Die trou van die Here nooi ons uit om die lewe alleen van Hom te verwag

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-09-22
Teks: 
1 Konings 16:29 - 17:6
Preek Inhoud: 

Gemeente van onse Here Jesus Christus: Ons glo dat die Bybel die Woord van God is. En daarom is ons oortuig dat ons na die Bybel moet luister. In teorie is dit duidelik en maklik. In die praktyk egter is dit moeilik. Dit is maklik as daar dinge in die Bybel staan waarmee ons kan instem. Maar dit raak moeilik as daar dinge in die Bybel staan wat met ons gevoelens bots. Of as daar dinge is wat bots met dit wat in ons samelewing as heel normaal beskou word. Ons wil glo dat die Bybel die Woord van God is, maar dit kos ons dikwels moeite om in die woorde van die Bybel ook werklik die stem van God te hoor. En deur ons sondige aard het ons die neiging om uiteindelik self te besluit wat goed en sleg is. In die beste geval wil ons wel simpatiek luister na wat God vir ons sê, maar 'n oomblik later skuif ons tog God se woorde eenkant toe. Omdat ons glo dat hierdie woorde van God nie werklik van toepassing is op ons spesifieke situasie nie. Want dikwels glo ons dat ons situasie heel anders is.

Twee-duisend ses-honderd jaar gelede was dit presies dieselfde. Dit was in die tyd van die konings van Israel. Maar as ons hieroor lees, dan blyk dit dat die Here dit nie ongestraf laat bly as mense Hom ignoreer of Hom selfs mond-dood maak nie. Sy straf is verskriklik. Die Here se straf is dikwels die gevolge van mense se eie keuses. In werklikheid gee die Here presies dit wat mense self vra en verkies. Ek dink aan Romeine 1. Paulus beskryf hoe mense die waarheid sal verruil vir die leuen. Sodat hulle die skepsele gaan vereer in plaas van die Skepper, wat die lewende God is. En dit is waarom God hierdie mense aan die begeertes van hulle hart oorlewer. En dit blyk mens-onterende begeertes te wees. So gee die Here ongehoorsame en eiewyse mense oor aan dit wat hulle self vra. As ons dit lees, dan skok dit ons. Die Here straf mense, en die rede daarvoor is dat hulle self daarvoor gevra het. Maar verstaan u daarom, broers en susters, hoe belangrik dit is wat ons van die Here vra? Of u ryk of arm, siek of gesond is. Of u nou manlik of vroulik is. U kry waarvoor u vra. En daarom moet u die Here om goeie dinge vra. Dit is: om nie net die woord van die Here te hoor nie, maar ook om gehoorsaam daaraan te wees.

Die trou van die Here nooi ons uit om die lewe alleen van Hom te verwag.

Brs en srs: Agab, die seun van Omri, was 'n slegte koning. Mens sou kon sê: so vader so ook die seun. So kan ons gemaklik nog meer name van slegte konings noem. Dit is waar. Maar die Here sê self van koning Agab: Sy optrede was erger as dié van sy voorgangers. Asof dit nog nie erg genoeg was dat hy die sondes van sy vader Jerobeam nageboots het nie, neem hy boonop Isebel tot vrou en begin hy om Baäl te vereer.

Maar was dit dan erger as wat die vorige konings gedoen het? Die vorige konings van die Tienstammeryk het almal deelgeneem aan die kalwerdiens wat deur koning Jerobeam bedink en ingestel is. Die Here was baie kwaad daaroor, want dit was 'n ernstige sonde. ‘n Sonde teen die tweede gebod. Eiewillige godsdiens. Maar, ons moet onthou, dat die kalwerdiens in die stede Dan en Betel steeds op die verering van die Here gerig was. Natuurlik was dit op ‘n verkeerde manier. Maar in Dan en Betel is geen offers gebring aan 'n ander, aan 'n vreemde god nie. Dit was offers aan Jahweh. Jerobeam wou deur die beelde van kalwers, die Here sigbaar maak. Hy wou veral die Here se krag uitbeeld. Presies soos  met die goue kalf in die woestyn. Daarom het hulle die beeld van 'n jong bul gebruik. Dit was natuurlik heeltemal verkeerd. Selfs verbode. Maar dit was van 'n ander aard as wat Agab gedoen het. Agab aanbid nie slegs die Here God op 'n verkeerde manier nie. Nee, hy aanbid ‘n ander god in die plek van God. Dit is sonde teen die eerste gebod.

Baäl is die afstootlike afgod wat deur Agab se heidense vrou Isébel ingevoer is. Baäl was die god van vrugbaarheid en die god van reën. In feite is Baäl gesien as die god van nuwe lewe. Stel julle voor, broers en susters, koning Agab aanvaar ‘n ander siening van die bestaan van die heelal. Die Here God, Jahweh kan nog steeds, wat Agab betref, ‘n plek kry. Die ouer en meer tradisionele mense mag steeds bly glo in Jahweh. Maar die oorsprong van lewe wat vroeër slegs aan Jahweh toegeskryf is, kom nou vir rekening van Baäl. En vir hierdie nuwe god van die lewe het Agab 'n tempel gebou in Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk. En koning Agab het die volk voorgegaan in die Baäldiens. Die Here God, Skepper van hemel en aarde, en die oorsprong van alle lewe, word gedegradeer tot 'n tweede-rangse god. Hy moet toesien hoe dat 'n dooie steen tot die god van die lewe verhef word. Hier sien ons hoe die waarheid ingeruil word vir die leuen. ‘n Nie-lewende steen staan teenoor die lewende God. Koning Agab kies, saam met die volk, vir ‘n god van steen en hy snoer daarmee die mond van die lewende God.

Dit word duidelik in ons teks. Daar word sommer in die verbygaan, die verhaal vertel van die herbou van die mure van Jerigo in die dae van koning Agab. Die stad Jerigo self was lankal reeds herbou en bewoon. Dit word verskeie kere in die Bybel vermeld. Maar die mure was tot op daardie stadium nog nie herbou nie. Die Here het dit selfs by monde van Josua uitdruklik verbied. Waarom is dit nie toegelaat nie? Dit lyk asof dit nie sin maak nie. Want Jerigo, die Palmstad soos dit ook genoem is, was die oostelike poort tot die land Kanaän. En watter sin maak 'n hek sonder poort? Watter sin het 'n grens as dit nie die toegang tot die land kan afsluit nie? Maar dit was hoe die Here dit wou gehad het. Die mure van Jerigo moes puinhope bly. Dit het ‘n simboliese betekenis gehad. Daardie puin moes jou laat nadink. Waarom geen mure nie? Dink daaraan hoe Jerigo vroeër ingeneem is. Nie deur soldate met gewere en oorlogstuig nie. Die Here vra niks anders as geloof in sy Woord nie. Die volk moes elke dag rondom die stad loop. En sewe maal op die Sabbat. 'n Belaglike opdrag volgens menslike oordeel. Maar wie in die Woord van die Here glo, ontdek dat die Here juis deur die geloof in Sy Woord die sterk mure van Jerigo afgebreek het. Om na die Woord van die Here te luister en om daaraan te gehoorsaam, open vir ons die toekoms. Die vertroue in die Woord van die Here gee lewe. Selfs in situasies waar die dood heers.

As mense by Jerigo verby gestap het, moes hulle daaraan dink. Daardie ruïnes het eintlik op die woord van die Here gewys: Nie deur krag of geweld nie, maar deur die geloof. 'Omdat julle My glo op my woord, daarom sal Ek dit vir julle doen,' sê die Here.

Die verbrokkelde muur, wat na vyf of ses eeue steeds die stad Jerigo omring het, getuig van die Here se krag. Dit wys op Sy Woord. Dit is Sy oproep: Vertrou op My alleen!
Ons moet hierdie agtergrond gebeure plaas langs dit wat ons gelees het. In die tyd van Agab is Jerigo - bedoelende die muur van Jerigo - weer opgebou. Dit is, broeders en susters, heeltemal in ooreenstemming met die beleid van Agab wat ook die Here opsy gesit en Baäl in Sy plek geplaas het. Tot op daardie stadium het die Here deur die getuienis van die puinhope van Jerigo gesê: Glo in My woord, dan sal die toekoms vir jou oopgaan. Agab sê egter: Glo in jou eie krag, dan eers lewe jy. Die waarheid word opnuut verruil vir die leuen. Die woord van die Here word onhoorbaar gemaak. Selfs al gebeur dit wat Josua voorspel het. Ons lees naamlik in Josua 6: 26: "In dié tyd het Josua hulle laat sweer met die woorde: Vervloek is die man voor die aangesig van die HERE wat sal opstaan om hierdie stad Jérigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit." En dit is presies wat gebeur het. Hiël, die dienaar van koning Agab, het sy oudste seun Abiram en sy jongste seun Segub verloor. Dit is 'n Hebreeuse manier wat eintlik sê dat Hiël al sy kinders verloor het. En dit beteken, broers en susters, dat hierdie man se geslag uitgesterf het. Vreeslik vir 'n Israeliet. Dat jou naam en geslag weggevee word. Die stene wat onder die nuwe beleid van koning Agab die lewe en veiligheid moes bring, het die dood van die familie van die koninklike konstruksie- en kontrakteursfirma Hiël & seuns beteken. Presies ooreenkomstig die woord van die lewende God.

Die tragiese gebeure moes ongetwyfeld 'n mate van twyfel veroorsaak het. Moontlik was daar mense wat daarop gewys het dat hierdeur die woord van die Here Jahweh vervul is. Maar dit het hoegenaamd geen invloed op Koning Agab se beleid gehad nie. Hoewel dit duidelik geword het dat as jy jou heil en jou lewe verwag van stukke steen, dit ten koste van jou eie lewe gaan. Tog is die steen Baäl daardeur nie minder vereer nie. Hier word reeds iets duidelik van wat ek in die inleiding gesê het. Die Here gee wat ons van Hom vra. As jy vra dat Hy sy beskerming wegneem, omdat jy self vir jou lewe en veiligheid kan sorg, sal die Here Sy beskerming op jou versoek wegneem. Maar met dodelike gevolge. Dus hierin neem die Here die mense volkome ernstig op. Die Here dwing niemand om sy hande oop te maak en te ontvang wat Hy uit genade wil gee nie.

Selfs deur daardie tragiese maar veelseggende gebeure met die seuns van boumeester Hiël het daar in die ryk van koning Agab heeltemal niks verander nie. Dit kan ons uit die feit aflei dat die profeet Elia nou direk na Agab toe gaan. Met die woord van die Here wat sê: In die komende jare sal dit nie reën nie. Daar sal nie eers vroegoggend dou op die blare wees nie. Stel jou voor: vir 'n paar jaar nie 'n druppel water in so 'n warm land nie.

Daar is ten minste twee dinge wat hieroor gesê kan word. Eerstens vir die seuns en dogters. Verstaan julle hoe goed deurdink hierdie besondere straf vir koning Agab en die mense is? Dis meer toepaslik as byvoorbeeld 'n aardbewing of een of ander ramp. Let daarop dat hulle met volle oortuiging beweer het dat die lewe nie van die Here God afkomstig is nie, maar van Baäl. Baäl was immers die god van reën en son. Presies daardie twee dinge wat nodig is om die gewasse te laat groei. En natuurlik ook die gras. Sodat die koeie en skape daarvan kon vreet en die volk Israel kon lewe. Alles was afhanklik van die son en die reën. Maar Elia sê: Dit sal nie reën nie. As dit dan inderdaad nie meer reën nie, dan word dit duidelik dat die god Baäl glad nie reën kan gee nie. As die Here sê dit sal nie reën nie, dan kan Baäl hoog of laag spring, maar daar kom geen druppel water uit die wolke nie. Baäl word in die openbaar as 'n magtelose god ten toon gestel.

Daarby kom ook: jy kan wel sê dat Baäl ook die god van die son is. En kyk, die son skyn elke dag. Maar sonder water verander die son van 'n vriend na 'n vyand. Dit verskroei alles. Deur die straf wat die Here aan die volk gee word duidelik dat Baäl nie die lewe gee, maar juis dood en verderf bring in die midde van die volk.

Die tweede ding wat uitstaan, broeders en susters, is: Die Here sê nie vir die profeet Elia: "Gaan na koning Agab en sê dat dit nie sal reën nie." Nee, Elia het dit self uitgedink. In die NT lees ons dat Elia gebid het dat dit nie sou reën nie. U kan dit lees in die laaste hoofstuk van die brief van Jakobus. Natuurlik staan God nie daarbuite nie. Hy het Elia op daardie spoor geplaas deur sy Heilige Gees. Maar daardeur word dit duidelik dat as u soos Elia opkom vir die woord van die Here, dan sal die Here na ons gebede luister. Jakobus sê: Elia was regtig 'n gewone mens net soos ons. En tog het iets wonderbaarliks in antwoord op sy gebed gebeur. Dit het langer as drie jaar nie gereën nie. 'n Wonderbaarlike en kragtige antwoord op die gebed. Die Here openbaar Homself as die Sterke. Maar uiteindelik was die doel daarvan natuurlik nie om die lewe te vernietig nie, maar juis om dit te behou. As die Here slegs wou vernietig, dan sou hy Elia regtig niks vir koning Agab en die mense kon laat sê het nie.

Kom laat ons die gebeure kortliks opsom. Die slegte en sondige daad van koning Agab was dat hy die lewende woord van die Here God verruil het vir die magtelose stom woord van ‘n steen. Hy verwyder ook die simboliese spreke van God deur die opruim van die puinhope van die muur van Jerigo. En Agab buig hom neer vir ‘n god van steen. Daarom spreek die Here baie duidelik by monde van die profeet Elia. Elia spreek 'n Woord wat onmiddellik duidelik maak wie in werklikheid die God van die lewe is. Maar dan gebeur daar iets merkwaardig. Ons sou verwag dat Elia 'n tipe aksie sou onderneem om mense te oortuig om hulle van Baäl te distansieer. En dat hulle die Here Jahweh weer moet aanbid. Elia sou vele bewyse uit die verlede kon aanhaal om sy appèl te versterk. Maar dit gebeur nie. Elia ontvang 'n heel ander opdrag. Hy moet die land verlaat. Hy moet homself wegsteek.

Nou mag ons dink: Ja natuurlik, want op hierdie manier beskerm die Here sy profeet. Want dit is duidelik dat namate die droogte voortduur, sal Isébel en Agab en vele ander die onheilsprofeet Elia wil doodmaak. Die Here verberg dus Elia ter wille van sy eie veiligheid. En dit is ook wel ‘n bietjie die geval. Maar daar is ook meer op die spel. Dit gaan nie slegs oor die veiligheid van 'n dienaar van die Here nie.

Toe Elia die groot droogte aankondig, het hy iets meer daaroor gesê. Hy het gesê: “Daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord.” Elia bedoel natuurlik hiermee die woord wat hy op bevel van die Here sou spreek. 'n Bietjie vry vertaal sou ons kon sê: Slegs die woord van die Here kan die droogte beëindig. En, broeders en susters, dit is presies daardie Woord wat koning Agab stilgemaak het. Want koning Agab het daardie woord van die Here as’t ware by die ashoop neergesit. En indien koning Agab Elia se woorde met erns sou benader het, dan sou hy hierdie woorde letterlik opneem en daarvolgens handel. Hy sou Elia gevange laat neem en hom nie vrylaat voordat Elia met die woord van die Here die droogte sou beëindig het nie. Maar die Here laat dit nie toe nie. Agab het die woord van die God van Israel stilgemaak. En die straf daarvoor kom. Die laaste wolke verdwyn. Geen druppel reën val nie. Die koning en koningin sal binnekort ook honger word en niks hê om te drink nie. Maar daar is meer straf. Die Here neem Sy Woord weg uit Israel omdat dit nie meer ernstig opgeneem word nie. Hier kom 'n verskriklike waarheid aan die lig. As ons die woord van die Here verwerp, as ons dit in ongeregtigheid bewaar, soos Paulus sê, dan neem die Here Sy woord weg. En daarmee saam verdwyn die lewe. Ons kry presies dit waarvoor ons vra.

Elia kry 'n veilige skuilplek van die Here in 'n grot by die Krit-stroom. Hy kan tydelik water uit die stroom drink en die kraaie voorsien brood en vleis soggens en laat middag. Ons sou ‘n pragtige verhaal daarvan kon opmaak. Ek doen dit nie. Ek wil slegs een saak beklemtoon: die volk van die Here wil nie meer die woord van die Here hoor nie. En die dienaar van die Here het die oordeel daaroor aangekondig. Dis duidelik, daar is vir die dienaar van die Woord van die Here geen plek meer nie. Die koning en volk sal hom nie wil gee waarop hy geregtig is nie. Daarom neem die Here ook Sy woord weg uit Israel, tesame met sy kneg. Maar die volk sal tog nie kan ontkom aan hul plig om tog die dienaar van die woord te onderhou nie. Al is dit heeltemal teen hul wil en bedoeling.

Mense uit die volk is besig in die kombuis. Om broodjies te bak met die laaste beskikbare meel. En skielik is dit ook weg. 'n Kraai raap dit op en vlieg daarmee weg. En so ook met ‘n stuk vleis. Ons moet besef: In droogte en hongersnood ly ook die diere en voëls. Maar hierdie kraaie word beveel om nie hul buit self te eet nie, maar hulle moet dit bring vir Elia, die draer van die woord van die Here. En daarin sien ons skielik weer hoe die evangelie skitter. Die Here het sy woord inderdaad uit die midde van sy volk weggeneem. Maar daarmee het die Here nog nie sy planne beëindig nie. Elia moet gespaar word. Hy moet aanhou leef, want slegs die woord van die Here kan opnuut lewe gee aan die volk van die Here. Want dit sal ‘n  punt bereik waar hulle oortuig sal wees dat Baäl inderdaad ' n waardelose stuk steen is . En dat die Here JHWH die God van die lewe is. En dan sal die Here weer dit waarvoor hulle vra, aan hulle gee. Die Here sorg vir elkeen wat die lewe slegs van Hom wil ontvang.

En dan sê ek weer: u sien, broers en susters, hoe belangrik dit is wat ons van die Here vra. Ook vir ons kinders. Vir ons land en volk!

Kyk, sê die mense van die lotery: koop jou kaartjies hier by ons, want by ons het jy die grootste kans om 'n miljoenêr te word. Terwyl ons almal weet dat die kans om te wen uiters klein is. Die wen-pryse word wel aan mense toegeken, maar nie aan jou nie!

Om te glo is nie dieselfde as om aan die lotery deel te neem nie. Hy wat sy lewe van die Here vra, het nie “die grootste kans” nie, maar hy het die sekerheid dat hy sal ontvang wat hy vra.

En nou keer ons terug na die begin van hierdie preek. Ons woon in 'n land waar baie mense die Bybel toegesluit hou vir dinge waarmee hulle nie saamstem nie. Of dit nou oor evolusie of oor 'n losse seksuele moraliteit gaan.

Nou is ons nie verantwoordelik vir wat ander mense glo nie. Maar ons is wel verantwoordelik vir ons self. Hoe benader ons die woord van die Here? Tot watter mate neem ons daardie woord ernstig op? Neem ons daardie woord volledig aan of slegs vir waar ons dit pas? Is ons bereid om die Here te vertrou op grond van Sy woord, selfs al veroorsaak dit probleme vir ons in ons wetenskaplike benadering as dit byvoorbeeld te make het met die skepping? Wie is reg: die Bybel of die wetenskap? En is ons bereid om die Here te vertrou as Hy, in en buite die huwelik reëls gee wat deur die res van die wêreld as volledig uitgediend beskou word? En as die Here sê: Watter voordeel bring al julle brandoffers vir my? Want Ek soek julle harte. Dit is hoe ek julle in die kerk wil sien. Nie omdat julle meen dat julle jul plig doen om kerk toe te kom nie, maar dat julle na My toe kom om julle harte aan My te gee. Hoor julle dit, broeders en susters, hoor julle dit seuns en dogters as julle in die Woord van die Here die stem van ons Verlosser hoor? Die stem van ons Bruidegom? Hy wat smag na ons antwoord van liefde? Want Hy soek slegs die goeie vir ons. Ook al gebeur daar vele dinge wat ons nie nou kan plaas of verstaan nie.

Laat ons opsom in belang van die boodskap wat die Here aan ons rig. Broeders en susters, as ons slegs luister na die woord van die Here in soverre dit ons pas, dan gaan ons daardie woord kwytraak. As ons ons lewe soek ter wille van geld of van sport of van wat ons ook al besig hou, dan gaan ons die lewe verloor. Want die Here gee dit wat ons vra. As ons daarvoor vra dat Hy nie meer op Maandag en Dinsdag tot ons spreek nie, dan sal ons sien dat Hy op die duur dit ook nie meer sal doen nie. As ons Sy woord toemaak, as ons ophou bid, dan sal ons die kosbare band met Hom verloor.

Maar ook die teendeel geld. As ons Hom voortdurend soek in al ons doen en late, as ons ons weë deur Hom laat aanwys en Hom onvoorwaardelik volg, dan is ons nie slegs erfgename nie, maar ook besitters van die ewige lewe. Die Here wil met sy Woord in ons midde wees en aanwesig wees in ons lewens. En so skenk Hy ons die lewe. Vertrou daarom die Here op sy Woord, broeders en susters, en gee daardie woord die ruimte wat dit verdien. Beide in die kerk en in u persoonlike lewe. Wie so die Woord van die Here besit, koester en bewaar, besit daarmee die ewige lewe. En dit is die belofte van Hom wat nooit sy woord sal krenk nie.

Amen.

Liturgie: 

Votum & Seëngroet

Psalm 92:1,2

Wet

Psalm 92:6,7

Gebed

Doopformulier

SB 15v1;

Doop: Carmen Bouwmeester

Ps 139:7,8

Doopformulier: Gemeente

SB 15:2,6,7

Gebed

Lees: Romeine 1:16-32

Psalm 36:1-3

Teks: 1 Konings 16:29 - 17:6

Preek

Psalm 99:1-5

Gebed

Kollekte

Psalm 18:14,20

Seën