van die offers. Die mooiste stukke vleis uit baie offers was vir die priesters en hul gesinne bestem. Verder was daar ook vaste heffings. Die volk moes ook sorg vir ander kos as vleis alleen. Die velle van die diere wat geoffer is, mog deur die priesters verkoop word. Ook moes die gewone Leviete 'n tiende van hul ontvangste afstaan aan die priesters. Op hierdie manier kon die priesters hul werk in die tempel verrig sonder om hul oor kos en klere te bekommer.

Die gewone Leviete, wat nie hul eie landerye besit het nie, was dus geregtig op die tiendes van die opbrengs van die landerye van die Israeliete. Maar ook op die tiende van die opbrengs van die vee en van al die ander landbou aktiwiteite. Ter wille van duidelikheid sal ek hierdie verhaal volledig vertel. Dit was nie so dat elke Israeliet presies 10% van sy landbou opbrengste aan die Leviete oorhandig het nie. Hulle moes hul 10% opbrengs na Jerusalem bring en daar moes hulle 'n feesmaal hou tesame met die Leviete, die armes en die slawe. Dit was baie en goeie kos vir almal. Sonder onderskeid. Natuurlik kon hulle nooit alles opeet nie. Meer as genoeg het oorgebly vir die Leviete. Hulle het alles na die voorraadkamers van die tempel gebring sodat hulle dit saam met die priesters kon gebruik. Dit was 'n pragtige reëling. Behalwe die erns van die sondoffers, was daar ook altyd 'n fees in die tempel. Let wel: ‘n fees op koste van die Here ! Niemand het iets kortgekom nie. Alhoewel die opbrengste moontlik van jaar tot jaar gewissel het.

Maar, broeders en susters, wat gebeur in tye van misoeste? As die Israeliete dan eers vir hulleself sorg uit die skrale opbrengs van die land, en daarna die res afstaan aan die Leviete, en die Leviete weer 'n tiende deel daarvan afstaan aan die priesters: Dan kry die Leviete en die priesters te min. En gestel die priesters word terselfdertyd met offers van siek diere gekonfronteer. Omdat die vleis onrein was kon dit nie geëet word nie. Die gevolg was dus letterlik honger in die tempel. Daar was te min kos. En daarom kon die tempeldiens nie meer behoorlik uitgevoer word nie. Priesters en Leviete het hul tempeldiens verlaat om self kos te gaan soek. Waar moontlik, het hulle selfs grond gehuur of die deure verby gegaan om te bedel. Ja, die wêreld sal sê: Almal moet gelyke behandeling ontvang. As die hele volk honger ly, dan moet die priesters en die Leviete ook daarin deel. Niks verkeerd daarmee nie. Maar dan word 'n baie belangrike punt oor die hoof gesien: Die priesters en die Leviete het nie vir hul eie plesier in die tempel gewerk nie. Hulle het daar nie 'n stokperdjie beoefen nie. Hulle was slegs daar vir die mense. Hulle dienswerk was nie slegs ‘n uitvloeisel van 'n ryk kulturele lewe nie. Maar hulle het ‘n noodsaaklike diens gelewer. Want, en die Israeliete het dit vergeet, die tempeldiens was noodsaaklik om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan leef. Die Here self het hierdie diens ingestel. Sodat dit moontlik sou wees dat die volk, ten spyte van die vele sondes, tog in die lewe kon bly. Die offerdiens was nodig sodat die volk nie, net soos die ander nasies, sou beswyk deur die toorn van God nie. Miskien nie in hierdie lewe nie, maar beslis wel in die toekomstige lewe! Die tempeldiens het alles met die lewens van mense te make gehad. Want die tempeldiens het vrede tussen God en die mense moontlik gemaak.

Dit beteken, broers en susters, dat daardie mense wat nie streng aan die tiendes vasgehou het nie, eintlik hul eie lewens op die spel geplaas het.

Natuurlik is daar selfs in die tyd van Maleagi nog steeds 'n bietjie in die tempel geoffer. Maar uit die houding van die mense was dit baie duidelik dat hulle regtig nie meer die erns en die noodsaak daarvan ingesien het nie. En daarom het hulle van die gee van tiendes begin wegskram. Hulle het nie omgegee dat die tempeldiens begin agteruit gaan nie. Want hulle het gedink dat die tempeldiens nie so noodsaaklik is nie. Veral nie as jy self daarvoor moet honger ly nie.

Maar die Here sien dit anders. Hy sien aan die mense se gewilligheid om te gee hoe dit met hulle hartsgesindheid gesteld is. Hy sien dat dit ten diepste nie armoede is wat die Israeliete ontrou maak nie, maar ongeloof. Hulle het gedink dat hulle sonder die offerdiens ook wel in die lewe sal bly. Veral as hulle goed vir hulleself sorg. Maar hulle is verkeerd. Hulle is besig om hul lewens en hul kinders te verloor. En daarom roep die Here om terugkeer: "Bring alle tiendes na my voorraadkamers sodat daar voedsel is vir My tempel." Moenie die offerdiens versaak nie. Want julle kan nie sonder volledige versoening leef nie. Sonder bloed wat vloei. Onthou: God se toorn kan slegs voorkom word as die geregverdigde toorn van God 'n plaasvervanger in jou plek tref. Dit is iets wat jy moet glo. Daaruit moet jy leef. Wys dat jy dit glo. Deur aan die Here te gee waarop Hy geregtig is. Daarom, gee alle tiendes. En die Here bedoel nie dat hulle moet leer om 'n bietjie beter somme te maak nie. Dat hulle presies 10% moet gee, waar hulle nou slegs, sê maar 4% gee nie. Nee, dit gaan oor jou hart. Die Here kyk na julle ingesteldheid om te gee. Want ook al sou jy 20% gee, dit sal jou lewe regtig nie red as jy gedink het om die Here daarmee  om te koop nie. Die persentasies wat julle aan die Here gee, moet uit 'n hart kom wat 100% oortuig is dat ons slegs die lewe kan verkry deur die offer van die Here Jesus. Jy moet dus daardie persentasies aan die Here gee, wat getuig van die ingesteldheid van jou hart. Jy gee alles van harte. Die volle 100%. En nie net van jou inkomste nie, maar van alles wat die Here jou gee. Ook van jou talente en van jou tyd. Wie presies slegs 5% of 10% van sy bruto jaarlikse inkomste gee, maar verder nie deelneem aan gemeente-aktiwiteite nie, doen dieselfde as die volk ten tye van Maleagi. Jy skeep die Here af met ‘n fooitjie. Wie meen dat niks belangrik is as sy loopbaan nie en nooit tyd inrig vir Bybelstudie nie, offer nie en gee slegs 'n fooitjie. Die finansiële offers, wat miskien wel gebring word, verteenwoordig naamlik nie die hele lewe nie. Dit is nie regte tiendes nie. Dit is hoogstens 'n redelike persentasie van jou inkomste, maar jy hou die res vir jouself. Jy doen net soos die Israeliete gedoen het. Maar die Here sê: "Keer terug. Bring die hele tiende. Maak sigbaar dat jou hele lewe op My gerig is." En as jy dit doen, as antwoord op My beloftes, dan sal Ek jou die ware lewe gee. Vrede met God. Selfs nou, op hierdie aarde.

DIE HERE BEOOG ALTYD DIE WELSYN VAN SY VOLK. Daarom:
1. herinner Hy die volk aan hul sonde;
2. vra Hy vir ‘n opregte bekering; en
3. belowe Hy ‘n ryk seën.

My broers en susters,

Die Here is bereid om ver te gaan om sy volk tegemoet te kom. Nee, Hy laat nie sy eise vaar nie. Maar Hy maak dit vir die volk wel maklik om terug te keer. Hy sê naamlik: "Daag My maar uit. Toets My of Ek die waarheid spreek. Bekeer jou tot My en dan sal Ek jou toon dat dit onmiddellik gevolge het vir jou omstandighede."

Ons sou dit nooit waag om die Here uit daag nie. Want dit lyk oneerbiedig en brutaal. Maar die Here sê self: 'Toets My of Ek die waarheid spreek'. Eintlik is dit dieselfde as wat die Here Jesus later vir Petrus sê: "Kom na My, klim uit die skuit en loop op die water. Jy sal nie wegsink nie”. Maar uit hierdie voorbeeld weet ons ook dat dit nie 'n noodwendige oorsaak-gevolg kwessie is nie. Dat, as ons slegs die regte opofferings maak, of die regte persentasie van inkomste aan die kerk gee, dan sal die Here ons lewe outomaties voorspoedig maak nie. Nee, natuurlik gaan dit oor die geloof. Die Here sê met goeie rede dat ons Hom moet beproef. Maar dit beteken wel dat die volk nou, op hierdie oomblik, die eerste stap moet neem. Hulle moet hulle bekeer. En die bekering gaan vooraf aan die seën wat die Here hulle sal gee. Hulle moet dus afsien van hul eie oorwegings. Bv. Om eers vas te stel hoe ons finansiële posisie hierdie maand eindig en om daarna te besluit wat ons aan die kerk kan oordra. Nee, dis presies andersom. Ons gee eers aan die Here. Selfs as ons weet dat daar moontlik hierdie maand ekstra uitgawes sal wees. Ons gee eers aan die Here. Ons gee in die geloof dat die Here vir ons sal sorg - dat ons niks sal kortkom nie. Want die Here sê tog self: Doen maar net wat Ek sê en dan sal jy sien dat Ek die sluise van die hemel sal oopmaak. Daar sal genoeg reën wees. En ek sal die sprinkane stop. Hulle sal nie meer die oes opeet nie. As julle maar gelowig julle lewe in My hand lê. Dan sal julle 'n goeie lewe ervaar. Ja, miskien sonder rykdom. Kyk hoe Maleagi die seën van die Here beskryf: ' ... die sprinkaan sal nie meer die opbrengs van u land kan vernietig nie en die druiwe sal nie meer in die wingerd wegkwyn nie.' Dit beteken slegs dat daar genoeg sal wees. Ons sal niks kortkom nie. Maar die Here belowe nie rykdom nie. Hy belowe 'n seën. 'n Ryk seën. Omdat die Here ons lewens wil onderhou. Ons kry van die Here presies wat ons nodig het. En soms selfs meer as dit.

Is dit nie heerlik nie, broeders en susters, as jy so mag kyk na jou bankrekening nie? En as jy so mag kyk na jou musiek-stelsel en na daardie pragtige blomme. As jy so in jou motor mag ry om inkopies te gaan doen. As jy saam 'n lekker ete by Mugg & Bean mag geniet. Maar daar is 'n verskil vergeleke met baie ander: Ja, ons eet presies dieselfde kos; ons het dieselfde groot-skerm TV by die huis. Maar ons het dit van die Here ontvang. Dit is God se antwoord op ons getroue aanvaarding van sy beloftes. Dit is God se antwoord op ons getroue offer van ons hele lewe.

Maar broers en susters, seuns en dogters, die volgende moet ook gesê word: Daar is ‘n dun lyn tussen die seën van die Here en sy vloek. Dit is 'n seën van die Here as ons al hierdie gawes ter beskikking stel aan die Here. As ons die gawes met danksegging gebruik. Dank Hom daarvoor en ken Hom in die gebruik van die gawes. Dit sluit in jou bankrekening. Jou vrye tyd. Jou gesin. Jou vriendskappe en jou liggaam.

Maar dit word 'n vloek sodra ons die dinge aan die diens van die Here onttrek. En hoe maklik gebeur dit nie? As ons meer bestee as wat ons verdien. As ons altyd besig is met ons werk of selfs ook vir die kerk, terwyl vrou en kinders smag na meer aandag. As ons ons tyd verkwis met ons laptop of internet, terwyl ons eintlik meer huislikheid vir die kinders moet skep. Die Here het ons baie gegee. En dikwels doen ons slegs wat vir ons lekker is. En ons laat ander meer belangrike sake ongedaan. Ons mors dikwels met die seën van die Here. En dit is gevaarlik.

Op wie, broeders en susters, sou ons ons beter kan rig op hierdie biddag dan op die Here? Ons kan Hom vra of Hy ons wil bewaar in hierdie land, waar wel baie te koop is, maar wat tans in 'n groot krisis verkeer. Ons kan die Here vra of Hy ons oë sal oopmaak vir die rykdom van Sy gawes en Hom vra hoe ons daarmee moet omgaan. En ons leer sien dat alles nie regtig help as Hy nie Sy seën daaraan verbind nie. Maar met Sy seën mag ons dan weer aan die werk spring. By ons werk, ons besigheid, op kantoor, by die huis en by die skool. En dan mag ons met vreugde gebruik maak van alles wat die Here ons gee. Ja, kom ons vra dit van Hom. Omdat God ons Vader uiteindelik ons welsyn op die oog het. Dit beteken ons lewe met Hom. Vandag reeds en ook later.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seëngroet

Ps 31:1,5

Wet

Ps 31:15,17,19

Gebed

Skriflesing: Nehemia 9:1-3; 9:26-38; 10:28-33

Ps 67:1-3

Teks: Maleagi 3:6-12

Preek

Ps 128:1-4

Gebed

Kollekte

Ps 146:1,3,8

Seën